|
Hier is
wat ek sover gekry het:
SIEMBAMBA
Woorde: Tradisioneel en C.J. LANGENHOVEN: Vers 1, 2, 3, 4, 5
Musiek: S.A. Volkswysie; verwerk: H. PIETER VAN DER WESTHUIZEN, 1978
Siembamba, mama se kindjie,
Siembamba, mama se kindjie
--draai sy nek om, gooi hom in die sloot;
trap op sy kop dan is hy dood.
[C.J. Langenhoven]
Siembamba, ek is 'n baba,
Siembamba, ek is 'n baba
--pas my veilig op in die nood,
sus my liefies op die skoot.
Siembamba, ek is 'n seuntjie,
Siembamba, ek is 'n seuntjie
maar jy sal sien ek is net nou groot;
slaan maar orige kêrels dood.
Siembamba, ek is 'n jonkman,
Siembamba, ek is 'n jonkman
--tel my nou maar af van die skoot;
ek slaan self die kêrels dood.
Siembamba, ek is getroud nou,
Siembamba, ek is getroud nou
--maar sy dink ek is nog op die skoot,
wil nie glo nie ek is groot.
Siembamba, almal babas.
Siembamba, almal babas
--al die mans is danig groot--
almal babas tot hul dood.
Nog 'n weergawe, ek
is oortuig dat hierdie iets met die konsentrasiekampe te doen het? Maar
watter kampe en wanneer?
SIEMBAMBA
Siembamba, Siembamba!
Mame se kindjie, Siembamba!
Vou jou handjies same
En sê ame,
Mame se kindjie, Siembamba! (LOKASIELIEDJIE)
Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Vou maar jou handjies saam, my kind:
Hoor tog hoe huil die noordewind!
Hier in die kamp is alles stil,
Net maar die wind waai soos hy wil;
Net maar jy self kan kreun en steun:
Niemand sal hoor nie, niemand, seun!
Almal is besig! Oor die land
Drywe 'n wolk van die noordekant -
Swart soos die rook uit die skoorsteen puil,
Swart soos die nag, en nes roet so vuil:
Vou maar jou handjies dig tesame
Sluit maar jou ogies, en se ame!
Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Jy, wat die hoop van ons nasie is;
Jy, wat ons volk so min kan mis;
Jy, wat moet opgroei tot 'n man;
Jy, wat moet plig doen, as jy kan:
Jy, wat geen deel aan die oorlog het;
Jy, wat moet sing uit pure pret -
Jy moet verkwyn in 'n kinderkamp,
Jy moet vir vrede word uitgestamp:
Vou maar jou handjies dig tesame,
Sluit maar jou ogies, en se ame!
Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Kinkhoes en tering, sonder melk:
Bitter vir jou is die lewenskelk!
Daar is jou plek, by die graffies daar -
Twee in een kussie, 'n bruilofspaar!
Alles vir ons wat die oorlog hou -
Alles vir ons, en niks vir jou:
Jy het van ons jou plig geërwe -
Plig om as kind vir ons land te sterwe!
Al wat jy wen, is dat ons onthou:
Meer was die vryheid as kind of vrou!
Vou maar jou handjies dig tesame,
Sluit maar jou ogies, en se - ame!
C. Louis Leipoldt [1880-1947]
En hier is 'n paar
antwoorde wat ek op my navrae gekry het:
--------------
Sommer maar net die ligter kant van die liedjie soos my man dit sien :
Hy se dat dit 'n ma of pa was wat baie stout kinder/s gehad het en toe
die liedjie uitgedink het om kinders bang te maak!
-------------
Ek het gehoor dat dit eintlik oorspronklik n 'swart' liedjie was en die
woorde was Sien Mamba Mama se kintjie. Dit was n troosliedjie vir die
kinders dat hulle veilig sal wees van die slang.
Die liedjie het het my altyd as kind gepla, hoekom so wreed wees teen n
kindjie maar 'die' betekenis rondom die slang het vir my sin gemaak .
Dit lui dat ons maar volgens tong verbuiging later siembamba begin sing
het. Die bogenoemde verduideliking het een aand op TV uitgekom, maar ek
kan ongelukkig nie meer onthou wie gepraat het nie.
---------------
Ek dink dat die liedjie verwys na 'n buite-egtelike kind/baba. Wat
vermoor en dan weggegooi word.
---------------
Kyknet het onlangs 'n musiekprogram hieroor gebeeldsaai. Ek dink jy
kan gerus by hulle gaan aanklop en as ek reg onthou het hulle ook
voorgestel dat Siembamba met die oorlog tedoen gehad het.
