Dóén die Wet!
Romeine 2:12-29

 
     

 

Die afgelope twee dae se dagstukkies het ‘n baie donker prentjie geskilder oor die verskriklikste sondes wat daar dikwels in mense se lewens is, en dat dit alles tot die verdoemenis lei. In vandag se Skrifgedeelte gaan Paulus voort, en hy haal ‘n ander aspek van die lewe uit, naamlik die wet. Inderdaad is hy steeds besig om die deure in die donker gang van jou sondige lewe toe te maak. In my huis is daar ‘n kort gangetjie wat nie ‘n enkele venster in het nie. As jy al die deure in die gang toemaak, dan is dit pik-nag-swart-donker - skrikwekkend! Daar is nêrens waar daar ‘n ou ligkolletjie deurkom nie - daar is absoluut geen uitkoms nie! As jy egter die ligskakelaar aanskakel, dan is die gangetjie helder verlig. Paulus stuur af op die enigste uitweg uit die pikdonker katakombes van die ewige verderf - Jesus Christus se redding. Hy is die enigste Weg en Lig.
Vir die Jode is die wet seker die belangrikste manier waarop jy vir God aanvaarbaar kan wees. Daarom is dit vir hulle seker hulle heiligste besitting, en speel dit ‘n geweldige groot rol in hulle lewe. Elke Sabbat word dit in die sinagoges gelees, en die kinders moet groot gedeeltes van die wet uit hulle koppe uit leer ken. Volgens Paulus is die wet vir die Jood die samevatting van kennis en waarheid (vers 20). Enigiemand wat nie die wet het nie, is vir die Jood ‘n blinde mens - alleen Jode met die wet kan sien! Die blote feit dat hulle die wet besit is alreeds vir die Jode ‘n waarborg van die regte verhouding met God.
“Haai siestog”, sê jy dalk vanoggend terwyl jy hierdie stukkie lees, “hoe kan hulle dan so blind wees?”. Maar nou gaan ek die bom laat bars, dat presies dieselfde dwaalleer wat onder die Jode voorgekom het, vandag onder baie Christene voorkom. Baie mense is onder die wanindruk dat hulle katkisasie en belydenisaflegging hulle waarborg is van vryspraak. Nou is jy mos ‘n volwaardige kerklidmaat, en jou lewe is klopdisselboom! Ander dink weer dat Bybelstudie jou in die hemel sal bring, of om elke Sondag kerk toe te gaan. Hierdie is baie mooi dinge, en verseker noodsaaklik vir ‘n sinvolle verhouding met God, maar dit is nie genoeg nie! “Kennis”, reken sommige mense, “ek moet genoeg kennis van die Woord opdoen, dan sal dit my ‘n plekkie in die hemel waarborg.”
Paulus gee in vers 13 die absolute onmoontlike, ondoenbare antwoord op die probleem: “As jy doen wat die wet sê, sal jy vrygespreek word!” Met ander woorde, om net die wet te besit, of deel van die uitverkore volk van God te wees, is nie genoeg nie. God vra dat jy die wet moet dóén! Nou hoor ek al hoe jy mor, dat dit hééltemal te veel gevra is - totaal onmoontlik.
Maar nou gaan Paulus nog ‘n stappie verder, en hy praat oor iets anders wat die Jode baie naby aan die hart lê: die besnydenis. Vir baie Jode was die feit dat hulle besny was die teken dat hulle vir God gemerk is. ‘n Veeboer brandmerk sy beeste: met ‘n rooiwarm yster wat gesmee is in die vorm van sy voorletters, brand hy ‘n merk in die bees se vel in sodat almal sal weet dat die bees aan hom behoort. Daardie merk gaan nooit weg nie. Net so is die besnydenis ‘n permanente merk wat vir jou sê dat daardie persoon ‘n Jood is, en deel van God se volk. As jy die merk dra, kan jy nie verlore gaan nie - so glo hulle .
Maar Paulus neem selfs dáárdie uiterlike sekerheid weg. Die lidmate van die gemeente in Rome moet gereed gemaak word om die ware boodskap van verlossing deur Jesus Christus alleen te ontvang, en daarom moet hy seker maak dat hulle mooi verstaan dat geen uiterlike handeling vir jou die saligheid kan gee nie. In vandag se terme kan ons sê dat dinge (soms baie mooi) soos kerklike gewoontes, velkleur, kleredrag, afstamming ens. ens. absoluut niks beteken as dit by jou redding kom nie. Dit is vir baie mense slegs ‘n uiterlike bron van geloofsekerheid. Vir sommige mense kan hierdie mooi dinge selfs niksseggende afgodery wees. Verskriklik!
Wat wél waarde het, volgens Paulus, is besnydenis van die hart. Hierdie uitdrukking beteken dat jy moet breek met die natuurlike neiging tot selfsug en sonde, en dat jy God moet dien in volledige toewyding. Slegs die Heilige Gees kan jou hierdie soort “besnydenis” gee.
Die vraag is nou oor die doop (wat in die plek van die besnydenis gekom het). Beteken dit dat, as jy gedoop is, jy gered is? En wat van iemand wat nooit gedoop is nie, en nogtans Godvresend lewe - staan so ’n persoon ooit die kans om gered te word? Of is hy nie dalk beter daaraan toe as die persoon wat wél gedoop is en onverskillig lewe nie? Nou krap ek verseker waar dit nie jeuk nie! En dalk is ek besig om met hierdie klip-in-die-bos vraag vir myself ‘n byenes oop te krap. Maar kom ons kyk liewer more na hierdie netelige vrae, uit wat Paulus daaroor skryf.
Gebed:
Here, al die dinge wat ek gedoen het om in U guns te kom is tevergeefs en ‘n gejaag na wind. Ek besef dat U offer aan die kruis alleen my kan red. Dankie daarvoor, Here.