Sondige Verhoudings (deel 2)

 
 

Lees Deel 1

 
 
Lees: Romeine 1:28-2:11
Gister se onderwerp was vir my ‘n uiters moeilike een, want dit is so maklik om te oordeel, en te praat van “daardie gay mense”, want jy sélf word nie geraak nie. Ek het heelwat terugvoer gehad oor gister se skrywe, en mense het gepraat oor die seer in hulle, waar hulle eie gesinne geraak is deur ‘n gay verhouding. As ons hierdie gedeelte van Paulus verder lees, dan sien ons egter dat dit oor veel meer gaan as net homoseksualiteit. Paulus skryf ook oor verdraaide opvattings, onbetaamlikheid, ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid. Maar sy sondelysie groei en raak al hoe slegter as hy skryf van jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid. Dalk dink jy dat hierdie dinge darem te sleg is vir ‘n gelowige, maar dit kom nader aan ons bas as hy skryf van skinder, kwaadpraat, haat vir God, hooghartigheid; mense wat aanmatigend en verwaand is, of wat kwaad uitdink of ongehoorsaam is aan hulle ouers. Dan is daar diegene wat onverstandig is, onbetroubaar, liefdeloos, of hardvogtig.
Wie is ek en jy om te oordeel oor sê-nou-maar ‘n homoseksuele persoon, as een van hierdie dinge wat Paulus hier bo noem deel is van ons lewe? Durf ek, sondige mens, ‘n oordeel vel oor enigiemand anders? Daarom is dit vir my bitter moeilik om hierdie dinge te skryf, want ek staan sélf skuldig voor God. Ek troos my egter daaraan dat dit dalk vir Paulus nét so moeilik moes wees, want hy was ook maar net ‘n mens, en selfs die heilige Paulus het ook soms geworstel met sonde. Paulus het egter hierdie dinge kon skryf want hy het maar net sy skryftalent gebruik om die boodskap van God aan die mense oor te dra. En so gebruik ek ook maar net die talent wat die Here my gegee het om te kan skryf om weer te gee wat die Heilige Gees op my hart lê. Dikwels (meeste van die tyd!) skryf ek die dinge vir myself!
Dalk voel jy tóg vanoggend, dat hierdie dinge wat geskryf is darem nie op jou van toepassing is nie - as ons immers na vers 18 gaan kyk, dan lyk dit asof Paulus spesifiek oor goddelose heidene skryf - mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk. Maar dan ruk Paulus jou terug na die werklikheid as hy in hoofstuk 2:1 die vinger reguit na my en jou wys: “..... vir jou, mens wat ‘n ander veroordeel, wie jy ookal is.” Hierdie ding begin nou baie persoonlik raak, want Paulus trap op ‘n baie seer liddoring as hy sê dat as ek ‘n oordeel oor iemand anders uitspreek, dan veroordeel ek myself! Ek doen immers dieselfde dinge waaroor ek ander veroordeel! ‘n Mens skrik jou asvaal as jy hoor hoedat God jou ewe skielik direk so aanspreek, wanneer Sy soeklig wegdraai van die goddelose heidene van Rome af en verblindend op jouself val. Nou is ek nie meer die toeskouer nie, maar die beskuldigde!
Dit het tyd geword dat ek en jy gaan stil sit en erns maak met die verkriklike beskuldigings wat hier uit die bladsye van die Romeine-boek spring. Lees hulle goed deur, en staan stil by elke oortreding wat genoem word, en ondersoek jou lewe openhartig en eerlik. Miskien sal jy uitroep: “Hoe kón ek so blind gewees het vir my eie sondes! Hoe kon ek gedink het dat ek soveel beter as ander mense is?” En dalk sal ek tot die slotsom moet kom dat God reg sou doen as Hy my sou oordeel en straf. Ek verdien dit! Daar is soveel liefdeloosheid en skynheiligheid wat in my skuil.
Daar is egter ‘n groot troos daarin, dat daardie pynlike oopmaak en bewusmaak van my sondes alreeds deel is van die genade wat God aan my bewys. Ek kom tot die besef dat ek absoluut strafwaardig is voor God. Maar waarom het God my dan nog nie gestraf nie? Die antwoord lê opgesluit in Rom. 2:4, waar Paulus skryf van God se goedheid, Sy verdraagsaamheid en Sy geduld met my. “Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?”, vra Paulus. Hoeveel keer het God nie al deur ‘n preek of ‘n gedeelte uit die Bybel my gewete aangespreek nie? “Sê dit vir jou niks?”, wil Paulus weet. Hoe lank moet die selfsug en ongehoorsaamheid nog aangaan?
Eina! God se Woord slaan bitter raak en seer! In die helder lig van God se goedheid is die skaduwees van my sondes donkerder as die nag. En nou sit ek met ‘n verskriklike dilemma: om God se straf vry te spring bly daar vir my net een ding oor - ek moet goed doen! Wel, ek probeer ten minste baie hard, maar diep binne in my besef ek dag-vir-dag dat ek struikel oor elke ou klippie. Niks wat ek doen kan ooit goed genoeg wees vir God se standaarde nie! Selfs my héél beste pogings is liefdeloos en slegs op my eie belang gerig, en hierdie dinge gaan nie by die alwetende God verby nie. Wat moet ek tog doen?!
Ons gaan in die volgende hoofstukke sien hoe God se heerlike genade werk, maar as jy dalk nou al nuuskierig is om te sien langs watter wonderlike pad God die (skynbaar) onmoontlike doen, dan kan jy gaan loer by Romeine 3:21.
Gebed:
Here, ek staan diep skuldig voor U as ek U openbarende Woord lees wat soos ‘n swaard deur my sny. Alléén is ek verlore - U alleen kan my red. Dankie vir U wonderlike reddingsdaad!