|
||
Die jare 90 |
||
In die jare 90, toe dit maar sleg met ons plaaslike filmindustrie gegaan het, met een ligpunt: KATINKA HEYNS. Die jare 90 bestaan meestal uit rolprente wat op TV-reekse gegrond was en as ‘n soort wyedoek slot episode gedien het, en dan kru sekskomedies. Franz Marx het AGTER ELKE MAN na die silwerdoek geneem met Avril Beukes as regisseur. Bruce Beyers, Steve Hofmeyr, word op parool vrygelaat en hy wil hom wreek op Steve Anderson wat verantwoordelik is vir sy straf. Franz maak ook ‘n film oor fietsresies: GEELTRUI VIR ‘N WENNER, terwyl sy swart komedie. PRINS VAN PRETORIA ‘n onwaarskynlike ware verhaal vertel. ‘n Kelner doen homself as die prins van Lichtenstein voor. En jou waarlik, hy kom vir twee weke daarmee weg! Phillip Moolman, wat toe pas in die eerste episodes van EGOLI begin speel het, het die hoofrol vertolk teenoor Soli Philander en Ilse Roos in 1994. Nog ‘n komedie, amper ‘n soort Indiana Jones-skiet, KALAHARI HARRY deur Dirk de Villiers in 1990, gebruik vir Ian Roberts, Bill Flynn en Cassandra Holiday. En dan was daar ook die minder geslaagde rolprent-weergawe van Maretha Maartens se ‘N POT VOL WINTER met Johan Bernard as regisseur. ‘n Skooldogter, Christel Smit, ly onder haar ouers se egskeiding. Om haar verdriet te hanteer, gee sy haar oor aan ‘n skoolseun, Francois Coertze, op die agterste sitplek van sy motor. En nes Debbie in die jare 60, raak sy swanger en ly onder die skandaal van ‘n baba buite die huwelik. Ongelukkig kon Bernard nie daarin slaag om die gevoelige en sensitiewe tema verby die melodramatiese te neem nie, en het ‘n POT VOL WINTER in dieselfde slaggate as DEBBIE in 1965 getrap. Leon Schuster maak net een Afrikaanse rolprent wat op die candid camera-tegniek geskoei is, WOLHAARSTORIES. Die res van sy films is in Engels en val dus nie in die raamwerk van hierdie program nie. Maar voor hierdie rolprente maak nog ‘n reus haar verskyning en verander Die Afrikaanse rolprent vir altyd. Aktrise en nou ook regisseur: KATINKA HEYNS! Haar FIELA SE KIND het klassieke status bereik. Johnny Boshoff skryf die musiek. Dalene Matthee se geliefde roman kry hier deerniswekkende gestalte op die silwerdoek met ‘n onverbeterlike Shaleen Surtie Richards as die aardse Fiela. Sy ontdek eendag ‘n 3 jarige seuntjie op haar voorstoep en maak hom groot as haar eie. Tot die wrede goewerment hom wegvat na sy regte ouers toe. Jan Ellis was Benjamin, later Lukas, wat verskeur was tussen die pragtige Nina, ‘n boskind wat hy in die woude van Knysna teëgekom het, sy liefde vir sy aangenome bruin ma, Fiela Koemoetie, en sy vrees vir sy ware ouers. Rassisme, rou liefde, die geboorte van ‘n nuwe volk en die magiese invloed van die groot voete is onverbeterlik deur Katinka na die silwerdoek verplaas. James Robb het die atmosferiese fotografie gedoen, en Chris Barnard oortref hom as draaiboekskrywer. Katinka Heyns is in 1947 in Balfour in die destydse Transvaal gebore. Sy is sterk beïnvloed deur haar pa en haar ouma wat bobaas storie-vertellers was, en haar ma wat ‘n onderwyseres was. Van kleins af het Katinka konsert op die speelgrond gehou, maar nie toegangsgeld gevra nie. “Hoe kan mens betaal word vir iets wat so lekker is?” het sy gevra. Groot was haar ouers se verbasing toe hulle besef dat alles wat die vorige dag in die huis gebeur het deur klein Katinka op die speelgrond gedramatiseer is! Maar hulle was dol oor die blondekoppie wat ure op die strand kon deurbring. Sy het nie skulpe gesoek nie, maar haarnaalde, sodat die meerminne hul lang hare kon orden. Sy studeer drama aan Tukkies onder Professor Anna Neethling Pohl en NP van Wyk Louw se vrou, Truida Louw. Truida het haar bewus gemaak van die visuele beeld en die krag van die kamera. Katinka maak haar debuut as aktrise vir Jans Rautenbach in Katrina, ontmoet later vir Koos Roets en trou met hom. Jare later sou sy met die skrywer Chris Barnard trou. En hierdie kombinasie sou sorg nie net vir uitmuntende TV-reekse nie, maar ook drie bobaas-rolprente waaronder Fiela se kind. Engele en feetjies, dus die mistieke, was nog altyd teenwoordig in Katinka Heyns se rolprente, spesifiek FIELA SE KIND. Maar die magiese kom ook voor in my gunstelingrolprent van Katinka, DIE STORIE VAN KLARA VILJEE met nog ‘n aktrise wat ‘n barshou speel en bewys dat sy