|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe intekenare!
Hierdie brief
gaan hoofsaaklik oor wurms en mampoer. Wat 'n kombinasie! Vriendin Adri
het met die erdwurm boerdery begin en my ook nou aangesteek. Sodra ek my
houers kry gaan ek ook begin. Op klein skaal kan die wurms vir jou
voedingstof vir jou plante voorsien, en op groter skaal kan jy 'n
verskaffer word en selfs wurms verkoop. Ek hou julle op hoogte.
Die mampoer ding
is maar net om die proses vir die nageslag te bewaar. Ek het al
hier en daar 'n proetjie gevang, maar het nie veel van 'n idee van wat
alles tussen vrug en bottel gebeur nie. Nou doen ek 'n bietjie navorsing
en wil alles dan op my webwerf sit. Ek kry nogal heelwat navrae oor die
prosedure en ook vir resepte.
Die gewone
resepte staan dus oor tot volgende keer.
By verre die
belangrikste artikel in hierdie brief is st Potgieter se bydraae oor hoe
om jou finansie te hanteer, dis 'n moet lees!
Net om te laat
weet dat ek enigiets wat ek in my epos ontvang en wat ek voel hier
geplaas kan word, dit plaas ek. As daar dalk kopiereg op is laat weet
my, dalk haal ek dit af.
Wil jy dalk GROOT droom? Vat 'n kans op die UK Lotto, die minimum
boerpot is R45 miljoen, sommer gereeld R75 miljoen en hoër! Dis
heeltemal veilig om te speel, onthou, jy kan nie wen as jy nie 'n
kaartjie het nie!
Klik hier en droom Groot!
En onthou tog om
my besoekersboek te teken? Hy was vir 'n hele tydjie aflyn maar is
nou weer terug.
Ek kry gereeld
navrae oor die stook van mampoer, en soos ek nou maar is, wil ek alles
daarvan te wete kom. Watse apparaat nodig is, kan mens dit self maak of
moet jy dit ten duurste gaan koop? En dan wil ek weet van die hele
proses, van die vrug tot die bottel.
In eenvoudige
terme gebeur die volgende: Plaas die vrugte wat jy wil stook in 'n houer
tesame met suiker en/of suurdeeg, afhangende van die soort vrug wat jy
stook. Laat die mengsel gis of fermenteer vir 'n paar dae.
Die gefermenteerde vrugte word dan in ’n verseëlde stookketel oor ’'n
vuur geplaas. Alkohol het ’n laer kookpunt as water en dit verdamp dan
in ’n verseëlde stoompyp. Dit word afgekoel totdat dit vloeistof word.
Dié proses word twee keer herhaal: uit die eerste, wat stook genoem
word, kom ’n witterige vloeistof, die tweede, of die oorhaal, is die
gesuiwerde vloeistof.
Paul, 'n neef
van my, het die bal aan die rol gesit
met die volgende bydrae. As enigiemand meer kan bylas, stuur my
asseblief 'n epos sodat ek uiteindelik 'n ordentlike artikel het en dit
dan so vir die nageslag kan bêre.
Vraag: Is
stook deesdae wettig? Ek dink as dit net vir persoonlike plesier en
gebruik is dan moet dit mos wettig wees?
Enige en alle
kommentaar is meer as welkom.
Skryf vir my
asseblief.
Hier is Paul
se bydrae:
Haai Peter
Soos jy weet het ek al 'n paar sopies van die onwettige foggies bestook
in my lewe, maar ek's geensins 'n expert nie en het maar geleer deur
traail en 'n roar.
Enige ding wat suiker bevat kan bestook word, trouens meeste van die
goed wat mens koop by platlandige feeste is van mollasse gemaak. As jy
'n effense suggestie van 'n smaakie wil bykry, is dit beter om net
vrugte te gebruik.
