|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare!
Kry jou Droomkaartjie! Die UK Lotto betaal nooit minder as 3 miljoen pond uit nie
(en gereeld veel meer!), kan jy dit bekostig om NIE 'n kaartjie te kry nie? Dis maklik en veilig! Klik hier!
Dozi tree op
Valentynsaand (14 Februarie) by die Albertonse Burgersentrum op.
Kaartjies by Computicket beskikbaar. Kom ondersteun die geleentheid
asseblief as julle in die omgewing is. Dis fondsinsameling vir ons kerk.
Weereens het ek lekkerlees
Afrikaanse artikels deur onder andere
Estelle de Bruyn en Annelie Botes, ek is seker julle sal dit geniet!
Mara Swanepoel lewer ook weer 'n
welkome bydrae.
Verder ondertoe
is 'n paar lekker potjieresepte, gaan kyk gerus.....
Is dit my
verbeelding of word die aantal advertensies op TV net al hoe meer
(irriterend)?
Binnelanders is nou net 'n halfuur lank maar in daardie halfuur was daar
nou die aand nie minder as 14 advertensies nie, twee keer sewe
na mekaar! Die ergste van almal is egter Noot vir Noot. Ek tel gistraand
dat gedurende die eerste 33 minute van die program hulle nie minder as
32 advertensies vertoon het nie. (Eenkeer net mooi nege na mekaar!) Hulle moet seker
'n klein fortuintjie maak uit die SMS-kompetisies en dan nog ABSA se
borgskap ook. Hoekom die stringe advertensies? Johan Stemmett moet alles
aframmel om die program EN die advertensies in een uur in te pas! Lyk my
die mense word nou geldgierig. Ek dink party mense maak staat op die
populariteit van die program on hulle beursies vet te voer!
My bewondering
vir Steve groei by die dag. Hoe hy alles kan doen wat hy doen nie weet
ek nie. Nie net is hy 'n sanger en liedjieskrywer van formaat nie, hy
het ook 'n passie vir Afrikaans asook vir reg en geregtigheid. As iets
na aan sy hart is, sit hy sy volle gewig by om iets aan die saak te doen.
Ek is betrokke by die Danville Hulpgroep en Steve daag eendag daar met
'n limo op en vat die kinders vir 'n "spin". Wel gedaan, Steve,
hopelik kan ek jou eendag persoonlik ontmoet!
Klik hier
om Steve se Blog te gaan besoek
Dis gewoonlik 'n
gesukkel om geskenke te koop, ek het 'n paar idees wat jy dalk in sal
belangstel,
klik gerus hier om te gaan kyk. Daar is bv. 'n CD met 50
resepteboeke op (Engels), jy hoef nooit weer 'n
respteboek te koop nie! Ek het nou ook 'n eBoek oor kruie (in Engels,
het nog nie tyd gehad om dit te vertaal nie) vir net R50.
Klik hier vir betalingsbesonderhede.
Kom ons skop oudergewoonte af met
Estelle se bydrae. Sy is verbonde aan die
Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië.
Kontak haar gerus, sy hoor graag van julle.
VREESLIKE GEGROET
VANDAG wil ek graag ’n lessie vir die politici en sommer almal wat
amptelike funksies toespreek leer.
Met die afgelope begrafnis van die ontslape oud-Speaker, dr. Mosé
Tjitendero, het die verskynsel van die vreeslike uitgerekte groetery,
opnuut my nekhare laat regop staan. Toegegee, dis beslis goeie maniere
om ’n iedere en elke hoogwaardigheidsbekleër wat sulke geleenthede
bywoon, dag te sê, maar as elke spreker dit doen, kan die spulletjie
nogal temerig raak.
Die groetery met die begin van elke toespraak en huldeblyk het min of
meer só gegaan: "Die seremoniemeester; die weduwee, sy edelagbare die
President, sy edelagbare die stigterspresident, die hoog agbare Eerste
Minister, die agbare Adjunk Eerste Minister, die agbare Speaker van die
Nasionale Vergadering, die agbare Voorsitter van die Nasionale Raad, sy
edele die hoofregter, agbare Ministers, agbare lede van die Nasionale
Vergadering, agbare lede van die Nasionale Raad, ekselensies en lede van
die diplomatieke korps, die besoekende adjunkvoorsitter van die
Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se Parlementêre Forum, die
agbare adjunk speaker van die Zambiese Parlement, die agbare adjunk
speaker van die Suid-Afrikaanse parlement, raadslede van streek en
plaaslike owerhede, kerklikes en gemeenskapsleiers, familie van die
ontslapene, mede roubeklaers, dames en here."
En dit is ’n opsomming. Onthou dat die name van die
hoogwaardigheidsbekleërs ook nog genoem word. Ek daag die leser uit om
met ’n horlosie te sit en te kyk hoe lank dit neem om deur die hallo-sêery
te kom.
Na dié vreeslike groetery kan die spreker eers met sy toespraak begin en
is die arme gehoor al stokflou geluister.
Sommige sprekers gaan selfs verder en groet boonop ’n ieder en elke
hooggeplaaste se gade met die titels en die naam.
Een van my kollegas in die media het beraam dat die tyd wat die
herhaaldelike groetery in beslag geneem het, die program met bykans ’n
uur verleng het.
By amptelike geleenthede waar meer as een spreker aan die woord moet
wees, kan dié oor en oor groetery en erkenning gee aan die
teenwoordigheid van hooggeplaastes, nogal die effek van met jou naels op
’n swartbord krap afgee. Wat, wil ek weet van die gewone mense wat ook
gekom het om te luister. Is hulle bloot in die kategorie "dames en here"
ingeprop? As ons dan nou so polities korrek wil wees, moet hulle nie ook
by die naam uitgesonder word nie?
Sal dit nie meer sin maak om almal een keer aan die begin van die
verrigtinge behoorlik te groet en vir elke spreker daarna om bloot te sê:
Geagte familie van die ontslapene óf dan net die heel belangrikste gas
by die geleentheid uit te sonder en te sê "alle ander protokol in ag
geneem" en aan te gaan met die huldeblyk of toespraak nie?
