|
||
Die bloeitydperk van DIE AFRIKAANSE ROLPRENT in die jare 70 |
||
Toe televisie aanvanklik in 1975 in S.A. begin het, het dit die Afrikaanse rolprent nie soveel geskaad as in die jare 80 nie. In 1976 is 11 Afrikaanse rolprente uitgereik, amper een per maand. Die film wat die meeste aandag getrek het en wat oor ras en kleur gegaan het, was die progressiewe SPRINGBOK met Eckard Rabe en Sybil Coetzee met rugby as agtergrond. Dit het briefskrywers en resensente weke lank laat debatteer. Tussen die hardekwas stellings oor ras in SPRINGBOK was daar Jan Scholtz se romantiese melodramas soos ʼn SONDAG IN SEPTEMBER, ʼn filmverwerking van CF BEYERS BOSHOF se radiotreffer MY LIEDJIE VAN VERLANGE en Elmo de Witt wat, nes met Debbie destyds, op seer tone getrap het met ʼn BEELD VIR JEANNIE. Nog melodramas soos LIEFSTE MADELEIN volg in 1976 in dieselfde jaar wat Hans Strydom en Alice Krige, deesdae in Engeland woonagtig en die ster van SKIN, hulle harte vir Jan Scholtz het die draaiboek vir VERGEET MY NIE geskryf, ʼn vreemde vermenging van studentepret, mooi natuurskoon, politiek, swendelary, die gereg en ʼn hopelose liefdesverhouding met, soos gewoonlik in ʼn Jan Scholtz-storie, verwaande ouers wat jongmense se verhouding verongeluk. ʼn Man word na 2½ jaar op parool uit die tronk vrygelaat nadat hy ʼn moord gepleeg het. Hy het selfs geweier om in die hof daaroor te praat. Hy skryf by Rhodes Universiteit in, en ontmoet die pragtige dogter van die wrede rektor wat wag op ʼn misstap. NOOT VIR NOOT se JOHAN VAN RENSBURG was betrokke by VERGEET MY NIE se musiek waarin studente vrolike, maar niksseggende liedjies gesing het. Dit tussen die wroeging van Hans Strydom as Dolf Preller wat sy verlede probeer vergeet, en die liberale dogter van die rektor, Welma, gespeel deur Alice Krige, wat anders dink as haar verstokte pa. Wat die rolprent se styl nog meer aangetas het, was die twee kansvatter-vriende van Dolf wat hom in die moeilikheid bring en met hom skoor soek. Wat verder gepla het, is die swak oorklanking van die sangstemme, sodat Hans se mond nie behoorlik saam met die sanger se woorde beweeg het nie. En: as Dolf so beswaard was, hoekom sluit hy as sanger aan by die jolige studente? Maar hoe ook al, Dolf kanselleer sy bitterheid deur ʼn sanger te word. Maar aanvanklik weet sy medestudente niks van sy verlede nie.... Intussen sing die studente hulle longe uit in VERGEET MY NIE terwyl Hans Strydom as Dolf, wat in die rol bewys dat hy nog ʼn speler van formaat sou word, saam met Welma ʼn voorsanger word! Die verligte filosofie-student raak verlief op die konserwatiewe Boereseun. Welma se pa, Jan Bruyns, was in ʼn interneringskamp en dra nog die letsels van die Afrikanerstryd in hom saam... Dolf besluit sonder motivering om saam met sy medestudente, van wie hy nie hou nie, op ʼn toer te gaan. Dan verloor VERGEET MY NIE die spoor. In die rolprent se grootste toneel skeer twee ondeunde jafels die gek met ʼn kwaai verkeerskonstabel, gespeel deur Willie van Rensburg, en almal beland in die hof. Die verkeerskonstabel hou Dolf verantwoordelik vir sy vernedering, wat beteken Dolf gaan weer tronk toe. En steeds wissel die rolprent van sentimentele Richard Clayderman-musiek en studente gesange... na tragedie en wroeging. Stel jou voor: hierdie slapstick-musiek in die middel van ʼn tragiese liefdesverhaal. Dit vergesel die verkeerskonstabel-tonele, maar eintlik is die tonele tragies, want dit laat Dolf weer onskuldig in die tronk beland... Welma oortuig haar kwaai pa dat Dolf niks met die studente se kapperjolle te doen gehad het nie. Maar dis te laat. Dolf moet terug tronk toe vir 2 jaar Ons ontmoet ʼn jong George Ballot as ʼn prokureur in die tonele. Dolf sing nog een keer in die revue voor die tronkdeure agter hom sluit en hy en Welma neem voorlopig afskeid. 