|
Swartsuur Soep Nr 1
Bestanddele:
3 pond Skaapribbetjie 6 Naeltjies
1 Wit Ui
12 Peperkorrels (fyn gekneus)
2 Onse Tamaryn
1 Eetlepel Bruinsuiker
Eende of hoenderbloed Sout na smaak
Metode:
Kap ribbetjie in netjiese stukkies en stowe stadig in omtrent 3-4 koppies
koue water. Na ‘n uur of wat word 1 koppie van die sous uitgeskep en
meelblom word in die kokende sous ingeroer totdat dit ‘n stywe deeg vorm.
Laat afkoel. Klits nou 2 eiers op en roer by die deeg in. Vorm nou
balletjies met twee teelepels so groot soos albasters.Tamaryn word in twee
groot koppies kokende water geweek. Sny die ui fyn en smoor in ‘n bietjie
botter. Sodra die koppie sous uitgeskep is, word die water van die tamaryn
afgegooi en by die soep op die stoof gevoeg, ook die eende of hoenderbloed.
Voeg nou al die bestanddele ook by, indien nodig voeg nog water by. Laat die
soep goed deurkook. Sout word na eie smaak bygevoeg. Kluitjies word net ‘n
half-uur voor die soep opgedis word, en moet baie vinnig opkook.
Let Wel :- Asyn kan na eie smaak in die plek van tamaryn gebruik word.
Swartsuur Soep Nr2
In plaas van skaapribbetjies word nou
hoendervlerkies,-boudjies,-beentjies,en bloed gebruik. Vir die res is die
resep net dieselfde as in Swartsuursoep Nr 1, behalwe dat korente by die
kluitjies gevoeg word.
Kluitjiesoep
Bestanddele:
2 pond Beesvleis
Omtrent ½ - ¾ pond Meelblom vir die maak van die
4 – 6 pinte koue Water
kluitjies, asook 1 eetlepel sagte vet en ‘n weinig droë
2 blaartjies Foelie
tiemie.
6 Naeltjies
Sout na smaak
1 bossie Suring
Metode:
Sny die vleis in stukkies, sit op in die koue water, voeg nou al die ander
bestanddele by, behalwe die kluitjies, laat goed kook omtrent 3 – 4 uur
lank. ‘n Gesmoorde ui kan ook bygevoeg word.
Meng nou die meelblom met die tiemie en sout na smaak, maak ‘n holte in die
middel en gooi die vet daarin. Skep nou van die kokende vloeistof uit die
soeppot en maak die kluitjies daarmee aan. Kluitjies moet ‘n “slap deeg”
wees. So vinnig as moontlik moet nou gewerk word. Vorm kluitjies met twee
teelepeltjies en gooi dadelik in die soep. Maak teelepeltjies af en toe nat
in die kokende soep. Sodra kluitjies opkom, is hulle gaar en moet soep
dadelik opgedis en bedien word.
Let wel – Die oumense het gewoonlik die vleis in die soep bedien.
Ingelegde Vis
Bestanddele:
6 – 8 pond vars geelbek of enige
1 baie klein Rissie, fyn gekap
ander geskikte soort vis
12 Naeltjies
6 groot wit Uie
2 eetlepels goeie Blatjang
2 onse Kerrie
Sout
1 teelepel Borrie
2 – 3 pinte goeie Asyn
2 eetlepels Suiker
Metode:
Maak vis skoon en sny in mote. Sprinkel sout oor en bak in warm vet. Sny uie
in ringe en smoor. Meng al die ander bestanddele en kook op in die asyn,
voeg ook die gesmoorde uie by om sag te kook. Sit nou die gebakte vis in in
erdekan of iets dergeliks en gooi die gekookte asynmengsel oor.
Let wel – Vis moet goed bedek wees met die asynmengsel.
Smoorvis
Gesoute snoek word hiervoor gebruik. Sny vis in mote en laat lê in koue
water om uit te vars. Haal uit die water sodra vis genoeg uitgevars het,
kook nou sag en verwyder al die grate. Sny 1 – 2 uie in ringe en smoor in
botter, voeg nou die vis daarby asook 2 – 3 gaar aartappels in skywe gesny
en ‘n goeie klont botter. Bedien saam met rys.
Let wel – Hoeveelheid van uie en aartappels hang af van die hoeveelheid vis
wat gebruik word.