Kom nou, ons Namibiërs is respekvolle mense wat eer en agting betoon
soos verwag, maar ons is ook ’n informele en ontspanne nasie wat
sekerlik ’n plan kan maak om die herhalings uit te skakel.
As ’n mens een keer gegroet en erken is, is jy mos gegroet en erken.
Toe, asseblief, maak ’n plan.
Hierdie stukkie
is opgedra aan die Florida meer, daar waar ek ure spandeer het – toe dit
nog veilig was.
Vreugde van die treurwilger
Onthou jy nog die dae van so lank gelede. Ons was jonk en sorgvry.
Ons het ure spandeer by die Florida meer. Ons het selfs vir ons een van
die treurwilgers gebrandmerk as ons eie stukkie hemel op aarde.
Onthou jy hoe het ons sorgvry onder die boom kon sit as die son te warm
was, hoe ons saans onder die boom na die maan en sterre gestaar het.
Hoeveel ure het ons nie hier deurgebring nie. Ure so sorgvry en sonder
kommer, ure van net ek en jy, en jy en ek.
Dis ook hier waar ek kon studeer, vir my matriekeksamen en later op
universiteit. My eie plekkie waar ek altyd welkom was. Ek het selfs na
die matriekeksamen saam my vriende in die meer ingespring waar ons ons
skoolklere uitgetrek het en net so ter water gelaat het.
Dit was heerlike dae, dae wat my gefassineer het. Dae waarin ek geleef
het. 'n Blink toekoms wat vir my gewink het.
Dis ook hier by die treurwilger waar ek my hart kom uitstort het. Ek het
selfs die blydskap van my eerste swangerskap hier kom vier. Hier in die
stilte.
Dis ook hier waar ek my Skepper volkome gevind het. Hier waar Hy altyd
teenwoordig was en waar ek Hom kon aanroep in tye van nood, en kon dank
en eer in tye van vreugde.
Ek het my soms ure gekommer oor waar die woord “treurwilger” vandaan kom.
En ek besef vandag dat vir elke traan wat ek al onder die ou ruwe stam
gestort het, het die ou wilger 'n duisend gestort. En met trots die
vreugde van my trane gebaar.
Dis die vreugde van ons ou treurwilger. En my liefste wilger – vir jou
behoud sal ek veg.
©Mara 2006
Mara se
Blog
|
|
|
Ik zal daar zijn
Die Donderdag voor Paasnaweek het ek die dakkamer by die Van der Gaags
in Arnhem betrek. Anderland was bruidmooi in haar lentesluier. Alles so
georden, wetsgehoorsaam, vreesloos. Rustig. Boere wat koeie aanjaag.
Kinderen en bejaardes op fietse. Nêrens ‘n papier, bedelaar of diefwering
nie. By die wynhuis staan die specials oornag uitgepak in ‘n
sypaadjie-vaatjie vol ranonkels. Die Van der Gaags verseker my die
wynhuisman doen dit al jare lank só, en niemand steel die wyn nie. Vir my is
dit onverstaanbaar.
Al beskikbare vlug was ‘n week voor ek by ‘n outisme-simposium moes wees
waar Raadselkind bekendgestel sou word. In my losloopweek, wyl die huismense
om den brode arbei, bewandel ek Arnhem, geserp in my tjalie van my Hindoe-ma.
Dwaal in die berkebos neffens die stad en sien tantes rus vroualleen op
bankies in die bos. Handsak argeloos eenkant neergesit. Vreemd, vir my.
Ek was maagwerkbang vir die simposium. Wat kon ek, Kammanassiekind, aan 500
geleerdes sê? My toespraak moes in eenvoudige Engels wees, só is gevra. Maar
danksy die Boekkoois van die Baai is dit in Hollands vertaal en die
uitsprake ingedril. Om met die geleerdes in hulle moedertaal te praat, was
ál bidsaad in my saaisak.
Paas-Saterdag vra Rutger of ek die Paasdiens met hulle wil bywoon. Ja, al
sal ek min van die Hollandse preek verstaan. Ek sal die orrel en
brandskilderwerk indrink. Peins oor weleer toe my geloof nog Grootfontein-eg
was. Bid vir die kinders by Buffalo Bills. Vra dat die Here sag sal omgaan
met ons floiingrige land. Ons floiingland met Hom ook. Dankie sê dat Hy in
sy Groot Begrip my common prost oorgesien en my kalkoenkampie gehuldig het.
Daar ken ek toe elke gesangwysie en verstaan elke woord van die Paaspreek.
Oor Moses wat by die Rooisee gehalt het en die moeë Isrealiete moes deurkry.
Hoedat God gesê het hy moet met sy staf op die water slaan; daar sal ‘n droë
pad oopgaan. Moses het gekibbel, want, in alle respekte, dit moes laf gelyk
het. Maar God het hom verseker: Ik zal daar zijn …
En daar in die Paaskerk glip my trane uit. Oor Tattie sonder ma. Treursiele
wat by Van Stadensbrug oorgegee het. Die bejaarde mama wat verkrag is, en
toe sny die vark haar tong af en grou haar oë uit. Moses wat nooit die
Beloofde Land gesien het nie. Oor die 6de van die 6de maand. Ver reise op
soek na ‘n tiemiebossie in die molm van die rivierwilg. Ons almal se kinders
wat vra: Wat beteken jou vlag dan Suid-Afrika?
Sodat ek van my skamele 120 euro’s ‘n volle 20 in die kollektesakkie gesit
het. En in my dakkamertjie stuk-stuk my toespraak in maklike Afrikaans
oorgeskryf het. Want of die gangers Christene was, of nie, wou ek dat hulle,
terwyl hulle deur die woestynland van outisme trek, sal vashou aan die
Paasvers: Ik zal daar zijn …
Toe, Vrydag voor middagete, kom die uur van angst. Die gangers is rusteloos,
oorlade van ‘n oggend vol ingewikkelde vakterme. Ek sal moet práát om hulle
vas te hou. Terwyl ek podium toe loop, wens ek my pa en ma kon hulle
Bybelhoenderkind sien. Sommer omdat alle ouers vir hulle kinders se onthalwe
droom.
