Geloofshelde |
||
Lees: Romeine 4:1-8 As ‘n klein seuntjie was my groot held Tarzan - daardie man wat so deur die woude van donker Afrika in die takke rondgeswaai het. Hy het my verbeelding totaal aangegryp - hy kon immers met die wilde diere kommunikeer! En later, toe ek besef het dat hy net ‘n fiktiewe karakter was, was dit Paul Kruger. Sy geskiedenis het kniediep gelê in die wêreld waarin ek grootgeword het. Ek het hom soort-van as die vader van demokrasie in Suid-Afrika beskou - ‘n man van edele inbors wat nie ‘n bang haar op sy kop gehad het nie. Maar die geskiedenisboeke van my jongdae het net die mooi dinge vertel van die ou president. Selfs die grote ou Paul Kruger het voete van klei gehad, en my mooi prentjie van hom het later totaal verkrummel. As ek vandag werklik ‘n held uit die verlede moes kies, sou dit seker Paulus wees. Ja, inderdaad het hy nie geskroom om die evangelie te deel met wie ookal oor sy pad sou kom nie, maar die groot ding omtrent Paulus was sy absolute onwrikbare geloof in Jesus Christus. Geen mens of gevaar of marteling of tronk of selfs doodsdreigemente sou sy geloof laat wankel het nie. In Paulus se tyd was heldeverering nie ‘n ongewone ding nie. Vir die Jode was Dawid byvoorbeeld ‘n reuse held, en so ook Moses. Maar daar was een held wat onbetwisbaar bo almal uitgestaan het, en dit was die stamvader van die Joodse volk: Abraham. Hy was ‘n held sonder enige gelyke, en ‘n rolmodel waarna elke Jood kon opsien. Heldeverering kan gevaarlik wees, veral as jy blind is vir hulle foute. Kyk maar byvoorbeeld na die groot helde uit die Bybel: Dawid het owerspel en moord gepleeg (onder andere), en selfs ou Abraham het ook maar ‘n paar keer lelik gestruikel. Nogtans kan ‘n mens baie leer, en moed skep uit die ervarings van daardie groot geloofshelde. Daar is talle sulke helde uit die geskiedenis wat enorme struikelblokke oorkom het. Hulle het deur die genade wat God hulle gegee het oorwinning behaal toe daar vir hulle feitlik geen kans was nie. Paulus gebruik die voorbeeld van Abraham as held om by die Joodse gelowiges ‘n aanknopingspunt te kry. Die punt wat hy probeer maak, is dat vryspraak niks te make het met wetsonderhouding of rituele nie. Vir ons as lesers vandag, wil die Heilige Gees deur hierdie gedeelte oortuig dat God ons liefhet en dat Hy al sy genade aan ons gee, sonder dat Hy in aanmerking neem, enigiets wat ons doen, gedoen het, of nog sal doen. Ons vryspraak is onvoorwaardelik en gratis. En wat meer is, is die feit dat ek en jy hierdie volledige vryspraak kan hê. God het ons nie lief oor wie en wat ons is nie, maar slegs omdat Hy God is! Ons prestasies het absoluut niks te doen met ons vryspraak nie - dit is bloot suiwer genade. Dalk sal jy vanoggend vir my sê: “Maar my geloof is te swak om God se vryspraak te kry.” Geloof is wel die voorvereiste vir God se vryspraak, maar is geloof dan nou een van die “goeie werke” wat jy eers moet doen? Nee, want selfs jou geloof is ‘n geskenk van God wat Hy uit genade aan jou gee. Vryspraak berus geheel en al op dít wat Jesus gedoen het, en nie eers een ou klein deeltjie van wat jy doen, gaan jou die hemel inhelp nie. “Maar dan is daar mos ‘n teenstrydigheid!”, sou jy sê, “want Jakobus skryf dit so duidelik dat geloof sonder werke dood is.” (Jak. 2:21-26). ‘n Mens kan dit só verstaan: goeie werke het alles te doen met die vrugte van jou vryspraak, maar dit het niks te doen met die grond daarvan nie. Met ander woorde, wanneer jy geloof het, behoort dit net natúúrlik te wees dat daar goeie werke uit sal voortspruit. Om die wet te onderhou, kan jou nie saligheid gee nie, maar omdat jy reeds die saligheid verkry het, sal jy God se wet onderhou uit dankbaarheid en liefde. As ek by ‘n kunswinkel instap, en die verkoopsman wys my ‘n prentjie wat met vetkryte op ‘n stukkie gekreukelde papier gekrabbel is, en hy probeer dit aan my verkoop vir ‘n astronomiese bedrag, sal ek baie gou vir hom vertel wat hy met sy ou prentjie kan maak. As my kind egter met presies dieselfde prentjie na my toe kom, en sê: “Pappa, ek het dit vir jou geteken!”, dan sal ek dit mos koester, en dalk selfs raam en in my kantoor uitstal. Ons allermooiste “prente” waarmee ons die saligheid by God wil koop, is vir Hom waardeloos en totaal onaanvaarbaar, want Hy is immers die kunstige Skepper van alles wat bestaan. Maar selfs ons onvolmaakte ou “prentjies” wat ons vir Hom uit liefde en dankbaarheid teken, dié koester Hy, want ons is Sy kinders vir wie Hy lief is. Vir sulke onselfsugtige “prentjies” sal God ons selfs uit suiwer genade beloon! Aangesien ons dan die geskenk van geloof en vryspraak ontvang het - kom ons dra dan vandag die vrugte wat daarby pas. Gebed: Here, dankie vir U vryspraak - help my asseblief om vandag die vrugte van die geloof te dra. |
||