Rolprente van die jare 60

 
     
 
Die sestigerjare het die Afrikaanse rolprent in sy hordes op die land losgelaat. En, kan jy glo: temas soos seks, buite-egtelike kinders en selfs dwelms word aangeraak met ‘n ondeunde gewaagdheid. Watwo gewaagdheid! Die bitterbek sensors het ‘n stewige greep op die vervaardigers se sagter dele gehad. Want in daardie jare is alles wat net na seks verwys of wat naaktheid geïmpliseer het gulhartig uitgesny. 
Tog het dit sekere groot rolprentmakers nie afgesit nie. EMIL NOFAL het die rolprentbedryf in die vroeë jare sestig stormerhand verower. Hy het selfs lig die draak gesteek met Afrikaner konserwatisme en alter ego’s in HOU DIE BLINKKANT BO in 1960. So daar was ‘n vrolike Freudiaanse hupstappie in hierdie vrolike komedie waarin daar gespot is met naïwiteit en onskuld. 
Hier het die karakters Afrikaans en Engels gepraat – Boer en Brit het swaarde gekruis en maagseerlag-kaskenades ervaar. Ou Miesies Goldberg met haar moesie-mondjie en reuse-handgebare het ‘n losieshuis gehad waarin die manne mekaar maar moes verdra ten spyte van verskille. Een van hulle het ‘n lekker boepie gehad en is gespeel deur Frederik Burgers. Natuurlik is sy huur lank ágter die tyd en is mev. Goldberg die josie in! Klaas Haasbroek is die versinnebeelding van Afrikaner-onskuld as hy speelgoed moet toets en in die proses ‘n nuwe Klaasman laat ontpop: sy alter ego. Want sien, in hierdie hoogskop-lekkerlag-komedie was die humor meer gesofistikeerd as in vorige Pierre de Wet klugte. Klaas Haasbroek se flink idees word gekaap deur ‘n kollega. Maar wie het die moed om Klaas wakker te skud oor sy bleeksieligheid? Sy eie spieëlbeeld.
Klaas se alter ego, ‘n eerste in Afrikaanse rolprente, hits hom aan om sy man teen wrede base te staan! En dit veroorsaak dat Klaas se pragtige sekretaresse van hom begin hou en besluit om met hom te trou. Maar wag. Daar’s ‘n ander naam in HOU DIE BLINKKANT BO wat later in prominente breë letters sou verskyn. So breed soms dat my TV dit afgesny het na MO DE W. En dit is: ELMO DE WITT wat as deel van die redaksie ‘n titel of krediet kry in HOU DIE BLINKKANT BO. Maar hier was Emil nog die baas. Die talentvolle filmmaker het as ‘n redigeerder begin by AFRICAN MIRROR se nuusfilms. Hy het ook ‘n paar groot Afrikaanse flieks gesny en staan toe pa vir Voor Sononder, Kimberley Jim met Jim Reeves en sy grootste treffer, THE WINNERS. In HOU DIE BLINKKANT BO bevat sy draaiboek meer speelbare dialoog as die elokusie-stram-boekerigheid wat sommige flieks in daardie jare gekniehalter het. Die spel was ook sommer beter. Natuurlik speel baie Klaas Haasbroek se ongemaklikste tonele in die badkamer af wat deur al die manne in die losieshuis gedeel word – natuurlik met maagwerk-seerlag-gevolge. En dan daag ou miesies Goldberg altyd op die mees onmoontlike tye op!

Maar na Emil Nofal se HOU DIE BLINKKANT BO het veteraan Pierre de Wet die vonk by die kruitvat gebring in EN DIE VONKE SPAT. In daardie jare verskaf Eskom krag aan stoere boere op die platteland. Jan M Perold skryf die draaiboek waarin ‘n tradisionele befoeterde plaasboer, Frederik Burgers, agterkom dat sy plaas se grensdraad nog al die jare verkeerd geloop het. Nou bak sy kluitjies! Toe die vervlakste landmeter opmetings doen om te bepaal waar die kragdrade moet loop, beland die windpomp op sy BUURMAN se plaas... en dit nogal ‘n vrou! En die sewe soorte duiwel bars los as die boer, en nie Eskom nie, bots oor kragdrade! 