Die Landman van die saai-akker het my tong gerig, want my Hollands het
gevloei. Voor my het die skare verstil. En ek het geweet dat mens soms net
een maal in ‘n leeftyd ‘n Mosesstaf in die hand gegee word. Of dit anderland,
floiingland of niemandsland is, traak nie. As dit slaantyd is, moet jy in
blinde geloof slaan. Die droë pad sál oopgaan.
Ek het die berkebos gegroet. Die wynbottels. My dakkamer. En ín my kon ek
die klaende roepstem van my droewige land hoor: Kom huis toe, jou mama wag
vir jou.
Johannesburglughawe was vuil. Hakskeen-bedelaars wat kerm vir English money.
Ek het my handsak vasgeknyp, wantrouig oor elke nabye siel. Tog het die lug
rég geruik; vaagweg na doringhoutvuur. Dit was asof die rondlêgemors so
hoort. Afrika is Afrika. Dis my moederskoot. En ook in hierdie lanferland
geld die belofte: Ik zal daar zijn.
Ek kom die laaste
tyd agter dat daar 'n definitiewe oplewing in Afrikaner patriotisme en varal
Boere patriotisme is. Persoonlik gee dit my 'n warm gevoel van trots.
Die volgende
artikel sweef op die internet rond, laat mens dink......
Ekskuuste dwarsboom ontwikkeling
"Hoekom het jy die miljoen rand gesteel?"
"Ek was honger!"
So lui 'n stokou grappie waaroor middeljariges van vandag destyds in hulle
kindertyd gelag het - min vermoedend dat hierdie situasie nog in hulle
leeftyd 'n werklikheid sou word.
Baie mense beskou blykbaar diefstal en roof as heel aanvaarbaar, jy moet net
beweer jy was daartoe gedryf deur honger, gebrek, apartheid of die waan dat
jou oer-voorouers onderdruk was.
Laat ons dus maar vandag oor 'n paar sake reguit praat:
'n Mens steel nie omdat jy honger of arm is nie - jy steel omdat jy skelm
is. Niemand was nog ooit in hierdie land so volledig onderdruk soos die
Boerevolk na die Tweede Vryheidsoorlog nie.
Ons voorouers wat die oorlog en die konsentrasiekampe oorleef het, het na
die doodse leegheid van vernietigde plase teruggekeer - uitgehonger,
hartseer en verpletter. Maar hulle het nie geroof en gemoor en gesteel nie.
Hulle het met harde werk, deursettingsvermoë ’n swaarkry so presteer dat
hulle weldra nie net hulleself nie, maar ook hulle huidige onderdukkers,
goed kon versorg.
Toe hulle kinders in Engelse skole gestop is en gestraf is as hulle dit durf
waag het om Afrikaans te praat, het hulle nie klippe gegooi en skole
afgebrand en geweld gepleeg nie.
Hulle het hard geleer, hulle eie CNO-skole gestig en uiteindelik bo uitgekom
sodat die Boerevolk vandag vir niemand op akademiese, tegnologiese of
wetenskaplike gebied terug hoef te staan nie.
'n Mens moor nie omdat jy voorheen benadeel is of omdat jou werkgewer jou
nie tederlik genoeg behandel nie - 'n mens moor omdat jy 'n barbaar is wat
nie verdien om deel van die samelewing te wees nie.
Na die Tweede Vryheidsoorlog het Boere-mynwerkers absoluut geen regte gehad
het nie en moes hulle gesinne met minder as 'n hongerloon probeer onderhou.
Maar hulle het nie bejaardes gaan doodmartel en gesinne uitgemoor nie.
'n Mens word nie 'n agtergeblewene omdat iemand anders nie genoeg vir jou
doen nie. 'n Mens word 'n agterblyer omdat jy nie presteer nie. Niemand het
die Boerevolk na die Tweede Vryheidsoorlog vooruit gehelp nie - ons het self
gewerk en volhard om sukses te behaal.
En elke ding wat ons het, het ons verwerf - apartheid het nooit plase en
poste en posisies aan Boeremense uitgedeel nie.
As alles altyd vir jou verkeerd loop sodat jy voel jy maak nooit enige
vordering nie, is dit dalk 'n goeie gedagte om op te hou soek wie anders as
jy self vir al jou ellende verantwoordelik is. Ruk jou reg en presteer
jouself in die voorspoed in.
En dit geld vir ons eie mense ook. Net ons eie werk, prestasie en geloof
gaan bepaal of ons as agterblyers in die vergetelheid gaan wegsink en of ons
weer as trotse, beskaafde, gerespekteerde volk sal opstaan.
Selfs in die nuwe Suid-Afrika is daar steeds geleenthede vir vindingryke,
geesdriftige mense wat bereid is om hard te werk en vir hulleself 'n toekoms
los te spook.
Mag die Boerevolk nooit pateties raak nie.
Nou goed, die
volgende is nie alles Afrikaans nie, maar ek plaas dit net om die rekord reg
te stel, ek is nie 'n Engelsman nie! Dis nie my skuld dat my pa in Wallis
gebore was nie. En boonop het ek in Koster in die Wes Transvaal grootgeword
en ek beskou myself as 'n Afrikaner.
Ewenwel, hier is
die epos wat ek ontvang het, biekie deurmekaar, maar nogtans lekkerlees -
soortvan :-) Ek het nog nooit 'n rookbraai gehad nie, dalkies moet ek dit
tog probeer!
Dear Peter,
A li'l bit o' 'istory on meself afore we talk about the important tings in
life.
Ek is gebore in Kak a' mas northwest of Kenhardt, district of Gordonia, de
land of Upington. Geen wonder met al hierie Ingelse name is ek 'n confused
boer, nê?
To make it worse, we have Swiss-German/German/French/Italian/Irish, mix of
blood in our alcohol stream!
Nooit, I want to tell you that in the end someting prevaled 'cause I became
a successful advocate in Josie in de pre-flood/ante-deluvian days( '80 -
'94......) and den went on to Eire where I spent many a good time enjoying
the Irish crack (not de sniffing sort), meaning good humour...of course and
plenty of pint! Dêre I nearly lost my fortune as dese Irishmen are fly man!
Terug na die Boesmanland-vat-my-hand-lei-my-na-die-rand-se-kant wereld waar
ek vandaan kom.
