|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare!
Hier is ons nou
in die nuwe jaar! Al wil graag alle intekenare en ander lesers 'n voorspoedige, veilige
en gesonde 2008 toewens!
Vir die van julle
wat nog nie genoeg poeding oor die vakansie gehad het nie, ek het nog
poedingresepte verder na onder. Ek kan nie alleen gewig aansit nie!
A-nee-a!
Net om te laat
weet dat ek enigiets wat ek in my epos ontvang en wat ek voel hier
geplaas kan word, dit plaas ek. As daar dalk kopiereg op is laat weet
my, dalk haal ek dit af.
Weereens het ek lekkerlees
Afrikaanse artikels deur onder andere Minette Brink,
Estelle de Bruyn en Annelie Botes. Ek is seker julle sal dit geniet! Ook is daar
'n insiggewende artikel deur Dr. S T Potgieter.
En onthou tog om
my besoekersboek te teken? Hy was vir 'n hele tydjie aflyn maar is
nou weer terug.
Net een
miljoen?
Klik hier om jou kaartjie te kry en droom GROOT.
Geloftefees
16 Desember - Bloedrivier-terrein |
Ons is toe mos
op Geloftedag by Bloedrivier, wat 'n ondervinding. Hier is die storie en
fotos:
Geloftedagfotos:
http://share.shutterfly.com/action/welcome?sid=0CaMmLhy0bsWGN
Geloftedag – 16 Desember 2007 - Bloedrivier
Die gevoel van opgewondenheid het al begin toe ons op die grondpad na
die Bloedrivier-terrein afdraai.
By die terrein aangekom het die hoeveelheid mense daar my opgeval. Dit
was ‘n feestelike stemming met vlae van die verkillende Boere-republieke
wat oral gewapper het. Mense het al vir die vorige paar dae in die
“laer” kampeer. Daar was “kenmekaar” geleentheid, boodskappe is
uitgesaai, aand-kampvure met volksang, klei-os maak, jukskei en ander
aktiwiteite om die mense besig te hou. Die kampkommandant se ten was
omring deur tien vlae van die Boererepublieke.
Ons was net betyds vir die verrigtinge wat om 9 uur in die laer sou
begin. Die hoogtepunt sou die herbevestiging deur die teenwoordiges van
die Gelofte wees.
Toe ek die laer binnestap is dit asof ek deur ‘n onsigbare poort loop en
169 jaar in die verlede geplaas word.
In my geestesoog beleef ek daardie Sondag van die Slag van Bloedrivier.
Ek hoor die geskree van die stormende Zoeloe impi’s en die geweervuur
van die Boere. Ek sien die digte rook van die kruitdampe, die diere wat
verbouereerd rondmaal en ek hoor weer die aanhoudende , aanhoudende
geweervuur. Skielik is ek weer terug in die hede en ek voel die hare op
my arms regop staan.
Plekke is ingeneem op kampstoele of sommer so op die grond. Net na 9 het
die perdekommando die laer binnegekom, die voorste tien ruiters elkeen
met ‘n Boererepublieks- of Voortrekkervlag. Soos elke vlag in ‘n
halfsirkel geplant is, is die herkoms van die vlag verduidelik.
Dan word daar uit volle bors gesing en na ‘n kort toespraak en gebed,
vind die hoogtepunt van die dag plaas. Almal teenwoordig herbevestig
hardop die Gelofte, ‘n paar honderd Christen Afrikaners verenig in hulle
opregtheid.
Die verrigtinge in die laer word afgesluit met die sing van al vier
verse van die Stem. Ai, hoe wonderlik is dit nie om weereens die Stem te
sing soos dit moet gesing word, in Afrikaans!
Ons beweeg daarna almal na die saal toe vir die Geloftediens.
Gedurende voorsang sing ‘n nuwe sangeressie, Coreen, ‘n liedjie oor
Bloedrivier wat spesiaal vir die geloftefees geskryf is, ‘n toekomstige
treffer as daar ooit een was!
Dan sing almal Psalm 146 en die diens se teks kom uit Lukas 11.
Ter afsluiting sing almal die Onse Vader.
Na ‘n kort pouse volg ‘n historiese voordrag en daarna is dit
piekniektyd en gesellig saam verkeer.
So loop ‘n baie spesiale dag ten einde en in stilte pak ons die lang pad
huistoe aan. Die gebeure van die dag nog te vars in die geheue vir vir
onbelangrike praatjies.
Dag van versoening? Ek is oortuig nie een van die mense daar het aan
versoening gedink nie, dit was Geloftedag, en die herbevestiging daarvan
het alles daar oorheers.
Hierdie brief is maar net 'n klein deel van die
Peterjasie internet ondervinding.
Klik gerus hier en gaan besoek my webwerf, daar is regtig iets van
alles, en alles in Afrikaans.
Marietjie in
Christchurch |
Klik hier om te gaan lees wat hulle alles daar in die vreemde
aanvang.
Ek beskou Anna
Eksteen as die koningin va Resepte eBoeke in Afrikaans. Sy het nou al 'n
hele versameling van resepte eBoeke wat enige kossoort dek, en dit in
Afrikaans! eResepteboeke is goedkoop en geen posgeld is betaalbaar nie,
die boeke word per epos gestuur en is in 'n japtrap by jou.
Klik gerus hier en kyk
na haar resepteboeke en bestel gerus een, of sommer 'n paar! As jy
besluit om van haar boeke te bestel en jy noem dat jy daarvan hier te
hore gekom het, sluit sy my Kampkosresepteboek gratis in!
Robert Jansen
van Vuuren stuur vir my die volgende, ek weet darem nie so mooi nie.......
Engelse
potbrood
Plaas witbrood langs mekaar in 'n tertbak. Engelse mense sny die korsies
af.
Smeer mayonaise oor. Sprinkel dan kaas oor.
Plaas weer brood bo-op en hou so aan tot vir genoeg mense of tot bak vol
is.
Gooi dan room oor alles.
Bak in oond, 180 grade tot brood onder bruin, [ soos toast ] .
As jy van souserige ding hou gooi baie mayonaise en room, ens.
Bedien warm.
Nou en dan kry
ek 'n bevlieging en dan probeer ek oot iets skryf. Ek kan nie sing nie,
so ek probeer maar skryf! Ek hoop nie ek verloor teveel intekenare nie,
laat maar weet wat julle dink!
Ek het toe mos
ingeskryf vir Huisgenoot se Kersverhaal-kompetisie, geen prys gewen nie,
maar hier is my poging:
Die Kersgeskenk
Peter Thomas
Dis die dag voor Kersfees.
Ek
en my wederhelf, is oppad na die plaaslike ouetehuis. Sedert my pa, wat
‘n inwoner daar was en presies drie jaar gelede oorlede is, neem ons
elke jaar Kersgeskies vir die inwoners.
