Nommer 108

Besoek my Webwerf

19 Maart 2007

 
 

Eg Afrikaans

Die Knoop

Ons Dorp

Woes

Vuurvlieg

Afriforum

Voortrekker Monument

Steve se Spoegblok

Blanke Ekonomiese Forum

PRAAG

Rieme

ATKV

 

Teken Besoekersboek

 

Vorige Nuusbriewe

Epos

Wees gegroet!

Welkom aan alle nuwe intekenare!

Ek is nog steeds op soek na Afrikaanse resepte wat vernoem is na beroemde persone, gebeurtenisse ens. Voorbeelde is Jan Ellis Poeding, Patriot Poeding, Hetzoggies, Generaal de Wetkoek ens.  Hoekom het ons opgehou om resepte te vernoem? Wat van Naas, Steve, Joost en nog vele ander. Dink aan 'n naam soos Spiekeries, dit sal 'n wonderlike resp maak! Komaan al julle kok-kedore, kom ons begin weer resepte vernoem! Stuur julle pogings aan my en ek sit dit saam in 'n eBoek! In die resepte-afdeling ondertoe plaas ek 'n paar voorbeelde.

Weereens het ek lekkerlees Afrikaanse artikels deur onder andere Estelle de Bruyn en Annelie Botes, ek is seker julle sal dit geniet! Mara Swanepoel lewer ook weer 'n welkome bydrae. Ook is daar 'n insiggewende artikel deur Dr. S T Potgieter

En onthou tog om my besoekersboek te teken? Hy was vir 'n hele tydjie aflyn maar is nou weer terug.

Peterjasie sê

Die Sheldean tragedie is nog steeds nuus. Ek vra myself af hoekom het hierdie spesifieke geval sulke opspraak verwek? Die antwoord is maklik, die internet! Vandat mense bewus geword het van die feit dat sy weg is het ek vele eposboodskappe ontvang met fotos, gebedsversoeke en nog meer. En dit het nie opgehou nie, daagliks het epos ingestroom en elke persoon wat die boodskap ontvang het, het dit aan mense op hulle poslys gestuur en so het die hele land van die Sheldean storie bewus geword. Dit wys net op die krag van die internet. Ek is seker dit kan in ander tipe noodsituasies ingespan word om nuus vinnig te versprei. Tegnologie het tog sy voordele!

Toe my meisiekind nog klein was het ons haar al vroeg-vroeg geleer om haar naam, foonnommer en adres te memoriseer. Ook het ons haar vertel dat as sy ooit verlore moet raak, sy net moes soek vir 'n polisieman en dan na hom toe gaan. Nou, jare later, is ek nie so seker oor daardie laaste een nie. Neem nou die voorbeeld waar ons woon, in die laaste drie uitgawes van ons plaaslike koerant was daar in elke uitgawe gevalle van polisie geweld, korrupsie en intimidasie. Die selfbeeld van die polisie, in my geval Ekurhuleni Metro, is op 'n laagtepunt. Ek dink die polisie moet iets drasties omtrent hulle beeld doen en van al die vrot appels ontslae raak. Ook moet die keuringsproses baie strenger wees! Dan wil hulle die mag  vermeerder vir 2010! Eishhhh....

Steve se Spoegblok

Wat doen een van ons land se voorste musieksterre wanneer hy nie sy ding op die verhoog of op TV doen nie? Hier is jou geleentheid om eerstehands uit te vind. Klik hier en gaan snuffel rond op Steve se Spoeg Blok (blog) en kry al die Steve-nuus eerste. Jy en duisende ander, natuurlik :-)

Terwyl ek nou met Steve besig is wil ek hierdie nuusbrief aan hom opdra. Nie net is hy 'n prominente figuur in Afrikaanse musiek nie, hy vermaak ons ook op TV en is betrokke by kultuurorganisasies en is 'n kampvegter vir die behoud van Afrikaans en Afrikaner tradisies, en is ook betrokke by misdaadvoorkoming. Inderdaad 'n rolmodel vir Afrikaners!

Blanke Ekonomiese Forum - Waar Blankes mekaar ondersteun

Daar is heelwat organisasies wat tans werksaam is om die onregverdighede en diskriminasie teen blankes aan te spreek. Hierdie mense en groepe oefen druk uit maar daar word nog niks gedoen op ekonomiese gebied nie. Mense vergeet dat die ekonomie nog steeds in die hande van blankes is. Om die waarheid te sê, as die blanke sy geldmag en intelligensie reg begin gebruik kan niemand teen ons diskrimineer nie en ons kan onsself bemagtig en welvaart skep.
Dit is hoekom die Blanke Ekonomiese forum gestig is. Nie net om te keer dat ons geboelie word nie maar ook om ekonomies selfversorgend en onafhanklik te kan wees. Ons het ’n geweldige mark tussen onsself en ons kan geweldige ekonomiese krag uitoefen as ons saamstaan. Dit is ’n mite dat ons nie kan saamstaan nie. Hierdie mite word lankal teen ons gebruik. Dit is onwaar soos die geweldige groei in getalle bewys vandat die Forum slegs ’n kort tydjie gelede deur Dr. Willem Pienaar (Pine) gestig is.

Sluit nou aan. Maak 'n verskil. Klik hier vir meer inligting

Boeremusiek baanbrekers

Hierdie gaan nou 'n gereelde item word. Ek is bly om te sien dat die Boeremusiek tradisie nog so sterk staan....

Hans Bodenstein en sy Vyf Vastrappers

Daar bestaan meningsverkil oor wie in werklikheid die eerste Boeremusiek op plaat opgeneem het maar dis wel bekend dat Hans (JP) Bodenstein en sy Vyf Vastrappers van die eerste orkeste was wat Boeremusiek op plate opgeneem het. JP Bodenstein, ook bekend as Hans Bodenstein was 'n neef van Manie Bodenstein se pa - ook 'n Hans Bodenstein. Hierdie groep wat aan die Oosrand opgetree het, het bestaan uit Hans Bodenstein, Henry Zeller, Stol Leeson, Henry Kruger en Carolina Leeson. Volgens oom Piet Betsre, wat bevriend was met Carolina Leeson, is hierdie eerste plaat deur die Regal platemaatskappy gemaak. Die musiek is aanvanklik op wasplate opgeneem wat later in Engeland op gewone plate vasgelê is. Klik hier vir 'n foto van die Vyf Vastrappers.