Boetie, ek het met die kafferpot grootgeword. My ouma had a very large one
in which she used to cook many kilograms of Boeresoap (recipe still wit me
aunt), which always cleaned all our clothes better than SuperBriteSurf!
Dis pot was off limits for de chef, but our udder pots was very much in
culinary use en dis nou waar my eerste liefde vir die wonderlikste
kookgerief, die ysterpot vandaan kom. My eerste babakos was in die potjie
gekook, lekker sagte pampoenmoes en vars tuin ertjies en wortels, soet
gemaak met ouma se reseppies van botter, bietjie appelkoosjam en whatnot.
Ingevoer in die bekkie met 'n klein plat lepeltjie (wat my Ma nog het).
Genoeg van my histeria. Vanaand is ek besig om 'n ou potjie van vooraf in te
kook. This thing was never truly cured and after reading your inspiring
website, I thought: "se moer, ek gaan die ding nou eenmaal skoonmaak en
bekook!" And there it is kooking rustig on my stoep for many hours (nie
haastig nie) while the 2 chickens are smoking in the Weber. Ek gaan net gou
seker maak die affêre ok is ..., Ok, terug, al's reg, anyway, as I was
saying, you have inspired me to new hights of potjie cooking, en dit nogal
van 'n Ingelsman...! But, in your favour, is, that the most well known
potjie name is "Falkirk"!
By the way, did you watch the TV2 - Our Nation In Colour - program on this
Cape Town chef who went out to the Bushmen and brought back those wonderful
Kalahari-truffles (sandaartappels)! Mindblowing! As a kid I went out to the
same soil and did the same thing, including the woestynkomkommers en die
N'goba...! Hoe lekker kry ek nou.
Cheers man, lekka eet en laat my weet wat jy nog in jou mou hou ("what's
up?", in rooinektaal!)
Kind regards,
Liam (in jou taal, of Willie in my taal)
ps. We just had that oak-smoked chick and it was severely devine.
Recipe: 2 whole birds, fat trimmed, skin on, 'erbs to taste on skin and
wit'in; add a little lemon peppa
(Ina Paarlman's mucho) and Braai salt to taste;
Indirect doudle-sides Weber charka of medium-high heat;
Western Cape oak barrel shavings (400 grams, soaked 20 minutes in water);
1 1/2 hours in kettle;
Place birds in large aluminium braai container back in kettle and warm up
for 5 minutes;
Place dish on table and allow 5-10 minutes for sauces to settle into flesh
before cutting and
serving.
Munch away and say last prayers.
Met elke uitgawe fokus ek op 'n
Afrikaanse webwerf.

Iemand wat in Melbourne woonagtig is
stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's
op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere.
Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik
toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle
self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons
Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek
IN DIE HELDER MAANSKYN
Woorde: C.G.S. DE VILLIERS
Musiek: "Au clair de la lune", Franse Kinderliedjie
In die helder maanskyn, goeie buurmansvrou.
Ag, my pen is stukkend, leen my joue gou.
Ook het ek g'n kers nie, weg my tonteldoos.
Help my goeie buurvrou, wees tog net nie boos.
In die helder maanskyn antwoord buurvrou net:
Nee, ek het g'n kers nie, ek is reeds in bed.
Vra vir Hannie langsaan, vrou van ou neef Koos,
want in haar kombuisie staan sy tonteldoos.
2010 -
Wat dink jy
sal die gevoel wees as ons na die Wêreldbeker terugkyk? |
Wat's nuut op
Kalie se Boeremusiek webwerf?! Ons het nou 'n eie domein - dis nou vir
die wat nie die blad onlangs besoek het nie. Gaan loer gerus by
http://kalie.boeremusiek.net
Kalie het ook onlangs begin om DVD's te maak en is tans besig om die
destydse Boeremusiek kompetisies wat op TV aangebied was op DVD
beskikbaar te stel. Klik op die skakel vir DVD's op die webblad
(
http://kalie.boeremusiek.net/dvd.html ) om te sien wat reeds te koop
is. Ons het egter reeds meer DVD's omdat Kalie ook privaat DVD's maak en
onder andere heelwat van Nico van Rensburg se TV en ander optredes nou
op DVD het.
Polkadraai, die nuusbrief van die Pretoria Tak van die Boeremusiekgilde
sal van nou af ook op die web bekikbaar wees (Wia is die redakteur van
hierdie nuusbrief). Gaan loer by
http://polkadraai.boeremusiek.net as u belangstel om u naam op
die poslys vir hierdie nuusbrief te kry. Ouer weergawes van die
nuusbriewe sal binnekort geplaas word.
Ons besigheid se naam is Alfa Ateljee en daar is ons (Kalie en Wia) ook
besig met ander aktiwiteite wat verband hou met musiek, fotos en
rekenaargrafika. Wia maak kaartjies van haar honderde fotos, reël toere
vir haar Amerikaanse vriende en maak al die omslae vir die DVD's en
laserskywe. Onlangs het sy ook begin met fotobiografieë en fotoboeke.
Hier word enigiets en nog wat gedoen - van interesante verwerking van
die ou klein, vergeelde swart en wit fototjies van bekende musikante tot
familie troues en CD foto albums van vakansies - bv. daardie
onvergeetlike geleentheid toe tant Annie in 1968 'n foto van die Pous in
St Peters Katedraal geneem het :-) en nog vele meer.
So indien u 'n omslag kort vir daardie nuwe CD of u kosbare gesinsfotos
vir die familie wil bewaar - kontak gerus vir Wia!
(wia@telkomsa.net )
Agterpad Reisnotas - versamel deur Braham van Zyl |
Ek luister mos
een Saterdagoggend na Amoré Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met
Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een
van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres
onderaan die artikel) Hy stuur 'n 'n gereelde nubrief uit.
HAENERTSBURG: Limpopo Provinsie
EK het heel per ongeluk op Haenertsburg afgekom toe ek gedurende
November 2005 vinniger deur my reisprogram gewerk het as wat ek beplan het
om te doen, en iets gesoek het om my tyd in die Pietersburg (Polokwane)
omgewing mee te verwyl. Ek sien toe die naam Haenertsburg op my kaart en
besluit om te gaan kyk hoe dit daar lyk.
