Onbeskaamd Afrikaans!

 
 

Nommer 118

Besoek my Webwerf

31 Oktober 2007

 
 

Eg Afrikaans

Die Knoop

Ons Dorp

Woes

Vuurvlieg

Afriforum

Voortrekker Monument

Steve se Spoegblok

Blanke Ekonomiese Forum

PRAAG

Rieme

ATKV

 

Teken Besoekersboek

 

Vorige Nuusbriewe

Epos

Wees gegroet!

Welkom aan alle nuwe intekenare!

Sjoe, die jaar is al amper op sy rug! Ons vertrek vroeg in November vir 'n week se kampeer by Mazhou kamp in Mapungubwe. (Daar waar Zimbabwe, Botswana en Suid Afrika bymekaarkom) Sien nogal heel uit daarna, nog nie in daardie geweste gewees nie, ons is maar Kruger mense. Ek sal terugvoer gee, met fotos in die volgende uitgawe.

Hierdie uitgawe is opgedra aan Riaan Röscher en gesin wat nou in die VSA in Wisconsin woonagtig is. Hy het onlangs vir my fotos van sy oupa en my pa gestuur wat in die goeie ou dae in Koster genaam was. dankie, Riaan.

Die Feestyd kom nou vinnig nader. Dis ook die tyd om daardie koekieblikke vol te maak! Gaan kyk hieronder by die resepte vir smullekker koekieresepte en spring an die werk!

Ek is besig met 'n resepte eBoek in Afrikaans met Kersresepte. Ek soek nog dringend resepte in Afrikaans van vleisdisse (en ook ander disse) vir die Kersmaal! Almal wat bydra kry natuurlik 'n afskrif van die boek. Klik hier om resepte te stuur

Net om te laat weet dat ek enigiets wat ek in my epos ontvang en wat ek voel hier geplaas kan word, dit plaas ek. As daar dalk kopiereg op is laat weet my, dalk haal ek dit af.Tuisgebakte brood so warm uit die oond is darem maar BAIE lekker, ek het so 'n paar broodrespte wat julle kan gaan probeer, gaak kyk gerus verder na onder....

Weereens het ek lekkerlees Afrikaanse artikels deur onder andere Minette Brink, Estelle de Bruyn en Annelie Botes. Ek is seker julle sal dit geniet!  Ook is daar 'n insiggewende artikel deur Dr. S T Potgieter.

En onthou tog om my besoekersboek te teken? Hy was vir 'n hele tydjie aflyn maar is nou weer terug.

Doen met 'n miljoen

Net een miljoen? Wat van R148 miljoen? Die UK Lotto is komende Saterdag 'n hele 11 miljoen Britse pond! As jy nie 'n kaartjie het nie het jy nie 'n kans nie. Dis maklik en veilig om te speel. Komaan, vat 'n kans, jy weet nooit!!!

 Klik hier om jou kaartjie te kry en droom GROOT.

Peterjasie sê

En toe doen die Bokke dit! Nou nie die mees aanskoulike wedstryd nie, maar die die eindtelling wat tel.

En toe nog toekennings vir die beste speler, beste span en beste afrigter! Sjoe!!!

Wel gedaan, ons is trots op julle!

Geluk ook aan die Cheetahs. So ampertjies was die beker in Johannesburg!!!

Afrikaans bly maar die beste taal ooit!!!!!!

Robert stuur my die volgende, baie dankie!

Sy het so baie plooie, sy skroef haar hoed op!
Ek is nou so lui my hol hang oop!
Hy is so maer, hy lyk soos 'n potlood met 'n handbriek.
Ek is nou so opgewonde soos ìn budgie op steroids!
Ek is so lui soos 'n by - ek wil nie steek nie - ek wil net so aan die koek hang!
Ek was gisteraand so dronk, toe ek vanoggend wakker word hang ek oor die stoel en my klere lê in die bed.
Ek is nou so lus vir 'n Rennie ek eet sommer 'n pastei.
Jy's so skeel jy kyk jouself diep in die oë!
Van sit of staan bly lê die lekkerste.
Hy ìs so kort hy weet nie of dit keelseer of aambeie is nie.
Hy ìs so kort hy slaan tot sy onderbroek se pype om.
Hy is so maer, as hy langs 'n wit muur loop lyk dit soos n kraak wat beweeg!
Hy is so skelm, hy bid onder n skuilnaam
Ek gaan jou klap dat jy lus kry vir niks
Ek sit nou so lekker ek staan sommer op en sit weer.
"Lang gesig soos ìn bok wat afdraand vreet."
"Drank los nie probleme op nie, maar so ook nie melk of water nie."
"Ek voel nou so goed, ek vul sommer die lottonommers verkeerd in."
"Ek is nou so lui ek trou sommer 'n pregnant vrou."
"Ondervinding is iets wat jy eers kry nadat jy dit nodig het."
"Almal kry die voorreg om onnosel te wees, net jammer party maak misbruik daarvan."
"Ek is so de bl*ksem in, ek soen sommer 'n pofadder oopbek"
"My vrou is so lelik, as sy op die sand sit wil die katte haar toekrap.."
"Arende vlieg dalk hoog, maar ons muishonde word nooit deur 'n vliegtuigmotor ingesuig nie."
"Die mens is op aarde geplaas om 'n sekere hoeveelheid werk te doen.
"Op die oomblik is ek so ver agter ek sal nooit dood gaan nie."
"Ons kannie almal helde wees nie, iemand moet langs die pad staan en hande klap."
"Ek glo dat as iets die moeite werd was om te doen, dan sou iemand anders dit lankal gedoen het."
"Jy mag nooit meer as jou yskas weeg nie!"
"As jy vir jouself kan lag dan het jy altyd iets om oor te lag."
"As jy lyk soos jou paspoort-foto, dan het jy 'n reis nodig."

Resepteboek

Die resepteboek met resepte wat vernoem is na persone, plekke of gebeurtenisse is nou saamgesit in een eBoek. Ek is seker daar is nog baie meer soortgelyke resepte, Gaan laai die boek af by Pasella hieronder, en as julle weet van nog soortgelyke resepte, stuur maar vir my aan asseblief.

Die Bokke skryf 'n nuwe Psalm

Psalm 151 vers 16: “Op daardie dag sal jou vyand soos rose verdor en deur wildsbokke vertrap word. Dan sal jy uit ’n goue beker drink en jou verlustig in hulle smart.”

