|
||
Manie van Rensburg |
||
Manie van Rensburg was een van ons blinkste en voorste rolprent-talente. Hy het byderwetse rolprente gemaak nadat hy as redigeerder en kameraman begin het. Hy het met die Afrikaner op lighartige wyse gespot en het in die proses nog die sensors, nog die publiek aanstoot gegee soos sy voorgangers. Maar onder sy komedie was daar ‘n ligte angel wat gesofistikeerde en intelligente rolprentgangers raakgesien het. Sy eerstefliek as volwaardige regisseur was DIE BANKROWER in 1973, 2 jaar voor die koms van televisie. DIE BANKROWER was dan ook die eerste kenwysie van MONITOR. Chris Barnard en Manie van Rensburg het saam die draaiboek geskryf. Hier was ‘n plesierig loslit-rolprent in ‘n koel, byderwetse styl. ‘n Nuwe soort moderne en sexy Afrikaner met lang hare en ‘n snor, (MARIUS WEYERS) vat die lewe soos hy kom, maar stem nie saam met sy pa se ou metodes nie. Anton wil sy eie pa se bank beroof en die geld voor die einde van die naweek verdubbel en terugbetaal. Sandra Prinsloo help hom. Maar ‘n gemene skurk, Cobus Russouw, kom te hore van die plan en wil die geld inpalm. Baie van DIE BANKROWER se tonele het in Johannesburgse strate afgespeel. Hier sien ‘n mens rare tonele van Jhb voor die verkeer hom verwurg het en toe die Ponte Gebou nog in wording was en Empireweg ‘n stil straat was. Anton, Marius Weyers, beplan die volmaakte bankroof en maak vir die voetse Rieks, Sandra Prinsloo, deel van sy plan. Daar is hope opwinding in DIE BANKROWER. Manie van Rensburg se tempo was seepglad, sy styl informeel en sy storie gemaklik en seepglad. Manie maak vermaak vir die moderne Afrikaner. Die karakters het soos mense gepraat, sonder die stram dialoog van ander rolprente. Daar is jaagtogte, ‘n gevaarlike balanseertoneel waar Anton en Rieks op ‘n waentjie lê wat tussen geboue rondgetrek word en Cobus Rossouw as Beekman op ‘n hysbak vasgemaak word. Maar uiteindelik kry Beekman op sy herrie en het Anton se pa kry sy geld terug. Maar dié slag is Anton in beheer van die bank en belowe die rolprent dat hierdie jong, viriele Afrikaner die bankindustrie gaan regruk. En toe maak Manie DIE SQUARE waarin ‘n stoere, regse en konserwatiewe Afrikaner ‘n bulderende toespraak afsteek oor die morele verval van sy gefolterde volk. Cobus Russouw speel die rol van ‘n konserwatiewe Afrikaner met ‘n pragtige vrou, vertolk deur Rika Sennet, vars van die sukses van Snip en Rissiepit teenoor Rod Alexander. Sy verlaat Hannes Kruger en sy verkramptheid en bly by Nic de Jager as ‘n sjarmante fotograaf. Cobus Visser maak sy verskyning as Hannes se handlanger wat komedie heerlik onderspeel. Hannes word tot voorsitter van Die Nuwe Afrikaner Party gekies, maar durf nie vir die verkrampte ooms sê dat sy vrou hom verlaat het nie. Haar foto pryk op al wat plakkaat is in Jhb en Hannes probeer om dit te verwyder en beland in skreeusnaakse situasies. In ‘n nuutjie vermom Nic de Jager hom as Dracula in ‘n rolprent waarna ons held en heldin gaan kyk... dit word voorafgegaan deur S.A. Spieel. Onthou julle nog hierdie nuusfilm wat elke rolprent voorafgegaan het? Maar hier is geen Pierre de Wet slapstick of Jamie Uys boertige grappe nie. Hier, in DIE SQUARE, was die geboorte van ‘n verligte, loslit humor wat ons nog nie tevore gesien het nie. Uiteindelik kry Hannes weer sy vrou Anele en probeer haar oortuig om terug te kom, want hy het verander. Sy glo hom nie. Hannes maak Anele van voor af die hof, sit ‘n afro-pruik op, wikkel sy lyf saam met haar en oortuig haar dat hy nie meer ‘n konserwatiewe, verkrampte