Bierbroodjie
Dadelbrood
Die allerlekkerste rosynebrood
Doodvreet lepelskons
Growwemeelbeskuit
Heerlike witbrood
Kaas-en-uiebrood
Karringmelkbeskuit
Mieliebrood
Neutebrood
Stywepap en krummelpap
Ryspap
Gesondheidsbeskuit
Mosbolletjiebrood
Kaiingbrood
Feespap
Asbrood
Knoffelring
Beesstertbroodjie
Souskluitjies
Aartappelsuurdeeg
Semel piesangbrood
Braaivleisbroodjie
Vetkoekies
Aartappelsuurdeegplantjie
Melksnysels Nuut
Botter laagkoek Nuut
Bruintjies Nuut
Deegskelmpies Nuut
Gemmerkoekies Nuut
Kaaskoek Nuut
Kaaskoekies Nuut
Kaasstrooitjies Nuut
Karringmelk sjokoladekoek Nuut
Klapperkoekies Nuut
Kondensmelk koekies Nuut
Konfyttertjies Nuut
Naweekkoekies Nuut
Dadelkluitjies Nuut
Skuinskoek Nuut
Yskaskoekies Nuut
Roosterkoek Nuut
Pannekoek Nuut
Kaneelbolletjies Nuut
Ystervarkies Nuut
Korslose kaastert Nuut
Krummelpap verrassing Nuut
Speserykoekies Nuut
Hertzoggies Nuut
Artappelkaaskoekies Nuut
Skurwe Abrahams Nuut
Beesstertbroodjie Nuut
Kaas-en-spekvleisbroodjie Nuut
Mieliebrood Nuut
Lepelbrood Nuut
Uie-en-Kaas-broodjie Nuut
Blikbroodjies Nuut
Roerbrood Nuut
Bros Platbrode Nuut
Aartappelsuurdeeg Nuut
Aartappelsuurdeeg plantjie Nuut

 
 
  Bierbroodjie

500 gram bruismeel
1 X Blikkie Bier van jou smaak
Knippie sout.

Meng die klomp totdat die deeg van jou vingers af is, sit in die broodpan, laat rys, en bak 40 min op 180 grade.
Die lekker van die resep is dat n mens die deeg kan ooprol en enige iets na jou smaak oor die hele oppervlakte smeer of strooi (viennas en tamatie smeer, spinasie en feta, kaas en knoffel, biltong en jalepeno, ag sommer net wat se smaak ookal in jou kieste opspring.

DADELBROOD.

2 kop. meelblom.
2 eiers.
1/4 lb. botter.
1/2 lb. dadels.
1 kop. kookwater.
sout.
1 kop. suiker.
2 tl. koeksoda.
1 tl. vanielje.
Gooi kookwater oor botter, suiker, dadels, koeksoda en sout. Laat afkoel. Voeg eiers heel by. Roer meel in. Bak vir 'n uur by 180 Grade C


DIE ALLERLEKKERSTE ROSYNEBROOD:

1 pakkie Bruismeel
1x250 g pitlose rosyne
1 houertjie karringmelk
2 eetl. suiker
2 gelyk teelepels bakpoeier
knippie sout

Stel oond op 180ºC.  Sif droë bestanddele saam, meng suiker saam, gooi rosyne by en voeg die karringmelk by. Ek skud altyd die kartonnetjie agterna met 'n bietjie melk uit. Meng deeglik met houtlepel. Skep uit in gesmeerde broodpannetjie en bak vir een uur. Keer uit en laat afkoel.

Hierdie broodjie is 'n wenner. Soos met alle kitsbrode, is dit op sy lekkerste op die eerste dag.


DOODVREET-LEPELSKONS

Hierdie skons is ware treffers!
4 kop bruismeel
1 teelepels sout
2 teelepels bakpoeier
2 groot eiers
½ koppie olie
2 teelepels wit suiker
1 kop karringmelk - soos benodig om deeg klouerig slap te maak (om te skep in muffin-panne)

Meng olie, eiers, melk tot glad. Meng droë bestanddele en suiker. Meng die mengsel by droë mengsel. Deeg moet slap wees om te skep met lepel, maar nie loperig nie. Skep 'n groot eetlepel vol in gesmeerde kolwyntjie-pannetjies. Bak by 200º C goudbruin.


GROWWEMEELBESKUIT

8 x 250 ml. Nutty Wheat.
2 x 250 ml. Snowflake koekmeelblom.
7,5 ml. sout.
1 x 10 g. pakkie kitsgis.
250 ml. suiker.
250 g. margarien.
125 ml. gouestroop.
750 ml. louwarm water.

Meng droë bestanddele saam en vryf hierna margarien met vingerpunte in. Meng gouestroop en louwarm water en voeg by droë mengsel. Meng tot deeg. Rol deeg in handpalms tot
ewe groot balletjies en plaas in gesmeerde broodpanne. Laat rys tot dubbel die grootte en bak vir een uur teen 180 Grade C. Keer uit en laat afkoel. Breek op in beskuite en laat oornag in koel oond uitdroog. Sultanas of rosyne kan by beskuitdeeg gevoeg word voor dit in balletjies gerol word.


HEERLIKE WITBROOD.
25 g. vars gis.
625 ml. louwarm water.
40 g. ( 50 ml.) suiker.
1 eier.
125 ml. kookolie.
12,5 ml. sout.
1 kg. witbroodmeel.
Voorverhit oond tot 200 Grade C. Krummel gis in water en voeg suiker, eier en olie by. Voeg sout by helfte van meel en voeg by vloeistof. Werk res geleidelik in om sagte deeg te verkry. Knie vir 10 minute tot glad en elasties. Bedek met plastiek of handdoek en sit op warm plek
om tot dubbel die volume te rys. Knie af, verdeel in twee en vorm een helfte tot klein broodjie. Maak snytjies bo-op. Gebruik die res om rolletjies te maak. Sit brood in gesmeerde pan en rolletjies op gesmeerde bakplaat. Laat toe om tot dubbel die volume te rys. Bedek rolletjies met enige van die volgende : olyfolie en growwesout, heuning en papawersaad, melk en vars gekapte kruie en/of eierglasuursel en gekapte neute. Bak vir 45 minute tot gaar.
Lewer 1 groot/2 klein brode, of 12 rolletjies.


KAAS - EN - UIEBROOD

500 g. bruismeel.
1 pakkie dik wit uiesoppoeier.
5 ml. ( 1 tl.) sout.
5 ml. ( 1 tl.) bakpoeier.
150 g. gerasperde cheddarkaas.
1 ekstra groot eier.
500 ml. ( 2 kop.) karringmelk.

