|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare!
Die tema vir
hierdie brief se resepte is doodeenvoudig net "lekker". Gaan na die
resepteafdeling hieronder en probeer van hulle. Ek is seker van die
resepte sal aangename herinneringe van die "ou dae" terugbring!
Iemand vra my nou
die dag of ek dalk die spelreëls van jukskei vir hulle het. Dit laat my
toe wonder of daar ander sportsoorte is wat in ons land ontstaan het?
As julle bewus is van
sulke sportsoorte,
laat my weet asseblief.
Klik hier om meer oor jukskei
uit te vind!
Weereens het ek lekkerlees
Afrikaanse artikels deur onder andere
Estelle de Bruyn en Annelie Botes, ek is seker julle sal dit geniet!
Mara Swanepoel lewer ook weer 'n
welkome bydrae. Ook is daar
'n insiggewende artikel deur Dr. S T Potgieter
Die woorde van
Bok van Blerk se De la Rey is gladnie so vergesog nie. Bo en behalwe dat
dit 'n geskiedkundige liedjie is, het dit 'n dieper betekenis vir my.
Die Afrikaner in Suid Afrika het 'n paar struikelblokke. Ten eerste is
hulle verdeeld en dan is hulle ook leierloos. Hulle is verspreid onder
'n paar politieke partye en die organisasies wat hulle beywer vir
Afrikaner eenheid, of dit nou taal, kultuur of wat ookal is, praat nie
uit een mond nie.
Die oplossing
(volgens my) is om al die afrikaners wat in verskillende politieke
partye is, saam te snoer in een party.
Die nie-politieke organisasies soos Afriforum, BEF, PRAAG, ATKV, ek is
seker daar is nog vele andere, moet verenig word onder een oorkoepelende
beweging. Hulle hou nog hulle identiteit en doelstellings, maar word op
die raad van die oorkoepelende beweging verteenwoordig en hulle
praat met een stem.
En hoe gaan
die bogenoemde gebeur? Dis hier waar Bok se De la Rey in die prentjie
kom. Ons kort 'n moderne 'De la Rey' om die leiding te neem! Die tyd is
NOU ryp vir dinge om te begin gebeur!
Presies wat ek hie bo noem is besig
om te gebeur! Ek het pas die jongste nuusbrief van die Blanke Ekonomiese
Forum ontvang, Ons mense is besig om te begin saamwerk! Baie
interessante nuusbrief! Regs
klik hier om dit af te laai. Sluit gerus aan!
Ek wil ook vir
die ouers van Hoërskool Ermelo alles van die beste toewens met
hulle hofgeding oor die behoud van Afrikaans by hulle skool. Ek hoop
dinge werk vir julle uit!!
Wel gedaan aan Netbal SA wat hulle
nasionale span op meriete saamstel en nie op kwota nie! Wat 'n voorbeeld
vir ons ander sportsoorte!
Veels geluk, Dozi, met jou nuwe TV
program! Ek hou van die musiek, en die Radio Kalahari Orkes is ..wel..anders
maar verfrissend!
Hier is 'n
paar fotos wat ek geduerende die verduistering afgeneem het. Dit het
begin toetrek toe kon ek nie verder afneem nie.
Foto 1 ,
foto 2,
foto 3,
foto 4,
foto 5.
Taalmonument
later oop oor naweke
Die Taalmonument sal gedurende Maart oor naweke oop wees tot 8nm
vir almal wat die heerlike herfsweer en pragtige sonsondergange wil
geniet. Pak dus jou mandjie en kom hou piekniek in die monument se
pragtuin met 'n asemrowende uitsig oor die Drakensteinvallei. Gewone
toegangsgelde is van toepassing op Vrydag-, Saterdag- en Sondagaande
(R10 vir volwassenes en R2 vir kinders). Lede van die Vriende van die
Taalmuseum en -monument betaal geen toegangsfooie nie. Kontak vir Elsa
Olivier by 021 863 3839 om as lid aan te sluit (R30 vir individue of R50
per gesin per jaar).
Isabeau Botha
Bemarkingsbestuurder
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument
T 021 872 3441 / 076 017 6026
F 021 871 1106
bemarking@taalmuseum.co.za
www.taalmuseum.co.za
www.paarlonline.com
Is jy ook keelvol
vir die misdaad en geweld in ons land?
AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deur die vakbond Solidariteit
gestig is, het reeds aan ‘n span advokate opdrag gegee om die regering
in die hof tot verantwoording te roep oor die vlaag misdaad wat die land
teister.
Jy kan help!
Skenk R10-00 vir die regskoste van hierdie saak deur die woord FORUM te
SMS na 38655.
Jy is ook welkom om
www.afriforum.co.za en
www.stopdiemoorde.co.za
vir meer inligting te besoek.
Die pasella
die week is 'n Word dokument met broodresepte wat op my hardeskyf lê.
Wie dit vir my gestuur het kan ek nie onthou nie, maar baie dankie in
alle geval! Regs klik hier
om die resepte af te laai of dubbelklik om die dokument oop te maak
Dis gewoonlik 'n
gesukkel om geskenke te koop, ek het 'n paar idees wat jy dalk in sal
belangstel,
klik gerus hier om te gaan kyk. Daar is bv. 'n CD met 50
resepteboeke op (Engels), jy hoef nooit weer 'n
resepteboek te koop nie! Ek het nou ook 'n eBoek oor kruie (in Engels,
het nog nie tyd gehad om dit te vertaal nie) vir net R50.
