In die begin......die eerste rolprente

 
     
  Die mense sit ademloos in Parys en wag vir een van die eerste bewegende rolprente om te begin. Die ligte verdof... en dan gebeur dit... Mense stroom uit ‘n fabriek, ander mense loop in die straat verby. Oulik, maar nutteloos, sê die geldmanne. Wie wil nou na ‘n fliek kyk oor mense wat van links na regs oor ‘n rolprentdoek loop?

Maar toe die rewolusie. Die regisseur van THE GREAT TRAIN ROBBERY, Edwin S. Potter, laat ‘n trein in 1903 donderend op die kamera afstoom sodat dit lyk of die lokomotief die gehoor gaan plattrap. Pandemonium bars los. Mense vlug, vroue word flou, ander storm uit. En toe weet die vervaardigers: die era van die Groot Verbeelding is hier. Die nuwe uitvindsel sou ‘n rewolusie veroor-saak! En toe rig ‘n skurk sy rewolwer op die kamera rig en trek ‘n skoot af!

Mense in die teater kap om en die era van die fliek word gebore waar mense hulle so inleef in wat op die doek gebeur, dat hulle nie tussen werklikheid en illusie kan onderskei nie... Die kleinboet van die kunsvorms word ook die mees kragtigste en geliefde.... En in Suid-Afrika word die eerste rolprent op ‘n baie vreemde plek gebore.... agter... op ‘n ossewa.....

Die Anglo-boere-oorlog breek uit. En die publiek, honger vir nuus oor veldslae, soek inligting. En William Dickson is daar met die eerste kameras om die oorlog geskiedkundige oomblik vas te vang... Reuse, lomp kameras word agter op ossewaens geplaas en reis deur die slagvelde op soek na die stories agter die geweerskote. Mense sterf, kanonne skiet, soldate sterf en die kamera sien dit.

Dickson se ambisie as rolprentmaker dryf hom om CNN met dekades vooruit te loop, en die eerste nuusfilm ter wêreld te skiet en die eerste Suid-Afrikaanse rolprent word op film verewig. THE ANGLO BOER WAR begin in 1899 ‘n tradisie maak van film in S.A. wat ons een van die eerste lande te maak om ‘n logiese opeenvolging van beelde te verfilm, ‘n sg dokumentêr as jy wil wat sin maak. Dit word as een van die eerste rolprente ter wêreld gesien. William Dickson was Thomas Eddison se assistent.

En Eddison is hoeka die vader van die eerste rolprentbeweging. Drie dae nadat die oorlog uitbreek, ry hy met loodsware toerusting oor die 200 kilogram swaar, wat op ‘n ossewa staangemaak is, kyk hy deur die lens, sien die oorlog en verfilm boer teen Brit maar met ‘n simpatieke oog na Brittanje.

Hy reis van die slagvelde van Ladismith na Kaapstad, van Bloemfontein na Pretoria... En dis hier waar hy die statige hysing van die Union Jack met groot respek en eerbied verfilm. En waar hy die vordering van die Britse magte met ‘n skerp kamera-oog dophou.

Die eerste rolprente in S.A. was stilrolprente sonder klank. Jy kon ‘n speld hoor val in die reuse ou teaters. Soms het iemand klavier of orrel gespeel om die emosie van die beelde te probeer weergee. Een van die eerste aksieprente in 1910 was Rufe Taylor se opruiende storie oor wat toe in Suid-Afrika gebeur het: THE KIMBERLEY DIAMOND ROBBERY...

Die diamantstormloop na Kimberley is uitgebeeld as skurke probeer om die diamante te kaap en van die delwers af te vat. Die kamea was staties en die mense stokkerig, maar die beelde was daar. Terwyl hy aan THE KIMBERLEY DIAMOND ROBBERY gewerk het, het Taylor ook kort aktuele programme gemaak wat vandag bekend is as NUUSFILMS.