Anna se Kombuis

Ek beskou Anna Eksteen as die koningin va Resepte eBoeke in Afrikaans. Sy het nou al 'n hele versameling van resepte eBoeke wat enige kossoort dek, en dit in Afrikaans! eResepteboeke is goedkoop en geen posgeld is betaalbaar nie, die boeke word per epos gestuur en is in 'n japtrap by jou. Klik gerus hier en kyk na haar resepteboeke en bestel gerus een, of sommer 'n paar! As jy besluit om van haar boeke te bestel en jy noem dat jy daarvan hier te hore gekom het, sluit sy my Kampkosresepteboek gratis in!

Peterjasie skryf!

Nou en dan kry ek 'n bevlieging en dan probeer ek oot iets skryf. Ek kan nie sing nie, so ek probeer maar skryf! Ek hoop nie ek verloor teveel intekenare nie, laat maar weet wat julle dink!

Buffelvleis Paais

Was jy al ooit so lus vir iets dat jy teen die mure wil uitklim? Nee, niks met vry te doene nie, ek bedoel KOS!

Die vier van ons was in die Kruger Nasionale Park oppad Shingwedzi toe waar ons sou oornag. Doom Piet en sy vrou, Marlene was agter en ek en Doreen het voor gesit.

Ons het so teen 40 km/h aangekarring en uitgekyk vir wild toe Doom Piet ewe skielik sê: “Laas keer toe ons in Shingwedzi was, het hulle die lekkerste buffelsvleis paais by die kafeteria verkoop”

Dis stil in die kar. Elkeen van ons sien in sy verbeelding ‘n groot bord met ‘n paai daarop, ‘n buffelsvleis paai, maak dit sommer twee paais.

“Met tjips,” voeg Marlene by. Die vier verbeeldingsborde kry elkeen ‘n porsie tjips by. Ons monde water, die naald kruip ongemerk op na 60 km/h.

“Jy ry te vinnig,” maan Doreen. Ek lig my voet effens van die pedaal, maar in ‘n minuut of so is dit alweer op 60. Ek is haastig om by Shingwedzi te kom.

“Met ‘n lekerrrr sous oor die paais.” las Doreen by. Ons verbeeldingborde lyk nou al watertandlekker.

“Met tamatiesous vir die tjips” las ek ook by. Nou lyk die verbeeldingsborde rêrig lekker. Dis weer stil in die kasr soos ons ons verbeeldings vrye teuels gee.

“Olifant!” skreeu Doreen as sy eerste die reuse dier reg by die pad sien. “Bogger die olifant” mompel ek. “Daars nog baie van hulle” Ek ek ry voort Shingwedzi toe. Daar is prioriteite!

Kort kort kruip die naald 60 toe, ek moet my net inhou om nie vinniger te ry nie. Die spoedgrens is 50 en as ons 60 ry is ons seker nog veilig? Wat van 70?

Toe ons by Shingwedzi se hek inry gor ons mae al, klink soos ‘n trop leeus in die kar. Ons pyl reguit op die kafeteria af en kry vir ons ‘n tafel wat oor die rivierbedding uitkyk. AS jy buffelvleispaai eet het jy nos ‘n UITSIG nodig.

Die kelnerin is nog nie eers behoorlik by ons tafel nie of Doom Piet begin:

“Twee buffelpaais vir elk van ons asseblief”

“Met lekkerrrr sous daaroor” las Marlene by

“Met tjips,” las Doreen by

“Onthou die tamatiesous vir die tjips” las ek my deel ook by.

Niks lekkerder as buffelpaais met sous, porsie tjips met tamatiesous in Kruger nie. Enige ander plaek sou dit nie dieselfde geproe het nie!

Ek hoop almal wat nou die lees is lekker lus vir paais met sous en tjips met tamatiesous!

Lekker smul!!! Ons het!!

Minette

Minette het so baie artikels geskryf dat ek elke nou en dan een op my hardeskyf raakloop. Ek het dit daar gebêre sodat dit nie moet wegraak as ek 'n rekenaar "crash" sou beleef nie, en toe vergeet waar ek dit so mooi gebêre het, net om eendag (soos vandag) weer opgespoor te word! In alle gaval, hier is hy:

Lekker lees!

Boelies

Ek het die perfekte blyplek gekry. Ons trek nou Solitaire toe waar ons vrede vir ons siele en die lafenis van oordowende stilte vir ons gemoedere kan kry.
Ek gaan die tuig neerlê en vir Moose help brood bak en vir toeriste liegstories oor my herkoms vertel.
Dit lyk in elk geval of die eindtye op hande is met ‘n oorlog en ‘n bloedbad in elke tweede land.
En dis nie net beperk tot die grootmense nie.
Toe ek gister my kinders by die skool gaan optel, is die oudste bitter hartseer.
“En die trane? En die bloed,” wil ek weet.
“Daai een het my in die maag geskop,” beduie hy.
Satan’s little helper sit en grinnik op ‘n swaai, seker om die beste aanvalshoek op my maermerries te bepaal.
My eerste reaksie is om te ontplof, maar tyd leer ken en ek weet darem al dat kinders net die weerkaatsing van hulle ouers se woorde, dade en houdings is.
Toe vee ons maar die bloed op en probeer verduidelik dat dit nie vreeslik normaal is om so aggressief te wees nie. “Ja, maar hy skop die juffrouens ook,” en die juffrou wat beangs in die kantoor wegkruip, loer deur die venster en sê “ons weet nie meer wat om met die kind te doen nie. Sy pa sê dis natuurlik vir ‘n laatie om so te baklei….”
My verbeelding gaan op hol en ek kan my net indink hoe lyk familiebyeenkomste van sulke ‘geweldige’ gawe mense.
‘Hey, ou Bulla, kom fleks bietjie daai nuwe massils hier vir Oom Jips en die fêmilie! Heits, hier kom pa se grootseun. Kom ons gooi mekaar teen die grond. Een wat eerste bloei is chicken!’
Grootseun is vyf jaar oud en kan sy pa se vingers breek. Albumsvol trotse foto’s is getuie hiervan.
Wanneer Bulla saam met Pa voor ongevalle sit en rook, wys Pa vir hom hoe om ongemerk motors se voorruite met sy elmboog te kraak. En Bulla, ou Grootseun, leer so vinnig.
Net daarna ruk Bulla ‘n pasiënt se krukke onder hom uit en lag harder as Pa wanneer die arme man net betyds deur ‘n verpleegster gevang word.
Teen die tyd is almal in die vertrek goed boos en word die verbysterende sterk pa en seun die gebou belet.
Ek is raadop met die geweld, die aggressie en die kompetisie wat reeds onder vierjariges heers.
“Oee,” sê ‘n dogtertjie vir ‘n maatjie by die kleuterskool. “Waar kry jy daai mooi kryte?”
Maatjie gooi haar koppie kant toe en tuit haar lippies.
“IN LONNDIINNNN…”
“Wat is ‘n Londinnn,’ wil die ander een verward weet.
“Oee, maar jy’s stupid,” snou die klein juffroutjie.
Ek gee op. Niemand moet by my kom sit en sug en vra hoekom die wêreld in so ‘n gemors is nie.
En as dit lyk of ek weghardloop van die probleem, dan is dit daarnatoe.
Maar iewers daar buite lê feëtjiesirkels in die veld vir ons en wag, plekke waar ons nog mens kan wees en net kan wéés. Waar niemand jou in die maag skop nie, waar niemand eers wonder wat ‘n Londiinn is nie en waar Bulla en sy familie uit ‘n gebrek aan belangstelling nie langer as ‘n dag sal wil bly nie.
Daarom trek ons nou Solitaire toe.
Dis nou as iemand die pad kan beduie…