Maak die vrugte pap en fyn en gooi gis by. Die slim ouens vertel my dat
mens allerhande spesiale giste kry (weet nie waar nie), maar ek dink dat
meeste van ons veldvrute al klaar hul eie gis ingebore het. Ek weet dat
maroela en stamvrug vanself gis. Mens kan dalk probeer om 'n kultuur te
maak van druiwe (van die stok af, nie uit die supermark nie, want dit is
gereinig). Of koop ter nouer nood "brewers yeast" ( vir Chibuku bedoel).
Luister gereeld of jy nog 'n borreling kan hoor, of sit 'n deksel op die
kan vol brousel met 'n pypie wat deur water loop en check die borrels.
As die borrels ophou, is die spul reg. Jou timing moet reg wees as jy
oor 'n naweek of vakansie wil stook, sodat die goed nie staan vrot word
nie, dan is die mampoer bitter. In die somer vat dit so 3 tot 5 dae.
'n Mens moet jou ketel leer ken. Goeie mampoer is so 65%. As jy te
vinnig stook, is hy te swak, en anders om. Om smaak saam te kry is moer
moeilik. Meeste smake en geure word in olies bevat, wat op 'n hoër
temperatuur kook as water. As die tempo reg is, kan daar tog 'n klankie
deurkom. Hy moet vinnig drup of loop met so dun straaltjie, lyk amper of
mens olie stook Reken op so 10% redement. Die teelepel/vlammetjie toets
moet bygestaan word deur die proetoets, dis hoekom 'n naweek nodig is.
Van proe kom omval!
'n Gasstoof is die beste, makliker om te beheer en mens hoef nie by te
sit om nog 'n stokkie op die vuur te sit nie. Moet ook nie jou
stookketel te vol maak nie (so 60%), die paparellie binnekant sal jou
kondenseerpyp verstop en dan kry jy 'n mampoerse ontploffing.
Die kondenseerpyp kan 'n dunnetjie wees wat deur 'n drom koue water
spiraal (vervang gereeld die water of laat oorloop uit ' n hosepipe), of
'n pyp binne in 'n buis met inlaat en uitlaat vir koue water. Moenie
worry oor fancy deksels nie, dit kom uit die tyd voor water ontdek is.
Dit moet net goed kan seel, soos 'n industrieele flens.
As jou eerste bottel vol is, skud hom en dan moet hy borreltjies soos
perels maak in die nek van die bottel. As hy jou slukderm afbrand, dan
is hy te sterk. Maroela moet tweekeer deurgesit word. Die eerstye
treksel is altyd melkerig, so jy kan ook maar vinniger as anders stook.
Die tweede treksel sal skoon wees, maar as jy water bygooi sal dit weer
melkerig word, soos OUZO.
Hou vir my 'n bottel!!!!
Groetnis
Paul
Hier is nog 'n bydrae wat ek ontvang
het, ek het die name daarin verander.
Ek het toe weer mooi gaan dink oor die stokery en kan vir jou die
volgende vertel. In ons jong dae was daar nie tyd daarvoor nie, maar as
mens aftree het jy baie tyd en moet dit nuttig benut.
Wees maar versigtig om nie algemeen in die publiek bekend te maak dat jy
stook nie, want mens moet by Doane en Aksyns 'n permit kry. Oom Jan het
nooit 'n lisensie gehad in SA of hier nie, maar hy het nie handel
daarmee gedryf nie, slegs as 'n stokperdjie.
Jy kan enige vrugte stook, Jan het in SA en hier appels, pere, perskes,
druiwe, lemoene, nartjies, litjies en turskvye gestook.
Slegs lemoene, nartjies, litjies en turskvye word geskil Geen pitte word
verwyder nie, die vrugte word sommer met 'n graaf stukkend gekap in die
drom. Oom Jan het met sy bakkie gery en waar hy sien die vrugte vrot
onder bome het hy gevra of hy kan skoonmaak en met 'n bakkie vol gekom,
party al bederf. Alles is ingegooi in die
drom.