Ons hou stil voor die gebou en elkeen haal ‘n groot sak vol
geskenke uit die kattebak. Binne gekom, stap
sy na die vroue vleuel en ek loop die blinkgepoleerde gang af na
die mansafdeling.
By elke kamer gaan ek in en gee ‘n geskenkie af. Die inwoners is
uitgehonger vir geselskap en dis eers laatoggend toe ek by die laaste
kamer instap. Oom Nathan se kamer.
Oom Nathan en my pa was vriende en ek kuier altyd lekker by hom.
Sy oë blink toe ek sy pakkie oorhandig.
“Ek hoop dis tjoklits,” sê hy terwyl hy dit in die laai van sy bedkassie
wegbêre.
Ek sit nog ‘n rukkie by hom en gesels.
Hy is weer op sy gunsteling onderwerp, sy wedervaringe gedurende die
Tweede Wêreldoorlog toe hy in Noord Afrika diens gedoen het. Dan vertel
hy weereens van sy verloofde, Beth, wat hom vir ‘n ander man gelos het
terwyl hy weg was. Hulle het albei in Londen gewoon en het ‘n maand voor
die oorlog uitgebreek het, verloof geraak. Sy was ‘n winkelassistent en
hy ‘n soldaat in die weermag.
Soos alle verliefdes, het hulle ewige trou aan mekaar gesweer. In die
begin was daar gereeld briewe, maar toe tref ‘n ramp hom. Sy tenk word
deur ‘n mortier getref en hy is met ernstige beserings afgevoer na ‘n
veldhospitaal toe, daarna na ‘n plaaslike hospitaal waar hy vir meer as
drie maande aangesterk het. Namate sy gesondheid verbeter het, het hy
begin navraag doen oor enige pos van Beth, altyd was die antwoord
dieselfde. Briewe wat hy geskryf het was nooit beantwoord nie.
Hy het toe maar aanvaar dat sy liewe Beth moed opgegee het nadat sy vir
so lank nie van hom gehoor het nie.
Hy is later ontslaan en in Londen aangekom, was hy verpletter om te sien
dat die buurt waar Beth gewoon het verpletter was deur die Duitsers se
bomaanvalle. Ook die winkel waar sy werksaam was, is heeltemal
vernietig. Na maande se vrugtelose gesoek het hy aanvaar dat Beth moes
omgekom het in die aanvalle wat Londen nag na nag geteister het. Kort
daarnan het hy verhuis Suid Afrika toe om ‘n nuwe lewe te begin. Ons
kuier lekker vir nog ‘n uur of so toe my vrou saggies aan die deur klop
en aandui dat ons moet aanstaltes maak.
Oppad huis toe gaan die gesprek oor die spesifieke twee oumensies,
Tannie Liz en Oom Nathan. Ons stem saam dat dit so tragies is dat die
oorlog soveel mooi verhoudings tot niet laat gaan het. Ek vra uit oor
Tannie Liz se omstandighede. My vrou vertel dat Beth in Londen
woonagtig was en pas verloof geraak het toe die oorlog uitbreek en haar
verloofde, Jonathan weg is Noord Afrika toe.
Ek voel hoe kry ek hoendervleis en gaan parkeer in die eerste en beste
parkeerplek.
“En nou?,” vra my vrou, “is daar iets verkeerd?”
“Ek weet nie, maar sê nou net….” prewel ek.
“Hoe bedoel jy nou?” vra sy so half opgewonde, sy kan sien dat iets my
geweldig pla.
“Tant Liz en Oom Nathan, kan jy dit nie sien nie? Dink jy dit kan
moontlik wees?” ek is nou heel opgewonde, oortuig dat ek iets hier beet
het.
“Hoe bedoel jy nou?” sy snap nog nie wat ek probeer sê nie.
“Dink net, Jonathan en Nathan, Beth en Liz, verloof, oorlog,” rammel ek
my gedagtes af.
Sy staar my met groot oë aan, “Dis ongelooflik, maar ek dink jy kan reg
wees, draai om, ons moet gaan seker maak.”
By die ouetehuis aangekom is ek dadelik na Oom
Nathan toe en my vrou na Tannie
Liz se kamer.
Ons plan is om soveel moontlik van die twee se verloofdes uit te vind en
dan ons bevindinge te vergelyk. ‘n Halfuur later is ons in die sitkamer
met ons “bewyse”.
“Ek dink ons is reg,” my vrou is nou heel opgewonde, “Tannie Liz het
haar verloofde Jonathan genoem!”
“En Oom Nathan het sy verloofde Beth genoem!” ek kan my opgewondenheid
nie beteuel nie.
“En hier is die finale bewys,” kom dit triomfantelik van my vrou, “Liz
het vir my ‘n foto van Nathan gegee.”
Met bewende hande vat ek die foto by haar, die foto van ‘n jong soldaat,
onmiskenbaar Oom Nathan.
Ons kyk mekaar aan, “Weet jy wat dit beteken?”
Ek voel skoon aangedaan en die trane loop by my vrou se wange af.
Sonder om verder te praat drafstap ons in die gang af na Oom Nathan se
kamer.
“My maggies, is jy alweer hier, ou seun?” glimlag hy ons toe.
“Ja, Oom, kom saam, ek wil Oom aan iemand gaan voorstel,” Ek help hom
uit sy gemakstoel uit.
Stadig beweeg ons in die gang af na die aangrensende vleuel van die
tehuis.
Ons sien Tannie Liz in die sitkamer in die sonnetjie op ‘n rusbank sit.
In die sitkamer heers ‘n Kersatmosfeer. Die vertrek is versier met dle
allermooiste versiersels met ‘n groot Kersboom met liggies wat flikkerin
die een hoek. Ons stap na haar toe. Sy kyk vraend op van haar hekelwerk.
“Kan ek Tannie aan iemand voorstel?” Haar gesig verstar as sy na Oom
Nathan kyk, dit lyk of sy ‘n spook gesien het.
“Jonathan?” kom dit huiwerig van haar.
“Beth?” antwoord hy, die ongeloof duidelik in sy stem.
Huiwerig gaan sit hy langs haar. Met ‘n bewerige hand streel hy oor haar
wang en neem haar dan in sy arms. Sy snik saggies.
My wederhelf pluk aan my mou en dui aan dat ons moet spore maak.
Net toe ons omdraai sê Tannie Liz met ‘n betraande gesig, “Dankie julle,
vir die beste Kersgeskenk ooit.”
Presies ‘n week later is ons eregaste
op die grootste troue wat nog by die ouetehuis plaasgevind het.