Bron: 15 Goue Jare:  1989-2004  Boeremusiekgilde

Dial Direct

Ek sien al vir 'n geruime tyd die Dial Direct advertensies in tydskrifte en op due internet, het my nooit daaraan gesteur nie aangesien ek gelukkig was by my korttermyn versekeraar. Ek wou toe Dial Ditect se stelling van goedkoper premies toets en ek klik toe op die skakel vir 'n aanlyn kwotasie. Die uitende van die saak was dat ek nou amter R400 per maand minder vir versekering betaal! Jy het niks om te verloor nie, Klik hier  en kyk hoeveel jy kan bespaar!

Boeredans Kamp 25–27 Mei 2007 Willem Prinsloo Museum, Rayton

Kom beleef ‘n stukkie an ons Afrikaner kultuur!!! (soos baie voor jou reeds gedoen het)

R250 per persoon
Is jy in Graad5, 6, 7 of 8?? Lief vir dans? Wil jy leer? Dis die kamp vir jou!!!!
Ondersteun deur: Johannesburg Theatre Acadamy of Dance
Inskrywingsvorms en verdere inligting: Hannetjie du Toit - 084 652 8061

Pasella

Ek word gereeld gevra vir diabetiese resepte, regs klik net hier en laai sommer 'n hele spul resepte af. Weereens, jammer vir die rooitaal, maar as ek dit moet gaan staan en vertaal is dit al wat ek gaan doen vir die volgende week!

Geskenke?

Dis gewoonlik 'n gesukkel om geskenke te koop, ek het 'n paar idees wat jy dalk in sal belangstel, klik gerus hier om te gaan kyk. Daar is bv. 'n CD met 50 resepteboeke op (Engels), jy hoef nooit weer 'n resepteboek te koop nie! Ek het nou ook 'n eBoek oor kruie (in Engels, het nog nie tyd gehad om dit te vertaal nie) vir net R50. Klik hier vir betalingsbesonderhede. Ook ander eBoeke en CD's beskikbaar.

Estelle de Bruyn

Kom ons skop oudergewoonte af met Estelle se bydrae. Sy is verbonde aan die Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië. Kontak haar gerus, sy hoor graag van julle.

Beroemd bedonderd

EK is besig om 'n renons te ontwikkel in mense wat so oor die kop geslaan is met die private lewens van beroemdes en berugtes, dat 'n mens sou sweer hulle het nie 'n lewe van hul eie nie.
Ek wil nié weet wat in Britney Spears of Paris Hilton of Lindsay Lohan se lewens aangaan nie. Dit skeel my min of Tom Cruise vir Penelope Cruz gelos het vir Katie Holmes wat swanger was en toe met haar in 'n villa in Italië getrou het. Ek ken hulle nie, hulle ken my nie en so kan dit maar bly.
Hoekom wil mense weet wie nou weer saam op Sunset Boulevard uitgehang het, watter uitrusting so-en-so aangehad het en wie van wie skei? Dit bly vir my 'n raaisel. Dat daar 'n reuse-mark vir die soort snert is, is gewis. Daar is 'n hele
TV-kanaal, “E-entertainment”, daaraan gewy, daar is meer tydskrifte met stories en exposé foto's van sangers en rolprentsterre as wat daar nuustydskrifte is en selfs nuuskanale soos CNN of Sky kan nie stilbly oor die nuutste skindernuus oor die baie mooi mense (BMM's) nie.
Ongelukkig bly die beheptheid met ander mense se sake nie by die BMM's nie. Dit smaak my daar is 'n nuwe kultuur van skinder in Windhoek. Hoor my lied, ek wil graag weet wat in my vriendekring aangaan, óf dit nou goed óf sleg met hulle gaan. As dit goed gaan, verheug ek my in hul vreugde en as dit sleg gaan, kan 'n mens ten minste probeer help of troos of 'n tjoklitkoek oorstuur met beterskapwense of ter ondersteuning in 'n krisis.
Maar ek stel regtig nie 'n aks belang om te hoor van die bedsake of buitehuwelikse kaskenades van mense waarvan ek nog nooit gehoor het, of net vaagweg van bewus is nie. Dit kan my min skeel as mense wat ek nie van Adamskant af ken vir die vierde keer trou of die vyfde keer skei nie.
Die oorvertellery van die ellendes van ander gaan gewoonlik ook gepaard met 'n familie-uitlêery en 'n meerderwaardige klik van die tong en kopskud. Daar is natuurlik ook 'n mate van status verbonde aan vir dié wat die sappigste storie oor die mees bekende paartjie se wel en wee oor te vertel het. As 'n mens dieselfde storie se oorvertellery 'n paar keer meegemaak het, kom jy ook agter hoe die stertjies bygelas en die besonderhede aangedik word.
Ek voel vuil as ek wegstap van so 'n samekoms waar daar net geskinder is. Ek voel dat ek niks opbouend of mooi het om in my herinneringe te bêre nie.
Hiermee probeer ek nie vir een oomblik voorgee dat ek so hoogheilig is dat ek altyd "opgebou" moet voel nie. Verre van dit. Ek kan 'n lawwe paartie sonder 'n snars opbouendheid gate uit geniet. Ek kan stilte tussen vriende geniet wat saam op die stoep sit en die soel najaar aandlug inasem en na die veranderende skakerings van lig op die berge kyk. Ek kan vir ure sit en luister na vertellings van persoonlike ervarings en wedervarings van my vriende. Eweneens kan ek hul ore van hul koppe af klets oor wat in my lewe, hetsy privaat of by die werk aangaan.
Maar vir 'n geskinder is ek nou eers moeg. Genoeg, nee eerder te veel gehoor. Ek wil nie meer nie. Uit en gedaan.

Mara Swanepoel

Woede in 'n bottel

Bo op ouma se rak was sewe bottels. Ek onthou hoe ek altyd 'n krat nader getrek het en na die bottels gekyk het. Ouma sou my altyd sê wat is in hierdie bottels, maar ek moes eers grootword. Vir eers moes ek glo dis husse met lang ore. En al het ek hoe lank gestaar en mooi stip gekyk, ek kon nooit die husse sien nie. Elke dag het ek gekyk, tot eendag toe ouma besluit het ek is nou groot genoeg.