Klik hier vir nog Minette artikels

Africana en ander boeke

Maroela Boeke en Tierberg Boeke - Laai gerus hulle nuutste katalogus af en kyk daardeur. Hulle het 'n besonderse versameling boeke. Ek het al self van hulle bestel en hulle diens is uimuntend. Regs klik hier om die katalogus af te laai

Blanke Ekonomiese Forum - Waar Blankes mekaar ondersteun

Die BEF het kennis gekry van verskeie studiebeurse en werksgeleenthede wat beskikbaar is, vir meer besonderhede, kontaknommers is hieronder.

Regs klik ook hier om die nuutste nuusbrief af te laai.

Sluit nou aan. Maak 'n verskil. Klik hier vir meer inligting

Kontakbesonderhede:
Mnr. Andre Groenewaldt – 082 633 2920 & landlyn: 012 548 6118
Mnr. George Pienaar – 082 338 3295
Faks: 012 548 7242

Boeremusiek baanbrekers

Hierdie gaan nou 'n gereelde item word. Ek is bly om te sien dat die Boeremusiek tradisie nog so sterk staan....

Corrie Nortjé

Die man van die Ooskaap wat Neels Mattheus sy eerste gig laat doen het! Corrie het voorwaar 'n unieke styl ontwikkel. Sy ellelange lys van komposisies is baie gewild by konsertinaspelers en word gereeld gehoor by boeremusiek-kompetisies. Interessant dat Bles Lourens, die kitaarspeler, 27 jaar vir Corrie gespeel het! Meeste orkeste bestaan nie eers 27 jaar nie!

Bron: 15 Goue Jare:  1989-2004  Boeremusiekgilde  

Pasella

Regs klik hier om die resepte eBoek met resepte wat vernoem is na plekke, persone en gebeurtenisse., af te laai.

Kersgeskenke?

Peterjasie se Groot Afrikaanse CD

Ek het my mees populêre eBoeke op een CD saamgevat. Die Tradisionele SA Resepte, die Kampkosresepte, die Wille samies en die Boererate is almal daar. Die CD maak 'n ideale geskenk maar ook 'n besonderse aandenking.

Die CD verkoop vir R100, posgeld ingesluit, stuur vir my 'n epos vir betalingsbesonderhede.

Dan het ek ook 'n resepte CD in Engels. Die CD bevat meer as 50 volledige resepteboeke en maak die ideale geskenk. Dink net, die ontvanger hoef nooit weer 'n respteboek te koop nie. Prys is R100 wat uitwerk op R2 per resepte eBoek, is dit nou 'n winskopie, of wat? Klik hier vir betalingsbesonderhede.

Estelle de Bruyn

Kom ons skop oudergewoonte af met Estelle se bydrae. Sy is verbonde aan die Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië. Kontak haar gerus, sy hoor graag van julle.

Handsakke

WYS vir my 'n vrou se handsak en dan sien ek sommer wie en wat sy is.
'n Vriendin wys nou die dag die pragtige leerhandsak wat sy só van 'n kollega bewonder het dat die kollega dit op die ou end vir haar persent gegee het. Dit is 'n handsak waarmee 'n vrou oorlog toe kan gaan. Stewig. Netjies. Groot genoeg dat jy benewens jou beursie, grimering, selfoon, boekies en allerhande ander goetertjies, boonop 'n spaar kannetjie petrol vir die wis en die onwis kan inpak en saamdra. En boonop is die handsak so elegant dat jy dit met gemak enige plek kan heen vat.
My eie handsak was ook 'n geskenk van 'n vriendin. Dit is nie 'n duur sak nie, maar 'n praktiese handsak wat meer bêreplekkies en sakkies en
ritsluitergleufies het as die gewone elegante nommers wat 'n mens kry. Hy is gemaak van sulke groen, seilerige materiaal en doen presies wat ek van hom verwag. Daar is plek vir my kamera, notaboek en sommer enige los inkopies wat jy nie in jou hand wil ronddra nie. 'n Lekker, gemaklike handsak sonder fiemies.
As 'n mens die dag 'n handsak kry wat by jou behoeftes pas, behoort 'n mens sommer 'n hele paar van dieselfde soort aan te skaf, dink ek. Want die moeilikheid kom gewoonlik as jou getroue en vertroude ou handsak wat jy lekker ingeleef het, die dag die gees gee. Om dan dringend aan die handsak-soek te raak, lewer niks op nie. Jy soek 'n handsak wat ten minste kan kers vashou by jou oue of iets met nog 'n ekstra sakkie vir 'n selfoon of 'n plek waar jy jou penne kan inryg.
Dit is hierdie in-die-nood-handsak-soek-sessies wat groot frustrasie kan meebring omdat dit mos dan lyk of die winkels teen jou saamsweer en hulle lekker handsakke iewers vir jou wegsteek.
Ek weet dis nie die regte ding om te doen nie, maar ek kan skaars my nuuskierigheid verbloemoor wat ander vrouens in hulle handsakke dra. Dit is soos ander mense se winkeltrollies in 'n supermark. Ek kan my verkyk aan wat hulle in die trollie pak, watter soort skeerseep en waspoeier hulle verkies, watter soort suiker en hoeveel eiers, watter soort hondekos hulle diere van hou. Wel, anders vrouens se handsakke het dieselfde interessante bestanddele wat my laat borrel van nuuskierigheid.
Ek wonder wat vrouens in sulke klein, elegante handsakkies pak en ek wonder oor wat vrouens in groot handsakke wegsteek. Het vrouens met klein handsakkies ander groter sakke waarin hulle goed bêre wat nie in die klein sakkie pas nie of is hulle so georganiseer dat hulle nie bykomende sakke nodig het nie?
Is ander vrouens se handsakke ook so deurmekaar soos myne of is dit net ons deurmekaarkoppe wat deurmekaar sakke het?
En my grootste verwondering is die feit dat mans sonder handsakke oor die weg kom. Wat doen hulle met beursies en selfone en sakdoeke en notaboeke en kameras en sakdoeke en huis en motorsleutels en rekeninge en die magdom ander goetertjies wat my handsak vol maak?
Wel, gelukkig is ek 'n vrou wat 'n handsak propvol van my persoonlike goed oor my skouer kan gooi en nie hoef te wonder waarheen met al die losgoedjies nie.
 