Ek plaas graag weer en van Minette
se artikels, ek verlees my altyd an haar skryfstyl, soos sy skryf, so
is sy. Ek sien ook dat daar nou van Minette se artikels in Wegbreek
verskyn, gaan kyk gerus!
Lekker lees!
Amal wag.
Vir die skip om te kom. Vir die een wat die hart gaan heelmaak. Vir
payday. Vir beter dae.
Daar hang 'n sadness oor die afwagtendes. Soos siekes in 'n spreekkamer
wat weet dat die dokter op onbepaalde verlof is. Ons is so vasgevang in
die alledaagse roetine van oorlewing dat ons nie meer weet wat om te
verwag nie.
Tien jaar terug se drome het vervaag in die niet. In 'n 'ek-dink-nie-ek-kan-dit-meer-doen-nie'.
Sê wie?
Elke dag brul met uitdagings en moontlikhede.
Ons moet net nie toelaat dat ongelukkige mense ons spontaneïteit
onderdruk nie.
Soos die naweek op Swakop. Ek sit op die sypaadjie en eet slaptjips in
bruinpapier. Ghries op die wange. Seebries in die hare. Winterson op die
rug. Advertensie-materiaal. Suur tannie stap verby en klik verontwaardig.
Ongehoord, skril sy vir haar oordonderde man wat met dooie oë agterna
sleep. Ek kyk haar al kouend agterna en ek sidder. Wat is ongehoord, sou
ek graag vir haar wou vra. Wat het vir tannie so ongelukkig gemaak dat
tannie so swaar aan die mondhoeke dra?
Miskien moet ek haar inhardloop en vertel van gisteraand. Toe ek
geblikte shrimps en mayonnaise uit 'n frisbee geëet het. Bo-op 'n duin
met 'n blikbeker vol OBS in die hand. Heel dekadent.
Wat 'n voorreg. Wat 'n sonsondergang.Wat 'n heerlike sooibrand. Maar ek
los dit liewer, want sy sal my seker laat sertifiseer.
Ek weet almal se smake en voorkeure verskil en dis reg so. Party mense
hou van formaliteit en leef dit uit sonder om jou soos 'n pleb te laat
voel. Maar ek het 'n probleem met die alewige vooruitbeplanning, die
reëlings, die VIP-lyste en die gevolglike rampspoedige partytjie. Dis
die gewag op die groot dag wat die lekker wegvat. Jy stress jou op oor
die rok, die skoene, die partner, die baby-sitter. Dan kom die groot
aand. Jy blaas soentjies verby onbekende beroemdes se wange.
Hiperventileer in jou stywe nommertjie. Heelwat jolig met 'n tikkie
jolyt. Maar die heeltyd knaag die gewonder in die agterkop -- gaan die
antwoord homself op hierdie geleentheid ontbloot? Gaan ek vanaand insig
verkry? Gaan die wyse man van sy berg af kom en al die raaisels oplos?
Met my luck sal die wyse man iets sê soos: Die Noordelig skyn op die
bont chrysalis, vasgevang in koue kristal. Huh? The plot thickens.
Dis presies wat met ons lewens gebeur het. Ons worry te veel oor die
uiterlike. Ons wag vir die groot dag wanneer alles anders gaan wees. Te
veel kennis en inligting van buite maak ons koppe nog meer deurmekaar.
En wat gebeur?
Ons vergeet die basics. Ons vergeet om net te lewe. Al is die geldjies
skraps en die rekeninge 'n berg.
My ma kla oor ek so baie kaalvoet loop. Dis so gesond, Ma. Al is my
hakke so gebars ek kan Daisies daarin plant. (Ok, nie regtig nie.) Daar
loop Ma toe die hele Swakopnaweek ook kaalvoet. En sy gloei, want dis
lekker.
Skud los die stywe bollas. Dans met 'n kind. Hardloop in die reën. Gee
lekker stywe hugs as jy so voel. Runnik soos 'n perd as die lag oorloop.
Wees sommer net simpel as dit moet. Kyk vir 'n slag ordentlik in die
spieël en sê 'howzit!' vir die wyse man wat vir jou terugkyk.
En skielik is die wagkamer leeg.
Klik hier vir nog Minette
artikels
Maroela
Boeke en Tierberg Boeke - Laai gerus hulle nuutste katalogus af en
kyk daardeur. Hulle het 'n besonderse versameling boeke. Ek het al self
van hulle bestel en hulle diens is uimuntend.
Regs klik hier om
die katalogus af te laai. Daar is ook 'n groot versameling Africana te
kry by
www.abebooks.com . Tik net Africana in die soekblokkie
Blanke
Ekonomiese Forum -
Waar Blankes mekaar ondersteun |
Die BEF het kennis gekry van
verskeie studiebeurse en werksgeleenthede wat beskikbaar is, vir meer besonderhede,
kontaknommers is hieronder.
Sluit nou aan. Maak 'n verskil.
Klik hier
vir meer inligting
Kontakbesonderhede:
Mnr. Andre Groenewaldt – 082 633 2920 & landlyn: 012 548 6118
Mnr. George Pienaar – 082 338 3295
Faks: 012 548 7242
Hierdie gaan
nou 'n gereelde item word. Ek is bly om te sien dat die Boeremusiek
tradisie nog so sterk staan....
Nico Carstens

|
Hoewel hy sê
dat hy nog nooit Boeremusiek gespeel het nie, is daar honderde plate
om die teendeel te bewys. Ek glo wat hy vir ons probeer sê het was
dat hy nie soos in 1930 sonder versterking sonder tromme ens.
gespeel het nie maar dat sy musiek tred gehou het met die vordering
in die tegnologie. Inteendeel Nico Carstens het saam met Rassie
Erasmus van ons mooiste Boeremusiekplate gemaak.
|
Bron: 15 Goue
Jare: 1989-2004 Boeremusiekgilde
Regs klik hier om die resepte eBoek
met Kaaskoekresepte af te laai
Peterjasie se Groot Afrikaanse CD |
Ek het my mees populêre eBoeke op
een CD saamgevat. Die Tradisionele SA Resepte, die Kampkosresepte,
die Wille samies en die Boererate is almal daar. Die CD maak 'n ideale
geskenk maar ook 'n besonderse aandenking.
Die CD verkoop vir R100, posgeld
ingesluit,
stuur vir my 'n epos vir betalingsbesonderhede.
Dan het ek ook 'n resepte CD in
Engels. Die CD bevat meer as 50 volledige resepteboeke en maak die
ideale geskenk. Dink net, die ontvanger hoef nooit weer 'n respteboek te
koop nie. Prys is R100 wat uitwerk op R2 per resepte eBoek, is dit nou
'n winskopie, of wat?
Klik hier vir betalingsbesonderhede.
Kom ons skop oudergewoonte af met
Estelle se bydrae. Sy is verbonde aan die
Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië.
