|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare! Hier is ons weer aan die begin van 'n nuwe jaar! Ek wonder
wat die jaar vir ons gaan inhou, meer goeie nuus as slegte nuus, vertrou
ek ek.
Ek hoop ook vir veel minder misdaad sodat ons weer vir 'n slag veilig
kan voel, maar ek dink dis teveel om te verwag. Kom ons bly maar net
positief en hoop vir die beste. Ons praat weer aan die einde van
2007......
Ek het my
Afrikaanse webwerf
geskei van die Engelse
een en dit is nou onder sy eie domeinnaam
http://peterjasie.co.za .Hy lyk
ook nou effens anders met bladsye wat vinniger laai, so ek hoop julle
hou daarvan, gaan kyk gerus daar rond.
Jy kan ook nou
kommentaar lewer op die nuusbriewe, klik net hier en laat jou
boodskap
Valentynsdag is net om die draai, is
jy dalk op soek na romantiese idees om die dag iets besonders te maak
vir daardie spesiale persoon in jou lewe? Dan het ek net die ding vir
jou, regs klik hier
en laai die eBoek 101Romantic Ideas vir jou af. 'n Klein
pasellatjie van my af! (Jammer die boek is Engels!)
Weereens het ek lekkerlees
Afrikaanse artikels deur onder andere
Estelle de Bruyn en Annelie Botes, ek is seker julle sal dit geniet!
Dis gewoonlik 'n
gesukkel om geskenke te koop, ek het 'n paar idees wat jy dalk in sal
belangstel,
klik gerus hier om te gaan kyk. Daar is bv. 'n CD met 50
resepteboeke op (Engels)
Boeredans Kamp 12 –14
Januarie2007
Voortrekker Monument
Pretoria
R130 per persoon.
Is jy in Graad 5, 6, 7 of 8?? Kom beleef en geniet die Afrikaner kultuur.
Kom dans saam!!!!
Kom geniet ‘n naweek vol pret en plesier!
Inskrywingsvorms en verdere inligting: Hannetjie du Toit(admin) 084 652
80618061
Besef jy dat JY ons Afrikaner se danskultuurskat sal kan uitdra en laat
voortbestaan!!!
Kom ons skop oudergewoonte af met
Estelle se bydrae. Sy is verbonde aan die
Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië.
Kontak haar gerus, sy hoor graag van julle.
Syfer Sonde
’n KOP vir syfers het ek nou eenmaal nie. Eerder ’n kop vir letters,
maar dié raak ook maar deurmekaar.
Ek vermoed die syfersonde het daar iewers in standerd 7 begin met ’n kop
vol muisneste en ’n besonder mislike wiskunde meneer. Op die een of
ander manier het my brein se meganisme wat met syfers en somme te doen
het, gefuse, onklaar geraak en net loop staan.
Desondanks het my pa voet by stuk gehou: "My kind, ’n mens kom nêrens in
die wêreld sonder wiskunde nie, so wiskunde sal jy tot matriek vat." Met
die spreekwoordelike broekskeur het ek dit net-net gemaak, na die
matriek wiskunde meneer my byna in trane gesmeek het om nie voort te
gaan met Wiskunde op hoërgraad nie, maar eerder standaardgraad te
probeer. Dit ná ek met moeite ’n gemiddeld van tussen 17 en 22 persent
behaal het in die eerste twee termyne van Graad 12. As dit ook nie vir
’n administratiewe fout op die eindeksamen se Algebra vraestel was nie,
sou ek ook nie die E-simbool vir standaardgraad wiskunde op my
matrieksertifikaat gehad het nie. Soos die matriek wiskunde onnie verlig
gesug het: Met die genade van Bo en die wind van agter.
Met verjaarsdae, telefoonnommers en enige iets wat syfers bevat het ek
moeilikheid. As ek dit nie neerskryf en voor my sien nie, kan ek dit nie
onthou nie.
G’n wonder dat ek nou die dag in ’n storie heel onskuldig en onbedoel ’n
reuse blaps gemaak het en sommer die hele Nederlandse diplomatieke
teenwoordigheid wêreldwyd verklein het tot ’n skrale 36 missies nie. Die
vriendelike Nederlandse ambassdeur, mnr. Huub Hendrix, bel nou die dag
en verduidelik dat Nederland inderdaad meer as ’n 100 diplomatieke
missies wêreldwyd het, en dat dit net die ontwikkelingshulp is wat van
die 60 lande wat dit in die verlede ontvang het, dit afgeneem het na 37
lande. Ek het ook met die vlytige tik van my vingers op die sleutelbord
van my rekenaar vertel dat daar 300 000 Nederlandse paspoorthouers in
die kleine Knysna is, terwyl daar inderdaad net 300 is. Wat kan ek sê?
Jammer. Nulle en drie's en kwadrate en plustekens maak my deurmekaar,
krap my maag om en gee my hoofbrekings.