Voorverhit oond tot 180 Grade C en smeer 'n broodpan van 1,5 liter met botter of bespuit met kleefwerende kossproei. Sif die meel, uiesop poeier, sout en bakpoeier saam. Voeg 100 g. van die kaas by en meng goed. Klits die karringmelk en eier goed saam en voeg by die droë
bestanddele. Roer goed. Skep in voorbereide pan en versprei eweredig. Sprinkel die orige kaas oor en bak 1 uur lank tot gaar of todat 'n toetspen skoon uit die middel van die broodjie kom. Sit voor met kaas en konfyt.


KARRINGMELKBESKUIT

250 ml. suiker.
2 eiers.
500 ml. karringmelk.
1 kg. Snowflake - bruismeel.
5 ml. sout.
250 g. margarien.

Verhit oond tot 180 Grade C. Klits eiers en suiker saam tot lig en skuimerig. Voeg karringmelk by. Sif meel en sout in groot mengbak en vryf botter in met vingerpunte. Voeg karringmelk by en meng tot deeg. Rol deeg in handpalms in balletjies. Rol balletjies ewe groot omtrent die grootte van 'n eier. Plaas balletjies dig teenmekaar in gesmeerde broodpanne. Bak vir 50 - 60 minute. Laat effens afkoel en keer uit. Laat dan heeltemal afkoel. Breek beskuite oop en laat oornag op draadrak in oondlaai of in koel oond uitdroog.


MIELIEBROOD

1 kop. meelblom.
1 blik geroomde soort suikermielies.
3 eiers.
1/2 kop. suiker.
1 kop. mieliemeel. ( fyn )
3 tl. bakpoeier.
sout

Klit eiers en voeg die res van bestanddele by. Gooi in gesmeerde broodpan. Kook 'n bietjie water in 'n groot kastrol en plaas die broodpan daarin. Laat dit vinnig stoom in die toe kastrol vir + - 20 minute.
As die water wegkook, kan dit na 10 minute weer aangevul word.


NEUTEBROOD

2 kop. meelblom.
4 tl. bakpoeier.
1 tl. sout.
1/2 kop. suiker.
4 eetl. botter of margarien.
1 eier.
1 kop. melk.
1 kop gekapte okkerneute.

Sif droë bestanddele saam en voeg suiker daarby. Vryf botter met vingerpunte daarin. Klits die eiers goed, en voeg dit by die melk. Roer dit geleidelik by die droë mengsel om 'n sagte deeg te vorm. Voeg die okkerneut by en gooi in 'n gesmeerde pan wat met gesmeerde papier
uitgevoer is. Laat 30 minute staan en bak vir 40 - 50 minute in 'n  matige oond.


Stywepap en Krummelpap
Daar is vele menings oor hoe on stywe- of krummelpap te maak. As julle enige voorstelle het oor hoe om die onderstaande resepte te vebeter, laat my weet, en ek las dit hierby!

Mens kan mieliemeel ipv die braaipap gebruik wat hieronder genoem word.  Ek dink die resepte kom oorspronklik van die pakkies af waarin dit verkoop is.

STYWE PAP (4-6 porsies)

1 liter water (4 koppies)
5ml sout (1 teelepel)
500ml TRADISIONELE BRAAIPAP (2 koppies) (320g)

Gebruik 'n groot swaarboomkastrol en verhit water en sout tot kookpunt. Voeg TRADISIONELE BRAAIPAP by. Roer deeglik met 'n hout lepel en plaas deksel op. Verminder hitte en prut vir 40 minute. Roer 'n paar keer. Voeg 125ml (1/2 koppie) koue water by pap. Prut pap oor lae hitte vir 'n verdere 30 minute.

KRUMMELPAP (4-6 porsies)

500ml water (2 koppies)
5ml sout (1 teelepel)
750ml TRADISIONELE BRAAIPAP (3 koppies ) (480g)

Gebruik 'n medium swaarboomkastrol en verhit water en sout tot kookpunt. Voeg TRADISIONELE BRAAIPAP by, plaas deksel op en prut vir 15-20 minute. Roer met 'n vurk tot pap krummels gevorm het. Prut vir 20-30 minute. Roer 'n paar keer.

Wanneer ons egter vir ons krummelpap maak, dan kook ons dit vir baie langer as wat hulle hier bo voorstel. Ons glo die krummelpap moet stadig en baie lank prut.

Roer die krummelpap vir die eerste keer nadat die meel 'n velletjie gevorm het -- dis belangrik om nie te vroeg te roer nie. Hoe lank jy die pap ná die roer laat prut, hang ook af van hoe groot jou krummels is. Ek vind dat 20 min. op 'n medium-lae gasvlam genoeg is, maar smaak verskil hehehe en elke ekspert het sy manier


RYSPAP

1 liter water.
500 ml. ( 2 k. ) gaar rys.
5 ml. ( 1 t. ) sout.
450 ml. mieliemeel.
60 ml. ( 1/4 k. ) botter of magarien.
Verhit die water, rys en sout saam tot kookpunt. Laat dit stadig prut en roer die mieliemeel geleidelik by -dit vorm 'n slap pap. Laat dit 20 minute lank stadig oor lae hitte prut tot deurgekook en gaar. Roer die botter of magarien in en bedien warm saam met pangebraaide wors en warm tamatie-smoor. Genoeg vir 5 - 6 mense.


GESONDHEIDS BESKUIT

1 kg volkoringmeel
250 ml klapper
200 ml pitlose rosyne
55 ml bakpoeier
500 ml suiker
250 ml sonneblomolie
500 ml koekmeel
500 ml fyngedrukte graanvlokkies
125 ml sonneblomsaad
10 ml sout
250 g margarien, gesmelt
1 liter kookwater

Stel die oond op 180C. Meng al die droë bestanddele, behalwe die suiker saam. Giet die gesmelte margarien in ´n ander mengbak en voeg die suiker, olie en kookwater by. Meng. Voeg by die droë bestanddele en meng goed. Skep deeg in 2 gesmeerde broodpanne. Doop ´n mes in warm water en sny die deeg in blokkies. Bak sowat 1 uur, of tot gaar, in die voorverhitte oond. Laat effens afkoel in die panne. Keer uit, breek in stukke en droog uit.