Andoeltjie
Neem die pens van ‘n vark, keer dit om en lê in soutwater; dit help om die
slymerigheid maklik te verwyder. Maak die pens baie goed skoon en laat lê in
skoon water totdat dit nodig is. Gebruik nou sowel al die afvalstukkies bees
– en varkvleis as die stukkies spek en speksooltjies. Sny in
dobbelsteentjies en meng met die volgende: Fyn koljander, wonderpeper,
naeltjies, peper en ‘n weinig geelsuiker asook ‘n weining salpeter. Stop die
mengsel nou in die pens, naai mooi toe, maar behou die fatsoen. Lê in
pekelbalie 1 – 2 dae lank (hang af van grootte van pens). Haal uit en pers
tussen twee planke met gewig op. Hang op in die skoorsteen om goed te laat
berook. Kook soos southame.
Let Wel – Hierdie gereg het die oumense altyd in die winter maande gemaak,
wanneer hulle gewoonlik bees en vark geslag het, soos die gewoonte in
daardie dae was. Skaapvleis kan ook bygevoeg word. Onghou salpeter moet so
min wees dat dit nie die vleis rooi maak nie! Nadat “Andoeltjie” onder die
pers uitgehaal is, moet dit eers opgehang word om winddroog te word voor dit
berook word.
Gebraaide Soutribbetjie
Slag bene mooi uit aan die binnrekant. Sny nou dwars en kruid strepe op die
vet aan die buitekant. Meng nou sout, peper, ‘n weinig salpeter, fyn
koljander, wonderpeper, naeltjies en foelie. Sprinkel ribbetjie nou goed met
die mengsel, rol en bind vas, laat nou 1 – 2 dae lê. Die ribbetjie word n ou
in koue water opgesit om sag te kook. Haal die pot van die stoof af en haal
die ribbetjie uit, maak los en lê plat uit op ‘n plank om koud te word.
Braai nou o die rooster oor gleoiende kole en bedien warm. Die ribbetjie kan
ook eers ‘n paar dae lank in die skoorsteen gehang word om dit te berook
voor dit gebraai word.
Bobotie
Bestanddele:
2 pond gemaalde Vleis
Suurlemoensap of Asyn na smaak
12 gestampte Amandels
1 teelepel Suiker
2 Uie, fyn gekap
1 eier
2 eetlepels Botter
6 Lemoenblare
1 sny Witbrood
Melk om die Brood in te week
2 eetlepels Kerrie
Metode:
Week die brood in die melk totdat dit sag is en maak dan fyn met ‘n vurk.
Smoor die uie in die botter. Klits die eier op en meng nou al die
bestanddele saam met die vleis. Smeer ‘n bakkie, gooi die vleismengsel
daarin, steek nou die lemoenblare oral bo-op die mengsel in. Bak totdat dit
byna gaar is, en gooi dan die volgende vla-mengsel oor:
Klits 3 eiers goed , voeg 1 ½ koppie melk by, sout en peper na smaak. Gooi
dit nou oor die bobotie en steek terug in die oond.
Ouderwetse Lampastei
Bestanddele:
4 pond Lamsvleis (rugstring is heerlik)
1 glas Wit Wyn
2 wit Uie (in ringe gesny)
1 eetlepel Sago
1 blaartjie Foelie
2 hardgekookte eiers en 1 rou eier
2 onse Botter
‘n Paar skyfies Ham
Sap van 1 Suurlemoen
‘n Bietjie Wonderpeper
Sout en Peper na smaak
Metode:
Sny vleis in netjiese stukkies, smoor die uie in die botter, voeg nou al die
bestanddele by, behalwe die eiers, sago en suurlemoensap. Stowe nou die
vleis tot dit heerlik sag is. Voeg nou 1 eetlepel sago en ‘n goeie klont
botter by; roer tot die sago gaar is. Klits geel van eiers goed op, klits
bietjie water by en dan die suurlemoensap, voeg by die vleis. Gooi nou die
mengsel in ‘n pasteiskottel. Sny hardgekookte eiers in skyfies en sit op die
mengsel. Gebruik skilferkors vir die kors van die pastei en smeer oor met
wit van eier. Bak.
Let Wel - 1. Lamsvleis en hoender kan saam gebruik word.