Ek bewonder mense wat flink en skerp met syferkunde is, wat na ’n tabel
syfers kan kyk en met die eerste oogopslag sê of die finansiële state
van ’n maatskappy goed of sleg lyk. Mense wat uit hul kop kan optel
hoeveel ’n restaurant rekening is en bereken hoe om die bedrag tussen
die groep te verdeel en boonop kan sien dat die kelner ’n fout gemaak
het deur vir die een Coke N$4.99 en vir die ander N$7.95 te vra.
Ek wil my vreeslik graag glad nie steur aan my syfer disleksie nie en
uitmaak asof ’n sakrekenaar ’n goeie substituut vir ’n regterbrein is.
Maar dit is nie so maklik nie.
’n Miljard en ’n biljoen en ’n galjoen en ’n gallon het hoeka amper
dieselfde betekenis vir my.
G’n wonder dan dat ek die Nederlanders so gepooitjie het met sy
statsistiese omvermoë nie of dat my begroting nooit wil klop nie.
Die hoofdoel van
hierdie brief is om soveel Afrikaans as moontlik op die internet te kry,
die volgende van Alwyn Nel wat in Aussie woonagtig is:
Perth –
mooiste, mooiste Perth.
Jy stap jou vinnige pas oudergewoonte en kyk die rustige mense wat hier
voor jou drentel verwyted aan. Die linker arm pomp op en af, gesig toe
en terug, want dis tyd wat saakmaak. Jy storm deur Haystreet Mall sonder
om links of regs te kyk, gretig om die minute te verdrink in die 'hustle
en bustle' van die stad. Afrika man met 'n missie.
Maar net soos jy amper op die drumpel tree van Barrack street slaan Big
Ben in London Court se hekke sy twaalf massiewe slae - ding dong ....en
jy kan nie help om saam met die skare in die wandellaan op te kyk nie.
En dis asof iets vir jou sê: vertoef 'n wyle. En dis wanneer jy die nar
op sy stelte sien met 'n silwer kostuum en massiewe engel vlerke wat die
verbygangers vermaak. En die musikant met sy saxofoon, en die kêrel met
die kortbroek en lang hare wat sy vingers laat dartel oor die snare van
sy boks kitaar.
Jy sien die ou man wat die juke box opwen en die marionet op sy toutjies
laat dans langs die ou tannie wat met haar ratelende blikkie geld
insamel vir die blindes. Jy sien hoe Hungry Jacks en Macdonalds se
drumpels deurgetrap word vir 'n vinnige ete wat sommer daar op die
sypaadjie verorber word. Die sambrele verdring mekaar om die 30 UV
faktor van die vel af weg te hou. Die geur van vars gebroude koffie in
die kroegies sypel lui-lui by jou verby in die wandellaan af, verby die
kêrel wat naarstiglik 'n paar jeans luidkeels halfprys adverteer op 'n
PA system wat beter dae geken het.
En jy wonder wat die haas is. Stop. Neem twee tree terug, haal die
horlosie van jou arm af. Verkyk jou aan die Sjinese toeris wat 'n
duisend foto's per minuut neem, en steeds nog tyd het om in 'n babelse
gebrabbel die vrou en kinders strategies te plaas voor die winkelpop met
die stoute klere aan in Barbarellas se venster.
Dan skielik voel jy die rustigheid van Perth. Jy kyk om jou heen en jy
wonder of die mense ooit gaan klaarkry waarmee hulle besig is. Want tyd
bestaan nie hier nie... 'tomorrow is another day. .'
Die stad koester teen die oewers van die Swan Rivier en skuil in die
omhelsing van Kings Park, ‘n lower groen park teen ‘n heuweltjie aan die
westekant van die stad.
As jy teen laat aand jou weg vind na Kings Park toe en rustig gaan sit
op een van die bankies, kan jy jouself regmaak vir een van die mees
asemrowendste panoramas wat hom ooit voor jou oog kon afspeel.
Die majestieuse Swan wat skielik die stad sien en dan sy bors uitstoot
om te pronk – die dun lopie wat in die hartland van Westelike Australië
begin, strek skielik sy oewers twee kilometers van mekaar af wat jou aan
‘n meer herinder, eerder as ‘n rivier. Terwyl die son op die westerkim
huiwer maak Perth hom gereed vir die skouspel. Hier en daar flikker ‘n
liggie aan en dan nog een en dan nog een, totdat die son maar bes gee en
gaan rus.
Die kraaie bêre hul treurig kerm-skree geluide, en die Fremantle dokter
waai die twee-en- veertig-grade van jou gesig af weg. En siedaar… ‘n
pragtige stad omhang met pêrel liggies verrys uit die donker. Die karre
se ligte op River Side Drive wissel mekaar af in ‘n kleurspel van wit en
rooi strepe, en geleidelik buig hulle ook die knieg voor die grote stad
en die stilte daal neer.
