http://www.playeuromillions.com/af/home.html

Ek staan op vir Afrikaans!

 

Nommer 146

Besoek my Webwerf

15 Maart 2010

 
 

Bloedrivier

Eg Afrikaans

Die Knoop

Ons Dorp

Woes

Vuurvlieg

Afriforum

Voortrekker Monument

Blanke Ekonomiese Forum

PRAAG

Rieme

ATKV

 

Teken Besoekersboek

 

Vorige Nuusbriewe

Epos

Wees gegroet!

Welkom aan alle nuwe intekenare!  Gaan laai jou gratis resepteboek af, by Pasella hieronder.

Dis darem lekker om op kierieverlof te wees, hierdie jaar se rondryery begin binnekort weer, ons gaan vanaf die 12de vir ongeveer 10 dae Mosselbaai toe, ons was nou 'n paar jaar gelede daar en hoog tyd dat ons weer 'n draai gaan maak. Gelukkig hou ek van bestuur so die lang pad van Alberton af pla my gladnie. Sal natuurlik storie en fotos kom deel as ons eers terug is.

Hierdie uitgawe se resepte tema is gemmerbier. Daar is 'n wye keuse, gaan kyk gerus verder ondertoe.

My nuwe resepte eBoek CD is nou beskikbaar, 60 resepteboeke sowel as Boererate op een CD, sien verder ondertoe vir besonderhede en lys van boeke. Gaan kyk gerus na die verskeidenheid van boeke wat op die CD is verder ondertoe.

Net om te laat weet dat ek enigiets wat ek in my epos ontvang en wat ek voel hier geplaas kan word, dit plaas ek. As daar dalk kopiereg op is laat weet my, dalk haal ek dit af.

Custom Search

Wil jy dalk GROOT droom? Vat 'n kans op die UK Lotto of een van die ander Europese Loterye. Die een het 'n groter boerpot as die ander! Die minimum boerpot is R45 miljoen, sommer gereeld R75 miljoen en hoër! Dis heeltemal veilig om te speel, onthou, jy kan nie wen as jy nie 'n kaartjie het nie! Klik hier  en droom Groot! Die Powerball Lotto is tans $150 miljoen, dis 'n stewige R1,050,000,000!!!

En onthou tog om my besoekersboek te teken? Hy was vir 'n hele tydjie aflyn maar is nou weer terug.

Minette

Na 'n lang afwesigheid is minette trug, ek gan elke keer een van haar stories plaas, hulle is geskryf toe sy nog verbonde was an 'n koerant in Namibië;

Daggatee en liefde

“DRINK jy daggatee?”
Ek stik aan my koffie en kyk die seunskind van my stip aan.
“EKSKUUS??!! Waar kom jy daaraan?” wil ek verstom weet.
Meneertjie kyk nie eens op van die graad twee huiswerkboek nie. “By die skool,” sê hy nonchalant. En kleur verder in, sonder enige benul van die emosies wat sy ma se binnegoed soos ʼn tuimeldroër laat rondtol.
Die gedagtes spin, want hoe benader ek nou dié te vroeg kwessie. Ek het darem gedink ons sal eers skuins voor tienerstadium die dwelmpraatjie hoef te hê.
Maar voor ek die hele bedryf kan aanpak, kyk hy met ʼn diep frons op.
“Wat is dagga, Ma?” En ek sug ongemerk, verlig tot in my tone.
Ek verduidelik toe dis plante wat mense rook.
“Hahahahaaaa,” skree Broer en Suster gelyk. “Hoekom, is hulle stupid? Mense wat plante rook..hahaha.”
Dis nie die plek of tyd om toe te sê dat daai plante mense vreeslik anderste laat voel nie, want dit sou hulle net verder verwar. Hamer maar toe op die POLISIE en DIE TRONK waarnatoe jy gepos word as jy so stupid wil wees om plante te rook. En daar daal weer ʼn kalmte oor die huiswerktafel neer.
“Ugh,” kreun die jongste terwyl die potlood omtrent buig soos daai plomp vingertjies hom vasklem.
“Hoe spel mens Christopher,” wil sy weet.
Ek dog sy’s besig om te oefen aan alle woorde wat met ‘g’ begin. Vanwaar dié naam? Is die onnie waansinnig? Graad Eens wat met sulke…
“Di-ii-is haar boyfriend,” koggel die Broer.
Ek dog my hart gaan staan. Werklik. Ek het nie krag om nou al met sulke nonsens te probeer byhou nie. ʼn Boyfriend, in graad een. Ek gaan dit verloor. Ons gaan trek. Geen kontak meer met enige van die suf samelewing nie.
“Is nie waar nie, hy’s my vriend. Ek skryf net vir hom ʼn brief,” verdedig sy.
En toe vertel sy van die Christopher en hoekom hy haar vriend is.
Die meisiekind van my maak nie maklik vriende nie. Inteendeel, glad nie. Ek verstaan nie regtig hoekom nie, want sy is die happy een, die een wat soos ʼn hondjie by oop motorvensters met toegeknypte oë sing saam met die wiele rol. “Visvang vir Jesusss, visvang vir Jesusss’ of ‘Jesus lafs mie dis aai nou” al die pad, sonder ophou.
Haar eerste maande by die preprimer was nie lekker nie. Alleen onder ʼn boom gesit en net gekyk wat al die ander jillende malende kindermassas doen.
Maande lank. En toe kom sit Christopher eendag langs haar. Net sommer gesit en niks gesê nie. Saam vir die ander gekyk. Niks gesê nie.
Dit was verlede jaar. ʼn Liefde wat so lank hou verdien op die stadium ʼn brief, dink sy.
En met trane wat baie vlak in my keel sit, wys ek vir haar om sy naam te skryf. ʼn Uur se werk en die eerste liefdesbrief in my dogtertjie se lewe is klaar.
“Liewe Christopher, ek is baie lief vir jou.”
Dis so mooi, het ek geprys en gevoel hoe my hele wese swel van trots.
“Sal jy sy ma bel, vra sy na ʼn rukkie.
Want sien, Christopher is nog in die preprimêr en kan nog nie lees nie, dan moet ek sommer vir sy ma dit lees. En dan hou sy dit tot hy volgende jaar ook graad een toe gaan.
Wie’t nou daggatee nodig?

Waterbok Oord - Vaalwater

Ek kry die volgende epos van Naomi Gross af:

Goeiedag

Dit is met ywerigheid en n knop in my keel wat ek hierdie briefie skryf.