So het sy vertel: " Sewe bottels, want sewe is die volmaakte getal. Elke bottel is kosbaar. Elkeen sinnebeeld my lewe en wat ek daarvan maak. Die groot pienke met die ronde wange is vir LIEFDE. Die bottel is so uitgebult en net so is my hart van al die liefde in my lewe. Die liefde in al sy fasette is hierin opgesluit. Elke keer as iemand nuuts in my lewe kom vir wie ek liefraak swel die wange meer uit.

Die tweede bottel, die lang skrale, statig en regop in die geel-glans van die son geklee is vir respek. Ons moet altyd ons medemens respekteer. En hier onthou ek om aan ander te doen net soos ek wil hê hulle moet aan my doen. Respek moet verdien word.

Die fletsblou bottel wat soos 'n vaas lyk is vir hoop. Die bottel is nou onder en loop wyer uit boontoe, want al is jy onder in die engte vasgevang en jy kyk na bo is daar nog altyd hoop.

Die ou groot vierkantige groen bottel is vir wysheid. Met die jare het hierdie ou bottel net sterker geword, soos hulle sê met die ouderdom kom wysheid.

Sien jy die purper bottel wat amper soos 'n vaatjie lyk? Dis my gunsteling. Nes die kleur van Jesus se kleed. Hierdie bottel is vir geloof. Ons moet altyd glo my kind al lyk dit of ons alleen staan, onthou net die purper kleed van Jesus aan die kruis.

Die voorlaaste bottel is hierdie gele met sy oulike kurwes. Dis die een vir blydskap.

En laastens al is hy so lelik en al is sy naam nie so mooi soos die ander s'n nie, is hierdie swart bottel wat amper soos 'n stoomkoperketel lyk die heel belangrikste. Hy is vir woede en eendag sal jy verstaan dat hierdie bottel net so nodig is soos die ander."

Lank hierna het ek my nog verwonder aan al die bottels en wat hulle simboliseer. Ek het oor elkeen gevryf en so kon ek hulle inhoud deur my voel gaan.

Jare het gekom en gegaan en ek het ouma se bottel geërf na haar dood. Daagliks kon ek sien hoe hierdie bottels gedy in my vensterbank. Toe ek die liefde van 'n vrou vir 'n man ontdek swel die pienk wangetjies so uit dat hulle soos swanger vruggies lyk. En toe ek die Here aanneem het die purper bottel sommer 'n groot boepens vaatjie geword, en as die son daarop skyn, het die kleur so verdiep dat dit my oë seermaak as ek te lank daarna kyk. Ja, net so het elke bottel gedy. Selfs die lelike swarte het soms geblink, asof hy net soms sy ware kleure wou wys.

Ek was so gefassineerd in die swart bottel, en onthou dat ouma my nooit die belangrikheid van hierdie bottel geleer het nie. Ek tel die bottel van die rak op en is verbaas oor die ligtheid van hierdie kolos. Ek draai die prop oop, en daar is 'n gerammel, 'n skudding, stoom wat blaas en woeps leeg is die bottel. Ek bêre die bottel net so op die rak by die ander en vergeet daarvan.

Die snaakste dinge begin met my gebeur. Ek en my geliefde maat stry oor onbenullighede en bly dae lank kwaad vir mekaar. Ek gaan Sondae kerk toe, maar kry nie vervulling nie, kan selfs nie eens meer bid nie. My beste vriendin raak op hol en bly net weg, ek mis haar kuiertjies, die teetye saam met haar. By die werk kan ek nie konsentreer nie, ek voel dom. Ek begin al norser raak, kortaf. En dan het die hoop my ook verlaat. Vir maande lewe ek die lewe van 'n dooie. Tot die nag van die groot droom.

Ek droom dat ek saam met ouma op die wolke staan. Ouma wat my vertel van die woede in 'n bottel. solank ek die woede onder beheer het, sal die ander bottels gedy, maar dit kos net een oomblik van woede om hierdie balans te versteur en alles deurmekaar te maak.

Toe ek wakker word verstaan ek hoekom die woede bottel die belangrikste van almal is. Ek neem die swart bottel van die rak af en draai sy deksel weer styf terug. Skielik voel die bottel swaar. Ek plaas dit terug op die rak en streel saggies oor elkeen van die ses ander bottels en besef skielik wat ek verkeerd gedoen het. Ek het toegelaat dat woede amper my lewe oorheers. Van nou af bly woede in sy bottel en waak oor die ander ses: Geloof, hoop, liefde, respek, wysheid en blydskap. net soos ouma my geleer het!

©Mara 2007
Mara se Blog, gaan kyk gerus.

 

Click Here Now!

Click Here Now!

Dial Direct Insurance

 
  Annelie Botes  
  Nog 'n lekkerlees storie deur Annelie.  
 