Mosbolletjiebrood

(genoeg vir 30 stukkies van 50 g elk)

1 kg koekmeelblom
10 ml sout
40 g ( 4 pakkies) kits droë gis
10 ml suiker
20 g anyssaad
60 g botter in klein blokkies gesny
600 ml warm melk
1 eiergeel, liggies geroer

Smeer 3 klein broodpannetjies met botter. Sif meel, sout, giss en suiker saam in 'n mengbak en voeg dan anyssaad by. Meng die botter en die warm melk, voeg dit by die droë bestanddele en meng tot 'n ferm deeg. Keer uit op 'n oppervlak wat met meel bestrooi is en knie tot 'n sagte nie-klewerige deeg wat glad en elasties is. Plaas in 'n bak wat liggied met olie gesmeer is en verseël met plastiek (smeer ook met olie) en hou eenkant op 'n warm plek totdat die volume verdubbel het. Druk die deeg plat, knie liggies en vorm balletjies van 50 gram. Plaas in 'n broodpan maar laat ruimte aan die kante. Sit in 'n warm treklose vertreken laat stan vir sowat 30 minute totdat die deeg tot by die bokant van diie pan gerys het. Verhit die oond tot 180 grade C. Bestryk die brood met eiergeel, bak vir 15 minute en verlaag dan die hitte tot 160 C. Bak vir nog 30 minute tot gaar. Keer op 'n draadrak uit en laat afkoel


Kaiingbrood

Die geheim is om die kaiings reg uit te braai, nie almal weet so mooi hoe nie, maar dis hoekom ek nou hier is!
Kaiings kan van die vet van enige slagdier gemaak word. Sny die vet af en maal dit met 'n growwe meul. Verhit in 'n kastrol met 'n bietjie water dat die vet smelt en laat die vet maar lekker uitbraai, hy vorm vanself kaiings. Party mense gooi bietjie melk by, maak glo 'n mooier kaiing. Die kaiings is die stukkies wat op die warm vet ronddryf, skep dit dadelik af en dis reg vir gebruik. Wanneer jy bak daarmee moet dit eers weer gemaal word, die keer met 'n fyn meul.

Die broodresep
2 teelepels droê gis
2 teelepels suiker
3 koppies lou water
7 koppies broodmeel
2 teelepels sout
3 teelepels sagte varkvet
500g kaiings

Los die droë gis en suiker op  in 1 koppie van die lou water. Roer 1/2 koppie van die broodmeel by. Bedek en hou warm sodat dit kan gis (een uur)
Sif die meel en die sout saam. Maak 'n holte in die middel en voeg die suurdeegmengsel daarby. Knie nou goed totdat die deeg mooi skoon afkom van die hande.. Voeg die orige lou water geleidelik by terwyl jy knie.  Knie die sagte varkvet goed deur en voeg dan die gemaalde kaiings by. Knie baie goed. Bak teen 180 ºC vir 45 tot 60 minute.


Feespap

3 koppies mieliemeel
6 koppies water
1½ teelepel sout
1 bottel biltongsmeerkaas
250ml room
1 blikkie geroomde sampioene
250g ontbytspek
2 uie
gerasperde kaas

Stel oond op 180C, en spuit ‘n bakskottel. Kook mieliemeel in sout en water tot gaar. Snipper en braai spek en uie. Meng gebraaide spek en uie, smeerkaas, room en geroomde sampioene. Skep in lae in bakskottel: Pap,dan spekmengsel. Herhaal lae. Strooi gerasperde kaas oor en bak totdat die kaas gesmelt is. Bedien saam met braaivleis.


Asbrood

750 ml bruisbroodmeel
250- ml witbroodmeel
10 ml bakpoeier
2.5 ml sout
500 ml karringmelk

Meng droë bestsnddele en maak aan met karringmelk.  Druk deeg plat (ong 3 cm dik) op 'n groot stuk aluminiumfoelie. Vou dig toe in foelie maar laat ruimte om te rys.  Plaas op half uitgebrande kole en gooi toe met oorblywende kole. Bak ongeveer 45 minute.  


Knoffelring

Knoffelsous:
180 ml ( ¾ k) Botter, gesmelt
3 knoffelhuisies fyngedruk of 1 ½ t voorbereide knoffel
25ml (5 t) vars gekapte pietersielie
10 ml (2 t) gemengde droeë kruie

Brood :
2 ekstra groot eiers
25ml (5 t) olie
500 ml ( 2 k) louwarm water
60ml ( ¼ k ) suiker
1 pakkie ( 10gr) kits- droeë gis
1 knoffelhuisie fyngedruk
Knippie gemmer
Knippie sout
5 x 250ml (5k) Koekmeelblom

Voorverhit die oond tot 190° C ( 375° F)
Bespuit pan met kleefwerende kossproei van 23cm deursnee
Meng al die bestanddele vir die knoffelsous in `n kastol tot margarine gesmelt is en hou eenkant.
Klits die eiers, olie, water en suiker saamMeng die res van die droeë bestanddele in `n groot mengbak Voeg nou die watermengsel by en meng tot `n sagte deeg Knie die deeg vir 10 minute lank tot glad en elasties Bedek met bespuite kleefplastiek en laat rys tot dubbel die grootte (1 uur) Verdeel die deeg in twee ne rol 12 ewe groot bolle van elke deel. Rol al die bolletjies in die knoffelsous en pak in voorbereide pan Gooi die res van die knoffelsous bo-oor Bak omtrent 36-40 minute tot gaar of mooi bruin bo-op Dien louwarm op saam braaivleis


Beesstertbroodjie

1 pak (500g) bruismeel                    1 pakkie beesstertsoppoeier
1 houer (500ml) karringmelk            125ml gerasperde kaas
knypie rooipeper

Metode:

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer 'n broodpan (20 x 14 x 7cm).
Meng die bruismeel, soppoeier en karringmelk goed saam. Skep die deeg in die pan en maak dit gelyk. Strooi die kaas en peper oor en bak 1 uur lank op die middelste oondrak. Keer op 'n draadrak uit en laat afkoel.


Souskluitjies

Kluitjies
250 ml koekmeelblom
10 ml bakpoeier
2 ml sout
50 ml margarien/botter
1 eier
100 ml melk

Sous
500 ml kookwater
25 ml margarien/botter
kaneelsuiker

1. Sif droë bestanddele saam.
2. Vryf 50 ml margarien in tot mengsel soos broodkrummels lyk.
3. Klits eier en melk saam, roer by meelmengsel in en meng tot 'n sagte deeg. Voeg nog melk by indien nodig.
4. Verhit water en 25 ml margarien tot kookpunt. Skep lepelsvol deeg in kokende water. Sit deksel op en laat kook 15 minute. Moenie deksel oplig terwyl kluitjies kook nie.
5. Skep kluitjies met 'n gleuflepel uit in 'n diep opskepskottel. Strooi kaneelsuiker oor.
6. Kook water waarin kluitjies gaar gemaak is weer. Voeg kaneelsuiker by en giet oor kluitjies. Jy kan nog water byvoeg indien nodig.

MOET NIE dink dis makliker om dit sommer in die sousie te los nie. As jy nog nooit in jou lewe rubber geeet het nie, sal jy nou!