Kontak haar gerus, sy hoor graag van julle.
BANK RYE
ONS finansiële instellings is 'n belangrike boublok in ons ekonomie.
Die meeste mense wat ek by handelsbanke ken, is gaaf en doen wat hulle
kan vir die gemeenskap in die vorm van skenkings aan die
Kankervereniging, die Dierebeskermingsvereniging en instansies wat na
behoeftiges omsien.
Op 'n persoonlike vlak is daar seker maar min van ons wat ons nie reeds
tot die bankbestuurder gewend het om ons in moeilike tye te help met 'n
ekstra ou oortrokke fasiliteitjie of so nie.
Maar ai, kan ons banke nie net ‘n bietjie meer bedag wees op die nood
van kliënte wat, ondanks internet bankgeriewe, bankkaarte wat by
outomatiese tellers gebruik kan word en selfs selfoonbankdienste, tog
van tyd tot tyd in 'n ry moet staan en persoonlik deur 'n teller gehelp
word nie?
FNB, jammer om julle uit te sonder, maar dit is by jul tak in
Onafhanklikheidslaan daar skuins oorkant die koedoe, waar ek my nou die
dag so liederlik vererg het. In die proses van vererg en opruk, besef ek
dat g'n vloermoer of bitsige aanmerking of opmerking enige verskil gaan
maak aan die saligheid van die 36 mense wat saam met my in die ry staan
nie. Hier moet ek bek hou en stert swaai en die geduld van sewentig maal
sewe Jobs aan die dag lê.
Daar is vier toonbanke vir kassiere en 'n ekstra een vir 'n sogenaamde
"Express Teller". Dit is 12:00 in die middag, die bank is tjok en blok
vol en net twee van die vier tellertoonbanke is beman. By die kitsteller
is daar 'n groot, leë afwesigheid.
'n Ou oom agter my in die ry begin mor. Hy roep 'n sekuriteitsman nader
en vra of hy nie iemand kan gaan roep om op die benarde situasie waarin
die 38 mense (want die ry groei vinniger as wat die voorste kliënte
gehelp word) aan te spreek nie. Die arme sekuriteitsman trek sy skouers
op.
Ons staan en beweeg voetjie vir voetjie vorentoe. Ek tel die mense voor
my in die ry. Daar is 25 voor my, gedeel deur die twee tellers beteken
dit dat ek 12 en 'n halfste van voor is. Daar is die lang, slanke,
swanger vrou met die rooi trui, die tannie met die gehekelde pienk
wolmussie op die kop, die besadigde man met die tienerseun. Die seun met
sy Nike têkkies en hande in die broeksakke leun soos 'n moedelose
bejaarde teen die pilaar en wag vir sy pa wat soos die res van ons,
skuifel skuifel in die ry.
Die tyd stap aan. Ek is nou al 'n halfuur in die ry en beklee die 9de
posisie van voor. Een of ander bankbeampte kom met 'n deftige dame met
'n geborduurde pashmina uit 'n ander rigting gestap, praat stilletjies
met die arme oorwerkte teller in die derde afskorting. Die deftige dame
bly staan daar voor en toe die teller met sy kliënt klaar is, spring
grênd mevrou voor in. A nee a! Daar is 'n kollektiewe sug van
verontwaardiging wat onder ons beteuterde rystaners opgaan. Grênd même
wil nie sommer 'n gewone inbetaling doen nie, nee, sy is duidelik 'n
sakevrou wat 'n boek vol tjeks en 'n banksak vol geld inbetaal. Die
teller moet boonop ook eers die kleingeld uitsoek en soort by soort
bymekaar kry voor dit in sakkies geplaas en geweeg kan word om die regte
bedrae te kry.
So gaan dit aan.
Ek staan nou op nommer vier in die ry. Uiteindelik kom nog 'n teller op
diens en daar is nou drie van die vier toonbanke beman. Die kitsteller
se plek is nog leeg. Die drie kliënte voor my is almal van
sakeondernemings en bring hul banksakke en boeke te voorskyn. Al drie
toonbanke word nou beset met mense wat op sakeondernemings se rekeninge
kom inbetalings doen. Die res van ons met ons enkele tjek of paar note
wat inbetaal moet word, sug weer kollektief.
Job, waar is jy? Ek weet jy is diep beproef, maar genadiglik is jy 'n ry
in 'n oorvol bank met onderbemande tellertoonbanke gespaar gebly.
Kan die banke nie maar op die uitkyk wees vir wanneer die rye lank raak
en 'n ekstra teller van iewers agter opkommandeer om te help nie? En wat
van 'n aparte toonbank vir die besigheidsrekeninge?
Ek sê maar net!
Ek stem saam met
Estelle, toe ek jare gelede bankkassier was, het elke kassier sy eie tou
mense gehad om af te werk, jy het gewerk dat jy klap om jou ry af te
werk. Deesdae is daar net een lang tou en jy gaan na die eerste en die
beste kassier sodra dit jou beurt is. Daar is absoluut geen haas
by die kassiere nie, die mense in die tou kan mos na een van die ander
kassiere gaan, hoekom vinnig werk? Ek sorg dat ek deesdae so min
moontlik in die bank kom.- Peter
|
|
|
‘n Bak vol insuurskottelgoed
Ouma Anna Grobbelaar van Bedford was een van my baie moeders. Vele kere dat
ek by haar huis daar aan die Kagabergkant van die dorp skuilte gevat het as
die storms om my woed. Kerkstorms. Skinderstorms. Nonkonformis-storms wat ek
in my uitgesprokenheid ontketen het. So geborge as wat ‘n kleindorplewe is,
so skuilteloos kan dit wees. Jou sake is almal s’n, en andersom. Almal se
kombers en almal se matras, en orals lê ‘n ding.
‘n Puik kant van ouma Anna was haar netheid. Elke doilie, kruiebottel en
blompot had ‘n plek. Sy kon in die donker ‘n goue haakspeldjie raakvat
sonder haar bril. En haar kombuiswasbak was altyd leeg. “Ek pes
insuurskottelgoed,” en sy het die koppie voor jou lippe weggevat vir
uitspoel. “En besides, cleanliness is next to Godliness.”
Laterjare het ek ouma Anna se netheid geërf. Maar vóór dit was daar knaend
chaos in Plasketstraat 2. Almal smyt neer, bêre dinge in die raarste gate.
