Die rolprente van JAMIE UYS

 
     
 
Hy is in 1921 in Boksburg gebore. Na skool word Jamie Uys ‘n onderwyser en gee wiskunde aan die plaaslike hoërskool waar hy vir Hettie, ook ‘n wiskunde-onderwyseres, ontmoet. Hulle raak verlief, trou en trek bosveld toe, 140 km noordwes van Potgietersrus of vandag se Lepalale. Hy boer langs die Palala rivier en saam met Hettie bedryf hy enkele bosveldwinkeltjies voordat hy as magistraat diens doen. 
Jamie vertel dat hy selfs deur ‘n rivier moes swem en deur die bosse moes loop om by die hof uit te kom, en dit is hier waar die idee gebore is vir ‘n doodgewone kêrel, nes Jamie, wat in die bosveld boer en dan ‘n nuwe onderwyseres moet oplaai. Al wat die arme vrou weet, is dat die man wat haar moet kom oplaai DAAR DOER IN DIE BOSVELD woon!

‘n Bok kyk nuuskierig na die kamera, bome koester die loom bosveld-dag rustig langs die rivier, bobbejane baljaar en ‘n miskruier stoot sy kosbare vrag desperaat teen ‘n wal uit terwyl DAAR DOER IN DIE BOSVELD se musiek in 1951 speel. Die publiek was besete oor hierdie rolprent waar ‘n lomp Afrikaner, wat net trekkers en beeste ken, skielik deur sy vriend gevra word om die mooi nuwe onderwyseres by ‘n bushalte in die bosveld te gaan haal.....

En oor die weer praat Hans Botha so dikwels met Martie dat haar hoed skoon platval daarvan. Maar voordat Hans by die verlate Martie by die bosveld bushalte uitkom, ry hy met sy tjor oor ruwe bosveldpaaie en probeer ‘n hek oopmaak. Maar o wee, die tjor het nie brieke nie.... Dit gly agteruit, Hans pak klippe en maak dit elke keer NET-NET deur die hek! Hierdie hek oopmaak-toneel in DAAR DOER IN DIE BOSVELD in 1951 was tot in daardie stadium, en selfs vandag nog, die snaaksste toneel nog in ‘n Afrikaanse rolprent en het gewys dat Uys ons eie Charlie Chaplin was met ‘n genialiteit vir die sg deadpan of klipgesig visuele komedie wat min hom kon nadoen. En dan ontmoet Hans die pragtige juffrou du Toit wat grimmig op ‘n klip sit en wag.

En so hinke-pinke hulle met die 19-voertsek tjorrietjie tot op die dorp. Hier dra Hans die mooie juffrou met stoïsynse geloof deur vol riviere, ry met haar deur slaggate en trotseer bobbejane en wilde diere voordat sy veilig by haar bestemming aankom. Net haar hoed se veer het geknak. En dan ‘n stukkie onvergelyklike Afrikana. Die bosvelders hou piekniek, speel kennetjie en ander boerespeletjies en die mooie Martie sing: Groen doringbome as ‘n soort liefdeslied aan die bosveld. Maar uiteindelik kan Hans dit nie meer hou nie. Dán is sy hoed op, dán is sy hoed af, dán struikel hy, dán val hy, maar hy MOET vir Martie vertel hoe hy oor haar voel.

Maar al wat oppas, is Hans. En uiteindelik wys hy haar waar Dawid die wortels gegrawe het en verklaar sy liefde. Hy vra haar om met hom te trou. En blosend aanvaar Martie sy liefdesverklaring. Maar Jamie wil nie hê jy moet loop nie. Want aan die einde van die fliek wys hy gou wat alles met Hans en Martie gebeur het ná hul troue... met twee kinders wat NET soos Hans lyk en Marietjie wat net so lomp is soos hy... en die ou tjor wat uiteindelik ‘n rusplek langs die pad gekry het... Terloops, dit lyk steeds na reën daar doer in die bosveld. 
Jamie het self die kamerawerk gedoen, die storie uitgedink, die draaiboek geskryf, die kontinuïteit gedoen asook die rolprent geredigeer en vervaardig. En soos gerugte dit wil hê moes Jamie ‘n klein swart seuntjie gebruik om agter die kamera te staan terwyl hy deur die rivier geswem het of ander waaghalstoertjies gedoen het om dop te hou wat deur die lens gebeur! Hy volg DAAR DOER IN DIE BOSVELD op met DAAR DOER IN DIE STAD en toe in 1955 GELD SOOS BOSSIES!!