1977 sien 9 Afrikaanse rolprente. En dit is hier waar die afname vir die eerste keer begin wat vanjaar in 2010, vir die eerste keer ʼn ommeswaai toon. Franz Marx verfilm ʼn radio-verhaal, EN DIT WAS AAND EN DIT WAS MôRE deur Jac J Brits, Jan Scholtz stel weer ʼn onpaar paar bekend met, reg geraai, onsimpatieke ouers wat die jongmense se verhouding verongeluk in DIE WINTER VAN 14 JULIE, terwyl slapstick komedie uitpop in DINGETJIE EN IDI - ’n soort skiet en nabootsing van MY NAME IS TRINITY. Tobie Cronjé laat die trane rol in KOOTJIE EMMER gegrond op stories deur André P. Brink, en romanse vier hoogty in MOOI MEISIESFONTEIN. 1978 sien nog ʼn PG du Plessis verhoogtreffer, ‘N SEDER VAL IN WATERKLOOF wat Afrikaner-konserwatisme en snobisme opstuur, terwyl Jan Scholtz vir Hans Strydom en Sybil Coetzee saamgooi in ʼn skiet op HOW TO STEAL A MILLION: Diamant en die Dief. Dirk de Villiers stel ʼn jong Rina Nienaber bekend in die stoute SPAANSE VLIEG en Danie Joubert speel die hoofrol in NICOLENE, ook gegrond op ʼn radioverhaal deur Marida Swanepoel. En in dieselfde jaar as die baanbreker PLEKKIE IN DIE SON maak Franz Marx ʼn ernstige rolprent oor ʼn gedoemde verhouding in ʼn knap draaiboek deur P.G. du Plessis: WEERSKANT DIE NAG. Nuweling Nic van Rensburg maak sy debuut teenoor die briljante Aletta Bezuidenhout teenoor ʼn tiranniese Wilna Snyman as Ester en Zac du Plessis as Hannie se slaphakskeen-man wat hul huwelik vernietig. Marx gebruik die skoonheid van Clarens in die terugflitstonele terwyl die huidige tonele in die Tuinroete afspeel. Jurg raak verlief op Hannie, maar hul verhouding misluk as gevolg van haar wrede skoonma en ʼn onreg uit die verlede. Jurg vind uit Hannie is geskei.. en dan verneem ons dat daar seksuele probleme in Hannie se huwelik was. In hierdie terugflits neem Sas, Zac du Plessis, se wrede pa hom onder hande as hy kla dat sy vrou koud is. En dan maak WEERSKANT DIE NAG sy geheim bekend – in die mees direkte toneel nog in ʼn Afrikaanse rolprent sien ons hoe Sas sy vrou verkrag. Dit was ʼn baie gewaagde toneel vir sy tyd wat Franz Marx met goeie smaak verfilm het. Hannie maak vrede met die verkragting en is gereed om ʼn verhouding met Jurg te begin. WEERSKANT DIE NAG was een van die jare 70 se hoogtepunte. Daar was 9 rolprente in 1978. Ander Afrikaanse flieks sluit in ʼn satire, PRETORIA O PRETORIA, die melodramatiese EENSAME VLUG, Charlie word ʼn Ster en Chris du Toit wat vir die eerste keer regie doen met ELSA SE GEHEIM met Anna Neethling Pohl . Elmo de Witt maak weermagpropaganda in GRENSBASIS 13 met Danie Joubert, en HERFSLAND laat die trane rol... Cobus Robinson skryf die draaiboek vir die laaste musiekrolprent in 1978, SING VIR DIE HARLEKYN met die treffer-liedjie: SING VIR DIE HARLEKYN. En in dieselfde jaar SKELMS, Jan Scholtz se APRIL 80 met dieselfde suksesresep as sy TV-reekse en rolprente, die sentimentele RIENIE en Scholtz se KIEPIE EN KANDAS. |
||