Niks het ‘n plek nie; almal is byterig as iets soek is. As die foon nie
afgesny is oor laatbetaling nie, het die tjekboek verdwyn. Kwitansies en
waarborge vir elektriese ware was ‘n dagmerrie. Laaie was verstop van onpaar
kouse, souweniers, pap tennisballe, droë penne. Almal se kaste het soos
wasgoedmandjies gelyk. Die wasbak was immer getoring met skottelgoed; die
strykmandjie het booggestaan. As dit nie ‘n aardrykskundeboek is wat soek is
nie, is dit ‘n skêr of ‘n spanner. Dosyne male is die huis omgedolwe op soek
na die motorsleutel. As die tuinlus my pak, spandeer ek eers ‘n halfdag om
die grafie en vurkie op te spoor. Breek ‘n skoolskoenveter 7.00 soggens,
raak dit stiknag, want daar ís veters, maar waar?
Om nie te praat van altyd-laat-wees nie. Teen die tyd dat almal aangetrek en
in die kar is, is die gees droewig-beneuk. Dan kom die nekbreekrit. En daar
is altyd iets wat iemand vergeet het.
Toe op ‘n dag besluit ek dis genoeg en belê ‘n huisvergadering. Aanwaarts
sal ons ouma Anna se beleid volg. Ek sit my vuiskant op die tafel en verbied
‘n geskop van die versene teen die prikkels. Die gryse neem verlof en ons
begin uitgooi. Wegpak, weggee, verkoop. Tip toe. Maak vuur met krismiskaarte
en papiere. Bokse en bokse bottels vir die tuisnywerheid. Die koshuiskokke
vat getjipte koppies, geroeste broodpanne, gehawende plekmatjies, gordyne,
seepbakkies. Tydskrifte vir die spreekkamer. Nonsensboeke vir die biblioteek.
My ou gryse se senuwee-snare wil skiet, want hy’s ‘n man vir opgaar. Toe ek
sy ’76-trouskoene wil weggooi, pieng die eerste snaar.
Maar ek bly onverpoosd werf opruim, en voel hoe die oopheid tot in my
sielewerf oorspoel. Lig, ligter, veerligste. Ou bagasie van vergete reise
wat my pad versper het. Wêreldsbagasie, gemoedsbagasie. Is waar wat Spreuke
27 sê: Klip en sand is swaar om te dra, maar die ergernis wat ‘n dwaas
veroorsaak, is swaarder as altwee.
‘n Maand later was elke opgaarhool afgebreek. Gordyne gewas, binnemure
geverf, meubels geolie, vensters en kopergpoed opgeblink, sleutelrak opgesit,
liassering gedoen, administratiewe wanorde uitgesorteer. My ou gryse se
snare het weer nootvas gepieng, en Plasketstraat 2 was ‘n tabernakel van
vrede.
Op ‘n noordewinddag is ek kwartpad die Kaga op om alleen in die berg te huil.
Oor aardsgoed wat mens kan weggooi. Party sielsgoed ook. Tog, daar is
sielsbagasie wat elke mensling noodwendig soos klip en sand moet saamdra, al
wil jy nie. As jy nie al om die ander volmaan ‘n renosterbosbesempie bind en
jou binnewerf natspat en by die doflig van die maan vee nie, sal die
brandnetels oorneem en jou vol jeukknoppe laat uitslaan. Tot jy jou stukkend
krap.
Ouma Anna was op-die-kop oor cleanliness en Godliness. Help weinig jy
probéér jou binnewerf ontstrik, terwyl jou buitewerf vol insuurskottelgoed
staan. Maar mens moet wakker loop en jou mates reg uitmeet. Want van te veel
buitewerf opruim, kom jy straks nooit by jou binnewerf nie. En uiteindelik
is die een tóg maar ‘n spieëling van die ander.
Ek ry die in my
epos, lees maar saam met my:
Vat nou maar vir Januarie. 'n Maand sonder enige identiteit. 'n Klomp hou
vakansie, terwyl die ander sotte sukkel om hul werk gedoen te kry, want die
spul wat die tjeks moet teken, lê nog op Margate se strand. Dan jaag almal
huis toe met 'n moerse spoed, terwyl pa sit en vloek oor sy overdraft wat in
sy kanon is en ma die nuwe rolle om haar middellyf blou knyp. Die res van
die maand eet almal viennas en droë Krismiskoek, want die kinders se
skoolklere kos 'n plaas se geld.
Arme, stomme Februarie. Nie eens genoeg dae om ’n ware maand te wees nie en
kry toe maar Valentynsdag sodat hy nie sleg moet voel nie. In Februarie gooi
die meeste mense hul voornemens vir die nuwe jaar oorboord, begin weer
rook/drink/vreet, en verval in diepe depressie, want die hond is pregnant en
die vrou kla sy's moeg om almal se slaaf te wees.
Maart - nou ja, foei tog. Nog vis, nog vlees. Dis te koud vir somersklere en
te warm vir wintersklere. Jy kry ’n vieslike griep en vergeet jou selfoon op
die apteek se toonbank. Die rentekoers gaan op en Breggie dreig om
universiteit op te skop en haarself te gaan soek op 'n pelgrimsreis deur
Indië. Graeme Smith bedank as die Proteas se kaptein, want hy wil meer tyd
saam met Herschelle Gibbs deurbring.
Dan is dit April. Immers is daar 'n paar vakansiedae wat die gemoedere
opkikker. Die Kaap is te duur en Durban te warm. Dan maar Oudtshoorn toe vir
die KKNK waar jy jou beursie in die biertuin, jou geduld by die
kaartjieskantoor en jou balans by die brandewynstalletjie verloor.
Mei wêreld. Die Suid-Afrikaanse spanne beklee die onderste vyf plekke op die
Super 14 punteleer en die minister van sport sê dinge lyk belowend. 'n
Skoolhoof van Pretoria word gevang vir dronkbestuur en sy vrou bieg oor haar
dobbelprobleem, wat weer op sy beurt tot haar man s'n gely het. 'n Bekende
gay modeontwerper bevestig dat hy eintlik heteroseksueel is en raak verloof
aan oud-mej. SA, Suzette van der Merwe. Die Creepy Crawly sluk 'n oordosis
herfsblare in.
Junie is nes Julie, jy spel hom net verskillend. Die verwarmer brand uit,
die kaggel verstop en die warmwatersak lek. Robert Mugabe koop vir hom 'n
woonstel in Kampsbaai en George Bush verklaar oorlog teen Switserland.
Skoonma kom kuier en die boerboel vreet haar nuwe paar Hush Puppies op.
Julie het nog nooit die son gesien nie. Hy dra 'n grys mus, 'n
langpyponderbroek en stewels wat sy voete laat stink. Dis nat in die Kaap,
droog in Gauteng en koud in die Vrystaat. In die hoofstraat van Benoni,
vroeër herdoop na Charlize Theron Boulevard, open ’n Charlize
Theron-droogskoonmaker, 'n Charlize Theron-skoonheidsalon en 'n Charlize
Theron-drankwinkel.