 

Click Here Now!

Click Here Now!

Dial Direct Insurance

 
  Annelie Botes  
  Nog 'n lekkerlees storie deur Annelie.  
 


Deur die genade

Almal streef om waardig in die oë van ander gereken te word. Niemand wíl afgestamp of misgetel word nie. Maar die lewe het sy klasse-stelsels. Koninklik tot middelklas tot opdrifsel. Algar pas iewers en ek verseg om te glo iemand kan ‘n hartswens hê om awwer en awwer te daal. Eerder sal ons ons opper en opper voordoen. Prestasies met die ramshoring uitbasuin. Skarlakenkolle spierrewit toeverf. Om Williams Tad aan te haal: We tell lies when we are afraid... afraid of what we don't know, afraid of what others will think, afraid of what will be found out about us. But every time we tell a lie the thing that we fear grows stronger.
Ongeag hoeveel lae verf, daar is min families wat die kruis van ‘n lame duck gespaar word. Elke bloedlyn het iemand(e) wat vir die familie ‘n skreeu-skande is. ‘n Sukkelaarsgesin in ‘n treurbuurt, ‘n tandlose oom wat sy plaas weggesuip het en in weldoeners se agterjaart plak. ‘n Gestremde kind, weggesteek in ‘n tehuis. ‘n Oorslim broer vol bedrog wat tralietyd uitgesit het. Ondertrouery. Kleptomania. Skisofrenie. Pedofiele. Verneukers. Kranksinniges. Te-sleg-om-te-werkers. Vieslik-vuiles. En ek sal myself beenkaal blootstel deur by te voeg: Vigslyers en halfnaatjies.
Tussen my en die ou gryse se families is daar ook diegene wat ons van ons voordeur wegbid. Hulle moenie ons inne en uite ken nie. Netnou wil hulle intrek of geld leen. Of hulle hang die skandehoed van dronkenskap en vangwa-ry oor ons oë. En as so ‘n weeluis eers aan jou vassuig, kry jy hom nimmer losgetrek.
Kort voor my vertrek England toe vir die uitdans van my kwaad-opera, word ek en die gryse een onverwagse dag volgesig gekonfronteer met so ‘n familie-skuimbol. Wydsbeendronk. Haweloos. Tiekieloos. Hoenderbeentjie-maer. Siekmakende stank wat hom omwalm. Genadiglik het hy van ‘n hokkie af gebel en kon ons soontoe ry. Dus was ons drumpel beveilig en kon ons hom agterlaat met ‘n skoueroptrek. En met ons waardigheid in plek.
Maar in my winterse akkerbos het my gewete bly sê: By the grace of God, there go I. Ek het onthou van ‘n Man wat nederig met randeiers verkeer het en sy dissipels gekies het uit die ongeletterde vissermanne. Telkens as ek my seëninge wou tel in die akkerbos, het ‘n Judasgevoel my beneem. Gedagtelangs het ek plekke geruil met ‘n mank familie-sukkelaar wat niks is, en niks het nie. Behalwe die wete dat hy op die ashoop lê, sonder selfs ‘n potskerf om hom mee te krap. Ondanks my Judasheid had ek geen benul wat om vir hom te doen nie. Geld? ‘n Dak? Mediese hulp? Moet ek die ACVV of dominee op sy blydorp bel? ‘n Begrafnispolis? Of wát? Want wat ek ook al doen, sal net ‘n veertjie wees in die wegwaaiwind van ‘n gevallene.
Toe, die nag van 1 April, droom ek die antwoord. Só vergesog dat ek wou lag. Aprilgek-droom. Tog, terwyl ek Granny se vellelyf was en haar scramble eggs voer, word my droom waarder en waarder. Suiwer deur die genade word my Judashart ‘n dissipelhart. Laataand roep ek al my engele stoep toe waar ek my slaapkoffie drink. Hulle omsirkel my en knik instemmend.
Sodra ek terug is in my land, gaan ek die skoolhoof of Damesdinamiek of VLV van my skuim-familielid se plattelandse blydorp bel. Dié dorp waar meeste inwoners sy mankemente en skandes ken. Om te sê ek wil soontoe kom vir ‘n optrede. Gratis. Hulle kan ‘n fondsfunksie hou en elke pennie wins vat. Daar is net 2 voorwaardes: Ek wil ‘n strikdas eregas aan my sogenaamde “celebrity”-arm saambring. En daar moet ‘n Burger-fotograaf teenwoordig wees.
Al moet ek ‘n aandpak en -hemp koop en hom eiehandig skrop en nugter hou, maar vir een aand in sy lewe sal ‘n waardige voetlig hom beskyn. Dalk, dálk, bring dit ‘n droom in ‘n droomlose bestaan; ‘n regopheid om aan vas te hou in sy kromheid. En as ek enigsins armer anderkant uitstap, was my klaarblyklike sielsrykdom niks anders nie as net ‘n oogverblindery, ‘n ego-leuen. Dis só waar: We tell lies when we are afraid. But every time we tell a lie, the thing that we fear grows stronger.

Webwerf Soeklig

Met elke uitgawe fokus ek op 'n Afrikaanse webwerf.  Hierdie is my gunsteling tydskrif

Afrikaanse Lied

Iemand wat in Melbourne woonagtig is stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere. Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek

PRESIDENT BRAND SE REIS NA ENGELAND

Woorde: Anoniem
Musiek: S.A. Volkswysie; verwerk: JAN BOUWS

Oom Jannie het Eng'land toe gegaan omdat hy wou gaan kla het,
dat Barkley, Southey en Lang-Jan hom al te veel gepla het.
O, wag 'n bietjie, ja, wag 'n bietjie, 
wag dan 'n bietjie en dan kom alles reg!

