Tipsy tert
Vinnige en maklike melktert
Apelliefietert
Appeltert
Kremoratert
Kerriesouttert
Rugbytert
Appeltert (lae kilojoule)
Suurlemoemn meringue-tert
Paptert
Korslose ham en kruie souttert  
Eier souttert  
Kaas en hamtert  
Korslose kaastert  
Snoektert  
Boeliebief souttert  
Pynappel yskastert  
Kondensmelktert  
Korslose melktert  
Pepperment-crisp karameltert  
Piesang tert  
Griekse vlatert  
Gemmer tert  
Gemmer yskastert 
Cremora yskastert 
Aarbei tert 
Maklike tertkors
Soet tertkors
Lekker tertkors

 
 
  Tipsy Tert

Maak eers die sous en laat afkoel voor gebruik. 

Sous:
375ml suiker
300ml water
5ml sout
12,5ml botter
Kook saam vir 10 minute. Verwyder van hitte en voeg 125ml brandewyn by

Tert:
500ml gesnipperde dadels
5ml koeksoda
250ml kookwater
375ml meelblom
250ml suiker
50ml botter
125ml okkerneute en glanskersies
1 groot eier
Gooi kookwater en koeksoda en voeg botter by. Klop suiker en eier. Roer droë bestandele in en voeg dadel mengsel by. Meng goed deur. Gooi in goed gesmeerde bakskottel. Rangskik neute en kersies bo-op. Bak by 180°C. Wanneer gaar, prik koek me 'n dik breinaald en goei afgekoelde sous oor. Versier met stryfgeklopte room, indien kersies en neute nie as versiering gebruik is nie.

Vinnige en Maklike Melktert

1 Blik Kondensmelk
6 Eetlepels Mazina
1 eetlepel Botter
1 Teelepel Vanilla Essence
2 Koppies Water
2 Eiers Geskei.

Verhit Kondensmelk en water tot kookpunt. Maak Mazina aan met bietjie water.
Voeg by kondensmelk en laat kook tot dik. Voeg botter en Vanilla by.
Verwyder van hitte voeg eiergele by. Kook weer tot gaar.
Verwyder weer van hitte en voeg styfgeklitste eierwitte by.
Voeg in tertkors van tennis beskuitjies.
Bak in oond by 180grade.vir 30 min.


Appeliefietert
Kors :
1 pakkie ( 200 g.) Mariebeskuitjies, fyngedruk.
60 ml. ( 1/4 kop.) botter of margarien, gesmelt.
45 ml. ( 3 eetl.) kondensmelk.

Vulsel :
1 blik appelliefies.
koue water.
80 ml. ( 1/3 kop.) vlapoeier.
45 ml. ( 3 eetl.) botter of margarien.
250 ml. ( 1 kop.) kondensmelk.

Smeer 'n 23 cm-tertbord met botter of bespuit met kleefwerende kossproei. Meng die krummels, gesmelte botter of margarien en kondensmelk en druk onder en teen die kante van die tertbord vas.
Verkoel tot benodig. Dreineer die appelliefies, maar behou die stroop Vul die stroop aan tot 500 ml. ( 2 kop.) met koue water. Maak die vlapoeier met 'n bietjie van die stroopmengsel aan tot 'n pasta.
Verhit die stroopmengsel tot net onder kookpunt, voeg daarvan by die vlamengsel, roer goed en giet alles terug in die kastrol. Verhit tot kookpunt en laat prut tot verdik en gaar. Verwyder van die hitte en roer die botter of margarien by. Roer die kondensmelk en appel -
liefies versigtig by. Giet in kors en verkoel tot ferm. Geniet met styf geklopte room indien verkies. Lewer 1 medium tert.


Appeltert - (Dit is 'n ou resep, so daar word nog in koppies (250 ml), eetlepels (15 ml) en teelepels (5 ml) gemeet.)

1 Koppie Bruismeel
2 eiers
knippie sout
1 blik tertappels (normale grootte)
1 koppie suiker
2 Eetlepels gesmelte botter
¼ koppie melk

Sous
1 klein blik Ideal Milk
1 Teelepel Vanielje Essens
1 koppie suiker

Meng suiker, eiers, botter, sout en melk saam.
Sif meel en meng bietjie-bietjie saam in suikermengsel.
Gooi mengsel in bak en skep appels oor mengsel.
Bak in oond 180°C vir ¾ uur. (Na 'n halfuur kan die oondtemperatuur
na 150°C verlaag word om te voorkom dat die tert te donker word.)

