Onbeskaamd Afrikaans!

 
 

Nommer 116

Besoek my Webwerf

1 September 2007

 
 

Eg Afrikaans

Die Knoop

Ons Dorp

Woes

Vuurvlieg

Afriforum

Voortrekker Monument

Steve se Spoegblok

Blanke Ekonomiese Forum

PRAAG

Rieme

ATKV

 

Teken Besoekersboek

 

Vorige Nuusbriewe

Epos

Wees gegroet!

Welkom aan alle nuwe intekenare!

Ons is sopas terug van 'n lekker tweeweek rondryvakansie in die Kaap. Ons was bekommerd oor die weer aangesien ons elke aand op die weer net koue fronte gesien wat die Kaap tref, maar toe ons daar aanland was dit net mooiweer met een of twee bewolke dae.

Ek het 'n paar grootmaat kermisresepte onder die Resepte afdeling, gaan kyk gerus as julle binnekort kermis hou!

Net om te laat weet dat ek enigiets wat ek in my epos ontvang en wat ek voel hier geplaas kan word, dit plaas ek. As daar dalk kopiereg op is laat weet my, dalk haal ek dit af.

Nog geen Lotto nie? Probeer gerus die UK Lotto! Om 'n kaartjie te kry is maklik en veilig, ek is al meer as 'n jaar doenig met hulle en het nog nooit probleme opgetel nie. Hulle boerpot is nooit minder as 3 miljoen pond nie en die klein bedraggies wat ek al gewen het, het hulle in Rand in harde kontant (of tjek in pond) aan my uitbetaal. Klik hier om jou kaartjie te kry en droom GROOT.

Weereens het ek lekkerlees Afrikaanse artikels deur onder andere Estelle de Bruyn en Annelie Botes. Ek is seker julle sal dit geniet!  Ook is daar 'n insiggewende artikel deur Dr. S T Potgieter.

En onthou tog om my besoekersboek te teken? Hy was vir 'n hele tydjie aflyn maar is nou weer terug.

Peterjasie sê

Ek sien Manto bly in die nuus. My persoonlike mening is dat hulle die verkeerde minister afgedank het!

Ons het besluit om hierdie jaar vir die geloftefes op 16 Desember na die Bloedrivier-terryn te gaan. Ons woon gewoonlik die diens by die Voortrekkermonument by maar hierdie jaar gaan ons Bloedrivier toe. Ek sal volledig daaroor skryf met genoeg fotos ook.

Kaapstad Panorama. Toe ons innie Kaap was het ek 'n panorama foto van die onderste kabelspoorpunt by Tafelberg oor die stad genaam. Regs klik hier  om dit af te laai, jammer die son het nie geskyn nie.

Resepteboek

Die resepte-eboek waarmee ek nou al 'n rukkie mee besig is vorder heel goed.

Die boek sal resepte bevat wat vernoem is na mense, plekke en gebeurtenisse, as jy 'n bydrae kan maak, laat weet en jy kry 'n gratis afskrif sodra die boek gereed is.

Hier is die resepte wat ek sover het:

Patriot Koek, Patriot Poeding, Afrikaner Bond Koek, Jan Smuts-koekies, Jan Ellis poeding, Generaal De la Rey's koek,  Paul Krugerkoek, Vrystaatse Melktert,  Hertzoggies, Generaal Smutskoekies, Victoria Sponskoek,  Stormjaers, Ounooienspoeding, Ou Jonkmanspoeding,  Soldaatpoeding, Afrika's Koekiis, Boere Soetkoekies,  President Steyn-koek,  Koningin's Poeding,  Voortrekker Poeding, Oorlog Poeding,  Boerewors, Biduurtert, Bredasdorp poeding.

Anna se Kombuis

Ek beskou Anna Eksteen as die koningin va Resepte eBoeke in Afrikaans. Sy het nou al 'n hele versameling van resepte eBoeke wat enige kossoort dek, en dit in Afrikaans! eResepteboeke is goedkoop en geen posgeld is betaalbaar nie, die boeke word per epos gestuur en is in 'n japtrap by jou. Klik gerus hier en kyk na haar resepteboeke en bestel gerus een, of sommer 'n paar! As jy besluit om van haar boeke te bestel en jy noem dat jy daarvan hier te hore gekom het, sluit sy my Kampkosresepteboek gratis in!

Peterjasie skryf!

Nou en dan kry ek 'n bevlieging en dan probeer ek oot iets skryf. Ek kan nie sing nie, so ek probeer maar skryf! Ek hoop nie ek verloor teveel intekenare nie, laat maar weet wat julle dink!

Blou Plêstiek Pênty
Peter Thomas

Ek was onlangs per geleentheid twee keer in die hospitaal, een keer om ‘n gewas aan my bo arm uit te laat sny en die tweede keer vir ‘n angiogram.

Met die eerste prosedure meld ek aan by ontvangs en hulle stuur my na ‘n saal toe waar ‘n bed toegeken word. Toe moes ek al lont ruik, hoekom ‘n bed vir so ‘n klein prosesedure?

In alle geval, die verpleegster trek die gordyn om die bed en wys na ‘n hopie op die bed.

“Trek uit en trek aan “ Beveel sy taamlik streng. “Die jurk kom agterstevoor en maak agter vas.“

Ek bekyk die hopie op die bed. Daar is die jurk, en bo op is ‘n blou stukkie materiaal. Ek tel die stukkie blou materiaal op en vou dit oop en voel ek word koud. Dis dan ‘n pênty! Ek dra nie ‘n donnerse pênty nie, nog nooit gesien nie!
“Nurse” roep ek van agter die gordyn. Sy steek haar kop tusen die gordyne deur, sy is groot en swart, lyk soos die eerste van Zuma se agt vrouens, baie bedonnerd. Haar skof is amper klaar en sy wil huistoe gaan.

“Ek is hier vir my arm, hoekom moet ek die ding aantrek?”

“Dis prosedure, trek uit en trek aan!” en die kwaai gesig verdwyn.

Moedeloos bekyk ek die affêre. Dis blou en dis plêstiek, om die bene en middel is rek. Ek soek na ‘n etiket om te bepaal waar is voor en waar is agter. Geen etiket nie, ek is nie verbaas nie, geen ontwerper sal waag om sy etiket op so iets te sit nie. Die ding is dus “all side, same side”. Ek rek die middel oop en dit rek vir ewig, dis dus “one size fits all” ook! Dit sal vir Hilda van 7de Laan asook vir Saartjie Baartmann pas!