Hy het die blou plastiesedromme (100 liter) met die swart deksels
gebruik, 'n gaatjie geboor bo in, en 'n plastiese pypie ingesit vir die
ontsnapping van die gas. Die drom so bietjie meer as half vol gemaak,
amper ¾.
Geen water word bygegooi nie, dit maak teveel naloop, maar wel 1-2 kilo
suiker(hangende af van die sort vrug en die graad van rypheid) en dan
het hy altyd 'n koekie suurdeeg aangemaak met 1 liter louwater en 1 kg
suiker om die gis proses aan te help. As hy dit ingooi het, het hy dit
eenkeer geroer, maar daarna mag dit nie weer geroer word nie. Maak dit
dig toe, maar jy mag dit daagliks oopmaak en gou loer wat aangaan.
Hy het in 'n klein vertrekkie die dromme gesit . Met komberse die dromme
toegemaak en 'n temperatuur meter in die kamer. Snags so teen 1-2 vm het
hy opgestaan en die verwarmer 'n bietjie aangesit om die kamer nie
teveel te laat afkoel nie. Probeer die temperatuur konstant te hou. Die
verwarming hang af van in watter area jy woon, op ons dorp was
verhitting nodig.
Daagliks het hy gekyk na die gisting, en vanaf 8-21 dae, hangende af van
die vrugte begin hy dit deursyg, want sodra die gisting (borreltjies
ophou moet jy onmidellik stook anders is dit asyn. Syg die gegiste moes
deur 'n doek (Oom Jan het dit met sy hand gedruk totdat al die vog deur
die doek is) en gooi die vog in die met kookwater uitgespoelde stook
ketel.
Die drom waardeur die sap spiraal moet die koue water aanhoudend
deurloop om die kondensasieproses te bevorder. Die water mag nie te warm
word nie, dan moet die water vinniger sirkuleer. Die vuur moet klein
maar konstant wees, soms het hy met 'n elektriese brander, wat hy klein
gestel het, gestook.
Die eerste 1-2 liter mampoer het hy altyd teruggegooi, nie sterk genoeg
nie. 'n Ander manier om te toets is om bietjie mampoer in die vuur te
gooi, as dit 'n blou vlam maak is dit al mampoer. Die stokery neem
etlike ure, soms tot laat in die nag. Skaf 'n alkoholmeter aan wat jy in die
bottle met die mampoer laat sak en kry die korrekte sterkte. Ons het
slegs gebottel van 50% tot 80% en al ons bottles daarvolgens geetiketeer,
asook watter vrug en watter jaar.
Jy moet die bottles steriliseer met kookwater en na die mampoer ingegooi
is moet dit geseel word. Ons het 'n spesiale drukker wat die nuwe
kurkproppe insit en dan seel jy dit met was. Kurkproppe ook in kookwater.
Dis beter as die bottles op hulle sy lê om te verouder.
Geniet dit, meer ondervinding bring later 'n volmaakte produk mee. Ek
het nog baie nartjie en litjie en mango mampoer.
Nou het ons 'n begin, kom ons kry
die ding onder die knie! Ek soek ook fotos van stookketels, gekoop
en tuisgemaak. En dan ook nog soveel respte moontlik. Wat kan mens alles
stook en hoe berei mens dit voor.
Kontak my
asseblief
Begin jou eie Erdwurmboerdery |
Wurm boerdery is regtig een van die
maklikste dinge om van die grond
af te kry. Indien jy dit op klein skaal aanpak, let op die volgende
feite:
- Jy sien nie resultate binne 2 weke nie!
- Jy gaan nie geld maak hieruit as jy dit op klein skaal doen
nie. Dus is dit 'n stokperdjie, tensy jy baie spasie het om hierdie
wel in 'n volskaalse boerdery te omskep.