Metode (sous)
Gooi alles saam in pot en bring tot kookpunt Gooi warm sous oor tert sodra tert uit die oond kom.

Die beslag is genoeg vir 'n normale ronde tertbak. Indien 'n kleinerige vierkantige bak (± 20cm x 15cm) gebruik word, moet resep dubbeld aangemaak word.


Cremore tart

3 koppies Cremorapoeier.
1½ koppies kookwater.
1 blikkie kondensmelk.
halwe koppie suurlemoensap.
1 pakkie Tennisbeskuitjies.

1. Meng 3 koppies Cremorapoeier op 1½ koppie kookwater saam. Laat afkoel (sit in vrieskas verkieslik)
2. Klop met klitser tot styf.
3. Voeg die kondensmelk by en direk daarna suurlemoensap.
4. Skep in twee tertborde wat met tennisbeskuitjies uitgepak is.
5. Krummel van die beskuit wat oor is, oor die tert.
5. Dit is beter as u 'n vierkantige bak gebruik. Verskillende lekkernye kan bo-oor gesit word.
Ek het hierdie gebruik as 'n nagereg vir 'n braai. Saam met die tert het ek spanspek gegee.


Kerriesouttert

Kors :
250 g. margarien.
1 tl. bakpoeier.
2 kop. meelblom.
1/2 kop. kookwater.
Gooi kookwater oor margarien. Laat afkoel en roer meel en bakpoeier
in. Meng deeglik en bêre in koelkas tot nodig.

Vulsel :
500 g. maalvleis.
1 groot ui, gerasper.
2 aartappels, gerasper.
sout en peper.

Kook al die bestanddele vir 10 minute. Meng 1 eetl kerrie, 1 eetl. klapper en 1 eetl. bladjang. Voeg by kokende vleismengsel. Vul ongebakte kors en bak 20 minute in warm oond.


Rugby tert

1 1/2 kop. meelblom.
1 eier.
1 kop. melk.
knippie sout.
1 kop. suiker.
3 eetl. botter.
2 tl. bakpoeier.

Room botter en suiker en voeg eiers een vir een by. Sif droë bestanddele saam. Voeg melk en droë bestanddele om die beurt by die eiermengsel. Smeer 'n lang pyrexbak en plaas deegmengsel in. Bak in oond teen 180 Grade C. Wanneer gaar druk gaatjies met 'n vurk en gooi 'n 1/2 kop. gesmelte botter oor. Smeer marmite dun oor en rasper 'n lagie cheddar kaas oor.


Appeltert

250 g koekmeel
10 ml bakpoeier
2 ml sout
60 ml margarien
1 eier, geklits
125 ml afgeroomde melk
10 ml Natreen vloeibare dieet versoeter
80 ml water
5 ml vanilla geursel
300 g tertappels

Sif meel, bakpoeier en sout saam.
Vryf margarien in.
In 'n aparte mengbak, meng die melk, water, eier, versoeter en vanilla geursel. Voeg by droë bestanddele en meng goed.
Spuit 'n tertbord met "Spray & cook"", en skep mengsel in bord.
Rangskik appelskywe bo-op deeg.
Bak 25 minute teen 200°C.
Bedien warm met dieet roomys of ligte vla.
In die plek van appels, gebruik ook ander vrugte.


Suurlemoen meringue-tert

Ek gebruik 'n beskuitjiekors - 3/4 pakkie Marie beskuitjies en 80 ml margarien, gesmelt.

397g-blikkie kondensmelk
125 ml suurlemoensap
3 eiers, geskei
125 ml strooisuiker
5 ml asyn
15 ml mielieblom (Maizena)

Voorverhit die oond tot 180oC. Berei die kors en druk dit vas in 'n tertbord. (Ek maak altyd my meringue eerste, dan hoef ek nie nog die klitsers te was voor ek die gele berei nie - regte lui huisvrou!)
Klits die eierwit, en voeg die strooisuiker geleidelik daarby tot dit styf is. Klits nou die asyn en mielieblom by.
Klits die eiergeel saam met die kondensmelk en suurlemoensap. Gooi dit in die tertkors. Skep die meringue bo-op.
Bak vir 10 minute of tot ligbruin.(Nie veel langer nie, anders word die meringue taai en dit kan brand.)
Verkoel voor opdiening (indien verkies).


