Ek staan op vir Afrikaans!

 

 

Nommer 138

Besoek my Webwerf

15 Julie 2009

 
 

Bloedrivier

Eg Afrikaans

Die Knoop

Ons Dorp

Woes

Vuurvlieg

Afriforum

Voortrekker Monument

Blanke Ekonomiese Forum

PRAAG

Rieme

ATKV

 

Teken Besoekersboek

 

Vorige Nuusbriewe

Epos

Wees gegroet!

Welkom aan alle nuwe intekenare!

Daar is weer 'n verskeidenheid lekker resepte verder ondertoe.

Net om te laat weet dat ek enigiets wat ek in my epos ontvang en wat ek voel hier geplaas kan word, dit plaas ek. As daar dalk kopiereg op is laat weet my, dalk haal ek dit af.

Die pasella hierdie keer is 'n eBoek met beskuitresepte, gaan kyk by Pasella hieronder en laai die boek gratis af.

Wil jy dalk GROOT droom? Vat 'n kans op die UK Lotto of een van die ander Europese Loterye. Die een het 'n groter boerpot as die ander! Die minimum boerpot is R45 miljoen, sommer gereeld R75 miljoen en hoër! Dis heeltemal veilig om te speel, onthou, jy kan nie wen as jy nie 'n kaartjie het nie! Klik hier  en droom Groot!

En onthou tog om my besoekersboek te teken? Hy was vir 'n hele tydjie aflyn maar is nou weer terug.

Hettie Etikettie

Ek hoor mos nou die oggend 'n insetsel oor hettie op RSG. Ek kontak haar toe en sy gee toestemming dat ek van haar stories hier kan gebruik. baie dankie, Hettie, jou raad is baie leersaam. Gaan loer gerus na Hettie se webwerf: http://www.etikettie.co.za/

Hettie Etikettie se Etiket vir die Draadloos

· Die draadloos kan dien as ‘n sosiale aangeleentheid waarmee saam ‘n jong verliefde paar byvoorbeeld ‘n afspraak kan spandeer. Hul kan tuis in mekaar se geselskap by die opsitkers verkeer en na die draadloos luister op ‘n Vrydagaand. Die heer kan ontspanne sit en aandagtig luister terwyl die dame haar hande kan besig hou met ‘n stukkie naaiwerk.
· Dit is belangrik om te onthou dat wanneer u na die draadloos luister dat die omroeper juis met u gesels. Gesels dus terug, vra vrae en antwoord die omroeper, lag selfs uitbundig vir ‘n grappie. Sodoende kan dit bestempel word as ‘n hegte vriendskap deurdat u draadloos u gereeld raad en plesier gee maar nooit met u opinie stry of nooit veel meer van u verg as om die aan\af knoppie te stel nie. Daar is juistement sekere here wat ook die huwelik hanteer soos ‘n draadloos vriendskap – enigste verskil is dat die vrou aanhou met gesels maar die man sy aan\af knoppie stel en nie ‘n woord verder hoor nie.
· Dit is uiters smaakloos en onvanpas om gekruide taal en onbetaamlike benaminge en grappies te maak oor die lug. Hetsy of dit die omroeper of luisteraar is wat telefonies inskakel. Moet nie dink dat u oornag roem as draadloos persoonlikheid sal verkry indien u iemand se ma op die lug beledig nie.
· ‘n Gebaar wat die graad van smaakloosheid in daardie sin bevorder is die manier wat sekere luisteraars inbel en hul draadlose harder sit om hulself op die lug te hoor terwyl hul ‘n onwelvoeglike woord gebruik. Dames en Here, nie net veroorsaak dit ‘n kringfluit wat veel erger as ‘n wolwefluit is nie, maar dit beskadig ook die omroepers se ore. So te meer dat omroepers juistement versekering op hul gehoor moet uitneem wat ongelukkig nie aan hul uitbetaal word nie – maar eendag aan hul kleinkinders wat geen normale kommunikasie met hul grootouers sal he nie.
· Dit is ook uiters smaakloos om die draadloos te gebruik as ‘n buffer wanneer u in ‘n argument met u eggenoot betrokke is. Meeste eggenote voel dat die sogenaamde stilstuipe vanaf die dame beveg kan word deur die draadloos aan te skakel. Dit skep egter die verkeerde atmosfeer waarmee daar na die program geluister word en kanaliseer die negatiewe gevoelens na die omroeper wat dan as “vervelig” of “belaglik” bestempel word. In sommige gevalle kan dit handuit ruk wanneer die egpaar telefonies inskakel om die omroeper as skeidsregter te gebruik in hul rusie omdat niemand ander beskikbaar is nie. Sorteer gerus eerder u huweliksprobleme tuis uit en moet nie die draadloos insleep daarby nie..
· In daardie respek, liewe luisteraars - Moet onder geen omstandighede telefonies inskakel om met die omroeper te gesels indien u die spreekwoordelike tiermelk genuttig het of te diep in die bottel gekyk het nie. Dit is net uiters smaakloos. En veral nie indien u ‘n dame is nie. Onthou geliewe luisteraars – ‘n stukkende dame is allesbehalwe mooi.
· Kommunikasie bestaan uit 7% woorde, 23%kreune, steune,stampe, stote en stemtoon en 70% lyftaal. Juis omdat ons nie ‘n draadloos omroeper se lyftaal kan besigtig of kan sien watter flaters in die ateljee gebeur nie moet ons juistement staatmaak op hul stemtoon, steune en kreune om te verstaan wat hul bedoel. Met omgang tussen medemense kan mens dikwels gou agterkom watter steun en kreun watter gesindheid inhou. Wees dus oplettend na die steune en kreune van u omroeper voordat u hul as “vervelig” of “belaglik” bestempel.
· Nou wat omgang met ‘n omroeper aanbetref -Wanneer u in telefoniese verbinding met die omroeper wil tree, maak tog te alle tye seker dat u weet wat u wil sê. Dit is nutteloos om die gesprek te begin met “Hoe gaan dit?” (nadat u reeds weet dit gaan goed met die omroeper) en dan ‘n hele halfuur lank hard asemhaal in die spreekbuis sonder om tot u punt te kom. Moet ook nie die omroeper en luisteraars se tyd mors met sinnelose vrae soos “Hoekom styg die petrolprys?” of “Wanneer gaan die sokkerstadiums klaar gebou wees? of “Hoeveel kinders het Steve Hofmeyer nou eintlik nie?” want niemand weet regtig die antwoord op nuttelose hierdie vrae nie.
· Indien u van ‘n afgeleë dorp afkomstig is en die draadloos die enigste geselskap vir u is , moet nie elke dag die omroeper skakel en persoonlike vrae vra soos wat u moet aantrek of wat u vir middagete moet voorberei nie. Moet ook liefs nie aan die omroeper geheime oor die lug van vriende\familielede oorvertel nie – net omdat u hul nie kan hoor nie beteken nie hul kan u nie hoor nie.
· Moet liefs nie huil\ween\sanik\gil\skree of liggaamsgasse laat ontsnap indien u op die lug gesels nie. Dit is uiters smaakloos (al kan ons dit net hoor). En dit geld vir beide die luisteraars asook die omroepers.
· Indien u beoog om ‘n geheime verhouding of sigopatiese obsessie met ‘n omroeper aan te knoop, moet dit liefs nie op die lug doen nie, u mag dalk net herken word deur ‘n vriend of familielid.
Dan laastens dames en here, meeste van ons geniet ook die draadloos as metgesel wanneer ons erens heen ry ons motors. Daar is dan ook ‘n paar ongesproke etiketsreëls wat met hierdie gebaar gepaard gaan:
 
