|
||
Die era van musiekrolprente |
||
As Julie Andrews in THE SOUND OF MUSIC en AUDREY HEPBURN in MY FAIR LADY dit kon doen, kon die Afrikaanse rolprent ook. En so breek die era van die musiekrolprent in Afrikaans aan met ELMO DE WITT aan die stuur. Elmo begin as ‘n regisseur vir Jamie Uys in 1959 met Satanskoraal wat in Mosambiek verfilm is en S.A. se eerste onderwatertoneel bevat. Hy maak ook die kontroversiële TER WILLE VAN CHRISTINE wat godsdiens aanraak en ‘N BEELD VIR JEANNIE oor ‘n beeld van vroue in die konsentrasiekamp in die jare 70. Maar eers maak Elmo DIE DANIE BOSMAN STORIE: Franz Marx speel die rol van een van S.A. se mees geliefde komponiste in DIE DANIE BOSMAN storie in 1969. Gilbert Gibson skryf die draaiboek, Lance James sing namens Franz Marx en Con Lamprecht is die musikale regisseur. ‘n Doodgewone klerk in die Landboudepartement van die Uniegebou skribbel NOTE in plaas van syfers, en stuur ‘n kwaai boer na sy baas, mnr. Uys toe, gespeel deur Siegfriedt Mynhardt, in plaas daarvan om self die probleem te hanteer. Kort hierna ontmoet Danie die pragtige Dorothy, Min Shaw. So tussen kontrakte met die SAUK en sy saai werk, stuur Danie vir Dorothy blomme en geskenke. En woerts! Die twee trou en dink hulle kan van liefde, kouewater en musiek oorleef. Maar die depressie tref die land en niemand wil Danie se musiek koop of speel nie... In ‘n interessante eerste word die doek in 16 dele verdeel om Danie en Dorothy se geluk in ‘n montage te bevestig, maar dan deel Dorothy vir Danie die verpletterende nuus mee: sy kan nie kinders hê nie. Dorothy en Danie sit in ‘n park en wroeg oor hul lot... tot Danie ‘n oubaas sien, ‘n ou musikant... wat langs ‘n dam vir hulle viool speel.... Maar geld bly skaars en Danie en Dorothy trek in ‘n kleinerige huisie, vir Danie ‘n KROT, in om geld te spaar. ‘n Welsynswerkster, ‘n klein rolletjie deur die formidabele Dulcie van den Bergh, bring ‘n pleegkind aan wat die Bosmans grootmaak. Maar niemand wil Danie se musiek hê nie en in ‘n oomblik van woede verbrand hy dit. Danie Bosman raak siek en Dorothy raak swanger. Danie word Kaap toe verplaas en op die maat van sy musiek beleef ons die skoonheid van Kaapstad terwyl Tafelberg buite waghou.... Danie raak al sieker, maar die mense raak bewus van sy musiek en gedurende die simboliese ossewatrek word Boereseun ‘n reuse-treffer. Maar Danie se eerste tjek is ‘n skamele 1 en 6... al het 50,000 plate verkoop... want in daardie stadium word tantieme nie aan komponiste in S.A. betaal nie. Op die hoogtepunt van sy lewe, wanneer Danie ‘n groot uitvoering op radio gee van die Danie Bosman Simfonie, stort hy finaal inmekaar en sterf aan kanker. Gedurende sy sterftoneel vra Danie Dorothy om ‘n belofte. En in Danie se gedagtes die klank en ritme van ‘n trein.... Franz Marx en Min Shaw in DIE DANIE BOSMAN storie, ook genoem: Danie Bosman. Die jare sestig is ‘n vreemde mengelmoes van aksieprente soos Die Jagters Diamante is Troewe, Boerboel de Wet en die nostalgiese RUITER IN DIE NAG, terwyl komedies nog steeds die botoon voer: Jy is lieflik vanaand, Piet se Niggie, As ons 2 eers getroud is en Die Professor en Die Prikkelpop. Jim Reeves kom Suid-Afrika toe vir KIMBERLEY KIM met ‘n jong Jans Rautenbach, aan wie ek die hele program volgende week wei, en Emil Nofal, maar Elmo de Witt gaan volstoom voort met glansryke musiekrolprente waarin mooi mense, wat nie altyd kan toneelspeel nie, keurige liedjies uit basuin. Die grootste treffer wat S.A. tot in daardie stadium gesien het, was HOOR MY LIED. Ek onthou dat ons dit by die inry gaan kyk het, en dat die motors letterlik kilometers ver gestaan het. Vier mense skryf HOOR MY LIED se storie in 1967: Basil Stols, AP Du Plessis, Sakkie vd Walt en Elmo de Witt. As assistent kameraman, ‘n man wat self sy merk as later regisseur sou maak: Manie van Rensburg. Na sy geliefde sangeres-vrou se dood beland Gé Korsten is ‘n dokter in ‘n ongeluk waarin sy dogtertjie, Marietjie, Lindie Roux, verlam word. Martin Pols oftewel Mark Condor wat met Gerhard Viviers se stem praat, en Helga van Wyk is verantwoordelik vir die ongeluk. Elmo maak hier van parallelle redigering gebruik wanneer die twee motors na mekaar toe aan spoed. En intussen onthou Dr. Dawid sy geliefde vrou wat deur die heide hardloop en kort daarna oorlede is, gespeel deur Min Shaw. Maar onheil wag op die pad..... Verpleegster Lydia en haar verloofde, Helga van Wyk en Martin Pols vry vrolik terwyl die dokter vir Marietjie in die motor sing. En dan... ‘n tragedie!! Dr. Dawid begin blind word en Marietjie kan nie loop nie... die dialoog was styf en onnatuurlik