Paptert met sampioen, spek en kaasvulsel

Die resep is genoeg vir 6 – 8 persone

Bestanddele vir die stywepap (1)
4 koppies water
2 teelepels sout
2 eetlepels botter
2 ½ koppies mieliemeel

Giet water in ‘n potjie, voeg sout en botter by en bring tot kookpunt
Giet mieliemeel by om ‘n hopie in die middel van die pot te vorm maar moenie roer nie.
Verminder hitte plaas deksel op potjie en laat pap 5 minute prut.
Roer liggies met ‘n vurk, plaas deksel terug en prut vir nie meer as nog ‘n uur nie.

Bestanddele (2)
250 g spekvleis - fyngekap
300 g sampioene, gekap
½ koppie room
250 ml gerasperde Cheddarkaas
1 blik heelpitsuikermielies
varsgemaalde swartpeper
ekstra gerasperde kaas

Voorbereiding en gaarmaak
Maak stywepap en laat afkoel.
Braai spekvleis in eie vet tot bros in swaarboompan.
Voeg sampioene by en braai liggies.
Roer dan room, kaas, mielies en peper in.
Rangskik pap en sampioenvulsel in lae in oondvaste bak, met die vulsel bo-op.
Strooi ekstra kaas oor.
Bak so 30 minute teen 180 ˚C


Korslose ham en kruie souttert

250 ml gekapte pietersielie
125 ml gekapte sprietuitjies
62 ml gekapte oreganum
150 g gaar ham, in blokkies gekap
3 eiers
250 ml melk of joghurt
5 ml sout
2,5 ml vars gemaalde swartpeper
30 ml botter
250 ml vars broodkrummels
125 ml gerasperde kaas

Kap die kruie baie fyn in 'n voedselverwerker. Voeg die ham by en kap grofweg. Voeg die eiers, melk, sout en peper by en meng net deur. Smeer 'n ronde tertbord van 25 cm in deursnee mildelik met botter. Sprinkel die helfte van die broodkrummels in die bak. Kantel en skud om die kante en boom goed te bedek. Gooi die eiermengsel in die bak. Smelt die orige botter, voeg die res van die broodkrummels by, en meng deur. Voeg dan die kaas by en meng deur. Sprinkel die krummel mengsel oor die eiermengsel in die bak. Bak 30 minute lank by 180C tot net gestol en effens goud bruin bo-op.


Eier souttert

4 tamaties geskil, en in dik skywe gesny
1 ui, fyn gekap
25ml vars pietersielie, fyn gekap
6 hard gekookte eiers, afgedop, in skywe gesny
50ml droë broodkrummels
12.5ml botter of margarien
6 eiers, geklits
5ml sout
1ml varsgemaalde swartpeper
250ml room
100ml bier
1ml rooipeper (opsioneel)

Voorverhit die oond tot 180C. Rangskik die tamatieskywe op die boom van ‘n goed gesmeerde oondskottel. Strooi die ui en pietersielie oor die tamatieskywe en rangskik die eierskywe bo-op. Strooi die broodkrummels oor die eierskywe en stip dit met die botter of margarien. Klits die res van die bestanddele saam en gooi dit versigtig oor die inhoud van die oondskottel. Bak dit 45-50 minute lank op die middelste oondrak totdat dit ferm is. Bedien dit warm met ‘n mengelslaai.


Kaas en hamtert

30 ml botter
30 ml koekmeel
10 ml gegeurde seesout
'n knippie rooipeper
5 ml droë mosterd
375 ml karringmelk
250 g ham, of weense worsies in dun repies
250 ml cheddar kaas, grof gerasper
30 ml fyn gekapte pietersielie
3 eiers, geklits
pasteideeg

Bak die pasteideeg 10 minute sonder vulsel by 220 C. Verhit die oond tot 180 C. Meng die botter, meel, sout, rooipeper en mosterd oor lae hitte. Roer die karringmelk by en meng glad. Roer en kook 2 minute, verwyder van die hitte. Laat effens afkoel. Roer die ander bestanddele by. Skep die vulsel in die vooraf gebakte pasteikors. Bak 45 minute tot mooi bruin en pofferig.


Korslose kaastert

15ml botter of margarien
6 eiers, geklits
125ml gerasperde Cheddarkaas
2 tamaties, geskil en grof gekap
5ml sout
1ml varsgemaalde swartpeper
12.5ml vars gekapte pietersielie
1 spekvleisrepie, swoerd verwyder & gekap

Voorverhit die oond tot 180C. Verhit die botter of margarien in ‘n swaarboombraaipan. Meng die res van die bestanddele en voeg dit by die gesmelte botter of margarien. Meng alles goed saam. Gooi die mengsel uit in ‘n goed gesmeerde oondskottel en bak dit 35-40 minute lank op die middelste oondrak totdat dit ferm is.


