Goeie Gewoontes

 
     
 

Lees: 1 Tessalonisense (Inleiding)

‘n Paar jaar gelede sit ek en my Mosbolletjie een aand op ons Boshuisie se stoep. Die nag is pik-pik-donker, en so sit ons en gesels, met net ‘n ou kersie vir troos, en ons luister na die boskonsert - die leeu wat baskitaar speel met sy Oemf-oemf, die olifante wat vrolik die trompette kielie waar hulle in die Krokodilrivier baljaar, die naguiltjies met hulle kristalhelder klein klokkies en fluitjies en die seekoeie met hulle basdromme - en dan lag die ou dik klomp so vulgêr uit hulle mae uit van puur lekkerkry. My flitslig staan hier langs my stoel, en kort-kort klief sy liggie die donkerte, net om seker te maak.....

Skielik is daar ‘n helderblink oog hoog bo in ‘n doringboom sowat dertig treë van ons af. My hart klop - dit kan maar net ‘n kameelperd wees wat verbystap. Dan “spring” die oog tot amper onder in die boom. “Ja, hy het sy kop laat sak”, dink ek, nou meer rustig. My flitslig is nie baie sterk nie, en ek kan gladnie die vorm van die dier uitmaak nie. Ek volg met groot belangstelling die oog soos hy op en af en heen en weer deur die takke van die doringboom vlieg. Eers as Mosbolletjie die ou groot kollig gaan haal, sien ons dat dit ‘n nagapie is.

Dit was die eerste keer dat ons ‘n nagapie daar sien. Mettertyd het hy ons begin gewoond raak, en al nader en nader gekom. Hy het later sy maatjie saamgebring om ons te kom vermaak waar ons saans om die braaivleisvuurtjie sit. Vandag, jare later, kom die nagapies saans tot reg op ons stoep. Die goggas wat deur die stoeplig aangelok word is ‘n groot trekpleister, en as daar dan nou toevallig ‘n piesang rondlê, dan spring hulle op en af van opgewondenheid. Elke besoeker aan ons boshuisie babbel opgewonde oor die skatlike ou nagapies wat hulle saans soveel plesier gee.

As ‘n mens eers ‘n gewoonte aangeleer het, raak jy nie maklik daarvan ontslae nie. Ek skud my kop as ek die manne sien wat so dag-na-dag hier by die huis verbydraf. Raak hulle nooit moeg nie? Vir my is dit die grootste straf om te gaan draf, maar vir hulle is dit tweede natuur. Vra egter maar vir enige drawwer, en hy sal jou sê dat dit nie sommer so vanself gekom het nie - dit het maande (dalk jare) van toegewyde selfdissipline gekos om hierdie gewoonte aan te leer. Presies so werk dit met jou geloofslewe, veral wanneer dit kom by die praktiese uitleef daarvan. Dit gebeur nie oornag dat jy ‘n toegewyde gelowige word wat getrou is in elke opsig nie. Dit kos gewoonlik baie jare van harde werk en selfdissiplinering.

Die Tessalonisense-briewe is geskryf deur die groot sendeling, Paulus aan ‘n baie jong gemeente. Tessalonika het maar ‘n kort rukkie voordat hierdie brief geskryf is vir die eerste keer die evangelie gehoor, en die gemeente staan nog letterlik in hulle babaskoene. Vir hulle was dit natuurlik ‘n geweldige groot aanpassing, want nou moet hulle ‘n totale nuwe denkstyl en leefstyl aanleer. Onthou: hierdie mense was heidene wat allerhande afgode aanbid het, en nou skielik is hulle Christene. Dis nie maklik nie! Daar was nog nie werklik ‘n sisteem in hulle Godsdiens nie, en ek is seker dat hulle dikwels moedeloos geraak het, en dalk gedink het dat hulle dit nooit as te nimmer gaan regkry nie. Paulus trek dus ‘n hasie uit sy hoed, en hy bemoedig hulle deur ‘n groot deel van sy brief te wy om hulle te laat verstaan hoe goed dit eintlik met hulle as splinternuwe Christene gaan.

Maar Paulus weet maar al te goed dat hulle geloof nie maar net op daardie vlak gelos kan word nie: hulle geloof het aanvulling nodig. Hulle moet leer van die dinge wat saakmaak in die geloof, en natuurlik is daar ook kwelvrae wat hy moet antwoord, soos wat die lot is van mense wat sterf voor Jesus se terugkeer. Boonop het hierdie mense gesukkel om hulle geloof te bely en prakties toe te pas in hulle alledaagse lewe. Hulle moes herinner word aan die dinge wat Paulus hulle geleer het in die kort tydjie wat hy daar was, en hulle moes weet dat hierdie nuwe leefstyl baie inspanning verg. Jy sal natuurlik onthou dat Paulus net ‘n kort tydjie in Tessalonika kon deurbring, en dat hy sy bediening daar inderhaas moes kortknip en vlug vir sy lewe - dus kon hy nie hierdie dinge vir hulle behoorlik inskerp nie.

Hierdie brief is vandag vir ons uiters relevant - so baie gelowiges sit met presies dieselfde probleme as die Tessalonisense. Ek het talle briewe gekry van mense wat raad vra - waar hulle net eenvoudig nie die basiese dinge van die geloof kan regkry nie. Dikwels is die eenvoudige dinge soos gebed en geloofsekerheid vir mense ‘n reuse berg om te oor. Die “ou” gelowiges kan maar net glimlag daaroor, want die meeste van ons is ook daar deur. Deur vas te byt en aan te hou het ons, met die krag van die Heilige Gees, hierdie dinge oorwin. Dit het oefening en deursettingsvermoë gekos - en baie harde werk, want ‘n gesonde, gevestigde geloofslewe kom nie maklik nie. Hou moed, en sit skouer aan die wiel.

Gebed:
Here, ek wil vanoggend elke jong gelowige wat hierdie boodskap lees aan U opdra. Neem hulle aan die hand en versterk hulle sodat hulle groot bome in die geloof kan word.