Dié slag sluit Jamie se broer Jok by hom aan. In GELD SOOS BOSSIES werk die twee manne hulle besimpeld... daar is uitgrawings en geordende chaos, dit terwyl hul baas hoegenaamd nie vir hul sjarme val nie en die broers summier in die pad steek. Een van die snaaksste motorjaagtogte nog vind plaas waar die 2 broers op twee wiele om die draai skuur voordat hulle nuwe planne beraam!

Die twee tawwe tienies gaan werk in die meule, maar o wee: met die masjiene wat skud en die lawaai wat loei, begin hul koppe later aankap... en besef die twee broers: geld kan nie geluk koop nie. Geluk lê in jouself.
In 1961 volg nog een van Jamie se grootste treffers: HANS EN DIE ROOINEK. Jamie was ‘n meester om die spanning tussen boer en Brit te ontgin, maar op so ‘n onskuldige manier dat die een nooit verkleineer is nie. Uys se humor was ook nie venynig nie, maar eintlik vol deernis met ‘n tikkie naïwiteit as ‘n stoere Afrikaner, wat skaars YES kon sê, en ‘n Brit, gespeel deur Bob Courtenay, wat nie ‘n enkelte woord Afrikaans wou praat nie, mekaar uitdaag om alles beter as die ander te doen. Dan daag hulle mekaar uit om Johannesburg toe te stap. 
Terwyl hulle stap, het Hans die sigarette maar nie die vuurhoutjies nie. Die Rooinek het die vuurhoutjies, maar nie die sigarette nie. En so vertoorn hulle mekaar op pad Johannesburg toe en plaas onwerklike struikelblokke in mekaar se pad. Padtekens word omgedraai en Hans ry saam met ‘n dronkie wat hom amper verongeluk, net om agter te kom dat die dronkie aller yl met sy mankoliekerige motor voor ‘n aankomende trein probeer verbyjaag... Hans probeer uitkom, maar die deur wil nie oop nie, die dronkie klou aan die stuurwiel en die trein kom nader en nader!!

Uiteindelik kom Hans en die Rooinek tegelyk in Johannesburg aan, maar steeds wil hulle nie vrede maak nie. Die bakleiery duur tot by die laaste raampie van die film. 
Maar toe maak Jamie ‘n rolprent wat ‘n jong Leon Schuster as kind sou sien, en wat hom sou inspireer om later self ‘n rolprentmaker te word. Dit het gegaan oor ‘n kêrel wat in 1859 gedurende ‘n oujaarspartytjie op sy nooi Rina se plaas ‘n konkoksie drink wat hom 100 jaar lank laat slaap. Arme naïewe Rip van Wyk maak terselfdertyd kennis met ‘n vriendelike oom wat ‘n ondeunde vonkel in sy oog het, gespeel deur Gert van den Bergh. Die oom praat Rip om om sommer twee keer van die konkoksie te drink.... en dit alles so kort voor 1860 se nuwejaar....

Arme ou Rip van Wyk slaap vir 100 jaar, en toe hy wakker word, ontdek hy ‘n moderne samelewing waar toeterende motors hom byna ‘n hartaanval gee, fabrieke sy plaas se lug besoedel en hy koppig met sy perd na die grootstad toe ry om die oom te soek wat hom gaan help om terug te reis na 1859. ‘n Motor is vir Rip erg genoeg en hy maak homself amper nat toe ‘n man by hom stilhou met ‘n radio waarop ‘n advertensie uitgebasuin word. Rip dink iemand praat met hom en reageer flink op die advertensie se vrae,

Rip vlug vir vliegtuie en duik weg vir motors.... net om uiteindelik by ‘n sielkundige te beland wat hom omtrent in die tronk toesluit. Hy word op ’n bed vasgemaak, maar laat hom g’n deur ‘n kooi gevange hou nie, en met die bed agter op sy rug vasgemaak, storm hy by die tronk uit. Sy pad kruis weer met dié van die geheimsinnige oom. Hy ontmoet ook die bure se blinde dogter en besef dat hy indirek vir haar blindheid verantwoordelik was. Die oom sê sy kan haar oë terugkry as Rip SYNE vir haar gee... 

