Deernis Met Medegelowiges

 
     
 
Lees: Romeine 15:1-13

Dis Sondagoggend, en dinge het vir my nie so goed begin voor kerk nie - so ‘n effens verslaap, en nou is ek laat. Ek is half ongeduldig as ek by die kerk aankom, want daar is nog ‘n duisend en een dinge om te doen voordat die erediens begin. Die mikrofone vir die voorsangers moet opgestel word en ek moet sorg dat die dominee se toerusting alles perfek werk. Boonop moet ek nog die videoprojektor opstel met die liedere en die oggend se preekskyfies op. Ek hoop nie die rekenaar gee vanoggend probleme nie!

Haastig storm ek die kerk binne. En dan sak my hart in my skoene: As ek haar sien, weet ek sommer dat hier vanoggend vir my groot swarigheid voorlê. Sy wag my in, en val sommer met die deur in die huis: “Jong, ek het ‘n probleem.....” Ek prewel ‘n oorhaastige skietgebed: “Asseblieftog net nie nóú nie”, maar my desperate gebed word nie verhoor nie, en terwyl ek met my hande vol goed staan, stort sy haar hart uit. Sannie het ‘n baie kwetsende ding teenoor haar gesê, en sy weet nie hoe om dit te verwerk nie. Wat moet sy doen? Sal ek nie maar asseblief met Sannie gaan praat nie? Sy voel nou vreeslik depressief, en, het ek nie dalk raad nie? Ek staan en rondtrippel van ongeduld, want sy gee my nie eers kans vir ‘n dwars woordjie nie. “En dan is daar die ding wat die dominee laas Sondag gesê het - verstaan dit gladnie”, teem sy voort, “Kan jy asseblief verduidelik......” Ek wil skree: “STOP DIE BUS!!!!!”

Ken jy daardie gevoel? As gevestigde gelowige wat al deur die meul gegaan het, sien baie jong of swak gelowiges dikwels na jou op, want jy is mos ‘n “steunpilaar” in die geloof. En so dikwels gebeur dit dat mense jou grensloos irriteer júís om daardie rede. Dit is veral die arme predikante wat moet deurloop, en dikwels vure moet doodslaan wanneer iemand seergemaak voel oor ‘n ander se handeling. Of hy moet skielik Skrifgedeeltes opdiep oor die een of ander kwelling wat iemand het wat hom slapelose nagte gee. En dit moet sommer dádelik geskied! Die ergste is as dit pas voor die erediens gebeur, en die arme man moet dan nog op sy preek konsentreer ook! Mense kan soms baie onsensitief wees....

Paulus wil vanoggend broederlik (susterlik?) gesels met my en jou as “ou” gelowiges wanneer hy sê dat ons wat sterk staan in die geloof, bereid moet wees om diegene wat swakker is, se swakhede te verdra. Dit is nie maklik nie, want dikwels sien ons die dinge waaroor hulle kerm as totaal onbenullig. Maar vir hulle is dit baie belangrik! As jy terugdink, dan sal jy dalk vir jouself lag, want miskien het jy met dieselfde kwelvraag rongeloop jare gelede. En dan is dit ook net so belangrik om deeglik te besef, dat al staan jy sterk in die geloof, daar nog steeds swakhede in jou eie lewe is.

Wanneer die Bybel ons hier leer dat ons die swakkeres moet verdra, dan beteken dit nie dat ons op die tande moet kners, diep en swaar sug en dan anderpad kyk nie. Nee, dit vra van ons om totaal weg te kyk van ons eie probleme of voorkeure, en in liefde en met groot deernis na ons medegelowige se probleem te kyk. Wat jy as’t ware doen, is om jou medegelowige se gedagtes en omstandighede as jou eie aan te neem, en te probeer dink soos wat hy sou dink. Uit jou eie jarelange geloofsondervinding kan jy dan put wat goed en opbouend is, en die nodige motivering gee wat hom sal opbou. Neem Jesus as jou eie motivering en voorbeeld, en tree op teenoor jou medegelowige soos wat Jesus teenoor jou sou optree. So het Hy immers met jóú gemaak!

Nou lyk dit dalk vir jou asof ons as gelowiges uitgelewer is aan mekaar se nukke en grille. As Sannie sê: “Kwê”, dan moet ek spring! Waar is die kerk se standvastigheid dan? Natuurlik is daar standvastigheid in die kerk, maar die bron daarvan is nie mense nie, maar God self. Hy het Sy wil vir ons in die Bybel laat opteken sodat ons as gelowiges daardeur bemoedig kan word en hoop kan kry en daardeur gerig kan word. Oor alle sake wat werklik vir ‘n gelowige van belang is om ‘n ware verhouding met God te kan hê, is daar duidelikheid in die Skrif. Nie alleen wil God hê dat ons daarvolgens moet lewe nie, maar Hy wil ook hê dat ons baie sensitief moet wees teenoor medegelowiges, en veral die swakkeres in die geloof, en dat ons met hulle sal deel in die dinge wat werklik belangrik is. Op hierdie manier dra ons by tot die eensgesindheid in die kerk, en verheerlik ons God ook daarin.

Dan sal ons dalk saam met Paulus die pragtige loflied kan sing wat hy opgeteken het in vers 9 tot 12. Ons as gelowiges behoort meer aandag te gee aan die gesamentlike verheerliking van God, en baie meer energie daarin sit.

Gebed:

Here, maak my asseblief baie sensitief vir mede-gelowiges, en gee my hope geduld.