|
||
Ons eerste rolprente |
||
Die Afrikaanse rolprent het in 1916 begin met DE VOORTREKKERS. Dit is
gevolg deur Sarie Marais en Moedertjie in 1931. Die mense het swaargekry in daardie dae. Dit was die dae van Die Groot Depressie en armoede. Rolprente het weerspieël wat gebeur het, en VADERTJIE LANGBEEN in 1953, gegrond op Jean Webster se DADDY LONGLEGS, het die tragiese, maar ook inspirerende verhaal vertel van ‘n weeskind wat in ‘n weeshuis beland het en toe die kans gekry het om haar slag te bewys. Rita Bornman, Yvonne Theron en Esther Mentz het die vroulike hoofrolle gespeel asof hulle vir die verhoog speel met weinig kamera-bewegings waar die kamera nie geïnterpreteer het nie, maar net waargeneem het. Pierre de Wet se regie was uitbundig en flambojant. Patrick Mynhardt is die ywerige Barrie Cilliers, wat op Gertruida verlief raak, maar haar hart is by Vadertjie Langbeen wat sy nog nooit gesien het nie. Ons weet egter wie hy is. Dan doen die rolprent iets baie gewaagd, wat beslis oorgeneem is uit die Amerikaanse rolprente van daardie tyd. Wanneer Vadertjie Langbeen op ‘n oorsese reis vertrek, is daar ‘n montage waar sy reis van een eksotiese plek na ‘n ander meng om sy reis binne 2 minute af te handel. ‘n Stap vooruit vir die Afr rolprent van daardie tyd. En uiteindelik moet Vadertjie Langbeen bieg wie hy is... en hy en Gertruida, ONTMOET uiteindelik en raak verlief. Die arme weeskind het met sy hulp, verander in ‘n pragtige swaan op universiteit wat nou gereed is om die lewe aan te durf. VADERTJIE LANGBEEN was een van Pierre de Wet se mees suksesvolle rolprente. Maar die volk het genoeg gehad van lyding en lang gesigte. Vóór VADERTJIE LANGBEEN het PIERRE DE WET besef: die mense wil vermaak word. Hulle wil ook lag nadat hulle gehuil het. En toe maak hy DR. KWAK, gegrond op KNOCK van Jules Romains in 1948. Die musiek wys presies watter rolprent om te verwag. ‘n Nuwe dokter kom op ‘n idilliese plattelandse dorp aan met Pierre de Wet self in die hoofrol. Maar niemand op die dorp word ooit siek nie! Maar die dokter laat hom nie van stryk bring nie. Teenoor bekende spelers soos Gert van den Bergh, pa van Regardt vd Bergh, neem hy die dorp op horings! En skielik die groot uitpeul-oë van nog ‘n fors in die Afrikaanse rolprent van daardie dae: Al Debbo in een van sy eerste rolprentrolle as ‘n hakkelende inwoner wat nie herwaarts of derwaarts weet nie. Hier is Dr. Kwak besig om die mense van die dorp te organiseer en te mislei. Hier doen Pierre de Wet iets nuuts. Hy maak meer staat op visuele humor, nie net dialoog nie. Dr. Kwakdoen liggaamsoefeninge. In ‘n eerste vir daardie tyd word ‘n geraamte in ‘n lae kameraskoot tussen sy bene deurgesien terwyl hy ‘n stuitige dans met die gebeente uitvoer. Gehore was histeries. ‘n Vrou in die gehoor moes gelawe word so het sy gelag. Dr. Kwak is trots op sy nuwe praktyk, al kom die mense hom NET met ipekonders sien. En teen die muur waarskuwings soos PASOP VIR KIEME terwyl Dr. Hendrikus Hermanus Kwak trots sê: ‘Ek het te veel verstand vir ‘n politikus, daarom het ek in die medisyne gestudeer!” Hier waarsku die fietse ontvangsdame / verpleegster vir Dr. Kwak dat hy gaan swaarkry op Bergdal! Luister na die verfynde uitspraak, die oordrewe manier van praat en die deklamering – als van die verhoog af geneem. Maar, danksy die hulp van die sagmoedige