- Hierdie erdwurms is NIE die ou vales wat in ons tuine is nie
– dit is rooi wurms wat vinniger werk om voedsel af te breek en grond
'gesond' te maak. Moenie jou tuin erdwurms gaan vang en op hok sit
nie – hulle sal dit nie maak nie!
- My blog adres verskyn aan die onderkant van hierdie artikel,
asook my epos adres. Alles waaroor ek hier skryf, is te vinde op die
blog, verskaffers ingesluit. Besoek dit asseblief, en vra as jy meer
wil weet.
Om gratis 'tuisterapie' te ervaar, begin jou wurmboerdery as volg:
- Koop 2 bins. Dit moet swart wees. Plastiek bins met
deksels is te kry by hardeware winkels, plastiek winkels, of Game en
Pick 'n Pay. 'n Foto op my blog sal die leser presies laat weet
waarvan ek praat. As jy egter nie 'n internet toegang het nie, die
bin is 47cm x 42cm x 28cm en die deksel kliek bo-op vas. Swart, omdat
dit donker onder die grond is. 'n Deurskynende of wit bin sal die
proses binne die bin belemmer.
- Wormeries adverteer bins en wurms, wat wonderlik is as jy
nie 'n vaardige persoon is nie. Dan kan jy die ekstra geld betaal, en
die volledige sisteem kry. Kry Wormeries se adresse op my blog. Moet
egter nie gefnuik of verwar word deur die kraan wat die sisteem bevat
nie – ek dink met 10 bins op mekaar gestapel sal jy dalk meer vog
uittap, maar dit is regtig overkill, soos die ingilsman sal sê. Twee
bins vir 'n wegspring, is meer as genoeg.
- In een bin boor jy die kleinste gaatjies wat jy kan – al op
die bodem langs, so 2-3cm uitmekaar. Pas die twee bins in mekaar, en
daar waar die boonste bin 'n gedeelte het wat nie toegemaak word deur
die onderste bin nie, boor jy gaatjies vir lugbeweging deur jou wurm
vesting (dis steeds dieselfde bin met die gaatjies in die vloer wat
nou kant gaatjies kry!)
- Wenk: boor die gaatjies op die bodem, van binne die bin,
sodat die boorpuntjie aan die onderkat na buite uit die bin uitkom.
Indien jy dit van buite op die bodem na binne boor, vorm dit 'n riffie
aan die binnekant van die bin, rondom die gaatjie, wat verhoed dat die
vloeistof sal uitloop in die 'vang bin'. Jy kan wel die ventilasie
gate teen die kante van buite boor, veral met die onderste bin as gids
vir waar die gate moet kom.
- Sit twee velle koerantpapier op die bodem van jou wurm bin
(die een met die gaatjies in). Die onderste bin is om mettertyd die
'wurm tee' in op te vang. Ook wurms wat 'ontsnap'deur 'n geboorde
gaatjie (dis hoekom die gaatjies so klein moontlik moet wees), beland
gewoonlik in die onderste bin, en kan dan weekliks gered, en
teruggegooi word.
- As jy 'n papershredder tot jou beskikking het, shred
koerantpapier. Anders moet jy dit in lang, dun repe opskeur. Hoe
dunner die repe, hoe gouer werk die wurms hulle weg daardeur.
- Week die koerante in water, druk die water uit, maak die
koerant bollings los van mekaar, en gooi in die bin. Maak die bin so
byna 'n kwart vol koerant skeursels. Die koerant moet altyd klam bly
– maar moenie dink jy het nodig om dit te doen nie, die kondensasie en
evaporasie en wurm aktiwiteite, sorg dat die inhoud altyd lekker koel
en klam is.
- Neem 'n paar hande klam grond, en sprinkel dit bo-oor die
koerantpapier. Potting soil is die veiligste, aangesien dit skoon is
van spuitmiddels, slakpille ens. Hou dit in gedagte as jy 'n hand vol
in die tuin neem – het jy onlangs gif gespuit of slakpille gegooi???