Ek besluit om saam te speel en trek die ding aan. Vinnig volg die jurk sodat niemand kan sien wat ek onder aan het nie.

Na die prosedure kan ek dadelik huistoe gaan. Ek raak so vinnig moontlik van die blou ding ontslae en hy beland in die snippermandjie. Dankie tog niemand het my gesien nie!

Twee weke later is ek weer terug hierdie keer vir ‘n angiogram. Selfde prosedure: “Trek uit en trek aan” en daar lê die hopie op die bed. Die keer gaan hulle by my lies werk, so die pêntie maak meer sin. Ek wonder net hoekon dit plêstiek is, gaan hulle my so seer maak dat hulle bang is ek maak die bed nat?

Ek trek jurk en pêntie aan en word teater toe gestoot. Hulle begin werk en kom agter dat die pêntie in die pad is. Geen probleem, ‘n skêr kom te voorskyn en ek ys. (Dis lokale verdowing en ek maak mee wat aangaan) Ek hoop net hulle werk baie versigtig met die skêr in daardie senstiewe area. Dis egter die pêntie wat dit ontgeld, deftig word hy weerskante van my heupe losgesny sodat die voorste en agterste gedeeltes los van mekaar is. Die voorste deel word nou saamgevat en met pleister teen my maag vasgeplak, ‘n soort van “reverse g-string” effek. So die ding is nogal veeldoelig ook! Ek hoop net alles wat moet toe, is toe.

Terug in die saal raak ek van die nou versnipperde pêntie ontslae en trek my eie onderklere aan.

Genoeg is nou maar eenmaal genoeg!

My voel Pete

Minette (julle onthou haar mos?) stuur my die volgende epos, ek plaas dit net soos ek dit gekry het want die inleiding is ook belangrik. Geniet dit!

Ek wil jou en die wêreld voorstel aan my pêl, Sarisa Swanepoel. Sy bly in Engeland iewers langs ’n krieket ovaal waar sy ma is vir Neo en girlfriend vir 'n lieflike jongman. Sarisa is een van daai girls oor wie jy net kan kopskud, so vol surprises is sy. Asof dit nie genoeg is dat sy 'n briljante regsgeleerde is nie, kan sy met daai kleine lyf die grootste meanste bike met gemak manouevre. Sy hou van party, filosofeer, die natuur, amok maak en vreugde op aarde. Wat ek nie geweet het nie, is dat sy eintlik 'n skrywer is. Lees wat kry ek Vrydag in my inbox:

My voel Pete
Sarisa Swanepoel

Ek weet nog nie om die twee dotjies op die voel te sit nie - tegnologiese analfabeet wat ek is.

My voel Pete is besig om in 'n allenige psigopaat te verander. Die mense langs ons wat op die ou end in een of ander housing estate ingetrek het na hy haar kort na die geboorte van die tweede op die wang gebyt het en sy histeries aan my deur kom klop het het besluit twee kinders is genoeg en kan nie meer vir Pete sorg nie.

Sy naam was nie Pete nie, en ek het vergeet wat hulle gese het sy naam is, wou hom eers Narsie noem omdat hy die heeltyd in sy spieel kyk, maar dis 'n engelse voel en omdat ek gehoor is as hy net een is kan hy leer praat en die ingelse nie r kan se nie, het ek besluit op Pete. Bunnyhugger wat ek is. Verstom om te sien die bure net voor hulle verniet iewers gaan bly het het nou 'n moerse groot papegaai gekry.

Pete wil nie aan al die goedjies eet wat ek by die petshop kry om sy dieet aan te vul nie. Hy kyk verstom daarna en kak daarop, ek koop toe by die Tesco vir hom 'n pak saad genaamd Trill. Nou, ek sou ook met groot moeite iets geeet het genaamd Trill. Dit lyk nou of hy effe hardlywig is en die uitskeisel bly aan sy stert sit - as ek dit probeer afhaal, vlie hy verwoed in die hok rond, verloor al sy vere dat dit in Hano se boks CDs in val, en klim dan in die waterbak in sodat die water so melkerig word. In die aand in die donker is dit makliker want ek dink hy is dalk nagblind.

Om Pete te verstaan het ek op 'n website ingeskryf Know your Budgie. Die vrou maak of budgies die antwoord is vir alle probleme en besing hulle lof dat die spoeg spat, maar gee net genoeg raad sodat jy eintlik haar  budgie
boek moet koop. Ek hoor hulle eet vrugte maar die aarbei het muf geword waar ek hom gehang het. Hy het die spanspek aangeval en ek het die vrugte poging toe maar gelos.

Ons het nie baie sukses met voels nie - staan eenkeer daar tussen 'n klomp grand vrouens met 'n coffee morning en die een kyk op en se - oh look there is a tit.... Die enigste tits wat ek ken het ek gesien die eerste keer in my oom se Scopes langs die toilet met sterre op, op die son se bladsy 3 en nou meer gereeld in die aand op Sky na 10, wanneer hulle enige verskoning soek om tits te wys. Ek leer toe ook die tit ken so mettertyd.

Die tit kom maak ook toe nes in ons dak op die tweede verdieping en ek en Hano staan een oggend en koffie drink buite toe 'n klein tit met 'n plop in my tamaties land. Geen voel word uit sy nes geskop op my beat nie, ek probeer toe eers die outjie voer met papppies wat ek gaan koop het spesiaal. Hy weier maar lyk sterk, ek google en sien mens moet kyk of jy hulle nie weer in die nes kan kry nie. Makliker gese as gedoen waarvan Hano kan getuig.

Ek het hom in die dak laat klim met die besem om die spinnerakke te  vermorsel, maar hy kan nie die nes sien nie, maar ons kan hulle hoor. Ek gaan leen toe die Moaning Myrtle bure (hulle baklei dag en nag) se lang lang uitrek leer, na ek my filantropiese missie verduidelik het. Dit werk ook nie lekker nie, en Hano besluit om 'n nes te bou van 'n lee melkplastiekbottel en 'n lang stok met ducktape. Hano glo aan duck tape en het selfs die Mondeor se bumper reggemaak met ducktape toe hy per ongeluk 'n fisant omgery het.