En daar sit jy… in totale verwondering. Die ferries drentel lui-lui van
oewer tot oewer, hul liggies oordadig geprojekteer op die water wat dit
skommel en rondgooi. En dis moeilik om te glo dat jy werklik daar is, en
dat dit nie als net ‘n feeverhaal is nie. En êrens in Northbridge skud
die naguile in die disko’s en kroeë hul vere reg , vasbeslote om te keer
dat die hartklop van Perth nie gaan staan nie…
Ek het op 16
Desember verlede jaar die Geloftedagdiens by die Voortrekkermonument
bygewoon. Ek was beindruk met die aantal mense wat teenwoordig was asook
die aantal jongmense wat daar was. Die wolke het egter net voor 12 uur
voor die son ingeskuif, maar ek kon darem 'n foto neem net voor die son
verdwyn het toe die sonstraal alreeds op die trappie was.
Klik hier om die
foto te sien of regs klik om dit af te laai. Ons het ons voorgeneem om
volgende jaar op Geloftedag die verrigtinge by die Bloedriviermonument
by te woon.
Hier is die gelofte soos dit op die
program verskyn het:
Gelofte
Hier staan ons
voor die Heilige God van hemel en aarde
om 'n gelofte aan Hom te doen dat
as Hy ons sal beskerm
en ons vyand in ons hand sal gee
ons die dag en datum elke jaar as 'n
dankdag soos 'n sabbat sal deurbring
en dat ons 'n huis tot Sy eer sal oprig
waar dit Hom behaag
en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat
hulle met ons daarin moet deel tot
nagadagtenis ook vir die opkomende geslagte
want die eer van Sy naam sal verheerlik word
deur die roem en die eer van die oorwinning
aan Hom te gee
|
|
|
|
Lag in die kerk
In die laaste weke was ek alte verdrietlikheid. Die gryse sê altyd ek
moet ophou om so omkyk-omkyk te leef. “Netnou pik die swart kraai jou oë uit.
Of jy verander in ‘n soutpilaar.”
Is waar. Telkemale dat hy my al uit die leeukuil opgehys het, of my deur die
Rooikappie-bos gelei het met sy piccolo. Anderaand gesels ons oor kontinente
heen oor die foon. Só vertel hy van die toutrekkery in die koerante oor
aanddienste. En net daar kom ‘n storie-visioen. Maar omdat dit hom styf teen
die vel raak, pleit ek sy konsent af om te skryf oor ‘n stoute aanddiens,
toentertyd op Bedford.
“Myta, jy skryf dit nié. Ek sweer, ek slaan jou kop gelyk met jou nek af.”
‘n Vrou is nou maar eenmaal ‘n gebore jakkals, want toe offer ek hom 500
pond vir gebruiksreg. Dis R5500. Hy swyg. En sy swye is so goed soos kontrak
maak.
Jare terug is ons gereeld aanddiens toe op Bedford. Laat ek eerlik wees: Van
alles rondom kerk toe gaan, is lag in die kerk seker die lekkerste. Ek weet
dis nie ‘n lagplek nie, maar daar is ‘n lag wat mens nêrens anders as in die
kerk kan lag nie.
‘n Gesukkelte in preektyd was die rooklus. Kwartpad kriewel ons. Kollektetyd
bewe ons. As die pater sy arms ophou vir die seën, is ons gesangeboeke
gestapel en skiet ons deur toe. Toe besluit ons om einde te kry met die
gekriewel. Die plan is om ‘n driekwartuur vroeg in die kerkjaart op te daag
en onder die jakarandas in die kar te sit en kettingrook. So gesê, so gedoen.
En dit werk uitstekend.
Terwyl ons een skemer in die kar sit en stook, lig ek my rok op. “Voel hier
…” Dit was die begin van ‘n katastrofe. Want ek was pantieloos. En die ou
gryse was in sy maanhaartyd toe sy enemel nog vir ‘n grap afgespring het. (Askies,
my broer daar van Oudtshoorn.)
‘n Vrou is wragtig ‘n jakkals. Hoekom ek nou juis kerktyd moes kies om my
listigheid te beoefen, is maklik te verklaar. Tydens ‘n kerkdiens is ek
oorveilig. Ek kan rok oplig soos ek wil, want my ou gryse móét hom intoom.
Nie vyf minute nie, toe sê hy ons moet huis toe gaan. Nee, sê ek, ons gaan
kerk toe. Nog vyf minute later vra hy of ons nie asseblief kan huis toe gaan
nie. Nee, sê ek, en skuif my rok oor my skene om hom tot bedaring te kry vir
die inloopslag.
Daar’s minnerig mense in die aanddiens. Die gryse stuur my by die agterbank
in, en soos die sonde dit wil hê, kom sit daar niemand anders in die bank
nie. Skaars het die predikant ingekom en die eerste voorsanglied opgegee, of
ek skuif my rok op. Watter man sal nou onaangeraak bly? En ek verlustig my
in my magsposisie teenoor ‘n weerlose man. Dán kruis en ontkruis die ou
gryse sy bene; vou sy hande oor sy skoot; probeer sy baadjiepante oormekaar
slaan. As hy effe wegskuif, skuif ek nader. As hy my rok afskuif, skuif ek
hom weer op. Halfpad deur die preek verloor die predikant sy draad en begin
stotter. Moes seker ‘n doring in sy vlees gewees het om die twee oorbesige
mense in die agterbank te aanskou.