- Wurms is gek oor teesakkies. Koffie moer vind ek persoonlik
te sterk, daarom hou ek by teesakkies. Rooibostee se blare en
stokkies maak heerlike speelplek. Hou die sakkies na elke tee sessie
eenkant, en as jy 'n handvol het, spoel dit onder die kraan uit
(verwyder enige melk wat saamgekom het uit die koppie) en begrawe dit
so effe in die koerant laag. Die wurms baljaar daar, en jy sal sommer
eiers ook vind na 'n tyd.
- Bins moenie in direkte sonlig staan nie – die wurms is nie
saunas gewoond nie. My een bin staan binne die huis, sonder 'n reuk
van 'n soort! Jy kan jou bin selfs in die garage sit, en een maal 'n
week gaan loer of alles reg is. Wees versigtig vir insekdoders naby
die bin – die ventilasie gaatjies laat nie net lug in nie!
- PASOP vir kos. Die beste is om groentes in die mikrogolf
gaar te maak, en dit heeltemal te laat afkoel voor jy dit in die
middel van jou wurm bin begrawe. Die gaarmaak proses raak ontslae van
enige larwes wat dalk in die groente of vrugte mag skuil. Ek gee my
wurms tans so een maal in twee tot drie weke 'n lekker butternut wat
in skywe gesny is, en in die mikro gaar gestoom is. Te veel kos in
die somer veroorsaak 'n gistingsproses en 'n stank wat vlieë lok. Op
die blog is 'n lys van voedsel wat hulle kan verwerk, en voedsel wat
gladnie naby die bin moet kom nie. Indien jy jou eie vrugte of
groentesap maak, kan jy altyd die pulp wat geskei word van die sap, in
die bin gooi. Pasop egter vir sitrus, aangesien die olie in die vel,
te skerp is vir die wurms se voorkeur.
- Kyk hoe vinnig hulle die groente verwerk, en voer hulle
daarvolgens. Wurms eet ongeveer hulle liggaamsgewig in kos elke dag.
Klein wurms sal lyk of hulle peusel, maar sodra hulle groot is, sal jy
meer gereeld kan voer. Voer hulle eerder een skyfie gaar butternut,
in die middel van die bin, in die middel van die koerantpapier
begrawe, vir 'n hele 30 dae as jy hulle die eerste keer kry, as wat
jou wurms die kante uit vlug en jy hande in die hare sit en wonder wat
aangaan. Hulle het regtig tyd nodig om aan te pas by hulle nuwe
omgewing, en eet is nie prioriteit nie.
- Een maal 'n maand gaan ek met skoon hande in en werk die
dinge effe deurmekaar. Net sodat die verwerkte inhoud nie kompakteer
nie. Dit is ongelooflik hoeveel wurm eiers, babatjies en reuse wurms
te vind is in die bin na 'n tyd.
- Vat versigtig aan die wurms, moenie bang wees nie, die
laaste ou wat opgevreet is deur 'n erdwurm, se Hollywood fliek het nie
eens die silwerdoek gemaak nie – dit is sommer reguit video rak toe!
Gril bietjie, haal asem, en vat aan jou diere. Touch Therapy in
Progress…
- 'Wurm tee' verskyn nie oornag nie. Dit word stelselmatig
bodem toe gestuur met die ontbinding en verwerking van die bin inhoud
en uitskeidings van die wurms. Ook die nutriënte van die groente en
vrugte wat in die bin lê en kompos word, se sappe kom uiteindelik in
jou onderste bin te lande. My eerste voggies het eers na 3 maande
geland! Moenie ongeduldig raak nie.
- Soos die wurms die beddegoed deurmekaar woel en laat
opbreek, kan jy nog koerant en bietjies grond byvoeg om die organiese
proses gelukkig te hou en die wurms werk te gee.