Ek het pas op jul nuusbrief no 114 afgekom toe ek gesoek het na die geskiedenis van ons kerk.

Laat ek verduidelik: My Man en sy vennoot het omtrent 7 jaar gelede op n pragtige plekkie in Vaalwater afgekom en het dadelik van die omgewing en sommer alles gehou. My man is baie lief vir water en damme en het die dun stroompie water gesien en gesê hier moet ek n dam bou.

Hul het eers in n vennootskap met die eienaars gegaan en het toe later die plek heeltemal gekoop en daar begin werk.

Die eerste NG Kerk in Vaalwater is daar op Nooitgedacht gebou in 1932 en is toe later volgens jou nuusbrief 1962 na die dorp verskuif,

Toe ons die kerk vir die eerste keer gesien het was dit vervalle en daar is met hoenders en varke in die kerk geboer, (wat n skreinende skande)

Al wat staande gebly het was die ou oorspronklike preekstoel met die woorde (nog op fluweel geskryf/borduur) GOD IS LIEFDE

Ons het toe dadelik aan die kerk begin werk en selfs die ou beton vloer van vervloe dae het staande gebly daar was wel n paar plekke wat gate in gehad het maar dit is vinnig weer herstel. Enkele vensters het ons n aanduiding gegee van hoe dit moes lyk en alles is reg gemaak.

Ons het in Mei 2005 die 75ste bestaans-jaar van die kerk gevier.

2 Weke voor die vieringe het ons vennoot n droom gehad van n man wat met hom kom praat het oor die kerk. In sy droom het die man vir hom gese dat ons alles aan die kerk mag vervang maar dat daar een voorwaarde is, en dit is dat daar glad nie aan die ou sinkdak van die kerk geraak mag word nie. 'n Lagie verf is al wat toegelaat sal word.

Die droom is vertel en die kerk se dak het so gebly. Met die groot byeenkoms het n paar van die dominees wat daar as leeraars was ook opgedaag.

Toe die foto’s van al die dominees uitgehaal is het ons vennoot bleek geword en gese dat die man van sy droom een van hulle was.

2 Jaar het verbygegaan en daar is nie veel op die plaas gewerskaf nie.

Mei 2007 het ons naarstiglik weer aan alles begin werk. Die ou Pastorie is herstel en mooi gemaak in 6 selfsorg eenhede.

Toe is die 2 rondawels wat deur die vorige eienaars gebou is klaar gemaak en n derde een is by gebou. Ons het meer slaapplek vir ons vriende en mense nodig gehad en die gedagte om dit in n oord te omskep het vlerke gekry.

Sy Naam: Waterbok Oord.

8 Selfsorgeenhede is aangebou en later is daar ook selfsorg tente opgerig.

Die Tente is kyk uit op die dam wat my man toe later daar gebou het.

Ons het gereeld met byeenkomste sommer vroeg-vroeg op n Sondag almal kerk toe geneem vir n stukkie padkos.

Om en by 5 maande gelede het een van ons vriende by ons kom kuier, en het gesien dat ons net gewone stoele in die kerk het en het dadelik ons meegedeel dat daar n kerk in Hillbrow is wat hul besig is om af te breek en dat hy al die ou banke gekry het en as ons sou belangstel kan ons dit by hom oorkoop. Net daar en dan het ons ordentlike kerkbanke gekry.

Ons soek bitter graag na meer geskiedkundige inligting oor ons plek.
Alle gemeentes wat wil kom dienste hou in die kerk is welkom.
Ons kan geskakel word by 0837782368
Ons webwerf : http://www.waterbokoord.co.za
Bosveld Groete
Naomi Gross

Super 14

Dankie vir Loot Eksteen vir die volgende interessante inligting oor die Super 14 rugby.

Regs klik op die skakels om die dokumente af te laai:

Super 14 - 2010

Super 14 - Franchises

My nuwe resepte eBoek CD - 60 boeke op een CD

Ek het besluit om al die Afrikaanse resepte eBoeke wat ek het op en CD te sit, dis omtrent al die resepte wat mens ooit sal nodig hê. Nou hoef jy nooit weer 'n resepteboek te koop nie en teen minder as R1.70 per boek is dit baie billik.

Hier is die lys van boeke:

101 Kraakvars slaaie, 101 Onweerstaanbare poedings, 110 Spyskaarte vir die werkende vrou
5 Beste van alle geregte, 217 Egte Afrikaanse resepte, Aartappels, Beskuitresepte, Afrikaanse Resepteverskeidenheid, Brood resepte, Vul die beskuitblik, 'n Broodjie vir die blik, Blokkieskoek, Burgers Patties Frikadelle, Brood resepte, Drankies, Drinkgoed, Gemmerbier, Groente, Eet jou groente, Hoender resepte, Happies en Poffers, Kaaskoek, Ietsie anders resepte, Kerskoeke, Karavaan resepte, Kleinkoekies, Kinderlekkerte, Koekiedrukker resepte, Koeke, Likeur, Lekkergoed resepte, Nog resepte, McCain resepte, Moedersdag resepte, Mikrogolf resepte, Peterjasie se boek, Pastageregte, Peterjasie se Kersresepte versameling, Peterjasie se eBoek van vernoemde resepte, Poeding, Peterjasie se Tradisionele SA resepte
Resepte met biltong, Resepteverskeidenheid - ook grootmaat, Slaaie, Sommer net resepte, Sop in die pot, Sop resepte, Terte, Sous, Verskeie resepte 1, Souttert & Pannekoek, Vis en hoender, Veelsydige hoender, Vleisgeregte vir Kersdag, Verskeie resepte 2, Warm en koue drankies, Vleisresepte, Wille samies, Wafels en Pannekoeke, Wors en worsies

Allerlei

Annette se Boererate, Boererate en Verbruikerswenke, Hartstigting dieet, Lennons medikasie, Mate en gewigte, Sop dieet, S A Boererate eBoek, Metrieke omskakelingstabel, Werk van die huis

Die CD kos R100, geregistreerde posgeld ingesluit (dis om en by R1.60 per boek). Met Fastmail koerier, volgende dag aflewering, kos dit R130.

As jy die Fastmail metode verkies kan ek vir jou onmiddelik 'n spoornommer (tracking number) gee, dit sal jou gemoedsrus gee aangesien jy 'n oorbetaling moet maak aan iemand wat jy nie ken nie.