Aartappelsuurdeeg

1/2 Koekie yeast (moet koekie yeast wees)
Middelslag aartappel...fyn gerasper...belangrik...mooi fyn.
2 Eetlepels Suiker
1 Eetlepel Sout.

Sit alles in Consol Bottel...(soos vir vrugte inlê)
Maak bottel vol tot by nek met sterk lou water en roer goed
Maak toe met deksel...nie styf nie...en laat staan op warm plek ......die aartappels sal boontoe trek na die deksel toe...dan is dit reg. Skud bottel...hou hand voor en gooi af... maar nie als nie...hou sowat 1/4 van alles terug. Onthou...die eerste keer of twee sal dit nie behoorlik rys nie...dit vorm nog die suurdeeg basis.
Hierdie proses moet herhaal word sowat drie keer...dan is die suurdeeg reg vir gebruik.
Moet nie te warm water gebruik nie...net sterk lou...anders maak dit die suurdeeg dood.

Wie het vir my 'n broodresep (regte egte boerebrood) wat met aartappelsuurdeeg gemaak word? My buite-oond gaan binnekort reg wees dan wil ek begin bak!


Semel piesangbrood.

90 g botter
160 g sagte bruinsuiker
5 ml suurlemoensap
1 eier
250 ml fyngemaakte piesangs
100 ml melk
190 g koekmeelblom
15 g spysverteringsemels
7 ml bakpoeier
5 ml koeksoda
2 ml sout
50 ml rosyntjies
50 ml gekapte neute

Verroom die botter en bruinsuiker. Voeg die suurlemoensap en eier by en meng goed.
Voeg die res van die bestanddele by en roer tot gemeng.
Skep die deeg in ‘n mikrogolfvaste bak wat met kombuispapier uitgevoer is. Plaas die pan op ‘n omgekeerde piering in die mikrogolf.
Mikrogolf dit 10 minute by 90% krag. Laat staan 10 minute.
Keer die brood uit en verwyder die papier. Laat heeltemal afkoel. 


Braaivleisbroodjie

500ml fyn gerasperde wortels                  425ml kookwater
30ml olie                                                  15ml heuning
500ml mieliemeel                                      2ml rooipeper
5ml sout                                                   4 ekstra groot eiers, geskei

Voorverhit die oond tot 180C en voer twee broodpannetjies se bodem met bakpapier uit. Smeer of spuit die pannetjies. Meng wortel, kookwater, olie en heuning. Sif mieliemeel, peper en sout saam en voeg by die wortelmengsel. Klits eiergele en voeg by die mengsel. Klits eierwitte tot stywepuntstadium en vou dit liggies in by die mengsel. Skep mengsel in pannetjies en bak 45-50 minute.


Vetkoekies

375ml ongesif afgemeet koekmeelblom     15ml bakpoeier
10ml suiker                                              5ml sout
500ml gaar koue rys                               410g (1 blik) geroomde suikermielies
125ml melk                                              1 eier
kookolie vir vlak braai

Sif die koekmeelblom, bakpoeier, suiker en sout saam. Vou die rys en suikermielies in die gesifte bestanddele in. Klits die melk en eier saam tot gemeng. Voeg dit by die meelmengsel en maak aan tot ‘n sagte deeg. Skep eetlepelsvol deeg in matig warm kookolie. Braai die vetkoek eers aan die een kant tot goudbruin: dit moenie te vinnig braai nie. Dreineer die gaar vetkoeke op kombuispapier en sit warm voor. Heerlik saam met stroop of heuning.


Aartappel Suurdeegplantjie

Probeer gerus so maak:
Rasper 1 aartappel baie fyn.
Voeg die volgende by:
2 teelepels suiker
1 teelepel sout
1 sakkie kitsgis - sommer hierdie 10g blou, groen of pers pakkies wat so 70 sent kos in supermarkte. Die pers rys baie goed, want dit het Vitamine C in. Gooi dit dan in 'n glas houer / outydse can fruit bottel.
Maak vol met lou water (seker omtrent so 500 ml ) - te warm water sal die gis doodbrand en dan werk dit nie. Sit sommer 'n piering bo-op om toe te maak, want die aartappels gaan na boontoe styg en moontlik oorkook.
Dit moet die heeltyd by kamer temperatuur wees. Dit is die teken dat dit gewerk het. - Jou plantjie is suksesvol.
As jy nou wil afskep om te bak, kan jy dit omroer en twee derdes gebruik om mee te bak. Die een derde wat oorbly, bly in die bottel en jy gooi dan net die suiker, sout, aartappel en water weer by.


Melksnysels, (Slinger-om-die-Smoel)

120g koekmeelblom (250ml)
2 ml bakpoeier
1ml sout
melk om mee aan te maak tot stywe deeg
ekstra meel om bo-op te strooi
2 liter melk
3 eiers (geskei)
50ml suiker
2ml kaneel

Sif koekmeelblom, bakpoeier en sout saam en plaas in 'n voedselverwerker. Voeg melk bietjiesgewys by om 'n stywe deeg te verkry. Wanneer goed vermeng, haal uit die voedselverwerker en rol uit op meel bestrooide oppervlak. Strooi meel bo-op en rol styf op. Sny rol in dun repies en plaas eenkant.
Gooi melk in dikboomkastrol en laat kook. Roer snysels in sonder om meel af te skud. Klits eiergele, suiker en kaneel saam en voeg bietjie van melkmengsel daarby. Roer dan versigtig by kokende melkmengsel. Laat stadig kook tot snysels gaar en melkmengsel dik is. Roer styfgeklopte eierwitte net voor bediening in. Bedien warm.


Botter laagkoek

2 kop. meelblom.
1/2 tl. sout.
3 eiers.
3 1/2 tl. bakpoeier.
2 tl. vanielje
1/2 kop. melk.
1/2 kop. water.
113 g. botter.
1 kop. suiker.

Klits geel van eiers goed. Voeg meel en sout by, dan geursel. Voeg dan melk en botter wat gesmelt is, by. Voeg dan water by as te styf is. Voeg bakpoeier by en dan styfgeklopte eierwit. Bak in oond teen 180 Grade C vir 25 minute.


Bruintjies

220 g suiker
150 g bruismeel
3 eiers
50 g okkerneute, gekap
35 g kakao
knippie sout
170 g sagte botter (nie gesmelt)

Gooi al die bestanddele in 'n bak, meng goed met 'n houtlepel, gooi in gesmeerde bakplaat en bak 22 minute in voorverhitte oond by 190º. Moenie droog bak nie, dit moet nog so effens klam wees in die middel. Sny in blokkies wanneer koud. Kan net so geëet word, of bedien met styfgeklopte room.


