Die Sekskomedies

 
     
 
In die laaste aflewering van DIE AFRIKAANSE ROLPRENT, GISTER EN VANDAG die vloed sekskomedies wat die Afr. Rolprentbedryf getref het en die koms van Loxton as die nuwe rolprent-Kanaän.
Na Katinka Heyns se meesterstukke gebruik regisseurs soos Koos Roets en Willie Esterhuyzen die verslapping van sensuur met ʼn reeks seksklugte wat onder die belt boer. Die kafoefel en swetsery wys die vinger vir konserwatisme en maak sakke vol geld. Maar dit ly ook tot die terugkeer van die Afrikaanse rolprent se minderwaardigheidskompleks en tref hom waar dit die seerste maak. In 1997 speel Frank Opperman die rol van ʼn gefrustreerd dominee met tandpyn in KAALGAT TUSSEN DIE DAISIES. Hy maak sommer gou ʼn knertsie ook voor hy ʼn paartjie in die huwelik bevestig. Verby is die versigtige konserwatisme van Pierre de Wet se GEBOORTEGROND of die sagstelling van Elmo de Witt se DEBBIE. Hier word ʼn ding blatant op sy naam genoem.
In KAALGAT TUSSEN DIE DAISIES speel Tolla van der Merwe ʼn dom tandarts wat die dominee se tand moet sonder verdowing trek. Dit gaan hier om ʼn geskerts met verkrampte denke en nougesetheid wat die Afrikaanse rolprent tevore so geknel het.
KAALGAT TUSSEN DIE DAISIES spog ook met Frank Opperman wat fopdos, ʼn geliefkoosde tegniek in Afrikaanse klugte, en wat luidkeels in ʼn bordeel sing. Hierdie dominee is koddig en verspot, heeltemal anders as die ander sedebewakers in vroeëre Afrikaanse rolprente!

KAALGAT TUSSEN DIE DAISIES maak die pad oop vir ʼn klomp komedies waarin vulgariteit, gekruide taal, verkleinering, homofobie, die opstuur van Afrikaner-konserwatisme en gewaagdheid die botoon gevoer het. Willie Esterhuyzen, wat groot sukses met ORKNEY SNORK NIE op televisie behaal het, verfilm dit vir die silwerdoek, en maak dan LIPSTIEK DIPSTIEK, die mees gewaagde sekskomedie nog in Afrikaans vir niemand onder 18. En waar DEBBIE destyds ook niemand onder 18 was, het Willie alles uitgehaal en gewys. Naaktheid, seksuele toespelings, seksisme, die opstuur van seksuele frustrasie... noem dit, dit was in LIPSTIEK DIPSTIEK wat die meeste geld tot nog toe vir ʼn Afrikaanse fliek gemaak het: Oor die R6-miljoen.

ʼn Onskuldige Afrikanerseun, gespeel deur Francois Coertze, soos hy beslis nie in MOEDERTJIE, SARIE MARAIS en GEBOORTEGROND uitgebeeld is nie, verbrand homself tussen sy bene. Hy is op die punt om met ʼn naïewe volksmoeder, Lizz Meiring te trou. Maar sy vind op die harde manier uit dat in die nuwe Suid-Afrika jy die rok moet lig, die toiletrol moet leeg-rol en die broek moet aftrek om snaaks te wees.