---------------
Iemand het my die volgende vertel, maar ek het dit nog nooit iewers
gelees nie, dit maak egter meer sin. Die oorspronklike rym, sê sy, was
Sien 'n mamba. Sien 'n mamba, mamma se kindjie, draai sy nek om, gooi
hom innie sloot, trap op sy kop dan is hy dood. As 'n mens net
Siembamba sê, wonder jy wie se nek omgedraai moet word, die kindjie s'n
self?
---------------
Ek het gehoor dit was eintlik : "Sien die Mamba"
Hoe waar dit is weet ek nie en of dit bewys kan word nog minder.
---------------
Hallo Peter,
Ek kom nou net af op jou soektog na die lied se bestaan,
sien die mamba,mama se kindjie,
sien die mamba,mama se kindjie,
draai sy nek om gooi hom in die sloot,
trap op sy kop dan is hy dood.
Daar word eenvoudig van n slang (die mamba) gesing en kind word
gewaarsku,om hom dood te maak.
Andries Oberholzer--Dubai
----------------
Soos jy weet, is ek maar 'n baie basiese mens, en soek geen diepere
betekenis agter woorde nie;)) Hiermee dus wat ek dink die woorde
beteken:
Siembamba, Siembamba - suswoordjies wat deur iemand uitgedink is,
wat
niemand anders as sulks gebruik nie.
Mamma - moeder, ouer van die kind
se - behoort aan
kindjie - telg, baba.
Draai - wring
sy - manlik
nek - deel van liggaam tussen nek en skouers
om - in hierdie konteks beteken dit tussen 180 en 350 grade.
gooi - werp
hom - manlik
in - te binne-in
die - aanwysing
sloot - voor
trap op - stamp met voet op
sy - manlik
kop - deel van liggaam op nek
dan - gevolg
is - teewoordige tyd
hy - manlik
dood - oorlede, die tydelike met die ewige verwissel, lepel in
die dak
gesteek.
Sinopsis - Die ma wou eintlik 'n dogtertjie gehad het, of die
kind was
vreeslik stout))
--------------
Al wat ek nog kan onthou na so 40-50 jaar is dat die versie geskryf is
na die Xhosa? oorlog. 'n Swart bediende het 'n wit baba gedurende 'n
aanval by of naby die Amatola klowe/berge area gaan wegsteek volgens
belofte aan haar sterwende 'miesies'. Sy moes die baba stil hou sodat
die Xhosa krygers hulle nie kon kry nie. Sover ek bewus is sê
geskiedenis/legende dat die Xhosas die baba en oppasser op die ou end
tog wel gekry het en dood gemaak het.
---------------
Ek het selfs 'n Engelse vertaling gekry:
Siembamba
Siembamba
Siembamba, mama se kindjie, Siembamba,
Mummy's little child,
Siembamba, mama se kindjie, Siembamba, Mummy's little child,
--draai sy nek om, gooi hom in
die sloot; -- twist his neck,
chuck him in the ditch;
trap op sy kop dan is hy dood. stomp
on his head then he's dead.
(C.J. Langenhoven}
(C.J. Langenhoven)
Siembamba, ek is 'n baba, Siembamba,
I'm a baby,
Siembamba, ek is 'n baba Siembamba, I'm a baby,
--pas my veilig op in die nood, --
keep me safe when danger threatens,
sus my liefies op die skoot. rock
me lovingly on the lap.
Siembamba, ek is 'n seuntjie, Siembamba,
I'm a little boy,
Siembamba, ek is 'n seuntjie Siembamba,
I'm a little boy,
maar jy sal sien ek is net nou
groot; but you'll see
I'll soon be big;
slaan maar orige kerels dood. may
as well kill the other fellows now.
Siembamba, ek is 'n jonkman,
Siembamba, I'm
a young man,
Siembamba, ek is 'n jonkman Siembamba,
I'm a young man,
--tel my nou maar af van die
skoot; -- you can
let me off the lap now;
ek slaan self die kerels dood. I'll kill the other fellows myself.
Siembamba, ek is getroud nou,
Siembamba, I'm
married now,
Siembamba, ek is getroud nou Siembamba,
I'm married now,
--maar sy dink ek is nog op die
skoot, but she thinks I'm
still on her lap,
wil nie glo nie ek is groot.
doesn't
believe I'm big now.
Siembamba, almal babas.
Siembamba,
all are babies,
Siembamba, almal babas Siembamba,
all are babies,
--al die mans is danig groot-- --
even if the men are rather big --
almal babas tot hul dood.
all are
babies till they die.
---------------
In die Etimologiese
Woordeboek van Afrikaans (p.416) staan:
Waarskynlik 'n samestelling van Portugese sim "ja" en Port. Bamba "dans,
spring, ophang" of minder waarskynlik Xhosa ukuhamba " gryp, vang of vashou
" of dalk bloot 'n klankmatige woord wat 'n wiegbeweging suggereer.