Klik hier om my bankbesonderhede te kry, onthou om ook jou posadres te verskaf

Lekker lugkastele bou

 Klik net hier , registreer en koop 'n kaartjie. Dis doodveilig, en sodra die transaksie afgehandel is, kan jy begin droom, lekker groot droom. En as jy vir die eerste keer registreer kry jy nog 'n gratis kaartjie ook! Waarvoor wag jy? Sien verder ondertoe vir besonderhede van die gratis kaartjie.

Skermbeeld

Regs klik hier om 'n foto aft te laai wat jy as skermbeeld kan gebruik, ek het die foto geneem toe ons laaskeer in Mosambiek was.

Boeremusiek

Alles wat jy wil weet oor Boeremusiek.

Hierdie is die webblad van Kalie de Jager en is spesifiek daarop toegespits om die Versameling...Bewaring...en Uitbouing...van Boeremusiek aan te spreek.

Klik hier om sy webblad te besoek.

Boeremusiek Baanbrekers - Uit "15 Goue Jare - 1989-2004 Boeremusiekgilde"

Barney van Dyk

 
Ben is vandag 'n meester met die Vierry konsertina danksy Rassie Erasmus. Rassie het sy 3¾-ry wegeneem en aanbeveel dat hy 'n Vierry koop. So gesê so gedaan en siedaar, of liewer, hoor daar! Behalwe dat Ben die Vierry so goed speel komponeer hy ook pragtige en gewilde nommers.
 

Ben van der Linde by Rooihuiskraal in 2003

 

Facebook

Ekke is ook op Facebook, as jy dalk 'n Facebook profiel het en by myne wil aansluit, klik net hier. Hoe meer siele hoe meer vreugde. My Facebook eposadres is peter@funkymunky.co.za

Brokkies van Mirna

Mirna is ‘n opvoedkundige sielkundige in Stellenbosch. Sy het onderwys gegee by verskeie skole, o.a. Hoërskool Stellenbosch, Hoër Meisieskool Bloemhof en Jan Krielskool vir leerders met hindernisse tot leer. Sy is ‘n ma, lief vir die kunste, die see en kinders. Jy is welkom om kommentaar en vrae te stuur na mirnafvanwyk@gmail.com

Ses sekondes

Ek het onlangs ‘n brief ontvang van ‘n ma wat weeklaag dat baie van die riglyne wat ek in my oordenkings aanbied baie maklik klink, maar een van twee dinge gebeur wanneer sy dit wil toepas: sy raak ‘n blaffende bits teenoor haar dogtertjie of sy kry haar voorneme ‘n paar keer reg, klop haarself op die skouer en dan verval die gesin weer stadig terug in die ou, onwelkome patrone van gedrag. Sy is ‘n meester in haar werk en kan ‘n kantoor vol werknemers bestuur, maar vind dit onmoontlik om ‘n haar kinders en gesin te bestuur.
Sy het die beste van voornemenes maar wanneer sy gekonfronteer word met konflik, strategie of beplannig ten opsigte van haar kinders, verloor sy rigting en haar humeur. Sy vra hoe sy meer doelgerig en “self-bewus” van haar intensies kan lewe, sodat sy ‘n beter ma kan word.
Die antwoord is om op te hou REAGEER in ‘n situasie en sodoende liewer te kan OPTREE. Want dit is juis wanneer ons blindelings reageer teenoor prikkels dat ons oorreageer en impulsief raak. Ons sê dan dinge wat meer skade aanrig as probleme oplos en dis dan wanneer mens na die tyd spyt is oor jou woorde of dade, of selfs die gebrek daaraan.
Vir almal wat hulle vasloop in hierdie soort situasie wil ek graag vandag die ”Ses Sekonde Riglyn” aanbied.
Skryf eerstens elke voorneme in ‘n enkele sin neer en motiveer hoekom dit belangrik is vir jou of jou gesin. En begin dan leef volgens die Ses Sekonde Riglyn.
Al wat dit vra is dat jy in enige situasie vir net ses sekondes die gevolge van jou woorde, gedagtes of dade sal oordink: of dit nou is om nie die sigarette te koop nadat jy besluit het om minder te rook nie, om getrou te bly aan jou voorneme om jou kind te leer om nie tantrums te gooi deur self kalm te bly wanneer jou sy ‘n vloermoer vertoning gee nie, om liewers die bitsige opmerking in te sluk omdat jy verstaan dat die verhouding belangriker is as die slim, snedige sin wat jy iemand in die hart mee wil steek. Slegs ses sekondes. Ses sekondes om liewer die gesonder weergawe te bestel op die spyskaart, om te besef dat jy lê en sleg raak voor die televisie, om jouself te vra hoe belangrik is dit om nou kwaad te raak of om kalm te bly en sodoende jou gesin en jou gesondheid te beskerm.
Mens moet dit oefen en dit raak wel makliker. Gou-gou kan jy doelwitte en suksesvolle voorneme afmerk. Jy het beheer oor jou toekoms gekry omdat jy nou beheer het oor jou reaksies op die wilde winde wat jou wil wegwaai van jou voornemens. Jy lewe doelgerig en self-bewus; jy sien die klein suksesse raak en is dankbaar vir die geringste seëning. Gelukkiger en rustiger as vantevore.

Seënwense van hart tot hart op jou voornemens.

Rowwe rate

Hier is paar "anderste" Boererate met tong-in-die-kies kommentaar van my kant af:

GAL…Laat die dop van ‘n volstruiseier bak en maal dit dan baie fyn. Gooi die fyn poeier dan in 1 bottel asyn en skud goed. Laat dit oornag goed trek. Drink voor elke ete 1 wynkelkievol. (Het iemand in Oudtshorrn vir my 'n volstruieierdop?)

GAL…Neem ‘n veldmuis…die gestreepte soort en braai mooi bruin…en eet. (Ek wonder of rotte sal werk, ons het een op die plafon)

GALSTENE…Gooi 3 pakkies engelse sout in 1 pint water en laat oplos. Drink 2 rabarberpille net voor jy gaan slaap en drink dan helfte van die engelse sout water. In die oggend op jou nugtermaag drink jy die ander helfte van die engelse sout water. Nadat dit goed gewerk het…drink jy 1 kein botteltjie olyfolie alles uit. Dit genees die wonde waar die galstene uitkom. Herhaal dosis net vir geval daar nog ‘n galsteen oorbly. (Engelse sout drink voor jy gaan slaap? Dit kan gevaarlik wees!)

GEELKOORS...Smeer ‘n stukkie vars brood dik met vet. Neem nou 7 kopluise en sit op die brood en laat die sieke dit eet. Die kieme eet glo die luise en dan vrek die kieme.