Eintlik wou Augustus nog altyd September gewees het. Nou steel hy maar 'n
paar bloeisels en 'n bietjie son om sy vaal gesig in te kleur. Almal karring
net aan, behalwe ons adjunkpresident, wat die wêreld vol rits in haar eie
Gulfstream-jet. Sy sê gerugte dat sy haar vliegtuig teen 'n onbekende bedrag
by 'n kontak van Schabir Shaik gekoop het, is ongegrond.
September is net 'n ander woord vir sinus. Meeste mense stik, stotter en
snuif die maand deur. Patricia Lewis en Amor Vittone skryf saam 'n boek:
“Skoonheid vergaan, maar silikoon bly staan.” Pa val van die leer af terwyl
hy die geute verf, en ma sluit by Weight Watchers aan, want die vakansie is
net om die draai.
Oktober is miskien die mooiste, mooiste maand, maar terwyl die lente sy
kleure en geure in 'n weerbarstige streep oor die landskap trek, klim die
herinnering aan verspeelde dae onder jou gewete in. Die jaar is amper verby
en wat het jy nou eintlik gedoen. Bôgeroll! Die boek wat jy wou skryf, die
marathon wat jy wou hardloop, die slegte gewoontes wat jy sou afleer – het
niks van gekom nie. In stede daarvan is jy luier, dikker en dommer as ’n
jaar gelede.
November begroet jou met 'n kakofonie van voortydige Krismisklanke. Ná
drie doppe op die office party beledig jy jou baas, lê aan by die
ontvangsdame en brand 'n gat in die duur, gehuurde tafeldoek. Op Guy Fawkes
raak die hond, die huishulp en die tuinslang weg. Sussie word naar op haar
matriekafskeidrok en boetie kleur sy hare pers.
Desember is die begin van die einde. Steve Hofmeyr stig sy eie kerk, “F*k*ofpolisiekar”
stel hulle gospel-CD vry en Leon Schuster se nuwe fliek, "Daar's 'n Xhosa in
my kooi", is 'n wegholsukses. Op Oukersaand gee pappa vir mamma 'n bottle
"You're the Fire," en mamma maak vir pappa so warm dat hy Kersdag nog vonke
doodslaan.
Voorspoedige 2008 - Ek kan nie wag nie!
Met elke uitgawe fokus ek op 'n
Afrikaanse webwerf.
Gaan kyk gerus na die Bloedrivier webwerf
Iemand wat in Melbourne woonagtig is
stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's
op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere.
Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik
toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle
self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons
Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek Ek wil egter hierdie keer die woord van die liedjie - Bloedrivier - hier weergee. Dis vir die eerste keer gesing by
die Geloftediens op Bloedrivier hierdie jaar. Dit is bestem om 'n treffer te word sodra dit vroeg in 2008 op
Coreen se eerste CD sal verskyn.
Bloedrivier
In 1838 is God se hulp gevra om die boere in hul nood te steun, te behoed en te bewaar
'n Monument sal hulle bou en die dag sal heilig bly,
Hul enigste wapen - hul geloof - met die Here aan hul sy ...
Die nag was kul en donker, die impi's staan en wag,
die lampies op die ossewaens soos Mahlozi's in die nag
'n Strandwolf sluip daar tussendeur, hy's onheilspellend daar
Die mis sak toe, die vyand druis, hul wag op die bevel.
In die geslote walaer, in 'n see van heidendom
is daar 'n lig wat helder skyn - die lig van Christendom.
Die stemme van 'n mannekoor weerklink deur digte mis
Psalm agt-en-dertig, stel almal weer gerus.
KOOR
Maar dieselfde God van Bloedrivier is steeds ons God vandag
Hy verstaan ons grootste vrese, Hy staan by ons deur die nag
Kom ons almal vat weer hande, erken sy grote Mag
Want dieselfde God van Bloedrivier is steeds met ons vandag
Twee skote van 'n dubbel-loop, die stryd het pas begin
Die isilongo kondig aan Dingaan - ons sal oorwin
Maar God ons Vader is met ons, die vyand word verslaan
Die veld drink bloed, soos op Golgota - dit moet ons verstaan
KOOR
Maar dieselfde God van Bloedrivier is steeds ons God vandag
Hy verstaan ons grootste vrese, Hy staan by ons deur die nag
Kom ons almal vat weer hande, erken sy grote Mag
Want dieselfde God van Bloedrivier is steeds met ons vandag
Kos stories -
Frik Lombaard |
Asyn Asseblief
Die Franse noem dit vinaigre – suur wyn. Dit is hoe asyn per ongeluk ontdek
is. Die maak van asyn is ‘n eenvoudige proses. Eerstens word natuurlike
suiker met die byvoeging van gis verander na alkohol. Daarna is Acetobacter
bakterieë verantwoordelik vir die verandering van die alkohol na suur.
Hierdie tweede fermentasie proses vorm die asyn.
Deur die eeue heen is asyn gemaak van die molasse, sorghum, vrugte, heuning,
bier, stroop, aartappels, beet, malt en graan. Die proses van twee
fermentasie bly presies dieselfde. Eers van suiker na alkohol en dan van
alkohol na asyn.
Daar is verskillende tipes asyn wat ons vandag gebruik en elke tipe het sy
eie storie. Balsamiese asyn word gemaak deur die druif te kook en dan gaan
dit deur ‘n natuurlike fermentasie proses deur die asyn in verskillende vate
van verskillende hout te plaas. Daar word geen ander kruie of spesery
bygevoeg nie.
Met die maak van mout asyn word die stysel eers verander na suiker en daarna
gefermenteer.
Rooi- en witwyn asyn word gemaak van geselekteerde rooi- en witwyne wat dan
‘n tweede keer gefermenteer word. Die asyne neem gewoonlik so ‘n bietjie van
die smaak en geur van die wyn aan.
Dan kry mens ook ryswyn. Wat ryswyn uniek maak is dat dit ‘n redelike sagte
smaak het en dat dit gegeur kan word met kruie en speserye.
Daar is ook nog appel asyn wat vir verskeie redes in ons huis is.
Deur die eeue is asyn gebruik vir baie dinge. Die Babiloniërs het asyn
gebruik om kos in te preserveer. Roomse legioene het asyn gedrink as ‘n
verfrissings drankie. Tot Cleopatra het al ‘n weddenskap oor asyn gewen. Sy
het blykbaar iemand gewed dat sy ‘n fortuin kan uitdrink saam met ‘n ete.
Wat sy toe gedoen het was om pêrels in asyn op te los en toe te drink. Sy
het die weddenskap gewen.
