Dik groentesop
Ertjiesop
Kerrie botterpampoensop
Lensiesop
Wortel en aartappelsop
Boontjiesop met spekblokkies
Outydse bonesop
Butternut sop
Kluitjiesoep
 

 
 
  Dik Groentesop (1 groot Kastrol)

½ kg 'Lean' Maalvleis
½ kg 'Chuck' - blokkies gesny
¾ Pakkie of Boksie 4 in 1 sopmengsel
1 kop fyn gesnyde seldery
½ kop fyn gesnyde pietersielie
1 groot gerasperde ui
2 groot gerasperde aartappels
1 groot gerasperde tamatie
1 kg gerasperde wortels
1 Blikkie boontjies in tamatiesous 'Bakebeans' (Om te verdik)
1 Pakkie groentesoppoeier aangemaak in 1 kop water (Om te verdik)
sout en peper na smaak.

Metode:

1. Kook 'chuck', maalvleis, sopmengsel, seldery, pietersielie, uie, tamatie en wortels totdat die vleis sag gekook is. Die vleis kan vooraf ook sag gekook word vir 'n rukkie. Hou die kastrol sowat ¾ vol met water soos jy kook. (Sowat 'n uur tot 'n uur en half)
2. Gooi gerasperde aartappel by en kook tot sag saam met die res van die sop.
3. 'Mash' die 'bakebeans' fyn en gooi by die res van die sop en ook die soppoeier wat aangemaak is met 1 kop water - kook vir nog so 20 min totdat alles deurgekook is. Gooi sout en peper by na smaak.
4. Die sop vries ook baie lekker en dit smaak altyd baie lekkerder as dit gevries was - weet nie hoekom nie.

Ertjiesop

15 ml. sonneblomolie
1 ui ( geskil, gekap )
125 g. spekvleis ( gekap )
1 knoffelhuisie ( gekneus )
2 ml. vars neutmuskaat ( gerasper )
250 g. split-ertjies
1,5 Liter groente-aftreksel
sout en peper
2,5 ml. suiker
150 ml. room
vars pietersielie vir garnering ( gekap )

Verhit olie en soteer ui daarin tot sag en deurskynend. Voeg spekvleis by en braai tot dit begin bros word. Voeg knoffel by en roerbraai vir sowat 1 minuut. Roer neutmuskaat, ertjies en aftreksel by. Bedek en laat prut vir 1 uur of tot ertjies sag is. Geur na smaak, roer suiker en room by en verhit tot deurwarm. Garneer met pietersielie.
Indien verkies kan 250 g. jambon-ham, in blokkies gesny, saam met ertjies bygevoeg word.
Split-ertjies is geel of groen en het 'n soeterige smaak. Kook saam met uie en wortels en geur met 'n lourieblaar en grof gemaalde sout en peper - 1 1/2 uur vir geweekte en 2-2 1/2 uur vir ongeweekte ertjies. Split-ertemoes is heerlik saam met peperwortel - roomsous en garnale.


KERRIE BOTTERPAMPOENSOP

1 kg botterpampoen, geskil en in blokkies gesny
1 liter hoenderaftreksel
30g botter
1 fyngekapte groot ui
2 koppies opgesnyde knopiesampioene
1 eetlepel matige tot medium kerriepoeier
20ml koekmeelblom
2 teelepels sagte bruinsuiker
Knippie borrie
1 maat brandewyn
150g natuurlike joghurt

Stowe botterpampoen in hoenderaftreksel tot gaar. Smelt botter in 'n pan en braai die ui & sampioen daarin to sag. Voeg meel & kerriepoeier by die ui-mengsel & roer oor lae hitte vir ongeveer 4 minute. Voeg die ui-mengsel by die botterpampoen & bring sagkens tot kook.
Purée as jy 'n gladde sop wil hê. Voeg sout, swartpeper & bruinsuiker by. Roer die joghurt en brandwyn by, maar moenie laat kook nie. Bedien warm. (Genoeg vir 4 - 6)


Lensiesop

1 pakkie bruin lensies
2 pk sopgroente (wat mens in die groentewinkels kry)
1-2 pk sopbene (maw 2-4 sopbene na gelang van wat jou beursie sê)
2-4 aartappels (die soort wat maklik blus, waarvan mens kapokaartappels
maak)
geurmiddels

Gooi die vleis en sopbene in 'n 5 liter kastrol wat driekwart met water gevul is. Plaas op die stoof en laat solank vinnig kook terwyl die groente gekerf word. Ek rasper sommer alles wat gerasper kan word op die growwe kant van die rasper. Die res kerf ek fyn - met die hand of voedselverwerker.
Moenie te veel rape ingooi nie. Ek vind dit maak die sop efffens bitter. Sodra die groente klaar gekerf is, gooi ek dit by die res in die pot en laat stadig kook. Soms hou ek die aartappels uit tot so 20 minute voor ek dit opskep om te keer dat die aartappels heeltemal fyn kook.
Vul maar nou en dan aan met water indien nodig. Gooi sout, peper, Aromat, Worcestersous, tamatiesous of -pasta na smaak by. 'n Tritseltjie blatjang is ook nie onvanpas nie - pasop vir te veel anders gee dit die sop 'n soeterige geurtjie.