GEELSUG…1 eetlepel asyn en 30 druppels haarlemmerolie, drink soggens op nugtermaag. Skaapmelk help ook of sluk sewe luise

GEELSUG…7 luise op sny brood sal geelsug laat weggaan (Ek dink ek gaan met luise boer, kan winsgewend wees!)

GEELSUG…Dis ‘n baie ou raad hierdie…maar of dit werk …kan ek nie se nie. Plaas net 7 garskorrels in die baba se doeke. Dit moet 7 wees…nie minder of meer nie. Sodra baba die doekie natgemaak het en die korrels is almal nat…gee die garskorrels vir ‘n hoender om op te pik. Namate die garskorrels in die hoender se krop verteer word sal die geelsug geleidelik weggaan. (Hierdie is bietjie dik vir 'n daalder!)

Gedig

Die Egbreker

Laat rus jou slapende hoof, my lief,
Teen my ontroue hart.
Van al my sondes weet jy niks,
Ook niks van al my smart.

In my alledaagse omgang
Met ‘n sedelose vrou.
Was ek vêr van God verwyder,
En was ek aan jou ontrou

Van die soetheid van haar spyse
Het sy ook vir my gegee.
In my sinnelose wellus
Het ek in haar web getreë.

As ek toe maar net wou luister
Sou ek nie nog verder val.
Sou ek wees gevul met vreugde
En my beker nie vol gal.

God ek bid U, wees genadig
Dat sy nooit my sonde ken.
Dat ek nou met nuwe liefde
Weer haar hart terug kan wen.

Robert Boshoff  (stuur kommentaar direk aan Robert)

Peter Thomas Fotografie

Gaan kyk na my nuwe fotografie webwerf

Die Peterjasie webwerf

Hierdie brief is maar net 'n klein deel van die Peterjasie internet ondervinding. Klik gerus hier en gaan besoek my webwerf, daar is regtig iets van alles, en alles in Afrikaans. 

Pasella

Maak die beste hamburgers en frikadelle ooi! Regs klik hier om die resepte eBoek af te laai

Die Danville Hulpgroep

Gaan kyk gerus na die webwerf hieronder om te sien watse wonderlike werk hierdie groep doen.
Webwerf: www.danvillehulp.co.za
Hier is die nuutste nuusbrief:

Nuusbrief - 22 Februarie 2010
Goeiemôre vriende,

Na ‘n gewoel en werskaf om alles net weer skoon en georganiseerd te kry na die Kersfees “doller as kop af” tyd, is ons nou weer volstoom aan die gang.
Ek wil net weereens “So Baie, Baie dankie sê aan elke persoon wat gehelp het om die Kersfees van 2009 vir ± 1500 mense (van ons groepe) onvergeetlik te maak. Duisende dankies vir elke donasie, hulp en gebed – dit word opreg waardeer. Ek is so jammer dat almal wat gehelp en bygedra het – nie elke funksie kon bywoon om die vreugde en geluk te ervaar nie – Baie dankie.
Dankie aan die dames wat van die kersboomfunksies in totaal hanteer het – julle is ongelooflike mense – baie dankie
Ek sal met ‘n aparte nuusbrief terugvoer gee oor elke funksie en die gebeure.
Ek glo en vertrou dat al ons ondersteuners ‘n geseënde Christusfees gehad het en ek bid dat almal ‘n baie voorspoedige, geseënde 2010 sal ervaar.
Nou is dit weer besigheid soos “normal”

KINDERS

Ons het elke jaar die “Terug skool toe” projek. Ek het heelwat skoolbenodighede gehad wat ons so deur die jaar bymekaar gemaak het. Ons was so bevoorreg om min of meer in almal se behoeftes te kon voorsien – is dit nie ‘n blessing nie?
Ek weet dat almal in die eerste 2 maande van die jaar self baie uitgawes met al die skoolverpligtinge het en het daarom glad nie gevra vir donasies nie.
Ongelukkig het ons nou die situasie in Danville waar daar ± 22 kinders is, wie se ouers nie die skoolfonds/registrasie gelde kon betaal nie. Wat bitter sleg is, is die feit dat hierdie kinders nou nie handboeke kry nie!!!! Hulle raak nou agter met hul skoolwerk!
By Elandspoort hoërskool waar ons 18 kinders het kos dit R500-00 per leerling. En by die 2 laerskole is dit R250-00 (4) per kind.
Ek sal so dankbaar wees as van ons ondersteuners kan help om hierdie kinders aan die gang te kry. Hulle opvoeding en onderrig is so belangrik! Ek het die kinders se name by my, en indien u direk by die skool wil inbetaal vir ‘n spesifieke kind of twee – kontak my asb en ek gee al die inligting deur. Anders kan dit in die projek se rekening betaal word en sal ek die oorbetalings doen.

ALGEMEEN

By al die projekte gaan dit nou maar broekskeur – die normale vir hierdie tyd van die jaar. Die nood word groter en die donasies minder- wat te verstane is in hierdie moeilike ekonomiese tye.
Ons benodig nogsteeds goeie, gebruikte klere en huishoudelike items asb. Kruideniersware is nou ‘n groot krisis.
Ek behartig die projek alleen en dit is moeilik om oral rond te ry vir op en aflaai van goedere.
Die volgende persone het hulle huise beskikbaar gestel vir die aflaai van artikels wat hulle dan weer na my toe sal bring.

AFLAAIPUNTE

Elsabe Blignaut – 286 Cliffendale rylaan Faerie Glen – Sel: 082 8282 551
Annelien Alberts - Boekenhoutstr 232 Wierda Park - na ure
Sally Koekemoer – Denyssenlaan 377 Mountain View –Tel:082 6658 518
Ronel Pienaar – Kuruman laan 302 Sinoville - Tel: 084 965 4574
Danie en Annatjie – Tooks corner 1 Pierre v Reyneveld Sel: 082 445 6453

Ek wil vra dat almal hierdie mense asb sal konsidireer en eers skakel voordat aflewerings gedoen word.