Hippokrates het asyn se medisinale waarde ook raakgesien en in die Bybelse
tye is asyn ook gebruik vir helende eienskappe. Toe Hannibal oor die Alpe
getrek het, het hy vuur om die rotse wat in sy pad is, gemaak. As die rotse
dan baie warm is het hy asyn op die rotse gegooi. Dit het veroorsaak dat die
rotse kraak en verkrummel.
Asyn kan omtrent vir ewig hou. Aangesien asyn suur is, is dit
selfpreseverend en dit het ook nie verkoeling nodig nie. Gekleurde asyn kan
miskien sy kleur begin verloor maar nie sy smaak nie. Probeer gerus om
verskillende tipes asyne in die huis aan te hou en begin eksperimenteer met
die verskillende smake. U kan dalk verras word.
Agterpad Reisnotas - versamel deur Braham van Zyl |
Ek luister mos
een Saterdagoggend na Amoré Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met
Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een
van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres
onderaan die artikel) Hy stuur 'n 'n gereelde nubrief uit.
DIE GANNAGAPAS en MIDDELPOS; Noord-Kaap
Provinsie
Bennie Hansen van Ashton skryf op 8 Augustus 2006 aan my:
“Baie dankie vir al die interessante plekke wat jy met ons deel. Ek wil jou
vertel van hoe ons verlede Saterdag met ons motorfietse oor die Gannagapas
na Middelpos gery het. Ons beginpunt vir dié besondere reis was vanaf die
Ceres Karoo pad, net voor die Tankwa Karoo Nasionale Park, waar ons regs
afgedraai het. Ons het in die hotel op Middelpos oorgebly. Die berge het
gelyk of dit aan die brand is, so oortrek was dit van die blomme. Orals het
riviere geloop. Ek wonder of ek dié deel weer so in my leeftyd gaan ervaar.
Dit was regtig ‘n belewenis. My motorfiets is nog in myl afgemerk en ons het
vir dié tog heen en terug 240 myl gery.”
Skryf vir Braham
en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings
direk van hom af!
e-pos : info@explore-sa.com
|
|
|
Ek is betrokke by
hierdie inisiatief van Elsabé, kyk tog asseblief of julle nie ook 'n bydrae
kan maak nie, besoek ook hulle
webwerf.
Lees asseblief die nuusbrief en kyk of jy kan help.
Bankbesonderhede:
Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926
Aflewerings adres:-
286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za
PS Bel asb voor jy ry.
Armman se Poeding
1 Koppie meel
1 Eetlepel botter
3/4 Koppie suiker
1 Desertlepel appelkooskonfyt
1 Eier
1 Teelepel asyn
1 Gelyk teelepel koeksoda
Sout
1 Koppie melk
Meng meel en suiker en vryf botter in. Klits eier en konfyt saam. Voeg by
eerste mengsel.
Meng melk met koeksoda en asyn en voeg by mengsel. Bak vir 1/2 uur by 180º
C.
Sous:
1 Koppie room
3/4 Koppie suiker
1/4 Koppie botter
1/2 Koppie kookwater
Kook alles saam. Gooi warm oor poeding wanneer uit die oond kom. Bedien warm
of afgekoel met vla
Brood-en-Botterpoeding
10 snye wit brood, korsies afgesny en in groot blokke gesny
½ (125 ml) koppie suiker
3 eetl. botter
4 k (1 liter) melk
4 eiers
Pak blokke brood in ‘n gesmeerde vuurvaste bak en strooi die suiker bo-oor.
Smelt die botter in die melk.
Klop die eiers goed en voeg die melt-en-bottermengsel daarby. Roer goed deur.
Gooi melkmengsel oor die brood en laat week vir sowat vyf minute.
Bak vir 40min op 180° (tot gestol)
Intussen, maak die bolaag:
1 k (250 ml) botter
2 k suiker
2 eiers
2 tl. vanilla-geursel
Gebruik ‘n elek menger (of voedselverwerker) en meng die botter en suiker
tot goed gemeng. Voeg die eiers een vir een by. Klop tot romerig. Voeg
vanilla–geursel by.
Smeer oor die gebakte poeding sodra dit uit die oond kom. Werk vinnig want
die smeer smelt. Plaas terug in oond en bak vir ‘n verdere 20 min teen 180°.
Bedien met vla indien verkies.
Bruinpoeding Sonder Eiers
3 kop Meelblom
3 teel Koeksoda
3 eetl Margarine
1 kop Melk
3 eetl Gouestroop
Sout
Smelt botter en stroop saam, laat afkoel. Los koeksoda in melk op en roer
in.
Sif meel en sout in en meng deeglik.
Stroop:
Kook 3 kop suiker, 6 kop kookwater, 1 eetl gouestroop en 1 eetl botter in 'n
groot kastrol. Skep lepelsvol deeg in warm stroop en laat opkook.
Plaas deksel op en laat 1 uur lank stadig kook.
Indien verkies, kan 1 eetl gemmer bygevoeg word vir smaak.
Joghurt-Tert/Poeding
500ml Joghurt
1 Pakkie jellie
1 blikkie kondensmelk
1 houer vars room [250 ml]
Vars of ingemaakte vrugte.
Grenadillamoes saam met Grenadilla
Joghurt [opsioneel]
Gebruik enige geur joghurt van jou keuse en gebruik dieselfde geur jellie.
Suurlemoenjellie is veilig om saam met alle joghurts te gebruik aangesien
daar nie alle geure jellies beskikbaar is nie.
Meng jellie met 1 koppie kookwater en laat afkoel.
Klits alle bestanddele goed saam tot romerig.
Vir poeding:
Gooi in bak en laat stol in yskas
Vir tert:
Pak beskuitjies of konfytrol ("jamroll") in tertbak en gooi mengsel bo-oor
en laat stol in yskas
Karamelpoeding
Beslag
2 koppies meelblom
2 teelepels bakpoeier
2 ml sout
Sif saam.
1 koppie suiker
4 eetl appelkooskonfyt
2 eiers
2 koppies melk
Klits suiker, konfyt en eiers baie goed saam en voeg meelmengsel by.
Voeg 2 koppies melk geleidelik hierby.
3 eetlepels asyn
2 teelepels koeksoda
Meng en vou in mengsel in.
Bak in 'n groot skottel vir ongeveer 45 min by 200°C.
Sodra dit gaar is, haal uit oond en gooi sous oor.
Sous
2 koppies suiker
2 koppies melk
1 eetelepel vanilla
1 koppie water
125 ml botter
Kook alles saam en gooi oor warm poeding.
Koue Sagopoeding
4 koppie melk.
1 koppie melk.
4 eiers.
1 koppie kookwater.
1 koppie sago.
1 koppie suiker.
1 p. jellie
Kook 4 koppie melk en sago saam. Meng orige melk, suiker en eiergele en voeg
by sagomengsel.
Los jellie in kookwater op en voeg by mengsel.
