Die Jare 60 en 70
 

 
     
 
In DIE AFRIKAANSE ROLPRENT GISTER EN VANDAG krap ons steeds in die jare sestig rond en kyk dan hoe die koms van TV die sewentigs beïnvloed het.

In 1969, terwyl Jans Rautenbach se meesterstuk KATRINA wenkbroue laat lig het, ontplof MAJUBA met ʼn bloedige veldslag en ʼn sterrolverdeling waarin al wat manlike speler is rolle gehad het. Die gevegsekwensies wat realisties en indrukwekkend vir daardie tyd.
Die melodramatiese SIEN JOU MôRE lei die jare 70 in, terwyl nog ʼn Gé Korsten musiekrolprent, LIED IN MY HART, die slag teenoor skoonheidskoningin Mitzi Stander, skares jolig laat saamsing, en die oor-die-voete-val-klug DIE VERVLAKSTE TWEELING mense laat giggel. CHRIS DU TOIT maak nou sy opwagting. Die aantreklike rolprentheld, wie se stem elke slag oorgeklank is behalwe met DIE VLINDERVANGER, bevind hom in die fliek op universiteit. Al was SIEN JOU MôRE nie ʼn besondere goeie rolprent nie, het dit ten minste die euwels van dwelmmisbruik uitgebeeld aan die hand van die rooi gevaar. Dit is gegrond op W.A. De Klerk se DIE BELYDENIS VAN NELIA BELL, en Klasie Botha vertolk haar enigste hoofrol in die Elmo de Witt rolprent.

Twee jong studente draf klas by ʼn bose professor Tony Jay wat met Danie Smuts se stem gepraat het. Met stoere verwaandheid verlei hy studente om dwelms te gebruik sodat hulle meer ontvanklik is vir sy Kommunistiese leerstellings. Luister na hierdie geforseerde en deklamerende lesing deur Prof. Ullman, terwyl Chris du Toit as Tien Fouche bekommerd luister. Danie Smuts gebruik ʼn hoogdrawende Hollandse aksent.

Een van Nelia se ontvanklike vriendinne San, gespeel deur Maryan Johnston, raak vasgevang in ʼn dwelmhel waaruit haar verloofde, Franz Marx as Niek Coetzee, haar nie kan red nie. Hulle boek in die Mellville Hotel in sodat sy kan uitvars, maar dinge loop skeef. Sy sterf aan ʼn oordosis dwelms en haar verloofde pleeg uit smart selfmoord. Nou stel die gierige professor Ullman sy visier op die onskuldige Nelia.

In hierdie toneel gaan studente op ʼn dwelmreis soos weerspieël deur die musiek. Terloops, klassieke musiek is deur Sam Sklair verwerk om sofistikasie aan die rolprent te gee en wat probeer om die tragedie te onderstreep. Hierdie dwelmreis kompleet met kameratrieks en verwronge klank, was ʼn eerste in ʼn Afrikaanse rolprent. Sake beweeg na ʼn dramatiese klimaks. Die stoere en edel Tien is verlief op wankelrige Nelia en hy sien hoe die professor haar na ʼn dwelmhel wil lei. Die boodskap word hardhandig op kykers afgedwing in ʼn prekerige styl, en ek onthou dat ons op skoolindirek opdrag gegee is om na SIEN JOU MôRE te gaan kyk. Tien (Chris du Toit) moet Prof. Ullman keer voordat hy Nelie in die afgrond neem. Tien besoek Ullman buite sy huis en ʼn konfrontasie vind plaas waarin Tien moord pleeg....

En dis presies wat Tien doen. Die uiteinde van die saak is dat hy homself aan die polisie oorgee en in die tronk beland –die bekende skrywer Kas van den Bergh speel die regter, vir die moord op prof. Ullman. Maar al was die prys hoog, het Tien vir Nelia en talle ander studente uit die kloue van die bose kommunis en dwelm kartel gered.