Baie belangrik – Sorteer asb die goed en laai slegs ordentlike, goeie/heel bruikbare items af. In die verlede was daar mense wat werklik hulle motorhuise skoonmaak, al die gemors saam met slegs enkele bruikbare items laai en met groot gebaar van welwillendheid alles in my garage kom “dump” met die woorde “ek wou dit gaan dump – maar julle kan maar kyk wat julle daaruit kan gebruik en die res weggooi!!” en so het my oorlede man weekliks met vragte en vragte gemors na die stortterein gery. Help my en die ander vrywilligers asb om vol te hou met hierdie werk wat ons vir die liefde van die saak doen.
Ek vra nie nuwe goed nie – net ordentlike bruikbare artikels asb.
Baie dankie weereens aan almal wat met groot liefde help om die nood van die wat minder as ons het te verlig.
Tot volgende keer.
Mooi loop
Elsabe


Elsabé BlignautHuis: 012 991 3914
Sel: 082 828 2551
Epos: Elecnet@mweb.co.za

Zalome - Afrikaans op die net

Zalome, wat nou in Amerika woon, bevorder ook Afrikaans op die net, klik hier om vir haar 'n epos te stuur, vra dan sommer ook besonderhede oor haar briewe wat sy uitstuur. Kom ons ondersteun haar ook! Dit kan net goed wees vir Afrikaans. Hoe meer mense 'n passie het vir Afrikaans en dit op die internet wil bevorder hoe beter vir ons mooi taal.

Feeste

Ek het vir 'n lang tyd 'n Feesbladsy op my webwerf gehad, maar die mense het my nie die nuutste inligting gestuur nie, nou gee ek maar 'n skakel na Litnet se feesbladsy. Klik net hier

Glimlag

Eendag merk die dominee ' n klein seuntjie in die voorportaal van die kerk op wat aandagtig na ' n groot gedenkplaat teen die muur staan en kyk. Dit was oortrek met name en daar was klein landsvlaggies weerskante.
Toe loop die dominee nader, kom staan langs die seuntjie, en sê saggies: "Goeiemore my seun."
"Môre, Dominee," sê hy, met sy oë nog vasgenael op die plaat.
"Dominee, wat is dit hierdie?" vra hy.
Die dominee antwoord: "Wel, my seun, dit is 'n gedenkplaat vir al die jongmanne wat in die diens gesterf het."
In doodse stilte en met groot eerbied staan die twee voor die plaat en staar na die name.
Uiteindelik, in 'n skaars hoorbare stemmetjie en bewend van vrees vra die seuntjie: "Watter diens, Dominee? Die oggend- of die aanddiens?"

Nuusbrief argiewe

As jy dalk nog baie resepte wil hê, gaan kyk in die argiewe, elke nuusbrief bevat resepte en meeste van hulle het ook nog gratis aflaaibare resepte eBoeke.

 

 

 

Lees

Eet

Kyk

Lag

Ry

Speel

 

 

 
st se pitkos 

st se  pitkos

Klik hier om st se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief

“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.

Welkom by hierdie week se nuusbrief.

Leef in die teenswoordige tyd

Hoe snaaks, of hoe onmoontlik dit ook mag klink, baie mense leef nie regtig in die teenswoordige tyd nie. Ja, hulle is wel aanwesig in die teenswoordige, maar hulle gedagtes en motivering dwaal rond in die verlede of hunker na die toekomstige.

Byvoorbeeld, 'n man voel verontreg oor wat in die verlede met hom gebeur het. Hy is verontreg deur sy vrou wat hom verkul het. Elke dag konfronteer hy haar oor wat gebeur het. Elke dag peper hy haar met vrae. Oor en oor moet sy verduidelik, vergifnis vra. Hy is die verontregte, sy is die skuldige. En so karring hy aan, weke en maande sonder ophou. Elke dingetjie wil hy in detail weet, is nooit tevrede met haar antwoorde nie. Hierdie man slaag nie om weg te breek uit die verlede nie. Hy kan nie vergewe en vrede maak nie. So versuur hy die teenswoordige, maak hy homself en almal rondom hom misrabel. In stede daar om vandag voluit te leef, haak hy vas by dinge wat verby en oor is.

Nog 'n voorbeeld. 'n Vrou beland in 'n motorongeluk en is verlam. Sy is depressief oor haar situasie. Wanneer mense kom kuier sal sy foto's wys waar sy hardloop, foto's waar sy laggend staan in haar baaikostuum by die see. Sal sy vertel van haar prestasies op die sportveld. Hoe moeilik dit ookal is om te aanvaar, die vrou op die foto's is nie meer sy nie, dit is hoe sy was. Vandag, is sy iemand wat verlam is. Om in die teenswoordige tyd te leef, sal sy moet fokus op die hier en die nou. Nie te bly kleef aan dinge wat verby is nie, maar te konsentreer op die uitdagings van elke dag, op doelwitte wat nou saak maak. Ja, dit is pynlik om te weet sy kan nie meer rondhardloop nie, dat sy die gebruik van haar bene verloor het, en te aanvaar sy is nou in 'n rolstoel. Sy kan egter die keuse maak, vasgeketting aan die verlede, of haar losmaak en fokus op die teenswoordige tyd.

Let wel, ek sê nie jy moet maak of die verlede nie bestaan nie. Wat ek wel sê is dat jy nie jou teenswoordige op die altaar kan sit ter wille van die verlede nie. Of om dit op 'n ander manier te stel, moenie soos Lot se vrou bly omkyk nie, maar leef in die huidige oomblik.

Daar is ook mense wat leef net vir die toekoms. Hulle bou lugkastele, verf die kamers van die kasteel uit, lê die tuine uit, en vertel wat hulle alles gaan doen. Eendag, eendag, eendag. Jy weet nie wat die toekoms inhou nie. Jy weet nie eers of jy môre nog gaan leef nie. Fokus op vandag, leef vandag, geniet vandag. Doen wat jy moet doen, vandag. George Patton het gesê: "Voer eerder vandag 'n goeie plan met oorgawe uit as om tot môre te wag om die perfekte plan uit te voer."

Let wel, ek sê nie jy moenie drome en doelwitte vir die toekoms hê nie. Wat ek wel sê is dat die stene vir die kastele van môre, vandag gemaak en gelê moet word. Werk vandag, doen vandag, leef vandag. Iemand het by geleentheid gesê: "Ons lewe in die teenswoordige tyd. Gister is verby; môre moet nog kom. Vandag is die wonder."

Enkele voordele om in die teenswoordige te leef:

· Jy kasty jouself nie oor verkeerde keuses in die verlede nie.
· Slegte herinneringe het nie 'n effek op jou nie.
· Jy geniet jou lewe meer en leef meer voluit.
· Jy is beter in beheer van jou lewe en tyd.
· Jou siening van die lewe is beter en meer objektief.
· Jy kan beter besluite maak.
· Jy mors nie energie op bekommernisse nie, maar is meer produktief.
· Jy leer dat tyd kosbaar is.
· Jou gedagtes dwaal nie, want jy is gefokus op die oomblik.