en die spel deklamerend en geforseerd, maar die mense het na HOOR MY LIED toe gestroom, al was dit net om te hoor hoe Gé vir ‘n hospitaal vol siek kindertjies ‘n liedjie sing. Dit was sentimenteel en soetsappig met stroop oor elke koeksister, maar die mense het weer en weer gaan kyk. En tussenin, Wena Naude as die afkeurende matrone wat toesig hou. Dr. Dawid raak verlief op die verpleegster Lydia, gespeel deur Helga van Wyk, maar hy kan nie meer opereer nie want hy kan nie meer ordentlik sien nie. Marietjie kan net in New York geopereer word en die karakters vertrek Amerika toe... Ons sien tonele van dr. Dawid en sy geliefde Lydia in New York. Die melodrama volg mekaar in flink tonele op, soos Gé Korsten wat HOW DEEP IS THE NIGHT sing terwyl hy blind word met ‘n jong Dirk de Villiers as een van dr. Dawid se pasiënte wat sy lewe aan hom te danke het. Dr. Dawid hou die een konsert na die ander om geld in te samel, sodat almal uiteindelik Amerika toe vertrek vir Marietjie se operasie. ‘n Oog-spesialis wat dr. Dawid se sig kan herstel, staan hom te woord.... En dan sing Dr. Dawid gee in die buiteland dawerend die titelliedjie van HOOR MY LIED. Hy sing sy hart uit oor sy lewe en sy liefde vir Lydia. En die feit dat beeldskone wonderwerke in die jare sestig, veral in die Afrikaanse fliek, altyd sou moontlik wees. Dr. Dawid, nou half blind, word deur impressarios raakgesien en saam met sy geliefde Lydia en sy dogtertjie gaan hy aan die einde van die rolprent op ‘n wêreldtoer in HOOR MY LIED. In daardie dae, 1968, maak ‘n jong Dirk de Villiers opgang met nog ‘n musiekrolprent wat ‘n klein loket-revolusie sou veroorsaak. Franz Marx en Min Shaw in ‘n soort boere-musiekblyspel wat die sjarme van Jamie Uys se onskuldige boere-karakters kombineer met slapstick-komedie, lomp kommuniste as skurke, en ‘n pragtige plaasnooi wat ‘n voorliefde vir jeeps het waarin sy dan uiting gee aan haar liefde vir die wêreld. Mense op die platteland het veral gestroom na ‘n huldeblyk aan die onskuld van ‘n onskuldige boereseun wat betrokke raak by diamantsmokkel, wrede Russe, ‘n vietse Russiese verleidster en ‘n parmantige bobbejaantjie genaamd Filies. JY IS MY LIEFLING was ‘n reuse-treffer. Dirk de Villiers, wat einde verlede jaar oorlede is, is in 1924 gebore. Hy begin as akteur in rolprente soos Die Krugermiljoene, voordat hy die verhaal vertel van ‘n onskuldige bleeksiel-plaasboer Willie Willeboer wat maats maak met ‘n bobbejaantjie op sy bosveldplaas en verlief raak op die minsame nooi van die plaas langsaan, Min Shaw. In hierdie toneel huppel en kerjakker Willie saam met Fielies die bobbejaantjie rond, voordat Min bietjie later uitgelate agter die stuurwiel van ‘n jeep met ‘n melodie lostrek. Maar sy pluk daardie stuurwiel met soveel mening rond dat die jeep LANKAL die pad moes byster geraak het. Die jeep bly wonderbaarlike stewig op die pad en wat sing is Min! Die diamant wat gesteel word, word per valskerm oor die bosveld afgegooi en natuurlik beland dit in Willie Willeboer se besit. En hier sit die onskuldige er stort sommer buite en die ondeunde plaasnooi, Mindie konsternasie wat in die Grand Teater in Brakpan losgebars het toe ons JY IS MY LIEFLING daar gaan kyk het, en S.A. se eerste naaktoneel skielik in JY IS MY LIEFLING vertoon is. Franz Marx as Willie Willeboer stort sommer buitekant, en die ondeunde plaasnooi, Min Shaw, kom onverwags om die hoek en sien dit was die bobbejaantjie die afgelope paar weke moes aanskou... ‘n kaal man onder die stort. En terwyl die water stroom en die bobbejaantjie lag en die meisie se oë bewonderend rek, sing die voëltjies en speel die musiek. En na vele misverstande waarin Willie die diamant in ‘n olifant se boud skiet en die skurke op hul herrie kry, sit Min Shaw weer in haar geliefde jeep, ruk en pluk aan die stuurwiel en besing die skoonheid van haar liefde vir Willie in JY IS MY LIEFLING! Dit was ‘n tyd van absolute onskuld. Die platteland was altyd voorgehou as ‘n ongeskonde paradys, die karakters was suiwer en skoon en enigiemand wat dit gewaag het om hierdie utopia te versteur, is wreed gestraf. Dirk de Villiers maak nog vele rolprente hierna, o.a. Die Spaanse Vlieg, die eerste TV drama oor bruinmense in Afrikaans waarvan ek die draaiboek geskryf het, Jantjie, en die TV-reeks ARENDE. Hier bewys Min Shaw haar liefde aan Willie Willeboer met intense sang gedurende die slottonele van JY IS MY LIEFLING met son ‘n skeutjie van GREEN SLEEVES. Die liefde blom en die maroelas pop as die boeremeisie haar trou aan Willie belowe. Min Shaw sing oor hoe lekker dit is om die boerseun te kry in JY IS MY LIEFLING |
||