Die voel was skaars twee minute in die bleddie voelcondo toe hy weer uitspring - maar toe is die leer klaar teruggegee. Hy leun toe maar by die venster uit en sit die voel op die lysie neer en daar hardloop die outjie
in. Ons is verheug en vier dit dadelik. Na nog twee keer se uitval het die bure aan die anderkant se kat hom egter beetgekry en dit was die einde van hom. Neo dink hy lewe en vlieg buite rond en ek het nie die hart gehad om haar te vertel die outjie is saam met die res van die huisvuilgoed in die dumptrok opgelaai nie.

Ek dink nie ek is goed met voels nie. Ek moet vir Pete gaan haal buite-netnou gaan hy dood van te veel son.

(Tussen hakies, Sarisa, die ö is Alt + 148 - Peter)

Africana en ander boeke

Maroela Boeke en Tierberg Boeke - Laai gerus hulle nuutste katalogus af en kyk daardeur. Hulle het 'n besonderse versameling boeke. Ek het al self van hulle bestel en hulle diens is uimuntend. Regs klik hier om die katalogus af te laai

Blanke Ekonomiese Forum - Waar Blankes mekaar ondersteun

Die BEF het kennis gekry van verskeie studiebeurse en werksgeleenthede wat beskikbaar is, vir meer besonderhede, kontaknommers is hieronder.

Regs klik ook hier om die nuutste nuusbrief af te laai.

Sluit nou aan. Maak 'n verskil. Klik hier vir meer inligting

Kontakbesonderhede:
Mnr. Andre Groenewaldt – 082 633 2920 & landlyn: 012 548 6118
Mnr. George Pienaar – 082 338 3295
Faks: 012 548 7242

Boeremusiek baanbrekers

Hierdie gaan nou 'n gereelde item word. Ek is bly om te sien dat die Boeremusiek tradisie nog so sterk staan....

Nico van Rensburg


Nico het bykans 50 jaar gelede 'n Boereorkes begin en het nog steeds 'n Boereorkes! Wat 'n prestasie! Buitendien is hy soos Cora Bodenstein sê: "Nico is 'n 'gepolishde' konsertinaspeler"!
Nico was dan ook stigterslid en Hoof Uitvoerende Beampte van die Gilde vir 9 jaar! Nico was ook die enigste musikant wat die destydse TV kompetisie twee keer kon wen!

 

Bron: 15 Goue Jare:  1989-2004  Boeremusiekgilde  

Pasella

Ek het in my Engelse nuusbrief 'n resepte eBook vol Diabetiese resepte weggegee (meer as 500 resepte), dit was nogal heel populêr gewees. Ek gaan dit hier ook weggee, jammer dit is in Engels. Regs klik hier om dit af te laai. - (932kb)

Geskenke?

Peterjasie se Groot Afrikaanse CD

Ek het my mees populêre eBoeke op een CD saamgevat. Die Tradisionele SA Resepte, die Kampkosresepte, die Wille samies en die Boererate is almal daar. Die CD maak 'n ideale geskenk maar ook 'n besonderse aandenking.

Die CD verkoop vir R100, posgeld ingesluit, stuur vir my 'n epos vir betalingsbesonderhede

Estelle de Bruyn

Kom ons skop oudergewoonte af met Estelle se bydrae. Sy is verbonde aan die Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië. Kontak haar gerus, sy hoor graag van julle.

Ma se verjaarsdag

TANNIE Bokkie het vroegtydig laat weet. "Willemien, vanjaar doen jy niks, ons treat jou." Anders as ander jare is die eetkamertafel dus dolleeg toe ek op die vooraand van my Ma se 80ste verjaarsdag by haar huis kom. Dis net die Royal Albert teestel, die bont teestel wat sy toe hulle pas getroud was van my pa persent gekry het en die wit en groen teestel wat op die tafel uitgepak is.
Vrydagoggend tien uur toe gaan die ark se deure behoorlik oop en op ’n streep kom die tannies daar aan met verjaarsdagwense, persentjies en elk met die een of ander eetding. Dis melktert en peppermint crisp tert, jodetert en aspersietert, koeksusters en karameltertjies, krimpvarkies en gevulde poffertjies.
Hulle is almal daar, al die tannies wat so getrou elke jaar kom geluk sê. Tannies wat mekaar oor jare by die VLU, die sustersvereniging en met die gewerkery by die kerrie en rys tafel by die skool se atletiekbyeenkomste en oor meer as 30 jaar elke Sondag in die kerk leer ken het. Hulle kuier in paaiemente en soos die eerste sarsie groet, lui die voordeurklokkie en die volgende golf spoel in. Dominies Andries kom ook geluk sê, eet twee keer van die tannies se gebak tot groot vreugde van teenwoordiges. Tannie Lina, wat ’n paar jaar terug agter haar kinders aan Alberton toe getrek het, se dogter het haar spesiaal vir die dag deurgebring om te kom meemaak aan die vieringe. Tannie Anna het van Klerksdorp gery en vir haar kry jy nie stil as sy eers op dreef is nie. Sy vertel weer, soos verlede jaar, van haar hartaanval "en die dokters kan tot vandag toe nie uitvind wat fout is nie, maar ek is seker dit was ’n hartaanval" en van elke oorsese reis wat sy sedert 1955 onderneem het, hoe sy in Napels verdwaal het in die huurkarretjie en hoe hulle met die ferrie oor die fjords in Noorweë gereis het, die Amerikaanse vrou met die geil stem wat haar op die een toer in Griekeland so geïrriteer het. En nes verlede jaar luister almal maar aandagtig en maak of dit die eerste keer is wat hulle die stories hoor, want op dié ouderdom weet hulle is dit maar moeilik om ’n gehoor te kry om te luister.
Laat middag kom Oom Johan en Tannie Stienie ’n draai maak. Hulle het verlede jaar die huis waar hulle 40 jaar lank gebly het verkoop en ’n plekkie in ’n aftreeoord gekoop. Hulle kan nie uitgepraat raak oor hoe lekker dit is nie. Die ou groot kasarm van ’n huis mis hulle glad nie, nie vir ’n oomblik nie, maar al die goed wat in bokse gepak is met die trek, is nog nie uitgepak nie. "Willemien, jy moet jou huis opgee. Vir wat wil jy hier in die grote huis aanbly. Kom aftreeoord toe," sê hulle.
Toe ons uiteindelik donkeraand die voordeur toetrek toe die laaste mense weg is, sug ek en my Ma ’n slaak van verligting. So ’n 80-wordery kan ’n mens uitput. Ons was die skottelgoed, bêre die oorblywende koek en tert, trek ons pajamas aan en val stokflou in die sitkamerstoele neer vir nabetragting.
"Ek bly net hier waar ek is, tot ek nie meer langer kans sien vir die groot huis en die groot tuin nie," sê my Ma.
Dis reg met my, Mamma. Solank jy wil en kan, geniet jou huis en jou goedjies. As jy dan nie langer kans sien nie, maak ons twee ’n plan. Volgende jaar, as die Here wil, hou ons weer verjaarsdag daar om die groot eetkamertafel.