Dis toe dat die gryse besluit: Tot hiertoe. Onheilig is onheilig, klaar. Hy
stamp my in die ribbes met die elmboog, en sis iets van ‘n stoornis en
stilsit. Toe druk hy sy palms op die bank en skuif met mening weg. In die
momentum van wegskuif, toe hy sy regterboud oplig om met die linkerboud oor
die verniste bank te gly, glip daar ‘n donderende wind uit. Dit skeer oor
die houtbank en galm deur die kerk.
Die predikant verstil en elke siel in die kerk kyk om. Synde
agterbanksitters, is daar vir ons nêrens om heen om te kyk nie. En ek begin
lag, onbedaarlik. Sodat ek nie asem kry nie, en ‘n agteruit hyggeluid maak.
Toe gryp die ou gryse die boekgoeters en storm uit; ek hygend-laggend
agterna.
“Vroumens,” sê hy toe ons by die kar kom, “dis die héél laaste maal dat jy
sonder ‘n pantie kerk toe kom. Hóór jy my?”
My ou grys manmaat na wie ek só hunker hier in England; saam met wie ek
soveel soetsuur herinneringe geoes het. Ek stuur sy 500 pond hierdie week.
Hopende dat my kop nie gelyk met my nek afgeslaan sal word nie.
Met elke uitgawe fokus ek op 'n
Afrikaanse webwerf. Ek hoop ons
lag almal meer in 2007! Gaan kyk gerus na
Griesel se Grapkas
Van julle sal nog onthou van die
lekkerlees artikels wat Minette Brink vir my aangestuur het. Wel, sy het al
die artikels in een eBoek saamgevat, meer as 70 van hulle. Hierdie is
Afrikaans op sy beste en lekkerste en die eBoek maak ook die ideale geskenk.
Die hele versameling artikels verkoop vir net R40,
klik hier vir betalingsbesonderhede. Die boek is onmiddelik beskikbaar
en word per epos gestuur.
Iemand wat in Melbourne woonagtig is
stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's
op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere.
Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik
toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle
self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons
Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek
SING JY VAN
BLOMME, "Lekker verjaar, ou maat"
Woorde: P. MCLACHLAN
Musiek: Anoniem
Sing jy van blomme of sing jy van geld?
Sing jy van blomme of sing jy van geld?
Nee, nee, nooit nie van geld!
Nee, nee, nooit nie van geld.
Lekker verjaar, ou maat, lekker verjaar.
Lekker verjaar, ou maat, lekker verjaar.
Jy moet lekker verjaar,
jy moet lekker verjaar.
Agterpad Reisnotas - versamel deur Braham van Zyl |
Ek luister mos
een Saterdagoggend na Amoré Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met
Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een
van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres
onderaan die artikel) Hy stuur 'n 'n gereelde nubrief uit.
‘N DUBBELLOOP KERSBLAKER op
Kanoneiland: Noord-Kaap
DIE storie van Tintel se Winkel en die kersblakers, wat nou so 'n tyd gelede
daar op Kanoneiland in die Oranjerivier afgespeel het, moet vandag vertel
word. Al klink dit miskien so, is hierdie geen feëverhaal nie. Dis eintlik
maar net so 'n paar reisaantekeninge waardeur die skrywer so ietsie oor
hierdie baie besondere eiland daar naby Upington in die Noord-Kaap wil
vertel.
Kanoneiland is een van vele eilande wat in daardie deel van die Oranjerivier
lê. Ek word vertel dat dit die grootste bewoonde eiland in 'n rivier in
Suid-Afrika is. Ry jy in die wintertyd - wanneer die rivier laag loop -
padlangs sal jy nie sommer die eilande raaksien nie. Dan lyk diit eintlik
maar net asof jy tussen 'n klomp landerye deur ry. Kom die rivier egter die
slag af, is dit 'n heel ander saak. Dan werk al wat 'n hand is oortyd om die
keerwalle wat om die eilande is, gepak te kry sodat die inwoners teen die
aanstormende watermassa beskerm kan word.
Dit is ook interessant om te sien hoe die woongebiede op die hoër gedeeltes
van die eilande staan. Dis so 'n soort van boere-dorpie model wat jy daar
sien. Weens die vloedgevaar moet hulle almal op 'n hoop op die paar hoë
kolletjies wat daar is, gaan saamwoon. Kanoneiland se huise, kerk, skool en
Tintel se Winkel staan op een van daardie hoogtes.
Ek het gedurende Julie een agtermiddag met 'n klompie toeriste daar aangery,
want ek wou graag vir hulle gaan wys hoe 'n rêrige outydse plaaswinkel lyk.
