|
||
Rolprente van die Jare 70 |
||
In hierdie episode van DIE AFRIKAANSE ROLPRENT GISTER EN VANDAG, 2 rolprente wat die Afrikaanse horison aansienlik verbreed en verryk het, en nog melodramas en verfilmde radioverhale. SARAH in 1974 is een van die beste Afrikaanse films nog. Dit het ‘n beperkte uitreiking geniet en het nie eers ‘n duik by die loket gemaak nie. Maar as ‘n aardse, getemperde en onderspeelde film oor verbode liefde en versugting, staan hy sy plek vol as ‘n mylpaal. SARAH onder regie van Gordon Vorster met homself in die hoofrol in die hoofrol, teenoor ‘n besielende Trix Pienaar, gaan oor ‘n moordenaar wat Noord-Kaap toe vlug en by ‘n weduwee op ‘n plaas tussen die duine beland. Hy moet haar help om die plaas weer op te bou. Hulle raak geheg aan mekaar en besef later dat hulle mekaar lief het. Maar wat gebeur as Sarah, uitvind van Karel se verlede. FC Hamman is die kameaman, Gordon Vorster, bekend vir PAPPA LAP, skryf ook die draaiboek en Sonja Heroldt sing die temalied. Die landelike tonele word liries deur FC Hamman se kamera vasgevang. Die woestyn het nie sedert Jamie Uys se DIRKIE so beeldskoon gelyk nie. Maar dit was die ongedwonge, natuurlike dialoog en die onderspeelde vertolkings wat SARAH gekenmerk het. Ek dink nie Afrikaans het al ooit so mooi geklink soos wanneer Trix Pienaar praat nie. Maar dan ‘n stimulerende tegniek: Gordon Vorster vertel ook die verhaal van die liefde tussen twee Koi Boesmans wat op die plaas bly... parallel met die van Sarah en Karel. Hierdie parallelle redigering is die rolprent se mees unieke kenmerk, waar die liefde tussen 2 paartjies blom. Die Kois praat hulle eie taal, maar ons het nie nodig om die woorde te verstaan nie. Die spel vertel alles. En tussen die bedwelmende skoonheid van die woestyn, skilder Gordon Vorster as Karel in sy vrye tyd. Sy skilderye word gejukstaponeer met sy verhouding met Sarah en die rustigheid van die diere, veral gemsbokke. Die windpomp vorm ‘n sentrale motief in SARAH en verteenwoordig die lewe wat hierdie twee mense na mekaar en na die landstreek bring. Hier ontdek Sarah dat Karel sy vrou in ‘n oomblik van woede vermoor het. Sal sy hom toelaat om aan te bly? En sal sy hom van die polisie beskerm? Wanneer die polisie Karel wil arresteer, dood die Boesman hom met pyl en boog. Karel besef daar is geen uitweg meer nie en loop tussen die duine in om te gaan sterf. En dan nog ‘n tema uit SARAH wat reeds klassiek in Afrikaans geword het. SARAH eindig met hierdie liedjie.JANTJIE. JANTJIE, wat Sonja Herholdt bekend gemaak het, soos gebruik aan die einde van die uitstaande Gordon Vorster-rolprent SARAH. Aan die einde van die 70’s maak ‘n nuwe talent, wat van SAUK TV af gekom het, sy rolprent debuut. Hy sou later die TV-reeks SHAKA ZULU maak, maar sorg vir die rolprentweergawe van ‘n Ena Murray – roman: PLEKKIE IN DIE SON. Die storie leen hom tot absolute melodrama en oordrewe emosie, maar in WILLIAM C FAURE se hande word ‘n rolprent gemaak wat enige dag langs JANS RAUTENBACH s’n kan staan. Sy regie is beheers, Jana Cilliers se spel is uitmuntend en selfs die kleinste rolletjie word raak geteken in DEWAAL VENTER se keurige en ekonomiese draaiboek. PLEKKIE IN DIE SON gaan oor ‘n gewone vrou, wat met ‘n onsimpatieke man, Eckard Rabe getroud is, en wat besef sy is melaats. Sy beland in in ‘n inrigting vir melaatses. In hierdie ontstelende en realistiese toneel beland sy per ongeluk in die saal waar pasiënte met gevorderde melaatsheid opgeneem word, en sien sy vir die eerste keer wat vir haar wag. Ongedwonge spel, natuurlike, speelbare dialoog, simpatieke regie sonder melodrama en knap stelinkleding sorg dat PLEKKIE IN DIE SON een van die beste rolprente van die jare 70 word. ‘n Jong Rina Nienaber verskyn as Karen, Jana Cilliers, se man se meisie. Intussen maak Karen vriende met die spitsvondige en naïewe nutsman, Piet Fix, gespeel deur Tobie Cronjé in ‘n stadium wat sy aan diep depressie ly. Dan kry Karen ‘n brief van haar man, Eckard Rabe, wat haar waarsku dat hulle huwelik nie gaan werk nie en dat hulle die waarheid in die gesig moet staar in PLEKKIE IN DIE SON deur WILLIAM C FAURE. Dit ly tot Karen se senu-instorting. Maar Karen en haar dokter raak verlief. Maar as