Snoektert

500g gerookte snoek
2 groot uie, in dun ringe gesny
45ml botter of margarien
125g Cheddarkaas gerasper
6 meduim aartappels, gekook, geskil, in skywe
sout en varsgemaalde swartpeper
1 groot tamatie, in skywe gesny
375ml room of dun witsous
15ml gerasperde Parmesaan of Cheddarkaas
125ml vars broodkrummels
klein bietjie botter of margarien.

Verwyder vel en grate en vlok die vis. Braai uie in botter of margarien tot sag. Plaas ‘n laag aartappels in ‘n gesmeerde oondskottel, voeg ‘n paar uieringe by en skep ‘n bietjie vis daarop. Strooi kaas bo-oor. Geur met sout, indien nodig, en ‘n goeie skoot gemaalde peper. Herhaal lae en eiendig met aartappels. Rangskik tamatieskywe bo-op. Giet room of witsous oor en werk dit met ‘n kleinerige lepel deur tot op boom van skottel. Meng res van kaas en broodkrummels, strooi bo-oor en stip met botter of margarien. Bak ongeveer 35 minute lank by 180C of tot goed warm en goudkleurig.


Boeliebief souttert

3 snye witbrood, korsies verwyder
375ml melk
1x300g boeliebief
1 ui, gekap
15ml olie
250ml gerasperde kaas
3 ekstra groot eiers, geklits

Voorverhit oond tot 190C en smeer ‘n medium tertbord met botter of bespuit met Spray & Cook. Meng al die bestanddele en keer uit in tertbord. Bak vir 30-45 minute tot goudbruin en gestol. Bedien met ‘n slaai.


Pynappel yskastert

1 pakkie tennisbeskuitjies
125ml appelkooskonfyt
25ml sjerrie
1 pakkie suurlemoenjellie
250ml kookwater
397g (1blik) kondensmelk
440g (1blik) fyn pynappel
geklopte room vir versiering

Smeer tennisbeskuitjies met appelkooskonfyt en plaas 2 opmekaar. Plaas in 200mm vierkantige bak. Sprinkel sjerrie oor die beskuitjies. Los jellie op in kookwater, en voeg die kondensmelk en fyn pynappel by. Gooi oor beskuitjies en laat afkoel. Versier met pynappel en room of sprinkel beskuitjiekrummels bo-oor.


Kondensmelktert

1 x 397g blik kondensmelk
3 koppies water
6 eetlepels mielieblom
2 eiers, geel en wit apart
1 teelepel margarien
1 teelepel vanielje geursel
tennisbeskuitjies

Verhit die kondensmelk en water. Meng die mielieblom met ‘n bietjie water en roer dit by die melk. Roer die mengsel tot dit dik word en verwyder van hitte. Voeg die geklitste eiergele by en laat die mengsel weer kook tot dit gaar is. Voeg die botter en geursel by. Pak ‘n laag beskuitjies in ‘n tertbord en gooi die helfte van die vulsel oor, dan nog ‘n laag beskuitjies met die res van die vulsel oor. Rol ‘n paar beskuitjies fyn en strooi bo-oor. Versier met kersies.


Korslose melktert

Maak 2 terte van 20 cm of 1 groot tert van 30 cm.

Min van ons kan 'n sny donsige melktert ryk met botter en geurige speserye weerstaan. U sal tyd bespaar deur nie 'n kors te maak nie - en meer as 'n paar kilojoules ook.

1 liter melk
½ kaneelstokkie
skil van ½ suurlemoen of lemoen
45 ml botter
250 ml koekmeel
250 ml suiker
1 ml sout
7,5 ml bakpoeier
4 eiers, geskei
2,5 ml amandelessens
10 ml fyn kaneel

Verhit melk, kaneel, suurlemoenskil en botter tot kookpunt en laat 20 minute trek. Meng meel, suiker, sout en bakpoeier. Dreineer melkmengsel en voeg by die eiergele. Klop melkmengsel by die meelmengsel. Voeg amandelessens by. Plaas mengsel terug op die stoof en verhit oor matige hitte tot kookpunt. Roer met 'n houtlepel. (Moenie bekommerd wees as 'n paar klonte vorm nie, klits dit glad met 'n klitser nadat u die eierwitte geklop het.)