o Dit is nie nodig om u draadloos so hard te speel dat die persoon wat drie kilometer agter u op die hoofweg ry daarna kan luister nie. Onthou meeste motors het te danke aan tegnologie in vandag se tyd en era hul eie draadlose en dit is nie nodig vir u om as gemeenskaplike draadloos rond te ry nie.
o Dit is baie belangrik om te onthou dat dit uiters gevaarlik is om te sing en bestuur. Veral indien u saamsing met ‘n lied op die draadloos. Wanneer u so meegevoer raak dat u oë toegaan om daardie hoë noot te raak mag u dalk net in ‘n ongeluk beland.
Dit geld ook vir die sellulêre telefoniese inskakeling na die ateljee indien u bestuur. Moet onder geen omstandighede in die versoeking kom om op u sellulêre foon met die omroeper te praat om u opinie te lig nie. Wag totdat u stilstaande is.

Skermbeeld

Ons het sopas 'n wonderlike 10 dae in die Kruger Nasionale Park deurgebring. Wat diere betref was dit ons mees suksesvolle besoek ooit. As jy vyf keer luiperds gesien het kan dit net goed wees. Een mistige oggend het ek 'n fotoe geneem, as jy dit as skermbeeld wil gebruik, regs klik net hier en laai dit vir jou af.

Ek het van my fotos opgelaai, as jy wil gaan kyk, klik net hier. 

Boeremusiek

Alles wat jy wil weet oor Boeremusiek.

Hierdie is die webblad van Kalie de Jager en is spesifiek daarop toegespits om die Versameling...Bewaring...en Uitbouing...van Boeremusiek aan te spreek.

Klik hier om sy webblad te besoek.

Boeremusiek Baanbrekers

Fanie Botha

Vir baie jare het Fanie en sy groot vriend, George Hughes die boeremusiekvlae in die bosveld laat wapper. Fanie se Hartbeesfontein het groot byval by talle Boeremusiek-liefhebbers, veral by Dozi, gevind. Fanie het onlangs afgetree in die onderwys en dit lyk of hy hom by die see wil vestig. Gelukkige Natallers!

 


Fanie Botha

 

 

Facebook

Ekke is ook op Facebook, as jy dalk 'n Facebook profiel het en by myne wil aansluit, klik net hier. Hoe meer siele hoe meer vreugde. My Facebook eposadres is peter@funkymunky.co.za

Brokkies van Mirna

Mirna is ‘n opvoedkundige sielkundige in Stellenbosch. Sy het onderwys gegee by verskeie skole, o.a. Hoërskool Stellenbosch, Hoër Meisieskool Bloemhof en Jan Krielskool vir leerders met hindernisse tot leer. Sy is ‘n ma, lief vir die kunste, die see en kinders. Jy is welkom om kommentaar en vrae te stuur na mirnafvanwyk@gmail.com

Onlangs vra ‘n pa my vir advies hoe om dissipline sonder trane of tantrums toe te pas. Elke familie het natuurlike hulle eie manier van dissiplineer, maar ek kan nogal die volgende riglyne van Becky Bailey aan beveel om ouers in ‘n pro-aktiewe gedagtegang te kry t.o.v. dissipline.
Alhoewel hierdie voorbeelde meestal op jonger kinders fokus, sal die beginsels dieselfde bly vir ouer kinders (en selfs jou lewensmaat of werkgewer!)