Klik hier vir betalingsbesonderhede. Ook ander eBoeke en CD's
beskikbaar.
Kom ons skop oudergewoonte af met
Estelle se bydrae. Sy is verbonde aan die
Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië.
Kontak haar gerus, sy hoor graag van julle.
AARDSE GOED
ONS hele lewe lank versamel ons goedjies wat vir ons mooi is, spesiale
betekenis het of herinneringe optower van besoeke aan interessante
plekke. En dan gaan ons dood en ons skatte word ander mense se rommel.
Vriendin Jenine skryf van haar groot hartseer oor 'n 86-jarige vriendin
se dood en hoe argeloos haar kinders en kleinkinders haar goedjies
bejeën het, hoe lukraak hulle van die goed ontslae geraak het. "Haar
silwer (wel, daai oorgeblaaste silwer) teestel, ‘n mooi ou blompot,
klere, ou aandrokke wat nog in rys-papier in John Orr bokse bewaar is,
is nou niks werd en van geen sentimentele waarde vir hulle nie", skryf
Jenine en ek hoor die knop in die haar keel.
En ek wonder oor wat my dierbare kindertjies eendag sal sê as hulle na
die begrafnis my huis moet oppak, wat vir hulle spesiaal sal wees en wat
hulle sommer so in swart sakke sal gooi en by die vullisdrom gaan pak.
Ek sweer ek sal by hulle spook as hulle my houtkaste wat ek vir 'n appel
en 'n ei gekoop het, met my eie twee handjies afgeskuur het en met
liefde 'n tweede (of selfs derde) lewe inge-olie het, verbyloop. Hulle
moet mooi onthou dat ek die Persiese mat baie swaar met vyf
vooruitgedateerde tjeks afbetaal het en dat dit steeds vir my 'n
vreeslike mooi mat is. Die man by die Persiesematwinkel, waar ek hom
eenkeer laat skoonmaak het, het gesê die mat is in Iran geweef in die
plek waar Ester van die Bybel glo begrawe is. So, bewaar julle siele as
julle die mat vlak kyk, Boeta en Sussie.
Die ronde koffietafeltjie kan dalk vir julle simpel lyk, maar dit is die
heel eerste stuk meubel wat ek gekoop het toe ek in my eerste woonstel
ingetrek het en al is hy al effe lendelam, bly dit spesiaal, so hou maar
verby as julle dink, daardie tafeltjie gaan asgate toe.
Onder in die kombuiskas is vier sulke vaalwit borde met blou en pienk
blommetjies om die rand. Ek weet hulle pas by niks nie en mens sal dit
nie sommer vir gaste voorsit nie, maar daardie vier borde kom uit my
Ouma se huis, só ook daardie gekraakte groot vleisbord. Dis erfgoed, hou
dit en pas dit op, anders is daar moeilikheid.
O ja, en die wakis in die studeerkamer en die wastafel agter my
kamerdeur is ook besonders want dit kom ook uit my Ouma, julle
Oumagrootjie, se huis uit.
Julle moet maar kies wie watter skildery wil hê, maar die duiwel haal
julle altwee as een van julle nie die Breë en Smal weg vat en met trots
iewers in julle huise hang nie.
Kyk ook maar daar in die kombuiskas langs die stoof. Daardie swart
gietysterpot is baie handig, en deesdae is die goed so duur, dat julle
twee keer moet dink voor julle dit in die swartsak stop.
Ek sit hier en kry skaam vir myself oor my materialisme, oor hoe ek nou
al met 'n kolf in die hand agter my kinders aanloop en hulle dreig oor
my aardse besittings se waarde en betekenis en hulle probeer ompraat om
dit op te pas. Dis verskriklik.
Ons is die gevangenes van ons besittings, sug my ma altoos as sy wik en
weeg en wonder oor of sy in haar groot huis moet bly óf ouetehuis óf na
my toe moet trek.
Saamvat, kan ons nie, as ons eendag ons koppe neerlê nie, en oor wat ons
kinders en erfgename daarmee doen, het ons geen beheer nie.
Maar spook, gaan ek beslis by hulle spook, as hulle ten minste nie darem
bietjie wroeg oor wat om te vat en wat om te los nie.
In memoriam
Ek maak vanoggend ons plaaslike koerant oop en die foto van 'n
merkwaardige man staar na my toe terug. Meneer Roux, oorlede lei die
berig. En skielik onthou ek weer . . .
In memoriam
Mnr Roux, oud skoolhoof
Hoërskool Florida
Meneer Roux
Toe ek in my matriekjaar gedurende die paasnaweek by jou deur aanklop om
as leerder van H/S Florida in te skryf het ek die eerste keer besef hoe
merkwaardig u is. Dit was vir my 'n voorreg om u te ontmoet en na u
rustige stem te luister.
U het my prober lei, raad gee, en selfs gewens dat jy vir my die eksamen
kon aflê. U was skepties, het my vorige skool se punte deeglik bestudeer
en kort kort ge-uhmmmm. Ek het nie geweet wat dit beteken nie. U het nie
een keer geglimlag nie. My kinderhartjie het woes in my binneste geklop.
U wou dat ek die volgende jaar terugkom en van dag 1 begin siende ek so
jonk was (my 15de verjaarsdag het voor die deur gelê).
U het na my omstandighede geluister, my omswerwinge meegemaak uit my
vertellinge. En u het reg besluit. Om my 'n kans te gee, en ek glo dat u
nie spyt was nie. Ek was nie. U het my 'n baie groot geskenk gegee. En
dit was nie ie laaste nie.