 

 

Click Here Now!

Click Here Now!

Dial Direct Insurance

 
  Annelie Botes  
  Nog 'n lekkerlees storie deur Annelie.  
 


‘n Loopgraaf teen die grofgeskut

Jare terug het ek en my ou gryskop Telkomman kontrak gemaak dat ek eerste kan doodgaan. Want ek nie wil agterbly om sy garage te sorteer nie.
As daar iets is waaroor hy soos ‘n valk waak, is dit sy garage. Omtrent sy kerk daardie. Synde ‘n tegniese man met ‘n passie vir masjinerie, is dit ‘n skatkis vir ons kompleks se gereedskaplose mans. Min dae dat hier nie iemand aangewaai kom vir skuurpapier of ‘n teël of jumpers nie.
Net jammer mens kan nie by daardie garage in nie. Nie as jy nie die morsekode verstaan nie.
Toe ons hier gekoop het, was dit omrede van die tandemgarage. Spasie vir twee motors. Maar daar’s selde plek vir ‘n motor. Want dis ‘n pakstoor en museum en oorlog-arsenaal. As jy tot by die werksbank wil deurdring, is dit soos die labirint wat die hasie moet loop om by die wortel te kom. Oral loop jy jou vas.
Op ‘n keer toe hy weg is vir werksake, soek ek ‘n hamer. En iewers in die doolhof steek ‘n drukspyker in my voet. Swetsend soek ek balans. Of die kontrepsie aanmekaar vasgemaak was, kan ek nie sê nie, maar met ‘n donderslag lê ek begrawe onder ‘n trapleer, ‘n tyre waarin hy aartappels geplant het, ‘n kniplose koffer vol legkaarte en ‘n geskeurde donskombers.
“Jy moet hierdie blerrie plek regpak,” tier ek toe hy terugkom. “Ek kon dood gewees het!”
“My garage ís reg. En jy wíl mos eerste doodgaan.” Vergramd. “Kyk bietjie,” en hy swaai sy vinger so alomheen, “dis omtrent alles jóú scrap.”
Dae lank het ons mekaar begluur. Toe hoor ek hom een Saterdag timmer aan ‘n vals plafon waarop hy die planke-vir-eendag kan bêre. Ek neem versoeningskoffie en halleluja toe ek sien hoe word twee matrasse opgehys. Kroegstoele. Louis L’Amours. Tweeplaatstoof. Rakette. Gekraakte baba-bad vol verfblikke. Voëlhok. ‘n Emmer droë proteas. ‘n Bos hadida-vere.
Daardie aand slaap altwee die motors onderdak.
Kwalik ‘n winter later soek ek ‘n prentraam wat iewers móét wees, en die plek is weer in ‘n wirrelwarrel. Behalwe vir die bygekome vrieskas, motorfiets, saagbank, bergfiets en luidsprekers, is my ou gryskop ‘n man vir ‘n garage-uitverkoping.
“Luister net hier,” en hy laat ‘n stemvurk tieng teen die braaivleisbak.
Ek luister kwansuis, en loer wat is nóg in die boks. Wat wil hy maak met ‘n leë vioolkis, ‘n vinknes, ‘n vergeelde bundel Schumann-liedere, gemufte army-bootse, ‘n stapel seven singles en ‘n 1978-almanak?
“Alles in die boks vir R20. Die Schumann-goed is joune.” Hy raak verterend aan my wang. In die agtergrond speel Don’t forget to remember me op die radio-stellasie wat teen die muur gemonteer is. “Toe gee die ou my dié by,” en hy wys ‘n winkelhaak wat sweerlik uit Simon van der Stel se tyd aankom.
Aldus het ons maar ons woele gewoel oor die pakhuis-loopgraaf-argief. En as die woele te wild raak, verdwyn hy garage toe en pak heeldag reg, sonder dat mens kan sien enigiets is reggepak.
Soms het ek skuldig gevoel oor die manne wat kom leen en op verfdromme in die garage sit en bier drink en mans-geselse uitpak, asof dit die geselligste nessie op aarde is. Not-to-worry oor die chaos.
Tot die dag toe my vrede oor die garage gekom het.
‘n Wintersdag gewees, snerpend en nat. Maar hy wil opsluit garage skoonmaak. Middeloggend onthou ek dis die dag is waarop sy pa 90 sou word. En daar kom lê ‘n pynkolletjie in my hart. Vir sy onthalwe. Jou pa is jou pa; niks kan dit verander nie en niks kan die leëkol weer volmaak nie.
Ek vat ‘n beker groentesop, staan na hom en kyk waar hy kop-in-die-hande op ‘n verfdrom in die hoekie agter die saagbank sit. Dis waar, ‘n man kan nie huil soos ‘n vrou nie. Hulle huil anders. Swaarder. Binnetoe.
Ek het stilweg omgedraai. Want toe weet ek: ‘n Man moet ‘n loopgraaf hê waar hy kan koes vir die lewe se grofgeskut. ‘n Waenhuiskerk vir bid. ‘n Jabbokdrif vir worstelinge. ‘n Kerkhof vir begrafnis hou.
En hy mag sy bomskuiling inrig soos hy daarmee veilig voel.

Webwerf Soeklig

Met elke uitgawe fokus ek op 'n Afrikaanse webwerf.  

Afrikaanse Lied

Iemand wat in Melbourne woonagtig is stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere. Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek

DIE MANNETJIE

Woorde: JAN POHL
Musiek: JAN POHL; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS

Daar onder in die vlei stap 'n mannetjie;
hy is so klein en so skraal.
Hy swaai 'n ou klein koffiekannetjie
en stap na sy werk vir die honderdste maal.
Langs die bome en blink watervore
sing hy so ver as hy gaan,
want gister is 'n baba gebore,
en hy is die vader daarvan.
Sy naam is Bart Kasper de Kompaan;
hy dink aan 'n naam vir sy seun.
Freek Jasper en Sarel kan dalk gaan,
maar Gotliep Antonie staan hom beter aan.
Ongelukkig verwag sy ou vader
dat die kind na sy oupa moet heet:
Jan Donderdag van Gorrelberg van Staden
en daarby Kasparus Bart Keet.