Dis nou daardie soort waar jy nog hierdie kant van die houttoonbank staan en
jou winkellysie vir die een aan die ander kant van die toonbank gee. Dié
haal dan alles van die rakke - wat van die vloer tot teen die dak strek - af,
pak dit in 'n boks, skryf die pryse van jou items op jou lysie in, tel dit
op en laat jou dan betaal. Eers daarna word die persoon wat na jou die
winkel ingekom het, gehelp.
Die Tintel waarna die winkel vernoem is, is Tintel van den Heever. Sy staan
self nog agter die toonbank, maar sy sê sy dink darem al aan aftree. Toe ons
die dag daar instap, het die vroue so een en ander gekoop. Eintlik het dit
maar meer om die kyk gegaan, soos dit mos gewoonlik met vrouens in 'n winkel
gaan. Skielik vra een of Tintel dan nie gewone outydse kersblakers het nie.
"Ja", sê sy en begin rondsoek tussen alles wat daar rond staan en hang.
Toe sy uiteindelik onder 'n rolle materiaal, wat bo-op die vertoonkas lê,
uitbuk, staan sy met 'n knalrooi dubbelloop blaker vir twee kerse in haar
hand. Iets soos 'n kanonskoot het skielik die winkel getref. Almal, ek
inkluis, het op haar afgestorm, want dié besondere blaker wou ons hê. Só kom
dit toe dat 'n stuk of vyf van ons dié dag trots elk met 'n baie besondere
blaker daar van Kanoneiland af wegry.
Dit was egter nie die einde van die middag se kopery nie, want Tintel se
dogter, Maryna, vertel ons toe dat ons net oorkant die rivier teen die
heuwel van die Oranjerivier-streek se wyne kan gaan koop. Na heelwat proe is
die waentjie nog swaarder gelaai. Bolanders wat gedink het net hulle streek
kan goeie wyne oplewer, moet gerus by een van die Oranjerivier se vyf
kelders gaan aanry. Die ouens daar vertel dat hulle saam 'n parskapasiteit
van sowat 110 000 ton het. Dis ook geen wonder nie, want meer as 10% van
Suid-Afrika se wingerde word langs die Oranjerivier aangetref.
Net toe ek dag ek kon ry, sê die vrouens hulle wil nog by die vrugtepakstoor
langsaan ook aanry. 'n Vriendelike assistent sluit oop en daar laai ons toe
'n hele 20 kg se dadels wat by Klein-Pella verbou word, ook in. Genadiglik
het die son toe begin sak, want was daar meer tyd sou ek 'n lorrie moes huur
om ons aankope in die Kaap te kry.
Dat daar nog baie op Kanoneiland te sien en te beluister is, is seker.
Volgende winter gaan ek terug daarheen. Ek sal graag wil gaan verneem wat
die Kanoneilanders sê waar hulle plek se naam vandaan kom en ek sal graag
wil hê dat hulle my moet vertel hoe dit dan gekom het dat al daardie
pragtige wingerde en landerye wat vandag daar is daar tot staan gekom het.
Dis egter 'n storie vir volgende jaar.
Skryf vir Braham
en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings
direk van hom af!
e-pos : info@explore-sa.com
Luister elke Saterdagoggend
net na die agtuur nuus op die Afrikaanse radiodiens van RSG na Braham
van Zyl en Amoré Bekker se agterpad geselsies op die program Brêkvis
met Bekker.
Twee manne sit in die kroeg. Nommer
1: 'Ek haat dit om huis toe te gaan. Elke aand dieselfde smaaklose kos
uit die vrieskas, ek moet self die skottelgoed was, met die hond gaan
stap, en dan alleen bed toe gaan!' Nommer 2: 'Hoekom soek jy nie vir jou
'n oulike meisie, en TROU nie?' Nommer 1: 'Ek IS getroud!!'
Mike en sy vrou besef hulle moet bykom in die nuwe Suid-Afrika en
besluit om 'n swart babatjie aan te neem. Nie lank nie, toe laat weet
die sosiale werkster dat daar 'n pasgebore babatjie beskikbaar is, en
hulle hom maar kan kom haal. Hulle maak so, en op pad huis toe hou hulle
met baba en al stil by die tegniese kollege, en skryf in vir 'n
Zulukursus. 'Want,' sê Mike, 'dis net 'n jaar dan begin die mannetjie
praat...'