Ek is seker jy kan aan nog 'n paar voordele dink.

Philip M Raskin het gesê: "Die man wat vandag mors om oor gister te kla, sal môre mors om oor vandag te kla."

As ek kan afsluit met nog 'n aanhaling, naamlik van Sanskrit: "Elke vandag, voluit geleef, maak van gister 'n droom van geluk en elke môre 'n visioen van hoop. Let dus op hierdie dag, want dit alleen is lewe."

'n Sprankie wysheid vir die dag

"Wat jy vandag doen, is die enigste aanduiding van wie en wat jy is." - Wayne Dyer -

Jy kan inteken op hierdie nuusbrief sodat jy op die adreslys kom. Dis gratis en verniet. Gaan na www.pitkos.co.za - 'n intekenvorm is op my webwerf beskikbaar of stuur jou naam en eposadres vir my.

Dr ST Potgieter
Sielkundige

Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos: st@pitkos.co.za 
 

 
Resepte

Gemmerbier en ander drankies

Gemmerbier
10 liter water
1,5 kg (7 ½ x 250 ml) witsuiker
1 koekie (25g) saamgeperste gis
50 ml rosyntjies met pitte
1 bottel (750 ml) lemoen- of suurlemoenkwas
750 ml sodawater
50 ml gemaalde gemmer

• Gooi die water in die houer waarin die bier aangemaak moet word.
• Roer die suiker daarin totdat dit opgelos is. Verkrummel die suurdeeg
daarin.
• Voeg die rosyntjies, lemoenkwas, sodawater en gemmer by en roer tot
gemengm
• Laat die mengsel 24 uur lank by kamertemperatuur staan. Roer dit af en
toe om.
• Syg die mengsel na 24 uur deur en gooi dit in houers. Spoel die
rosyntjies af en gooi 'n paar in elke houer, indien verkies. Laat die bier
12 uur lank by kamertemperatuur staan en plaas dit dan in die koelkas.
• Lewer 13 liter gemmerbier.

Gemmerbier 1
Kneus 60g gemmer en
kook in 10 liter water.
Giet in 'n vaatjie en
voeg 1 kg suiker,
30g kremetart en
2 dungesnyde suurlemoene by.
Wanneer die mengsel afgekoel het tot lou,
voeg 30g suurdeeg by en laat 12 uur staan.
Syg deur, gooi in erdekanne of bottels en kurk toe. Na 36 uur sal dit gereed
wees vir gebruik.

Gemmerbier 2
4 x 500 ml ( 2kg?) suiker
20 x 250 ml ( 5 liter) kookwater
5 ml droë gis
50 ml rosyntjies, gekneus
10 ml Jamaica gemmer
12,5 g kremetart ('n halwe pakkie)

• Los die suiker in die kookwater op en laat afkoel tot dit lou is.
• Week die surrdeeg in 'n bietjie water (lou) en voeg saam met res van
bestanddele by.
• Laat 6 ure staan. Syg deur en bottel - kurk toe.
• Na 12 uur is die bier gereed vir gebruik. Verkoel voor opdiening.

Gemmerbier
Maak 4½ liter
1 koekie suurdeeg
4 stukke droë gemmer, gekneus
1 teel suiker
3 koppies water
½ kop sterk lou water
Krummel die koekie suurdeeg saam met die suiker en meng tot dit loperig
word.
Voeg die lou water by en laat staan vir ± 10 minute tot dit skuimerig is.
Kook die gekneusde gemmer en water vir 5 minute.
Gooi die volgende in ‘n 6 liter houer:
3 kop suiker
2 kop kookwater
1 suurlemoen, skil en al in skyfies gesny
12 Hanepoot rosyne
13 kop koue water (= 3 liter + 250 ml)
Roer tot suiker opgelos is
Voeg die gemmerstukke en water by.
Voeg die suurdeegmengsel by.
Roer tot gemeng.
Laat staan vir 12 uur of oornag met ‘n doek oor.
Syg deur.
Gooi in 2 liter bottels en sit in die yskas.

GEMMERBIER
1 Pakkie Anchor Aktiewe Droë Suurdeeg
6 Liter Louwarm water
4 k Suiker
1t Kremetart
1t Wynsteensuur
3t Fyn gemmer
1 Bottel Jamaika gemmer (opsioneel)

Los suiker in water op
Meng ander bestandele met 'n klein bietjie water en voeg by suiker water
Voeg Jamaika gemmer by. Syfer deur dun doek.
Gooi in bottles, gooi ook 3 rosyne in elke bottle en en sit prop
op.(MOENIE bottles te vol gooi nie)
Laat staan 24 tot 48 uur buite yskas maak kontroleer die gisting.
Plaas nou in yskas om koud te word.
LET WEL: Al is die gemmerbier in yskas kontroleer steeds die gisting!

GEMMERBIER

1k Bruinsuiker
2k Witsuiker
4,5 liter Lou warm water
20-30ml Gemmer
10ml Kremetart
10ml Wynsteensuur
5ml Droë gis
1eetlepel Rosyne

Meng alles saam.
Laat staan vir 24uur.
Bottel.
Drink na 12 - 24uur.

GEMMERBIER en ander biere
20ml gemaalde gemmer
10 liter lou water
1.6kg wit suiker
150g rosyne
10g aktiewe droëgis
0ml kremetart
10ml wynsteensuur

Voeg die gemmer by die water en suiker en roer tot die suiker opgelos is. Voeg
die res van die bestanddele by. Giet die mengsel in 'n plastiekemmer met 'n
deksel en laat dit 24 uur lank gis. Syg die bier daarna deur en giet die filtraat
in gesteriliseerde bottels. Moenie die bottels te vol maak nie. Plaas 2-3 van die
rosyne in elke bottel en draai die proppe lossies vas. Laat die bier 'n dag of
twee by kamertemperatuur gis voordat dit in die koelkas bewaar word.

LEMOEN-EN-SUURLEMOEN-STROOP:
8 sappige lemoene
4 sappige suurlemoene
1.5liter kookwater
1.2kg wit suiker
15ml wynsteen of sitroensuur

Rasper net die oranje en geel buiteskil vandie lemoene en suurlemoene dun af.
Moet nie die albedo ook rasper nie aangesien dit die stroop bitter sal laat
smaak. Druk die sap van die lemoene en suurlemoene uit en voeg dit by die
gerasperde skil. Voeg die res van die bestanddele by en roer tot die suiker
opgelos is. Verhit die mengsel tot kookpunt en kook dit vir 5 minute lank. Laat
die stroop afkoel, syg dit deur en bottel en verseël dit.
OM TE SKINK:
Skink dit in lang glase, na smaak verdun met soda of yswater, met 'n paar
ysblokkies.