Kopiereg (1951) van teks en melodie: Die Musiekuitgewers-Maatskappy van Afrika, Presidentstraat 161, Johannesburg.
Boeremusiek ens.

Wat's nuut op Kalie se Boeremusiek webwerf?! Ons het nou 'n eie domein - dis nou vir die wat nie die blad onlangs besoek het nie. Gaan loer gerus by http://kalie.boeremusiek.net

Hierdie webblad is spesifiek daarop toegespits om die: Versameling...Bewaring...en Uitbouing...van Boeremusiek aan te spreek.

Boeremusiek in Beeld

Die volgende DVD's is splinternuut op die rak en kan bestel word vanaf Alfa Ateljee:

Bestellings kan geplaas word deur slegs die DVD nommers vir die betrokke DVD's wat u wil bestel op een van die volgende wyses aan ons te verskaf:
Per epos
Posbestellings: Alfa Ateljee, Posbus 2615, Montanapark, 0159
Faks Stuur na: +27 12 548 5654
Selfoon Skakel vir Kalie by 082 578 8907

DVD Nr Titel
001 Boeremusiek in Beeld: Die Lydenburg Vastrappers
002 Boeremusiek in beeld: 1986 TV Kompetisie Deel 1
003 Boeremusiek in beeld: 1986 TV Kompetisie Deel 2
004 Boeremusiek in beeld: 1986 TV Kompetisie Deel 3
 
Agterpad Reisnotas - versamel deur Braham van Zyl

Ek luister mos een Saterdagoggend na Amoré Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres onderaan die artikel) Hy stuur 'n 'n gereelde nubrief uit.

DABATSGAT, KOGELBAAI: Wes-Kaap
DABATSGAT is ‘n grot of skeur net langs die sandstrand van Kogelbaai aan die Valsbaai kus. Reisigers wat met die Clarens Drive kuspad tussen Gordonsbaai en Bettysbaai ry, ry by Kogelbaai verby. Dis waar daar gewoonlik van die pad hoog bo die strand so baie branderplankryers te sien is.

Andreis Bosman van Somerset-Wes, vertel meer van Dabatsgat:
“Hierdie verhaal speel lank, lank gelede af en is deur die drie broers, Paul, Japie en Boy Bredell aan my vertel. Hulle het vertel dat veediefstal in die ou dae hoogty gevier het in die Hottentots-Holland omgewing. Die boere het gesukkel om hierdie euwel uit te roei, want die skuldiges is selde gevang.
Eenkeer het die spoorsnyer die spoor tot by Kogelbaai gevolg, maar daar het dit verdwyn. Wat hulle nie geweet het nie, was dat daar by Kogelbaai ‘n grot teen die steil bergwand was wat net met laagwater bereik kon word. Die bende veediewe, onder die leiding van die baie geslepe Dabat, het goed van hierdie natuurlike skuilplek gebruik gemaak.
Hulle is dus met laagwater oor die strand die grot in en dan het die inkomende gety hulle spore op die strand doodgevee. Dabat en sy trawante is egter later uitgevang en gestraf.
Die naam “Dabatsgat” leef tot vandag voort, maar min mense weet waar die naam vandaan kom.

Skryf vir Braham en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings direk van hom af! e-pos : info@explore-sa.com

Glimlag!
 
 
Jannie kom van die skool af en sy vinger kan nie buig nie.
Oupa sien die lot en vra: "En toe Jannie, as jou vinger nou so styf staan?"
"Nee, Oupa," sê hy, "ons was in die chemieklas en die konkoksie wat ons gemeng het, het op my vinger gekom. Nou sal dit 24 uur neem om uit my sisteem te kom.
"Jannie dink jy jy sal dit weer kan doen, ek meen om die konkoksie te meng?"
"Ja, sekerlik Oupa, hoekom?"
"Nou Janne-man, bring vir my 'n bietjie daarvan en ek gee jou R20-00."
Volgende dag kom Jannie weer van die skool af met sy konkoksie en gee vir Oupa.
Die volgende môre sê Oupa: "Hier Jannie, soos ek belowe het."
Jannie maak die koevert oop ... maar daar is R40-00 in.
"Nee, Oupa, hier is 'n fout. Hier is meer as R20-00!"
"Nee wat Jannie, dit is reg. Ouma het ook so 'n ou bydraetjie gemaak."

 

Laat jou wildste drome waar word, kry 'n kaartjie in die UK Lottery, klik net hier  Die boerpot is gereeld om en by  £11 miljoen, ( R140,000,000), sjoe, dis darem maar baie nulle!! Maar dis nog NIKS! Die Euromillions Lotto staan huidiglik op 181 miljoen Euro, dis om en by R1,719,500,000. Eishhhhhh. Vat 'n kans, wie weet???

     
  Die Danville Hulpgroep  
     
 

Ek is betrokke by hierdie inisiatief van Elsabé, kyk tog asseblief of julle nie ook 'n bydrae kan maak nie, besoek ook hulle webwerf.  

Bankbesonderhede:
Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926

Aflewerings adres:-

286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za

PS Bel asb voor jy ry
.

Resepte

Dis nou die tyd van kerkbasare, kermisse en familiefeeste en ek word gereeld gevra vir grootmaat resepte, hier is 'n paar vir julle volgende kermis.

Wenke vir grootmaatresepte

Vla: 1 liter is genoeg vir 10 persone (100ml vlapoeier + 6 e suiker per 1 liter melk)
Mengelslaai: 1 slaaikop vir 33 persone
 1 komkommer vir 24 persone
 1 pynappel vir 25 persone
:driekwart kas tamaties vir 100 persone
Maalvleis : 1 kg vir 10 persone
Beestong : 12 - 16 tonge per 100 persone
Rou vleis met been : 250 g per persoon
Rou vleis sonder been: 125 g per persoon

Vir 100 persone, gebruik die volgende hoeveelhede:
Pynappels in blokkies : 20 pynappels
Pynappels in skywe : 10 pynappels
Brokkoli : 17,5 kg (gaar)
Kool, gekerf : 12,5 kg (gaar)
Wortels : 13 kg gaar
Blomkool : 25 kg gaar
Komkommers : 6,5 kg
Kropslaai : 8,5 kg
Sampioene, gekap : 4,5 kg
Groenertjies : 25,5 kg
Groen rissies, gekap : 4 kg
Aartappels, geskil : 19 kg
Tamaties, ongeskil : 10 kg
Visfilette : 15 kg
Rys rou : 1 k vir 6 - 8 persone
Pannekoek : 1 k meel maak 6 pannekoeke