- Hulle klouter soms teen die kante uit – ek tel hulle
versigtig met 'n tandestokkie op en gooi hulle terug op die beddegoed.
Een maal 'n week kyk ek vir verdwaaldes in die onderste bin. Ek sorg
dat daar so 'n repie koerant in die 'vang bin' is indien 'n wurm
wanderlust gekry het, en tydverdryf soek. Te veel wurms teen die
kante dui op 'n wanbalans – op die blog is daar 'n skrywe hieroor.
Maar moenie met landbou kalk lol nie, ek het eenvoudig eierdoppe so
fyn moontlik gemaak, en oor die koerante gestrooi. Gevolg deur
bietjies heuning om hulle rustiger te maak, en die probleem was binne
twee dae uitsorteer! Ja, dit is interessant en mens kan lag vir die
rate, maar as dit werk, werk dit!
- Ek stuur elke keer wanneer ek iets in 'n pot vestig of
ontkiem, 'n wurm of 5 'met vakansie'. Hulle kry die geleentheid om
buite die bin hulle taak te verrig, en wanneer die plant klaar gedra
of geblom het, of uitgeplant word, is dit terug bin toe met die wurms
(en enige nuwelinge) wanneer die grond uit die houers geskud word.
- 'Wurm tee' is geweldig ryk aan voedingstowwe. Gooi die
vloeistof uit die onderste bin, en voeg water by. 2 Dele water,
teenoor een deel wurm tee. Maak jou huisplante of troetelplante
daarmee nat. Die resultate is duidelik sigbaar na 'n ruk.
- Sodra jy 'n volwaardige wurm boer is, en te veel wurms het,
begin dit verkoop. Adverteer gratis op my blog, of gee vir jou
buurman 'n paar. Jy kan besluit om 'n handvol wurms te laat aangaan
met die bin, hulle eenkant sit, en die bin inhoud met potting soil te
meng vir potplant grond. Dan het jy wurms en voedingsryke plantgrond
in een. Jy kan ook wurms op jou grasperk of in jou beddings loslaat –
hoop net die die voëls los hulle uit.
- Neem nuwe koerante, sit die handvol wurms terug, en begin
die proses van voor-af. Baie mense stapel bins op mekaar en laat die
wurms deurkruip. Ek sien nie die nut daarvan nie. Daarvoor het ek
hande wat vinniger is as 'n wurm se pas.
- Ek het my bin inhoud halveer deur wurms in 'n deurgesnyde
wynvat te los, gevul met grond. Ek praat egter nog glad nie uit oor
hierdie eksperiment nie, aangesien dit minder as 'n maand terug gedoen
is, en ek nognie begin grawe het om te sien wat gebeur het nie. Hulle
kry wel ook hulle pampoen…
- Jy kan egter meer bins aanskaf, en jou plaas verdeel. Die
opsies is legio. Dit is nie 'n hond of kat wat elke dag aandag nodig
het nie. Jy kan met vakansie gaan, solank daar 'n gaar butternut in
die middel van die bin begrawe is.
- Hierdie boerdery is effe duur om van die grond af te kry as
jy jou sente omdraai. Die bins kan net onder R100 elk wees, en ek het
30c per wurm betaal. My bestelling was 1 000 wurms, aangesien ek nie
wou wag totdat hulle volwasse word en aanteel nie, ek wou sommer wurms
sien as ek die deksel lig. Dit werk nie so nie, hulle skuil onder die
koerante, maar deesdae as ek grawe, is dit 'n fees vir die organiese
oog! Ek het rondgesoek en baie eposse en oproepe gemaak voordat ek
wurms gevind het. Dit is deels hoekom ek die blog begin het – nou kan
jy jou vrae en verskaffers op een adres opspoor. Van hulle stuur ook
wurms per koerier!
- Gaan kuier op my blog www.vermiculture.wordpress.com
Hierop is prente, metodes, vrae en antwoorde, verskaffer adresse, en
sketse.