Ek wonder wat vandag se boere sou gemaak het as hulle EN DIE VONKE SPAT sien. Want hier wil ‘n koppige ou plaasboer NIE elektrisiteit hê nie. Hy kom goed genoeg oor die weg met sy parafienstofie en opsitkers en flikkerende lampe, baie dankie. Visuele slapstick bereik hier ‘n hoogtepunt as Frederick Burgers oordrewe verhoogspel lewer soos die groot handgebare wat hy maak en sy lomp probeerslae om na sy buurvrou te vry. ‘n Jong Marie du Toit, wat later diep spore in die Afrikaanse rolprent sou trap, is sy dogter wat hom probeer oortuig dat elektrisiteit die regte ding is om te doen! Jan Cronjé is ‘n verteenwoordiger van Eskom met meet as sy oog op die oom se pragtige dogter. Maar die oom dink net windpomp! Pa praat hier soet woordjies met die vervlakste koei wat nie ordentlik melk wil gee nie, terwyl sy dogter na hom soek om hom te oortuig om die elektrisiteit te vat!

En daar spat die vonke. Maar hare droogblaas is die minste van die oom se probleme... want daar is ook diewe wat kragdrade steel... nie iets waaroor ons vandag sou lag nie, maar in “EN DIE VONKE SPAT” word die diefstaltonele as grappig en slapstick uitgebeeld MET DIE BLOU VONKE WAT SPRING. Maar natuurlik, soos dit in alle goeie Afrikaanse rolprente in die vroeë sestigs kry die oom sy aster, laat sy kragdrade span, behou sy water en vind die pot goud onder die kragdraad-stellasie . EN DIE VONKE SPAT het sakke vol geld gemaak en Emil Nofal gevestig as ‘n toonaangewende rolprenttalent !

Toe word die sluise oopgedraai met aktuele temas soos die onopgeloste Die Bubbles Schroeder moord in 1961, asook Die Hele dorp weet en ‘n riller Spore in die Modder. 1961 sien nie minder nie as 19 rolprente hoofsaaklik in Afrikaans, voordat komedie in 1962 weer die botoon voer met Tom, Dirk en Herrie en Jamie Uys se LORD OOM PIET, Jy’s lieflik vanaand van Pierre de Wet, asook spanningsprente soos Stropers van die Laeveld, Man in die Donker en Voor Sononder.

Maar kom ons spring vorentoe tot by DR. KALLIE in 1968 wat vernuwing gebring het, al was dit eintlik 2 onewe rolprente in een. Elwen Morris, Franz Marx en Wena Naudé speel in die fliek oor ‘n rondloper, Siegfriedt Mynhardt, wat met gate in sy klere deur die veld stap. Ivan Hall wat ook die regisseur was, kry die idee dat ‘n klomp weeskinders ‘n bus oorneem en sleep tot in Mosselbaai waar hulle die tewerige ou juf. Siervogel aanvat en ‘n swietswinkel probeer oopmaak. June Seymour is die posbuslippie juf Siervogel wat die kinders eerder vir kompos wil gebruik.

Die toneel in DR. KALLIE hierna waar die kinders die bus deur die dorp sleep is klassiek en bewys dat Ivan Hall ‘n vars oog vir detail gehad het. Hy het selfs die ongewone jump-cuts gebruik en ‘n storie vertel wat vinniger beweeg as sy tydgenote s’n. Die toneel waar die kinders ‘n boks sprinkane in juf. Siervogel se winkel loslaat het mense in die paadjies laat rondval soos hulle gelag het. Ek onthou dat ek en my ouma my oupa omtrent moes lawe nadat hy die sprinkaantoneel gesien het. 

En dan hol die bus in DR. KALLIE met die straat af en stort oor die kranse in die see – ‘n toneel wat met ‘n allemintige 3 verskillende kameras verfilm is wat die vallende bus uit alle hoeke belig het. En die arme kinders is hul winkel en heenkome kwyt....