Klop wit van eier styf en vou in. Plaas in yskas.
Hoofpyn:
Drup 2 of 3
druppels dun skoon teer op di hoof
Flugsout sterk opruik
'n Koppi sterk koffi drink
Was die voorhoof en slape met asyn
Klapperoli met fyngesifte kruit insmeer
Sit 'n seepplystertji op di slape
st
se pitkos
Klik hier
om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Die Pakesel-sindroom
Waaraan dink jy as jy die term ‘pakesel’ hoor? Waarskynlik sien jy iets soos
‘n prentjie van ‘n reisiger op pad iewers heen. Die man voor ry op sy perd
en agter hom aangetou kom ‘n donkie wat gepak is met allerhande bale, tasse
en bagasie.
Die HAT koppel egter ook ‘n ander begrip aan pakesel, naamlik: “Iemand op
wie almal werk aflaai.”
Wanneer jy toelaat dat mense hul werk, take en pligte op jou aflaai, ly jy
aan die pakesel-sindroom. Jy laat dit toe en sus jouself met die wete van
“as jy iets gedoen wil hê, gee dit aan die besige man.” So gee dit maar vir
my, my skouers is breed.
Maar as jy toelaat dat mense net werk en take op jou stort, raak jy
toegegooi onder ‘n las wat jy later nie meer kan dra nie. Jy fokus mettertyd
nie meer behoorlik op jou taak nie, en van te veel werk word alles half
gedoen. In ‘n poging om almal tevrede te stel, hardloop jy rond en is
aanmekaar besig. In die proses gaan jou werk se kwaliteit agteruit. Voeg
hierby stres en uitbranding wat deel is van ‘n oorlaaide werksprogram.
Dit is nie net in die werkplek waar dit van toepassing is nie. Neem nou maar
net die moeder van die huis. Sommige huisvroue en moeders ooreis hulself.
Die vrou moet werk en inkomste verdien en dit tap haar energie. Kom sy by
die huis moet sy kos kook, wasgoed doen, huis skoonmaak, skottelgoed was,
die kinders help met hul huiswerk en take, die kinders rondry, gaan inkopies
doen en dan het sy nog nie eers begin om haar man gelukkig te hou nie. Dit
terwyl die man agteroor sit en televisie kyk en die kinders “playstation”
speel en met hulle vriende kuier. Toegegee dit gaan in baie huishouding nie
so nie – maar daar is wel baie huisvroue wat soos ‘n pakesel haar afsloof
vir die gesin.
In my praktyk is een van die dinge waarmee ek te doen kry juis die
pakesel-sindroom, Mense wat toelaat dat hulle gebruik en misbruik word.
Uiteindelik eis die oorlading sy tol en begin simptome van depressie, angs,
neerlagtigheid en stres voorkom. Dit voel of alles ophoop en ophoop en jy
nooit onder die berg van werk gaan uitkom nie.
Ek wonder hoeveel mense gaan elke dag gebukkend onder die neerdrukkende las
van te veel hooi op hul vurk, knakkende onder te veel pakkasie en pligte om
te dra.
Jy het egter die reg en keuse om nie langer pakesel te wees nie.
Die volgende wenke kan help:
· Neem ‘n besluit om nie langer ‘n pakesel te wees nie.
· Jy het die reg om ‘nee’ te sê.
· Jy het die reg op ‘ek-tyd’ – dis tyd waaraan jy aandag jou belange,
behoeftes, ontspanning en plesier gee.
· Jy het die reg om te delegeer.
· Fokus op jou taak op hande en moenie toelaat dat ander hul werk op jou
aflaai nie.
· Verwag en staan daarby dat ander lede (in die werkplek, gesin) ook hul
kant bring.
· Organiseer jou take vir die dag reg en doen tydsbeplanning.
· Skeduleer spesifieke tye vir take, en in daardie tye wil jy nie onderbreek
word deur ander mense en dinge nie. Fokus jou aandag op ‘n taak en handel
dit na die beste van jou vermoë af.
· Konsentreer op deeglike beplanning en doelwitte en nie krisisbestuur nie.
· Laat ander (ook jou kinders) verantwoordelikheid aanleer en
aanspreeklikheid aanvaar vir take en probleme.
· Moenie probeer om iedere en elk se kastaiings uit die vuur te krap nie –
leer eerder ‘n persoon om self probleme aan te spreek en op te los.
· Leer om standpunt in te neem.
· Identifiseer die eselpakkers in jou lewe en laat hulle duidelik verstaan
dat jy deur hulle modus operandi sien en jy onmiddellik ‘n stop hieraan sit.
Sommige mense is van nature ‘n pakesel. Dis deel van ‘n hul samestelling as
mens om toe te laat dat ander van hulle ‘n pakesel maak. Hulle vind dit
moeilik om te verander. Jy is maar gewillige hansie die kneg.
Beteken dit wanneer jy die pakesel-sindroom wil afskud, dat jy lui is en nie
wil werk nie? Nee, glad nie. Dit beteken net jy laat nie toelaat dat ander
van jou ‘n pakesel maak deur hul werk en take waarvoor hulle nie lus is nie,
op jou te kom aflaai. Het mense werklik respek vir jou wanneer jy die
stortingsterrein is van hulle werkskuheid, gemaksug, laksheid, traagheid,
onvermoë, lamsakkigheid, verwaande belangrikheid, vrotsigheid, futloosheid,
ruggraatloosheid, onverskilligheid, onbedagsaamheid, lusteloosheid,
manipulasie, flaters en foute, valsheid of nalatigheid?
Werk hard, doen jou beste, gee jou alles, help ander – maar jy hoef nie
langer pakesel vir ander te wees nie.
Maar indien jy steeds pakesel wil wees, wees dan eerder ‘n pakesel vir
jouself as wat jy ‘n pakesel vir ander is.
‘n Sprankie gedagte vir die dag
“Vele hande maak ligte werk.” - Spreekwoord -
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
Soek jy plek om te gaan kampeer?
Klik dan hier!
Skooltake??
Klik hier
Vakansieverblyf is altyd
'n probleem, dié mense maak dit makliker om te kry,
klik net hier.
Nieltjie se Stories - Kinderstorie CD in Afrikaans -
Klik hier
Lees alles oor
Bloedrivier:
Klik hier
150x90cm ou Suid-Afrikaanse vlae te koop
@ R125 elk, posgeld uitgesluit. - Kontak gerus
Roelof of Ronel by 012-3332932
Teken in /Teken uit / Kontak |
Teken hier
in op die poslys en lees ook die argiewe.
Om uit te teken, stuur vir my 'n
epos en dui jou naam aan asook die eposadres waaronder jy ingeteken is
Kontak my
hier.
Druk jou speld op my besoekerskaart!
|
|