‘n Engel in die knievuis

Soms glo ek vandag se jonggetroudes het sommer vanself alles. Huis, motors, DSTV, meubels, braaivleisgeld. Duur gordyne, skilderye, eetstelle, Kenwoods. Miskien is dit die lewenswind wat anders waai, of die vandagse beskikbaarheid van krediet, maar ek en my ou gryse moes moeisaam skraap aan ‘n soutpan om te kom waar ons is.
Daar word beweer dat soutskraap ‘n uiters uitmergelende taak is. En mens moet onthou: Voor jy ‘n sak sout saam kan opeet, moet jy dit bymekaarskraap.
Ek was 19 en my ou gryse 23 toe ons op Uniondale die kanselbelofte gemaak het. Koperpennie-arm. Maar vertrouend dat die liefde alles kan deurstaan. Só huur ons oom Roelf se karige skakelhuisie agter die off sales teen R25 per maand. ‘n Hap der happe, want ons inkomste was net R188. Daaruit moes die Austin 1155 betaal word, munisipaliteit, petrol, lewenspolis van R10. Alles van sigarette tot seep, vleis, skoene, verf en karparte. Wragtig, dit het gekners.
Maar ons het ‘n idille gehad op die ysterkatel met die klapperhaarmatras wat oom Roelf nie by die kamer kon uitkry nie. Twee maande na ons ingetrek het, moes my ou gryse die katelpote met bloudraad vasdraai soos ons hom gerits het.
Van die oranje skottel waarin ons gebad en mekaar met ‘n stainless steel melk-bekertjie afgespoel het, sal ek anderdag vertel. En van die emmertoilet buite teen die nabankwal, gebou uit karton, hoenderdraad, sinkplaat en goiingsak.
Maar vandag wil ek vertel van die broodbakkery.
My pa was nie ‘n man vir winkelbrood nie. En my ma was ‘n VLV-vrou met ‘n fyngebakhand. Tragies, in my 18de jaar is hulle albei Oorkant toe. Die één groot onthou aan my ma, is die reuk van vars suurdeegvetkoek. Só besluit ek een lenteoggend daar in oom Roelf se groen olieverfkombuis: Vandag bak ek vetkoek. Ek tel die geld in die juwelekissie wat my broer toenterjare van Italië gebring het. Beswaarlik genoeg tot betaaldag. Wat as ek ‘n boggerop maak? Nee, ek het baie gekyk hoe knie my ma. Die Here sal my knievuis vashou. Nee, die geld is te min …
Ek dwaal. Tel weer: 4c vir ‘n koevertjie suurdeeg; 12c vir ‘n pakkie broodmeel; 18c vir kookolie. En ek trap vas. Tienuur is ek terug van Van der Spuy af met die kniegoed. Ek vou ‘n engel in my handpalm toe en doop my kneukels in die lou botter.
Eenuur staan die deeg steeds rysloos. Ek het nie ‘n Aga-stoof soos my ma om die deeg warm te hou nie. Al raad is om met die bak teen my maag in die bed te lê. Twee-uur gee ek op en sit die kniesel in die son op die stoep. Halfvier bars ek in snikke uit, want die deeg het ‘n harde kors én die suikermiere het dit gepak. Nou-nou is dit uitvaltyd, en daar’s nie vetkoek nie; ook nie geld nie.
Oplaas erken ek my dubbele boggerop. Grou ‘n gat in die voortuintjie en neem afskeid van die deeg. Strooi blare oor die graf en vernietig alle tekens van ‘n knieëry.
Vyfuur toe die tuinhekkie kerm, is my maag ‘n skuimkolk. Al oplossing is om te swyg, en te vergoed op die ysterkatel.
Voor ek die koffiewater kan aansit, roep my ou gryse van die voordeur af dat ek iets moet kom kyk. “In my lewe het ek nog nooit so ‘n grote mushroom gesien nie,” en hy beduie na waar ek die deeglyk begrawe het. Wragtig, daar bol die deeg spierwit bokant die grond. Kompleet nes ‘n reusesampioen; bedek met grondjies en blare.
Tyd vir belydenis. Toe hou my man my vas en sê agter die kleinhuisie staan ‘n ry family size Cokebottels wat oom Roelf daar vergeet het. Hy sal dit by Van der Spuy ingee, vir leefgeld tot betaaldag.
So skraap ons maar almal aan genoeg sout om die lafheid uit die kos te hou. Soms het ons warm vetkoek op die aandtafel; soms is alles ‘n eendagsampioen. En meesal vergeet ons die droogtetye toe ons saam uit een keel gekreun het terwyl ons gebukkend op die soutpan geswoeg het.
Dis makliker om ‘n sakkie Spar-deeg te koop. Maar dié kitsdeeg skort aan ‘n engel in die knievuis. Net jammer mens kom dit eers agter wanneer die sout klaar laf geword het.  

Africana

Gaan kyk gerus by hierdie internet boekwinkel, daar is fantastiese ou boeke (in Afrikaans ook!), ek sal my kredietkaart hier lekker kan verniel! Klik hier en gaan kyk rond.

Webwerf Soeklig

Met elke uitgawe fokus ek op 'n Afrikaanse webwerf.

Afrikaanse Lied

Iemand wat in Melbourne woonagtig is stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere. Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek

KOM, AFRIKANERS

Woorde: A.D. KEET
Musiek: DIRKIE DE VILLIERS

Kom, Afrikaners, sing nou luid en laat jul stemme hoor;
hef aan 'n lied wat oweral ons nasie sal bekoor!
Kom, Afrikaners, sing nou luid en laat jul stemme hoor;
hef aan 'n lied wat oweral ons nasie sal bekoor!

Hef aan 'n lied van heldedaad, van mag teen owermag:
'n nasie wat sy helde eer, sal niemand ooit verag.
Hef aan 'n lied van heldedaad, van mag teen owermag:
'n nasie wat sy helde eer, sal niemand ooit verag.

Sing saggies van jul vroue leed, maar wees op almal trots;
'n nasie wat sy vroue eer, staan vaster as 'n rots.
Sing oor die vrede van die veld, van koppie en van rand:
'n nasie wat sy woonplaas eer, bou nooit op losse sand.
Boeremusiek ens.

Wat's nuut op Kalie se Boeremusiek webwerf?! Ons het nou 'n eie domein - dis nou vir die wat nie die blad onlangs besoek het nie. Gaan loer gerus by http://kalie.boeremusiek.net

Kalie het ook onlangs begin om DVD's te maak en is tans besig om die destydse Boeremusiek kompetisies wat op TV aangebied was op DVD beskikbaar te stel. Klik op die skakel vir DVD's op die webblad
( http://kalie.boeremusiek.net/dvd.html ) om te sien wat reeds te koop is. Ons het egter reeds meer DVD's omdat Kalie ook privaat DVD's maak en onder andere heelwat van Nico van Rensburg se TV en ander optredes nou op DVD het.

Polkadraai, die nuusbrief van die Pretoria Tak van die Boeremusiekgilde sal van nou af ook op die web bekikbaar wees (Wia is die redakteur van hierdie nuusbrief). Gaan loer by http://polkadraai.boeremusiek.net  as u belangstel om u naam op die poslys vir hierdie nuusbrief te kry. Ouer weergawes van die nuusbriewe sal binnekort geplaas word.
 
Agterpad Reisnotas - versamel deur Braham van Zyl

Ek luister mos een Saterdagoggend na Amoré Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres onderaan die artikel) Hy stuur 'n 'n gereelde nubrief uit.