Waarskynlikste uit Portugees omdat bet. van sim en bamba pas by die konteks
van die liedjie.
Dit klink heeltemal aanvaarbaar - soos die naslaanwerk Afrikaanse
etimologieë aandui - dat die woord siembamba oorspronklik uit Portugees of
Xhosa ontstaan het. Dit kon dan moontlik gebeur het nog voordat die woord in
die liedjie met die nekomdraai en die trap-op-sy-kop-kinkel beland het.
Andersins maak die liedjie moontlik nie etimologies sin nie.
---------------
Siembamba verwys na
die oorspronklike liedjie "Sien die mamba" wat in die volksmond siembamba
geword het, en waarin die dreigende gevaar en onheil deur misverstand en
foutiewe uitspraak gerelativeer geraak en selfs verdwyn het. Die liedjie is
tot in die negentiende eeu gesing as verwysend na 'n slang (die bose, onheil,
gevaar): "Sien die mamba, mama se kindjie, sien die mamba, mama se kindjie.
Draai sy nek om, gooi hom in die sloot, trap op sy kop dan is hy dood!"
'n Voorbeeld van 'n gedig waarin dit voorkom, is "'n Nuwe liedjie op 'n ou
deuntjie " (C. Louis Leipoldt) en dan is daar natuurlik die liedjie "Siembamba"
wat oor die radio gespeel word en wat dikwels deur ma's en kinders gesing
word.
Ek sê altyd vir my studente dat as 'n baba moes verstaan wat siembamba
eintlik oorspronklik beteken het, hy nooit 'n oog sal toemaak as sy ma "Siembamba"
vir hom sing nie!
---------------
Uittreksel uit
Swerwersjoernaal (c) stof 2002
........Norvalspont bestaan deesdae net uit enkele geboutjies en 'n
polisiestasie. Ons het die konsentrasiekampkerkhof besoek en daar die was
dit nogal vreemd om die massagraf van vroue en kinders wat feitlik vyf en
twintig by veertig meter groot is te aanskou. Dit was steeds ongelooflik om
te besef dat daardie hele stuk aarde in totaal die fisiese oorskot van ons
voorgeslagte huisves. Hulle wat respekloos in groot gate gestort is en
toegegooi is sonder die geringste geleentheid om 'n eervolle begrafnis te
mag beleef! Ek kon nooit visualiseer dat die oorlog soveel lewens ook buite
die slagveld geëis het nie. Daar het die oorsprong van die liedjie
Siembamba ook begin sin maak. Dit was eintlik skokkend dat sulke seer
gebeure kon aanleiding gee tot die ontstaan van so 'n ligsinnige liedjie.
Die dinge waarvan ons in die bekende weergawe van Siembamba sing, beskryf
grafies korrek dit wat gebeur het met die kinders wat gebore is as gevolg
van die verkragtings deur engelse soldate op Boerevroue en Boeredogters.
Dan, is die liedjie Siembamba skielik glad nie meer so snaaks nie! En dit
het net hier, op Norvalspont, hier waar ek nou self staan en koud kry as ek
daaraan dink, gebeur. Die grondpad uit, vanaf die begraafplaas tot by die
teerpad het ons losgeskeur van hierdie bitter toneel. Tog bly die
herhindering agter........
---------------
Ek weet natuurlik nie of dit werklik so is
nie, maar volgens my oumagrootjie wat gedurende die Anglo-Boere-oorlog vir
die Kakies moes vlug, is dié liedjie deur 'n swart vrou gesing wanneer sy die
klein wit kindertjies wat in die grotte op 'n plaas in Noordwes weggekruip
het, gesing. Dit het dalk geen bybetekenis gehad nie, maar aangesien
daardie streek vol pofadders is, kon die kind dalk vir 'n slang geskrik het,
en was die liedjie om hom/haar te sus. Die storie is deur my ouma, wat nou
rees lankal oorlede is, aan ons vertel.
---------------
Wel, ek het dus skoolgegaan by
mense wat baie na aan die Boereoorlog was met ouers en grootouers wat
deelgeneem het. Baie van hulle het ook deelgehad aan die Afrikaanse
Taalstryd. Baie van hulle het van die eerste digters geken. Ons was geleer
dat Leipoldt se Siembamba gedui het op die lyding van kinders in die
konsentrasiekampe. Nie 'n spesifieke kamp nie. Die slangstorie sluk ek maar
swaar. Ek s ou eerder wil he dit moet 'n selfgemaakte woord wees, soos
Leipoldt se slampamper. Ons moet onthou dat digters uiters intelligent en
kreatief is. Voorts was hierdie eerste digters ingestel daarop om Afrikaans
te maak werk en digterlike vryheid was aan die orde van die dag. Die
taalstryder wat Langenhoven was dink ek weer hy wil aan die tale Engels en
Afrikaans 'n manlike kleurtjie gee :
"Draai sy "engels" se nek om gooi hom..., ens.