Deeg skelmpies

1 1/2 kop. meelblom.
1/4 tl. sout.
1 1/2 tl. bakpoeier.
peper.
1 eier.
1 kop. melk.

Klits eiers en melk goed. Roer stadig by meel, sout en bakpoeier. Doop stukkies hoender of enige koue vleis daarin en bak in warm olie


Gemmerkoekies

500 g sagte botter
500 ml sagte bruinsuiker
250 ml goue stroop
sowat 80 ml gemmerkonserf, gedreineer en fyn opgekap
1 kg bruismeel
10 ml elk koeksoda en kremetart
5 ml sout
2 ml gemaalde gemmer
2 eiers, geklits
ekstra koekmeel, indien nodig

Stel oond op 180 °C. Klop die botter, bruin-suiker, stroop en konserf saam. Sif die droë bestanddele by die bottermengsel in. Meng goed saam.
Voeg die eiers by en meng saam tot 'n sagte deeg. Neem ekstra meel op die hande as die deeg te onhanteerbaar is. Vorm klein balletjies en plaas op gesmeerde bakplaat of rol uit en druk sirkels van verlangde grootte uit. Bak sowat 8 tot 10 minute. Lewer sowat 80 koekies.
Wenk: Let op dat die deeg `loop'. Laat dus genoeg ruimte tussen elke balletjie.
Rol deeg dun uit om 'n heerlike bros koekie te kry.


Kaaskoek

Kors:
25 Gemmerkoekies OF 1 pakkie tennisbeskuitjies.
100 g gesmelte botter
Meng koekies en botter en druk in 'n pan met 'n uithaal bodem om korslaag te vorm. Laat afkoel in die yskas.

Kaasskoekvulsel:
25 ml (5 teelepels) gelatien.
4 eetlepels water.

Bedek gelatien met water en laat staan sodat dit kan "spons"

Plaas 2 houers roommaaskaas in 'n bak en meng. Voeg by die sap en fyngeraspede skil van 'n groot suurlemoen. Voeg 5 ml vanieljegeursel by. Meng 3 eiergele met 200 gram (1 koppie) strooisuiker in 'n bak - totdat dit soos room lyk - voeg dan by die kaasmengsel.

Klits 250 ml room liggies en voeg by die kaasmengsel.

Mikrogolf die gelatien op medium krag vir 2 minute en voeg STADIG by kaasmengsel en meng totdat al die gelatien deeglik in die kaasmengsel gemeng is.

Gooi in pan met kors en laat stol. Versier met vars vrugte en room indien verkies.


Kaaskoekies

250 g. cheddarkaas.
250 g. meelblom.
1/2 tl. peper.
250 g. botter.
1/2 tl sout.
knippie rooi peper.

Sif die meelblom, sout, peper en rooipeper in 'n mengbak.Sny die botter in klein stukkies en vryf dit in die gesifte meelmengsel. Rasper die kaas nou by die mengsel en vryf goed in. Die deeg is baie ryk en u sal vind dat dit in 'n plat pan gedruk kan word of in 'n kolwynpan -
netjie. Bak teen 230 Grade C tot ligbruin.


Kaasstrooitjies

3 kop. meelblom.
1 tl. sout.
250 g. ( 1/2 lb. ) gerasperde cheddarkaas.
250 g. ( 1/2 lb. ) margarien.
3 tl. bakpoeier.
1/2 tl.rooipeper.

Rasper kaas. Meng botter, meel en al die ander bestanddele saam. Kaas laaste by. Maak aan met water of melk tot stywe deeg. Rol dun uit en sny in repe. Bak teen 230 Grade C tot ligbruin.


Karringmelk sjokoladekoek

2 kop. meelblom.
1/2 kop. botter.
1/2 kop.warm water.
2 eiers.
1 tl. kremetart.
1 tl. koeksoda.
1 1/2 kop. suiker.
1/4 kop. kakao.
1/2 - 1 kop. karringmelk.
2 tl. vanielje.
sout.

Sif droê bestanddele. Klop smeer en suiker tot room. Voeg goed geklitste eiers by en dan kakao gemeng met warm water. Voeg droê bestanddele om die beurt met melk by. Voeg vanielje by. Bak vir 20 - 30 minute ( of langer ) teen 180 Grade C.
Vir 'n groot koek verdubbel bestanddele.


Klapperkoekies

360 g. ( 750 ml.) koekmeelblom.
240 g. ( 300 ml.) suiker.
80 g. ( 250 ml.) klapper.
2 ml. sout.
250 g. / ml. botter.
5 ml. koeksoda.
5 ml. appelkooskonfyt.

Voorverhit die oond tot 180 Grade C. Sif droë bestanddele saam. Vryf die botter met vingerpunte in. Meng die koeksoda en appelkooskonfyt saam en sny in droë bestanddele in. Indien nodig, voeg 'n klein bietjie melk by om stywe deeg te vorm. Vorm balletjies en plaas dit op 'n bakplaat. Druk dit met 'n vurk plat en versier met rooi en groen glanskersies. Bak vir ongeveer 10 minute tot ligbruin. Lewer ongeveer 4 dosyn koekies.


Kondensmelkkoekies

685 g. meelblom.
455 g. botter.
4 tl. bakpoeier.
1 blik kondensmelk.
1 tl. suurlemoengeursel.
1 kop. strooisuiker.
sout.

Room botter en suiker en voeg kondensmelk by en meng goed. Sif meelblom, bakpoeier en sout en voeg by botter mengsel. Smeer pan en skep teelepelsvol in pan en bak teen 190 Grade C vir + - 12 minute.


Konfyttertjies

190 ml. ( 3/4 kop.) suiker.
125 ml. ( 1/2 kop.) margarien.
2 eiers.
500 ml. ( 2 kop.) meelblom.
10 ml. ( 2 tl.) bakpoeier.
vanielje.

Stel die oond op 180 Grade C. Room die suiker en margarien saam. Voeg die eiers by en klits goed todat mengsel liggeel en skuimerig is. Voeg die meelblom, bakpoeier en 'n paar
druppels vanielje by. Rol deeg in klein balletjies en plaas op gesmeerde bakplaat - ongeveer 5 cm.uit mekaar. Maak 'n klein holte in die middel van die deeg en drup 'n klein bietjie konfyt
daarin. Bak in 'n matige oond tot ligbruin.


Naweekkoekies

125 g. botter of margarien.
80 ml. ( 1/3 kop.) suiker.
1 ekstra-groot eier.
250 ml. ( 1 kop.) bruismeel.
180 ml. ( 3/4 kop.) korente.
500 ml. ( 2 kop.) Rice Krispies of graanvlokkies, liggies
fyngedruk.