'n Sielkundige gaan met vakansie en reël 'n student wat pas klaar gemaak
het om sy groepterapie te behartig terwyl hy weg is want hy wil nie hê
dat die groep 'n té lang onderbreking in hul sessies moet hê nie. Die
student is bietjie bekommerd dat hy aan die diep kant ingegooi word,
maar die praktisyn verseker hom dat dit 'n heel normale groep is en dat
al wat hy basies hoef te doen, is om hulle maar net aan die praat te kry
en dan gesels hulle normaalweg lekker. So gesê so gedaan. Op die datum
en tyd van die volgende groepsessie is die pas-afgestudeerde toe ook
aangenaam verras met die wyse waarop die groep moeite doen om hom te
laat tuis voel. Nadat die preliminaries afgehandel is, vra hy wie in die
groep eerste iets wil sê. 'Ek sal begin,' sê een van hulle. 'Goed, wat
wil jy vandag met ons deel?' 'Ek is Nelson Mandela,' sê die man. Die
plaasvervangersielkundige is ietwat uit die veld geslaan. Die praktisyn
het dan gesê dat dit 'n normale groep is ... 'E-eh ... hoe lank voel jy
nou al so?' 'So twee weke ... en ek vóél nie net so nie, ek ís Nelson
Mandela!' 'Eh ... ja, goed ... eh ... vertel ons 'n bietjie meer?' 'Wel,
ek moet nou aangaan waar ek opgehou het. Ek was lank in die tronk, maar
het die ANC tot 'n demokratiese oorwinning gelei.... ' O ... en ... eh
... hoe het jy tot hierdie insigte gekom ... eh ... dat jy Mandela is,
ensovoorts? 'Osama Bin Laden het dit vir my gesê.' Waarop een van die
ander lede van die groep onderbreek en sê: 'Nee, ek het nie!' |
|
|
Ek is
betrokke by hierdie inisiatief van Elsabé, kyk tog asseblief of julle nie
ook 'n bydrae kan maak nie, besoek ook hulle
webwerf.
Bankbesonderhede:
Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926
Aflewerings adres:-
286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za
PS Bel asb voor jy ry
.
Iemand stuur vir my 'n Word dokument wat 'n klomp tertresepte bevat, geen
aanduiding van wie die samesteller is nie, maar ek deel 'n paar van die
resepte hier:
KAAS EN HAMTERT
30 ml botter
30 ml koekmeel
10 ml gegeurde seesout
'n knippie rooipeper
5 ml droë mosterd
375 ml karringmelk
250 g ham, of weense worsies in dun repies
250 ml cheddar kaas, grof gerasper
30 ml fyn gekapte pietersielie
3 eiers, geklits
pasteideeg
Bak die pasteideeg 10 minute sonder vulsel by 220 C. Verhit die oond tot 180
C. Meng die botter, meel, sout, rooipeper en mosterd oor lae hitte. Roer die
karringmelk by en meng glad. Roer en kook 2 minute, verwyder van die hitte.
Laat effens afkoel. Roer die ander bestanddele by. Skep die vulsel in die
vooraf gebakte pasteikors. Bak 45 minute tot mooi bruin en pofferig.
KORSLOSE KAASTERT
15ml botter of margarien
6 eiers, geklits
125ml gerasperde Cheddarkaas
2 tamaties, geskil en grof gekap
5ml sout
1ml varsgemaalde swartpeper
12.5ml vars gekapte pietersielie
1 spekvleisrepie, swoerd verwyder & gekap
Voorverhit die oond tot 180C. Verhit die botter of margarien in ‘n
swaarboombraaipan. Meng die res van die bestanddele en voeg dit by die
gesmelte botter of margarien. Meng alles goed saam. Gooi die mengsel uit in
‘n goed gesmeerde oondskottel en bak dit 35-40 minute lank op die middelste
oondrak totdat dit ferm is.
SNOEKTERT
500g gerookte snoek
2 groot uie, in dun ringe gesny
45ml botter of margarien
125g Cheddarkaas gerasper
6 meduim aartappels, gekook, geskil, in skywe
sout en varsgemaalde swartpeper
1 groot tamatie, in skywe gesny
375ml room of dun witsous
15ml gerasperde Parmesaan of Cheddarkaas
125ml vars broodkrummels
klein bietjie botter of margarien.
Verwyder vel en grate en vlok die vis. Braai uie in botter of margarien tot
sag. Plaas ‘n laag aartappels in ‘n gesmeerde oondskottel, voeg ‘n paar
uieringe by en skep ‘n bietjie vis daarop. Strooi kaas bo-oor. Geur met sout,
indien nodig, en ‘n goeie skoot gemaalde peper. Herhaal lae en eiendig met
aartappels. Rangskik tamatieskywe bo-op. Giet room of witsous oor en werk
dit met ‘n kleinerige lepel deur tot op boom van skottel. Meng res van kaas
en broodkrummels, strooi bo-oor en stip met botter of margarien. Bak
ongeveer 35 minute lank by 180C of tot goed warm en goudkleurig.
BOELIEBIEF-SOUTTERT
3 snye witbrood, korsies verwyder
375ml melk
1x300g boeliebief
1 ui, gekap
15ml olie
250ml gerasperde kaas
3 ekstra groot eiers, geklits
Voorverhit oond tot 190C en smeer ‘n medium tertbord met botter of bespuit
met Spray & Cook. Meng al die bestanddele en keer uit in tertbord. Bak vir
30-45 minute tot goudbruin en gestol. Bedien met ‘n slaai.