square is nie, maar ‘n nuwe Afrikaner gereed vir nuwe uitdagings. DIE SQUARE. Manie van Rensburg maak ook een van die beste TV-reekse in S.A. met ‘n jong Ian Roberts en Elize Cawood, VERSPEELDE LENTE. Daarna volg sy meesterstuk THE FOURTH REICH, ‘n televisiereeks met Ryno Hattingh, en toe sy laaste rolprent TAXI TO SOWETO met Elize Cawood voor sy dood in die vroeg jare 90. Nog ‘n nuwe byderwetse Afrikaanse fliek in 1975, gegrond op Cor Nortje se SENDING VIR ‘N VOORTVLUGTIGE, is DIE REBEL deur Daan Retief met Will Roberts as die rebelse RAMMETJIE UITNEK Fritz Dercksen. Daan Retief staan pa vir DIE REBEL met wilde jaagtogte, eksotiese plekke, mooi meisies soos Tani de Lange, ‘n politiese gekonkel en woeste aksie. DIE REBEL wen die Rapport Oscar in 1975 as beste Afrikaanse rolprent. ‘n Rebelse jong man se ouers sterf in ‘n ongeluk. Fritz wil die moordenaars straf. Hy swerf Durban toe waar hy ‘n pragtige meisie in ‘n eina-klein bikini ontmoet, Tani de Lange... Luister na die dialoog wat veel anders en natuurliker is as bv. Willie van Rensburg se dialoog vir DIE WILDTEMMER. Fritz red die meisie van verdrinking in DIE REBEL en hulle maak nader kennis. Die stemme van Will Roberts en Roelf Jacobs in Daan Retief se baanbrekers-aksierolprent: DIE REBEL. Fritz beland in die weermag, maar is kort-kort in die moeilikheid omdat hy nie maklik gesag hanteer nie. Gou raak hy betrokke by ‘n geheimsinnige informant, Nigel Vermaas as Sharples, wat vir hom inligting gee en eise stel... Die REBEL maak ‘n draai in Duitsland waar hy besef dat die S.A. Veiligheids-polisie hom as lokaas en agent gebruik. Maar Fritz slaag daarin om lewend anderkant uit te kom. Hy red ‘n Suid-Afrikaanse wetenskaplike, Professor Verdruten, Richard Daneel van Stadig oor die Klippe-faam. Daar is vurige en oortuigende aksie-sekwensies voordat dit uitkom dat Fritz se geheime informant deel van die Veiligheidspolisie is. En daar staan Fritz se pragtige meisie, Tani de Lange, vir hom en wag nadat sy avontuur verby is. Ons draai die horlosie gou terug vir 1946 se GEBOORTEGROND, gemaak in dieselfde jaar as Die Wildsboutjie, Die Skerpioen en Pinkie se erfenis. Hier is ons terug in die Pierre de Wet dae met Pierre wat sy lyf regisseur en akteur hou. Joseph Albrecht het die draaiboek geskryf. Ons het hier te make met ‘n tipiese outydse verhaal waar die grootstad as verderflik gesien word en die platteland as ‘n utopia. ‘n Seun, Pierre de Wet, wat vir sy streng pa, Jan Brill, op die plaas werk, besef hy word nie na waarde geskat nie. Wanneer die verwaarloosde seun saam met sy ouers nagmaal toe gaan, lag die mense vir sy verslete klere. Boonop probeer Jan sy pa oortuig om nuwe boerderymetodes toe te pas, maar dit veroorsaak stewige konflik. Arme Jan vertrek Johannesburg toe, kry ‘n goeie werk en raak op ‘n pragtige kelnerin, Eugene Heyns, verlief. Hulle trou en daar is ‘n baba. Maar Jan smag, nes sy vroutjie, Bettie, na die vryheid van die plaas. Jan se ma raak ernstig siek en hy en sy vroutjie vertrek plaas toe. Maar sy ma is reeds dood. Jan bely hy het ‘n fout gemaak in hierdie melodramatiese bekentenis aan die einde van GEBOORTEGROND in 1946. Die boereseun is terug op sy plaas met sy vrou en sy seuntjie. Die seuntjie dien as katalisator wat pa en seun weer bymekaarbring. Die nooi gaan die huis versorg, pa gaan nuwe boerderymetodes toepas en die seuntjie word grootgemaak om ‘n ordentlike jong Afrikanerseun te wees wat die plaas in die toekoms gaan invat met die kennis van 2 geslagte Afrikaners uit wie se foute hy kan leer. |
||