KATBERG omgewing: Oos-Kaap
Steyn Nortier van Brandfort in die Vrystaat, skryf:
“Ek wil jou van ‘n gebied in die Oos-Kaap, wat in ‘n driehoek tussen Adelaide, Stutterheim en Queenstown geleë is, vertel. Dis waar ek ‘n paar jaar na die Tweede Wêreldoorlog as kind rondgespeel het.
As jy vanaf Fort-Beaufort noordwaarts na Queenstown ry, ry jy al langs die Katrivier op. Waar jy oor die spoorlyn ry, lê ‘n fort regs van jou op ‘n koppie. As ek reg onthou, is dit Fort Grey. Nader, en nog meer regs, was die Katberg Sekondêre Skool, en regs daarvan was die stasie. Die Grey kerk het net so ‘n driekwart myl terug gelê.
So ongeveer vyf myl vanaf die spooroorgang, Queenstown se kant toe, was die Katberg Sanatorium. Dit was ‘n pragtige plek met ‘n swembad en wandelpaaie in die woud.
Die paaie daar rond is nou verlê. Mens ry glo vandag daar oor die Nico Malan-pas, maar die ou pad het oor die Katbergpas gegaan. Van daar bo af kyk mens terug na Fort-Beaufort se kant toe oor die pragtigste vallei.
Oos van die pas lê die dorpie Seymour. Dit was so klein dat ons kinders dit na “Seeless” herdoop het. Nog verder oos was ‘n verskriklike steil pas wat na Hogsback geloop het. Wes van die Katbergpas kry mens die dorpie Balfour.
As jy by die Grey kerk weswaarts draai, ry jy deur Blinkwater op pad na Adelaide. So ‘n myl of drie voordat jy met Bosnek afsak na Adelaide, draai ‘n pad na links na Fort Fordyce. Dis vernoem na ‘n ene Kolonel Fordyce wat verantwoordelik was vir die bou van die Arghailpas tussen Adelaide en Bedford.
Ons het darem maar ‘n mooi ou land.”

Skryf vir Braham en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings direk van hom af! e-pos : info@explore-sa.com

Luister elke Saterdagoggend net na die agtuur nuus op die Afrikaanse radiodiens van RSG na Braham van Zyl en Amoré Bekker se agterpad geselsies op die program Brêkvis met Bekker. 

Glimlag!
 
  Oom Koos van die Oos-Transvaal besit sy plasie nou al vir donkie jare.
Skuins agter die Bloekoms het hy destyds vir sy kinders 'n plaasdam in 'n swembad omskep en goed ingerig met piekniek tafels, braai geriewe en vrugte bome.

Een aand, so skemer se tyd besluit oom Koos, so in sy eensaamheid, om bietjie daar by die dam te gaan sit. Hy neem toe ook 'n emmer saam om 'n paar van die vrugte terug te neem huis toe.

Soos wat hy aangestap kom, hoor hy vroulike stemme gesels en giggel. Hy val plat agter 'n bos en loer deur die takke om te sien wat aangaan. Tot sy swak hart beleef hy 'n groep kaal meisies wat in die dam swem.

Hy staan toe op en stap nader om die meisies te laat weet hulle betree eintlik 'n ander man se eiendom. Toe hulle hom sien, sak hulle almal laer af sodat die water die nodige toe maak. Een van die meisies skreeu benoud
op die oom: "Ons klim nie uit voor oom nie weggaan nie!"

"Nee, nee bedaar niggie, ek is nie hier om te kyk hoe die spulletjie van julle kaalgat swem nie..." Hy hou die emmer om hoog en sê: "Ek is net gou hier om die krokodille kos te gee..."
 
Laat jou wildste drome waar word, kry 'n kaartjie in die UK Lottery, klik net hier  Die boerpot is gereeld om en by  £11 miljoen, ( R140,000,000), sjoe, dis darem maar baie nulle!! Maar dis nog NIKS! Die Euromillions Lotto staan huidiglik op 181 miljoen Euro, dis om en by R1,719,500,000. Eishhhhhh. Vat 'n kans, wie weet???
     
  Die Danville Hulpgroep  
     
 

Ek is betrokke by hierdie inisiatief van Elsabé, kyk tog asseblief of julle nie ook 'n bydrae kan maak nie, besoek ook hulle webwerf. 

Nuusbrief 14 Maart 2007

Goeiedag vriende,

So lekker om goeie nuus te gee. Die President Kruger Kinderhuis se senior dogters het heerlik gekamp - dit was 'n reuse sukses! Ongelukkig het een van die bussies gebreek en kon ons net 14 meisies en 2 versorgers laat kamp. Die 14 oudste dogters is gekies en ons sal na die skoolvakansie die kleiner dogtertjies laat kamp.

Die meisies het Vrydag laatmiddag luilekker op die plaas aangekom - maar vinnig spoed gevang toe hulle sien wat alles gedoen moes word! Slaapplekke is ingedeel en beddens moes amper "army styl" opgemaak word. Kleresak netjies by die voete en nie 'n ding uit sy plek nie!

Maar ek moet weereens sê hierdie kinderhuis se kinders is 'n groot plesier! Hulle het goeie maniere en is goed gedissiplineerd (wat natuurlik die wêreld se verskil maak!!) en soos blits was alles gedoen en kon die program begin. Eers so 'n bietjie "chill" en toe moes die vure aangesteek word - elke groep het sy eie braaier en elke dogter moes self haar vleis braai vir aandete! Dit was vir jou 'n konsternasie met die vroumense! - hulle het omtrent soos strooise geruik toe hulle uiteindelik hulle vure aan die gang gekry het! Lekker-lekker!

Daarna was dit opruim en net lekker kuier. Natuurlik het 'n klomp besluit hulle gaan buite op die dek slaap - om net na 10 uur blitsig terug in die huis te kom - want dit was bitter koud (Lydenburg)! Na 12 het hulle eers tot ruste gekom!