- Dit is 'n blogwerf waarop mense kommentaar en vrae kan
plaas, en kundiges sal dit mettertyd antwoord. Leke en Meesters het
die geleentheid om mekaar in te lig oor 'n baie belangrike aspek van
ons aarde – hoe meer organies ons begin om ons eie agterplase te
bedryf, hoe beter vir onsself, en die omgewing. Niemand behalwe ons
self sal verantwoordelikheid aanvaar nie – ons hoef net rondom ons te
kyk na die agteruitgang en verval om te besef dat die omgewing en die
natuur op die agtergrond geskuif is en nie sommer weer prioriteit
status onder die leierskap sal bereik nie.
- Oom Peter wou by my weet hoekom mens sou geld uitgee vir
iets wat jou nie geld in die sak sal bring op klein skaal nie.
Eenvoudig vir 'n natuurmens om die antwoord daarin te sien, maar ek
brei uit: hierdie is jou kans om in jou eie agterplaas, 'n organiese
manupilerende houding in te neem, en volgens die kenners (ook die
Mount Nelson Hotel wat al hulle verwerkbare produkte aan derduisende
erdwurms voer) produseer jy sterker, gesonder plante, wat groter,
gesonder en meer geurige vrugte of groente sal lewer. Ek is te kort
in die stokperdjie om dit te onderskryf, maar op die lange duur gaan
dit jou absoluut NIKS kos om te onderhou nie, en as jy al jou skille
en ou groentes vir die wurms kan gee, gaan dit nie vuilgoedblik toe
nie, maar hersirkuleer jy soos 'n pro! Die blote satisfaksie daaraan
verbonde, behoort genoeg rede te wees om jou eerste wurms aan te skaf.
- Vrae oor wurmboerdery kan op die blog geplaas word, of direk
aan my by wormforum@gmail.com
-Adri M van Zyl
Ekke is ook op
Facebook, as jy dalk 'n Facebook profiel het en by myne wil aansluit,
klik net hier. Hoe meer siele hoe meer vreugde. My Facebook
eposadres is peter@funkymunky.co.za
Deurgedra
Charmaine van der Merwe
Deur al my kinderjare heen,
Was Hy die Een op wie ek altyd kon leun.
Ten spyte van verdriet, lyding en pyn,
Was ek bemoedig deur Sy samesyn.
Ek kan nie glo dat ek dit kon maak,
Maar ek kon, danksy Jesus wat oor my waak.
Vele male het ek Hom teleurgestel,
Deur verkeerde keuses wat teen my tel.
Stukkende dele van my lewe lê agter my,
Maar deur Sy Bloed is ek as sondaar bevry.
Hy het my uit die modder opgetel,
Selfs die Engele gee gehoor, op Sy bevel.
Ek weet ek het ‘n doel om na te streef,
Ek weet dit is deur Hom wat in my leef.
Sy genade is vir my so groot en vry,
Hy’s die een wat my van bande bevry.
Hy is die rede vir my lag,
Hy is die rede vir my sonskyn in elke dag.
Hy is die doel waarna ek strewe,
Hy is die rede hoekom ek lewe.
Ek kyk met blydskap uit na Hom,
Veral my verlossing wat van Hom af kom.
Hy’s my Heer, Heiland en Vader,
Hy trek my elke dag steeds nader.
Gaan kyk na my
nuwe fotografie
webwerf Ek het onlangs nog fotos bygesit.
Hierdie brief is maar net 'n klein deel van die
Peterjasie internet ondervinding.
Klik gerus hier en gaan besoek my webwerf, daar is regtig iets van
alles, en alles in Afrikaans.
Ek beskou Anna Eksteen as die koningin van Resepte eBoeke in Afrikaans.
Sy het nou al 'n hele versameling van resepte eBoeke wat enige kossoort
dek, en dit in Afrikaans! eResepteboeke is goedkoop en geen posgeld is
betaalbaar nie, die boeke word per epos gestuur en is in 'n japtrap by
jou.
