|
|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare!
Soos julle hierbo kan sien is dit
uitgawe nommer 100! Sjoe, was nogal 'n lang pad tot hier, dankie aan
almal wat uitgehou het tot nou, waardeer dit baie. Ek gaan 'n
hele klomp goed weggee so maak seker dat julle alles lees om nie van die
pasellas te mis nie.
Ek het sommer die Patriot se baadjie
so effens verander en eenvoudiger gemaak, hoop dit lees nou makliker.
|
Pasella #1
- Ek neem die
ander dag 'n foto in die tuin en dag toe dag dit 'n mooi muurpapier
vir 'n rekenaarskerm sal maak, so regs klik
hier en laai dit vir jou
af. |
Soos verlede keer belowe gaan dit
sommer 'n lekkerlees uitgawe wee hierdie. Nie net skryf Estelle de Bruyn
weer vir ons nie, maar die ou gunsteling, Minette Brink is weer terug
spesiaal vir nommer 100 en dan is daar ook nuweling (hier altans) ,
Annelie Botes.
Kom ons skop oudergewoonte af met
Estelle se bydrae. Sy is verbonde aan die
Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië.
Kontak haar gerus, sy hoor graag van julle.
MA SE VERJAARSDAG
Estelle de Bruyn
TANNIE Bokkie het vroegtydig laat weet. "Willemien, vanjaar doen jy niks,
ons treat jou." Anders as ander jare is die eetkamertafel dus dolleeg
toe ek op die vooraand van my Ma se 80ste verjaarsdag by haar huis kom.
Dis net die Royal Albert teestel, die bont teestel wat sy toe hulle pas
getroud was van my pa persent gekry het en die wit en groen teestel wat
op die tafel uitgepak is.
Vrydagoggend tien uur toe gaan die ark se deure behoorlik oop en op ’n
streep kom die tannies daar aan met verjaarsdagwense, persentjies en elk
met die een of ander eetding. Dis melktert en peppermint crisp tert,
jodetert en aspersietert, koeksusters en karameltertjies, krimpvarkies
en gevulde poffertjies.
Hulle is almal daar, al die tannies wat so getrou elke jaar kom geluk sê.
Tannies wat mekaar oor jare by die VLU, die sustersvereniging en met die
gewerkery by die kerrie en rys tafel by die skool se atletiekbyeenkomste
en oor meer as 30 jaar elke Sondag in die kerk leer ken het. Hulle kuier
in paaiemente en soos die eerste sarsie groet, lui die voordeurklokkie
en die volgende golf spoel in. Dominies Andries kom ook geluk sê, eet
twee keer van die tannies se gebak tot groot vreugde van teenwoordiges.
Tannie Lina, wat ’n paar jaar terug agter haar kinders aan Alberton toe
getrek het, se dogter het haar spesiaal vir die dag deurgebring om te
kom meemaak aan die vieringe. Tannie Anna het van Klerksdorp gery en vir
haar kry jy nie stil as sy eers op dreef is nie. Sy vertel weer, soos
verlede jaar, van haar hartaanval "en die dokters kan tot vandag toe nie
uitvind wat fout is nie, maar ek is seker dit was ’n hartaanval" en van
elke oorsese reis wat sy sedert 1955 onderneem het, hoe sy in Napels
verdwaal het in die huurkarretjie en hoe hulle met die ferrie oor die
fjords in Noorweë gereis het, die Amerikaanse vrou met die geil stem wat
haar op die een toer in Griekeland so geïrriteer het. En nes verlede
jaar luister almal maar aandagtig en maak of dit die eerste keer is wat
hulle die stories hoor, want op dié ouderdom weet hulle is dit maar
moeilik om ’n gehoor te kry om te luister.
Laat middag kom Oom Johan en Tannie Stienie ’n draai maak. Hulle het
verlede jaar die huis waar hulle 40 jaar lank gebly het verkoop en ’n
plekkie in ’n aftreeoord gekoop. Hulle kan nie uitgepraat raak oor hoe
lekker dit is nie. Die ou groot kasarm van ’n huis mis hulle glad nie,
nie vir ’n oomblik nie, maar al die goed wat in bokse gepak is met die
trek, is nog nie uitgepak nie. "Willemien, jy moet jou huis opgee. Vir
wat wil jy hier in die grote huis aanbly. Kom aftreeoord toe," sê hulle.
Toe ons uiteindelik donkeraand die voordeur toetrek toe die laaste mense
weg is, sug ek en my Ma ’n slaak van verligting. So ’n 80-wordery kan ’n
mens uitput. Ons was die skottelgoed, bêre die oorblywende koek en tert,
trek ons pajamas aan en val stokflou in die sitkamerstoele neer vir
nabetragting.
"Ek bly net hier waar ek is, tot ek nie meer langer kans sien vir die
groot huis en die groot tuin nie," sê my Ma.
Dis reg met my, Mamma. Solank jy wil en kan, geniet jou huis en jou
goedjies. As jy dan nie langer kans sien nie, maak ons twee ’n plan.
Volgende jaar, as die Here wil, hou ons weer verjaarsdag daar om die
groot eetkamertafel.