1. Vertel kinders wat om te doen.
Beginsel: Dit waarop jy fokus, vermenigvuldig.

Toepassing: In plaas van sê, "Hou op om jou broer te stamp, jy weet van beter, stamp is nie mooi nie," sê, "As jy wil hê jou broer moet weg beweeg, sê 'Gee my ook kans, asseblief.' Gaan sê dit nou vir hom." Fokus op wat jy wil hê jou kinders MOET doen!

2. Gee kinders bruikbare inligting, veral wanneer jy ontsteld is.
Beginsel: Wanneer ‘n mens onsteld is, is jy geneig om te fokus op wat jy nie wil hê nie.

Toepassing: In plaas van om te sê, "Hoekom is jou huiswerk nie gedoen nie? Wil jy druip? Hoeveel keer moet ek nog hieroor praat?" kan jy sê, "Jy kan begin met jou Wiskunde huiswerk of Lees. Watter een sal jy eerste wil klaarmaak?”

3. Gebruik jou se planne as oplossings tot hulle probleme.
Beginsel: Twee koppe is beter as een.

Toepassing: In plaas van prober om oplossing vir jou kind se probleme te kry, vra jou kinders. Jy kan sê, "Wat sal help om jou huiswerk teen 8:00 n.m. klaar te hê?" Help jou kinders om self oplossing te soek vir probleme. En so leer jy hulle om nie altyd van jou raad of hulp te vra nie. Dit dra by tot haar groei in self-vertroue.

4. Plaas jou kinders op jou "to do list" en spandeer tyd om hulle te geniet.
Beginsel: Die motivering om goeie gedrag te hê vloei uit ‘n goeie verhouding met ander.

Toepassing: Wanneer ‘n kind sê, "Ek gee nie om nie," sê sy eintlik, "Ek voel nie asof jy vir my omgee nie." Samewerking vloei uit verhoudings. As jou kind kind aanmekaar weier om na jou te luister of sê hulle gee nie om nie, is dit tyd dat jy jou verhouding met hulle herbou en familie rituele te hernu.

5. Word die persoon wat jy wil hê jou kind moet word.
Beginsel: Ons moet onsself eerste dissiplineer en dan ons kinders.

Toepassing: In plaas van skree, "Kry jouself dadelik onder beheer," neem ‘n diep asemteug en kalmeer jouself eerste. Wees ‘n S.T.E.R. (“Smile, Take a deep breath, En Relax”). Word die persoon wat jy wil hê jou kind moet word. As jy wil kalmte hê, demonstreer hoe lyk kalmte.

Groete van hart tot hart.  
 

Gedig

Die volgende kom van een van Zalome se briewe af, ek dink dis deur Monique Swarts:

Kinders is soos vlieërs . . .

‘n Mens sukkel ‘n leeftyd lank om hulle
"van die grond af te kry”.
Jy hardloop met hulle totdat julle albei
poegaai en uitasem is …
en as jy weer sien,
het hulle in die grond geduik.

Dan probeer jy maar so goed jy kan
afstof en regbuig en aanpas en troos
en weer wys hoe dit gedoen moet word.

En die hele tyd sê jy vir hulle
eendag dan sal hulle vlieg …

Uiteindelik is hulle in die lug!

Maar dan moet jy hulle meer tou gee.
Jy moet die lyn waarmee jy hulle al die tyd vasgehou het,
al langer en langer maak.
Die hele tyd weet jy dit sal nie lank wees
voordat die pragtige “vlieër” wat jy self gemaak het,
sal losruk en onafhanklik die ruimte invaar nie.

Die lewenslyn wat julle al die tyd aan mekaar gebind het sal breek
en jou kind sal alleen die vryheid van volwasse-wees moet hanteer.
Eers as jy hulle sien vlieg,
sal jy weet of jy ‘n goeie ma was!

Peter Thomas Fotografie

Gaan kyk na my nuwe fotografie webwerf

Die Peterjasie webwerf

Hierdie brief is maar net 'n klein deel van die Peterjasie internet ondervinding. Klik gerus hier en gaan besoek my webwerf, daar is regtig iets van alles, en alles in Afrikaans. 

Anna se Kombuis

Ek beskou Anna Eksteen as die koningin van Resepte eBoeke in Afrikaans. Sy het nou al 'n hele versameling van resepte eBoeke wat enige kossoort dek, en dit in Afrikaans! eResepteboeke is goedkoop en geen posgeld is betaalbaar nie, die boeke word per epos gestuur en is in 'n japtrap by jou.

Klik gerus hier en kyk na die lys van nuwe resepteboeke en bestel gerus een, of sommer 'n paar!

Of bel sommer direk vir Anna - 0822946799

Pasella

Regs klik hier en laai 'n resepteboek met beskuitresepte af. 

Die Danville Hulpgroep 

Gaan kyk gerus na die webwerf hieronder om te sien watse wonderlike werk hierdie groep doen.