onderwyser, Mnr. Kopifa die apteker en BIE BIE BIE EN KIE-vendusie-afslaers raak die dokter tuis en werk alles uit vir die beste! In die laat 40’s is daar steeds kostuumdramas soos SIMON BEYERS met Pierre de Wet en Eugene Heyns. Die Britse rolprent-tydskrif SIGHT AND SOUND beskryf de Wet as S.A. se nuwe wonderkind. Hy maak in 1949 een van sy grootste treffers. En die plakkaat kondig trots aan: SUID-AFRIKA SE EERSTE MUSIEKBLYSPEL: KOM SAAM VANAAND!! Die Vader van die Afrikaanse rolprent, Pierre de Wet, kry ‘n stewige groep spelers bymekaar. Frans Engels skryf die draaiboek wat Pierre terstond verwerk en aanpas. Die storie: ‘n Ryk familie word sleg deur die Depressie geslaan. ‘n Moedige ma verduidelik aan haar dogter, Eugenie Heyns as Louise, dat hulle vendusie sal moet hou en van hul kosbaarste besittings afstand sal moet doen as hulle kop bo water wil hou. En dis net hier waar nog ‘n baanbreker-komediant kans kry om sy slag te wys. Hy sou in feitlik elke Pierre de Wet rolprent hierna optree: Die geliefde Frederik Burgers wat tegelyk die tragiese en die komiese, die absurde en die geïdealiseerde saam in vertolking weergee. KOM SAAM VANAAND wat, ten spyte van sy foute, steeds vandag gesien word as die eerste Afrikaanse musiekblyspel met bekendes soos Betsie de la Porte, Dirk Lourens en Hannes Uys, die pa van die bekende satirikus Pieter-Dirk Uys. Die geliefde boere-orkesleier, Hendrik Susan, tree ook in die rolprent op saam met die Braamfontein Jeugbondgroep olv Charles Manning, terwyl Jan Pohl en Danie Bosman se musiek ook gebruik word. Franz Engels skryf die draaiboek wat Pierre aanpas en die room van die musiekbedryf soos Con Lamprecht, Anton de Waal en Nico Carstens vir diens oproep. Hier tree Frederik Burgers voor die gehoor op en laat hulle in die paadjies rondrol van die lag. Tjoeksie, Louise se sussie, beland in ‘n ongeluk as ‘n vleuelklavier op haar val en haar verlam. Sy kan net ‘n operasie bekostig as ‘n groot konsert gehou word waar geld ingesamel word. Die konsert is ‘n reuse sukses en skaterlag die mense vir Frederick Burgers en Al Debbo se manewales. En ‘n mens kry die indruk dat van hulle komiese sketse geimproviseer is. En so word Burgers gepromoveer na twee van sy bekendste rolprente soos AS ONS TWEE EERS GETROUD IS en PIET SE TANTE, gegrond op die klug: CHARLEY’S AUNT deur Brendan Thomas. ‘n Onnutsige student... ‘n baie volwasse Frederick Burgers kan geskors word omdat hy “ondeund” was. Maar sy ryk tante gaan ‘n ruim skenking aan die universiteit maak wat sal verhoed dat Piet geskors word. Die probleem is: sy is nie tans in die land nie en Piet wil aanhou swot. Piet fopdos as die ryk Mevrou Opperman en ontmoet die professor wat Piet wil skorsnatuurlik raak die professor verlief op mev Opperman en erg vatterig... Wat gewerk het met Frederick se spel was sy klipgesig, ook genoem dead-pan in Engels, waarin hy sy spel vir die kamera begin aanpas het en nie meer vir die verhoog nie. Pierre de Wet het beslis geleer uit sy vorige produksies, want dié slag word al meer moderne rolprenttegnieke gebruik soos ‘n kamera wat krenk-bewegings uitvoer, met ander woorde dit beweeg van ‘n karakter se voete na sy gesig, daar is ‘n inzoem na belangrike klugtige voorwerpe en selfs ‘n sogenaamde swish pan waar die kamera vinnig van een voorwerp na ‘n ander ruk in plaas van om net in een redigering