Dankie, Estelle, ek kan sommer sien
hoe kuier die oumense! - Peter
En nou is dit Minette se beurt. 'n
Ou gunsteling hier op Peterjasie, het ek haar oorreed om spesiaal vir die
100ste uitgawe weer iets te skryf, hier is dit:
Minette het dit nie 'n titel gegee
nie, maar die Word dokument waarin sy dit gestuur het was Peter.doc, so
dit is wat ek dit noem.......
Peter.doc
Minette Brink
Richard Bach sê “There’s no such
place as far away.”
Maak daarmee wat jy wil. Vir my het die woorde verbysterend te veel
betekenis. Dit skeur my hart toe ek die 2de Mei met die rooi karretjie
oor die Oranjerivier ry. En die Namib met al sy geheime en my droomman
agterlaat. Oor ek moes, oor Vader Tyd so gesê het. En ek doelloos op
Stellenposh ronddwaal op soek na ‘n stukkie sand, ‘n stukkie mens-mens
wat na son ruik.
Dit slaan my wind uit toe my beste pêl laat weet sy het daardie droom-job
in Madrid gekry en Vrydagaand hou ons vaarwel-party.
Toe my pa destyds met sy rugsak by die huis uit is om nooit weer terug
te kom nie, het ek nog nie vir Richard Bach geken nie. Ook nie toe ons
kleintyd van die Kaap Suidwes toe getrek het en ek betraand my geliefde
Ouma en Oupa Brink in die agterruit van die Volla sien kleiner raak nie.
Van mense wat weggaan weet ek te veel. Doodgaan, skei, sommer net
wegloop, emigreer, noem maar op. En al wat jy wou doen is om almal vir
wie jy so oneindig lief is, aan jou vas te maak om saam met jou deur die
lewe te reis. Soos daardie volksbekende moskombersie.
Maar dis helaas nie hoe die lewe aanmekaar geweef is nie.
Dis jy, alleenlik jy. En skielik is jy vry, sing nog ‘n bekende.
Dis presies hoe die steke langs mekaar lê.
Dan eers maak oom Bach se woorde sin.
Maar jou oge moet eers oopskiet om die grote wêreld in jou hand te kom
laat lê. Of in my geval, onder die getokkel van die klawerbord. Want
Corby se baba Rachel is gisteraand Down Under gebore en somehow is sy
verlange terug PE toe skielik minder, en Derrick se tuinbou-besigheid in
Brisbane floreer die afgelope maande, kyk die stunning foto’s.
Mel en John het huis gekóóp in Glasgow en die kids praat Afrikaans met
Skotse aksente, “wens jy kan dit hoor”, Francois het die acting eers
eenkant geskuif en ‘kook’ in London met die ‘graphics’ – ek is flou,
girl, ma’ ek kla nie, die Liebe Vader is goed vir my’ en iewers in
oorloggeteisterde Afrika neem Kenneth steeds onverpoosd foto’s met die
hoop dat iemand iewers eendag die lig in hul harte sal voel.
En uit die bloute bliep die selfoon en dis sommer net ‘n lawwe
boodskappie van Jay in Kanada wat seg “al wat great is vir hierdie dag.”
En jy het nie regtig ‘n idee wie hy is, maar somehow ken ons mekaar
almal en jou hart sit uit van lekkerkry.
Oorlat jy skielik weet, dis my familie dié. Die mense vir wie jy nog nie
in die oog gekyk het, wie se reuk jy nie ken nie, saam met wie jy nog
nie oor ‘n Namib-duin is nie. Maar dit maak nie saak nie.
My pa het na hy uit die huis weg is, een verjaarsdag vir my ‘n boek van
Richard Bach gepos. Jare later het ek ‘n baie besondere man ontmoet. Sy
naam was Peter Thomas. En hy het my wind uitgeslaan met herinneringe aan
en die waarde van: There’s no such place as far away.
Minette, ek sien uit na die tyd
wanneer jy jou voete in die Bos gevind het en weer meer gereeld sal kan
skryf....-Peter
|
|
| |
Baie dankie
vir jou bydrae, Annelie
Skitterdrie of bitter drie?
Annelie Botes
In my kinddae was daar onverwarbare patriarge en matriarge. My pa het
beswaarlik sy eie koffie geroer, laat staan nog take soos wasgoed ophang en
babas droogmaak.
My ma het nie ‘n tjekboek of bestuurderslisensie gehad nie. Sy het ons
kerkrokkies en -hoedens gestik en gestysel; my pa het ons met sy Chev-bakkie
Uniondale se koshuis toe gery en ons van sakgeld voorsien, ‘n sjieling per
week. As ons gaan grootkoop het op George, het my pa bestuur en die tjeks
uitgeskryf. My ma het die padkosfrikkadelle gemaak en ons hare gevleg. Die
rolle was ononderhandelbaar.
Nou se dae is dit gat-oor-kop. Net nou die dag sien ek die bultende vrou op
die voorblad van die koerant, in volle spoed op pad doellyn toe, rugbybal
onder die arm. Glo ‘n skitterdrie gedruk. Die beeld van die stormvrou het
aanmekaar boontoe geskiet in my kop, nes ‘n knoffelwind.
En die insident van my doerietydse standerd 6-seun het na my bly terugkom.