As ek hul sê: "Dit is nie reg dat hulle van ons land en steentjies
ons wou beroof", dan word hul kwaad en sê: "Loop na die eendjies!"
O, wag 'n bietjie, ja, wag 'n bietjie, 
wag dan 'n bietjie en dan kom alles reg!

Hy sê: "Victoria! Hul't ons land met al die diamante
maar sommer van ons afgevat, sowaar, my liewe Tante!"
O, wag 'n bietjie, ja, wag 'n bietjie, 
wag dan 'n bietjie en dan kom alles reg!

"Dan gee'k jou veertig duisend pond om die diefstal te bedekke.
En wil jy dit nie vat, ou Jan, dan kan jy sommer trekke."
O, wag 'n bietjie, ja, wag 'n bietjie, 
wag dan 'n bietjie en dan kom alles reg!

Toe word oom Jan so opgeruim oor sy land en diamante;
hy spring daar op en soen sowaar sy liewe oue tante.
O, wag 'n bietjie, ja, wag 'n bietjie, 
wag dan 'n bietjie en dan kom alles reg!

S.A. Volkswysie, soos opgeteken deur mev. Jo Fourie en dr. Elizabeth Conradie.
Uit "Die Volkslied: Weerklank van 'n volk se hartklop", Jan Bouws (HAUM).
Kos stories

Kompetisie Eet – deur Frik Lombaard

Kompetisie eet word deesdae gesien as die mees dinamiese sportsoort in die wêreld. Ja julle het reg gelees dit word geag om ‘n sport te wees. Daar word aangevoer dat die sport al sy ontstaan gehad het in die Neanderthal tydperk. Die rede wat hulle aanvoer is nogal komieklik. Hulle sê as daar 30 Neandertallers in ‘n grot is en ‘n arme haas hop in die grot in sal mens werklik sien wat kompetisie eet is.

Die sport word op graatskaal beoefen in Japan, Amerika, Kanada, Duitsland, Thailand Engeland, Skotland en Rusland. Daar is self ‘n organisasie wat die sport beheer en reels neerle. Die organisasie word genoem IFOCE, International Federation of Competitive Eating.

IFOCE stel al die reels en regulasies op. En bo aan die lys is veiligheid. Geen persoon onder 18 word toegelaat om aan ‘n eetkompetisie deel te neem nie. Die rede daarvoor kan ek verstaan as ek sien hoe eet my sewentienjarige seun ons uit die huis. IFOCE is seker bang dat die tienerseuns al die kompetisies gaan wen. Op ‘n meer ernstige noot dit kan baie gevaarlik wees.

In Amerika is dié kompetisie om aan deel te neem die een wat op die 4de Julie elke jaar gehou word. Nathan’s Restaurant in Coney Eiland hou die jaarlikse hot dog eet kompetisie. Die kompetisie begin stiptelik om 12 uur met 12 deelnemers en duur 12 minute. Die absolute wenner is nie ‘n Amerikaner nie maar ‘n Japanees wat 50 hot dogs geëet het in 12 minute.

As my wiskunde my nie in die steek laat nie is dit so ongeveer 1 hot dog elke 15 sekondes. As daardie broodrolletjies droog is gaan hulle maar sluk. Verder is ek ook net baie bly ek hoef nie vir hom kos te koop elke maand nie.

Van die rekords wat aangeteken is :

‘n 3 Pond 3 onse Beestong heel op geëet in 12 minute.
Net onder die twee pond botter in 5 minute.
74 Hoender vlerkies, 2.65 pond vleis in 12 minute.
57 bees Brains, 17.7 pond, in 15 minute.
38 hardgekookte eiers in 12 minute.
11 ¼ pounder hamburgers in 10 minute. Sekerlik was dit nie McDonalds burgers nie.
152 Jalapenos Rissies in 15 Minute.
6 pond 9 onse kool in 9 minute.
4 32 onse bakke mayonnaise in 8 minute.
168 Oesters in 10 minute.

Vir my om sekere van die van die rekords te gaan probeer sal daar ‘n groot sterk teenwoordigheid van alkohol moet wees, veral as ek kyk na die bees brein eet.

Boeremusiek ens.

Wat's nuut op Kalie se Boeremusiek webwerf?! Ons het nou 'n eie domein - dis nou vir die wat nie die blad onlangs besoek het nie. Gaan loer gerus by http://kalie.boeremusiek.net

Hierdie webblad is spesifiek daarop toegespits om die: Versameling...Bewaring...en Uitbouing...van Boeremusiek aan te spreek.

Kitare van die ou snare
Met die begrafnis van Tiny Mey het Neelsie van Vuuren die gedagte ge-opper van 'n kitaar CD. Ons het Tinus Esterhuizen by die SAUK genader met die vraag: “Hoe klink 'Kitare van die Ou Snare' vir jou”? Hy was onmiddellik geïnteresseerd en Kitare van die Ou Snare is gebore. So is 'n CD saamgestel met van die land se voorste Boeremusikante en siedaar! 'n pragtige kitaar CD met boeremusiek. Later is 'n tweede laserskyf van begaafde kitaarspelers gemaak en is Nic Potgieter ingesluit omdat hy nie teenwoordig was toe die eerste laserskyf gemaak is nie. (Het u geweet dat Nic ook 'n baie goeie kitaarspeler was?)
 
Agterpad Reisnotas - versamel deur Braham van Zyl

Ek luister mos een Saterdagoggend na Amoré Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres onderaan die artikel) Hy stuur 'n 'n gereelde nubrief uit.