Dit was die voorloper van AFRICAN MIRROR, nuusfilms wat weekliks in teaters gewys is en wat die politiek en ander gebeure van die dag vasgevang en aan ‘n honger publiek gewys het... Mense kon eerstehands kyk na nuusprogramme oor die ontstaan van Johannesburg, die Johannesburg-staking van 1914 en die woeste heerskappy van die Foster-bende, alles in wit en swart, maar die beelde beweeg. Die mense waai vuis, skreeu kamera toe en gooi hul hoedens in die lug. En Rufe Taylor vang dit wys en vertoon dit aan die publiek wat skielik voel: Hulle is DAAR!!.

Terwyl D.W. Griffith se meesterstuk THE BIRTH OF A NATION in 1915 in Amerika opslae maak, pak Suid-Afrika een van sy eerste epiese rolprent aan. Dingaan moor die Trekkers uit. En die slag van Bloedrivier verander die rivier in rooi water. Die magnaat Isadore William Schlessinger gee geld vir DE VOORTREKKERS in 1916. Die doek was in twee verdeel met Afrikaanse titels aan die een kant en Engelse titels aan die ander kant. Generaal Louis Botha was een van die eerstes om die rolprent te sien. Hy was aangedaan en meegevoer en verklaar: “Dit is hoe dit gebeur het. DE VOORTREKKERS is historiese akkuraat!”

Schlessinger knap die EMPIRE TEATER op as een Johannesburg se fliekpaleis waar DE VOORTREKKERS kan wys. Gustav Preller skryf die draaiboek en tegnici plaas flitskaarte tussen gevegstonele en moedelose mense wat oor die Drakensberge trek en die sweep klap. ‘n Ervare Britse regisseur wat na S.A. verhuis, Harold Shaw wys die moedige stryd van die Voortrekkers teen die natuur, die Britte en die impi’s. Duisende ekstras word gebruik in van die grootste massatonele wat ooit in S.A. verfilm is.

Dick Cruikshandks met Tom Zulu as Dingaan was die eerste spelers wat opgetree het. Mense het verstom gekyk hoe reuse-skares krygers die Voortrekkers bestorm en omsingel en hoe hulle terugveg. Al was daar nie klank nie loop die emosies hoog. Mense skreeu aanmoedigings in teaters, vroue huil, kinders kyk met verstarde oë en die Groot Trek herleef weer. DE VOORTREKKERS beleef sy premiere op 16 Desember 1916 in die Krugersdorpse stadsaal waar duisende mense saamtrek. Die reaksie was oorweldigend. Mense sing en gee applous vir die eerste groot Afrikaanse rolprent. Die Paardekraal Monument word terselfdertyd in gebruik geneem. DE VOORTREKKERS word uit die perspektief van die Voortrekkers vertel en kritici vra: “Maar waar is die ander perspektief? Hoekom sien ons net die een kant van die saak?” Maar die publiek stroom na ons eerste lokettreffer: DE VOORTREKKERS. Skielik kry tam woorde in geskiedenisboeke viriele en potente BEELD wat beweeg.

Schlessinger, ‘n Amerikaner wat via Ierland Suid-Afrika toe gekom het, stig ons eerste rolprentmaatskappy African Amalgamated Theatres en bou ons eerste rolprentateljee waar die KILLARNEY WINKELSENTRUM duskant Houghton vandag staan: Die Killarney Rolprentateljees. En hier is vele Afrikaanse rolprente gebore.

Schlessinger dink: Maar sal dit nie nog beter wees as mense kan tee drink en toebroodjies eet terwyl hulle na nuus- en ander films kyk nie, en die vlooifliek of tearoom cinemas begin in 1925. En toe dink Schlessinger: Hoe gaan ek mense trek om terug te kom? Hoe prikkel ek hulle nuuskierigheid en:

Hy kry die idee om kort uittreksels en hoogtepunte uit films te wys wat nog kom. En daar’s hy: die lokfilm word in S.A. gebore.
Wat mense aan DE VOORTREKKERS geraak het en in twee kampe verdeel het, was die woeste baarde van die mans, die uitspattige voortrekkerrokke van die vroue en die wreedheid van die Zoeloes wat glo oordoen was. So erg was die gevegte oor die kostuums op stel dat van die spelers die kostuums uitgetrek het en geweier het om verder aan DE VOORTREKKERS te werk omdat dit hul voorouers kwansuis sou verkleineer.