2. Hoender kan ook alleen vir die pastei gebruik word.
Hutspot
Bestanddele:
4 pond Skaapblad
1 klein Koolkop
1 wit Ui
1 koppie Groenertjies (gemeet na dit uitgedop is)
4 Aartappels
Sout en Peper na smaak
4 Geelwortels
Metode:
Kap die vleis in netjiese stukkies, sny die uie, aartappels en wortels in
ringe. Sny die kool stukkend. Maak ‘n bietjie vet warm in ‘n kastrol en
smoor die uie en vleis daarin. Sit nou die groente in lae oor die vleis,
voeg sout en peper na smaak by, voeg ook bietjie kookwater of ekstrak by en
stowe 2 – 3 uur.
Kotelet-Boud
Bestanddele:
1 Skaapbout
1 eetlepel fyngekapte Pietersielie
‘n Paar snye Witbrood
2 blaartjies Foelie goed fyngemaak
Melk om brood in te week
Bietjie fyn Neut, en Naeltjies
1 glasie goeie Wyn
Sout en Peper na smaak
Metode:
Week die brood in die melk, haal uit en maak goed fyn, voeg nou al die
bestanddele daarby, behalwe die wyn. Neem nou die boud en sny diep snye tot
op die been, maar moet nie die snye uitsny nie. Stop nou die aangemaakte
vulsel tussen die snye in en naai die snye aanmekaar. Vrywe boud nou goed
oor met sout en peper, gooi nou ‘n glas wyn oor, laat wyn goed intrek in die
vleis. Maak boud nou in ‘n bakpot op die stoof of in ‘n bakpan in die oond
gaar. Bedien ‘n dik vleissous by.
Lewer in Netvet
Bestanddele:
1 Skaaplewer
‘n Bietjie Fyngekapte Ui
1 Sny Witbrood in melk geweek
Kruie, asyn, Sout en peper na smaak
1 Eier
Omtrent ½ - ¾ lb Netvet
Metode:
Was en skraap die lewer goed fyn. Druk die brood fyn. Klits die eier op,
voeg nou al die bestanddele by die lewer en meng goed. Gooi nou die mengsel
in die netvet,vou nou mooi toe en steek vas met houtpennetjies. Bak in oond
of braai in ‘n pan, of nog beter braai oor die kole op ‘n rooster
Beesvleis Boerewors
Bestanddele:
8 pond Beesvleis
Omtrent 3 Eetlepel fyn koljander
2 ½ - 3 pond Beesvet
1 Eetlepel gemaalde pimente (all spice)
Sout en peper na smaak
1 teelepel fyn naeltjies
Metode:
Maal die vleis en kap die vet in dobbelsteentjies, meng nou al die
bestanddele goed tesame.Heg die worsstopper agteraan die vleismeuel, trek
die derm daaroor en stop. Moenie te styf stop nie.
Let wel: - 1.As die derms te droog is,laat hulle ‘n ruk in die water lê
2. Die ou mense het nooit vet vir wors gemaal nie, maar altyd in
dobbelsteentjies gekap.
Bloedwors
Bestanddele:
4 pond gekookte Varkvleis
3 teelepels Tiemie
1 pond gekookte varkspek
Sout en peper na smaak
2 teelepels fyn naeltjies
2 – 3 pinte varkbloed
4 teelepels marjolein (Marjoram)
Metode:
Sny vleis en spek in dobbelsteentjies, voeg al die ander bestanddele by en
meng goed. Voeg genoeg sout by, mengsel moet nie vars wees nie. Stop derms
met die mengsel op dieselfde manier as vir Boerwors. Kook nou die wors
omtrent ‘n ¼ uur, prik met ‘n naald om te sien of die bloed gaar is. Haal
uit en lê plat neer op ‘n plank om goed koud te word. Die wors word nou in
die skoorsteen opgehang om dit te laat berook
Pampoenmoes
Bestanddele:
Vroeë pampoen , brood, botter, stukkies Pypkaneel, suiker, sout na smaak
Metode:
Sny pampoen en brood in blokkies. Sit nou ‘n laag pampoen,brood en stukkies
botter in, strooi nou suiker oor en voeg dan stukkies pypkaneel by. Hou so
aan todat al die bestanddele in die kastrol is. Voeg nou ‘n bietjie
kookwater by en stowe eenkant op stoof. Net voor pampoenmoes opgedis word,
laat dit dan effens aanderaan bruinbraai. Roer deur en dis op.