Het mos in ‘n mayonnaisebottel ‘n wind gelaat en die deksel blitsig
opgeskroef. Vandag, 14 jaar later, staan die ingelegde poep steeds uitgestal
in sy kamer. My dogter was 3 toe sy haar eerste winter-broekiekouse gekry
het. Toe stamp haar wilde nefie haar van die fiets af, en haar ontsteltenis
was eg vrou: Jy kon my kouse geskeur het!
Laat ek die deegstukke saamknie. Pa-ma-triarge. Vroumensrugby. Ingelegde
winde. Broekiekouse. Waarop dit neerkom, is dat ‘n vrou ‘n vrou is, en ‘n
man ‘n man. Elkeen het ‘n unieke ratkas wat kan strip as die ratte onkundig
opgewetter word.
Ek is ‘n moderne vrou wat glo in my regte, dit wyebek verkondig én uitleef.
Maar iets in my vrouehart sê dit is verkeerd; die grense en rolle het
verstrik geraak en dat ons saamgestelde rente opdok vir ‘n oortrokke
fasiliteit wat buite ons vermoëns lê. Dié dat ons met ‘n ontgogelde
middeljarige mansgeslag sit. Nie almal nie, maar vele van hulle. Verkeerd?
Lees gerus Archibald D. Hart se Unmasking Male Depression om insig te
kry.
Wat is dit met ons mans dat hulle aanmekaar verkeerde kant toe neuk? Kinder-
en oumensverkragtings. Gesinsmoorde. Kuberseks. Bloedskande. Perlemoendiewe.
Motorsindikate. Tronke vol mans.
Die grootste probleem met mans is ontsaglike verwarring. In hulle kinderjare
het hulle rolmodelle gehad wie se grense sekuur afgepen was. Nou is alles
anders. Hulle kan nie meer vir hul gesinne voorsien soos hulle pa’s gedoen
het nie. Hulle vrouens móét werk om die huisvuur aan die brand te hou,
anders as die rolmodel met die tjekboek wat hulle geken het; of die
sorgdraende ma wat gebak, gestop, gevoed, genees en gebaar het. Dan moet hy
nog smiddae ná werk en naweke stofsuier stoot, kombuisvloer mop,
resepteboeke lees. Hy moet ‘n voorskoot aansit en tafel dek. Dus, behalwe
dat hy nie geldelik bemagtig is nie, word hy ingewors in die stropende rol
van skropvrou en nanny.
Dis sielsknersend. Maar wat anders? Hy moet, want sy topvrou werk voldag om
die vuur waarvoor hy aanspreeklik is, brand te hou. Sy’s rats en ingelig,
het ‘n meestersgraad; haar eie motor, kredietkaart en off-shore-beleggings.
Ken ‘n skroewedraaier en kragboor en bobbejaan-spanner. Sy kan ‘n kortbroek
aantrek en ‘n skitterdrie druk. Ja, die patriarg het getuimel. En die
matriarg staan wydsbeen bo-oor hom; jodelend, met haar brandende bra in haar
hand.
Pleks dat almal lank en gelukkig lewe in ‘n wêreld vol regte, gelykhede en
bevryding, versplinter die gesinstruktuur ál verder. Almal - mans en vroue -
lewe op anti-depressante; almal het ‘n shrink. Slim ontleders sê dis stres
en gejaag en geraas wat dit doen. Konstante druk. In my domheid dink ek dis
omdat matriarg en patriarg omgeruil het, en nou gryp-gryp elkeen na ‘n
identiteit wat onder die brug deur is see toe.
Vir elke skitterdrie wat die vrou agter die doellyn plant, seil die patriarg
dieper in sy wegkruipgrot in. Tot in die dik donkertes waar die onheile
skuil. Hy’s bang vir terugkruip en regopstaan in die daglig wat by die
grotmond inskyn. Netnou steek die son hom in die helder dag. Hy ys vir die
dag as die vroulike vaskop hom in die grond in druk en sy nek breek. En die
hele skrum inmekaarsak.
Skitterdrie? Of bitter drie?
Al kommentaar wat ek het oor die drie
artikels hierbo is: DIS mos nou hoe Afrikaans geskryf moet word!
Met elke uitgawe fokus ek op 'n
Afrikaanse webwerf.
Kry die Internet in Afrikaans
Klik gerus hier
, en deursoek meer as 1400 Afrikaanse webwerwe - Soekafrikaans.co.za
Soek-Afrikaans.co.za, die suster webwerf
van Woes.co.za word nou aangedryf deur Google. Jy kan nou iets soek oor die
meer as 1,400 webwerwe wat gelys is. 'n Perfekte ding as jy 'n onderwerp in
Afrikaans wil navors. Besoek gerus
www.Soek-Afrikaans.co.za of as jy weet van 'n oulike Afrikaanse webwerf
las dit sommer self by.
Iemand wat in Melbourne woonagtig is
stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's
op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere.
Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik
toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle
self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons
Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek
HORLOSIE IN
DIE SAK
Woorde: Tradisioneel
Musiek: S.A. Volkswysie; verwerk: CHRIS LAMPRECHT
Horlosie in die sak en die ketting om die nek;
daarom is die nooiens na Ferreira so gek.
Ek swaai jou hier, ek swaai jou daar, jy's 'n ongenooide gas.
Ek swaai jou hier, ek swaai jou daar, jy's 'n ongenooide gas.