Poenie hoef nie meer bang te wees vir seks nie, want ʼn pragtige meisie, Julie Hartley, leer hom presies hoe dinge in mekaar steek. En in die mees eksplisiete sekstoneel nog in ʼn Afrikaanse rolprent , verloor Poenie in sensuele beligting sy onskuld, en dié keer gaan die kamera in die slaapkamerdeur wat nie, soos gewoonlik, toegesluit is nie. En die kyker koekeloer vir ʼn volle 2 minute hoe die liefde floreer. Willie Esterhuyzen het die draaiboek geskryf en die regie vir LIPSTIEK DIPSTIEK behartig. Nou was daar geen keer meer nie. In 2007 maak Willie POENA IS KONING waarin vulgariteite en gewaagdhede soos ʼn brander breek, terwyl VAATJIE SIEN SY GAT in 2008 verder spot met nougesetheid wanneer oorgewig ouens hul alie sien. Aan die een kant stroom mense, veral tieners, na hierdie gewaagdhede, terwyl ander fliekgangers weier om ooit weer na ʼn Afrikaanse rolprent te gaan kyk. Kritici ruk die films aan flarde, filmmakers verwerp hul kritiek met minagting en kondig aan dat hulle weet hulle rolprente is snert, maar te hel met beswaarmakers, want die films maak geld, en die Afrikaanse rolprent bereik sy laagste punt ooit. Dit versmoor byna in ʼn soort selftevrede, tong-uitstekerige vulgariteit. Die jeug kry hul eie voorsmakie van ʼn growwe gespot met maagdelikheid, seksualiteit, eksperimentering met seks, masturbasie en venynige boelies in BAKGAT deur Henk Pretorius. Geen heilige koei bly hier in die tiener-kraal nie.

BAKGAT stel ʼn nuwe geslag jong spelers soos Ivan Botha en Cherie van der Merwe aan kykers bekend. Die film skroom nie om ʼn ding op sy naam te noem nie as tieners seksopleiding kry op ander plekke as agter toiletdeure. “Roei die bootjie!” kry nuwe betekenis. Waar die Afrikaner se voorsate dit skelm agter die kraalmuur gedoen het of gewag het tot die ligte afgesit is, waag hierdie baldadige manne en rondborstige meisies om koekeloer-materiaal in oorvloed te gee. Afrikaans, nou ʼn sogenaamde bevryde taal, ontdek terminologie wat nog net agter toiletdeure geskryf was. Natuurlik kry Werner, die boelie, Altus Theart, sy straf aan die einde van die fliek en Ivan Botha as Wimpie sy plek as senter. En alles eindig met ʼn groot jol, nes in die Amerikaanse AMERICAN PIE.

En binnekort: BAKGAT 2 en STOUTE BOUDE. Intussen probeer die Afrikaanse rolprent verlore aansien herwin. Briefskrywers betreur die gedwonge en moedswillige platvloersheid, growwe taal en sekstonele in die nuwe Afrikaanse rolprent, maar filmmakers verwerp dit as uit die oude doos. En toe maak Gustav Kuhn OUMA SE SLIM KIND – gegrond op sy pryswennende kortfilm. Hier was ten minste ʼn aangrypende storie sonder seksuele toespelings. Die verhaal word in ʼn terugflits vertel. Annelise Bosch is Ouma wat ʼn gestremde seuntjie, Kareltjie, gedurende die Groot Depressie grootmaak. Met sy varkie, raak hy beste maatjies met Fanjan. Maar in daardie jare mag wit en swart nie meng nie. Op die plase het plaasseuns na hartelus met swart speelmaats baljaar en kleilat gespeel, maar hulle mag nie saam skoolgegaan nie. ʼn Tragedie vind plaas wanneer die regering vir Kareltjie en Fanjan skei. Kareltjie word deur ʼn woeste boelie, Hykie Bergh, mishandel. Marius van Graan se kamerawerk is stukke beter as die oorhaastige en dikwels onhandige kamerawerk van sommige sekskomedies. Ouma dink hartseer aan die probleme van haar aangenome seuntjie.

Die boelie steek Ouma se huis aan die brand en ouma sterf. Dit alles omdat Kareltjie kamtig die boelie se meisie afgevry het. Ons besef aan die einde dat Fanjan eintlik die storie vir ons vertel. Renier Basson lewer goeie spel as die veronregte Kareltjie. OUMA SE SLIM KIND het hard probeer en daarvoor moet Gustav Kuhn krediet kry, maar hy was te onervare om die onskuld van die Afrikaner destyds en die tragedie van apartheid-in-wording uit te beeld nie. Die Afrikaanse rolprent beland nou in ʼn groef tussen eksplisiete kommengeid en pogings tot kuns. Benjamin Willem het OUMA SE SLIM KIND se musiek geskryf.