EIER SOUTTERT
4 tamaties geskil, en in dik skywe gesny
1 ui, fyn gekap
25ml vars pietersielie, fyn gekap
6 hard gekookte eiers, afgedop, in skywe gesny
50ml droë broodkrummels
12.5ml botter of margarien
6 eiers, geklits
5ml sout
1ml varsgemaalde swartpeper
250ml room
100ml bier
1ml rooipeper (opsioneel)
Voorverhit die oond tot 180C. Rangskik die tamatieskywe op die boom van ‘n
goed gesmeerde oondskottel. Strooi die ui en pietersielie oor die
tamatieskywe en rangskik die eierskywe bo-op. Strooi die broodkrummels oor
die eierskywe en stip dit met die botter of margarien. Klits die res van die
bestanddele saam en gooi dit versigtig oor die inhoud van die oondskottel.
Bak dit 45-50 minute lank op die middelste oondrak totdat dit ferm is.
Bedien dit warm met ‘n mengelslaai.
SPEK EN TAMATIE TERT
250ml koekmeelblom
250ml gerasperde kaas
5ml bakpoeier
5ml mosterdpoeier
knypie rissiepoeier
120g harde botter/margarien, gerasper
2 eiers, geklits
250ml melk
2 spekrepe, gekap
2 tamaties, sap en pitte uitgedruk
suurdeegekstrak (Marmite)
Meng meel, helfte van kaas, bakpoeier, mosterdpoeier, mosterdpoeier en
rissiepeper. Voeg gerasperde botter of margarien by. Meng eiers en melk en
voeg by. Roer met ‘n mes. (Die beslag sal sag en klonterig wees) Skep in ‘n
tertbord en bak vir 10 minute lank by 180C. Verlaag temperatuur tot 160C en
bak nog 10 minute lank. Braai intussen die spek totdat die vet begin
uitbraai, voeg tamatie by en roerbraai tot effens verlep. Smeer ‘n bietjie
Marmite oor warm tertkors en skep tamatie, spek en res van kaas daarop.
Plaas 5 minute lank terug in oond of onder die oondrooster om kaas te smelt.
Sit warm voor.
Flige gif: 1
ons peper, 1 ons quassia (by 'n Apotheek te kry), 2 ons suiker, maak in fyn
poeier alles tesame en strooi.
Fer kakkerlak en
krikkiis: 1 ons Borax, 1 ons kalk, 2 ons koorn meel, ¼ lb suiker, maak
an en sit neer.
Fer weluise:
Strooi di onderste matras met 'n lepel vol chloride of lime, maak di
bed dadelik op.
Mire weg te maak:
Gooi kalk in hulle nes en dan dadelik kokende water daarin of parafiin
ingooi is oek goed. Gekookte tabakwater is ook goed.
Resepte uit Anna se Kombuis
Al Anna se resepte is in eBoek formaat en maak dus ideale
geskenke en word sommer met epos gestuur. Vir meer besonderhede,
klik hier |
Die resep hieronder kom uit Anna se
eBoek - Pa se boek. Skaf dit gerus aan!
Ek is nie juis 'n ou vir afval nie
maar daar is diegene wat hulle agtertande sal ruil daarvoor, hierdie is net
vir julle!
SKAAP-AFVALPOTJIE
2 klompe skaappens (goed skoongeskraap)
water om in te kook
250ml halfsoet wit wyn
sap van ½ suurlemoen
sout en varsgemaalde swartpeper
1 skaapnek
6 groot uie (gekap)
12 klein aartappeltjies
25 ml matige sterk kerriepoeier
2ml rissiepoeier
10ml donkerbruin suiker
asyn om mee aan te maak
250 g droëperskes
3 tamaties, ontvel en gekap
30ml tamatiepasta
Spoel pense goed af onder lopende koue water. Sny pense in blokkies en plaas
in driepootpot saam met water, wyn, suurlemoensap, sout, peper en skaapnek.
Sit deksel op, plaas pot oor matig warm kole en laat kook tot inhoud sag is-ongeveer
3-4 uur. Wanneer pensblokkies sag is en vleis van nekwerwels afval, verwyder
nekwerwels, en bene van skaapnek. Voeg uie, tamaties, en aartappels by
inhoud en stowe vir nog 30 minute lank. Maak kerriepoeier, rissiepoeier,
tamatiepasta en suiker met asyn aan en voeg saam met perskes by inhoud van
pot. Sit deksel op en plaas weer op vuur vir 30 minute. Roer een keer goed
om en dien op.
st
se pitkos
Klik hier
om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Hoe om vriende
te maak
Dis interessant (maar tog ook ontstellend) om in my praktyk te luister
hoe mense dit soms moeilik vind om vriendskappe te vorm en nuwe
verhoudinge te begin. En mense het dikwels ‘n groot probleem met hierdie
aspek van hulle lewe.