(O hartlam is dit jy,) Is dit jy, (o hartlam, is dit jy,)
is dit jy, o hartlam, is dit jy wat die kêrels so verlei?
(O hartlam is dit jy,) Is dit jy, (o hartlam, is dit jy,)
is dit jy, o hartlam, is dit jy wat so ver in die wêreld bly?
|
Agterpad Reisnotas - versamel deur Braham van Zyl |
Ek luister mos
een Saterdagoggend na Amoré Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met
Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een
van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres
onderaan die artikel) Hy stuur 'n 'n gereelde nubrief uit.
DIE KAMIESBERGE, Namakwaland:
Noord-Kaap Provinsie
Emmerentia de Kock van die Namakwa Nasionale Park, skryf:
Die Kamiesberg strek vanaf Garies tot by Springbok. Dit vorm die
plato tussen die Sandveld aan die Weskus en Boesmanland in die ooste,
en strek soos ‘n ruggraat in die middel van Namakwaland af. Dit word
die Hardeveld genoem.
Dit is geleë in die middel van die Sukkulente Karoo
plantegroeistreek, en word beskou as ‘n baie belangrike brandpunt in
die plantegroeiwêreld. Die Kamiesberg is die enigste streek waar al
die bekende endemiese vetplantspesies tot dieselfde familie behoort,
nl. Mesembryanthemaceae. Die streek spog ook met meer as 4000
veldblom- en plantsoorte, waarvan 86 spesies endemies is, m.a.w. dit
kom nêrens anders in die wêreld voor nie. Bo-op die berg kom fynbos
en renosterbosveld voor. Die area spog met 35 boomsoorte wat
oorblyfsels is uit ‘n nat tropiese tydperk miljoene jare gelede. Die
Acacia erioloba, die kameeldoringboom, het die area eers 4000 jaar
gelede binnegekom, en is eintlik ‘n somerreënval spesie.
Algemeen word aanvaar dat die naam, Kamiesberg, afgelei is van die
Nama woord, tkimmie wat bondel beteken of tkammie wat water beteken:
die berg van water wat opmekaar gestapel of gebondel lê. Die
bekendste bakens in hierdie bergreeks is Kardoukop of Kroonkop
suidoos van Kamieskroon, Boesmankop in die weste en Sneeukop, 1591 m
hoog, noordoos van Kamieskroon.
In die winter kry die berge gereeld sneeu wat al vir skouspelagtige
sneeutonele gesorg het. Die Kamiesberg bied wonderlike rotsformasies,
plantegroei, klowe, passe en na aan die aarde mense, om dwarsdeur
die jaar, en nie net gedurende blommetyd, te ontdek en te ontmoet
nie.
Skakel die Namakwa Nasionale Park by 027 672-1843/948 vir meer
inligting oor die omgewing daar om Kamieskroon. Deur: deur Braham van Zyl
Posbus 1259, Durbanville, 7551
Faks 021-975-4466
Sel 082-457-0019
Skryf vir Braham
en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings
direk van hom af!
e-pos : info@explore-sa.com
Luister elke Saterdagoggend
net na die agtuur nuus op die Afrikaanse radiodiens van RSG na Braham
van Zyl en Amoré Bekker se agterpad geselsies op die program Brêkvis
met Bekker.
Hoe oud moet iets wees om as Toeka te kwalifiseer? Die
volgende artikel dateer uit 1958 in die dae toe ek 'as n
laaitie in Koster grootgeword het. Die volgende is deur my ma, Esther
Anderhold, geskryf onder die skuilnaam Fien
Die volgende artikel deur Fien verskyn op 14 Mei, 1958 in die Koster en
Swartruggens Herout Die
Kappiekommando Kompeteer
deur Fien
Die dames van Koster besluit toe mos om 'n rewolwerklub te begin
Gewapen met veldkykers, selfvertroue en tien patroontjies elk het die dames
van die Kosterrewolwerklub verlede Vrydagmiddag op die skietterrein van die
Noordelike Skietkommando bymekaargekom vir hulle eerste skietoefening, maar
dit was nie lank daarna of die verbygangers het lont geruik en gou-gou was
daar 'n groot skare mense wat gekom het vir, soos hulle vermoed, 'n
braaivleis, (want die skietterrein is 'n deel van ons dorpskamp). Hier moes
ons egter die belangstellendes teleurstel want die nodige voorsorgmaatreëls
ter beveiliging van die lewende hawe in die kamp was alreeds getref - dus
het daar geen moontlikheid van 'n braaivleis bestaan nie.
Op die skietbane aangekom, moes ons in twee rye en op dubbelpas na die skyf
marsjeer, maar hier het dinge egter byna in 'n oorlogstoestand verkeer, want
sonder waarskuwing is daar 'n paar skote met buskruit geskiet, nie om ons in
verwarring te bring nie, maar om die noodsaaklikheid van bewegingloosheid
duidelik te maak. Die gevolg was dat wanorde onder ons losgebreek het en
binne 'n paar sekondes was al die skutters op die loop gejaag, en hulle het
hulself agter die eerste en beste beskikbare dekking verberg.
Hierdie voorval het ons baie senuagtig en prikkelbaar gemaak, en baie geduld,
sagte behandeling en takt moes aan die dag gelê word voordat ons weer
selfvertroue gehad het.