Dranke:
Wyn 1 bottel - 6 glase
sjerrie en port 1 bottel - 16 - 20 sopies
whiskey, brandewyn, jenewer 1 bottel - 21 - 22 sopies
likeur 1 bottel - 20 - 24 sopies
bier 1 groot bottel - 4/250 ml glase
koffie swart klein koppies - 6 koppies op 500 ml
koffie wit groot koppies - 3 koppies op 500 ml
melk 20 koppies tee op 500 ml
suiker 500 g vir 25 persone
sop 4 koppies op 500 ml

Vingerete:
Klein worsrolletjies 2 per persoon
klein worsies 2 per persoon
frikkadelle 2 per persoon
vol-au-vents 2 per persoon
kaasstrooitjies 6 per persoon
gevulde eiers 1 eier per persoon
toebroodjies 2 snye per persoon (24 snye uit 1 brood)
oopbroodjies 2 snye per persoon

Buffetete:
500 g gesnyde koue vleis 6 - 8 porsies
(Ham, soutvleis)
souttert (200 - 250 mm) 12 porsies
aartappelslaai 1 - 1,5 kg aartappels = 10 porsies mengselslaai 1 slaaikop, 1 bos seldery, 250 g tamaties, 2 hardgekookte eiers, bossie pietersielie = 6 porsies
koekvlapoeding 6 porsies (1 liter)
room 6 - 8 porsies = 125 ml

Pannekoek by die groot maat
(lewer 120 pannekoeke)

16 k koekmeel
125 ml wit suiker
80 ml bakpoeier
20 ml sout
12 eiers
4 k (1 liter) kookolie
250 ml asyn
18 k water
kaneelsuiker

Sif meel en meng dit deeglik met suiker. Voeg bakpoeier en sout by die meelmengsel en meng goed. Klits eiers en voeg die olie, asyn en 'n bietjie water daarby. Voeg die eiermengsel by die meelmengsel en roer. Voeg die water bietjies-bietjies by en klits die mengsel deurentyd tot so dik soos room en sonder klonte is.

Verhit olie in pan, gooi uit (hierna word nie weer olie in pan gegooi nie) en bak die pannekoek. Sit die pannekoek voor met kaneelsuiker of bêre en verhit oor 'n kastrol met kokende water. (Die pannekoek word nie taai nie.)

Pannekoek
200 - 220 pannekoeke

16 k koekmeel
75 ml (6e) bakpoeier
20 ml sout
16 eiers
4 liter water
1 k asyn
1 liter olie
50 ml suurlemoensap

Meng droë bestanddele in groot mengbak. Klits die eiers, water, asyn en olie saam en roer of klits die droë bestanddele by. Meng tot glad. Smeer die warm pan met 'n bietjie olie net vir die eerste pannekoek. Die res van die beslag word gebak sonder om olie in die pan te sit.

Kerrie-en-Rys (100 porsies)

24 medium uie, geskil en gekap
9 knoffelhuisies, geskil en gekap
190 ml sonneblomolie
20 wortels, geskil en in blokkies
25 aartappels, geskil en in blokkies
3 soetrissies, gekap
12,5 kg vleis, in blokkies
5 k sultanas
90 ml matige kerriepoeier
80 ml borrie
15 ml fyn koljander
swartpeperkorrels
kruienaeltjies
lourierblare
150 ml asyn
115 ml wit suiker
90 ml fyn appelkooskonfyt
100 ml sout
115 ml tamatiepuree
62,5 ml mielieblom
37,5 ml Worcestersous
125 ml blatjang
vleisaftreksel
30 k water om rys in te kook (sout)
13 k rou rys

Soteer uie en knoffel in olie in groot swaarboomkastrol. Voeg die wortel en aartappelblokkies asook die gekapte soetrissies by en braai liggies. Skep uit en hou eenkant. Braai die vleis vinnig in dieselfde kastrol.

Meng kerriepoeier, borrie, koljander, swartpeperkorrels, naeltjies en lourierblare, roer by die vleis en braai 'n minuut lank.

Meng asyn, suiker en appelkooskonfyt, sout, tamatiepuree, mielieblom, Worcestersous en blatjang tot 'n pasta. Voeg die pasta saam met die gebraaide groente- en vleismengsel en sultanas in die kastrol. Voeg vleisaftreksel by soos nodig en prut tot gaar. Roer nou en dan om te keer dat dit aanbrand.

Kook die rys in die water waarby sout na smaak bygevoeg is.

Wenk: Vergroot die resep deur 'n groot, ryp boerpampoen sag te kook, deur 'n sif te druk, en saam met ses gerasperde Granny Smith-appels en 10 fyngedrukte ryp piesangs by die mengsel te voeg.

Vleisrolletjies (Ongeveer 150)

Vulsel:
5 aartappels
5 uie
2,5 kg maalvleis sout,
peper, tiemie, neutmuskaat

Kors:
8 k meelblom
5 ml kremetart
10 ml sout
980 g botter/margarien
4 eiers, geskei
25 ml suurlemoensap
ongeveer 200 ml yskoue water

Kook die aartappels sag, trek die skille af en druk fyn - hou eenkant.
Braai gekapte uie tot dit deurskyn en voeg die maalvleis by. Braai die vleis tot gaar en roer deurentyd. Geur die vleismengsel met sout, peper, tiemie en neutmuskaat na smaak en bind dit met die gaar, fyngedrukte aartappels.
Laat die vulsel afkoel en vorm worsies van ongeveer 30 cm lank. Verhit die oond tot 200ºC en smeer bakplate.
Kors: Sif meel, sout en kremetart saam. Rasper die botter by die meelmengsel en vryf dit liggies tot krummelrig. Klits eiergele liggies en meng met yskoue water en suurlemoensap. Voeg eiermengsel by meelmengsel en meng tot 'n hanteerbare deeg. Strooi koekmeel op werkvlak en rol deeg dun daarop uit. Sny deeg in stroke van ongeveer 13 x 30 cm.
Sit vleisworsie in die lengte op elke strook, smeer een kant van deeg met geklitste eierwit en vou die ander kant oor. Druk goed vas en sny worsies van ongeveer 6 cm lank.
Verf eierwit op elke rolletjie en bak dit ongeveer 20 minute lank tot goudbruin. Pak op draadrak om af te koel.


