|
In hierdie episode van DIE
AFRIKAANSE ROLPRENT GISTER EN VANDAG die propaganda-rolprente van die
jare sewentig en ʼn paar slim rebelle....
Vir my was Bertrand Retief se SES SOLDATE ʼn ironiese ervaring, want dit
was veronderstel om ons troepe in die sewentigerjare te motiveer om te
gaan veg. Dit wou ook wys hoe “lekker” die kameraderie in die weermag
eintlik is of veronderstel is om te wees. Dit is verfilm in die Danie
Theron Krygskool duskant Kimberley waar ek pas my Weermagopleiding
voltooi het. Ek het my vergaap aan hoe rolprente die waarheid kan
verdraai, want my weermag-opleiding in dieselfde bungalow waar die film
geskiet is en op dieselfde paradegrond waar ons byna doodgedril is, was
nooit so snaaks, lekker, bemoedigend, prettig of vrolik soos SES SOLDATE
dit gemaak het nie.
SES SOLDATE bevat 6 stereotipe Afrikaanse en Engelse ouens. Richard
Loring is die slap, koel Engelsman Soutie, Lieb Bester is die
militaristiese Afrikaner boerseun Liebling, Ken Hare is die hardekwas
Tiny, Friedrich Stark die lieftallige Poepies en Barry Trengrove ʼn sagte,
genuanseerde en gesensureerde weergawe van wat veronderstel is om ʼn
sersant te wees. Ek het nooit met so ʼn simpatieke en vriendelike sersant
te doen gehad in my Weermagdae nie. Inteendeel! Maar die ma’s en pa’s in
die teaters het goedig gelag vir die sersant se kwinkslae. Aanvanklik is
die manne rou rowe, die weermag wag om hulle in te breek, hulle moet veg
vir hulle land en hulle word geïnisieer... ai, hoe lekker is die eerste
drilsessie in SES SOLDATE met die ER ene tog nie.
Natuurlik beland die manne, o.a. Sydney Chama as Chico op die Grens en
moet hulle hul opleiding nou toepas. Na ʼn skermutseling of twee vier
hulle die lekkerte van die Weermag en nog ʼn veldslag wat gewen is. Die
enigste ligpunt: was ʼn WÊRELD SONDER GRENSE wat jare daarna eers gewaag
om aan die hand van Scott Scott en Marcel van Heerden die Weermag en die
gruwels van die stryd op die Grens te wys soos dit werklik was. SES
SOLDATE is geregisseer deur BERTRAND RETIEF, self met
Weermag-verbindings. Die Weermag hou ʼn stewige ogie oor die verfilming
en gee hul volle samewerking. Mens sou dus aanneem dat hulle ook die
draaiboek sou goedgekeur het. Ek weet van min van my weermag-kamerade
wat SES SOLDATE geglo of waardeer het. Maar toe begin Regardt van den
Bergh regie doen en vat nog ʼn
Die taalgebruik raak los en ontspanne, die redigering vinnig en
byderwets, die spel natuurliker en die karakters meer geloofwaardig. Dit
is mense hierdie met wie almal kan identifiseer.
Regardt vd Bergh het van kleins af saam met rolprente grootgeword, want
sy ouers, Gert van den Bergh en Dulcie van den Bergh, het gereeld in
films opgetree, en Regardt self het skitterende vertolkings in rolprente
soos Die Kandidaat gelewer. Hy vat toe die Weermag met ʼn siniese grinnik
en draai hom op sy kop met ʼn gemaklik wip in sy straatwys stap. Hy kon
nie die weermag kritiseer nie, want dan het die sensors die film verbied.
Hy kon ook nie afkeurend daaroor frons nie, want dan sou dit geen
silwerdoek gehaal het nie. Hy wys net die paradokse in die Weermag in ʼn
hardekwas-fliek wat eintlik ʼn satire op die lewe in die Weermag is:
BOETIE GAAN BORDER toe met ʼn jong, parmantige Arnold Vosloo as ʼn
verwende Afrikaner-seun wat nie ʼn uniform wil aantrek nie. Dié slag kon
troepe lag, herken en identifiseer. Hier maak Boetie se stiefpa hom ʼn
aanbod wat hy nie kan weier nie.
Dialoog het nog nooit so los en natuurlik in Afrikaanse geklink nie.
Johan Coetzee en Cor Nortjé het die spitsvondige en, vir daardie tyd,
gewaagde draaiboek met sy kwistige in-die-kol-humor geskryf, en verskeie
bekendes maak hul debuut in die rolprent. Eric Nobbs is puik as die
wrede Sersant Majoor, en Frank Dankert, Frank Opperman en Janie du
Plessis pop op in rolle wat hulle oornag bekend maak. Regardt se regie
was flink, ekonomies, vlot en opwindend. En BOETIE GAAN BORDER TOE trek
die borstrok uit, noem ʼn ding op sy naam en wys ʼn Suid-Afrika en ʼn nuwe,
moderne Afrikaner op die rand van verandering . Vergelyk bv. SES SOLDATE
se sersant met HIERDIE woeste sersant, Eric Nobbs, wat die troepe
verwelkom.
Die vervolg, BOETIE OP MANEUVERS vat die storie ʼn bietjie verder. Boetie
is steeds in die weermag, nou al ʼn ouman wat nie meer rondgeneuk word
nie... hy soek ʼn 7-dae pas en sy meisie, Janie du Plessis wag by die
huis. Maar nie soos die suiwer astertjies van die jare 60 nie. Hierdie
meisie is byderwets en moeilik. Ian Roberts doen ʼn briljante
vergestalting van ʼn kwaai korporaal wat die oumanne vieslik rondfoeter.