DE VOORTREKKERS was asemrowend suksesvol en baan die weg vir ander soortgelyke rolprente. THE SYMBOL OF SACRIFICE volg in 1931. Maar dit was die storie van ‘n nooi onder ‘n groen doringboom in die ou Transvaal, SARIE MARAIS in 1931, wat saam met MOEDERTJIE kop en skouers uitstaan as ‘n baanbrekerrolprente wat ‘n trotse Afrikaanse rolprentkultuur laat ontstaan het.  Hier was Afrikaanse stories oor Afrikaanse mense wat die Afrikaanse kultuur bevorder het.
ESTELLE: O Johan. Ek het jou lief en ek sal jou altyd liefhê. Ek sal altyd net jou Sarie wees.... En toe... ‘n wagkamer... ‘n stasie... twee bedroefde ouers.... ‘n vrou van skynbaar losse sedes... ‘n polisieman... en die verlore seun wat terugkom... almal wag vir.... DIE TREIN....

Hennie-Boet het geld gesteel.... hy is uit die tronk vrygelaat... en hy keer terug na sy ou grysaard van ‘n pa en sy moedige ma om ‘n bekentenis te doen.
MOEDERTJIE het die volk aangegryp met sy tragiese uitbeelding van ‘n ouerpaar wat in ‘n stasiewagkamer katkisasies met die verlede hou. En skielik is sy daar.... ‘n vrou met kaal arms en te veel grimering wat doelloos voor haar uitstaar. Hennie Boet is nog nie daar nie... Die pa stap nader en spreek die dame versigtig aan.
 As ek nog ‘n jongkêrel was ----

Die spel in Moedertjie, veral van Stephane Faure as die ma en Joan du Toit as die meisie was oordrewe, oorgeartikuleer en met ‘n deklamering vir die agterste sitplekke in ‘n leë teater. Die handgebare was groot en oordrewe. Die gesigte in profiel vir die kamera, die uitdrukkings oordadig pynlik. Maar hulle het AFRIKAANS gepraat en het die feit betreur dat ‘n boereseun deur die stad en bendes verlei is om die spoor byster te raak, geld te steel en in die tronk te beland.

MOEDERTJIE word ingelei deur ‘n flitskaart wat sê:
‘n Klankrolprentverwerking van IN DIE WAGKAMER deur J F W Groskopf. 1914. Weggeskuil in die harjie van die Bosveld staan die huisie van Tante Koester...

In die rol van die tragiese Hennie Boet is die vader van die Afrikaanse rolprent. ‘n Akteur wat later talle rolprente as regisseur sou vervaardig EN DIE Afrikaanse rolprent na ‘n volgende vlak van vermaak sou neem: PIERRE DE WET. Sy karakter, Hennie, sou aan die einde van Moedertjie, soos Anna Karenina, hom uit skaamte voor die trein werp .omdat hy sy ouers en nooi wat hy in die steek gelaat het en wie se hart hy gebreek het.... nie langer in die oë kon kyk nie. Stephane Faure in swart rok en Voortrekkerkappie treur oor die onregverdigheid van die lewe en die tragedie van ‘n verlore seun wat deur die stad en bendes verlei is.