Webwerf: www.danvillehulp.co.za

Elsabé Blignaut

Huis: 012 991 3914
Sel: 082 828 2551
Epos: Elecnet@mweb.co.za

Peterjasie se Boererate eBoek

eBoek met om en by 2000 Boererate, net R60. Ek stuur sommer per epos en jy betaal dan die bedrag in my rekening in, so maklik soos dit. Kontak my vir betalingsbesonderhede. Ook in Engels beskikbaar, laat my maar net weet. Met elke bestelling gee ek gratis afskrif van "Boererate en Verbruikerswenke" eBoek

Wapadrand Boeredansgroep
 

 

Vir navrae of inligting kontak Danette gerus by 0829236177 of stuur ’n epos na danna.smith@resbank.co.za
 

 

Dial Direct Insurance

 

 
Glimlag

Afrikaans bly darem maar skerp!!!

Fanus Rautenbach sê: ons moet almal eendag sterwe, maar elkeen sterf volgens sy beroep:

Reisigers gaan heen.
Jagters gaan bokveld toe.
Parlementslede op die groen kussings gaan sag heen.
Die melkman en die posman kom om.
Kokke steek lepel in die dak.

Die horlosiemaker se tyd het aangebreek.
Die valskermspringer ontval ons.
Die tuinier is van die gras af gemaak.
Die melkboer het die emmer geskop.
Die begrafnisondernemer sien sy gat.

Die dominee het die tydelike met die ewige verwissel.
Die ouderling is ontslape.
Die koerantman is direk hemel toe.
Die skeidsregter het sy laaste asem uitgeblaas.
Die dokter se hart het gaan staan.

Die elektrisiën se liggie is gedoof.
Die koster het die doodsklok hoor lui.
Die kleremaker se draad is geknip.
Die Springbokrugby-afrigter kom tot rus.
Skoonmoeder - die duiwel het haar kom haal. 
 
st se pitkos 

st se  pitkos

Klik hier om st se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief

“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.

Welkom by hierdie week se nuusbrief.

Bou jou selfvertroue

Daar word baie geskryf en gepraat oor selfvertroue. Voor die deur van selfvertroue (of die gebrek daaraan) word dinge gelê soos sukses, mislukking, 'n positiewe of negatiewe selfbeeld, selfverwesenliking. Dikwels word gesê selfvertroue maak of breek 'n mens, dit bepaal jou stand in die lewe.

Die belangrikheid van selfvertroue word nie net in die alledaagse lewe beklemtoon nie, maar word as 'n kardinale aspek beskou in die skool, in opvoeding, studies op tersiêre vlak, in jou beroep, in jou verhoudinge, in onderhandelinge, sport, feitlik op elke lewensterrein.

Selfvertroue kan 'n mens maak of breek.

Sukses word gekoppel aan selfvertroue. Mislukking aan die gebrek hiervan. Baie mense bereik nooit hulle werklike potensiaal nie, omrede 'n lae selfbeeld.

Ons is so gekondisioneer dat die onderbewussyn ons dikwels laat glo dat ons nie die vermoë het om iets aan te pak en 'n sukses daarvan te maak nie. Is daar in jou lewe 'n uitdaging waarvoor jy te bang is, omdat jy dink jy sal dit nie regtig kan doen nie? Miskien sien jy iemand wat 'n projek aanpak, en in jou hart weet jy dat jy dit ook sou kon doen - as jy maar net die nodige selfvertroue gehad het.

'n Swak selfbeeld en selfvertroue benadeel jou werk en bevordering, en by kinders en studente het dit 'n negatiewe impak op hulle studies. Ek wonder hoeveel kwale en skete, persoonlike en gedragsprobleme, onderprestasie in die akademie en sport, en mislukkings kan voor die deur van 'n swak selfvertroue gelê word.

Hoe bou ek my selfvertroue uit? Hoe kry ek daardie ek-is-nie-goed-genoeg-nie sindroom uit my gestel? Hier is enkele wenke:

· Fokus op jou sterk punte en talente. Te veel mense kniehalter hulself deur te konsentreer op swak punte. Werk doelbewus om jou goeie punte verder uit te bou en te gebruik

· Verbeter jou voorkoms. Doen moeite om goed te lyk en goed aan te trek. Klein dingetjies soos skoon naels, jou haarstyl, hoe jou motor lyk, is belangrike aspekte. 'n Uitstekende bousteen om jou selfvertroue te verbeter, is om respek vir jou voorkoms en die dinge rondom jou te ontwikkel.

· Stel vir jouself 'n fisiese oefenprogram in. Leef gesond en doen lekker fisiese oefening sodat jy sweet. Wanneer jy liggaamlik gesond en goed voel, verhoog dit jou selfvetroue.

· Vergewe jouself. Almal maak foute. Geen groot sukses is al in die lewe behaal sonder dat foute in die proses gemaak is nie. Leer die les uit die fout, en vergeet dan die fout wat jy gemaak het. Moenie vir maande en jare broei oor 'n erger mislukking in jou lewe nie. Vergewe jouself en vermy oordrewe self-kritiek. Fokus op jou suksesse en dit wat jy reeds bereik het.

· Verander jouself na 'n optimis. 'n Pessimistiese uitkyk op die lewe breek 'n mens se selfvertroue af. Maak vriende en beweeg in sosiale sirkels met mense wat 'n blymoedige en optimistiese uitkyk het. Optimisme is aansteeklik; vul jou tyd en gesprekke met positiewe mense.