Smeer tertbak mildelik met sagte botter. Sprinkel met brood-, koekie- of beskuitkrummels (of gebruik hawermout, muesli of wat ook al beskikbaar is). Klop eierwitte met 'n druppel asyn of suurlemoensap tot dit hul vorm behou en sagte punte vorm. Klits melktertmengsel om klonte te verwyder.

Vou eierwitte in die tertmengsel en gooi in tertbak(ke). Sprinkel met kaneel. Bak 25-35 minute by 190C (375F). Skakel die oond af en laat 15 minute in die warm oond afkoel. Sit warm of by kamertemperatuur voor.


Pepperment-crisp karameltert:

Die tert is vir diegene wat glo hulle kan nie bak nie. Dit is vreeslik maklik en vinnig om voor te berei en vind altyd groot byval.

1 x 380 g blik karamelkondensmelk
50 ml suurlemoensap
2 x 125 ml-sakkies Orley Whip
2 x 50 g-stafies pepermentsjokolade, gerasper
1 x 200 g-pakkie Tennis-beskuitjies

Meng karamelkondensmelk en suurlemoensap goed saam. Klits die Orley Whip tot styf en vou in die kondensmelkmengsel in. Smeer 'n langwerpige glasbak 20 x 30 x 5 cm, of bespuit dit met kleefwerende middel. Pak 'n laag beskuitjies op die boom van die bak en smeer 'n laag konden smelkmengsel eweredig oor. Sprinkel gerasperde pepermentsjokolade oor. Herhaal die lae totdat die beskuitjies en kondensmelkmengsel op is, eindig met 'n laag gerasperde pepermentsjokolade.
Plaas die tert in die koelkas.


Piesang tert

KORS:
200G Tennis beskuitjies
30ml suiker
2ml fyn kaneel
VULSEL:
3 klein ryp piesangs, fyngemaak
379g kondensmelk (1blik)
15ml suurlemoensap
1 eiergeel
50ml geroosterde klapper

KORS:
Maak ‘n krummelkors en voer ‘n 23cm losboomtertpan daarmee uit.
VULSEL:
Voorverhit die oond tot 200C. Meng alle bestanddele, behalwe klapper, giet in tertdop. Bak vir 30-40 minute lank of tot stewig. Sprinkel klapper oor.


Griekse vlatert

STROOP:
360ml suiker
2 kaneelstokkies
5ml suurlemoensap
375ml water
VULSEL:
1.5liter melk
180ml suiker
250ml botter
skil van 1 lemoen in repies, gesny
200ml semolina (Tasty Wheat)
6 eiergele, geklits
KORS:
500g filodeeg
100ml botter, gesmelt
12.5ml kaneelsuiker

Voorverhit die oond tot 180C. Smeer ‘n 36cmx26cm-oondbak met botter.
STROOP:
Kook suiker, kaneelstokkies, suurlemoensap en water vir sowat 10 minute tot dik en stroperig. Laat afkoel. Haal kaneelstokkies uit voordat stroop oor die tert gegiet word.
VULSEL:
Verhit melk, suiker, botter en lemoenskil oor matige hitte. Voeg semolina by net voordat die melk begin kook en roer aanhoudend totdat die vla dik en romerig is. Haal van stoof af. Laat effens afkoel voordat die geklitste eiergele bygevoeg word. Haal die lemoenskil uit.
KORS:
Sit ‘n vel filodeeg filodeeeg in die bak sodat die boom en kante bedek is. Verf die deeg met gesmelte botter. Herhaal die proses met nog 6 velle filodeeg. Skep vlavulsel op die deeg en bedek met nog 6 velle filodeeg wat elkeen met botter geverf is. Sny 2 velle filodeeg in dun repies. Versprei die repies oor die filobolaag en sprinkel ‘n bietjie gesmelte botter en kaneelsuiker oor. Bak vir 45-50 minute tot goudbruin. Giet koue suikerstroop oor warm tert. Sny in vierkante en sit louwarm voor.