een van ons voorste aktrises is: die geliefde Anna-Mart van der Merwe as Klara. Katinka het die storie van Klara Viljee gedurende ‘n motorrit by Daleen Mathee gehoor. Sy’t vertel van ‘n meisie wat verlief was op ‘n jong man, Pietman, Gavin vd Bergh. Maar nadat hy verdwyn, hou sy die see verantwoordelik vir sy dood. So erg is haar smart, dat sy ‘n huis agter ‘n duin bou sodat sy nooit die see hoef te aanskou nie. So sluit Klara haar weg van die lewe, ‘n vryer, Hennie Oosthuizen as Soois, en die onderwyser, Regardt van den Bergh as meneer Aucamp. Hy word valslik daarvan beskuldig dat hy ‘n skoolmeisie, Engela, swanger gemaak het. Koos Roets lewer van sy beste werk as kameraman in DIE STORIE VAN KLARA VILJEE. Maar wie is die pa van Engela se kind? En sal meneer Aucamp sy werk terugkry? Die room van Afrikaanse akteurs soos Sandra Kotzé, Wilna Stockenstrom en Lida Botha oortref hulle onder Katinka se regie met natuurlike, ongedwonge spel. Vir Katinka is die plek voor die kamera heilige grond en akteurs en tegnici moet daardie gebied respekteer. Sy behandel haar akteurs streng maar met respek, en omdat sy self ‘n aktrise was, weet sy hoe weerloos ‘n akteur voor die kamera is. Hierdie laaste toneel waar Klara vir die preutse, dog ondeunde Miss Lizzie, Wilna Stockenstrom, help om ‘n nuwe rok aan te pas is tipies van die skalkse humor en vloeibare dialoog van Chris Barnard in DIE STORIE VAN KLARA VILJEE. Katinka het elokusie op skool geneem, maar het gou besef dat hierdie deklamerende manier van praat, wat veral in die rolprente van die 50er en 60er-jare voorgekom het, nie die werklikheid weerspieël het nie. Sy het begin luister hoe mense regtig praat. Sy hou hulle fyn dop, en toe sy vir die kamera moes oudisie, het sy natuurlik en gemaklik onderspeel - tot so ‘n mate dat toe sy in ‘n oudisie moes sê: “Ek het jou lief”, het sy dit so sag gesê het, dat dit natuurlik oorgekom het en die rol in KATRINA was hare. Katinka wen verskeie pryse. Een daarvan was vir haar volgende meesterstuk: PALJAS. Hier het Katinka die Afrikaanse rolprent na ‘n ongekende en trotse hoogtepunt geneem wat nie sedert Jans Rautenbach, of weer daarna, geëwenaar is nie. PALJAS, wat vol betowering was, het gegaan oor ‘n stasiemeester, Marius Weyers, wat verleer het om met sy gesin te kommunikeer, veral sy seuntjie wat opgehou het met praat. Hoe eenvoudiger die storie, hoe natuurliker die regie, hoe kragtiger die impak het Katinka van jongs af geleer. In Paljas het sy gesê dat ‘n regisseur nooit op die natuur verlief moet raak sodat mooi prentjies die aandag van die storie aftrek nie. Dit gebeur ook so in PALJAS, wat op Toorwater in die Karoo geskiet is – nie te ver van Jans Rautenbach se plaas Oulap nie. Hier was die harde Karoo met sy klipperigheid, tolbossies en rantjies onlosmaaklik deel van die verhaal. Pietman, Jan Ellis, is verlief op Hendrik se dogter Emma. Intussen is die stilte van Hendrik se jongste seuntjie tasbaar, tot ‘n nar met ‘n sirkustrein in die Karoo aankom en almal se lewens vir altyd verander. Tonnelvisie, konserwatisme, vooroordeel, xenofobie, verwaarlosing en isolasie, maar veral die gebrek aan kommunikasie en verborge liefde wat nie kans kry om te blom nie, was temas wat Katinka met ‘n fyn aanvoeling in PALJAS ondersoek het. Tot op datum het Katinka Heyns nog nie weer ‘n rolprent gemaak nie, alhoewel sy ‘n TV-reeks vir kykNET verfilm het, PG du Plessis se DIE FEES VAN DIE ONGENOOIDES. Haar rolprente is vry van vulgariteite, oppervlakkige humor, politiek en aangeplakte tegnieke. Die rolprente wat sy in Klipfontein as dogtertjie gesien in die kerk- en skoolsaal gesien het, het haar geleer om visueel te dink. Die beeld was van primêre belang met die woord wat die effek bloot onderstreep of uitgelig het. As daar een regisseur is wat die krag van die beeld verstaan en wat rolprent in ‘n toeganklike kunsvorm in S.A. verander het, is dit Katinka Heyns. Saam met Jans Rautenbach is sy ons grootste regisseur. In die laat jare negentig, met die wegval van sensuur, kom daar ‘n warboel Afrikaanse rolprente wat seks, vulgariteit, platvloersheid en uitbundige begeertes ontbloot om geld te laat inrol. Die publiek, wat vir jare onder streng sensuur skaars ‘n verwysing na seks kon ervaar, kry dit nou eksplisiet in gekruiede taal in oorvloed. |
||