Hierdie tyd van die jaar aksentueer dikwels ‘n mens se alleenwees en
eensaamheid – dis ‘n tyd van feesvieringe en jolyt. In jou hart voel jy
egter ‘n verlatenheid, want jy het ook behoefte aan sosiale interaksie,
behoefte erkenning en waardering, en by iemand wees wat vir jou omgee en
liefhet.
Ek bespreek kortliks enkele praktiese wenke vir die vestiging van nuwe
verhoudinge:
1. Wees beskikbaar. Jy gaan nie mense ontmoet en nuwe vriende maak
wanneer jy wegkruip en jou woonstel of huis nie. Jy moet opstaan en
wegkom voor die televisie en dinge daar buite gaan doen.
2. Sluit aan by ‘n vereniging of klub, want so gaan jy mense ontmoet en
inskakel. Dis ‘n lekker gemaklike manier om op ‘n meer iewat formele
wyse nuwe vriende te maak.
3. Jy kan egter ook vriende maak op enige ander plek. Die vrou in die
boekwinkel het ‘n mooi handsak en jy komplimenteer haar en sê: “Maar dis
nou ‘n pragtige sak, waar het jy dit gekoop?” Sy glimlag en sê vir jou
dankie – dit was die aanknopingspunt. Dan sê jy iets waarmee julle
saamstem – julle staan voor ‘n sekere afdeling in die boekwinkel: “Ek
sien jy hou ook van reis – ek dink dit verbreed ‘n mens ‘n visie baie
deur ander plekke in die wêreld te besoek.” Natuurlik gaan sy saamstem
en siedaar, jy het ‘n kontak tussen jou en ‘n ander mens gemaak. Dis ‘n
tegniek wat goeie verkoopsmanne toepas om dadelik met ‘n vreemdeling
kontak te maak en ‘n verhouding te skep.
4. Ontdek iets in iemand waarvan jy hou en bespreek dinge waaroor julle
saamstem. So vorm jy ‘n nuwe vriendskap. Moenie dadelik in argumente en
redenasies verval nie. Gaan oefen dit – begin gesels met ‘n vreemdeling
– miskien ‘n tiener wat soos punk lyk met tatoes en ringe deur die neus,
wange en tong. Vind iets waarvan jy hou in die tiener en vind ‘n
gemeenskaplike iets waaroor julle saamstem en kyk wat gebeur.
5. Wanneer jy vriende wil wen, leer om te gee. Ons wil so graag ontvang,
maar dis eers wanneer jy gee dat jy die grootste vriende sal maak. Gee
van jou tyd, energie en positiwiteit aan mense, probeer vir hulle iets
beteken, doen iets spesiaals vir hulle en dan sal hulle jou vriende
word. Deur te gee gaan jy veel meer terug ontvang.
6. Moenie met ‘n negatiewe houding loop en kla oor alles nie. Mense vind
makliker aanklank by iemand wat positief is, lekker lag en gesels en met
‘n optimistiese geaardheid die lewe aanpak.
7. Leer om te kommunikeer – veral as jy ‘n introvert is. Dis soveel
makliker en veiliger om in jou dop te kruip, maar dis eers wanneer jy
uit jou gemaksone klim dat jy regtig nuwe mense ontmoet en vriende maak.
Leer ontspan wanneer jy tussen vreemdelinge / ander mense is en gebruik
‘n geleentheid soos ‘n funksie om ‘n geselsie met ‘n vreemdeling aan te
knoop. Soos die gesegde lui (as ek dit nou reg onthou) ‘n vreemdeling is
maar net ‘n vriend wat jy nog nie ontmoet het nie.
Die vermoë om verhoudinge te vestig, om ‘n band tussen jou en ‘n ander
persoon te vorm en te behou, is essensieël ook in jou beroep. Wanneer jy
aandag aan hierdie vermoë gee - dit ontwikkel en verbeter – skep jy vir
jouself geleentheid tot verdere groei as mens en open jy deure vir nuwe
geleenthede.
Ek wens jou ‘n heerlike feestyd toe, hoop jy het ‘n wonderlike tyd saam
met familie en vriende en onthou gryp die geleentheid aan om ook nuwe
vriende te maak.
‘n Sprankie wysheid vir die dag
“Vriendskap en liefde beteken die vermeerdering van lewe, dit maak van
jou meer as ‘n mens, dit verhef jou bo jouself.” - TJ van Bavel
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
Soek jy plek om te gaan kampeer?
Klik dan hier!
Skooltake??
Klik hier
Vakansieverblyf is altyd
'n probleem, dié mense maak dit makliker om te kry,
klik net hier.
Teken in /Teken uit / Kontak |
Teken hier
in op die poslys en lees ook die argiewe.
Om uit te teken, stuur vir my 'n
epos
en dui jou naam aan asook die eposdres waaronder jy ingeteken is
Kontak my
hier.
Druk jou speld op my besoekerskaart!
|
|