Gemmer tert

KORS:
65ml wit margarien gesmelt
200g gemmerbeskuitjies, verkrummel

VULSEL:
40ml goue stroop
40ml gemmerstroop
300ml vlapoeier
40ml vlapoeier, aangemaak met
125ml styf geklitste room
75ml water
15ml gelatien, geweek in 25ml water
4 ingelegde gemmerstukke gekap

Meng die margarien en beskuitjiekruímels. Voer ‘n gesmeerde tertbord met ‘n deurnee van 200mm uit met die beskuitjiekrummels en bak die kors 10 minute lank in ‘n voorverhitte oond by 180C. Verhit die goue stroop, gemmerstroop en 300ml water tot kookpunt. Verhit dit. Voeg die vlapoeierpasta by die stroopmengsel en roer aanhoudend totdat die mengsel prut. Giet ‘n klein bietjie van die warm vla-stroop-mengsel in die kastrol en roer dit totdat die mengsel weer prut. Voeg die gemmerstukkies by en laat die mengsel effens afkoel. Skep die vulsel in die gaar tertkors en verkoel dit in die yskas tot gestol. Versier met roomrosies.


Gemmer Yskastert

1½ pakkie gemmerkoekies (200 g elk)
¾ koppie gouestroop
3 eetlepels vlapoeier
1½ koppie kookwater
Kook stroop en water saam. Meng die vlapoeier by stroop.
Breek gemmerkoekies in stukke.
Meng alles en gooi in 'n gesmeerde vorm en laat stol. Bedien met geklopte room.


Cremora Yskastert

500g sakkie Cremora
1 koppie yskaswater
2 blikkies kondesmelk
250ml suurlemoensap
1 pakkie tennisbeskuitjies
Gooi Cremora in mengbak. Voeg yskaswater by (dit moet yskaswater wees) en klits tot glad. Voeg kondesmelk bly en hou aan klits.
Voeg nou die suurlemoensap by, nie alles op een slag nie, anders word dit nie styf nie. Klits die heel tyd en gooi so kort-kort 'n spuit suurlemoensap by. Dit moet so ongeveer 15 min neem om die hele botteltjie in te spuit. Teen die tyd is die mengsel baie dik.
Pak tennisbeskuitjies in bak uit en skep mengsel bo-oop, en krummel beskuitjies bo-oor. Dit kan dadelik geëet word of in die yskas gebêre word vir later. 


Aarbei-tert

Beskuitjiekors: 1/2 pakkie Tennis beskuitjies + botter.
Vulsel: Verhit een koppie suiker en een koppie water.
Maak twee opgehoopte eetlepels maizena aan met water en voeg by mengsel.
Kook tot gaar en haal van stoof.
Voeg twee groot eetlepels aarbeijellie by en roer tot gesmelt.
Pak 250 gr. ryp aarbeie (afgewas) lekker styf in kors en gooi warm aarbeivla daar oor. Wanneer koud, plaas in yskas.
Versier net voor bediening met 125 ml. geklopte, versoete room.


Maklike tertkors

475ml volkoringmeel
15ml bakpoeier
3ml sout
75ml margarien, gesmelt
150ml melk

Meng al die bestanddele en knie dit goed. Druk dit in gesmeerde tertbord en laat dit 30 minute lank staan. Prik die kors en bak dit 10 minute lank in ‘n voorafverhitte oond van 200C. Alternatiewelik kan ‘n vulsel op die rou kors geskep word. Stel dan die temperatuur na 10 minute na 180C en bak die tert totdat die vulsel gaar is.


Soet tertkors

12.5ml margarien
1 eier, geklits
250ml volkoringmeel
10ml bakpoeier
knippie sout
37.5ml suiker
50ml melk

Room die margarien en voeg die geklitste eier by. Meng die volkoringmeel, bakpoeier, sout en suiker. Voeg dit by die eiermengsel en meng goed. Voeg die melk by en meng tot ‘n smeerbare deeg. Smeer die deeg in ‘n gesmeerde tertbord. Bak dit 10-15 minute lank in ‘n voorverhitte oond by 190C. As dit saam met die vulsel gebak word, stel die temperatuur na 10-15 minute laer na 160C, en bak dit tot die vulsel gestol het, afhangende van die tipe van vulsel.


Lekker tertkors

200ml botter, in stukkies gesny knippie sout
50ml yswater
520ml koekmeelblom

Meng die botter, sout, yswater en koekmeelblom goed en knie dit dan met die kneukels tot 'n gladde deeg. Draai die deeg toe in kleefplastiek en verkoel dit vir 2 ure lank in die yskas. Haal 15 minute voor gebruik uit die yskas. Rol die deeg liggies en voer 'n gesmeerde tertbord daarmee uit. Bedek die kors met waspapiersirkel en vul dit met droëbone. Bak die kors 10 minute blind (beteken onbedek) in 'n voorverhitte oond by 200ºC. Verwyder die droëbone en waspapier versigtig en bak dit nog 5 minute lank.