DIE HEKS VAN DIE HEXRIVIERVALLEI; Wes-Kaap
ONS het nou onlangs op RSG se Brêkvis met Bekker oor die Hexriviervallei, en vanwaar daardie naam kom, gesels. Kort daarna kry ek ‘n fotokopie van ‘n ongeïdentifiseerde boek hier by my in ‘n laai. Die storie daarin vervat, gaan oor “Die rooi blom” of “Die Heks van Heksrivier” en is deur D’Arbez oorvertel uit die boek “Losse klippe”, wat deur JH de Bussy van Pretoria uitgegee is.
Die skrywer vertel in hierdie verhaal hoe hy tydens ‘n volmaannag per trein deur die Hexriviervallei gery het. Met dié dat hy so uit die trein na die helder verligte berghang sit en kyk, sien hy toe ‘n wasige gedaante bokant die berg sweef. By latere navraag in die vallei het ‘n sekere heer Naudé hom vertel dat bitter min mense al die voorreg gehad het om dié gedaante te sien.
Naudé se voorvaders het aan hom vertel dat daar in 1703 ‘n egpaar De Savoye in die vallei gewoon het. Hulle het net een dogter, Elise, gehad. Sy was toe neëntien jaar oud en besonder mooi, maar baie hooghartig. Die jong mans het haar “La belle enchantresse” genoem, wat glo “die bevallige towenares” in Frans beteken.
Sy het die toenadering van die meeste jong manne van die omgewing geminag. Tog het sy sterk aangetrokke gevoel tot ‘n ene Phillippe Durand van Drakenstein, maar sy wou hê dat hy, soos die ridders van oud, eers sy liefde aan haar moes bewys. Hy moes die rooi bakkiesblom - wat ons vandag as die disa ken – wat hoog teen ‘n gevaarlike oorhangkrans gegroei het, vir haar gaan pluk. Nodeloos om te sê, Phillippe het, in die poging om die blom te bereik, hom in die kloof onder die krans te pletter geval.
Elise was op die werf toe die plaaswerkers Phillippe se lyk uit die kloof gebring het en sy het by die aanskoue daarvan hopeloos kranksinnig geword. Dit was so erg dat sy daarna permanent in die opstal se solder toegesluit moes bly.
Een volmaannag het sy tog ontsnap, self die gevaarlike krans uitgeklim en toe ook na benede gestort. Sy is op dieselfde plek as haar minnaar dood. Nou sê die mense van die Hexriviervallei dat Elise se onrustige siel nog soms tydens volmaannagte in die vorm van ‘n swewende “heks”oor die vallei te sien is. Dis van daar dat die vallei se naam dan kom.
So het die familienaam De Savoye dan ook in Suid-Afrika tot ‘n einde gekom, aangesien Elise se pa die enigste met dié van in die Kaap van ouds was.
● Nico de Kock vertel in sy boekie, Hexvallei – Van toeka tot nou, dat die naam waarskynlik van Exerivier af kom. Dit kom weer van die feit dat wanneer die Amandelrivier, daar by Sandhills aan die onderpunt van die vallei, in die winter sterk vloei, dit skoon bo-oor die Sandrivier vloei en dan só ‘n X vorm maak. Die naam Exerivier kom volgens De Kock ook in van die oudste dokumente voor.
Wel, De Kock se storie mag waar wees, maar die een van Elise De Savoye is darem ‘n baie lekkerder storie om oor te vertel.

Skryf vir Braham en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings direk van hom af! e-pos : info@explore-sa.com

Kunsklasse in Alberton

Peter, ek wil jou net graag vertel van Sanchi se kunsklasse wat ek ontdek het. Elke Dinsdagaand kom ek en my vriendinne bymekaar en teken en verf en kuier sommer lekker. Ek het met geen kuns agtergrond maar skepties begin en gewonder of ek iets op die rype ouderdom van 52 jaar sal leer. Groot was my verbasing toe ek leer dat om te kan teken ‘n aangeleerde ’skill’ is en nie noodwendig ‘n talent is waarmee jy gebore is nie!! Sy bied klasse aan bedags en saans vir kinders, volwassenes en bejaardes. Kontak Sanchi gerus vir meer inligting by
011 869 8875 of 072 274 0491 of sleibach@iburst.co.za

Glimlag!
 
 


'n Sielkundige gaan met vakansie en reël 'n student wat pas klaar gemaak het om sy groepterapie te behartig terwyl hy weg is want hy wil nie hê dat die groep 'n té lang onderbreking in hul sessies moet hê nie. Die student is bietjie bekommerd dat hy aan die diep kant ingegooi word, maar die praktisyn verseker hom dat dit 'n heel normale groep is en dat al wat hy basies hoef te doen, is om hulle maar net aan die praat te kry en dan gesels hulle normaalweg lekker. So gesê so gedaan. Op die datum en tyd van die volgende groepsessie is die pas-afgestudeerde toe ook aangenaam verras met die wyse waarop die groep moeite doen om hom te laat tuis voel. Nadat die preliminaries afgehandel is, vra hy wie in die groep eerste iets wil sê. 'Ek sal begin,' sê een van hulle. 'Goed, wat wil jy vandag met ons deel?' 'Ek is Nelson Mandela,' sê die man. Die plaasvervangersielkundige is ietwat uit die veld geslaan. Die praktisyn het dan gesê dat dit 'n normale groep is ... 'E-eh ... hoe lank voel jy nou al so?' 'So twee weke ... en ek vóél nie net so nie, ek ís Nelson Mandela!' 'Eh ... ja, goed ... eh ... vertel ons 'n bietjie meer?' 'Wel, ek moet nou aangaan waar ek opgehou het. Ek was lank in die tronk, maar het die ANC tot 'n demokratiese oorwinning gelei.... ' O ... en ... eh ... hoe het jy tot hierdie insigte gekom ... eh ... dat jy Mandela is, ensovoorts? 'Osama Bin Laden het dit vir my gesê.' Waarop een van die ander lede van die groep onderbreek en sê: 'Nee, ek het nie!'

Mike en sy vrou besef hulle moet bykom in die nuwe Suid-Afrika en besluit om 'n swart babatjie aan te neem. Nie lank nie, toe laat weet die sosiale werkster dat daar 'n pasgebore babatjie beskikbaar is, en hulle hom maar kan kom haal. Hulle maak so, en op pad huis toe hou hulle met baba en al stil by die tegniese kollege, en skryf in vir 'n Zulukursus. 'Want,' sê Mike, 'dis net 'n jaar dan begin die mannetjie praat...'


Van: Skoongrappies.com

Laat jou wildste drome waar word, kry 'n kaartjie in die UK Lottery, klik net hier  Die boerpot is gereeld om en by  £11 miljoen, ( R140,000,000), sjoe, dis darem maar baie nulle!! Maar dis nog NIKS! Die Euromillions Lotto staan huidiglik op 181 miljoen Euro, dis om en by R1,719,500,000. Eishhhhhh. Vat 'n kans, wie weet???

     
  Die Danville Hulpgroep  
     
 

Ek is betrokke by hierdie inisiatief van Elsabé, kyk tog asseblief of julle nie ook 'n bydrae kan maak nie, besoek ook hulle webwerf.  

Bankbesonderhede:
Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926

Aflewerings adres:-

286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za

PS Bel asb voor jy ry
.

Resepte

Staatmaker, Elzeth, stuur vir my die volgende resepte. Baie dankie, Elzeth!