Afrikaans is nie 'n baba nie , maar 'n volwaardige man. Ander digters het
Afrikaans 'n noointjie gemaak. Langenhoven wou dalk draak steek.
---------------
In TYDSKRIF VIR VOLKSKUNDE EN
VOLKSTAAL
Jaargang 45, nommer 1 van April 1989, is daar 'n artikel deur Andries
Alberts: Op die spoor van Siembamba (pp 23-32).
Onder die opskrif is daar eintlik 3 artikels opgeneem:
Siembamba, deur Andries Alberts, wat oorspronklik in 'n vroeëre uitgawe van
dieselfde tydskrif verskyn het (Jaargang 12, Aflewering 1-2,
Augustus-November 1955, pp 55-56). Hierin gee Alberts sy verklaring/mening
dat die woord waarskynlik uit 'n "Angoolse Bantoetaal" (Imbundu) spruit en
via slawe uit die Portugese kolonies in Afrika uiteindelik in Portugees
beland het.
Siembamba; Die heuningoes-dankdans, Deel 2, deur Andries Alberts wat vir die
April 1989 - uitgawe geskryf is.
Dan is daar ook 'n derde artikel wat oorspronklik in Die Brandwag van 25
Maart 1917 verskyn het, geskryf deur prof S P E Boshoff, wat handel oor
Piekniek-liedjies. Hierin gee hy spesifiek aandag aan Siembamba.
In 'n artikel in New Contrast, Vol 19 no 4, 1991, pp. 78-96, getitel
"Satire, Slavery and the
Ghoemaliedjies of the Cape Muslims", verwys Christine Winberg na Siembamba
op p.88-89 soos volg:
"Siembamba, for example, was originally a Malay lullaby (Du Plessis:1935,
113). It reappears as a picnic song, but is not quite the 'Nuwe Liedjie op
'n ou Deuntjie' which Leipoldt had in mind when he used it in protest
against the concentration camps of the Anglo- Boer war. It has recently
reappeared in "Piekniek by Dingaan" as a protest against the treatment of
blacks by Afrikaners."
Daar is ook 'n artikeltjie deur A. H. de Vries in Die Kaapse Bibliotekaris
van Maart 1959 (pp 8-10), waar hy kortliks verwys na Siembamba, maar dit sê
nie iets van die betekenis van die woord nie.
--------------------
Goeiedag Peter,
Ek rapporteer hier uit Swakopmund, Namibië. My ma het my (op haar
sewentigste verjaarsdag) op die spoor van “wat beteken die liedjie nou
eintlik” gesit. Ek het haar gesê ek glo ek sal iets op die internet kry, en
jouwaarlik!
Siende dat daar nie ‘n klinkklare verduideliking is nie, het ek nou uit die
lees van almal se verduidelikings my eie afleiding gemaak. Dalk vind jy dit
interessant:
Ek sien in my geestesoog ‘n getraumatiseerde ma in ‘n konsentrasiekamp –
haar alles verloor, gesin, beittings, waardigheid. En toe kom neem die
Kakies nog haar kind ook, draai sy nek voor haar om, trap op sy kop en gooi
hom in die sloot! (die massagraf) Nou sit sy daar eenkant, treurig, staar
voor haar uit en sing... Siembamba (dalk haar troetelnaampie vir haar kind,
dalk uit die gedig geneem), Mamma se kindjie, Siembamba, Mamma se kindjie,
(die Kakies) draai sy nek om, gooi hom in die sloot, trap op sy kop , dan is
hy dood.
En wie weet, dalk het die ander ma’s uit meegevoel saam met haar begin sing,
oor en oor en oor. En het die liedjie daar sò ‘n impak gemaak op een van die
oorlewendes dat sy dit na die oorlog aanhou sing het, dit na die volgende
geslag oorgedra is en so van geslag tot geslag gesing is –dalk selfs
onwetend van die hartseer agter die lied. En later die hartseer agter die
lied verdwyn het en dit ‘n wiegeliedjie geword het.
Dis my afleiding uit al die inligting wat jy kon opspoor. Ek het self ‘n
kind aan die dood afgestaan en kan indink hoe ‘n ma wat nog in sulke
omstandighede is moet reageer! Dalk daarom my visie op die lied.
Dis nie ‘n mooi prentjie nie, maar dit wil tog vir my voorkom asof die
liedjie dalk wel sy oorsprong in die konsentrasiekampe gehad het en dit was
maar donker, bitter tye.
Hoop dit was vir jou interessant.
Groete,
Marlene
|
|