Vroeg Saterdagoggend is die lotjie op en kwetter soos spreeus die hele plaas vol. En net toe hulle dink dit gaan so aanhou - maak Christo hulle bymekaar en werk hulle sake vir hulle! Teen 4 uur moes hulle weer kom vuur maak en word hulle toe geleer om hulle eie potjiekos te maak! van die skil van die groente tot die eind produk. Hulle moes ook tafels dek uit die natuur - wat later beoordeel sou word. Dit het die meisies baie geniet en die oorspronklikste idees het vorendag gekom. Net na donker was die kos reg en die tafels gedek en kon die beoordeelaars hulle werk doen (nogal lekker werk om alles te proe!) Die senior meisies se potjiekos was die lekkerste maar die juniors se tafel was die mooiste gedek! Die "punch" was 'n regte "Knockout-punch" wat se brousels hulle daarin gehad het, sou niemand weet nie maar dit het kiewe en alles laat toetrek! - Ek dink dit was hulle wraak op ons!

Net toe hulle lekker agteroor sit - magies vol - sê Christo "Reg girls nou is tyd vir die nagmars" Oë word omgedop, lyftaal wat vir niks skrik nie! maar dit help hulle niks. Hulle word in 2 groepe ingedeel - agterop die bakkies - in daar gaan hulle die nag in!

Hulle word so 500 meter van die plaas se grensdrade afgelaai met net die stêrre as kompas! en spioene wat hulle in die donker dophou sonder dat hulle dit weet! (vir veiligheid) Nou moet hulle deur die drade en bosse kophou om die lantern te bekruip sonder dat die 2 Christo's hulle hoor! Ag tog - waar het jy nou al van 'n vroumens gehoor wat kan stilbly? - toe hulle nog so lekker stap spring Christo uit die bos en jaag hulle die ewige skrik op die lyf! Dit het amper soos die einde van die wêreld geklink soos wat hulle gil en skreeu! jou ore slaan aanhoudend toe en jy glo dat jy permanente gehoorskade gaan hê! Uiteindelik was hulle terug by die huis en na lekker warm storte het hulle letterlik net neergeval en geslaap!

Sondag oggend wou niemand wakker word nie - want dit was huis toe gaan tyd! Uiteindelik het hulle ontbyt gehad, sakke gepak en die huise silwerskoon gemaak. En net toe hulle moet ry - was almal skoonveld! Dit het ons 'n baie lang tyd geneem om almal bymekaar te kry. Die gesiggies somber en die een outjie was baie hartseer omdat sy liewers op die plaas sou wou bly! Almal se kele trek toe en ek besef toe dat ons gou die atmosfeer moet verander. Ek besluit toe om vir hulle 'n lekker ete te koop by die Excell garage - The Rose net voor Pretoria! Met die belofte van nog 'n "outing" soos hulle dit stel helder die gesigte op en daar gaan hulle!

Die ete was lekker maar ek moet sê dit het besonder lank gevat! Toe ek die meisies groet het dit gevoel asof daar 'n stukkie van my by hulle agterbly. Maar ek weet "Ons ondersteuners het vreugde en geluk in hulle lewens gebring" wat altyd onthou sal word.

Baie dankie aan almal wat bygedra het om hierdie kamp moontlik te maak

SEUNSKAMP 16 - 18 MAART 2007

Omdat die bussie nog nie reg is nie gaan net die senior seuns hierdie naweek kamp. Die jonger outjies sal dan ook soos die meisies na die skoolvakansie gaan kamp

Indien daar iemand is wat pette en sonbrandmiddels wil skenk sal ons baie dankbaar wees.

BLOUDAKKIES OUETEHUIS

Ons het 'n bejaarde egpaar wat akkommodasie moet kry. Om hier opgeneem te kan word is daar depositos van ± R800-00 wat vooruit betaal moet word. Verder het hierdie oumense niks!!!! nie 'n bed of 'n stoel nie - absoluut niks!

Is daar dalk mense wat kan help met huisraad - 'n dubbelbed, linne, hangkaste, spieelkas, sitkamer meubels, kombuisgoed (alles) Kyk maar asb wat nou al lank in die garage staan en gooi maar oor na ons toe asb. Ons moet ook vir hulle kruideniersware gee. Ek moet hulle voor die naweek in die ouetehuis te kry! Hulle woon apart by mense en die 2 oues is maar verlore so alleen!

ALGEMEEN

Ons benodig soos altyd, kruideniersware letterlik tonne! klere, komberse en enige goeie huishoudelike items.

Weereens baie dankie aan almal wat so getrou help om 'n verskil te maak. Daar is heelwat nuwe fotos op die webwerf www.danvillehulp.co.za gaan loer gerus.

Bankbesonderhede:

Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926

Aflewerings adres:-

286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za

PS Bel asb voor jy ry

.
Resepte

Patriot Koek  (baie ou resep) 

1¼ pond meel
1 pond fyn wit suiker
6 eiers
½ pond gesmelte botter
½ pond fyn gestampte amandels
½ teelepel kaneel
2 onse korente
½ bottel melk
½ teelepel soda
1 teelepel cream of tartar
1 teelepel fyn gestampte nartjieskil of 10 druppels lemoenolie 

Klits die geel van die eiers goed, klop die suiker daarby, dan die gesmelte botter,  dan die melk met die soda daarin, voeg dan die meel by en roer goed deur.voeg dan die  amandels en korente, nartjieskil en cream of tartar by en meng alles goed. Klop die eierwitte goed en meng dit by. Plaas in gesmeerde pan en bak in matige oond  vir 1½ tot 2 uur lank.

Patriot Poeding (baie ou resep) 

6 eiers,
8 lepels meel,
1 koppie fyn wit suiker,
1 koppie melk,
1 koppie dikmelk,
2 lepels botter, 
2 onse korente,
1 ons konfyt,
25 soet amandels 

Kraak die amandels ensit dit in warm water sodat die velletjies los gaan, klop die eiers goed,  maak die botter so effentjies lou en klop by die eiers. Voeg dan die suiker by en werk goed deur. Voeg dan die melk en dikmelk by , strooi die meel daaroor en roer dan goed. Werk die konfyt in die deeg in en roer alles deeglik.  Plaas in ‘n gesmeerde skottel en bak vir een uur. Sodra die poedig gaar is, sny die amandels in middle of lengte deur en steek dit mooi oral op die poeding.

Afrikaner Bond Koek (ou resep) 

1 ¼ pond meel
1 pond fyngestampte wit suiker
8 eiers
¼ pond botter
¼ pond korente
½ bottel melk
10 druppels amandelolie
1 teelepel soda
1 lepel brandewyn 

Sit die soda in die melk.  Klits die geel van die eiers goed., voeg dan daarby die suiker, dan die gesmelte botter, korente en melk, dan die meel en amandelolie en ten laaste die geklopte wit van die eiers en die lepel brandewyn. Plaas in ‘n gesmeerde pan en bak in matige oond vir 1½ to 2 uur.