· Leer deursettingsvermoë aan. Wanneer jy 'n projek aanpak, byt vas en druk deur al is die omstandighede moeilik. Wanneer jy dag na dag aanhou en uiteiendelik jou doelwit bereik, bereik jy baie meer as net 'n voltooide taak. Dit is 'n verrykende ervaring wat jou selfvertroue bou en vir jou selfrespek win.

· Moenie altyd die grootste projek eerste aanpak nie. Begin met babatreetjies, klein projekte. Een klein sukses lei na 'n groter sukses en algaande bou jy jou selfvertroue vir groter en moeiliker projekte. Dit is soos die in die lewe werk. Jou skoolloopbaan begin nie met matriek nie, maar wel in Graad Een.

· Stel jouself voor aan mense. Sê jou naam duidelik en kyk die ander persoon in die oë.

· Hou jou besig met gesonde en positiewe vermaak. Om heeldag voor die televisie te lê, is 'n passiewe vorm van ontspanning. Doen iets wat jy voel die moeite werd is en wat vir jou menswees iets beteken.

· Moet nooit bang wees om te misluk nie. Baie suksesvolle mense het misluk voordat hulle sukses behaal het. Sien mislukkings as leerervarings wat jou voorberei vir 'n toekomstige sukses.

· Skakel die gewoonte om jou te bekommer oor alles wat verkeerd kan loop (die "worry"-gewoonte) uit jou sisteem. Verwag dat alles verkeerd kan loop en aanvaar dit. Deur die aanvaarding dat die ergste kan gebeur, vind 'n wonderlike sielkundige proses in jouself plaas, want jy het nou niks meer om te verloor nie! Spanning word feitlik onmiddellik verlig en energie word vrygestel sodat jy kan fokus op jou doelwitte.

Die boodskap is duidelik. 'n Mens kan iets daadwerkliks doen om jou selfvertroue uit te bou en te verbeter. Dit is 'n keuse wat jy maak. Iemand anders kan hierdie keuse nie vir jou maak nie. Jy kan vandag begin om 'n positiewe verskil in jou eie lewe te maak.

'n Sprankie wysheid vir die dag

"Die enigste mens wat jou kan verhoed om God se doel met jou lewe tot uitvoering te bring, is JY!" - Anoniem -  

Jy kan inteken op hierdie nuusbrief sodat jy op die adreslys kom. Dis gratis en verniet. Gaan na www.pitkos.co.za - 'n intekenvorm is op my webwerf beskikbaar of stuur jou naam en eposadres vir my.

Dr ST Potgieter
Sielkundige

Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos: st@pitkos.co.za 
 
Feeste

Ek het vir 'n lang tyd 'n Feesbladsy op my webwerf gehad, maar die mense het my nie die nuutste inligting gestuur nie, nou gee ek maar 'n skakel na Litnet se feesbladsy. Klik net hier
 

 
Resepte

Sous vir Kassler

15 ml heuning
15 ml sjerrie
2 ml aangemaakte mosterd
Meng goed en smeer die kassler terwyl dit gebraai word.

Souskluitjies
Kluitjies:

250 ml koekmeelblom
10 ml bakpoeier
2 ml sout
50 ml margarien / botter
1 eier
100 ml melk
Sous:
500 ml kookwater
25 ml margarien / botter
kaneelsuiker
Sif droë bestanddele saam. Vryf 50 ml margarien in tot mengsel soos broodkrummels lyk.
Klits eier en melk saam, roer by meelmengsel in en meng tot 'n sagte deeg.
Voeg nog melk by indien nodig.
Verhit water en 25 ml margarien tot kookpunt.
Skep lepelsvol deeg in kokende water. Sit deksel op en laat kook 15 minute. Moenie deksel oplig terwyl kluitjies kook nie.
Skep kluitjies met 'n gleuflepel uit in 'n diep opskepskottel. Strooi kaneelsuiker oor.
Kook water waarin kluitjies gaar gemaak is weer. Voeg kaneelsuiker by en giet oor kluitjies. Jy kan nog water byvoeg indien nodig.

Souskluitjies 2 (Nagereg)

260 ml Meelblom
25 ml botter
25 ml bakpoeier
3 Eiers
250 ml melk
sout
Sous:
1 Liter water
480 g suiker (600 ml)
1 ml sout
20 ml asyn
Sous om oor souskluitjies te gooi:
25 ml botter
20 ml kaneel
15 ml naeltjies
120 ml asyn
60 ml vlapoeier aangemaak met bietjie water
Sif droë bestanddele saam. Vryf botter in.
Klits eiers en melk goed. Voeg by droë bestanddele. Meng goed.
Skep lepelsvol in kastrol, 4 cm gevul met kookwater en 20 ml asyn. Plaas deksel dadelik terug en prut oor lae hitte vir 7 - 10 minute.
Skep kluitjies in opdienbak en strooi kaneelsuiker bo-oor.
Berei sous om oor te gooi:
Kook al die bestanddele saam behalwe die vlapoeier.
Bring tot kookpunt. Verdik met vlapoeier. Gooi sous oor kluitjies.
Dien warm op saam met dun vla.