Ek het ingeval by die res van daardie jaar se matriek klas. Ek het my
nie gesteur aan die aanmerkings van die ander leerlinge nie. U het my
immers gewaarsku. U deur het altyd vir my oopgestaan, en u het my
vordering dopgehou. Toe stel u my voor aan 'n welbekende skrywer – een
wat my gemotiveer, gevorm en gebrei het. U het my gehelp om nie
nutteloos te voel nie. Selfs vir my baklei vir 'n beurs, selfs aangebied
om die beurs terug te betaal sou die betrokke maatskappy teleurgesteld
wees met my vordering op universiteit.
Meneer Roux, ek sal u nooit kan vergeet nie. Altyd onthou wat u vir my
gedoen het. Die belangstelling wat u in my getoon het. Die anker wat u
in my lewe was. Toe alles om my donker en nag was het u die lig weer
laat skyn.
Meneer Roux, ek steek hierdie kersdag vir jou 'n kers aan. Om u lewe te
celebrate. En ek klink 'n glasie op 'n formidabele man.
©Mara 2007
Mara se
Blog, gaan kyk gerus.
|
|
|
Met die waters wat verby is
Vergete, toe ek nog soos ‘n kind gedink het, het ons by die leivoor op
Grootfontein gespeel. Nefies, niggies, Koutershoek se kinders, al die
klôggoed. Fraai papierbootjies wat ons op die leivoor laat dryf en dan gehol
het om dit te vang voor dit die teen die afdraand by Willem Arries se huis
wegskiet rivier toe. Toe trap ek in ‘n molsgat en swik my enkel. Daar
hobbeldryf my papierbootjie grootwaters toe. Tot verby Kersfees was ek
droewig, want dit was lank se ophoop aan Stuyvesantpapiertjies en lappies en
roomysstokkies vir my bootjie. Boonop pak gekry omdat ek kind-alleen rivier
toe is om soetdoringgom te tap.
Dieselfde Kerstyd is ek alleen leidam toe. Diep gronddam met ‘n skuinswal
waar niemand sou sien as jy aan’t versuipe is nie. Verbode plek vir kinders.
Van kleins af had ek ‘n neiging tot swartsiekte. Loodsomberte; asof niemand
jou meer wil hê nie. Nie eens die Here nie. Dan is ek die renosterboskoppe
in en het gespeel ek is by my eie begrafnis.
Of ek is leidam toe. Amper soos slae sóék.
Só loop ek be-swartsiek langs die water, met die halfkroon wat ek by my oom
Naas gekry het in my hand. Skrale troos oor my katjie wat hy per ongeluk
doodgetrap het. My siel hunker na begrafnis hou; om die omkoop-halfkroon vir
die dam te gee. My kat was my kat; ‘n halfkroon kan nie sy asem terugblaas
nie. En in my treurtoestand ontdek ek ‘n dowwe eend-eier wat teen die
waterkant dobber; groenwit van vrotheid.
Al wat ek wis, is dat ons dit nie mag oopbreek vir modderkoekies bak nie.
Want die stank omgewe jou vir dae en dan weet jou ma waar jy was. Maar
daardie oggend wil ek opsluit sien wat is in die eier. Ek tik die swaar eier
teen ‘n nabankklippie. Niks. Harder. Niks. Toe vat ek ‘n klip en kap dit
flenters. En ontdek die opgevrotte kuiken.
Die doodstrane oorkom my. Hoekom gee ‘n God van liefde die eend ‘n eier in
haar maag en dan laat vrot Hy die kuiken? Watse God is dít? Hy laat my
papierbootjie wegdryf; Hy vat nie my katjie betyds weg nie.
Bedroef deur kindgedagtes van leef en sterf, smyt ek die halfkroon die dam
in. Kyk tot die waterkringe stilraak. Toe werp ek my op my maag neer en
verbeel my ek is die honderdste skaap, maar dat die Herder my nooit vind nie.
Ek kan daardie kleintydsomer merk as die tyd toe ek begin gis het oor die
lewe.
Met die son op twaalfuur het ek opgestaan om huis te kry vir dinnertyd, al
was ek min honger. Toe ek opkyk deur my huiloë, sien ek die Herder langs die
dampomp staan, met ‘n wit rok en leersandale en ‘n wandelstok. Nes die
muurprent in oom Ollie Keyser se gang. In my rou tel ek ‘n nabankklip op en
gooi na die Man van smarte.
Voor ek kon sien of ek tref, het ek weggehardloop. Want sou ek tref, sal die
groenstert werfhaan kraai en God se doring (toorn) sal in my sagte voetvleis
steek. In my kop het ek klaar soos Judas in die seringboom voor die
melkkamer gehang.
Dit was meer as 40 jaar terug. In die tussenjare het ek op vele bebroeide
eiers afgekom. Dooie katjies begrawe; papierbootjies sien weghobbel. God
dikwels langs die dampomp sien staan en my hand uitgesteek vir ‘n klip.
Verspeelde kanse. Misverstande. Verwronge konsepte. Waters wat verby is en
waarmee die meule nooit weer sal maal nie. Soos Old Blue Eyes sing:
Regrets, I’ve had a few …
Noudat ek nie meer dink soos ‘n kind nie, begin ek verstaan dis nie die
waters wat verby is wat tel nie. Wat tel, is die waters wat nóú verbyloop en
dié wat nog kom. Soet of bitter. Troebel of helder. Net ek hanteer die graaf
en stuur die leiwater land-in na die dor akkers van my berou en leedwese.