Hond se Dinges met Frank Opperman en Ivan Botha, probeer ʼn wikkel in sy straatwys stappie sit, maar slaag nie heeltemal nie. Die fliek maak net R650,000. Seker die mees eksplisiete lirieke en taalgebruik wat selfs LIPSTIEK DIPSTIEK in die skadu stel, word gevier in ʼn dokumentêre rolprent in 2009 oor die groep Fokof-polisiekar. Hier word ʼn openbarende prentjie geskep van die jong, ontnugterde Afrikaner op soek na identiteit. Jongmense is werkloos vanweë die kleur van hul vel en soms die taal wat hulle praat. Hulle vlug na ander lande en moet betaal vir hul ouers se rassistiese sondes. Nog nooit is die Afrikaner in ʼn krisis so rou en verwoestend uitgebeeld nie. In 2009 maak Wimpie van der Merwe KARATE KALLIE, gegrond op sy pryswennende kortfilm. Dit gaan oor die 17-jarige oorgewig Kallie. Sy broer Mike, wat ʼn insleepdiens bedryf, leer die lomp Kallie om homself teen skoolboelies te verdedig, maar die rolprent slaag ook nie vanweë ʼn ongestruktureerde draaiboek en oppervlakkige komedie sonder trefkrag. Gerrit van Zyl is die kameraman. Wynand von Vollenstee lewer simpatieke spel as Kallie, Mike Smuts is Mike en Marga van Rooy is ma in KARATE KALLIE.

Al wat kritikus is voorspel dat die Afrikaanse rolprent dood is. Dat hy in die riole rondkruip, broeklosmaak, vloek en gulp oopmaak om mense te trek. En toe kom Darrell James Roodt, verfilm ʼn Deon Meyer verhaal in Loxton: JAKKHALSDANS, en siedaar! Die Afrikaanse rolprent herwin verlore aansien. Die rolprent het tot op datum ongeveer R3-miljoen verdien en lok Afrikaners in hul honderdduisende terug teater toe. Al is die draaiboek skraps en die spel nie altyd op standaard nie, is hier, vir die eerste keer, weer skoon, onbesoedelde gesinsvermaak soos die jare 60 en 70 probeer gee het. Afrikaanse fliekgangers praat met dit wat die hardste lawaai maak in vervaardigers se ore: GELD. Theuns Jordaan, Elizma Theron en die briljante Neil Sandilands speel in die hoogs suksesvolle JAKHALSDANS. Dis nie ʼn mylpaal nie, dis nie op dieselfde vlak as Manie van Rensburg, Katinka Heyns, Jans Rautenbach of Jamie Uys se films nie. Maar dis ʼn groot stap in die regte rigting. Anton Ernst is die vervaardiger wat die moed gehad het om geld voor te skiet vir JAKHALSDANS.

En nes JAKHALSDANS maak Franz Marx die slot-episode van EGOLI as ʼn wye-doekrolprent wat Niek en Joe se verhaal terugneem Grens toe.

En in aantog: SUSANNA VAN BILJON SE STORIE, ROEPMAN deur Jan van Tonder met Paul Eilers as regisseur, GETROUD MET RUGBY as film en DIE AVONTURE VAN HANNA HOEKOM. En skielik bloei die Afrikaanse rolprent weer, is die stigma voorlopig weg en begin ʼn Afrikaanse rolprentkultuur weer wat trots Suid-Afrikaans is. Die enigste gevaar is nou dat die mark oorvloei gaan raak omdat Afrikaanse rolprente skielik weer geld maak soos destyds in die 60’s en 70’s. Maar dit kan ook ʼn klein Renaissance inlei wat Afrikaans weer sy regmatige plek in die rolprentbedryf gaan hervestig! Die Afrikaanse rolprent het gebloei, is verwerp, verkommen en verwoes, maar herrys weer uit die as. Die toekoms kan net blink wees!