Voorverhit oond tot 180 Grade C en smeer 'n paar bakplate. Verroom die botter of margarien en suiker goed tot lig en romerig. Voeg eier by en klits goed. Sif bruismeel oor bottermengsel en voeg korente by. Roer liggies. Voeg Rice Krispies of graanvlokkies by. Vorm bolletjies en pak op bakplate. ( Laat ruimte toe, want die koekies sprei effens ) Bak 10 - 15 minute tot gaar. Lewer 45 koekies.


Dadelkluitjies

STROOP :

500 ml suiker
1 liter water
30 ml (2 eetlepels botter)
30 ml (2 eetlepels goue stroop)
2 ml (halwe teelepel) sout


KLUITJIES
500 ml koekmeelblom
15 ml (1 eetlepel) koeksoda
2 ml (halwe teelepel) fyn kaneel
30 ml (2 eetlepels) botter
125 ml (halwe koppie) fyn gesnipperde dadels
250 ml (1 koppie) melk

Meng al die bestanddele vir die stroop saam in 'n stoompot. Roer oor lae hitte tot die suiker opgelos is. Kook dan vyf minute lank.

Meng koekmeelblom, koeksoda en kaneel saam. Vryf botter in en voeg die dadels by. Meng goed deur. Voeg die melk stadig by terwyl aanhoudend geroer word.

Laat stroop weer kook en skep lepels vol van die kluitjiemengsel in die kokende stroop. Verlaag hitte (dit moet baie stadig prut anders kook dit oor) en prut 20 minute lank. Moenie die deksel oplig nie.

Dien op saam met vla, room of roomys. Genoeg vir 6-8 mense.


Skuinskoek

2,5 kg Snowflake koekmeelblom
10 ml sout
15 ml droë gis
1 liter louwarm water
250 g botter of margarien
15 ml anys
750 ml suiker

1. Sif die meel en sout saam
2. Los die gis op in 'n bietjie van die lou water. Voeg die res van die water by asook 6 koppies van die meel en maak aan tot 'n slap deeg. Bedek en laat rys op 'n warm plek vir 2 ure of totdat die deeg in volume verdubbel het.
3. Vryf die botter in die res van die meel. Voeg anys en suiker by, meng goed en knie die suurdeegmengsel hierby in. Indien nodig kan 'n ekstra bietjie louwarm water bygevoeg word om 'n lekker sagte deeg wat maklik hanteer, te verkry. Bedek en laat op 'n warm plek rys totdat die deeg in volume verdubbel het.
4. Knie deeg goed af. Knyp stukkies deeg af en rol dit soos wors uit en sny skuins skywe van 50 mm lank af. Skep dit
in warm diepvet en braai goudbruin. Draai om en braai ook die ander kant totdat dit goudbruin is. Dreineer op kombuis- of bruinpapier.


Yskaskoekies

2 pk. tennisbeskuitjies.
1 x 250 g. margarien ( gesmelt)
1 blik gekookte kondensmelk.
1 pk. versiersuiker.
1 dl. koffie - ekstrak.
1 dl. vanielje.
okkerneute.

Meng alles saam behalwe beskuitjies & okkerneute. Breek beskuitjies in. Druk vas in gesmeerde bak. Strooi gekapte okkerneute oor en plaas in yskas. Wanneer gestol, sny in blokkies. Die koekies kan lank gebêre word.


--------------------------------------------------------------------------------

Roosterkoek

( Heerlik met braaivleis.)
2 kop. meelblom.
1 tl. koeksoda.
2 onse botter.
1/2 tl. kremetart.
1/2 tl. sout.
dikmelk.
Sif droë bestanddele saam. Vryf botter daarin. Meng met melk tot 'n sagte rolbare deeg. Rol 'n halfduim dik uit en sny in reghoeke. Plaas op 'n gesmeerde plaat of rooster oor kole. Bedien warm met botter.


Pannekoek

1 kop. meelblom.
1 teel. bakpoeier.
knippie sout.
2 eiers.
1/4 kop. kookolie.
1 1/2 kop. water.
Meng alles goed. Laat staan 'n bietjie. Bak in baie min olie. Strooi kaneel en suiker oor.


Kaneelbolletjies

50 ml. gladde appelkooskonfyt.
125 ml. ( 1/2 kop.) margarien.
5 ml. ( 1 tl.) koeksoda.
25 ml. ( 5 tl.) kookwater.
375 ml. ( 1 1/2 kop.) koekmeelblom.
knippie sout.
Stroop :
330 ml. witsuiker.
500 ml. ( 2 kop.) kookwater.
12 ml. ( 2 1/2 tl.) fyn kaneel.

Voorverhit oond tot 180 Grade C en smeer 'n kleinerige oondbak met botter of bespuit met kleefwerende kossproei. Meng konfyt en margarien deeglik. Los koeksoda in kookwater op, voeg by konfytmengsel en meng. Sif meel en sout by en meng tot 'n deeg. ( Dis 'n baie sagte deeg.) Skep teelepelsvol van die mengsel in voorbereide oondbak. Verhit suiker, kookwater en kaneel oor lae hitte tot suiker gesmelt is en bring tot kookpunt. Giet warm stroop oor bolletjies en bak ongeveer 25 minute lank. Sit warm voor met roomys.
Genoeg vir 4-6 mense.


Ystervarkies

Hierdie is 'n staatmaker

350g (625ml) Bruismeel
7ml bakpoeier
1ml sout
125g botter of margarien
250g (325ml) suiker
4 eiers

Stel oond op 200C (400F) en smeer twee bakpanne van 18 x 28 x 3cm. Sif bruismeel, bakpoeier en sout saam. Klop botter en suiker tot romerig. Klop eiers een vir een by bottermensel en meng goed na elke byvoeging. Voeg gesifde
bestanddele bietjiesgewys by en roer tot alles net gemeng is. Skep in panne, maak gelyk en bak 15 - 20 minute. Keer uit op draadrak en laat afkoel.
Sny in blokkies van sowat 3 x 3cm.

Stroop

375ml kookwater
600g (750ml) suiker
1ml sout
15g (30ml) kakao
15g (15ml botter of margarien
5ml vanieljegeursel
400g (5 x 250ml) klapper

Meng kookwater, suiker, sout en kakao in 'n dubbel kastrol, oor kookwater. Doop koekblokkies vinnig in stroop en sorg dat al sy vier sye bedek is. Rol in
klapper en plaas op draadrak. Hou in koelkas.
Lewer 8-9 dosyn


Korslose kaastert

15ml botter of margarien
6 eiers, geklits
125ml gerasperde Cheddarkaas
2 tamaties, geskil en grof gekap
5ml sout
1ml varsgemaalde swartpeper
12.5ml vars gekapte pietersielie
1 spekvleisrepie, swoerd verwyder & gekap

Voorverhit die oond tot 180C. Verhit die botter of margarien in ‘n swaarboombraaipan. Meng die res van die bestanddele en voeg dit by die gesmelte botter of margarien. Meng alles goed saam. Gooi die mengsel uit in ‘n goed gesmeerde oondskottel en bak dit 35-40 minute lank op die middelste oondrak totdat dit ferm is.


