|
Lees: Romeine 4:9-16
Afgryslike tonele speel hulleself jaarliks rondom Paasfees af in Suid
Amerika, waar mense deur die strate loop en hulleself met katse slaan.
Dikwels sien jy ‘n man wie se rug een groot rou bloedmassa is van al die
selfkastyding. En dan is daar nog diegene wat hulleself laat kruisig - aan
‘n kruishout laat vasspyker en sodoende die dood trotseer.
‘n Mens ril as jy sulke tonele aanskou - wat bereik ‘n mens daardeur? Dit
bly ongelukkig nou maar eenmaal deel van ‘n mens se sondige natuur, dat jy
sélf ‘n bydrae wil lewer tot jou redding. As jy dit nie doen nie, dan
beteken dit dat jy moet erken dat daar niks goed in jou steek nie, en vir
die meeste mense is dit ‘n baie pynlike ding om te aanvaar. Daar is ‘n
voortdurende (helaas, hopelose!) soektog na iets wat hulle voor God kan
bring sodat jy vir Hom aanvaarbaar kan wees. Dit is een van die
onderliggende redes vir hierdie walglike selfkastyding, en dit gee ook
aanleiding tot baie dinge wat mense doen onder die vaandel van
godsdienstigheid.
Vir die Jode was die besnydenis as teken iets wat hulle aanvaarbaar voor God
gemaak het. As jy daardie teken het, dan is jy ‘n bietjie nader aan jou
saligheid - jy het immers iets om dit te bewys. Paulus kom en trek die mat
skoon onder die Jode uit, as hy vir hulle sê dat die groot gelowige,
Abraham, alreeds God se vryspraak gehad het nog voordat hy besny was. Die
besnydenis is dus ‘n teken, en beslis nie die rede vir vryspraak nie.
Wat Paulus hier sê, geld ook vir hoe jy oor jou doop dink. Die doop is nie
‘n voorwaarde vir jou vryspraak nie. Dit is selfs nie eers die manier waarop
jy vrygespreek word nie, en nie eers al die water van die see kan jou sondes
afwas nie. Die doop is bloot ‘n teken van jou vryspraak. Moenie my verkeerd
verstaan nie - ek sê nie hiermee dat die doop onnodig is nie! Die doop is
baie kosbaar - as ‘n teken van God se verlossing. Dit herinner jou gedurig
dat God jou liefhet - onvoorwaardelik liefhet - ongeag die dade wat jy in
jou lewe gepleeg het. Dit herinner jou ook daaraan dat Hy jou uit genade
vrygespreek het.
Nou wat dan van die wet? Die Romeine het geglo dat hulle regstelsel met sy
goed-deurdagte wette die beste in die wêreld was. Tot ‘n mate was hulle ook
reg, want tot vandag toe nog word die Romeins-Hollandse regstelsel wêreldwyd
gebruik. Ons weet ook al baie goed wat die wet vir die Jode beteken het. Dit
was hulle kaartjie hemel toe! Maar hulle het nog ‘n entjie verder gegaan, en
die tien gebooie uitgebrei tot ‘n stelsel van meer as 600 wette, wat hulle
lewe op elke denkbare terrein baie noukeurig gereël het. Die Jode het ook
sekere uitsprake in die Ou Testament só vertolk dat nie alleen die beloofde
land nie, maar die ganse wêreld aan die Jode gegee sou word met die koms van
die Messias - op grond van hulle wetsonderhouding.
Paulus gebruik hierdie denkpatroon om ‘n punt te bewys. Die verrassende is
egter dat hy ons tot die ontdekking lei dat ‘n mens se pogings om iets te
verdien deur wetsonderhouding, nie lei tot ‘n groot beloning nie, maar tot
straf! Om die waarheid te sê, het Abraham nie God se vryspraak gekry omdat
hy die wet onderhou het nie, maar bloot omdat hy geglo het. Die wet van
Moses het in elkgeval eers meer as vierhonderd jaar later op Sinai gekom, en
die onderhouding daarvan kon net eenvoudig nie ‘n voorwaarde vir Abraham se
vryspraak wees nie.
As ek jou moet vra of jy die tien gebooie onderhou, sal jy waarskynlik vir
my sê “Maar natúúrlik!” As jy egter mooi gaan kyk na die volle betekenis van
die tien gebooie, dan is dit dalk ‘n ander storie. Vat nou maar die wet wat
sê dat jy nie mag steel nie. Wat is diefstal? Dit is om jou werk se tyd en
internetkoste te gebruik om persoonlike e-posse te ontvang en te stuur. Dit
is om laat te kom by jou werk - jy steel tyd; Dit is om die ontvanger van
inkomste so ‘n klein bietjie te verneuk. Sal ek aangaan? As jy een enkele
wet oortree het, het jy gefaal. Ek oortree daagliks omtrent al die gebooie
op die een of ander wyse. Die grootste gevaar om jou vertroue op die
onderhouding van die wet te plaas, is egter dat jy jou vertroue verplaas van
God na jouself. Op hierdie manier (so sê Paulus) het jou geloof sy betekenis
verloor!
Jesus belowe aan ons ‘n reuse beloning - die koninkryk van die hemel asook
die nuwe aarde. Jesus vra egter nie dat ons in ruil daarvoor die wet moet
onderhou nie, maar Hy vra dat ons sal lewe in ‘n volle afhanklikheid van Hom
alleen (Mat. 5:3-12). Wat behels so ‘n lewe? Daarin moet liefde die botoon
voer, en sagmoedigheid en volharding en om reg te doen. Hierdie dinge (vrugte)
kan egter alleen gebeur as jy reeds die vryspraak het wat geloof jou gee.
Gebed:
Here, dankie dat ek nie hoef te werk vir my vryspraak nie, maar dat U dit
reeds vir my gegee het uit genade.
|
|