Die skyf, met 'n kol van omtrrent 1 1/2 duim in deursnit, was op 'n afstand
van 60 jaarts geplant, en ons was daardeur genoodsaak om ons veldkykers (streng
verbied) te gebruik voordat ons kon korrel neem, sodoende moes ons dan die
vereistes van skietbaandisipline verbreek want ons moes in seksies van drie
in plaas van EEN op die front tree, nl die skut, 'n tweede wat die veldkyker
gebruik om die punt waarna die skut moet mik te beskrywe en die derde wat
moes dien as skietrus. Ongelukkig het een van die "rekrute" vergeet om die
rigmiddele suiwer regop te hou, sy het albei haar oë styf toegeknyp en -
gevuur, voordat sy uit die 'laai'-houding in die 'aanlê'-houding was.
Dit was toe besluit dat dit veiliger sou wees om ons verder af te rig in die
'sittende'-houding!
Daarna het ons geskiet sonder skyf en verskillende voorwerpe in die veld was
gebruik as mikpunte. Die "rekruut" met die veldkyker het vier mikpunte
beskrywe, en na die bevel van 'vuur' het een van die mikpunte skielik in die
lug gespring en die veld ingestorm. Dit was jammer dat hierdie 'mikpunt' oom
Org se kampioenbul was, maar ons kon toe niks aan hierdie ou sakie doen nie.
Gelukkig was daar een van die mediese tipes onder die belangstellendes, en
nadat hy tevergeefs al sy kennis in eerstehulp aan die dag gelê het, was dit
algemeen aangeneem dat daar tog braaivleis gehou sou word.
Verder was ons geleer dat die rewolwer op twee maniere gebruik kan word (a)
as wapen vir een hand en (b) as wapen vir twee hande. Ek verkies natuurlik
die tweehandegreep - sodoende hoef ek nie korrel te neem nie en ek kan die 'lêende'
skiethouding inneem, met die kolf as stut vir my ken!
Na die eerste rewolweroefening is ek oortuig daarvan dat daar nie EEN
agterlike skutter onder ons dames is nie, en ek kan waarborg dat ons
binnekort op bevel van 'snelvuur' sal kan staande laai, knielende korrel en
sittende vuur - (standaardtyd een minuut!). En as die bevel 'vul magasyne'
gegee word sal ons nie die rewolwers wegsmyt en na ons kosmandjies storm nie,
maar sal ons direk weet dat die opdrag is om aan te lê en te skiet!!
Verder dat die terme 'oorgehaalde haan' en 'ontspan vere' niks met die henne
in die hok te doen het nie!
Ek vra vrae oor die Agraco
muskietplakker, kampeer in Mosambiek en die Richtersveld.
Klik
hier en kyk of lewer kommentaar.
'n Paar Dol
Definisies!
HUWELIKSERTIFIKAAT :
'n Soort jaglisensie wat jou tot een bok beperk.
KRAAI : Spreeu in 'n aandpak.
KREDIETKAART : Iets wat meeste mense gebruik wanneer hulle ontdek geld
kannie alles koop nie.
VLEISBRAAI : 'n Partytjie waar die kos so 'n bietjie rou en die gaste
so'n bietjie gaar is.
WITTEBROOD : Die vakansie wat 'n man neem voordat hy vir 'n nuwe
baasbegin werk.
ALMANAK : 'n Kaart waarop jy kan sien hoe om by Kersfees uit te kom.
AMBULANS : Kombi met diskoligte.
BAAS : Wat Ma vir Pa laat dink hy is.
BABA : 'n Soort engel waarvan die vlerke korter word namate die bene
langer word.
BABAWAENTJIE : Verlede jaar se pret op wiele.
BEGROTING : Iets wat jou laat wakker lê nog voor jy jou geld bestee.
BELASTING : Die beloning vir energie, harde werk en spaarsamigheid.
BOOM : Iets wat jare op een plek bly staan en dan skielik op 'n dag voor
'n voertuig inspring.
BROMMER : Vlieg met 'n dieselengin.
BRUIDEGOM : Imand wat hom teen iets taais vasgeloop het.
BRUNET : Uitgebrande blondine.
DIEET : 'n Manier van maer word waarvoor jy gou dik word.
EEND : 'n Hoender met roeispane vir voete.
EIER : 'n Voël se geboortedo(r)p.
ETENSTYD : Die enigste tyd wanneer 'n kind nie wil eet nie.
GERAAMTE : Iemand met sy binnekant buite en sy buitekant weg.
GESINSVAKANSIE : Wanneer jy alles saamneem waarvan jy eintlik wil wegkom.
GEWETE : Iets wat pla as alles baie lekker gaan.
HELIKOPTER : Eierklitser met ambisie.
INRYTEATER : 'n Plek waar jy ou prente en jong paartjies aantref.
KARSIEK : Dit wat jy elke maand kry as jy die paaiement moet betaal.
KORTPAD : 'n Pad waarop jy niemand kan kry om jou te sê waar jy is nie.
LEKTOR : Iemand wat die rare talent het om 'n student aan die slaap
te praat.
WAARHEDE, NAARHEDE .....
Daar's twee soorte mense by 'n partytjie, die wat wil ry, en die wat wil
bly.