Krummelpap verrassing

4 x 250ml krummelpap
500ml bruinbroodkrummels
5ml sout
250g botter
500g bladspek
500ml melk
8 eiers, geskei
285g blik geroomde sampioene
285g blik gesnipperde sampioene, gedreineer
500ml Chedderkaas, gerasper
170g blikkie ingedampte melk

Voorverhit die oond tot 180C en smeer 'n oondskottel. Meng die krummelpap, brood krummels en sout, voeg die gesmelte botter by en meng goed. Braai die spek bros en krummel dit. Hou 'n bietjie van die spek vir garnering en voeg die res van die spek by die krummelpapmengsel. Klits die melk en eiergele saam en voeg dit en die sampioene en 350ml van die kaas by die mengsel. Skep dit in die oondskottel uit en bak dit vir ongeveer 'n uur lank. Sprinkel die res van die kaas en spek bo-oor en gooi die ingedampte melk oor. Plaas die gereg vir ongeveer 5 tot 10 minute terug in die oond. Bedien saam met braaivleis.


Speserykoekies

300g /600 ml koekmeelblom
7 ml koeksoda
5 ml fyn gemmer
3 ml fyn kaneel
200 g botter of margarien
200 g / 250 ml bruin suiker
1 eier
60 ml heuning of stroop
12.5 ml strooisuiker

Sif meel, koeksoda en speserye saam. Room botter en suiker saam. Voeg eier by en klop baie goed. Voeg heuning by en meng.
Roer droeë bestanddele by en meng goed. Vorm klein balletjies. Doop die helfte van elke balletjie in water en dan in die strooisuiker. Plaas met suikerkant na bo op 'n gesmeerde bakplaat (druk effens plat) en bak 12-15 minute in 'n voorverhitte oond teen 180ºC.


Hertzoggies

1 k botter
3 k meelblom
1/2 t sout
3/4 k suiker
2 t bakpoeier
1 k klapper
1/2 k fyn suiker
4 eiers

Sif meelblom, sout en bakpoeier saam en voeg suiker by. Sny en vryf die botter in. Meng met goedgeklopte eiergele sodat die deeg uitgerol kan word. Druk af en voer klein vormpies hiermee uit. Plaas in elk 'n bietjie appelkooskonfyt. Klop eierwitte droog, voer klapper en strooisuiker by. Sit bietjie bo-oor konfyt Bak in warm oond 190 - 205 C ( 375 - 400 F) tot gaar.


Aartappelkaaskoekies

3 aartappels, geskil
1 ui
1 eier, geklits
30ml koekmeelblom
sout en peper na smaak
5ml bakpoeier
125ml gerasperde Cheddarkaas
10ml gekapte pietersielie
olie om in te braai

Rasper die aartappel en ui saam. Roer die eier, koekmeelblom, sout, peper en bakpoeier by. Roer die kaas en pietersielie by. Skep lepelsvol van die mengsel in vlak, warm olie en braai dit tot goud bruin aan albei kante. Dreineer dit op kombuispapier.
Bedien dit dadelik.


Skurwe Abrahams

650 g koekmeelblom
15 ml kremetart
12,5 ml sout
400 g suiker
250 g botter, by kamertemperatuur,
250 ml karringmelk
10 ml koeksoda
1 eier
Voorverhit oond tot 200C. Smeer 'n rolkoekpan van 45x30x2cm of bespuit dit met kleefwerende middel. Sif die koekmeeblom, kremetart en sout saam. Voeg die suiker by en meng. Vryf die botter met die vingertoppe in die meelmengsel in totdat dit fyn gekrummel is. Meng 25 ml van die karringmelk met die koeksoda. Voeg dit by die meelmengsel. Klits die res van die karringmelk en die eier saam. Hou 25 ml van die mengsel om oor die beskuit te verf en voeg die res by die meelmengsel. Meng goed tot 'n deeg. Verdeel die deeg in 8 ewe groot stukke. Fatsoeneer elke stuk op 'n meelbestrooide deegplank om 'n wors van 28 cm en druk dit effens plat. Sny elke wors in 4 ewe lang stukke. Plaas die stukke effens uitmekaar in die pan. Verf die oorblywende 25 ml karringmelk-en-eiermengsel oor die beskuite. Bak hulle sowat 30 minute of tot gaar op die middelste oondrak. Laat die beskuite effens afkoel, breek hulle oop en droog in 'n koel oond uit.


Beesstertbroodjie

1 pak (500g) bruismeel
1pakkie beesstertsoppoeier
1 houer (500ml) karringmelk
125ml gerasperde kaas
knypie rooipeper

Metode:
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer 'n broodpan (20 x 14 x 7cm).
Meng die bruismeel, soppoeier en karringmelk goed saam. Skep die deeg in die pan en maak dit gelyk. Strooi die kaas en peper oor en bak 1 uur lank op die middelste oondrak. Keer op 'n draadrak uit en laat afkoel.



Kaas-en-spekvleisbroodjie

8 repe streepspek, gebraai & fyngekap
250ml bruismeel
10ml botter
150ml melk
15ml Worcestersous
knippie sout
200ml kaas, gerasper
15ml tamatiesous

Metode:
Voorverhit die oond tot 200°C. Bespuit 'n bakplaat. Sif die bruismeel en sout saam en vryf die botter met jou vingerpunte in tot die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg die kaas en spekvleis by en meng liggies. Meng die melk, tamatiesous en Worcestersous saam en voeg by die droë bestanddele. Meng liggies tot net gemeng en vorm in 'n sirkel op die bakplaat. Bak 20-25 minute lank of tot gaar. Dien warm op saam met botter en kaas.


Mieliebrood
Mikrogolf

4 eiers
knippie sout
125ml melk
1 blik (410g) suikermielies
125ml suiker
1 blik (410g) pitmielies (opsioneel)
250ml mieliemeel
30ml kookolie
25ml koekmeelblom
paprika
7ml bakpoeier

Metode:
Klits eiers, melk & suiker saam. Sif droë bestanddele saam op eiermengsel. Meng. Voeg mielies & olie by en meng. Smeer ‘n 28cm broodpan. Gooi mengsel in & strooi paprika bo-oor. Plaas pan op ‘n omgekeerde piering in mikrogolfoond. Mikrogolf broodjie 12-15 min op 100% krag. Laat staan 10 min voor uitgekeer word.