Jan Smuts-koekies

Hierdie koekies is genoem na genl. Jan Smuts wat van 1919 tot 1924 en van 1939 tot 1948 die eerste minister van die Unie van Suid-Afrika was.
Die resep lewer 4 dosyn koekies. Volgens oorlewering was die koekies destyds baie gewild onder genl. Smuts se aanhangers terwyl hul politieke opponente niks daarvan wou weet nie en net Hertzoggies gebak het.

Kors
400 g (750 ml, ongesif afgemeet)
koekmeelblom
10 ml bakpoeier
1 ml sout
250 g botter of margarien, by
kamertemperatuur
200 g (250 ml) suiker
2 eiers, geklits

Vulsel
125 g botter of margarien, by kamertemperatuur
125 g (150 ml) suiker
2 eiers, geklits
125 g (225 ml, ongesif afgemeet)
koekmeelblom
5 ml bakpoeier
100 ml fyn appelkooskonfyt

Voorverhit die oond tot 190°C (375 F).
Smeer die holtes van kolwyntjiepanne, of bespuit hull met kleefwerende middel.
Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter of margarien met die vingertoppe hierin totdat die mengsel fyn gekrummel is. Voeg die suiker by en meng. Voeg die eiers by en meng tot 'n deeg.
Rol die deeg sowat 3 mm dik uit op 'n meelbestrooide deegplank. Druk sirkels, 8 cm in deursnee, met 'n koekiedrukker uit. Voer die holtes van die kolwyntjie panne met die deegsirkels uit.
Verroom die botter of margarien en die suiker saam. Voeg die eiers by en meng. Sif die koekmeelblom en bak poeier saam en meng dit met die eiermengsel.
Skep 2 ml van die appelkooskonfyt in elke korsie. Skep 'n lepelvol vulsel daarop.
Bak die koekies 15 minute of tot goudbruin op die middelste oondrak.
Keer hulle versigtig op 'n draadrak uit en laat afkoel.

Jan Ellis poeding

1 1/2 kop. bruismeel.
2 eiers.
2 eetl.appelkooskonfyt.
1/2 kop. melk.
1/2 kop. suiker.
1 teel. koeksoda.
2 eetl. sagte botter.
1/4 teel. sout.
Los koeksoda in melk op. Meng al die ander bestanddele. Roer melk en koeksoda by en meng baie goed. Bak 30 minute in matige oond.

Stroop:
1 kop. kookwater.
1 kop. room.
1 teel. vanilla.
1 kop. botter.
1 kop. suiker.
Gooi alles in kastrol en bring tot kookpunt. Gooi warm sous oor poeding wanneer dit uit die oond kom. Bedien warm of koud.

Generaal De la Rey's koek

Ons weet nou dat hy nie alleen die Boere gelei het nie, maar hy het ook van koek gehou. Hier is die resep in oorspronklike teks:

1½ pond flour
1 lb. fyn wit suiker
½ bottel melk
5 yers (eiers)
½ lb. botter
1 koppi skoon deurgesnyde resyntjiis sonder pit
1 koppi skoon korente
½ koppi fyn siterskil  (wat is siterskil??)
½ koppi fyn limoenskil
10 druppels amandel
10 druppels fannille essens
1½ télepel "Baking" poeier
½ koppi amandels dun gesny

Sif di flour en "Baking" poeier tesame. Klop di botter met di suiker tot room dan di geel fan die yers een vir een daarby, dan di melk goed deurwerk. Strooi die flour fyntjies in, dan di styfgeklopte wit fan di yers, resyntjiis, siter skil, korente, limoenskil en amandels dun gesny, werk goed deur, ten laaste di druppels.
Smeer 'n regte groot form, strooi krummels daarin en skut uit wat tefeul is. Doet di deug daarin en bak in 'n warm oond fer 1½ uur tot 2 uur. Fersiir eers met wit fersiirsel en as dit goed droog is, dan weer met fersiirsel wat opgeklop is met 'n bitjie cochineal, maak rosiis of blomme daarop, De la Rey's naam is ook mooi.

Ou Boereraat

Bloedfinte

2 lepels soetoli, 'n stukkie was so groot soos 'n okkerneut, ook si 'n stukki bokfet. Smelt tesame, doet dan daarby 5 druppelshaarlemmeroli en 10 druppels balsem sulfirus

Ou Resep

Ek weet nie hoe oud hierdie een is nie, maar dit klink lekker! Sommer 'n lekkr kampeerresep ook!

Volgende bydrae van Ria Tribelhorn, baie dankie! Ek is mal oor enige poeding.....

Tannie Klein se Potpoeding
Neem ‘n gewone pot met nie ‘n te dik bodem nie.
2 lepels Stroop
2 lepels Botter
Smelt saam in die pot en voeg by:
2 koppies Koekmeel
2 telepels Bakpoeier
Maak die volgende aan
1 koppie Melk
2 telepels Koeksoda
Voeg dit by die res in die pot.
Dit gaan ‘n bol deeg vorm. Druk dit net so effentjies plat in die pot.
Gooi dan die volgende by:
2 koppies Suiker
4 koppies Kraanwater
Sit die pot se deksel op en hou die plaat op ‘n hoë temperatuur totdat die pot begin prut.
Draai dan plaat se temperatuur sagter (Medium) en laat die pot vir ± 30 minute kook op die plaat.
Moet nie die pot gedurende hierdie tyd oopgemaak nie.
Kyk dan en sodra dit mooi bruin is kan die pot van die plaat verwyder word.
Bedien warm of koud met vla of roomys.