Haenertsburg lê langs die R71, 55 km oos van Pietersburg. Hierdie kleine
dorpie op die platorand hoog bo die Laeveld was vir seker een van die
grootste verrassings wat ek in my loopbaan as reisjoernalis gehad het. Ek
het nooit só iets daar verwag nie.
‘n Netjieser en skoner dorpie sal jy nêrens anders in Suid-Afrika kry nie.
Dis ‘n droomdorp. Ek het die middag na my aankoms by die Oulap B&B
(082-856-1776) van Cecile & Johan Smit afgepak en toe sommer dadellik die
omgewing gaan verken.
Ek is sommer daar by Oulap met ‘n grondpad die berge in. Groot was my
verbasing om aan die anderkant van die berg op ‘n Karoo-agtige landskap af
te kom, en daar ‘n geweldige groot turksvyboord te sien. Dié turksvye word
glo uitgevoer.
Terug in die dorp, moes ek hoor dat Haenertsburg so ‘n besonderse
begraafplaas het, waar mense glo op die grasperke kan gaan piekniek hou. Ek
is ook daarheen en was verras met die mooiste panoramiese uitsig oor die
Laeveld, vanuit die begraafplaas.
Die volgende oggend is ek eers die dennebosse na Houtbosdorp se kant toe in.
Daarna het ek gou gaan kyk hoe Tzaneen lyk, maar ek moes gou weer terug die
platorand op en by Haenertsburg verby, want ek het later die middag nog ‘n
afspraak op Warmbad (Bela-Bela), wat darem ‘n stywe stoot vanaf die Laeveld
is, gehad.
Die beeld van Heanertsburg sal nog lank in my gedagtes bly, want dis nou een
plek waarheen ek bitter graag eendag weer sal teruggaan. ‘n Plek soos
Heanertsburg sien jy nie sommer aldag nie.
Skryf vir Braham
en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings
direk van hom af!
e-pos : info@explore-sa.com
Luister elke Saterdagoggend
net na die agtuur nuus op die Afrikaanse radiodiens van RSG na Braham
van Zyl en Amoré Bekker se agterpad geselsies op die program Brêkvis
met Bekker.
Die Belg hoor hy is verplaas na
Suid-Afrika en is baie ontsteld daaroor, want hy het gehoor van al die
moorde, diefstal en skakings. Toe hy agterkom die ou wat langs hom in
die kroeg sit, is 'n Suid-Afrikaner, vra hy hom dadelik uit. 'Nee, man,
ou pel,' sê die Suid-Afrikaner, 'Suid-Afrika is 'n lekker plek om te bly.
Jy kan gratis vir jou 'n huis enige plek gaan opslaan, jy hoef nie te
kan lees en skryf om matriek te slaag nie, en as jy jou werk verloor
sluit jy aan by die ANC en word 'n parlementslid.' 'En,' vra die Belg, 'wat
voor werk doe je?' 'O, ek?' sê die Suid-Afrikaner, 'Ek is die rear
gunner op 'n broodafleweringswa.' |
|
|
Ek is
betrokke by hierdie inisiatief van Elsabé, kyk tog asseblief of julle nie
ook 'n bydrae kan maak nie, besoek ook hulle
webwerf.
Nuusbrief 28 Januarie
2007
Goeiemôre vriende,
Met Januarie maand agter die rug, is die rustyd verby en moet ons nou weer
inspring en al ons verpligtinge nakom. Ek glo en vertrou dat almal soort van
"herstel" het na die kersseisoen en die platsak eerste maand van die jaar!
Die projek het ook darem die eerste maand soort van oorleef - maar nou moet
ek weer hard werk om fondse, klere, kruideniersware en al die nodige in te
samel.
Ek het vir eers nie donasies gevra vir skoolfonds en skoolbenodighede nie,
want ek glo die ouers moes eers self probeer om in die kinders se behoeftes
te voorsien. Maar soos ons weet is dit nie vir almal moontlik nie en is daar
baie kinders wie se skoolfonds en ander skoolgelde nie betaal kon word nie.
Ek glo en vertrou dat ons die fondse sal bymekaar kry om hulle hiermee by te
staan. Dit bly 'n groot verleentheid vir 'n kind as sy gelde uitstaande is
en hy nie alles het wat hy nodig het nie!
Verder moet ons ook nou help om elke middag vir ± 221 kinders 'n middag-ete
te gee! en by die Bloudakkies ouetehuis is daar 163 bejaardes wat staatmaak
op 'n bord gekookte kos elke Dinsdag. Hiervoor het ons letterlik tonne kos
nodig!
Die matriek meisie wat met 'n onderskeiding in Engels geslaag het wil
bittergraag 'n rekenaar kursus volg. Ek sal hierdie week presies weet wat
dit gaan kos. Ek gaan haar inskryf want ek glo dat ons borge sal kry
daarvoor! As ons haar rekenaargeletterd kry is haar kanse op 'n beter
toekoms baie goed!
BELASTING
Ek het begin met die uitreik van belasting kwitansies. Indien u 'n belasting
kwitansie verlang vir donasies wat verlede jaar gemaak is,moet u asb so gou
as moontlik vir my 'n skrywe/faks stuur met die datums en bedrae van die
donasies, asook volle besonderhede en posadres. As u alreeds gestuur het,
herinner my net asb weer.
Ek pos dit graag.
BELASTING PROBLEME???
Te veel verdien - en moet nou baie belasting betaal - ONS HET DIE OPLOSSING!!
Ons is 'n geregistreerde Artikel 18A (PBO - public benefit organization) wat
beteken dat persone wat vir ons projek meer as R1000-00 skenk dit van hul
persoonlike belasting kan eis.