Jannie TOTSIENS verwar en skok Afrikaanse rolprentgangers in 1970, terwyl verspotte slapstick sekskomedies soos Banana Beach bikini’s dubbelsinnighede kwytraak en die streng sensuurwette toets. Nog ʼn bekende Afrikaanse roman, HULDA VERSTEEG MD word as film verwerk, en DIE DRIE VAN DER MERWES laat mense in 1970 vergeet van hul sorge. Maar ʼn paar maande tevore maak RICHARD DANEEL ʼn rolprent oor ʼn lomp speurder, Boetie Flenters, wat alles verkeerd doen maar die skelms op hul herrie gee . Daneel is nie so bekend soos sy tydgenote nie, maar sorg vir OUPA FOR SALE in 1968 en VROLIKE VRYDAG in 1969 en toe STADIG OOR DIE KLIPPE.

Boetie Flenters, nogal besadigd gespeel deur Al Debbo, werk vir Wessels Privaat Speurders. Hulle probeer diamantsmokkelaars vastrek. Boetie is lomp en kom nie baie goed oor die weg met sy baas, Monica Terblanche, nie en hy verloor sy werk. Nou moet hy ʼn boef, genaamd Hans, arresteer, maar val meer oor sy eie voete as wat hy leidrade bymekaarmaak. Joe en Petro Stewardson het die draaiboek vir Stadig oor die Klippe geskryf wat eintlik lyk na ʼn rolprent op soek na ʼn styl. Dit was ook nie ʼn groot loketsukses nie ten spyte van Al Debbo se teenwoordigheid.

STADIG OOR DIE KLIPPE se dialoog was maar stram die regie verbeeldingloos. Dit het eintlik soos ʼn TV-drama gelyk. Natuurlik was daar ʼn fopdos-toneel met ʼn oordrewe kamp haarkapper omdat die mense nie soveel as wat verwag is in die fliek gelag het nie, asook middernagtelike jaagtogte en ander verskonings om Al Debbo op die verhoog saam met Nico Carstens en sy orkes te kry.

Mense het voorlopig genoeg gehad van lawwe komedies wat dieselfde resep herhaal het. Dirk de Villiers waag in 1972 om ʼn riller te maak, genaamd MY BROER SE BRIL. Cobus Rossouw vertolk die rol van ʼn geheimsinnige tweeling. Die een broer met die strak mond, Adriaan van der Bijl, weier om na sy pa se begrafnis te gaan en kyk toe hoe sy stiefma (Marie du Toit) en ʼn rare, eksentrieke vriend Freddie, ʼn soort huiskneg, gespeel Pieter Fourie, die kasteelagtige woning op Noetzie verlaat. Alles is Goties groot en donker met ʼn imposante trap en ʼn formidabele sitkamer. Wanneer die begrafnisgangers vertrek, konfronteer Adriaan se bose broer PAUL hom met geraamtes uit die van der Bijls se bloedige kas vol geheime.....

Dirk de Villiers gebruik hier krenkskote, donker, atmosferiese beligting, swaar imposante meubels en onderspeelde vertolkings, veral van Cobus Rossouw in ʼn dubbele rol. Die veronregte en blinde Adriaan hoor ʼn beweging langs hom. Hy skrik. Hy swaai om. “Wie’s daar?” vra hy kortaf. En daar staan sy tweelingbroer, die bose Paul met ʼn siniese glimlag om sy mondhoeke. ʼn Toneel soos hierdie kan net met ʼn rewolwerskoot eindig. Maar wie word geskiet?

Een van die twee broers is dood, maar wie? Ons sien ʼn blinde Paul wat sê dat die bose Adriaan hom wou aanval en dat hy hom uit die weg moes ruim. Maar in werklikheid het die siende Paul die blinde ADRIAAN van die gras af gemaak. Hy hom voor as Adriaan om die erfporsie te kry, want, dink hy, sy pa sal alles aan arme Paul nalaat. En toe... die wrede waarheid. Marie du Toit as Adriaan se stiefma erken dat sy net met sy pa getrou het vir sy geld en sy erf skaars ʼn haakspeld. En dan verrassende ontknoping. Die vrotsige Paul het die goeie ou, die blinde Adriaan doodgeskiet sodat hy, Paul, al die geld kon erf, maar in ʼn brutale kinkel erf die kamtige dooie Paul R3-mil, maar Paul doen hom mos nou voor as Adriaan en hy kan dit nie erken nie, dan word hy van moord aangekla. Dus word Adriaan met niks gelaat nie. Wal wat hy dus vir al sy verraderlike moeite gekry het, was sy broer se bril.