Luister na Johan Potgieter se natuurlike troepe- dialoog en die
doodgewone taalgebruik wat vir sê dis regtige mense wat hier praat.
BOETIE OP MANEUVERS het die Afrikaanse rolprent na ʼn wonderlike
ontspanne en moderne plek geneem waar hy nog nooit was nie.
Maar voor die Boetie-fenomeen, kom televisie en Franz Marx begin films
maak. Hy skryf die draaiboek vir DIE VLINDERVANGER, waarin vroue baie
geskreeu het en rondgehol het, gegrond op ʼn gewilde roman van die jare
sewentig. ʼn Bekommerde ma, Marie du Toit, en haar dogter, Annelize du
Toit, daag by ʼn vakansie-oord duskant Rustenburg op wat deur ʼn
reeksmoordenaar geteister word.... Hulle word ingelig oor die gevaar.
ʼn Ontstelde moeder ontdek ʼn lyk langs die idilliese waterpoel. Wie kon
die moord gepleeg het? Chris du Toit as die aantreklike eienaar Lourens
Wiid wie se vrou in vreemde omstandighede dood is. ʼn Vleispaleis-blonde
held wat maar net staan en mooi lyk en agter die jong Marina aan is?
Magda Beukes, kompleet in ʼn sjoebroekie, as ʼn winkelassistente? PW
Marais as ʼn stroewe en nuuskierige opsigter of Monica Breed as sy
praatsieke vrou? Of Franz Marx as die stuurs Clark Ashley, die
pierewaaier wat al wat vrou is in die vakansie-oord verlei en wie se
vriendin vermoor is? Lourens Wiid gee hier inligting aan Ester Benade,
Marie du Toit, nadat sy op die lyk afgekom het. Hier praat Chris vir die
eerste keer met sy eie stem.
Almal staan onder verdenking. Koos Roets doen hier ʼn gewaagde ding as
kameraman in ʼn tegniek wat nog nie so dikwels in daardie dae gebruik is
nie, maar wat direk oorgeneem is van die Hollywood-rillers soos
EYEWITNESS: die kamera word met die hand vasgehou en agtervolg die
onskuldige meisie deur die bosse terwyl sy deur die moordenaar gejaag
word. En in ʼn dramatiese ontknoping word die moordenaars ontmasker. Wie
dit was? Jy sal maar self na DIE VLINDERVANGER moet kyk om vas te stel.
Franz maak nog baie rolprente in hierdie jare soos Agt Vroue, PRINS VAN
PRETORIA, EN DIT WAS AAND EN DIT WAS MôRE en Skaduwees van Gister.
Volgende week meer oor sy rolprente.
Maar terselfdertyd maak nog ʼn gewilde fors sy verskyning: ʼn joernalis
wat radioverhale begin skryf wat geweldig gewild word: Jan Scholtz.
Sy Môre Môre stel twee nuwe sterre aan die Afrikaanse rolprentfront
bekend: Hans Strydom en Sybil Coetzee. Hier gebeur die onnoembare: ʼn
skooldogter raak op haar onderwyser verlief, maar haar kêrel, ʼn gemene
Johannes Slabbert, hou hulle dop. Uiteindelik word die skooldogter op
die sportveld deur ʼn spies gedood. Maar Jan Scholtz se verhale het nie
net oor wroeging gegaan nie. Hy begin ʼn reeks rolprente, en ook TV-reekse,
waarin ʼn onpaar paar deur bevooroordeelde ouers verhoed word om hul
liefde te vind. DIE WINTER VAN VEERTIEN JULIE, DADA EN DIE FLOWER, SNIP
EN RISSIEPIT en ʼn rolprent wat ʼn jong akteur, Ryno Hattingh in KIEPIE EN
KANDAS bekendstel in 1980. Hier, in ʼn tipiese Jan Scholtz-toneel,
ontmoet Kandas na ʼn ligte ongelukkig ʼn ou liefde, Kiepie, gespeel deur
Debbie Labuschagne.
Kiepie en Kandas. Net voor televisie begin, in 1974, word ʼn allemintige
33 rolprente uitgereik waarin vervaardigers vir oulaas probeer om die
volk in die fliek te kry voordat die kassie hulle sou vaskluister. Daar
is komedies soos PENS EN POOTJIES en hordes verfilmde radioverhale soos
Jan ScHoltz se DIE KWIKSTERTJIE, die vervolg op Môre MôRE, ASOOK
Geluksdal, Ongewenste Vreemdeling en weer ʼn Beyers Boshof-storie, Dans
van die Flamink met nog ʼn nuwe rolprentheld uit AANSLAG OP KARIBA, Rod
Alexander, spanningsprente soos DOOIE DUIKERS DEEL NIE met Sandra
Prinsloo en Marius Weyers, Katinka Heyns en Tobie Cronjé in BABBELKOUS
EN BRUIDEGOM, selfs ʼn verfilmde fotoboekie, SUSTER THERESA, die
emosionele VANG VIR MY ‘N DROOM, die formidabele Babs Laker teenoor
skoonheidskoningin Anneline Kriel in SONNEBLOM UIT PARYS en MET LIEFDE
VAN ADELE. En tussenin sing Hans Strydom en nog ʼn opkomende jong ster,
Alice Krige, onlangs in SKIN te sien in VERGEET MY NIE!
En die ligpunt en vernuwende fors tussen al hierdie strooivermaak? MANIE
VAN RENSBURG in die volgende episode van DIE AFRIKAANSE ROLPRENT GISTER
EN VANDAG.
|
|