Hiermee inligting soos in die SARS "Tax exemption guide For PBO's in South
Africa " Bladsy 10 : 12.3
Deductions of donations
A taxpayer making a bona fide donation in cash or kind to a section 18A
approved organisation is entitled to a deduction from his taxable income if
the donation:-
1. Is supported by the necessary receipt issued by die organisation; and
2. Does not exceed 5 % of the taxable income of the taxpayer, calculated
before allowing any deductions under section 18A or any deduction for
medical and dental expenses
Ons PBO nr: 930018872 - Ek het die formele kwitansies om hiervoor uit te
reik
DEBIETORDERS
Wil U graag op 'n maandelikse basis 'n kontant bydrae maak maar nie altyd
tyd het om bank toe te gaan nie? Aangeheg is 'n debiet order vorm wat U kan
invul maar onthou asb om onderaan die vorm die Danville Hulp Projek se naam
te skryf voordat U dit deurfaks na Stratcol - Anders gaan die geld nie by
ons uitkom nie.
WEEREENS BAIE DANKIE AAN AL ONS ONDERSTEUNERS WAT HELP OM 'N VERSKIL IN ONS
MINDERBEVOORREGTE BEJAARDES EN KINDERS SE LEWENS TE MAAK - Weet asb altyd
dat dit opreg waardeer word.
Groete
Elsabe
Bankbesonderhede:
Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926
Aflewerings adres:-
286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za
PS Bel asb voor jy ry
Vergelyk die rederye, kry die billikste pryse en bespreek dan
hier
.
Rooibok potjie
1 kg rooibokvleis in blokkies gesny
4 geelwortels, in skyfies gesny
2 knoffelhuisies, fyn gedruk
250 g spekvleis, gekap
6 aartappels, in skywe gesny.
125 ml olie
2 uie, in skywe gesny
10 ml gekapte tiemie
500 ml port of droë rooiwyn
Verhit olie in swartpot en soteer geelwortels, uie en knoffel totdat uie
deurskynend is.
Voeg tiemie, vleis, spekvleis en port by. Prut 2 uur baie stadig met deksel
op. Voeg
aartappels by en prut nog 30 tot 45 minute. Sit voor saam met mieliepap.
Souskluitjies in 'n Ysterpot
125 g botter of margarien
60 ml fyn appelkooskonfyt
12.5 ml koeksoda
500 ml koekmeelblom (gesif)
knypie sout
100 ml melk
750 ml kookwater
250 ml suiker
5 ml vanieljegeursel
klontjie botter (ekstra)
Smelt botter en roer dan eerskonfyt dan koeksoda by (mengsel bruis). Voeg
meel en sout beurtelings met melk by. Plaas oorblywende bestanddele in
ysterpot en laat opkook. skep lepelsvol deeg in kokende vloeistof sodat
hpies nie opmekaar lê nie. Sit deksel op en prut vir 25 minute lank. Bedien
warm, stip met botter.
Wors-en-Niertjie Potjie
genoeg vir 10
50 ml olie
25 ml botter
3 groot uie (gekap)
12 lamsniertjies ( middeldeur gesny, vliese en kerns verwyder)
50 ml koekmeelblom
5 ml sout
varsgemaalde swartpeper
12.5 ml tamatiepasta
200 ml hoenderaftreksel
50 ml droë wit wyn
8 varkworsies middeldeur gesny
200 g sampieone
50 ml brandewyn
12.5 ml gekapte pietersielie
Plaas olie en botter in driepootpot en verhit oor warm kole. Voeg gekapte
uie by en roer vir 3 minute..
Rol niertjies in 'n mengsel van koekmeelblom, sout en peper en voeg by die
uie in die pot. Voeg res van die bestanddele behalwe die brandewyn en
pietersielie by en laat oor matige kole gaar word sonder om te roer. Wanneer
niertjies gaar is, voeg brandewyn en pietersielie by, roer een maal om en
dien op.
Afvalpotjie
2 klompe skappens (goed skoongeskraap)
water om in te kook
250 ml halfsoet wit wyn
sap van 1/2 suurlemoen
sout en varsgemaalde swartpeper
1 skaapnek
6 groot uie (gekap)
12 klein aartappeltjies
25 ml matige sterk kerriepoeier
2 ml rissiepoeier
10 ml donkerbruin suiker
asyn om mee aan te maak
250 g droëperskes
Sny pense in blokkies en plaas in driepootpot saam met water, wyn,
suurlemoensap, sout, peper en skaapnek. Sit deksel op, plaas pot oor matig
warm kole en laat koook tot inhoud sag is - ongeveer 3-4 uur.
Wanneer pensblokkies sag is en vleis van nekwerwels afval, verwyder
nekwerwels, voeg uie en aartappels by inhoud en kook nog 30 minute lank.
Maak kerriepoeier, rissiepoeier en suiker met asyn aan en voeg saam met
perskes by inhoud van pot. Sit deksel op en plaas weer op vuur vir 30
minute. Roer goed om en dien op.
Skaapskenkelpotjie
100 ml olie 2 kg skaapskenkels
'n halwe groen soetrissie, gekap
1 groot ui, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
6 swoerdlose spekrepe, gekap
2 middelslag tamaties, gekap
2 biefekstrakblokkies
sout en swartpeper na smaak
250 ml witwyn
250 ml kookwater
5 wortels, geskil, in skywe gesny
12 klein aartappeltjies, gewas
5 murgpampoentjies, in skywe
400 g sampioene.
Verhit olie en braai vleis tot bruin. (Hoe bruiner die vleis gebraai word,
hoe bruiner en ryker sal die sous wees.) Voeg die groenrissie, ui, knoffel
en spek by en braai tot begin verbruin. Voeg tamaties by en roerbraai vir 5
minute. Voeg biefekstrak, geur- middels, witwyn en kookwater by en prut vir
'n uur. Voeg wortels en aartappels by en laat vir 20 minute prut. Voeg
laastens die murgpampoentjies en sampioene by en laat vir 15 minute prut.
Vul vloeistof aan, indien nodig.
Wenk: Moenie potjie tydens gaarmaakproses roer nie. Sit voor met rys, koring
of potbrood.
Hoenderpotjie
Gebruik 'n nomber 3 Potjie.
1 Kg hoender (Gemiddelde gewig van ‘n normale hoender).
Fyn Sout
Growwe Swart Peper
Koekmeel om stukkies in te rol.
Uie fyn gekap(2 middelslag)
Kook rys apart tot gaar.