Karen gesond word en uit die inrigting vrygelaat word, is haar ontvangs tuis, veral van Karel se hooghartige ma, gespeel deur Hermien Dommisse, koel. Sy keer terug hospitaal toe en sy en die dokter, gespeel deur Regardt van den Bergh, herenig. Melaatsheid kan genees word en daar kleef nie meer ‘n stigma aan nie. Die jare 70 word gekenmerk deur rolprente wat verbete teen televisie veg, maar die stryd stadigaand verloor. Rina Nienaber speel in Dirk de Villiers se ondeunde DIE SPAANSE VLIEG, Petru Wessels speel in SALOMIEN, Gé Korsten tree op in ‘n romantiese drama LOKVAL IN VENESIë, Koos Roets verfilm Katinka Heyns in DIE SERSANT EN DIE TIGERMOTH en BABBELKOUS EN BRUIDEGOM, Tim Spring maak die gewilde SQUAD-films met Chris du Toit soos DOG SQUAD, Daar is dramas soos SKADUWEES OOR BRUGPLAAS, Anna Neehtling Pohl speel die rol van die onnutsige tant Alie, gegrond op Mike Heine se radioverhaal: DAAR KOM TANT ALIE, en die komedies kom in sarsies: WAT MAAK OOM KALIE DAAR, MY NAAM IS DINGETJIE, TROUDAG VAN TANT RALIE, ‘n vervolg op TANT RALIE SE LOSIESHUIS, asook die romantiese LIEFSTE VEERTJIE en die slapstick komedie DINGETJIE IS DYNAMITE. Franz Marx maak SEUNS VAN DIE WOLKE met Johan van Heerden, broer van Marcel van Heerden as John Hardy teenoor Will Roberts met ‘n gewaagde naaktoneel in die see, en dan is daar ook OLIE KOLONIE. Nie minder nie as 25 Afrikaanse flieks sien die lig in 1975 toe TV se toetspatrone begin wys. Dit is nou asof die Afrikaanse rolprent in ‘n soort histerie is, want hulle word een na die ander uitgedraai. ‘n Stap terug is die rolprentweergawe van Willie van Rensburg se reuse-radio-treffer aan die jare sestig, wat ‘n dekade later die lig sien, Dokter Marius Hugo – die verhaal van ‘n jong dokter en aangenome kind uit die agterbuurtes van Johannesburg wat moes veg teen sy agtergrond! Dr. Marius Hugo gaan oor ‘n jong dokter, Mieder Olivier, wat verlief raak op die parmantige en beeldskone Dr. Louise, in die fliek gespeel deur Elma Potgieter, wat op haar beurt weer verlief is op die verwaande rykmanskind André. Wanneer Marius diens doen as kelner by ‘n padkafee, ontmoet die drie. Na vele omswerwinge, onder andere na Humansvlei in die bosveld, is daar ‘n baba. Marius wil die baba hê maar Louise wil hom saam met Andre grootmaak. Uiteindelik feins Andre se pa ‘n hartaanval, sodat Marius en Louise bymekaar kan kom. In 1979 word 9 Afrikaanse rolprente uitgereik, ‘n aansienlike daling van die 25 vier jaar tevore, en veral Franz Marx laat ‘n hele paar rolprente in die 70-er jare die lig sien. Jan Scholtz skryf ‘n draaiboek genaamd WAT JY SAAI met Regardt van den Bergh en Janet du Plessis met ‘n jong, frisgeboude Willie Esterhuizen as ‘n rondloper seun uit ‘n verbeteringskool wat ontsnap. Esterhuizen lewer hier puik spel en bewys dat hy ‘n akteur van formaat was, al ken ons hom vandag net as ‘n komediespeler. Tim Spring doen die regie van WAT JY SAAI en gebruik Richard Clayderman se BALLADE VIR ANNELINE as tema. TIM SPRING begin as ‘n kamera- en beligtingsman en hy skiet o.a The Magic Garden met Dolly Rathebe. Hy werk hierna op alle moontlike gebiede op rolprentstelle. In die jare 70 begin hy sy eie produksiehuis in Zimbabwe waar hy dokumentêre rolprente en advertensies skiet. Terug in S.A. werk hy as klank- man en redigeerder, voordat hy DOG SQUAD, Dr. Marius Hugo en WAT JY SAAI regiseer. In WAT JY SAAI beland ‘n jong dokter, wie anders as Regardt van den Bergh, op Waterval Boven en raak verlief op die kwaai oom, Cornelis Esterhuyzen, se dogter. Maar haar broer Chrisjan het pas uit die verbeteringskool ontsnap. Maar dan vat Jan Scholtz se draaiboek die storie verder as wat enige ander draaiboek dit tot in daardie stadium gewaag het – dinge word op die silwerdoek gewys wat nie op die konserwatiewe TV 1-skerm sou deug nie, soos verkragting, bloedskande en aborsie. Tim gebruik die skoonheid van die Waterval Boven-omgewing ten volle en groot dele van die film speel in die buitelug af. Die dokter word daarvan verdink dat hy Dina swanger gemaak het. Uiteindelik, na ‘n dramatiese hofsaak, kry die dokter en Dina ‘n 6 maande-tronkstraf, opgeskort vir 2 jaar, en die bose broer word 15 jaar tronk toe gestuur. Die dokter en Dina trou. |
||