Nou en dan kry ek 'n bevlieging en ek skryf self ietes, hier is een van daardie bevliegings....  
 

 

 
 

Die blou plêstiek pêntie

 
 

Peter Thomas

 
     
 

Ek was onlangs per geleentheid twee keer in die hospitaal, een keer om ‘n gewas aan my bo arm uit te laat sny en die tweede keer vir ‘n angiogram. 

Met die eerste prosedure meld ek aan by ontvangs en hulle stuur my na ‘n saal toe waar ‘n bed toegeken word. Toe moes ek al lont ruik, hoekom ‘n bed vir so ‘n klein prosesedure?

In alle geval, die verpleegster trek die gordyn om die bed en wys na ‘n hopie op die bed. 

“Trek uit en trek aan “ Beveel sy taamlik streng. “Die jurk kom agterstevoor en maak agter vas.“ 

Ek bekyk die hopie op die bed. Daar is die jurk, en bo op is ‘n blou stukkie materiaal. Ek tel die stukkie blou materiaal op en vou dit oop en voel ek word koud. Dis dan ‘n pênty! Ek dra nie ‘n donnerse pênty nie, nog nooit gesien nie!

“Nurse” roep ek van agter die gordyn. Sy steek haar kop tusen die gordyne deur, sy is groot en swart, lyk soos die eerste van Zuma se agt vrouens, baie bedonnerd. Haar skof is amper klaar en sy wil huistoe gaan. 

“Ek is hier vir my arm, hoekom moet ek die ding aantrek?” 

“Dis prosedure, trek uit en trek aan!” en die kwaai gesig verdwyn. 

Moedeloos bekyk ek die affêre. Dis blou en dis plêstiek, om die bene en middel is rek. Ek soek na ‘n etiket om te bepaal waar is voor en waar is agter. Geen etiket nie, ek is nie verbaas nie, geen ontwerper sal waag om sy etiket op so iets te sit nie. Die ding is dus “all side, same side”. Ek rek die middel oop en dit rek vir ewig, dis dus “one size fits all” ook! Dit sal vir Hilda van 7de Laan asook vir Saartjie Baartman pas! 

Ek besluit om saam te speel en trek die ding aan. Vinnig volg die jurk sodat niemand kan sien wat ek onder aan het nie. 

Na die prosedure kan ek dadelik huistoe gaan. Ek raak so vinnig moontlik van die blou ding ontslae en hy beland in die snippermandjie. Dankie tog niemand het my gesien nie! 

Twee weke later is ek weer terug hierdie keer vir ‘n angiogram. Selfde prosedure: “Trek uit en trek aan” en daar lê die hopie op die bed. Die keer gaan hulle by my lies werk, so die pêntie maak meer sin. Ek wonder net hoekon dit plêstiek is, gaan hulle my so seer maak dat hulle bang is ek maak die bed nat? 

Ek trek jurk en pêntie aan en word teater toe gestoot. Hulle begin werk en kom agter dat die pêntie in die pad is. Geen probleem, ‘n skêr kom te voorskyn en ek ys. (Dis lokale verdowing en ek maak mee wat aangaan) Ek hoop net hulle werk baie versigtig met die skêr in daardie senstiewe area. Dis egter die pêntie wat dit ontgeld, deftig word hy weerskante van my heupe losgesny sodat die voorste en agterste gedeeltes los van mekaar is. Die voorste deel word nou saamgevat en met pleister teen my maag vasgeplak, ‘n soort van “reverse g-string” effek. So die ding is nogal veeldoelig ook! Ek hoop net alles wat moet toe, is toe.  

Terug in die saal raak ek van die nou versnipperde pêntie ontslae en trek my eie onderklere aan. 

Genoeg is nou maar eenmaal genoeg!