|
Lees: Romeine 12:3-17
Een groot passie uit my jong dae was om alle dinge (dis nou meganiese dinge)
te ondersoek om uit te vind wat hulle maak werk. Ongelukkig het ek nie juis
baie daaruit geleer nie, maar elke horlosie en masjientjie en meghêftertjie
het my nuuskierigheid geprikkel tot breekpunt toe, en dan haal ek hom
uitmekaar om sy werking te sien. Die groot probleem het egter keer op keer
gekom, dat ek nie ‘n baie goeie geheue het nie, en dikwels vergeet ek watter
partjie kom waar by die aanmekaarsit van die ding. En dan het dit gebeur dat
ek byvoorbeeld met ‘n horlosie sit met ‘n ekstra ratjie. Verniet of daardie
ding wil loop sonder sy spaarpart, en dan het dit my gewoonlik ure van
bloedsweet gekos om uit te vind waar ek verkeerd gegaan het. Soms het so ‘n
mank meghêftertjie op die rak beland en nooit weer gedoen wat hy
veronderstel was om te doen nie.
Ek en jy as gelowiges, is ratjies in God se gemeente, en in vandag se
Skrifgedeelte wil Paulus vir ons verduidelik hoe hierdie ratjie inpas, en
wat sy werkverrigting moet wees. Elke ratjie is van uiterste belang, en as
een besluit dat hy nie meer wil werk nie, dan gaan die hele masjien mank.
Dus is dit van uiterste belang dat ons daardie opofferende liefde waarvan
ons die vorige week gepraat het in die heel eerste plek in ons eie gemeente
moet uitleef. Dit gebeur al meer en meer dat mense beweer dat hulle God
liefhet, maar hulle raak totaal onbetrokke by ‘n kerk (medegelowiges).
Gister het ons ook gesien van die dankbaarheidslewe - Paulus verduidelik nou
dat ons nuut moet begin dink oor ons gemeente en presies wat ons posisie en
roeping binne daardie gemeente is. Om jou roeping daar uit te leef is die
begin van die dankbaarheidslewe.
As ‘n mens na ‘n horlosie gaan kyk, dan sien jy groot (belangrike!?) ratte
en kleineres en piepklein ou ratjies. Dis juis dáár waar ek dikwels
gestruikel het in my prille jeug, want ‘n mens kyk die ou heel kleintjies so
maklik mis, en dan hik die horlosie. Ek het baie gou geleer dat die heel
kleinste ratjie nét so onmisbaar is as die ou groot wawielrat. Om ‘n top
posisie in die gemeente se ratwerk te beklee, is niks meer belangrik as om
die ou te wees wat die vloere vee nie. Dis ook niks minder belangrik nie! Om
nuut te dink oor jou roeping in die gemeente, is die eerste kenmerk dat jy
nie ‘n te hoë selfbeeld sal hê, en jouself dalk sal verhef bo ander nie. Aan
die anderkant is ‘n lae selfbeeld ewe gevaarlik - elkeen van ons moet besef
hoe belangrik hy is sonder hoogmoed.
“Beskeidenheid”, is die towerwoordjie, maar dan opregte beskeidenheid - nie
‘n aangeplakte, vals beskeidenheid nie. Paulus stel dit so: “Wees beskeie in
ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan jou toebedeel het” (vers
3). Met ander woorde, ons moet te alle tye onthou dat God deur my en jou ‘n
bepaalde doel in die gemeente wil bereik, en dat Hy vir ons sekere gawes
gegee het wat ons “werktuie” is om daardie doel te bereik. Indirek is ek en
jy dus ‘n geskenk van God aan die gemeente.
Hierdie gedagte hou sekere konsekwensies vir ons in: Ons moet duidelik
verstaan dat ons nie as enkelinge in die wêreld geplaas is nie, maar as deel
van die liggaam van die kerk. Soos wat die horlosie se ratjies mekaar nodig
het, en soos wat ‘n mens se ledemate mekaar nodig het om behoorlik te kan
funksioneer, net so kan die kerk net tot sy volle potensiaal kom as al die
gelowiges - en dit sluit ook vir my en jou in - die gawes wat God ons gegee
het ten volle uitleef. Iemand het eendag vir my gesê: “Maar ek het dan géén
gawes nie!” Paulus sê dit baie duidelik dat God aan élkeen ‘n genadegawe
gegee het wat in die gemeente nodig is. Hy noem hier sewe voorbeelde van
gawes (elders noem hy nog ander ook). Met verbasing lees ons hier nie juis
van verhewe dinge nie, maar doodgewone, alledaagse dinge soos diens,
onderrig, moed inpraat en help.
Dit het tyd geword dat ons moet gaan sit en vasstel watter soort gawes God
ons gegee het. Baie keer is dit dinge wat ons in elkgeval lief is om te doen.
Dit is belangrik dat jy dan na jou gemeente toe sal gaan en jou aanmeld om
diensbaar te wees op die terrein waar jou passie lê. Die wonderlike hiervan
is dat jy naderhand sal agterkom dat jou vermoëns ontwikkel omdat jy dit
oefening gee, en dalk help dit jou om boonop nog verskuilde gawes te ontdek
waarvan jy nooit eers geweet het nie. Ons moet egter baie versigtig wees om
dit nie maar net te sien as nog ‘n werk wat gedoen moet word nie - dan moet
jy dit eerder los! Te alle tye moet jou enigste motivering wees: ‘n manier
om jou dankbaarheid teenoor God uit te leef, sonder enige bybedoelings.
Nooit mag jou eie ek die middelpunt van jou diens wees nie, maar jou werk in
die gemeente moet gekenmerk word dat jy met blydskap jou álles gee sonder om
enigiets terug te verwag, want sodoende is jy naby aan Jesus wat vir jou
alles gegee het sonder om enigiets terug te hou.
Gebed:
Here, help my asseblief om my gawes te ontdek en daadwerklik in rat te kom.
|
|