Gemmer en Knoffel (Fyngemaak). (2 Teelepels). Polo Kwane handelmerk
Bestanddele vir die Sous
Tamatiesous(300ml) Koo Handelmerk
Blatjang(50ml)Wellington Handelmerk
Worchestersous(20ml)Mrs.Balls Handelmerk
Tabascosous(2ml)
Asyn(50ml)
Suiker(50ml)
Mostertpoeier(5ml)
Paprika(15ml) Robertson Handelmerk
Water(125ml)
(Voeg alles bymekaar is 'n bottel (1 liter plasties Coke bottel) en meng
goed deur die bottel te skud.
Metode
Stap 1.Maak jou pot warm en gooi jou botter (egte) by (20ml).
Stap 2. Braai die fyngekapte uie en Gemmer/Knoffel (2 teelepels) tot die
geur uitkom.
Stap 3. Neem die hoender porsies en strooi individueel een vir een met fyn
sout en peper.
Stap 4. Nadat die gedoen is doop die hoender porsies in die koekmeel en voeg
in die pot.
Stap 5. Roer totdat die hoender porsies goed met die uie en olie bedek is
vir so 10 minute met die deksel oop. Gebruik 'n houtlepel. (Die reuk sal jou
nou al reeds honger maak .
Van nou af roer jy nie weer jou pot totdat jy opskep nie.
Stap 6. Gooi nou jou sous soos bo saamgestel in en laat jou pot stadig loop.
(Borrel liggies regdeur). Kyk gereeld na die pot vir 15 minute.
Stap 7. Voeg nou jou groente in lae in die volgende volgorde. 10 klein
Aartappels, 10 jong wortels, 10 klein tipe pampoentjies,
Stap 11. Een pakkie "button" sampioene na smaak vir die laaste 45 minute
Stap 12. Voeg klaargekookte rys by so 10 minute voor opskep, en laat die
sous deurkook.
Die pot loop so 2 1/2 uur.
Stap 13. Kry vroulief om die aartappels te toets of dit gaar is en vra haar
sommer na die sout inhoud.
Die verskillende handelsmerke wat aangetoon word werk volgens my die beste
om die smaak uit te bring.
Stap 14. Skep op en geniet die Rooi Hoender.
Ek het nog nooit iemand gekry wat nie van die potjie gehou het nie. Almal
maak die resep sy eie.
Hoender-biltong-en-spekpotjie
Sous
2 hoenderaftrekselblokkies
250 ml (1 k) kookwater
500 ml (2 k) droë witwyn
250 ml (1 k) blatjang
46 g sampioensoppoeier (1 pakkie)
5 ml (1 t) gedroogde tiemie
5 ml (1 t) gemengde gedroogde kruie
5 ml (1 t) suurlemoenpeper
Hoendergereg
15 ml ( 1e) olyfolie
15 ml (1 e) botter
12 hoenderdye, ontvel indien verkies
250 g spekvleis, gekap (1 pakkie)
50 ml Brandewyn
10 ml (2 t) gekapte knoffel - opsioneel
2 uie, in ringe gesny
1/2 groen soetrissie, grof gekap
1 seldrystringel, in dun ringe gesny
20 klein aartappeltjies, geskil
4 wortels, skyfies gesny
12 klein uitjies, heel
250 g knopiesampioene
8 murgpampoentjies, in dik skywe gesny
150g klam beesbiltong, gekerf
250 ml ( 1 k) gerasperde Cheddarkaas
125 ml (1/2 k) vars, gekapte pietersielle
Metode - Sous
Los die aftrekselblokkies in die kookwatr op. Meng die res van die
bestanddele vir die sous en boeg dit by. Hou die sous eenkant.
Hoendergereg
Verhit die botter en olie oor matige hitte en verbruin die hoender daarin.
Voeg die spekvleis by en soteer dit 3 minute lank. Voeg die brandewyn en
knoffel by. Roer dit deur en moet daarna nie weer roer nie. Strooi die uie,
soetrissie en selderu oor die hoender en plaas daarnedie aartappled en
wortels bo-op.
Giet die sous oor: Plaas die deksel op en lat dit 1 duur lank prut. Voeg
kookwater by indien nodig.
Bedek dit en laat prut dit 20 minutes lank. roer dit net voor bediening en
strooi pietersielie oor.
Siiktes (Frouelikke)
Seer tépels - 'n
Stukkiwas met soetolie en haarlemmeroli, en 'n stukki kliphoutgom, dit alles
dit alles deurmakaar smelt en ansmeer.
Twee eetlepels Frans brandewyn met suiker by, ansmaar.
Fan harpuis, was en olie 'n plyster maak.
Met ongesoute botter smeer.
Fark Bout met
Fulsel
Maak lang kerwe
oer di bout, omtrent 'n finger fan makaar, was skoon af, sny 'n snit in by
di kneukel, maak di fel daar los en ful met fulsel, smeer di bout met botter
of fet, laat braai met 'n klyn bitji peper en sout, smeer baing, anders
blaar dit.
Resepte uit Anna se Kombuis |
Al Anna se resepte is in eBoek formaat en maak dus ideale
geskenke en word sommer met epos gestuur. Vir meer besonderhede,
klik hier
Die resep hieronder kom uit Anna se
eBoek - Onthou jy nog. Skaf dit gerus aan!
Iemand vra my nou
die dag vir 'n resep vir Tuisgemaakte Kondensmelk, ek kry toe hierdie een in
Anna se boek:
TUISGEMAAKTE KONDENSMELK
1.25 liter melk
2ml koeksoda
500g suiker
3ml sout
Voeg alle bestanddele bymekaar en roer oor lae hitte totdat die suiker
opgelos is. Kook stadig totdat die melk soos dik room begin lyk. Moenie roer
nie, tensy melk wil oorkook. Gooi in flesse wat gesteriliseer is en plaas
vir 15 minute in voorverhitte oond van 120C. Skroef daarna dadelik toe.
st
se pitkos
Klik hier
om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Vrydag die
13de
Ek word gevra om ‘n praatjie te kom doen by ‘n Hoërskool. Op Vrydag
die 13de. Die radioprogram Monitor van RSG vra my om ‘n radio-onderhoud
te doen. Ook op Vrydag die 13de. En die onderwerp van die radio-onderhoud:
Vrydag die 13de.