Vir 30 rolletjies:
Vulsel:
2 aartappels  
2 uie, geskil + gekap  
500 g maalvleis  
sout, peper, tiemie,  
fyn neutmuskaat  
 
Volg metode soos bo.
 

Kors:
4 k meel
2.5 ml kremetart
5 ml sout
480 g botter/margarien
2 eiers, geskei
12.5 ml suurlemoensap
ongeveer 100 ml yskoue water

Hoenderpastei (Ongeveer 8 pasteie)

Kors: (Ryk broskors)
8 k koekmeel
4 ml kremetart
10 ml sout
800 g botter/margarien
4 eiergele
400 ml yskoue water

Sif meel, kremetart en sout saam. Vryf botter in tot krummelrig.
Klits eiergeel liggies en meng met yswater. Sny die eiermengsel in die deegkrummels en meng tot hanteerbare deeg. (Let wel: moenie knie nie, druk net liggies vas.)
Draai deeg in botterpapier toe en hou in koelkas tot gebruik gaan word. Bak by 180ºC.

Vulsel:
6 kg hoender
12 kruienaeltjies
15 ml wit peper
10 ml sout
1,5 kg gekapte sampioene (opsion.)
50 ml botter/margarien,(of 25g vir elke kleiner skottel)

Bedek hoender met water, voeg naeltjies by en kook tot sag. Hou sous waarin die hoender gekook is, in die kastrol.
Ontvel, ontbeen en pluis die hoendervleis. Skep die vleis terug in die sous in die kastrol, voeg die peper en sout by en kook vinnig deur tot die vloeistof weggekook het. Die vleis moenie droog wees nie, net sappig. Verhit oond tot 190ºC.
Smeer oondskottel en voer met deeg uit. Verf die onderste kors met eierwit om te keer dat dit kluitjierig bak. Skep die vulsel in die kors en stip met klontjies botter of margarien. Bedek die vulsel met die deeg, druk die rande vas en versier met deegfatsoentjies. Maak 'n gaatjie in die middel van die kors of prik dit op 'n paar plekke sodat die stoom kan ontsnap. Verf die kors met melk of eiergeel en bak die pastei ongeveer 35 minute lank.

Variasie: Vervang die hoender deur skaapvleis/skaapnek.

Kruiemaalvleis  

sonneblomolie
15 uie, geskil en gekap
5 kg maalvleis
35 repe ontbytspek (ops.)
15 knoffelhuisies, geskil + gekap
20 selderystele, gekap
20 geelwortels, gekap
20 aartappels, gekap
20 tamaties, ontvel, pitte uit  gedruk en gekap of 750 ml tamatiepuree
625 ml vrugteblatjang
125 ml pietersielie, gekap
50 ml droë gemengde kruie
20 ml fyn neutmuskaat
250 ml wit suiker
75 ml sout 25 ml peper
water
Verhit olie in swaarboomkastrol oor matige hitte en braai die uie daarin tot deurskynend.
Voeg vleis by en braai tot gaar. Roer deurentyd.
Voeg al die ander bestanddele by die vleismengsel en roer goed deur. Bedek met water, sit die deksel op en laat prut ongeveer 'n uur lank oor lae hitte. Roer nou en dan en voeg bietjies-bietjies kookwater by, indien nodig.
Gebruik die maalvleis as vulsel vir pannekoeke, vetkoeke en gebraaide toebroodjies.

Basaarbobotie (Ongeveer 50 porsies)

10 uie, geskil en gekap sonneblomolie
5 kg maer maelvleis 125 ml matige kerriepoeier
100 ml borrie 190 ml wit suiker
125 ml wynasyn 625 ml water
625 ml matige vrugteblatjang 190 ml appelkooskonfyt
62,5 ml sout 10 ml peper
3 k sultanas 5 k gerasperde groen appels
3 k gerasperde geelwortels 10 snye volkoringbrood, in melk geweek
10 k melk suurlemoen/lourierblare
12 eiers

Braai gekapte ui in olie tot deurskynend. Voeg maalvleis by en braai tot gaar. Strooi kerriepoeier en borrie oor die vleismengsel, meng goed en roerbraai ongeveer drie minute lank. Meng die suiker, asyn, water, blatjang, appelkooskonfyt, sout, peper en water en voeg dit by die vleismengsel. Roer goed deur.
Voeg die sultanas, appel en geelwortel en die brood by die vleismengsel, meng goed en laat dit ongeveer 10 minute lank oor matige hitte prut.
Haal die vleismengsel van die stoof af en skep in 'n groot oondbraaipan of afsonderlike foeliebakkies. Maak die vleismengsel liggies glad met die agterkant van 'n lepel - moenie die vleis vasdruk nie.
Klits die eiers en melk liggies saam en giet die helfte van die eiermelk oor die vleis. Bak tot die eier gestol het. Giet die orige eiermelk oor die bobotie, druk blare daarin en bak tot goudbruin.

Kerriehoender met vrugte (50 - 60 porsies)
7,5 kg hoenderborsies en dye
8 uie, geskil en gekap
10 knoffelhuisies, geskil en gekap
sonneblomolie
150 ml matige kerriepoeier
100 ml borrie
10 ml fyn koljander
10 ml fyn kaneel
312,5 ml matige vrugteblatjang
sap van 5 suurlemoene
100 ml fyn appelkooskonfyt
37,5 ml sout
7,5 ml peper
5 Granny Smith-appels
20 ryp piesangs
625 ml sultanas
water
Kook die hoender sag, ontvel, ontbeen en kap in blokkies. Verhit die olie in 'n swaarboomkastrol en braai die uie en knoffel daarin tot deurskynend. Meng kerriepoeier, borrie, koljander, kaneel, suurlemoensap, appelkooskonfyt, blatjang, sout en peper. Voeg die mengsel by die hoendervleis, bedek met water, sit die deksel op en prut ongeveer 15 minute lank oor matige hitte.
Rasper die appel en druk die piesangs fyn. Voeg dit saam met die sultanas by die vleismengsel in die kastrol en laat prut nog 15 minute lank. Roer gereeld, want dit brand maklik aan na die vrugte bygevoeg is. Sit die gereg voor met geroosterde klapper en gekookte rys.

Ou Boereraat

Om rispes en slakke te ferdrywe: 1lb. ongebluste kalk en 1 pond swawel, gou deurmekaar geroer, dan 3 lb. water daarby. Maak di plaas waar slakke is hiirmee nat en bestryk bome hiirme waar rispes voorkom.