Die jare 70 was dan ook die era van verfilmde radioverhale. DIE GEHEIM VAN NANTES in die 60-erjare, DIE BANNELING en vele Beyers Boshoff-stories word verfilm. Maar een van die gewildstes was DIE WILDTEMMER in 1972, gegrond op ʼn klassieke radioverhaal deur Willie van Rensburg wat ons as skoolkinders gehipnotiseer het. Vir ʼn verandering het die rolprent die volledige verhaal ekonomies vertel van ʼn bokser, Kobus le Grange (Groot Ben Dekker) wat op die plaas Klipkraal aankom en hom die gramskap van die kwaai plaasboer se mooi dogter, RIKA, gespeel deur Anina Conradie, op die hals haal. Kobus met die ystervuiste maar die hart van goud verduidelik aan sy geliefde ou handlanger, Tientong, wat hy in die bosveld maak.

Die twee mooi susters op die buurplaas het albei ʼn ogie op die aantreklike, manlike Kobus, maar hy wil net alleen gelaat word. Rika, Anina Conradie, se blonde sussie, gespeel deur Annette Barnard, konfronteer die onbeskofte buffel en sy helper, Tientong, ʼn swartgesmeerde Pieter Hauptfleisch wat die rol ook op radio gespeel het. Ben Dekker praat met Johann de Kock se stem. Die vurige bosveldnooi, Annette Barnard, bestorm Kobus. Luister na die dialoog wat baie tipies van die Springbokverhale van die sestigs was.

Elmo de Witt doen die regie, en omdat Willie van Rensburg self die draaiboek geskryf het, is dit meer getrou aan sy klassieke radioverhaal wat as leerskool gedien het vir vele opkomende radio en TV-skrywers wat na hom gevolg het. Die sukses van die verhaal en die rolprent het gelê in die vuurwarm, viriele en befoeterde karakters, die woeste bosveld-agtergrond, verbode liefde en die mooi meisies wat die rowwe boer, wat wild vang vir ʼn lewe, wou inpalm. Hier vra die robuuste Kobus vir Rika se verwaande kêrel om verskoning omdat hy so onbeskof was, maar die paloeka bly verwaand. Rika dink Kobus is ʼn papperd.

Die Wildtemmer gooi ʼn wilde draai op Randall’s Ranch nadat Rika van ʼn perd afval en tydelike verlam raak. Sy sal ook nooit kinders kan hê nie. Kobus ontmoet die vurige rooikop Jenny, gespeel deur Diane Newman wat met June Seymour se stem praat wat Jenny op radio gespeel het. Hulle raak verlief en trou. Net na die baba se geboorte word Jenny deur ʼn leeu opgevreet. Tientong hou homself verantwoordelik vir die ongeluk. Kobus en die baba gaan terug na Rika en die plase word verenig.

Die vroeë sewentigs was ʼn hutspot van allerhande giere en kulture. Daar was stroperige melodramas oor die liefde tussen ʼn seun en sy hond, LIEFDE VIR LELIK, die emosiebelaaide VLUG VAN DIE SEEMEEU asook Emil Nofal se treffer THE WINNERS en ʼn klugtige herskepping van die Springbokradio-klugreeks NEXT STOP MAKOUVLEI. 1973 sien SIENER IN DIE SUBURBS met die oorspronklike verhoogrolverdeling onder Francois Swart, maar ongelukkig is die regie strak en staties – dit is baie duidelik op ʼn stel verfilm in plaas van in ʼn regte agterplaas in ʼn agterbuurt, en die spel, goed soos dit was, is steeds vir die verhoog geregisseer en nie vir film nie. ʼn Gulde geleentheid om een van die beste damas nog in Afrikaans nuwe gestalte te laat kry, gaan verlore.

DIE WIT SLUIER laat ʼn radioverhaal herleef met Marie du Toit as die kwaai suster de Leeuw en Cobus Rossouw as Charl, haar groot liefde. In dieselfde dae is daar ʼn klugtige komedie oor DIE SPOOK VAN DONKERGAT, voordat die blatante weermag-propaganda era aanbreek met AANSLAG OP KARIBA en SES SOLDATE.