En gewoonlik is hulle met mekaar getroud.
Al ooit opgelet hoe baie verliefdes met toe oë soen ?
Ongelukkig gebeur dit dikwels dat hulle ook so trou.
Daar's net 3 maniere om huistakies te verrig :
Soos 'n BEJAARDE : stadig.
Soos 'n VOLWASSENE : deeglik.
Soos 'n TIENER : glad nie.
Siekefondse is nes 'n hospitaaljurk : jy dink maar net jy's ten volle
gedek.
Sommige vroue dink bikini's is onbehoorlike drag.
Ander het weer die figuur daarvoor.
Voor haar troue sweef 'n vrou in die wolke.
Na haar troue sit sy haar voet neer.
Vroue jok oor hul ouderdom.
Mans oor hul salaris.
Dis altyd die laaste sleutel aan die bos wat die deur oopsluit.
Jy weet jou dogter is besig om groot te word as sy stadig begin aantrek
en vinnig geld bestee.
Snaakse ding 'n hoender. Dis al dier wat jy kan eet voor hy gebore word
en na hy dood is.
'n Vrou se mond is nes 'n stukkende garagedeur.
Jy sukkel jou gedaan om hom toe te kry.
Meisies wat bril dra, kan net so aantreklik wees soos die wat nie bril
dra nie.
Dit hang net van hul raamwerk af.
'n Skinderstorie is nes 'n eier - as hy eers uitgebroei het, kry hy
vlerkies.
As 'n man rats spring om die motordeur vir 'n vrou oop te maak, kan jy
maar weet dis of 'n nuwe vrou of 'n nuwe motor.
Piekniek is vir kinders ...en miere |
|
| |
Ek is
betrokke by hierdie inisiatief van Elsabé, kyk tog asseblief of julle nie
ook 'n bydrae kan maak nie, besoek ook hulle
webwerf.
Goeiemore vriende,
Groot is SY genade!
Dit was weer ‘n heerlike week vol beloftes en seeninge! Skaars was die
nuusbrief uit en die oproepe kom in. Dankie ook vir die ondersteuning en
beste wense in ons stryd teen die duiwel en sy trawante!
Baie dankie aan al ons getroue ondersteuners met groot naasteliefde in hulle
harte. Dankie dat julle hierdie Kersfees van 2006 vir soveel mense baie
besonders gaan maak!
Daar het nou al ‘n hele
paar geskenke ingekom asook 344 lekkergoedpakkies! Ons het nog beloftes
gekry en ek weet en glo dat ons uiteindelik – soos altyd in die verlede meer
as genoeg gaan inkry om almal se harte bly te maak!
Die winkels is alreeds
propvol kersfeesversierings wat ‘n mens sommer die “Kersfees-gevoel laat kry”
Ons kort werklik nog honderde geskenke! Teen R70 per geskenk glo ek dat dit
nie buite ons bereik gaan wees om vir elke bejaarde en kind ‘n lieflike
geskenkie te kan koop nie. Die opgewondenheid loop nou regtig hoog onder
die kinders want oor minder as 23 dae begin ons Kersfeesfunksies! (amper
kry ek hartverlamming !! die tyd begin nou min raak!)
Sou daar nie vir jou tyd
wees om self ‘n geskenkie te gaan koop nie, is ‘n donasie meer as welkom.
Partykeer kry ons heelwat van dieselfde artikels in en het dan fondse nodig
om ‘n geskenkie “op te top” . Merk asb duidelik by verwysing “Kersfees
2006” dan weet ons waarvoor die donasie was.
Verder het ons dan ook
fondse nodig vir verversings tydens die funksies.
By die kindergroepe is
dit boereworsrolletjies en koeldrank vir die middagete - met snoeperye
daarna bv. aartappelskyfies, lekkergoed, koeldrank ens.
By Margaretha Ackemann
Ouetehuis het ons verversings vir ongveer 220 mense nodig. (Inwoners,
personeel en gaste) Koeksisters, hertzoggies, vleispasteitjies,
aartappelskyfies, springmielies, sagte lekkergoed soos marshmallows, klein
sjokolades, “cupcakes” ens. Tenminste 220 van elk!
By Bloudakkies was ons
so bevoorreg om ‘n maatskappy te hê wat alles borg! - Wat ‘n blessing!!
Ons het nou 10 dae tyd
om alles in te kry! (Miskien moet ek nie somme maak nie want die dae,
bedrae, en hoeveelhede is genoeg om enige een die ritteltids te gee!!)
Sal almal wat onderneem
het om self geskenke te koop dit asb voor die 6e November 2006 by my aflewer.
Hierna is dit voorraad neem, verpak en versprei! om alles gereed en reg te
kry vir die GROOT DAG!!
ALGMEEN
Onthou ook asb dat
tenspyte van al die Kersfees insamelings ons nog daagliks middagete vir
200 kinders moet gee, asook die 98 gesinne se noodkospakkies
elke Vrydag en
Dinsdae se middagete vir 160 bejaardes!! .Hiervoor het ons groot
hoeveelhede kos nodig asb, stapelvoedsel soos mieliemeel, rys, suiker, olie,
margarien, blikkies vleis en gemengde groente, pasta, soya, broodsmere ens.