Soms sal ek teen hanekraai verslaap en my leibeurt verpas. En niks waarborg
dat die leivoorwal nie soms sal padgee nie.
Tog, êrens by die dampomp staan ‘n alwyse Skans om my rugkant te bewaak.
Regrets, I’ve had a few … But then again, I did it my way ...
Gaan kyk gerus by hierdie internet boekwinkel, daar is fantastiese ou boeke
(in Afrikaans ook!),
ek sal my kredietkaart hier lekker kan verniel!
Klik hier en gaan kyk rond.
Met elke uitgawe fokus ek op 'n
Afrikaanse webwerf.

Iemand wat in Melbourne woonagtig is
stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's
op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere.
Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik
toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle
self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons
Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek
BAIE DANKIE
Woorde: CHRIS LAMPRECHT
Musiek: CHRIS LAMPRECHT
Baie dankie! Baie dankie!
Baie, baie, baie, baie dankie
vir die vriend'likheid, baie dankie!
Baie, baie, baie, baie dankie
vir die hart'likheid, baie dankie!
Baie dankie, baie dankie
vir al die vriend'likheid.
Baie dankie! Baie dankie!
Wat's nuut op
Kalie se Boeremusiek webwerf?! Ons het nou 'n eie domein - dis nou vir
die wat nie die blad onlangs besoek het nie. Gaan loer gerus by
http://kalie.boeremusiek.net
Kalie het ook onlangs begin om DVD's te maak en is tans besig om die
destydse Boeremusiek kompetisies wat op TV aangebied was op DVD
beskikbaar te stel. Klik op die skakel vir DVD's op die webblad
(
http://kalie.boeremusiek.net/dvd.html ) om te sien wat reeds te koop
is. Ons het egter reeds meer DVD's omdat Kalie ook privaat DVD's maak en
onder andere heelwat van Nico van Rensburg se TV en ander optredes nou
op DVD het.
Polkadraai, die nuusbrief van die Pretoria Tak van die Boeremusiekgilde
sal van nou af ook op die web bekikbaar wees (Wia is die redakteur van
hierdie nuusbrief). Gaan loer by
http://polkadraai.boeremusiek.net as u belangstel om u naam op
die poslys vir hierdie nuusbrief te kry. Ouer weergawes van die
nuusbriewe sal binnekort geplaas word.
Agterpad Reisnotas - versamel deur Braham van Zyl |
Ek luister mos
een Saterdagoggend na Amoré Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met
Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een
van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres
onderaan die artikel) Hy stuur 'n 'n gereelde nubrief uit.
‘N DUBBELLOOP KERSBLAKER op
Kanoneiland: Noord-Kaap
DIE storie van Tintel se Winkel en die kersblakers, wat nou so 'n tyd
gelede daar op Kanoneiland in die Oranjerivier afgespeel het, moet vandag
vertel word. Al klink dit miskien so, is hierdie geen feëverhaal nie. Dis
eintlik maar net so 'n paar reisaantekeninge waardeur die skrywer so ietsie
oor hierdie baie besondere eiland daar naby Upington in die Noord-Kaap wil
vertel.
Kanoneiland is een van vele eilande wat in daardie deel van die Oranjerivier
lê. Ek word vertel dat dit die grootste bewoonde eiland in 'n rivier in
Suid-Afrika is. Ry jy in die wintertyd - wanneer die rivier laag loop -
padlangs sal jy nie sommer die eilande raaksien nie. Dan lyk diit eintlik
maar net asof jy tussen 'n klomp landerye deur ry. Kom die rivier egter die
slag af, is dit 'n heel ander saak. Dan werk al wat 'n hand is oortyd om die
keerwalle wat om die eilande is, gepak te kry sodat die inwoners teen die
aanstormende watermassa beskerm kan word.
Dit is ook interessant om te sien hoe die woongebiede op die hoër gedeeltes
van die eilande staan. Dis so 'n soort van boere-dorpie model wat jy daar
sien. Weens die vloedgevaar moet hulle almal op 'n hoop op die paar hoë
kolletjies wat daar is, gaan saamwoon. Kanoneiland se huise, kerk, skool en
Tintel se Winkel staan op een van daardie hoogtes.
Ek het gedurende Julie een agtermiddag met 'n klompie toeriste daar aangery,
want ek wou graag vir hulle gaan wys hoe 'n rêrige outydse plaaswinkel lyk.
Dis nou daardie soort waar jy nog hierdie kant van die houttoonbank staan en
jou winkellysie vir die een aan die ander kant van die toonbank gee. Dié
haal dan alles van die rakke - wat van die vloer tot teen die dak strek - af,
pak dit in 'n boks, skryf die pryse van jou items op jou lysie in, tel dit
op en laat jou dan betaal. Eers daarna word die persoon wat na jou die
winkel ingekom het, gehelp.
Die Tintel waarna die winkel vernoem is, is Tintel van den Heever. Sy staan
self nog agter die toonbank, maar sy sê sy dink darem al aan aftree. Toe ons
die dag daar instap, het die vroue so een en ander gekoop. Eintlik het dit
maar meer om die kyk gegaan, soos dit mos gewoonlik met vrouens in 'n winkel
gaan. Skielik vra een of Tintel dan nie gewone outydse kersblakers het nie.
"Ja", sê sy en begin rondsoek tussen alles wat daar rond staan en hang.