Geelrys
Bestanddele:
1 koppie Rys
1 teelepel Borrie
3 koppies Kookwater
1 eetlepel Botter
1 eetlepel Sout
½ koppie Rosyne(pitloos)
1 eetlepel Suiker
Metode:
Voeg al die bestanddele by die kookwater, laat goed deur kook. Laat nou
stadig eenkant op die stoof klaar kook. As rys te droog kook, voeg dan ‘n
bietjie melk by. Moenie in die ryspot roer nie. Dis op sodra rys heeltemal
sag en goed uitgeswel is. Strooi bietjie suiker en pypkaneel oor.
Gebakte Aartappel-vla
Bestanddele:
¼ ponde Meelblom
2 onse Botter
2 pinte Melk
3 Eiers
2 onse Suiker
¼ pond gaar, fyngemaakte Aartappels
Geur na smaak
Metode:
Klits die fyngemaakte aartappels, botter en suiker goed tesame, klits die
eiers goed op en voeg by die mengsel. Voeg nou die meelblom en melk
beurtelings by en klits al die tyd. Geur na eie smaak en bak in matige oond.
Die aartappel-vla moet bedien word sodra dit gaar is.
Gebakte tapioka-poeding
Bestanddele:
¼ pond Tapioka
4 Eiers
2 onse Suiker
2 onse Botter
Omtrent 2 ½ pint Melk ‘n Weinig fyn droë nartjieskil
vir Geur
Metode:
Week tapioka oornag in water. Kook volgende dag stadig in die melk totdat
tapioka heeltemal sag is. Voeg die suiker, botter en fyn nartjieskil by.
Gooi in ‘n gesmeerde oondvaste bakkie en steek in oond om te bak.
Gekookte Sago poeding
Bestanddele:
4 eetlepels Sago
1 koppie Melk
1 eetlepel Marmelade
1 koppie Suiker
2 eetlepels vet of botter
1 ½ teelepel Koeksoda
½ koppie Korente
1 koppie vars witbroodkrummels
Metode:
Week sago in die melk die aand vantevore. Klits botter en suiker tesame. Los
koeksoda in ‘n bietjie van die melk op. Meng nou al die bestanddele tesame
en gooi mengsel in gesmeerde oondvaste bakkie, sit gesmeerde waspapier bo
oor sodat daar nie water kan inkook nie, papier word natuurlik vasgebind.
Kook op die gewone manier in kastrol.
Rys-souskluitjies
Bestanddele:
3 koppies Meelblom
2 teelepels Bakpoeier
1 ½ koppies gekookte Rys
Sout na smaak
¼ koppie Botter
½ koppie Melk vir aanmaak
5 Eiers
Metode:
Smelts botter, klits eiers op, meng al die bestanddele tesame, indien nodig
kan minder melk vir aanmaak gebruik word, mengsel moet nie te slap wees nie.
Water moet kokend wees en kluitjies moet 10 minute vinnig kook. Kluitjies
word met ‘n desertlepel in kokende water gesit. Bedien dadelik nadat dit
klaar is met kaneel en suiker oorgestrooi
Melktert
Hiervoor word gewoonlik skilferkors gebruik.
Skilferkors:
Bestanddele:
1 pond Meelblom
1 pond Botter
2 eetlepels Suurlemoensap
½ pint vloeistof bestaande uit – 1 geel van eier en Water
Metode:
Sif die meelblom, voeg sout by. Druk al die water uit die botter en deel in
drie. Neem nou ‘n klein stukkie van een deel af en vrywe dit in die meelblom,
maak nou aan met die ½ pint vloeistof en knie deeg baie goed. Die deeg moet
geknie word totdat dit soos ‘n stuk rek is. Strooi nou meelblom op ‘n plank
en rol die deeg baie dun uit. Neem nou een deel botter en sit dit in klein
stukkies op die deeg, strooi effens meelblom oor en vou deeg toe en drie.
Laat lê deeg nou ‘n rukkie. Neem nou die tweede deel botter en herhaal die
proses en dan weer die derde deel botter ook op dieselfde manier. Rol nou
die deeg uit en voer die nodige tertborde daarmee uit en gooi die volgende
vulsel daarin:
Meltert vulsel:
Bestanddele:
6 koppies Melk
6 Eiers
2 koppies meelblom
2 onse Botter
1 ½ koppie Suiker
Sout na smaak
Metode:
Maak die meelblom aan met ‘n deel van die melk, sit die ander melk op die
stoof om te kook, roer die aangemaakte meelblom in en kook goed deur,voeg
die suiker en botter by. Klits eiers goed op,maar hou die wit van drie uit.