Klik gerus hier en kyk
na die lys van nuwe resepteboeke en bestel gerus een, of sommer 'n paar!
Of bel sommer direk vir Anna -
0822946799
Gratis Kersfeesresepteboek met elke
bestelling
Regs klik hier om
'n resepte eBoek met aartappelresepte af te laai.
Gaan kyk gerus na die webwerf
hieronder om te sien watse wonderlike werk hierdie groep doen.
Webwerf: www.danvillehulp.co.za
Peterjasie se
Boererate eBoek |
eBoek met om en by 2000 Boererate, net R60. Ek stuur
sommer per epos en jy betaal dan die bedrag in my rekening in, so maklik
soos dit.
Kontak my vir betalingsbesonderhede. Ook in Engels beskikbaar, laat
my maar net weet. Met elke bestelling gee ek gratis afskrif van "Boererate
en Verbruikerswenke" eBoek
|

|
|
Die dansgroep, bestaande uit kinders tussen Graad 5 en 12, is in 2005
deur Danette Smith gestig met die hoofdoel om ’n liefde vir tradisionele
boeredanse, as deel van die Afrikaner kultuur, by die kinders te kweek.
Die groep het oor die jare baie opgetree onder andere saam met Jak de
Priester. Hulle tree ook op vir toeriste wat besoek aflê by die
Voortrekker Monument en op uitnodiging. Die groep het in 2008 vir die
eerste keer aan die Nasionale Eisteddfod deelgeneem en het ’n Diploma (bo
90%) verwerf. Sonder twyfel sal ons in 2009 weer deelneem – nie net vir
’n diploma nie, maar om weer die toeskouers se gesigte te sien as jong
kinders die ou dansvorme laat herleef met ’n breë glimlag op die gesig.
Die afgelope naweek - 16 – 18 Januarie - is die 5de suksesvolle
boeredanskamp aangebied by die monument se piekniek terrein en nie eens
’n swaar donderstrom en gepaardgaande lang kragonderbreking kon die 60
kinders se entoesiasme demp nie. Al was dit uit ’n voertuig se kattebak
met die hoofligte as enigste ligbron, het boeremusiek opgeklink tot laat
in die aand en is daar gedans van die wals tot polka.
Hierdie kamp was oorspronklik vir lede van Die Voortrekker beweging, ’n
Afrikaanse kultuur organisasie, aangebied maar oor die jare het die
kinders hulle maats saamgebring en het die kamp ’n belangrike
gebeurtenis geword vir Voortrekkers en nie-Voortrekkers. Dit is ook niks
ongewoons om kinders jaar na jaar te sien terugkom om weer die kamp mee
te maak en saam met die groep op te tree nie.
Tydens die naweek is daar ook tyd gemaak om die kinders op ’n ossewa te
laat ry – nog ’n ervaring wat lank onthou sal word.
Danette sê dat geen geld in die wêreld kan opmaak vir die genot wat dit
haar verskaf en die bevrediging wat dit haar gee om te sien hoe die
kinders die setees geniet en die meisie lekker vasvat vir ’n walsie nie.
Van die kinders se kommentaar was:
“Ek mis dit vir niks in die wêreld nie”.
“Vir my verjaarsdagpartytjie het ons al die danse vir die lekkerte
gedoen en later gesokkie”.
“Ek hoop volgende jaar is daar nog meer mense, want die “fun” moet meer
mense geniet”.
“Dit was ’n fees”
“Ek sal graag weer kom want dit was vet pret”.
“Dis die tweede jaar wat ek op die kamp is en dis nogsteeds een van die
lekkerste kampe van die jaar”.
Vir navrae of inligting kontak Danette gerus by 0829236177 of stuur ’n
epos na danna.smith@resbank.co.za
|
|