Die vrolike nooi kan weer sien, maar Rip van Wyk gaan sy oë verloor. Rip vra of hy sy plaas en sy nooi net een keer weer kan sien... hy kry ook net 2 minute om sy nooi, weer genoem Rina, die jawoord te vra....

Jamie Uys se baanbrekerskomedie, een van sy heel gewildstes! Die klassieke RIP VAN WYK. In 1964 maak Jamie sy eerste internasionale rolprent met Ken Gampu genaamd DINGAKA waaruit hierdie klassieke liedjie kom....TULA BABA.
Onthou bietjie, in daardie jare het elke plattelandse dorpie nog sy fliek of bioskoop gehad en ‘n Jamie Uys-rolprent het NOOIT ‘n oop sitplek gehad nie! Voor Dingaka volg LORD OOM PIET waar oom Piet Kromhout en sy Engelse buurman, wie anders as Bob Courtenay, nie oor die weg kan kom nie. Dan ontdek oom Piet tot sy skande dat hy Engelse bloed het en boonop ‘n Lord is!! Oom Piet trek ‘n Skotse rokkie aan, nes sy oupa, maar nou is daar ‘n probleem. Oom Piet wil vir die Nasionale Party staan. Maar wat sal die stemgeregtigdes sê as hulle agterkom hy is eintlik ‘n Engelsman? 

En Boer en Brit maak dalk op die oppervlakte vrede, maar diep binne in hulle sal die Natte en die Sappe nooit deur dieselfde oë na die wêreld en die land om hulle kyk nie. Maar die goeie nuus is: Oom Piet wen die verkiesing!!

JAMIE UYS sorg vir nog vele treffers soos DIE BOSVELDER, OUPA EN DIE PLAASNOOIENTJIE, DIE PROFESSOR EN DIE PRIKKELPOP IN 1967, KING HENDRIK in 1966 en ‘n reuse-treffer met Jamie se seun in die hoofrol: DIRKIE in 1969. En daarna sy drie grootste treffers wat van hom ‘n internasionale naam gemaak het: BEAUTIFUL PEOPLE, ‘n dokumentêr oor die dierelewe van S.A. wat op die maat van klassieke musiek aangebied is en waarvoor hy die Hollywood Golden Globe wen vir beste dokumentêr. En toe... FUNNY PEOPLE. En dis hier waar ek, LVN, self vir Jamie Uys in ‘n rolprent gespeel het.
Ek was ‘n jong omroeper in 1975 en gedurende my eerste omroepersvergadering kry ek opdrag van die destydse hoof, Morkel van Tonder, om vinnig die 11-uur nuus te lees omdat die nuusleser, Daniël Kirstein, kwansuis siek geword het.
Ek gaan sit toe die stippe van die tydsein uitbasuin en word ‘n nuusbulletin in die hand gestop wat wemel van nie alleen vloekwoorde nie, maar nuus wat hoegenaamd nie sin maak nie en ‘n hele bladsy vol Russiese politici se name... Ek het moedig deur die bulletin geworstel en al waaraan ek kon dink was dat ek ‘n week nadat ek as omroeper begin het, my werk verloor het omdat ek op die lug gevloek het. Maar na die bulletin kruip Jamie uit ‘n kas waarin die kamera weggesteek was en skud my hand. “Mooi gedoen. Jy was op FUNNY PEOPLE,” was sy woorde. En die res, soos hulle sê, is geskiedenis.
Jamie bereik internasionale roem met THE GODS MUST BE CRAZY wat miljoene internasionale dollars verdien en 3 jaar onophoudelik in Amerika speel, en toe die vervolg: THE GODS MUST BE CRAZY 2. Albei die rolprente was in Engels en val dus buite die verwysingsveld van hierdie program. Maar dit het Jamie Uys bevestig as ons mees geliefde en vooraanstaande rolprentmaker.
Jamie is in 1996 aan ‘n hartaanval oorlede.