MAROELABIER:
1 liter ryp maroelas
10 liter lou water
1.6kg wit suiker
150g rosyne
10g aktiewe droëgis
10ml kremetart
10ml wynsteensuur

Sny 'n kruis in elke maroela. Kneus die vruggies liggies en voeg die water en
suiker by. Roer dit totdat al die suiker opgelos is. Voeg die res van die
bestanddele by. Giet mengsel in 'n plastiek emmer met 'n deksel en laat dit 24
uur lank gis. Syg die bier daarna deur en giet die filtraat in gesteriliseerde
bottels. Moenie die bottels te vol maak nie. Net soos met die gemmerbier,
plaas 2-3 rosyne in elke bottel en draai die doppe liggies vas. Laat die bier 'n
dag of twee by kamer temperatuur gis voordat dit in die koelkas bewaar word.

PYNAPPELBIER:
4 groot pynappels se skille
7 liter warm water
1.2kg wit suiker
12 rosyne
10g aktiewe of kitsdroë gis

Was pynappelstukke goed en plaas dit in 'n groot emmer met 'n deksel. Voeg
die water en die suiker by en roer die mengsel totdat al die suiker opgelos is.
Voeg die rosyne en gis by, sit die deksel op en laat die mengsel ongeveer 12
uur lank op 'n warm plek gis. Syg die mengsel deur en giet die filtraat in
plastiekkanne of bottels. Plaas van die rosyne in elke kan en verseël dit.
Bewaar die bier in die yskas.

BRANDEWYN-LEMOENLIKEUR:
3 groot lemoene
250 ml brandewyn
250 g suiker
2 ml fyn koljander
2 ml fyn kaneel
Rasper die lemoene se skille. Druk 250 ml lemoensap uit. Meng alle
bestanddele en laat staan vir 2 dae lank. Roer mengsel gereeld. Giet mengsel
deur doek en verwyder pulp. Giet vloeistof in gesteriliseerde fles en verseël.
Bedien teen kamertemperatuur of verkoel.

FLUWEEL LIKEUR:
1 blik kondensmelk
1 blik Ideal melk
10ml vanilla
5ml sterk koffie
200ml whiskey

Meng kondensmelk, Ideal melk en vanilla saam. Meng koffie met die whiskey
en voeg by die melk mengsel. Klits goed en bedien of bottel en bêre in yskas.

YSTEE:
3 rooibostee sakkies
1 liter kookwater
30-45ml heuning
60ml suurlemoensap
ysblokkies
suurlemoenskyfies

Laat trek teesakkies ongeveer 5 minute in water. Verwyder en laat tee effens
afkoel tot louwarm. Voeg heuning by en roer tot opgelos. Voeg suurlemoensap
by en verkoel tot yskoud. Sit voor op ys met ekstra suurlemoenskyfies.

LIMONADE:

500ml suiker
250ml water
250ml vars suurlemoensap
Meng die suiker en water in 'n kastrol en verhit dit stadig terwyl dit
aanhoudend geroer word totdat die suiker opgelos is. Verhit die stroop tot
kookpunt en laat dit 5 minute lank kook oor matige hitte sonder om te roer.
Laat die stroop afkoel en voeg die suurlemoensap by. Syg die limonade deur 'n
moeseliendoek en bêre dit in 'n houer met 'n deksel in die yskas. Bedien die
limonade deur 30ml van die suurlemoenstroop by 'n glas yswater te voeg.
Lewer ongeveer 600ml onverdunde stroop.


GEMMERBIER
Hierdie resep kom van baie geslagte terug ............
6 liter water
6 koppies suiker
1 eetl fyn gemmer
handvol rosyne
1 koekie yeast (nat blou blokkie)

Gooi alles in emmer, en roer goed. Laat staan vir 24 uur. Gooi deur kaasdoek
(om gemmer en rosyne op te vang. Bottel en laat yskoud word en geniet dit.
Moenie proppe op die bottels plaas nie!
Dis heerlik.

VINNIGE GEMMERBIER
1 Groot emmer met deksel wat lugdig sluit
7 x 750ml louwarm water (5¼ Liter)
4½ koppies suiker
10ml Jamaika Gemmer (Lennons se produk)
10ml kitsgis (korrelsuurdeeg)
28 rosyne

1. Meng 10ml suiker en die 10ml kitsgis in 125ml louwarm water. Laat staan vir 10 - 20 minute (todat dit begin gis).
2. Voeg die suiker by die louwarm water in die emmer en roer ongeveer 3 minute (totdat suiker gesmelt het).
3. Voeg die Jamaika Gemmer en die water-, suiker- en kitsgismengsel (nadat dit begin gis het) by die suikerwater en roer baie goed. Voeg die rosyne by en roer weer deur.
4. Plaas deksel op emmer en laat staan in die son om te gis. Persoonlik laat staan ek dit in die son van so ongeveer 10 uur in die oggend tot 2 uur in die middag. Dit is dan gereed, maar smaak verskil en dit kan langer in die son gelaat word om verder te gis. Onthou net om elke nou en dan die lug uit te laat, anders skiet die deksel af en jou gemmerbier is daarmee heen"
5. Gooi die bier in houers en plaas in yskas om verdere gisting te voorkom.
Nota: Dit is 'n heel eenvoudig resep en baie lekker. Ek moet egter erken toe ek die resep die eerste keer onder oë kry, was ek baie skepties. Hoe gebruik mens dan nou medisyne om gemmerbier mee te maak? Ek het dit egter
probeer, en die resultate was verstommend. Selfs mense wat nie graag gemmerbier drink nie, het gesê dit is lekker. Behalwe vir die suiker, is dit ook nie so duur om te maak nie. So, probeer dit gerus.

GEMMERBIER
7 liter water
7 koppies suiker
7 eetlepels gemmer
1 koekie suurdeeg (dit moet die outydse koekie suurdeeg wees wat mens
in warm water oplos, nie kitsgis nie)
1 tl kremetart
1 tl wynsteensuur (tartaric acid)
1 handvol rosyne

Los die suurdeeg in warm water op en meng alles goed saam totdat die suiker
opgelos is (ek het 'n spesiale emmer hiervoor). Laat staan oornag - die rosyne
sal bo dryf as die gisproses klaar is. Gooi deur 'n doek of fyn net, bottel en
plaas in yskas. Jy kan dit dadelik drink maar die smaak verbeter hoe langer
dit staan.