Vars vleis is absoluut ‘n luukse en ‘n baie duur item elke week. By die
kinderbedienings moet ons tenminste by elke groep 17kg vleis gaarmaak elke
dag en by die ouetehuis vir 160 bejaardes is dit 30kg op ‘ slag! Vleis is
ons grootste enkele uitgawe.!! Enige kruideniersware is meer as welkom
en bitter nodig – groot asb!!
Intussen stry ons nog
die stryd teen die kwaadstokers in Danville en vir die behoud van die Andeon
projek. Onthou ons projek en al hierdie minderbevoorregte mense wat werklik
so swaar kry in julle gebede asb! Ons is nie bang nie want ons weet dat
ons in Ons Vader se hande is, en dat HY na sy kinders sal
omsien.
Ons weet ook dat daar
nie ‘n waarborg is dat dit elke dag maklik sal wees nie – maar wat ons wel
weet is dat ons moet sterk staan teen al die aanslae om die Projek te
ondermyn! ‘n Kleurlingvrou som dit verlede week so op “ Smaak my die
duiwel begin nou al overtime werk om soveel as moontlik misery te veroorsaak
so met Christmas nou om die draai!!!!”
Help my asb om sterk te
staan teen al die aanslae asb! Dit is nie elke dag maklik nie! Maar met
ons ondersteuners se volgehoue hulp kan ons almal saam ‘n groot verskil in ons
minderbevoorregte bejaardes en kinders se lewens maak.
‘n Geseende week vir
almal
Elsabe
Bankbesonderhede:
Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926
Aflewerings adres:-
286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za
PS Bel asb voor jy ry
Pasella #3 - Hierdie keer is 'n
paar CD's op die spel, maar dis nie sommer weggee nie, julle gaan werk
daarvoor. Ek wil weet watter dis verpersoonlik vir julle Tradisionele Suid
Afrikaanse Boerekos. Gee vir my die dis se naam
(en die resep as jy dit het) en sê ook hoekom dit nou
juis DIE dis is wat jy as Tradisioneel Suid Afrikaans beskou.
Klik hier om die
epos te stuur. Die CD's? Peterjasie se Groot Afrikaanse Rate en Resepte
Versameling. Ek stuur 'n CD aan persone (5) wat die beste bydraes
instuur wat ek ook sal publiseer |
.
Hierdie is een van die vele ou
resepte uit vergange se dae in Anna Eksteen se eBoek, Onthou jy nog..
OUTYDSE SPESERYKOEKIES
425g banketmeelblom
3ml sout
3ml koeksoda
5ml fyn kaneel
3ml fyn naeltjies
200g karamelbruinsuiker
125g botter
1 eier (geklits)
90ml sjerrie of port
5ml lemoenskil, gerasper
amandelsplinters vir versiering
Sif meel, sout, koeksoda, kaneel, naeltjies en suiker saam. Vryf botter in.
Voeg eier, sjerrie en skil by. Bedek deeg en laat ongeveer 1 uur lank staan.
Rol deeg uit tot 3mm-dikte. Druk ronde koekies uit,druk ‘n stukkie amandel
in die middel van elke koekie vas. Plaas op ‘n gesmeerde bakplaat. Bak
ongeveer 15 minute lank in voorverhitte oond by 200C.
Hoes:
1 Eetlepel kamferbrandewyn, 1
eetlepel water, 1 telepel rooi lafentel, 1 teelepel wonderkroon essens, 2
telepels parragora, 2 salares poeiers, 1 mespunt rooi poeier en suiker tot
dit 'n stroop vorm.
Boegoe, anys, hottentotskooigoed,
katte kruie, fan alles 'n wynig op water getrek en enige male per dag te
drink.
2 Lepels heuning, 1 lepel asyn
deurmakaar en 4 of 5 male per dag 'n telepel drink.
....of gaan sommer gou apteek toe -
Peter
Resepte uit Anna se Kombuis
Al Anna se resepte is in eBoek formaat en maak dus ideale
geskenke en word sommer met epos gestuur. Vir meer besonderhede,
klik hier |
Hierdie lyk na my soort slaai,
enigiets wat beide aartappels en boerewors bevat kan net lekker wees:
BOEREWORS AARTAPPELSLAAI
SLAAISOUS:
30ml wit wynasyn
125ml olyfolie
3ml swartpeper
1 knoffelhuisie fyngedruk
15ml Dijon mosterd
5ml suiker
SLAAI:
1kg baba-aartappels, met skil, gehalveer
15ml olyfolie
1 ui, dun gesny
1 rooi soetrissie, in repe gesny
500g gaar boerewors, in skyfies gesny
1 groot steel seldery, gekap
10 ml vars tiemie, gekap
50ml vars kerwel (chervil) gekap
Klits alles vir slaaisous saam tot goed gemeng. Kook baba aartappels tot net
sag en dreineer. Verhit intussien olie en braai uie en soetrissie tot sag.
Voeg worsstukkies en tiemie by en meng deur. Meng liggies met gaar
aartappels. Giet slaaisous oor terwyl steeds warm. Meng daarna die kerwel
deur. Bedien terwyl nog louwarm.