Lepelbrood

450ml melk
300ml mieliemeel
5ml sout
50ml margarien, gesmelt
4 eiers, geskei

Metode:
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n diep oondvaste bak van 24cm met margarien. Verhit die melk tot kookpunt. Verwyder van die hitte en roer die mieliemeel geleidelik by, roer tot glad. Plaas terug op die hitte en laat kook tot die mengsel verdik het; roer elke nou en dan.
Voeg die sout, asook gesmelte margarien by. Verwyder van die hitte en laat heelwat afkoel. Klits die eiergele en vou by die mengsel in . Klits die eierwitte styf en vou ook by die mengsel in. Skep in die voorbereide bak en bak sowat 35-40 min lank of tot gaar.
Dien warm op saam met ‘n smeersel botter. Genoeg vir 4-6 mense.


Uie-en-Kaas-broodjie

875ml bruismeel
1 pakkie wit uiesoppoeier
500ml karringmelk
½ kop gerasperde kaas
125ml melk
1 eier, geklits
knippie kaneel

Metode:
Meng meel, soppoeier, karringmelk en helfte van die kaas.
Gooi melk in leë karringmelkhouer. Skud en voeg by mengsel. Voeg eier by en meng goed. Skep in ‘n gesmeerde 23cm broodpan. Strooi res van kaas en kaneel oor.
Bak vir 1 uur by 180°C. Bedien met botter.


Blikbroodjies

1kg bruismeel
10ml sout
2 blikkies bier

Metode:

Sif die bruismeel en sout saam. Voeg die bier by en meng goed met ‘n houtlepel. Smeer 6 leë blikkies (410g) deeglik met botter of bespuit met kleefwerende kossproei. Verdeel die deeg in 6 gelyke dele en skep in die gesmeerde blikkies. Verhit intussen die oond tot 190°C en bak sowat 30 minute tot uitgerys en gaar. Laat effens afkoel, keer uit op ‘n draadrak en laat heeltemal afkoel. Gebruik ‘n eetmes om die broodjies effens los te wikkel en keer versigtig uit die blikkies.
Sit voor met botter en kaas.


Roerbrood

500ml koekmeelblom
500ml volkoringmeel
500ml melk
60ml bruinsuiker
7ml koeksoda
15ml sout
10ml suurlemoensap
papawersaad om bo-oor te sprinkel

Metode:
Voorverhit die oond tot 190°C en smeer ‘n groot broodpan goed met botter of bespuit met kleefwerende kossproei. Meng al die bestanddele vir die brood en skep in die voorbereide broodpan. Sprinkel papawersaad bo-oor en bak sowat ‘n uur lank of tot gaar en ‘n toetspen skoon uit die middel van die brood kom.


Bros Platbrode

1,5kg witbroodmeel
15ml sout
1½ pakkie kitsgis
2 ekstra-groot eiers
600ml melk
300ml water
60ml botter, gesmelt
droë kruie, sout en vars peper na smaak

Metode:
Voorverhit die oond tot 220°C en smeer ‘n bakplaat met botter of bespuit liggies met kleefwerende kossproei. Sif die meel en sout saam. Sprinkel die gis oor en maak ‘n holte in die middel. Klits die eiers, melk en water saam en voeg by die meelmengsel. Meng tot ‘n deeg. Knie die deeg op ‘n meelbestrooide oppervlak tot glad en elasties. Bedek met ‘n klam doek en laat rys op ‘n warm plek tot dubbel die volume. Knie die deeg af en en knie weer goed. Breek stukke van die deeg af en rol baie dun uit met ‘n rolstok tot dun plat sirkels. Verf met gesmelte botter en sprinkel kruie, sout en peper oor. Bak 5-7 minute lank tot ligbruin en bros. (Anders kan jy die brood bak tot net gaar, weer met olie smeer en dan net liggies onder die roosterelement rooster tot ligbruin.) Breek in stukke en sit vooor saam met doopsouse.
Lewer omtrent 35 platbroodjies


Aartappel Suurdeeg

(2 variasies)
Hier volg my ma (sy was 'n 1910-baba) se aartappelsuurdeeg:
1 middelmatige aartappel (geskil en grof gerasper)
[2 pakkies suurdeeg vir ingeval die aartappel nie genoeg laat rys nie!]
4 koppies kookwater
12,5 ml sout (Dis nou vir 5 kg meel; sy het gewoonlik helfte broodmeel en helfte "Nutty wheat" gebruik)
Aand:
Gooi kookwater, sout en aart. in kastrol met digpassende deksel.
Sit 3 koppies meel bo-op sonder om te roer. Maak gaatjie in middel
Sit doek oor en deksel op Maak dig toe in kartondoos uitgevoer met koerante, kastrol toegedraai in kombers.
Laat staan oornag op 'n lou plek of sit later 'n warmwatersak by! (Mamma
het 'n Aga- stoof gehad wat mos heel nag lekker warm gebly het)
Volgende Oggend oorsuur:
Klits 1 koppie afgekoelde gekookte water in
Laat staan ±i uur in lou oond of warm toegemaak.
As dit nog nie rys nie, roer 1 sakkie suurdeeg in
Die suurdeeg is reg as skuim bo-op vorm.
Knie:
Meng die suurdeeg en meel, 3 E margarien, nog sout indien nodig
1,5 - 2 liter warm water om mee aan te maak en knie deeglik
Laat rys, knie af, dan in panne en laat rys weer, en bak by 180ºC vir 40 - 45 min.
Hoop dit werk! Seënwense!


Aartappel Suurdeegplantjie

Probeer gerus so maak:
Rasper 1 aartappel baie fyn.
Voeg die volgende by:
2 teelepels suiker
1 teelepel sout
1 sakkie kitsgis - sommer hierdie 10g blou, groen of pers pakkies wat so 70 sent kos in supermarkte. Die pers rys baie goed, want dit het Vitamiene C in. Gooi dit dan in 'n glas houer / outydse can fruit bottel.
Maak vol met lou water (seker omtrent so 500 ml ) - te warm water sal die gis doodbrand en dan werk dit nie. Sit sommer 'n piering bo-op om toe te maak, want die aartappels gaan na boontoe styg en moontlik oorkook.
Dit moet die heeltyd by kamer temperatuur wees Dit is die teken dat dit gewerk het. - Jou plantjie is suksesvol.
As jy nou wil afskep om te bak, kan jy dit omroer en twee derdes gebruik om mee te bak. Die een derde wat oorbly, bly in die bottel en jy gooi dan net die suiker, sout, aartappel en water weer by.