Haal nou die vulsel van die stoof af en roer die eiers ook by,kook weer goed
deur. Klits nou die wit van drie eiers styf en vou in die mengsel in,gooi
dadelik in die uitgevoerde tertborde. Bak in ‘n baie warm oond. Pypkaneel en
suiker word oorgestrooi sodra melktert koud is. Dit word ook net so bedien.
Let wel: Die vulsel moet altyd kokend warm in die uitgevoerde tertborde
gegooi word. Brandewyn kan in plaas van suurlemoensap vir die vloeistof
gebruik word.
Karringmelktert
Gebruik skilferkors soos vir melktert, voer borde daarmee uit op dieselfde
manier, gooi die volgende vulsel in en bak.
Karringmelktert vulsel:
Bestanddele:
2 koppies Karringmelk
‘n Knypie Sout
1 koppie Suiker
Geur na smaak
4 gelyke eetlepels Meelblom
2 eetlepels Botter
Geel van 3 Eiers
Metode:
Klits die geel van 3 eiers en een wit goed tesame,maak vulsel op gewone
manier klaar. Klits nou wit van een eier goed styf en vou in die vulsel in.
Gooi dadelik in die uitgevoerde tertbord(e) en bak dadelik.
Let wel:
1. Skilferkors-tertdeeg word ook vir handtertjies gebruik
2. Al die bestanddele moet so koud moontlik gehou word en onthou ‘n baie
warm oond is noodsaaklik.
Koekisters
Bestanddele:
4 koppies Meelblom
4 afgeskraapte teelepels Bakpoeier
½ koppie Botter of Room
Sout na smaak
2 tot 3 Eiers
Metode:
Meng al die droeë bestanddele en vrywe die botter goed deur, klits eiers op,
voeg melk by en maak aan. Deeg moet net styf genoeg wees om uit te rol. Dit
word omtrent ‘n ½ duim dik uitgerol en in stroke van 2 duim lank gesny. Vleg
stroke om mooi fatsoentjies te kry, bak in die vet.
Stroop:
4 koppies Suiker 2 ½ koppies Water
Metode:
Kook water en suiker saam totdat dit ‘n mooi dik stroop vorm
Let wel:
1. Na die koeksisters in die vet gebak is, word hulle dadelik in die stroop
gegooi. Moenie in die stroop laat lê nie, dit maak die koeksisters te pap
2. Vet vir die bak van koeksisters moet rokend warm wees.
Roosterkoek
Bestanddele:
1 pond Meelblom
1 teelepel Sout
2-3 onse Botter
Karringmelk om mee aan te maak
1 teelepel Koeksoda
1 teelepel Kremetart
Metode:
Meng meelblom, kremetart en sout, vrywe botter deur. Los koeksoda op, voeg
by en maak aan met karringmelk. Rol deeg omtrent ½ duim dik uit en sny koeke
omtrent 2 ½ by 4 duim. Strooi meelblom op rooster, sit op die kole en braai
koeke stadig daaroor. Braai alkante
Let wel:
1. Deeg moet nie te slap wees nie
2. Koeke kan groter of kleiner na eie smaak gemaak word
Vetkoek
Bestanddele:
4 koppies Meelblom
1 gelyke teelepel koeksoda
1/3 koppie Botter
Sout na smaak
4 Gelyke eetlepels Suiker
‘n Raspertjie Neut
2 Eiers Dikmelk om mee aan te maak
Metode:
Meng al die droë bestanddele en vrywe botter goed deur. Klits eiers op, los
koeksoda op, voeg dikmelk by en maak aan. Knie deur, rol uit, sny en bak in
diep vet.
Outydse ‘Soetkoekies’
Bestanddele:
12 pond Meelblom
2 eetlepels fyn Pypkaneel
6 pond Suiker
1 eetlepel fyn Naeltjies
2 pond Botter
1 eetlepel Koeksoda
1 pond Sagtevet
1 eetlepel Vlugsout
Metode:
Meng meelblom en speserye, vrywe botter en vet deur. Los koeksoda op in melk
of water, voeg by ook vlugsout. Maak tot ‘n stywe deeg aan en knie goed. Rol
uit, druk koekies af en bak.
Let wel: Melk of water kan vir die aanmaak van koekies gebruik word. |
|