daarheen te sny. O ja... en dan, natuurlik, moes Frederick Burgers as Piet Louw ook nog sing. Die mense het tegelyk gelag en saamgesing. Een van die hoogtepunte uit PIET SE TANTE. Die misverstande wat plaasvind wanneer die ander studente, almal hopeloos te oud om nog as studente deur te gaan, was die rede vir die rolprent se groot sukses. Maar groot is Piet se vernedering as hy, nog in vroueklere aangetrek, gekonfronteer word met die regte mevrou Opperman. Die kwaai professor is natuurlik woedend en jaag Piet rond sodat almal in die slottoneel, soos ‘n behoorlike klug betaam, in die swembad beland. Pierre de Wet maak nog ‘n klomp rolprente soos JY IS LIEFLIK VANAAND, oom Piet se plaas , Hier’s ons weer, Altyd in My drome en ‘n Plan is ‘n boerdery in die vroeë vyftigs. Maar dan word die Universiteit van Stellenbosch opgehemel en dien die swart-en-wit-rolprent MATIELAND as een van die beste advertensies nog wat die pragtige universiteit ooit kon kry. MATIELAND het ‘n yl verskonng vir ‘n storie gehad. Maar een ding is verseker: die studentegees, die pragtige dorp en die natuurskoon is ten volle benut. Hier word die skoonheid van die dorp en universiteit gewys en alles lyk absoluut idillies. Jan Perold dink die storie uit en Pierre de Wet skryf die draaiboek. Die aantreklike Steyn de Jager speel die rol van ‘n boerseun, Andries, wat Stellenbosch toe kom. Maar hy wil eintlik rugby speel. Sy pa, wie anders as Frederick Burgers wat teen die tyd ‘n loket-naam was wat tienduisende mense getrek het, het egter ‘n appeltjie te skil met die professor wat Andries onder hande neem en nie daarvan hou dat hy met sy mooi dogter uitgaan nie. Maar Andries is dol oor Stellenbosch soos hy aan sy pa en ma per brief erken. Terwyl hierdie musiek speel word studentebedrywighede gewys waar meisies ‘n bed in die straat dra, verwarde eerstejaars die eerste keer op kampus aankom en geordende chaos heers met tonele van studente wat boeke koop en by die Ou Hoofgebou aankom. Maar elke liewe student lyk so onskuldig dat botter nie in sy mond kan smelt nie. Andries is oorweldig deur wat hy sien en besluit: dit was die beste keuse nog in sy lewe. En hy kry Stellenbosch van meet af aan lief. Luister na die noukeurige woordkeuses wat te geleerd vir ‘n rou 18-jarige is wat eerder na ‘n man van 30 lyk. Luister na die amper blatante advertensie vir hierdie pragtige universiteitsdorp. Alles is prentjieboekmooi en rein en onskuldig. Gou pluk Andries sy baadjie uit en raak ‘n bobaas rugbyspeler wat die nooientjies se fyn voetjies onder hulle uitslaan. Maar in die agtergrond BLY sy pa se vyandskap met Andries se professor, want sien, Andries se pa het sy nooi van die professor afgevry, en nou is die einste nooi Andries se ma... Hier hoor Andries van sy onnutsige kamermaats hoe ‘n wonderlike aster Vicky Potgieter is en dat sy net wag vir die regte boerseun. Die rolprent was naïef en suiwer... ek wonder of die studente destyds hulleself in die fliek herken het, want selfs vir daardie tyd was die beeld van studentelewe darem ‘n snapsie te Skitterblink. Maar uiteindelik speel Andries vir Stellenbosch se eerste span rugby en kry hy die nooi EN die rugbybal. Met haar handjie in sy hand stap hulle gelukkig oor die Coetzenburg se rugbyveld pieke toe. En, wie weet, sê die rolprent indirek: Dalk word Andries nog eendag Eerste Minister! |
||