Toe sy uiteindelik onder 'n rolle materiaal, wat bo-op die vertoonkas lê,
uitbuk, staan sy met 'n knalrooi dubbelloop blaker vir twee kerse in haar
hand. Iets soos 'n kanonskoot het skielik die winkel getref. Almal, ek
inkluis, het op haar afgestorm, want dié besondere blaker wou ons hê. Só kom
dit toe dat 'n stuk of vyf van ons dié dag trots elk met 'n baie besondere
blaker daar van Kanoneiland af wegry.
Dit was egter nie die einde van die middag se kopery nie, want Tintel se
dogter, Maryna, vertel ons toe dat ons net oorkant die rivier teen die
heuwel van die Oranjerivier-streek se wyne kan gaan koop. Na heelwat proe is
die waentjie nog swaarder gelaai. Bolanders wat gedink het net hulle streek
kan goeie wyne oplewer, moet gerus by een van die Oranjerivier se vyf
kelders gaan aanry. Die ouens daar vertel dat hulle saam 'n parskapasiteit
van sowat 110 000 ton het. Dis ook geen wonder nie, want meer as 10% van
Suid-Afrika se wingerde word langs die Oranjerivier aangetref.
Net toe ek dag ek kon ry, sê die vrouens hulle wil nog by die
vrugtepakstoor langsaan ook aanry. 'n Vriendelike assistent sluit oop en
daar laai ons toe 'n hele 20 kg se dadels wat by Klein-Pella verbou word,
ook in. Genadiglik het die son toe begin sak, want was daar meer tyd sou ek
'n lorrie moes huur om ons aankope in die Kaap te kry.
Dat daar nog baie op Kanoneiland te sien en te beluister is, is seker.
Volgende winter gaan ek terug daarheen. Ek sal graag wil gaan verneem wat
die Kanoneilanders sê waar hulle plek se naam vandaan kom en ek sal graag
wil hê dat hulle my moet vertel hoe dit dan gekom het dat al daardie
pragtige wingerde en landerye wat vandag daar is daar tot staan gekom het.
Dis egter 'n storie vir volgende jaar.
Skryf vir Braham
en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings
direk van hom af!
e-pos : info@explore-sa.com
Luister elke Saterdagoggend
net na die agtuur nuus op die Afrikaanse radiodiens van RSG na Braham
van Zyl en Amoré Bekker se agterpad geselsies op die program Brêkvis
met Bekker.
Een dag sien 'n man wat al vir tien jaar op 'n eiland gestrand is
iets aankom op die horison. Hy kon nie uitmaak wat dit is nie tot daar op
die ou end 'n ongelooflike mooi Blond uit die branders opstaan met 'n
duikpak en al die toerusting.
Sy staan nader en vra " Wanneer laas het jy 'n sigaret gerook?" terwyl sy 'n
pakkie Camel en 'n sakvlam uit 'n waterdigte sakkie van haar duikpak haal. "Tien
jaar!" sê hy terwyl hy 'n sigaret aansteek en behaaglik stadig sy longe vol
trek. "En wanneer laas het jy 'n goeie dop bourbon gedrink?" vra sy terwyl
sy vir hom 'n glasie skink uit die botteltjie wat sy uit 'n ander sakkie
haal. "Hemels - dit was tien jaar" sê hy terwyl hy die drankie stadig drink.
Terwyl sy die rits van haar duikpak stadig oopmaak sê sy met 'n baie
verleidelike stemmetjie ". . . En wanneer laas het jy 'n bietjie rondgespeel?"
Terwyl hy van opgewondenheid op en af spring en sy hande vryf sê hy :
"Dis ongelooflik! moenie vir my sê jy het nog 'n golfstel ook daar iewers
weggesteek nie!"
Seuntjie vra:
Hoekom het tannie nooit getrou nie?
Ag, sê sy, ek het 'n papegaai, 'n hond en 'n kat.
Saam is hulle nes 'n man.
Die papegaai vloek, die hond poep en die kat loop saans rond. |
|
|
Ek is
betrokke by hierdie inisiatief van Elsabé, kyk tog asseblief of julle nie
ook 'n bydrae kan maak nie, besoek ook hulle
webwerf.
Hier is nuus van Elsabé:
Goeiemôre vriende,
Dankbaar om vanoggend te kan sê dat die groot vure doodgeslaan is danksy
donasies van ons ondersteuners.
Groot was my vreugde toe dieselfde jongman wat verlede jaar ons ook uit die
nood gehelp het bel en sê "Hoe laat gaan ons kruideniersware koop"!!! 2
Bakkies propvol kruideniersware is voorwaar 'n "Blessing" en terwyl ons die
trollies propvol laai, sing my hart met die wete dat ons Vader so getrou is!
- Dankie, dankie, dankie.
Intussen kon ons ook kruideniersware versprei na almal wat nodig gehad het
en het ons nog oor tot volgende Vrydag. Ons kan gelukkig ook ons
verpligtinge hierdie maand nakom soos die lone vir die kleuterskool,
skoolgelde ens. - baie dankie aan almal wat gehelp het.
Ongelukkig is kruideniersware soos 'n bodemlose put! - jy spandeer duisende,
versprei tonne kos en kan na 'n tyd niks sien nie!! Maar tenminste weet ons
dat die kinders en bejaardes kos gekry het en met 'n vol magie kan gaan
slaap.