GEMMERBIER
12 k suiker (2½ kg)
1 pakkie kremetart (25 ml)
1 k gekneusde gemmer
½ pakkie tartaric acid (12,5 ml)
1 k gekneusde rosyne
20 naeltjies
1 k stroop
2 e suurdeeg

Gooi al die bestanddele buiten die suurdeeg, in 'n 4-gelling (? liter) kan.
Vul op met kookwater.
Sit suurdeeg volgende dag by.
Hou in warm plek.
Bottel wanneer rosyne almal bo is - ± 3 dae.

GEMMERBIER
3 x 750 ml kookwater
750 ml (3 k) suiker
3 x 750 ml koue water
15 ml Jamaica-gemmer
20 ml droë suurdeeg
handvol rosyne met pitte – gekneus

Los suiker in kookwater op.
Voeg koue water en gemmer by.
Laat afkoel tot louwarm.

VINNIGE GEMMERBIER
1 groot emmer met lugdigdeksel
7 x 750 ml ( 5.25 liter) louwarm water
4,5 k suiker
10 ml Jamaica-gemmer
10 ml kitsgis
28 rosyne

Meng 10 ml suiker en 10 ml kitsgis in 125 ml louwarm water – laat staan om te gis.
Voeg die suiker by die louwarm water in die emmer en roer ongeveer 3 min. tot suiker opgelos is.
Voeg die Jamaica-gemmer en die water- suiker- en kitsgismengsel by die suikerwater en roer baie goed.
Voeg die rosyne by en roer weer deur.
Plaas deksel op die emmer en laat staan in die son om te gis (10:00 tot14:00 of langer).
Laat gas elke nou en dan uit.
Gooi in houers en plaas in yskas om verdere gisting te voorkom.

Gemmerbier
Kneus 60g gemmer en kook in 10 liter water. Giet in 'n vaatjie en voeg 1 kg
suiker, 30g kremetart en 2 dungesnyde suurlemoene by. Wanneer die mengsel
afgekoel het tot lou, voeg 30g suurdeeg by en laat 12 uur staan. Syg deur,
gooi in erdekanne of bottels en kurk toe. Na 36 uur sal dit gereed wees vir
gebruik.

Gemmerbier
4 x 500 ml suiker
20 x 250 ml (5 liter) kookwater
5 ml droë gis
50 ml rosyntjies, gekneus
10 ml Jamaica gemmer
12,5 g kremetart ('n halwe pakkie)
Los die suiker in die kookwater op en laat afkoel tot dit lou is.
Week die surrdeeg in 'n bietjie water (lou) en voeg saam met res van
bestanddele by.
Laat 6 ure staan. Syg deur en bottel - kurk toe.
Na 12 uur is die bier gereed vir gebruik. Verkoel voor opdiening.
 

Skakels/Advertensies

Anna se Kombuis
Ek beskou Anna Eksteen as die koningin van Resepte eBoeke in Afrikaans. Sy het nou al 'n hele versameling van resepte eBoeke wat enige kossoort dek, en dit in Afrikaans! eResepteboeke is goedkoop en geen posgeld is betaalbaar nie, die boeke word per epos gestuur en is in 'n japtrap by jou.
Klik gerus hier en kyk na die lys van nuwe resepteboeke en bestel gerus een, of sommer 'n paar! Of bel sommer direk vir Anna - 0822946799

Kletskous
Ons nooi almal hartlik uit om te kom klets by www.kletskous.co.za Ons het veral 'n groot tekort aan aandkletsers. Almal wat Afrikaans kan praat is baie welkom ons sien graag nuwe gesiggies in die kamer. Groete Moggy

Kinderstories op CDEen van die hoofdoelstellings van my webwerf en nuusbrief is om Afrikaans te bevorder. Hier is nog 'n besonderse manier, kinderstories op CD.STORIEKLUB lede ontvang 2 nuwe storie cds elke maand! Versamel al 48 CDs oor 2 jaar, of kanselleer jou lidmaatskap wanneer jy wil (minimum lidmaatskap-periode van 3 maande). Laai die intekenvorm af en betaal met gerieflike maandelikse debietorders.As jy dalk sou belangstel, klik net hier.

Wapadrand BoeredansgroepVir navrae of inligting kontak Danette gerus by 0829236177 of stuur ’n epos na danna.smith@resbank.co.za

Gratis oorsese Lotto kaartjie
Elke eerste keer registreerder kwalifiseer vir 'n gratis kaartjie in een van die groot oorsese Lotto trekkings, as jy dus nog NIE voorheen geregstreer het nie, gaan as volg te werk:
Om te begin, gaan na:
http://ads.playukinternet.com/tracking/go/urlid/345/afftxtid/48/affid/343Nou moet jy eers registreer, klik Register/Registreer
Vul die vorm in.
Jy sal ‘n epos ontvang waarop jy moet bevestig.
Nou is jy geregistreer en kan begin speel.
Gaan weer na die skakel hierbo, klik op Sign in/ Teken in
Klik dan aan die regterkant op Account Balance/Rekening Saldo en jy sal sien in watter Lotto jy ‘n gratis kaartjie of “voucher” het. As daar nog niks wys nie, byt net vas, hulle laai elke voucher met die hand.
As jy dan een ry op daardie Lotto speel sal jy sien dat jy niks verskuldig is nie.
Jy sal die dag na die trekking ‘n epos ontvang met die nommers wat getrek was asook jou nommers.

Tuiswerk/Tuisinkomste Hier is iets wat werk, jy word nie oornag ryk nie, maar oor 'n tydjie sal dit vir jou ekstra inkomste inbring, al wat dit jou gaan kos is 'n geringe maandelikse fooi. Dis nie 'n foefie nie, ek het ingeteken en ek kry elke maand 'n krediet in my rekening, so dit kos my niks. Klik hier vir meer besonderhede

Kontak en Argiewe

Al my nuusbriewe is op hierdie bladsy beskikbaar: http://www.peterjasie.co.za/argiewe.html

Elke nuusbrief sal voor of op die 15de van die maand op die Argiewe bladsy te lees wees.

Kontak my hier.

Druk jou speld op my besoekerskaart! Ek dink hy is vol op die oomblik, maar hulle maak darem gereeld spasie vir nuwe inskrywings.