|
Lees: Romeine 3:21-31
“Maar nou ....” - so begin Paulus hierdie gedeelte. En dit maak my baie
opgewonde, want die afgelope paar weke het ons gelees van sonde, ellende en
verlorenheid, en nou kom hierdie briljante skrywer, Paulus, en hy lei ‘n
totale nuwe prentjie in. Hierdie woorde (Maar nou) bring ons by die tweede
gedeelte van sy brief, maar nog baie, baie meer: hierdie woorde lui ‘n
totale nuwe bedeling vir die ganse skepping in, naamlik ‘n NUWE TYD, en
daardie tyd is NOU!
Dink nou net - waar sou ek en jy nie vandag gewees het as God se genade, God
se “maar nou” nie aangebreek het nie? Ons sou dalk soos die Jode van ouds
steeds met die verskriklikste wette moes worstel om vir ons ‘n plekkie oop
te werk na die saligheid - dis nou te sê, as jy die voorreg gehad het om
darem ’n Jood te wees, want as ons nie deel van die uitverkore volk was nie,
dan was ons in elk geval totaal verlore! MAAR NOU het God ingegryp in
hierdie hopelose situasie. Hy het die “maar nou” gegee sodat ek en jy, en
elke mens op aarde, ook vandag deel kan hê aan God se onbeskryflike genade.
Die Skrifgedeelte waarna ons vandag gaan kyk, is seker die deel wat die
meeste gebruik word deur “sielesoekers” - dis nou mense wat ander na Jesus
lei. Romeine 3:23-24 is die evangelie in ‘n neutedop, en daardie enkele
woordjies het al gelei tot redding van talle mense. Maar hierdie
verkwikkende fonteintjie in die Bybel kom eintlik eers tot sy volle reg as
jy die voorafgaande deel deurgeworstel het, soos ons so pas gedoen het.
In die vorige hoofstukke word ek en jy al meer in ‘n hoek gedryf, wanneer
Paulus met fyn berekende argumente indringende vrae oor jou vra - vrae wat
jou lewe tot die been oopvlek. Die verskriklike gevolge van ‘n lewe sonder
God word woord-vir-woord uitgespel, totdat jy moedeloos uitroep: “Wee my -
Ek is verlore!”
En dan kom Paulus met die onbegryplike, allesoorheersende nuus van God se
vryspraak. Maar voordat ons dalk dink dat God sommer net al die sonde
vergeef en daarvan vergeet, moet ons baie duidelik besef dat God absoluut
heilig is, en dat sonde vir Hom ‘n verskriklike ding is wat nie ongestraf
durf bly nie. GOD STRAF SONDE! Die ongelooflike nuus is egter dat God se
vryspraak behels dat sy onskuldige Seun, Jesus Christus, belaai is met al
die straf vir ons sondes. My skuld, en joune is inderdaad betaal .... deur
Jesus!
Hier vind nou eintlik ‘n wonderlike ruiltransaksie plaas - Jesus neem jou
sonde weg, en jy ontvang Sy onskuld. Jesus sterf, en in ruil daarvoor leef
jy. Jesus word verneder terwyl jy verhoog word om in God se heerlikheid te
deel. Jesus word skuldig verklaar, en jy is vry - maar nie sommer net vry
nie - HEERLIK VRY!
Maar hoe kry jy deel aan hierdie vryspraak? Slegs een enkele dingetjie is
nodig: GLO. Paulus herhaal dit oor en oor en oor in hierdie hoofstuk - vers
22, 26, 28 en 30 - as jy glo in Jesus kry jy daardie verruklike vryspraak.
Baie mense het my al hierdie tergende vraag gevra: “Maar hoe kan ek werklik
seker wees van my verlossing? Het God my werklik aangeneem?” As dit
vanoggend jou vraag is - gaan lees hierdie hoofstuk ‘n paar keer deur totdat
die volle waarheid daarvan in jou hart en verstand ingesink het. God vra
alleen van jou ‘n eenvoudige kinderlike geloof. Dis al! Dan sal jy seker ook
sê: “Maar dit kan tog nie genoeg wees nie - ek moet tog ook die wet onderhou!”
Paulus vryf dit deeglik in wanneer hy die volgende paar versies skryf. Die
onderhouding van die wet kan vir jou nooit, ooit saligheid gee nie - alleen
geloof! Goeie werke en die onderhouding van die wet doen jy om vir God
dankie te sê vir die vryspraak wat jy alrééds gekry het. Om die wet te
onderhou as deel van jou poging om vryspraak te verkry, is soos wanneer
iemand oorboord val in die rowwe see, en hy skree “Help, ek versuip!”.
Iemand gooi dan vir hom ‘n reddingsgordel, maar dan skree hy: “Toemaar, ek
sal self regkom dankie!”
Wanneer jy die wonder van God se vryspraak beleef het - maak dit jou dan
beter as die ongereddes daar buite? Dan is jy mos ‘n trappie hoër, en nader
aan God, nie waar nie? Inderdaad nee! Niemand het iets uit homself om te
roem nie. “Daardie ongelowiges”, op wie ons as gereddes so graag wil
neersien, is maar net mense wat nog op die waglys is vir God se vryspraak.
Onthou: ek en jy was ook daar! Daardie mense - maak nie saak hoe sleg hulle
is nie - het ons gebed nodig eerder as ons hooghartige verwerping of
veragting. Sien elke ongelowige eerder as ‘n potensiële gelowige - iemand
wat nog nie die gawe van geloof ontdek het nie.
Gebed:
Dankie Here, dankie, dankie, dankie dat U my gered het. Laat my asseblief
waarlik omgee vir elkeen wat nog nie glo nie!
|
|