BLOUDAKKIES OUETEHUIS
Verlede week het 'n dame wat ons al amper 4 jaar ondersteun bestandele vir
"hotdogs" geskenk en kon die bejaardes by Bloudakkies elkeen 2 lekker vars
warmbrakke kry! - Baie dankie dit was amper 'n krisis! Gister het die
bejaardes heerlike wildsvleis en groente gekry wat ook 'n lieflike donasie
was - baie dankie.
By Bloudakkies ouetehuis is twee dames oorlede, die een tannie was al baie
oud en bedleênd en die ander een is tragies in 'n ongeluk dood, saam met
haar swanger skoondogter, kleindogter en nog 'n man! al 4 was opslag dood.
Dit was werklik 'n hartseer 2 weke by die bejaardes!.
ANDEON PROJEK
Hier wikkel en woel dit! Groot nuus is dat Arnold 'n kerk gebou het wat nou
so 80% klaar is! Van oral oor kom daar Sondae mense om na die woord te
luister - en sommer Sondagskool ook vir die kleingoed in 'n tent! Wat 'n
genade - tydens ons besoek daar Saterdag was dit weereens 'n riem onder die
hart om te sien hoe trots die inwoners op hulle huisies is! Dit is
silwerskoon - jy kan letterlik van die (grond)vloer af eet! Die tuintjies is
pragtig met groente sommer so tussen die beddings.
Elke inwoner het ook sy eie groentetuin met skadunet daaroor - en nou en dan
word daar 'n "Tuinkompetisie" gehou en word die beste tuin beloon met 'n
prys!
Hierdie "grondpad projek" van my het 'n trots en vreugde geword! - Alles te
danke aan ons Hemelse Vader!
Hulle benodig draad om hulle huisies/erwe "af te kamp" - so as iemand dalk
'n rol draad het wat rondlê - gooi maar oor asb.
Verder kort ons dringend nog sinke daar. Die huis met die gesin van 6 se dak
kort nog 'n hele klomp sinke - groot asb.
Onthou asb altyd vir Arnold in julle gebede - hy het 'n hart van goud en
tonne geduld!
PRES. KRUGER KINDERHUIS OORLEWINGSKAMPE
Hier het die Here ook weer sy seëninge oor ons uitgestort! Ons het 'n borg
gekry wat al die kinders geborg het!!!
Ek weet nie of julle ooit sal besef hoe dankbaar mens voel as sulke
wonderwerke gebeur nie! BAIE, BAIE DANKIE
Al wat ons nou vir hulle kampe bymekaar moet kry is die bederfies. Ons het
fondse nodig vir die volgende:-
Daar is 65 kinders
Toiletware
T-hemp
Hoedjies
Sonblok room
Drimack
Bybel
Notaboekie en pen
Lekkergoedpakkies vir die bus. (x2 per kind)
Koeldrank
Die dogters kamp volgende naweek 9/10/11 Maart 2007
Die seuns kamp die naweek daarop 16/17/18 Maart 2007
PAASFEES
Soos in die verlede is dit altyd lekker om 'n pakkie met paaseiers en
lekkertjies vir die kinders te gee. Ons moet ook nou al begin bymekaar maak
want ons het honderde paaseiers nodig!
KLERE
Ek is seker dat die dames nou al begin dink aan nuwe wintersklere!! - onthou
ons asb wanneer julle die klerekaste ruil. Ons het werklik baie klere en
huishoudelike items nodig wat in 'n goeie werkende toestand is.
KRUIDENIERSWARE
Ons het altyd kruideniersware nodig. Onthou ons maar asb wanneer daar
kruideniersware gekoop word -elke blikkie kos wat ons kry help om die honger
te stil.
BELASTING VERLIGTING
Soos in al die vorige briewe - ons is geregistreer en kan 'n
belastingkwitansie vir donasies uitreik. Daar is nog kans vandag vir 'n
donasie - help ons asb om die minderbevoorregte mense te kan help.
Indien u vir 'n kwitansie gevra het maar dalk nog nie ontvang het nie -
herinner my asb met die volle besonderhede. Ek pos dit nog hierdie week.
Dit dan die nuus - weereens dankie aan almal wat ons getrou bystaan.
Mooi week
Elsabe
Bankbesonderhede:
Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926
Aflewerings adres:-
286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za
PS Bel asb voor jy ry
Vergelyk die rederye, kry die billikste pryse en bespreek dan
hier
.
Aartappel Pannekoeke
Bestandele:
5 Medium Aartappels gerasper
2 eiers geklits
1ui gerasper
250 ml meel
5ml bakpoeier
75 ml melk
150 ml olie
Metode:
Meng eier sout & peper met die gerasperde uie
Sif meel & bakpoeier by
Voeg dan die melk dan die olie by die mengsel en meng goed
Voeg die aartappels
Dik beslag, gebruik 2-3 lepels vol vir een pannekoek.
Die resep kan ook dubbel aangemaak word ( vir 6-8 persone as jy dit dubbel
aanmaak)
Deeg skelmpies
1 1/2 kop. meelblom.
1/4 tl. sout.
1 1/2 tl. bakpoeier.
peper.
1 eier.
1 kop. melk.
Klits eiers en melk goed. Roer stadig by meel, sout en bakpoeier. Doop
stukkies hoender of enige koue vleis daarin en bak in warm olie.
Kaasstrooitjies
3 kop. meelblom.
1 tl. sout.
250 g. ( 1/2 lb. ) gerasperde cheddarkaas.
250 g. ( 1/2 lb. ) margarien.
3 tl. bakpoeier.
1/2 tl.rooipeper.