Dan is ons skielik in Hillbrow waar Reinet Maasdorp binnenshuise versierder speel en met Dr. Kallie kennis maak. Franz Marx is Harry, ‘n pierewaaier en die ergste is: Franz praat Engels met ‘n ander akteur se stem. Na nog ‘n paar nuwighede soos ‘n flink montage, lae kamerahoeke en vinnige redigering, blyk dit dat dr. Kallie ‘n verlore seun het. Francois van Heyningen besef later dat dr. Kallie sy pa is wanneer die rolprent van die kinders wegbeweeg en ‘n stewige greep melodrama na die doek bring, veral met die dood van ‘n dierbare brakkie genaamd Rexie. Daar is selfs ‘n kunstige swart-en-wit-montage met terugflitse uit die oorlog wat verduidelik wat met die tragiese Dr. Kallie gebeur het. Die doek word selfs in twee gedeel om al die inligting oor te dra, almal nuwighede in die Afrikaanse rolprent. Maar uiteindelik word Dr. Kallie en sy onwillige seun verewig en almal het lank en gelukkig saamgelewe....
Maar VOOR Dr. Kallie was daar in 1964 ‘n fliek wat eers ‘n streng niemand onder 21 beperking gehad het... toe verban is... en toe later ontban. My ouers het my in die inryteater ingesmokkel om te kyk waaroor al die kalawa was in DEBBIE.

Debbie kom uit die pen van Tryna du Toit wat dit as GROEN KORING geskryf het. Maar in Elmo de Wit se weergawe raak Suzanne van Oudtshoorn en Leon le Roux, wat met ‘n omroeperstem gepraat het, op mekaar verlief. Maar almal waarsku vir Deborah: Paul is ‘n rokjagter. Pasop. Maar wie luister nou as jou hormone jou pla en die lenteweer so soel oor Pretoria hang....

Elmo de Wit gebruik die room van die Afrikaanse rolprentbedryf in hierdie wyedoekproduksie, DEBBIE. Name soos Gert van den Bergh as Paul se streng pa, Cobus Russouw as ‘n ondeunde student , Emsie Botha as die pragtige Trudie wat op Cobus verlief raak en Siegfriedt Mynhardt as Debbie se pa wat nie sal toelaat dat ‘n bullebak sy dogter onteer nie. Maar, o wee, dan begin dit reën na ‘n romantiese piekniek. Dit raak erger en dit hael.... en Debbie en Paul skuil in ‘n motor.... Hulle skuif nader aan mekaar... Paul sit sy arm beskermend om Debbie, sy rus met haar kop op sy skouer. Debbie kan dit nie meer uithou nie en Paul wil net trou.

Maar dit bly nie net by mooi blommetjies en onskuldige bytjies nie. Kort voor lank is Debbie in die ander tyd en word sy opgeneem in ‘n huis vir ongehude moeders. Hettie Uys is Debbie se ma wat probeer wal gooi vir haar arme dogter wat in die ander tyd is, maar Siegfriedt Mynhardt bly onsimpatiek en bombasties oor sy dogter se flater. Die nuus van Debbie se swangerskap word rugbaar.....

Paul studeer intussen vir dokter oorsee en niemand dink dat hy sy plig gaan nakom en met Debbie gaan trou nie. Maar die rolprent DEBBIE het nog ‘n hartseer troefkaart wat dit na die vlak van intense melodrama neem met betraande gesigte, verwarde oë en bewende lippe. Wanneer Debbie se kind gebore word, word sy van Deborah af weggeneem en beland by pleegouers. 

‘n Bedroefde Debbie ry huis toe, Paul kom terug van oorsee af. Jare later beland ‘n siek dogtertjie, wat van ‘n windpomp afgeval het, onder Paul se mes... en besef die Debbie en Paul dat dit hulle kind is. Paul red die meisietjie se lewe. DEBBIE het seker die mees onbevredigende en kortaf einde in die geskiedenis van die rolprentbedryf, moontlik onder die druk van sensuur: Paul en Debbie snik hul harte uit oor hul kind, maar kom nie tot troue nie. En terwyl natgehuilde gehore sit en wag dat hulle moet versoen, doof die doek na swart met die laaste woorde: REGISSEUR: Elmo de Witt....

En so eindig Debbie op ‘n waarskuwende noot. Seks buite die huwelik word nie geduld nie en word wreedaardig gestraf.