Die praatjie (per telefoon vanuit Johannesburg) geskeduleer vir 07:50.
Die praatjie in die skoolsaal geskeduleer vir 08:00. Ek maak gebruik van
my “time management skills” en reël dus met die hoof van die skool
persoonlik dat die omroeper van Monitor my direk by die skool skakel en
ek dadelik daarna my praatjie in die saal kan doen. Vra hom ‘n stil
kantoor. Geen probleem nie, verseker die meneer my. Alles sal in orde
wees. Ek praat en reël ook met die juffrou wat die praatjie organiseer.
Vrydagoggend is ek betyds by die skool. Juffrou lei my na die kantoor
waar ek moet praat. Telefoon is daar, die dames by die skakelbord is in
kennis gestel dat RSG gaan skakel. Alles reg en in plek. Ek is gereed om
vrae te antwoord en insette te lewer oor Vrydag die 13de en die
sielkundige effek daarvan op die mens.
Die telefoon lui – dis die omroeper van Monitor. Tel die sekondes af
voor ons op die lug gaan. Net toe ons begin praat, besluit die hoof van
die skool hy wil nóú op die interkom praat. En hier sit ek in hierdie
klein kantoor, met die hoof se stem wat bulder oor die interkom sodat ek
nie die omroeper oor die telefoon kan hoor nie. Ek bedoel soos in
feitlik glad nie. Die luidsprekerkassie sit hoog teen die muur in die
kantoor. Wat kan ek doen, vasgevang in die kantoor en ons is lewendig op
die lug? En intussen klop ‘n ander onderwyseres om in die kantoor te kom.
En maak die deur oop en loer rond. Ek kan nie dink nie, ek kan nie die
omroeper hoor nie, want die hoof praat aanmekaar hard en luid. Dit word
‘n NAGMERRIE in hoofletters!!
Ek het al redelik baie onderhoude op radio gevoer met goeie sukses, maar
hierdie onderhoud is ‘n absolute fiasko – ek voel geweldig ontsteld oor
die voorval! Moet ek die fiasko blameer op Vrydag die 13de of is dit
bloot onkunde of onbevoegdheid van ‘n instansie wat nie bekend is aan
die praktyk van ander instellings buite ‘n skoolomgewing nie?
Die juffrou kom vra groot verskoning. Vra selfs of die skool vir Monitor
‘n brief moet skryf om te verduidelik en apologie aan te teken. Ek is
platgeslaan maar moet dadelik myself hergroepeer en my emosies onder
beheer kry vir die praatjie in die saal.
Tot vandag toe het ek nie veel erg aan bygelowe gehad nie, maar is
hierdie nie ‘n bewys van die spook van Vrydag die 13de nie?
Sal ek weer op ‘n Vrydag die 13de op die radio praat? Hoe moet ek
hierdie slegte gebeurtenis verwerk en hanteer?
Ek doen die volgende:
· Ek sal my nare ondervinding nie aan Vrydag die 13de toeskryf nie, maar
eerder aan ander faktore.
· Ek sal weer op die radio of waar ookal praat op Vrydag die 13de. Net
om die punt te staaf dat ons nie uitgelewer is aan allerhande bygelowe
nie.
· Ek sal nie vashaak by hierdie teleurstelling en terugslag nie, maar
steeds net my beste doen. Môre skyn die son weer en die genade van die
Here is immers genoeg vir my.
· Ek sal die humor in die situasie probeer raaksien, want om te lag is
goed vir jou gesondheid en salf vir jou seer gemoed.
Dit bring my by die punt waarom ons in ‘n moderne tyd nog so bygelowig
is? Hoekom is dit dat vele hotelle nie ‘n dertiende vloer het nie – daar
moet blykbaar ‘n lugleegte wees tussen die twaalfde en veertiende vloer.
En kyk maar hoeveel hysbakke het nie ‘n nommer 13 knoppie om te druk nie.
Selfs sommige hospitale - wat veronderstel is om ‘n rasionale
wetenskaplike plek te wees – het nie ‘n teater nr 13 nie.
Hoe het die bygeloof van Vrydag die 13de onstaan? Wel, daar is nie
sekerheid daaroor nie. Blykbaar kom dit voor van baie lank gelede - daar
word byvoorbeeld in die Noorse mitologie ‘n fabel vertel van ‘n maaltyd
vir twaalf mense met ‘n dertiende persoon wat opdaag en die dodelike
gevolge daarvan.
Die bekendste voorbeeld is egter die laaste maaltyd van Jesus voor sy
kruisiging. Tradisioneel word dit as ‘n Vrydag beskou, hoewel sekere
skrywers meen dit was ‘n Woensdag. Dus dertien mense op ‘n Vrydag sit
aan by ‘n maaltyd. En een van hulle is Judas die verraaier. Dit is ook
Judas wat eerste opstaan en uitstap. En dit is ook Judas wat eerste dood
is.
· Wat is volgens jou ‘n bygeloof? Hoe ontstaan dit?
· Het jy ‘n bygeloof?
· Is gelukbringers ‘n vorm van bygeloof ?
· Is daar in die morderne tydsgewrig nog plek vir bygelowe?
· Hoekom dink jy het mense bygelowe?
· Is daar sielkundige redes vir ‘n bygeloof?
Ek hoor graag jou kommentaar op hierdie vrae en enige ander ondervinding
wat jy het met betrekking tot bygelowe wil deel.
‘n Sprankie wysheid vir die dag
“As ‘n mens nie leer om vir jou probleme te lag nie, sal jy niks hê om
voor te lag wanneer jy oud word nie.” – Ed Howe
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
Soek jy plek om te gaan kampeer?
Klik dan hier!
Skooltake??
Klik hier
Vakansieverblyf is altyd
'n probleem, dié mense maak dit makliker om te kry,
klik net hier.
Teken in /Teken uit / Kontak |
Teken hier
in op die poslys en lees ook die argiewe.
Om uit te teken, stuur vir my 'n
epos
en dui jou naam aan asook die eposdres waaronder jy ingeteken is
Kontak my
hier.
Jy kan ook nou
kommentaar lewer op die nuusbriewe, klik net hier en laat jou
boodskap
Druk jou speld op my besoekerskaart!
|
|