Souttert 1

1 Groot Ui (fyngekap)
½ koppie fyn vars sampioene
½ groenrissie (fyngekap) (green pepper)
1 pak (250 g) fyn spek (Bits 'O Bacon)
1 EL fyn knoffel
250 ml (1 kop) melk
125 ml (½ kop) Koekmeelblom
2 eiers, geskei
250 ml (1 kop) gerasperde Cheddarkaas
1-2 tamaties
Sout en peper na smaak
Cayenne peper
Braai spek tot gaar
Voeg by ui, knoffel, groenrissie & sampioene. Smoor tot uie glaserig is.
Meng melk, meel, eiergele, sout en peper.
Vou spekmengsel by en meng goed
Klits eierwitte styf en vou in by mengsel
Smeer groterige bak en gooi mengsel in.
Sny tamaties dun skyfies bo-op
Strooi kaas bo-op
Sprinkel Cayennepeper bo-op.
Bak vir ± 30 minute by 180°C of tot gestol.

Souttert 2

5 snye wit/bruin brood (sonder korsies) gooi in kastrol
3 k melk
3 e botter
kook bogenoemde
Haal van stoof af en gooi by:
1 Blik weenseworsies of bullybeef
1 ½ k kaas
1 Ui
Rooipeper
1 Pak bacon geknip
3 Eiers
Pietersielie
Meng goed & bak teen 180° C.

Soutterte
Tunatert

1 blik Tuna
30 ml meelblom
2 eiers
375 ml melk
250 ml gerasperde kaas
Klits eiers en melk goed. Meng tuna, meel en kaas met eiermengsel.
Bak vir 30 minute in oond teen 350 Grade F ( 180 Grade C )
Kan met pietersielie versier word.

Souttert

Smelt saam:
30 ml botter
Voeg 30 ml meelblom stadig by
Voeg 500 ml melk stadig by en roer tot dik en glad
Voeg bogenoemde by 2 geklitste eiers en meng goed
Voeg by:
125 gm Fyngesnyde gebraaide ontbytspek
125 gm Fyngesnyde ham
125 gm gerasperde kaas
2 hardgekookte gerasperde eiers
Sout en peper en aangemaakte mosterd na smaak
Bak in gesmeerde vuurvaste bak in oond teen 180 Grade C tot gaar

Souttert

Week 4 dik snye wit brood in 2 koppie melk en druk fyn.
1 blik weense worsies
1 koppie gerasperde kaas
3 eiers, geklop
knippie peper
Sout
Pietersielie
Meng alles saam en bak teen 180 Grade C.

Souttert

1 blik beef
1 blik worsies
1 blik sweetcorn
1 dl. bakpoeier
1 koppie meelblom
5 eiers
1 koppie kaas
2 koppie melk
1 eeteel pietersielie
1 ui
1/2 koppie kookolie
sout
Meng alles goed, en bak in oond teen 180 Grade C tot gaar.

Souttertjies

Kors:
5/8 koppie (10 eetl) meelblom
knippie sout
1/2 teel suiker
1/8 teel kremetart
4 eetl margarien
1/2 eiergeel
Sif die meelblom, sout en kremetart saam. Voeg suiker by.
Vryf die margarien liggies in.
Maak die deeg aan met die eiergeel en wanneer dit te droog is, voeg 1 eeteel koue water by. Rol +- 1/8" dik uit. Sny in sirkels en plaas in kolwyntjiepanne. Sit in yskas tot vulsel gereed is.
Vulsel:
Maak 'n witsous van:
1 eetl margarien
1/2 koppie melk
1 eetl meelblom
Klits 1 eier en voeg dit by die witsous
Voeg ook die volgende by die witsous:
1/4 teel mosterd
2 eetl gesmelte margarien
1 eeteel gekapte pietersielie
1/2 koppie gerasperde kaas
1/2 koppie gaar gemaalde vleis (of fyn geblikte worsievleis)
1 eetl gerasperde ui
Skep nou in die deeg in kolwyntjiepanne. Bak vir 20 minute teen 190 Grade C. Lewer +- 15 tertjies.

Spaghetti met Tamatiesous

2 uie
2 eeteel Botter of margarien
4 of 5 ryp tamaties
Sout en peper na smaak
1 teelepel suiker
2 koppies gekookte spaghetti
kwart tot half koppie gerasperde kaas
Sny die uie in dun skywe en braai dit in die warm botter of margarien in 'n kastrol tot dit effens bruin is.
Voeg die tamaties, in skywe gesny, by en kook totdat dit sag is.
Voeg sout, peper en suiker by en vryf die sous met 'n houtlepel deur 'n draadsif.
Sit die spaghetti in 'n plat skottel, sit die kaas in die middle bo-op en gooi die tamatiesous oor die kaas en spaghetti.

Speel-Deeg

Meng saam:
2 koppies koekmeel
¾ koppie sout
30ml kremetart
Meng saam:
2 koppies water
30ml olie
5ml kleursel
5ml geursel
Voeg nou alles bymekaar en meng goed.
Plaas in mikrogolf (op hoog) vir ± 4 tot 5 minute. Roer na elke minuut.
Die deeg word ligter in kleur soos dit gaar word.
Dit hou vir maande (buite die yskas) as dit dig toegemaak

Spek-en-Kaas Spaghetti

1 Pak Spaghetti
2 Pakke gekapte spekvleis
500 g Gerasperde Cheddarkaas (Hoe meer kaas hoe lekkerder)
2 Pakke Gekerfde Sampioene
Braai die spekvleis en sampioene saam tot heerlik bruin en bros.
Kook die spaghetti tot gaar en dreineer.
Roer die warm spaghetti tussen die spekvleismengsel in.
Roer al die kaas tussenin en laat dit smelt.