Rasper kaas. Meng botter, meel en al die ander bestanddele saam. Kaas laaste
by. Maak aan met water of melk tot stywe deeg. Rol dun uit en sny in repe.
Bak teen 230 Grade C tot ligbruin.
Karringmelk sjokoladekoek
2 kop. meelblom.
1/2 kop. botter.
1/2 kop.warm water.
2 eiers.
1 tl. kremetart.
1 tl. koeksoda.
1 1/2 kop. suiker.
1/4 kop. kakao.
1/2 - 1 kop. karringmelk.
2 tl. vanielje.
sout.
Sif droê bestanddele. Klop smeer en suiker tot room. Voeg goed geklitste
eiers by en dan kakao gemeng met warm water. Voeg droê bestanddele om die
beurt met melk by. Voeg vanielje by. Bak vir 20 - 30 minute ( of langer )
teen 180 Grade C.
Vir 'n groot koek verdubbel bestanddele.
Kondensmelkkoekies
685 g. meelblom.
455 g. botter.
4 tl. bakpoeier.
1 blik kondensmelk.
1 tl. suurlemoengeursel.
1 kop. strooisuiker.
sout.
Room botter en suiker en voeg kondensmelk by en meng goed. Sif meelblom,
bakpoeier en sout en voeg by botter mengsel. Smeer pan en skep teelepelsvol
in pan en bak teen 190 Grade C vir + - 12 minute.
Yskaskoekies
2 pk. tennisbeskuitjies.
1 x 250 g. margarien ( gesmelt)
1 blik gekookte kondensmelk.
1 pk. versiersuiker.
1 dl. koffie - ekstrak.
1 dl. vanielje.
okkerneute.
Meng alles saam behalwe beskuitjies & okkerneute. Breek beskuitjies in. Druk
vas in gesmeerde bak. Strooi gekapte okkerneute oor en plaas in yskas.
Wanneer gestol, sny in blokkies. Die koekies kan lank gebêre word.
Roosterkoek
( Heerlik met braaivleis.)
2 kop. meelblom.
1 tl. koeksoda.
2 onse botter.
1/2 tl. kremetart.
1/2 tl. sout.
dikmelk.
Sif droë bestanddele saam. Vryf botter daarin. Meng met melk tot 'n sagte
rolbare deeg. Rol 'n halfduim dik uit en sny in reghoeke. Plaas op 'n
gesmeerde plaat of rooster oor kole. Bedien warm met botter.
Kaneelbolletjies
50 ml. gladde appelkooskonfyt.
125 ml. ( 1/2 kop.) margarien.
5 ml. ( 1 tl.) koeksoda.
25 ml. ( 5 tl.) kookwater.
375 ml. ( 1 1/2 kop.) koekmeelblom.
knippie sout.
Stroop :
330 ml. witsuiker.
500 ml. ( 2 kop.) kookwater.
12 ml. ( 2 1/2 tl.) fyn kaneel.
Voorverhit oond tot 180 Grade C en smeer 'n kleinerige oondbak met botter of
bespuit met kleefwerende kossproei. Meng konfyt en margarien deeglik. Los
koeksoda in kookwater op, voeg by konfytmengsel en meng. Sif meel en sout by
en meng tot 'n deeg. ( Dis 'n baie sagte deeg.) Skep teelepelsvol van die
mengsel in voorbereide oondbak. Verhit suiker, kookwater en kaneel oor lae
hitte tot suiker gesmelt is en bring tot kookpunt. Giet warm stroop oor
bolletjies en bak ongeveer 25 minute lank. Sit warm voor met roomys.
Genoeg vir 4-6 mense.
Ystervarkies
Hierdie is 'n staatmaker
350g (625ml) Bruismeel
7ml bakpoeier
1ml sout
125g botter of margarien
250g (325ml) suiker
4 eiers
Stel oond op 200C (400F) en smeer twee bakpanne van 18 x 28 x 3cm. Sif
bruismeel, bakpoeier en sout saam. Klop botter en suiker tot romerig. Klop
eiers een vir een by bottermensel en meng goed na elke byvoeging. Voeg
gesifde
bestanddele bietjiesgewys by en roer tot alles net gemeng is. Skep in panne,
maak gelyk en bak 15 - 20 minute. Keer uit op draadrak en laat afkoel.
Sny in blokkies van sowat 3 x 3cm.
Stroop
375ml kookwater
600g (750ml) suiker
1ml sout
15g (30ml) kakao
15g (15ml botter of margarien
5ml vanieljegeursel
400g (5 x 250ml) klapper
Meng kookwater, suiker, sout en kakao in 'n dubbel kastrol, oor kookwater.
Doop koekblokkies vinnig in stroop en sorg dat al sy vier sye bedek is. Rol
in
klapper en plaas op draadrak. Hou in koelkas.
Lewer 8-9 dosyn
Sooi brand:
1 mespunt magnesia in 'n half kelki water 3 maal op 'n dag.
Eet 4 of 5
amandels elke dag, dit help ook
Arm Mans Poeding
½ lb Flour
1 koppi suiker
1 koppi melk
1 yer
botter so groot as 'n yer
knypi sout
2 hoge telepeltjes "Baking Poeier"
Smeer 'n doek en strooi met meel. Maak di poeding an met melk, botter en yer,
sit in di doek, bind fas en sit dit in kokende water, kook fer 1 uur, sit 'n
bord in di pot foor jy die poeding insit anders gan dit fas sit. Di sous is
hiironder:
1 koppie wit suiker
1 yer
1 telepel flour
1 klontji botter
Meng alles, roer kokende water daarby, maak glad an met di water, laat net
opkook, haal af en gooi 10 druppels fannilla of limoen essens daar bij.