KOEKIEDRUKKER - KOEKIES (BISCUIT GUN)

KLAPPERKOEKIES:
4 k. koekmeelblom
270 ml. suiker
225g. margarien (Stork/Rama)
1 teel. kremetart
2 eiers
1 teel. koeksoda
1 k. klapper

Sif die meel, sout koeksoda en kremetart saam. Vryf die margarien in. Voeg
die suiker en klapper by. Maak aan tot stywe deeg met geklitste eiers en 'n
bietjie melk indien nodig.
Laat staan vir 'n uur in die yskas.
Druk deur koekiedrukker op liggesmeerde bakplaat.
Bak in oond 180-190ºC tot bruin plus minus 8 - 12 minute. Toets vir gaarheid.

MAIZENA TEEBESKUITJIES:
2 ½ k. koekmeel
1 k. maizena
3 eiers
1 k. suiker
220g. margarien
knippie sout
1 teel. vanielje geursel
½ teel. lemoengeursel
3 teel. bakpoeier

Meng al die droë bestanddele saam. Vryf die margarien deeglik in. Maak aan
met die geklitste eiers en geursel. Laat deeg een uur lank in yskas.
Druk af op liggesmeerde bakplaat.
Bak by 200ºC tot ligbruin plus minus 8-12 minute.


KOOKMELKKOEKIES:
6 X 250 ml. ongesifte koekmeelblom
2 ml. sout
500g. botter/Margarien
2 k. suiker
125 ml. melk
10 ml. koeksoda

Meng die koekmeel en sout. Vryf botter met vingers in tot goed gemeng.
Verhit die suiker, melk en koeksoda saam oor matige hitte in 'n groot
kastrol tot kookpunt en roer af en toe en pasop vir oorkook want dit
skuim baie.
Gooi die warm kookmelkmengsel oor die koekmeelmengsel en meng goed.
Plaas die deeg in 'n houer met 'n deksel, maak toe en verkoel dit tot koud, dit kan
oornag in die yskas gehou word.
Voorverhit die oond tot 200ºC en smeer bakplate liggies.
Vul koekiedrukker met deeg en druk af op bakplate.
Bak die koekies 10 - 12 minute.

KOFFIEKOEKIES:
8 k. meel
500g. botter/margarien
2 k. suiker
1 k. appelkooskonfyt
60 ml. Sterk swart koffie (¼ k.)
7,5 ml. Vanielje geursel
1 x 25g. pakkie koeksoda

Vryf botter in die meel en voeg suiker en konfyt bymekaar.
Maak die koeksoda met 'n bietjie melk aan.
Meng die koffie en geursel.
Voeg alles bymekaar en meng tot deeg. Plaas in yskas vir ten minste 'n uur
lank.
Sit deeg in koekiedrukker en druk af op liggesmeerde bakplate.
Bak in oond 190-200ºC vir 10-15 minute. Hou maar dop.
VULSEL:
1 k. suiker
125g. botter/margarien
80 ml. melk
15 ml. koffie-ekstrak
5 ml. vanieljegeursel

Kook bestanddele alles 5 minute saam in kastrol en klop met 'n houtlepel
nadat dit van die plaat afgehaal is tot koud en styf en vul die koekies.

VLA- KOEKIES VIR KOEKIEDRUKKER - BISCUIT GUN

6 k. koekmeel
1 k. vlapoeier
1 k. maizena
5 teel. bakpoeier
500g. margarien (Stork/Rama)
2 k. suiker
4 eiers
2 teel. vanieljegeursel

Room margarien en suiker saam. Voeg eiers by en dan die geursel.
Sif die droë bestanddele in. Meng goed. Plaas in yskas vir 'n uur lank.
Sit deeg in koekiedrukker en druk koekies op liggesmeerde bakplaat.
Bak in oond van 180ºC vir 12 - 15 minute. Hou dop.

KONDENSMELKKOEKIES:

12 k. koekmeel
3 k. suiker
3 k. botter
1 pakkie koeksoda (25g)
1 eetl . gouestroop
4 eiers
1 blik kondensmelk
1 k. vet (holsum)
1 pakkie kremetart (25g)

Klits die botter, vet en suiker goed. Klits die stroop by. Klits die eiers baie goed en voeg dit by bogenoemde asook die kondensmelk.
Sif die droë bestanddele en meng met eerste mengsel.
Knie goed en plaas in yskas vir 'n uur lank.
Druk koekies af op liggesmeerde bakplate.
Bak in oond 180-190ºC vir plus minus 15 minute lank.

LEMOENKOEKIES:

½ k. botter
1 eier
3/4 k. suiker
1 teel. gerasperde lemoenskil
1 teel. lemoensap
1½ k. koekmeelblom
1 teel. bakpoeier
¼ teel. sout

Klop die botter en die suiker saam met 'n houtlepel tot dit goed gemeng en romerig is. Voeg die eier by en klop dit goed.
Voeg die skil en sap by.
Sif die droë bestanddele saam en voeg dit by. Maak 'n stywe deeg aan en plaas in
die yskas vir 'n uur lank.
Druk koekies af op gesmeerde bakplaat.
Bak in oond 200ºC vir 10 minute lank.

Ou Boereraat

Ambei: Neem tiemie, laat trek soos tee, drink soggens en saans 'n kelkie vol. Eet groente en loop elke dag minstens 30 minute lank.

Ou Resep

Boboti

1 lb. gemaalde koud gaar vlys
2 ons boter
1 grote koppi melk
1 sny brood
12 gestampte amandels
1 teelepel kerriekrui
di sop van 'n suurlimoen
1 ui

Stamp di amandels fyn. week di brood in vlys sop of melk, smoor di uie in die botter,  maak dan alles goed eurmekaar en sit dit in 'n diep skotel met 'n paar limoemblaartjies; klits 3 eiers met di melk en gooi dit oer di vleis in di skotel, dan bak dit in 'n oond of in 'n pot met vuur van onder en bo.

st se pitkos

st se  pitkos

Klik hier om st se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief

“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.

Nog gevleuelde woorde van ST:

Riglyne by hantering van dwelmprobleem by kinders

Baie ouers sit vandag met die vrees dat hulle kinders met dwelms kan deurmekaar raak. ‘n Klompie jare gelede sou ons nog dink dat dit sommer ouvrou stories is of dat dwelms by skoolkinders eerder ‘n uitsondering is.

Daar is egter ontstellende berigte en gerugte dat dwelms maklik bekombaar is. Dwelms is nie meer iets ver weg nie, maar is reeds in die strate hier naby aan ons huise.

Wanneer ek met ouers in die praktyk praat, is die probleem dikwels dat hulle vermoed dat hul kind dwelms gebruik, maar is nie seker nie.

Wat is dwelmmisbruik? ‘n Eenvoudige beskrywing is dat dwelmmisbruik die gebruik is van enige chemiese stof (wettig of onwettig en wat alkohol insluit) wat fisiese, verstandelike of sosiale skade aan die persoon of aan die mense naby hom of haar meebring.