Spinasiekoekies

Klits 3/4 koppie water en 1 groot eier saam.
Voeg 1 en 1/2 koppie meel, 1 teelepel sout, peper en 1 teelepel bakpoeier by en meng.
Was spinasie af en sny in repe. Meng met deegmengsel.
Skep met 'n lepel in pan met voorafverhitte olie.
Bak aan elke kant tot bruin (net 'n paar minute aan 'n kant - dis vinnig gaar).
Dit lewer so 15+ koekies, afhangende hoe groot skeppe jy skep.

Stampkoringslaai

250 ml stampkoring
1 x 410 g blik perskeskywe
1 soetrissie
2 ml mosterdpoeier
125 ml mayonaisse
sout
peper
1 kookappel
1 uitjie
Kook stampkoring sowat 45 min of tot sag - gooi in vergiettes en spoel met koue water af. Laat goed dreineer
Meng mayonnaisse en mosterd. Kap ui - sny appel in dobbelsteentjies en ontpit - sny soetrissies in repe
Dreineer perskes en sny kleiner. Plaas alle bestanddele in slaaibak. Geur met sout en peper en meng met twee vurke.

Suurdeeg

Om nuwe plantjie te maak
Gebruik 'n vrugtefles en plaas so min of meer ½ koppie rosyne (met pitte) daarin. Maak fles so ¾ met sterk lou water vol en sit half eetlepel sout, 2 eetlepels suiker en 1 eetlepel koek meel by. Meng goed en laat staan op 'n warm plek om te gis.
Gooi na 2 dae die meeste water af (so ongeveer ¾). Sit weer dieselfde hoeveelhede sout, suiker en meel by en weer sterk warm water (moet nie kook warm wees nie anders sal dit die platjie doodbrand).
Laat staan so 2 dae of tot dit gis. Die meel sal opkom.
Haal rosyne uit en bêre tot jy dit wil gebruik dan gooi jy die meeste water af en suur dit weer in met ½ eetlepel sout, 2 eetlepels suiker en 3 eetlepels meel.

Suurlemoen Yskastert

1 blikkie kondensmelk
1 koppie suurlemoensap
1 pakkie tennisbeskuitjies.
1,5 liter vla (lekker dik aangemaak met genoeg suiker om dit soet te maak)
Meng die kondensmelk met die suurlemoensap. Pak 'n ry tennisbeskuitjies onder in 'n vierkantige glas/platiek bak.
Giet helfte van die vla oor en laat 'n rukkie afkoel, giet nou weer die helfde van die kondensmelk mengsel oor, en smeer eweredig oor vla.
Pak weer 'n ry tennisbeskuitjies en giet die res van die vla daaroor, laat weer bietjie afkoel.
Gooi nou die res van die kondensmelk mengsel oor die vla - eweredig gesmeer en krummel 'n paar fyngemaakte beskuitjies bo-oor.
Plaas in yskas en laat stol. (Hmm heerlik).

Tamatie-resepte

Tamatieblatjang

2 pond tamaties
half pond bruin suiker
1 k asyn
half pond sultanas
1 e mosterd
1 e fyn gemmer
1 e sout
2 uie, in dun skyfies gesny
kwart t rooipeper
Skil die tamaties af (dompel hulle 'n paar minute lank in kookwater en daarna in koue water om die skilletjies los te maak) en sny hulle fyn.
Meng al die bestandele en kook dit stadig in 'n emaljekastrol tot dit die regte dikte het. Roer dit af en toe om te voorkom dat dit brand.
Bottel terwyl dit warm is en verseël dit sodat geen metal met die blatjang in aanraking kom nie.

Tamatiesous

10 pd ryp tamaties
2 uie
2 tot 4 huisies knoffel
1 pint asyn
1 e naeltjies
1 e piment
1 e peperkorrels
1 e stukkies pypkaneel
2 e sout
1 e mosterd
1 k suiker
Verwyder die skille van die tamaties. Skil die uie. Rasper of maal die tamaties, die uie en die knoffel
Kook oor stadige hitte tot dit sag is en vryf dit met 'n houtlepel deur 'n sif om al die pitte te verwyder
Voeg die asyn, die suiker, die sout en die mosterd by en knoop die speserye in 'n kaasdoekie toe. Voeg dit ook by
Kook die mengsel en roer af en toe tot die volume omtrent een derde verminder het en die sous die dikte van witsous het. Verwyder die speserye
Gooi dit in 'n skoon, droë, warm bottles en verseël hulle terwyl hulle nog warm is.

Tamatiesap

Was gesonde, ryp tamaties en sny die stingelkante en alle groen deeltjies wegm Sny die tamaties in stukke.
Druk die tamaties effens stukkend in 'n kastrol om 'n gedeelte van die sap uit te druk en verhit dit stadig met die deksel op tot dit kook. Daar word nie water bygevoeg nie.
Kook dit 5 minute lank stadig of tot die tamaties sag maar nie pap is nie. Dit kan ook gestoom word tot dit sag is, indien verkies.
Vryf die sap met 'n houtlepel deur 'n draadsif. Voeg half teelepel sout en 1 teelepel suiker by elke pint tamatiesap.
Gooi die sap in skoon bottles.
Tamaties kan ook so heel bevries word. Ek bêre gewoonlik tamaties in die vrieskas en indien ek nodig kry vir souse of soppe, plaas ek die gevriesde tamaties in koue water en die skilletjies kom baie maklik af.

