Dink Groot

 
     
 
Lees: Romeine 15:22-33

Die Absa Stadion in Durban (dis nou waar die groot Haaitenk is, en waar groot rugbyspanne soos die Bulle en die Stormers opgefrommel word) het die afgelope naweek ‘n naamsverandering ondergaan. Dalk sal jy onthou dat die stadion jare gelede die naam Kings Park gedra het? Saterdag is hy weer herdoop na The King’s Park ( Die Koning se Park), nadat een van die grootste skares mense ooit in sy geskiedenis die stadion volgesit het om God, die Koning van alle konings te aanbid. Hoeveel mense daar was, weet ek nie, maar dit moes in die omgewing van 45’000 gewees het volgens my skatting.

Angus Buchan het by die geleentheid onder meer gesê dat ‘n mens as Christen groot moet dink. Toe hy ‘n paar jaar gelede ‘n gebedsontbyt beplan het, het daar ‘n paar honderd mense opgedaag. Die volgende jaar het die getal gegroei na 7000 mense, en vanjaar was daar 65’000 manne. Hy beplan al klaar weer vir volgende jaar, en dan beplan hy sommer baie groter. Is dit maar net om ‘n groot klomp mense bymekaar te kry? Nee, beslis nie! By die afgelope naweek se geleentheid byvoorbeeld het daar ‘n reuse skare van hande opgegaan van mense wat die dag vir die eerste keer vir Jesus “ja” gesê het. Van ‘n eenvoudige plaasboer het Angus Buchan gevorder tot ‘n reuse evangelis omdat hy bereid was om na God se stem te luister en terselfdertyd baie groot te dink oor God.

Van Paulus kan ons presies dieselfde sê. Hy was absoluut gehoorsaam aan die stem van God, en het sy eie Joodse vooroordele prysgegee om die evangelie na die heidennasies toe te neem. Maar Paulus se sendingveld het nie maar gebly by een enkele streek nie. Nee, sodra hy mense in ‘n stad of gebied oortuig het van die evangelie, het hy verder gegaan na waar die evangelie nog nooit voorheen verkondig is nie. Al wyer en wyer het sy sending gebied uitgebrei, en al verder en verder het Paulus gedink en beplan. Sy grense was die verste uiteindes van die bekende wêreld, naamlik Spanje. Totaal onbevrees het hy voortgestoom, en waar sy mede-Christene hom dikwels probeer keer het wanneer die gevaar te groot lyk, het hy hulle bloot geïgnoreer en onverskrokke verder gegaan.

Hy skryf byvoorbeeld hier aan die gemeente in Rome van sy plan om na Jerusalem te gaan. Almal het hom probeer keer, maar in Handelinge lees ons hoedat hy nogtans in die kake van die leeu ingeloop het, en so byna-byna met sy lewe geboet het. Maar God het hom selfs deur hierdie krisis gedra en in Rome gebring, waar hy wou wees.

Vanoggend is die vraag wat die Here vir jou en my vra: Hoe groot is ek en jy bereid om te dink in terme van die evangelie? Natuurlik is hier ‘n groot aantal leunstoel-Christene wat hierdie oordenking lees - mense wat absoluut niks doen om die evangelie verder te neem nie, maar net die byvoordele wil geniet. Dit het tyd geword dat jy uit daardie gemakstoel opstaan en iets daadwerlik doen. Gelukkig is daar ook baie van ons lesers wat wél bereid is om die moue op te rol. Die probleem is egter dat ons totaal te klein dink en beplan. As ons een persoon besoek het, dan is ons tevrede. Ek was byvoorbeeld heeltemal tevrede om hierdie dagstukkies vir slegs 40 mense aan te stuur. Toe die Here my oë oopmaak en ek groter begin dink, toe gaan die deure skielik wawyd oop, en vandag is daar duisende mense wat dit ontvang.

Ek wil vandag begin om groot te dink: Ek beplan om die adreslys vir hierdie oordenkinge ten minste te verdubbel oor die volgende paar dae. Maar daarvoor het ek jou hulp nodig: stuur asseblief vir my die adresse van ‘n paar van jou vriende of kennisse (Hulle moet Afrikaans wees) sodat ek die dagstukkies ook aan hulle kan stuur. Op hierdie wyse kan jy dalk die evangelie besorg aan iemand wat nog nooit ‘n ontmoeting met Jesus gehad het nie.

Wanneer ons vanoggend se Skrifgedeelte lees, sien ons dat Paulus ook ‘n ander, baie dringende versoek rig aan sy lesers, naamlik: “Stry saam met my deur vir my te bid”. Inderdaad het Paulus baie voorbidding nodig gehad, juis omdat hy so groot gedink het, want sy beplanning het hom dikwels in groot gevaarsituasies laat beland. Vandag het enige evangeliebedienaar ook baie voorbidding nodig. Inderdaad is die gevare vandag totaal anders, maar hulle is steeds daar. Die persoon wat bereid is om die Woord uit te dra verduur gedurig aanvalle van die bose - soms om hom moedeloos te maak en hom te laat tou opgooi. Vanoggend wil ek jou vra om ernstig te bid vir diegene in jou lewe wat bemoeid is met die uitdra van die evangelie - jou predikant/pastoor, sendeling ens. Maar ek vra ook dat jy vir my sal bid - ek het dit baie nodig om die Woord suiwer die wêreld in te stuur en ywerig die dagstukkies te skryf.

Gebed:

Here, ek dank U vanoggend vir elkeen wat bereid is om die evangelie uit te dra.