Liefde in Praktyk |
||
Lees: Filemon 1:1-7 In Paulus se briefaanhef noem hy dat Timoteus sy mede-outeur is. Timoteus moes ‘n baie groot rol in Paulus se lewe gespeel het. Hy was ook mede-outeur van die twee Tessalonisensebriewe, 2 Korintiërs, Filippense en Kolossense. Buiten vir Filemon, is die twee briewe wat Paulus aan Timoteus geskryf het die enigste persoonlike briewe van Paulus wat bewaar gebly het. Wat het dan van Timoteus so ’n besonderse mens gemaak? Paulus het vir Timoteus op sy tweede sendingreis leer ken, en dadelik gesien dat hierdie jong man van gemengde herkoms (sy ma was ’n Jodin en sy pa ’n Griek) groot potensiaal het. Timoteus moes die gemeente in Tessalonika namens Paulus gaan besoek, en toe daar die dag groot probleme opduik in die gemeente in Korinte, was dit Timoteus wat moes gaan vure doodslaan. Later het Paulus vir Timoteus in Efese agtergelaat om daardie jong gemeente te bedien en op te bou. Is dit nie wonderlik as iemand oor jou pad gestuur word wat jy ten volle kan vertrou nie? Iemand aan wie jy jou probleme - selfs die grootste kopsere - kan toevertrou. Hierdie brief van Paulus gaan egter nie oor Timoteus nie, maar wel oor iemand anders wat nét so ‘n groot voorslag is in sy gemeente: Filemon. Hy het deur Paulus se bediening in Kolosse tot bekering gekom. As ons tussen die lyne deur lees, lyk dit asof hy welaf was - ‘n Griekse grondeienaar. In daardie jare was daar nog nie kerkgeboue nie, en die gemeente moes maar by huise bymekaar kom - nie alleen omdat daar nie geld was vir kerkgeboue nie, maar ook uit vrees vir vervolging. Ek neem aan dat Filemon ‘n baie groot huis gehad het, en dat hy nie suinig was om sy huis beskikbaar te stel vir die gemeente nie. Hulle het dus gereeld daar bymekaar gekom om kerk te hou. Paulus het groot agting gehad vir Filemon en vir wat hy bereid was om vir die gemeente te doen. Hy meld dit ook in sy brief dat hy gereeld vir Filemon bid, en dat hy baie dankbaar is teenoor die Here vir Filemon. In Paulus se gebed vir Filemon raak hy ook ‘n ander uiters belangrike punt aan, naamlik dat die “gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou ‘n dieper insig sal gee …..” ‘n Christen kan nie alleen leef en terselfdertyd geestelik groei nie - hy het ander gelowiges (gemeenskap) nodig om hom te help groei en sy insig te help verbreed. Deur byvoorbeeld intensief Bybelstudie te doen, gaan jy moontlik jou kennis verbreed, maar dit is eers wanneer jy dit wat jy gelees het met ander gelowiges deel en bespreek, dat dit werklik vir jou waarde begin kry. Deur gesprek gaan die teoretiese dinge wat jy leer gewoonlik oor na die praktiese uitvoering daarvan, en dan kry jou geloof voete en lewe. Hiermee wil Paulus indirek op my en jou die dringende beroep doen om aktief in te skakel by jou gemeente se werksaamhede. As daar ‘n Bybelstudiegeleentheid of biduur is - gaan neem deel. En as daar ‘n uitreik-aksie is - wees deel daarvan. Filemon het op ‘n baie konkrete en praktiese manier deelgeneem aan sy gemeente se bedrywighede, en nie alleen het almal daarby baatgevind nie, maar die bonus vir hom was dat hyself hierdeur geestelik gegroei het. Hy het soveel gegroei, dat Paulus die volle vrymoedigheid gehad het om hierdie baie netelige saak van sy slaaf wat gedros het met hom te kon opneem sonder dat Paulus vir een oomblik bang was dat Filemon dit verkeerd sou vertolk of kleinserig daaroor sou wees. Soos die ander rykes van sy tyd, het Filemon sekerlik ‘n paar slawe gehad - slawe wat hy ten duurste moes aankoop. So ‘n slaaf was sy eiendom, en soos met enige ander eiendom kon hy met die slaaf maak net wat hy wou. Deur te dros kon hierdie slaaf die doodstraf kry - dit was ‘n baie ernstige oortreding. Paulus wou keer dat Filemon dalk onverantwoordelik optree. Maar Paulus was bewus van Filemon se goeie kwaliteite, en daarom wys hy hom op hulle, en dat hy hulle moet aanwend in hierdie situasie. Paulus meld nie minder nie as twee keer in een paragraaf van ‘n wonderlike kwaliteit wat in Filemon se lewe uitstaan: sy liefde! In 1 Korintiërs 13 skryf Paulus ‘n lang relaas oor die uitnementheid van liefde, en hoe dit in ‘n mens se lewe moet hoogty vier. Van Filemon getuig hy hier, dat sy liefde waarlik uitstraal op ‘n baie praktiese manier. Liefde is nie om maar net vir iemand te sê dat jy hom liefhet nie, maar dat jy dit prakties uitleef - iets wat Filemon beslis gedoen het. Paulus noem dat Filemon deur sy liefde mense se harte verkwik het. Drie mense waarvan ons vandag gelees het, het Jesus se liefde prakties uitgeleef: Paulus, Timoteus en Filemon. Ek wil vandag ‘n beroep op jou doen om dieselfde te doen. Wees kreatief en soek maniere waarop jy liefde kan uitleef. Gebed: Here, maak asseblief my oë oop en wys my hoe ek U wonderbare liefde prakties kan uitstraal na die wêreld daar buite. |
||