Resepte uit Anna se Kombuis |
Al Anna se resepte is in eBoek formaat en maak dus ideale
geskenke en word sommer met epos gestuur. Vir meer besonderhede,
klik hier
Iemand soek nou
die dag by my 'n resep vir Bar One Poeding, ek kry dit toe wraggies in een
van Anna se resepte eBoeke
OUTYDSE SOUSKLUITJIES
KLUITJIES
250 ml koekmeelblom
10 ml bakpoeier
2 ml sout
50 ml margarien / botter
1 eier
100 ml melk
SOUS
500 ml kookwater
25 ml margarien / botter
kaneelsuiker
Sif droë bestanddele
saam. Vryf 50 ml margarien in tot mengsel soos broodkrummels lyk. Klits eier
en melk saam, roer by meelmengsel in en meng tot 'n sagte deeg. Voeg nog
melk by indien nodig. Verhit water en 25 ml margarien tot kookpunt. Skep
lepelsvol deeg in kokende water. Sit deksel op en laat kook 15 minute.
Moenie deksel oplig terwyl kluitjies kook nie. Skep kluitjies met 'n
gleuflepel uit in 'n diep opskepskottel. Strooi kaneelsuiker oor. Kook water
waarin kluitjies gaar gemaak is weer. Voeg kaneelsuiker by en giet oor
kluitjies. Jy kan nog water byvoeg indien nodig.
st
se pitkos
Klik hier
om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Vyf
belangrikste dinge in jou lewe
Ek het vandag ‘n belangrike vraag om jou te vra. Wat is die vyf
belangrikste dinge in jou lewe? Dink ‘n oomblik hieroor na. Wat is dit
wat regtig saakmaak in jou lewe?
So baie mense verval in ‘n sekere lewenspatroon en groef sonder om na te
dink wat eintlik nou belangrik is. Kry jy tyd om stil te sit en ‘n
opname te maak watter dinge nou eintlik jou lewe sinvol en die moeite
werd maak? Eendag wanneer jy op die ouetehuis se stoep sit en terugkyk
op lewe, wat sal dit wees wat jy graag met jou lewe wou doen en bereik
het?
Dis nodig om soms uit die “rat race” te klim en weer te fokus op die
dinge wat in jou lewe belangrik is en wat inpas by die mens wie jy is.
Maak vandag ‘n lysie van vyf belangrike dinge wat werklik saakmaak en
jou na aan die hart lê.
Byvoorbeeld:
1. my kinders
2. my seevakansies
3. my eggenoot
4. gesondheid
5. geloof
of wat jy ookal op jou lysie wil sit.
Die volgende stap is om te bepaal hoe jy meer tyd, aandag en energie kan
gee aan die vyf dinge op jou prioriteitslysie. Jy sal graag meer van jou
lewenstyd hieraan wil gee, want dis die belangrikste dinge.
Terselfdertyd wil jy afskaal op minder belangrike dinge wat nie werklik
saakmaak en jou lewe verryk nie. Sny dus aan die tydmorsers in jou lewe
en kry jou fokus reg.
Byvoorbeeld: indien jou kinders op jou lysie is, sal jy vir jouself
afvra of jy genoeg tyd met hulle spandeer - genoeg kwaliteit en
kwantiteit tyd. Die tyd en aandag wat jy aan jou kinders gee, is dit
tekenend daarvan hoe kosbaar hulle in jou lewe is? Of aanvaar jy maar
jou kinders as vanselfsprekend rondom jou? Wys jou waardering en
erkenning aan jou kinders; beleef en geniet die voorreg om jou kinders
by jou te hê; lag saam met jou kinders en deel goeie oomblikke met hulle;
gebruik elke dag as ‘n geleentheid om ‘n stukkie bousteen in die
verhouding tussen julle te lê.
Nog ‘n voorbeeld: gesondheid. Vra jouself die vraag af wat jy doen om
hierdie belangrike item op jou prioriteitslysie die nodige tyd en aandag
te gee. Jou lewensstyl en – kwaltieit hang van jou gesondheid af. Gee jy
werklik genoeg aandag hieraan? Oefen jy gereeld, eet jy reg, skakel jy
slegte gewoontes uit? Dis eers wanneer jy jou gesondheid verloor dat jy
besef hoe ontsettend bevoorreg ‘n mens is om goeie gesondheid te hê.
Leef met groot dankbaarheid wanneer jy gesond is en pas jouself op.
Wat is die vyf punte op jou lysie? Watter ernergie, tyd en aandag gaan
jy vandag begin om daaraan te skenk?
‘n Sprankie wysheid vir die dag
“Jy is nie net verantwoordelik vir wat jy doen nie, maar ook vir wat jy
nie doen nie.” Laotse
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
Soek jy plek om te gaan kampeer?
Klik dan hier!
Skooltake??
Klik hier
Vakansieverblyf is altyd
'n probleem, dié mense maak dit makliker om te kry,
klik net hier.
Teken in /Teken uit / Kontak |
Teken hier
in op die poslys en lees ook die argiewe.
Om uit te teken, stuur vir my 'n
epos
en dui jou naam aan asook die eposadres waaronder jy ingeteken is
Kontak my
hier.
Druk jou speld op my besoekerskaart!
|
|