Ou Resep

Karnmelk koek

3 Koppiis meel
2 koppies suiker
byna 'n koppie karnmelk
1 lepel fyn nartiskil
5 yers (Eiers)
 

Klop di geel fan di yers mooi fyn, dan di suiker daarby, dan di skil en melk, dan di wit van di yers droog geklop en ten laaste di meel. Roer goed deur en bak in 'n form.

Resepte uit Anna se Kombuis

Al Anna se resepte is in eBoek formaat en maak dus ideale geskenke en word sommer met epos gestuur. Vir meer besonderhede, klik hier

Kontak gerus vir Anna en kry jou afskrif! 

st se pitkos

st se  pitkos

Klik hier om st se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief

“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.

Nog gevleuelde woorde van ST:

Waar gaan jy heen?

 

So luister ek nou Saterdagoggend na RSG en na Johan Rademan se program Bon Voyage, en op die program speel hy die liedjie van Peter Sarstedt “Where do You go to (My Lovely)”  - ‘n ou treffer van die jaar 1969.

 

Die liedjie gaan oor ‘n meisie met die naam Marie-Claire wat in die agterstrate van Napels opgegroei het en toe deel van glans en goud van ‘n lewe in Parys word. Die lirieke beskryf - uit die perspektief van ‘n jeugvriend - Marie-Claire se nuwe lewe. ‘n Lewe van hoe sy dans soos Zizi Jeanmaire ‘n Franse ballerina en haar klere word ontwerp deur Balmain – ‘n Franse ontwerper van elegante modes. Sy woon in ‘n swierige woonstel in die Boulevard Saint-Michel en gaan na ambassade partytjies waar sy Russies en Grieks praat. Sy behaal kwalifikasies by die Sorbonne (Universiteit van Parys) en het ‘n skildery van Picasso. Vir haar somervakansie gaan sy na die chic strand Juan-les-Pins aan die Frans Riviera en vir haar wintersvakansie na St. Moritz – wêreldbekende ski-oord in die Switserse Alpe vir die ryk en beroemdes.

 

Maar regdeur die liedjie herhaal die jeugvriend aan Marie-Claire die vraag: “But where do you go to my lovely; when you're alone in your bed?”

 

Ja, as kinders moes hulle twee in verflenterde klere bedel, maar had in hul binneste ‘n brandende ambisie om uit hul omstandighede te kom. En hierdie jeugvriend beskryf dan Marie-Claire se lewe saam met beroemdes, glinster en geld, voortreflike dinge, duur geskenke en in die kalklig van modes en sukses. Tog vra hy vir haar ‘n vraag: waar sy gaan sy snags heen wanneer sy alleen in haar bed is? Dit word nie in die liedjie beantwoord nie. Miskien dink sy terug aan haar arm kinderjare in die krotbuurt waar sy groot geword het. Of gaan haar gedagtes na mense – dalk familie, ‘n broer of suster – wat eens op ‘n tyd deel van haar lewe was en sy agter gelaat het? Het sy miskien haar jeugvriend versaak en vergeet?

 

Is daar dalk ‘n vrou waaroor jy so wonder? Wat die nuustste sportmodel motor ry, deel is van die luukse lewe, meng met voorstaande mense, rond dartel in spoggerige restaurante en verskyn in glanstydskrifte. Mmmmm…. ja, daar is tog iemand waaroor ek so wonder…

 

Ek wil egter nou vir jou ietsie vra, ek ken nie jou agtergrond nie, weet nie hoe jou kinderjare was nie, hoe en waar jy groot geword het nie. Tog kom jy iewers vandaan, dra jy sekere letsels en seerkry saam, is daar emosies en verlangens diep binne jou.

 

Waar gaan jy heen as jy vannag in jou bed klim? Peter Sarstedt sing: “Where do you go… when you're alone in your bed, tell me the thoughts that surround you.” Wat is dit waarmee jy jou gedagtes besig hou? Watter seerkry uit jou kinderjare kom spook by jou? Wat is jou bekommernisse en jou kwellinge? Watter geheime is versteek in jou binneste? Wie ken jou vrese en gevoelens van minderwaardigheid wat jy so goed wegsteek onder ‘n brawe vertoon? Wie is jy regtig wanneer jy alleen is in nagtelike ure?

 

Môre as die son skyn, is jy ‘n prentjie van geluk en sukses. Jy lag saam met die lewe en mense bewonder jou. Jy werk en jy gesels, drink koffie saam met vriende by ‘n koffieplekkie waar yuppies en sakemense uithang. Beklink ‘n transaksie en tree met selfvertroue op. Jy bespreek die nuutste politieke flaters van die regering en deel jou siening oor die aandele op die beurs en neigings in die eiendomsmark. Mense kom groet jou, nooi jou uit, wil graag met jou vriende wees.

 

Maar is daar iewers, weggebêre in jou binneste, ‘n letsel wat nog nie heeltmal genees het nie? Iets wat iemand jou aangedoen het, ‘n ding wat gebeur het. Iets wat jou menswees diep seergemaak en aangetas het. Sarstedt sing van Marie-Claire… “but I know you still bear the scar, deep inside, yes you do.” Wat is die wond wat soms nog vlak op jou emosies kom lê, al probeer jy dit uit jou lewe wegdoen?

 

Vanaand wanneer jy in jou bed klim, en die maskers waaragter jy skuil, val weg in die donkerte van die nag  – waar, waar gaan jy heen?

 

‘n Sprankie wysheid vir die dag

 

“Slegs Karima het ‘n klein entjie agter hom aangestap – haar hart brandend om sy eensaamheid en sy herinneringe. Geen woord het sy gespreek nie, maar na ‘n wyle na haar eie huis weggedraai en onder die amandelboom in haar tuin gaan ween sonder om eintlik te weet waarom.” – Kahlil Gibran -

Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za

Skakels

Soek jy plek om te gaan kampeer? Klik dan hier!

Skooltake?? Klik hier

Vakansieverblyf is altyd 'n probleem, dié mense maak dit makliker om te kry, klik net hier.

Nieltjie se Stories - Kinderstorie CD in Afrikaans - Klik hier

Teken in /Teken uit / Kontak

Teken hier in op die poslys en lees ook die argiewe.

Om uit te teken, stuur vir my 'n epos en dui jou naam aan asook die eposadres waaronder jy ingeteken is

Kontak my hier.

Druk jou speld op my besoekerskaart!