Tamatiesop

2 koppies room
1 teelepel suurlemoensap
¼ teelepel peper
½ koppie uiegras roomkaas
1 blik tamatiesop
bietjie gerasperde uie
2 teelepels 'horse raddish' (Opsioneel)
1 t sout
Klits alles saam - verkoel voor bedien.
Genoeg vir 4-6 persone.
(Gerasperde komkommer kan ook bygevoeg word).

Lemoenpatats

1 kg patats
500 ml lemoensap (2 koppies)
100 g bruinsuiker
50 ml mielieblom (2 eetlepels)
2 ml sout
gerasperde lemoenskil
Kook patats tot sagm Sny in skywe en pak in bak. Meng bietjie lemoensap en mielieblom.
Voeg res van die sap en suiker by.
Verhit tot dik. Bak 30 minute by 160ºC.

Tiramisu

125 ml sterk swart koffie
62.5 ml brandewyn
2 groot eiers geskei
125g Bakers Boudior beskuitjies
25 ml strooi suiker
10 ml addisionele brandewyn
10 ml kakao
150g la campania mascarpone kaas
Meng koffie en 62.5 ml brandewyn.
Doop beide kante van die beskuitjies in die mengsel en rangskik op die bodem van 'n vlak bak. Bedek die bodem van die bak met die beskuitjies. Gooi die oorblywende stroop oor die beskuitjies.
Room geel van eiers (geskei) en strooisuiker saam tot dit dik en geel is.
Voeg 10 ml brandewyn en la Campania kaas by die eiermengsel en meng tot glad.
Klits die eier witte tot styf, en vou in die eiermengsel in.
Gooi die mengsel oor die beskuitjies. Los in die yskas vir 4 ure tot dit geset is.
Besprinkel met kakao voor dit bedien word. Bedien 4 - 6 porsies.
Jy kan die beskuitjies in twee lae pak, en dit met 'n bietjie room en selfs kaneel bo-op bedien.

Toskaanse Hoender

8 hoenderdytjies
olyfolie
seesout en swartpeper
½ koppie droë witwyn
2 eetl. Suurlemoensap
3-4 dun repies suurlemoenskil (met groenteskiller)
5 knoffelhuisies (geskil en ruweg gekap)
2 takkies roosmaryn (in kleiner stukkies geknip)
hand vol vars vinkelblare
2 groot ryp tamaties (geskil en in kwarte gesny)
12 groen olywe
Verwyder vel en vet van hoender. Verhit olie in kastrol met deksel. Verbruin hoender in matige hitte (hulle moet langs mekaar lê Geur met sout en peper.
Verhit wyn, suurlemoensap en skil, knoffel, roosmaryn en vinkel in 'n kastrolletjie. Giet sous oor hoender, voeg tamatie by en sit deksel op. Kook ongeveer 40 min. tot gaar. Draai dye gereeld om. Voeg olywe laaste 10 min by.
Skep uit. Verdik pansouse met gooi sous oor hoender met opdiening.

Trefferfudge (Mikrogolfoond)

1 Blik Kondensmelk
2 k Strooisuiker
125 g Margarien/Botter
1 t Vanielje Essens
Voeg Kondensmelk, Strooisuiker en Margarien saam in 'n groot glasbak (± 15cm hoog).
Kook op Hoog vir 2 minute.
Haal uit; roer goed en plaas terug vir 8 minute op Hoog.
Haal uit; voeg 1 t Vanielje essens by. Roer goed.
Gooi in 'n gesmeerde pan. Laat staan vir 2 minute.
Sny in blokkies en geniet!

Trifle

1 sponskoek
500ml ultramel vla
fyn neute
250ml room
sjerrie na smaak
1 blik ingelegde perskes
2 x rooi jellie
2 x groen jellie
Los jellie op in die yskas die vorige aand. Krap jellie met die vurk.
Begin met die koek. Gooi bietjie sjerrie oor die koek.
Pak dan 'n laag perskes, 'n laag jellie, 'n laag neute, 'n laag vla en dan weer koek, jellie, neute en vla. Eindig met room. Versier met neute en gerasperde flake of pepermint crisp. 

Skakels/Advertensies

Creative Laser Blast bied jou die volgende dienste:

- Laser gravering
- Lasersny en lasergravering van Perspex, dun hout, leer en sommige metale sowel as 'n verskeidenheid ander mediums
- Sandblasting van 'n groot verskeidenheid persoonlike geskenke sowel as unieke promosiestukke vir jou besigheid
- Vinielpakkers in verskeie kleure en groottes
- Spookasem in verskeie kleure, verpakkings en groottes om jou volgende partytjie in te kleur

Maak nou seker jy trek voordeel uit Creative Laser Blast se dienste deur met Kobie te gesels by:
Epos: clb@sukijaki.co.za
Tel: 0832891796
Alt Tel: 0827719532
Faks: 0865698954

Kontak en Argiewe

Al my nuusbriewe is op hierdie bladsy beskikbaar: http://www.peterjasie.co.za/argiewe.html

Elke nuusbrief sal voor of op die 15de van die maand op die Argiewe bladsy te lees wees.

Kontak my hier.

Druk jou speld op my besoekerskaart! Ek dink hy is vol op die oomblik, maar hulle maak darem gereeld spasie vir nuwe inskrywings.