Sarie Marais, sê die destydse filmmakers, was die naaste wat die Boerevolk aan ‘n tweede volkslied sou kom. Sarie, wat so ver van my af woon nog voor die oorlog het begin se tragiese verhaal moes vertel word. In beeld en in Afrikaans.
Destyds het die storie gegaan oor ‘n Krygsgevangene Jan ( William Matthews, wat terugkom S.A. toe na die Anglo-Boere-oorlog. Joan du Toit, ook in Moedertjie, is die treurende Sarie. Jan droom van die dag wat hy na sy eie Sarie Marais sou teruggaan wat onder ‘n doringboom by ‘n idilliese waterval, suiwer in haar liefde en verlatenheid, op hom sou wag.
Jare later, in 1949, sou C FRANCIS COLEY dieselfde storie neem en dit “moderniseer” met Helen Faul as Sarie, Johann Nell as die boereseun Johann, Anna Cloete as Aletta en ‘n jong Wena Naude as tant Annie. Musiek deur Hendrik Susan en sy orkes en die draaiboek: C J Hattingh. Terwyl hierdie musiek speel wys die kamera die skoonheid van S.A. tot dit stop by die groen doringboom in die Ou Transvaal.

Die mees gewaagde deel van die rolprent was Helen Faul wat kaal in die rivier geswem het en per ongeluk deur ‘n geskokte maar aangenaam verraste Johann gesien is. Na verskeie misverstande en liefde wat nie wil sterf nie, sterf Johann in ‘n skermutseling met die vyand en Sarie word blind.

Nasietrots moet versterk word, sê die Afrikaner. In 1938 voltooi AFP PRODUCTIONS DIE BOU VAN ‘N NASIE. Dit sou ons beeld in die buiteland versterk en word gemaak ter viering van die inwyding van die Voortrekkermonument. Geld is geskenk deur die S.A. Spoorweë en Hawens. Die rolprent begin met Bartolomeus Diaz se besoek in 1486 en eindig met Uniewording in 1910. Die eerste titels spel presies waaroor die rolprent sou gaan:
 “Hierdie is a sage van hoë ideale en stoere deursettingsvermoë, die storie van die mak maak van ‘n woeste land, die tem van woestaards en die bou van ‘n nasie.”
Die rolprent beleef sy glanspremiere vol hoogwaardigheidsbekleërs op 29 Mei 1939 in die Empire Teater. Dit word gevolg deur “‘n Nasie hou koers” in 1940 deur Dr. Hans Rompel toe 8 nabootsings van Groot Trekke uitgebeeld is. Die plakkaat wys ‘n trotse boer met ‘n veldhoed, gespierde arms en ‘n fakkel wat opkyk na die toekoms en aankondig: ‘N NASIE HOU KOERS.

In hierdie dae word nog reuse-teaters gebou soos die Colosseum in Jhb en die Alhambra in Kaapstad. Die eerste advertensies word in 1938 geskiet toe William Boxer die Alexander Rolprent ateljees stig en advertensies verfilm. Hier kon mense in gerief kyk na die volgende Afrikaanse rolprent: J Sinclair se DOGTER VAN DIE VELD in 1933 oor ‘n Voortrekkermeisie, Sannie Grobbelaar en haar ouers wat in die wrede Afrika probeer oorleef teen die aanslae van die natuur.

Nog rolprente oor die Voortrekkers volg soos ONS STAAN ‘N DAG OOR in 1942, gegrond op die ware verhaal van twee kinders wat in die wildernis verdwaal en deur ‘n Boesman gered word. C.J. Langenhoven se DONKER SPORE met Gideon Roos en Esther Mentz volg in 1944, en daarna kom PINKIE SE ERFENIS in 1946 en DIE WILDSBOUDJIE in 1946.

Maar het Afrikaanse rolprente net bestaan uit snuif en trane? VADERTJIE LANGBEEN het ook ‘n tragiese agtergrond gehad, maar hier word ‘n ontroerende storie vertel van die Sonskynweeshuis waar Gertruida Adendorff deur ‘n weldoener, Vadertjie Langbeen gered word wat sy nooit ontmoet tot aan die einde nie. Hy help haar om koers te kry....