Ons maak deesdae nie meer 'n potjie
sonder om kluitjies ook daarmee saam te maak nie, hier is 'n resep uit nog
een van Anne se boeke:
KRUIEKLUITJIES
250ml bruismeel
5ml sout
10ml botter
15ml vars of 5ml droë gemengde kruie
1 eier geklits
60ml melk
Sif meel en sout saam. Vryf botter in tot mengsel soos broodkrummels lyk.
Voeg kruie by. Klits melk en eier saam. Meng liggies met meel. Skep lepels
vol bo-op vleis in pot. Moenie die deksel oplig vir ten minste 10-12 minute,
terwyl die kluitjies kook nie.
|
Pasella #4 -
Twee vir die prys van een. Resepte
is altyd welkom, en 'n CD met resepte en Boererate op is iets besonders
as 'n geskenk, en nou is juis die tyd om geskenke to koop. En as jy die
CD vir iemand wil stuur is die posgeld ook min. Ek gaan my Groot
Afrikaanse Rate en Resepte CD sowel as my eBook Recipe Collection
vir net R100 (R130 per Fastmail) beskikbaar stel. Die Groot Afrikaanse CD
bevat Boererate, Tradisionele SA Resepte sowel as Kampresepte en
Toebroodjieresepte. Die Engelse CD bevat SA Resepte in Engels en
Afrikaans sowel as nog 38 ander resepte eboeke. Makliker en goedkoper
geskenke as hierdie sal jy nie sommer kry nie.
Kontak my vir betalingsbesonderhede. Oorsese bestellings deur
Paypal. |
.
st
se pitkos
Klik hier
om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Glimlag en maak
‘n verskil
Die wêreld is ‘n doodernstige plek. Die koerante en televisieskerms
basiun elke dag die moord en roof, die ellende en grusaamheid van
gebeure in ons land uit. Mense gaan gebukkend onder moeilike
omstandighede, daar is hartseer en spanning in ons lewens en gesinne.
Maar jy kan ‘n verskil maak. Met humor en met ‘n glimlag.
Ek het eenkeer gelees van ‘n jong man wat nie meer wou lewe nie. Hy het
in sy motor geklim en gery na ‘n plek waar hy selfmoord wou pleeg. Op
pad na die plek moes hy by ‘n verkeerslig stilhou. ‘n Meisie hou langs
hom stil en toe hy in haar rigting kyk, glimlag sy vir hom. Skielik sien
hy dat die lewe nie regtig so sleg kan wees nie. Kyk, ‘n mooi meisie het
moeite gedoen om vir hom te glimlag. Hy kyk om hom rond, sien die blou
lug en die son wat helder skyn, die groen bome met bloeisels langs die
pad, die blomverkoper wat vrolik sy ware van die hand sit. En toe besef
hy die lewe is steeds die moeite werd ondanks die probleme waarmee hy
worstel.
Glimlag vir iemand en red ‘n lewe.
Ek het al so misrabel en ellendig gevoel dat ek skoon mislik was. Dan
het iemand gekom met ‘n stukkie humor en met ‘n positiewe lag my dag
opgebeur.
Die wêreld is ‘n doodernstige plek. Dis waar. Maar daar is nog altyd
plek vir humor. Want humor is teken van lewe en kreatiwiteit. Humor
verminder onverdraagsaamheid tussen mense. Gespanne situasies word
ontlont deur humor.
Hanteer jy alles egter met ‘n swaarmoedigheid, gekla en stuurse
uitdrukking moet jy verwag dis wat jy op die lang duur gaan terug
ontvang. Dis soos die lewe werk – dit wat jy gee, kry jy weer terug. Jy
maai wat jy saai.
Benader dus mense met ‘n blye gemoed en kyk of jy ‘n stukkie lag en
blydskap in hul lewe en dag kan sit. Wanneer jy dit doen, gaan jy soveel
meer terug ontvang.
Gebruik humor en jou glimlag om ‘n brug te bou tussen jou en jou
medemens. Jy kan ‘n groot verskil maak in ander se lewe. Dit kos niks om
te glimlag nie – doen dit!! Jy gaan met rente veel terug ontvang.
Wanneer jy iemand anders se dag beter maak deur jou glimlag en humor
gebeur daar iets. En daardie ietsie wat gebeur is ‘n kleine wonderwerk
in jou hart.
Probeer dit – dit werk!!
‘n Sprankie wysheid vir die dag
“Ek wens jou die nodige humor toe om dinge te kan relativeer. Met ‘n
bietjie humor kan jy onmoontlike dinge moontlik maak.” – Phil Bosmans
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
Soek jy plek om te gaan kampeer?
Klik dan hier!
Skooltake??
Klik hier
Vakansieverblyf is altyd
'n probleem, dié mense maak dit makliker om te kry,
klik net hier.
|
Pasella #5 -
In die teks op
hierdie bladsy is daar 'n versteekte skakel (jou muispunt sal
verander). As jy die skakel kry, regs klik daarop en laai vir jou
die eBoek 'Setting Goals' af. Nogal heel interessant! |
|
Teken in /Teken uit / Kontak |
Teken hier
in op die poslys en lees ook die argiewe.
Om uit te teken, stuur vir my 'n
epos
en dui jou naam aan asook die eposdres waaronder jy ingeteken is
Kontak my
hier.
Druk jou speld op my besoekerskaart!
|
|