Vermoed jy dus dat jou kind met dwelms gebruik, is dit goed om na die drie aspekte te kyk, naamlik:

§ fisies,
§ verstandelik
§ emosioneel / sosiaal

Byvoorbeeld op fisiese vlak kan jou kind begin swak eet of al meer onnet op sy persoon raak. Verstandelik ondervind hy al meer konsentrasie probleme en kan sy redenasies absurd raak. Sosiaal begin jou kind hom al meer onttrek en raak buierig. Kurt Cobain – popster held van der duisende tieners en wat sy eie lewe geneem het – het gesê: “Dwelms is ‘n mors van tyd. Dit vernietig jou geheue en jou selfrespek, en elke ding wat daarmee saam met jou eiewaarde te doen het.”

Dit is ook belangrik om te let op die invloed en skade wat dwelmgebruiker op die mense rondom hom het. Een voorbeeld is die sosiale skade aan die huisgesin. ‘n Dwelmgebruiker beïnvloed die ander kinders se funksionering en ook die gesin se sosiale kontak na buite. So kan ouers te bang wees om mense oor te nooi, want hulle weet nie op watter sosiaal onaanvaarbare wyse hul kind gaan optree nie.

Hier volg ‘n paar pertinente waarskuwingstekens waarop jy as ouer bedag kan wees. Hierdie tekens is ook van toepassing wanneer jy vermoed ‘n volwasse vriend met dwelms of alkoholmisbruik deurmekaar is:

· Lang periodes sonder slaap of verloor eetlus.
· Verloor onverklaarbaar gewig.
· Sukkel om te konsentreer.
· Skoolwerk gaan agteruit.
· Het nuwe vriende wat verdag voorkom.
· Sy neus bloei dikwels.
· Hy en/of sy klere ruik vreemd.
· Oormatig aktief, senuweeagtig of geïrriteerd.
· Humeurig en bakleierig – buie veranderlik.
· Pupille kan abnormaal groot of klein wees.
· Oë kan pienk of bloedbelope wees – dra sonbril om dit te verberg.
· Gebruik skielik groot hoeveelhede geld.
· Distorsie van persepsies en die realiteit.
· Netheid en gehalte van (skool)werk neem af.
· Raak slordig op sy persoon.
· Raak geheimsinnig oor sy doen en late.
· Vermy om gesprekke te voer.
· Raak al meer sku vir mense / vermy oogkontak.
· Gebruik alkohol of ‘n middel om te “cope”.
· Kom in aanraking met die gereg op grond van ‘n bedwelmde toestand.
· Ontken of probeer drinkgewoontes of dwelmgebruik wegsteek.
· Vermy sosiale geleenthede waar daar nie drank of dwelms beskikbaar is nie.
· Arriveer beskonke by die werk of skool.

Dit is vir enige ouer ‘n skok wanneer jy agterkom dat jou kind by dwelms betrokke is. Ouers wonder dan hoe hulle die saak moet benader en hanteer.

Een ding wat jy as ouer nooit moet doen en dit is om die saak ter wille van vrede te ignoreer nie. Moenie hoop dat die probleem gaan oorwaai nie, want dit gaan nie. Hoe eerder iemand gehelp word, hoe beter.

Jy moet met jou kind hieroor praat. Probeer om simpatiek en taktvol met jou kind in gesprek te tree. Dit is egter belangrik dat jy ‘n besliste standpunt inneem.

Die hantering van ‘n dwelmprobleem by jou kind is so ‘n sensitiewe en komplekse saak dat jy gewoonlik van buite hulp moet inkry. Raadpleeg ‘n kundige persoon hieroor en klop aan by ‘n organisasie of rehabilitasiesentrum wat jou kan help.

Daar is vir dinge wat ek voorstel wat ouers kan doen:

1. Kry inligting: Woon seminare, praatjies en lesings by waar oor dwelms gepraat word. Rus jou as ouer toe met die nodige kennis en inligting. Wanneer jy op hoogte is van al die gevare en tekens van dwelms is dit soveel makliker om voorkomend op te tree en jou kind te help.

2. Kry professionele hulp: Wanneer jou kind met dwelms deurmekaar raak of jy vermoed dit – gaan spraak ‘n kundige op die gebied soos ‘n sielkundige of dokter. Klop aan by Sanca vir hulp.

3. Raak betrokke by jou kind: Ons leef vandag in tye waar ouers en kinders bymekaar verby leef. Dit kan gebeur dat ouers so besig is met hulle beroep, sosiale aktiwiteite en dinge dat jy nie meer weet wat in jou kind se lewe aangaan nie. Raak betrokke, gesels met jou kind, woon sy sportgeleenthede by, ken sy maats, besoek oueraande, spandeer tyd met jou kind, weet wat aangaan in sy lewe.

4. Waardes en Norme: Jou kind gaan sekere waardes en norme leer. Dit is deel van grootword en deel van menswees. Die vraag is watter waardes en norme gaan jou kind leer? Die waardes van sy vriende of die waardes wat jy vir hom gee? Jy kan slegs jou waardes en norme op jou kind oordra indien jy genoegsame kwaliteit en kwantiteit tyd met jou kind spandeer. Skep ‘n goeie ouer-kind verhouding sodat jy die belangrike waardes kan oodra.

‘n Sprankie gedagte vir die dag

“Baie ouers dink dis ‘n moeilike onderwerp om met hul kinders die gevare van dwelms en alkohol te bespreek. Hulle weet nie wat om te sê, wanneer om te sê en waar om te begin nie. Die gevolg is hulle begin wanneer dit te laat is.” - Jennifer Stater -

Indien daar enige skole is wat wil hê dat ek by ‘n oueraand kom praat oor die dwelmprobleem en om vir ouers meer hieromtrent in te lig, is u welkom om my te kontak. Ek het ‘n “power point” aanbieding wat ek daarmee saam doen.

Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za

Skakels

Soek jy plek om te gaan kampeer? Klik dan hier!

Skooltake?? Klik hier

Vakansieverblyf is altyd 'n probleem, dié mense maak dit makliker om te kry, klik net hier.

Nieltjie se Stories - Kinderstorie CD in Afrikaans - Klik hier

Teken in /Teken uit / Kontak

Teken hier in op die poslys en lees ook die argiewe.

Om uit te teken, stuur vir my 'n epos en dui jou naam aan asook die eposadres waaronder jy ingeteken is

Kontak my hier.

Druk jou speld op my besoekerskaart!