Wortel en aartappelsop

2 koppies rou aartappels (blokkies)
2 gekookte wortels (in blokkies gesny)
I ui
2 koppies kookwater
4 eetlepels botter
1 teelepel suiker
2 koppies melk
1 eetlepel meelblom
1 teelepel sout
peper na smaak

Maal die ui en braai in helfte van botter totdat dit 'n ligte goudkleur het.
Voeg aartappels en kookwater by en kook vir 15 minute of totdat die aartappels sag is.
Meng meelblom met res van botter. Voeg die wortels, melk en meelblom by en kook vir 5 minute totdat dit dik is.
Bedien met gekapte pietersielie.


Boontjiesop met spekblokkies

500g pakkie droë suikerbone, oornag geweek in koue water
250g gerookte spek, in blokkies gesny,
1 varkpootjie
2.5 liter water
1 groot ui gekap
1 wortel, grof gerasper
65g (1blikkie) tamatiepasta
2 lourierblare
6 wonderpeperkorrels
3 kruienaeltjies
‘n paar gekapte takkies pietersielie
10ml bruinasyn
sout en varsgemaalde swartpeper
2 knoffelhuisies skoongemaak
olyfolie

Spoel bone af onder koue water en dreineer. Dompel varkpootjie vinnig in kookwater en was goed af. Skep spek in ‘n groot kastrol en braai oor lae hitte tot bros. Skep uit. Braai vark pootjie in dieselfde kastrol tot bruin alkante. Skep bone by varkpootjie in kastrol en voeg water by. Verhit tot kookpunt, en skep skuim af met gaatjieslepel. Voeg res van bestanddele tot em met bruinasyn by, verhit tot kookpunt, verlaag hitte en laat stadig prut met deksel op kastrol vir sowat 2½-3ure of tot bone sag is. Geur na smaak met sout en swartpeper. Verwyder varkpootjie en druk sommige van die bone fyn met ‘n aartappeldrukker. Proe en geur na smaak indien nodig.


Outydse Bonesoep:

Bestanddele:
2 pond Beesvleis      1 Blaartjie Foelie
¼ pond Varkspek      1 Bossie Suring
1 pond Witbone        Omtrent 3 kwarte koue water
1 Ui                         Sout en peper na smaak
1 Bossie Pietersielie

Metode:
Bone word oornag in koue water geweek. Sny vleis in mooi stukkies, maar nie die spek nie. Sny ui in ringe en smoor in botter. Kap suring en pietersielie fyn. Kook nou al die bestanddele goed tesame omtrent 3 – 4 uur. Roer af en toe. Indien nodig voeg meer water by


Butternut Sop

700 g butternut
1 ui, gekap
2 of 3 aartappels, in blokkies
1,25 liter hoenderaftreksel
10 ml gedroogde tarragon (of dragon op afrikaans) opsioneel
sout en peper na smaak
125 ml room of melk

Braai die ui en voeg die aartappel, butternut en tarragon by. Braai vir 'n klein rukkie. Voeg dan die hoenderaftreksel by en kook tot die groente sag is. Versap of druk fyn en geur na smaak. Voeg die room of melk by net voor opdiening.


Kluitjiesoep
Bestanddele:
2 pond Beesvleis
4 – 6 pinte koue Water
2 blaartjies Foelie
6 Naeltjies
1 bossie Suring

Omtrent ½ - ¾ pond Meelblom vir die maak van die kluitjies, asook 1 eetlepel sagte vet en ‘n weinig droë  tiemie. Sout na smaak

Metode:
Sny die vleis in stukkies, sit op in die koue water, voeg nou al die ander bestanddele by, behalwe die kluitjies, laat goed kook omtrent 3 – 4 uur lank. ‘n Gesmoorde ui kan ook bygevoeg word.
Meng nou die meelblom met die tiemie en sout na smaak, maak ‘n holte in die middel en gooi die vet daarin. Skep nou van die kokende vloeistof uit die soeppot en maak die kluitjies daarmee aan. Kluitjies moet ‘n “slap deeg” wees. So vinnig as moontlik moet nou gewerk word. Vorm kluitjies met twee teelepeltjies en gooi dadelik in die soep. Maak teelepeltjies af en toe nat in die kokende soep. Sodra kluitjies opkom, is hulle gaar en moet soep dadelik opgedis en bedien word.