Resepte uit Anna se Kombuis

Al Anna se resepte is in eBoek formaat en maak dus ideale geskenke en word sommer met epos gestuur. Vir meer besonderhede, klik hier

Tamboesies

1 rol skilferdeeg
1 eier geklits
500ml vars room
50ml strooisuiker
6ml vanielje geursel
250ml gesifte versiersuiker
30ml kookwater
2ml suurlemoensap
geel voedselkleursel

Rol die helfte van die deeg uit en sny in 4.5cm vierkantjies. Verf liggies met geklitste eier. Plaas op 'n bakplaat wat met water besproei is en bak in 'n voorverhitte oond by 200C tot goudbruin. Laat afkoel, sny deegvierkante oop tussen die gerysde lagies. Klop room met strooisuiker en vanieljegeursel styf. Spuit room op die onderste een lagie en plaas 'n vierkantjie bo-op. Meng gesifte versiersuiker met kookwater en suurlemoensap en 'n paar druppels voedselkleursel. Skep versiersel drupsgewys oor elke tamboesie.
 

Amarula Sjokoladekoek

Susan Varnfield stuur my die volgende resep. Ek plaas dit omdat ek gek is oor Amarula.....wat nog van die kombinasie van sjokolade koek en Amarula. Ek hou varal van die heel laaste sin: Meer Amarula kan gebruik word indien verkies. Maar natuurlik!!!!

AMARULA Sjokoladekoek

60 ml Kakao
125 ml kookwater
3 eiers
220 ml suiker
60 ml olie
250 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
2 ml sout

STROOP
200 ml suiker
250 ml water
60 ml Amarula-likeur
1 blik karamelkondensmelk
styf geklopte room vir versiering
Flake-sjokolade

Stel oond op 180 grade Celsius.

Beslag:
1. Meng kakao met kookwater en laat dit afkoel.
2. Klits eiers, suiker en olie saam, voeg koue kakaomengsel by en meng deeglik.
3. Sif res van droë bestanddele by en meng goed.
4. Skep in 22 cm x 30 cm-pan en bak ongeveer 20 min. of tot toetspen skoon uitkom.

Stroop:
1. Kook suiker en water saam vir 5 minute en verwyder van stoof en voeg Amarula by. Roer goed. .
2. Prik koek met ‘n vurk sodra dit uit die oond kom en gooi warm stroop oor.

Versier:
1. Laat goed koud word, verwyder uit pan, smeer karamelkondensmelk en styf geklopte room oor.
2. Versier met Flake indien verkies (nie Pepperment Crisp nie, want dit belemmer die smaak). Dis ‘n heerlike klam koek wat lekker klam bly.

WENK: Meer Amarula kan gebruik word indien verkies.

st se pitkos

st se  pitkos

Klik hier om st se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief

“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.

Nog gevleuelde woorde van ST:

Die STAR beginsel

In ‘n mens se lewe is daar momente en tye wanneer jy in ‘n krisis gedompel word. Dis wanneer golwe van stormagtige tye oor jou spoel en jy nie weet of jy anderkant gaan uitkom nie. Jy voel benoud, magteloos en die situasie hopeloos.

In sekere industrieë en nywerhede soos by ‘n kernaanleg word die STAR beginsel gevolg om krisisse en gevaarsituasies te hanteer.

Hierdie selfde beginsel kan jy ook in jou persoonlike lewe volg om ‘n krisis te hanteer.

Die STAR beginsel is ‘n Engelse akroniem, maar ek meen tog dis sinvol om ook in Afrikaans hierna te kyk.

S staan vir STOP. Wanneer jy in gevaarwater beland met jou lewe soos byvoorbeeld wanneer jy deur ‘n egskeiding gaan, in finansiële nood is, jou kind dwelms gebruik, jy moet verhuis, is die eerste stap om te stop. Mens is soms geneig om net oë toe te maak en oorhaastig ‘n saak aan te pak. Maar nee, stop en skep asem om eers perspektief op die probleem te kry. Moenie net voortploeter en die krisis vererger nie.

Die tweede stap T staan vir THINK. Wanneer jy alles stop het jy nou geleentheid om die krisis te deurdink. Die volgende vrae help om die denkproses aan die gang te kry oor hoe om die krisis te hanteer:

· Wat is die verskillende opsies wat jy het?
· Watter opsies bring jou by jou doelwitte uit?
· Wat is die statistiek vir suksesvolle uitkoms van elke opsie?
· Wat is die finansiële implikasies vir elke opsie?
· Wat is die stappe wat jy sal moet volg?
· Wat is die regs implikasies van die verskillende stappe?
· Watter hulpbronne het jy?
· Watter is die voordele van jou besluit?
· Watter risiko’s en nadele lê in jou aksies?
· Wat is die waarskynlike endresultaat van jou gekose opsie?

Die derde stap is A en staan vir ACTION. Wanneer jy die verskillende opsies deurdink en ‘n keuse gemaak het, moet jy oorgaan in aksie. Dit is alleen deur aksie wat jy die spesifieke probleem aanspreek. So dikwels stel ons uit omrede ons bang is vir die werk daaraan verbonde, die ongerief of uitkoms van ons besluite en aksies. Jy hanteer egter slegs jou krisis indien jy tot daadwerklike optrede en aksie oorgaan.

Die vierde stap R beteken om die hele krisis en uitkoms te RETHINK. Nadat jy tot aksie oorgegaan het, maak ‘n opname van die resultate van jou besluite. Waar het goed gedoen en waar het dinge verkeerd verloop? Wat kan jy verander en hoe herstel jy foute wat jy gemaak het? Herdink jou keuses en optrede – hoe kan jy die uitkoms verbeter. Hierdie “rethink” stap is ook belangrik om lesse te leer om sodoende ‘n toekomstige gevaarsituasie of krisis beter te hanteer.

Die gebruik van die STAR beginsel is ‘n doeltreffende manier om die krisisse en probleme in jou lewe te hanteer en reg te bestuur. Dit help jou om op ‘n meer objektiewe wyse jou krisis te evalueer en regte keuses te maak.

‘n Sprankie wysheid vir die dag

“Die lewe is soos ‘n besoek aan die tandarts: jy dink altyd die ergste kom nog, en intussen is dit reeds verby.” - Bismarck -

Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za

Skakels

Soek jy plek om te gaan kampeer? Klik dan hier!

Skooltake?? Klik hier

Vakansieverblyf is altyd 'n probleem, dié mense maak dit makliker om te kry, klik net hier.

Teken in /Teken uit / Kontak

Teken hier in op die poslys en lees ook die argiewe.

Om uit te teken, stuur vir my 'n epos en dui jou naam aan asook die eposadres waaronder jy ingeteken is

Kontak my hier.

Druk jou speld op my besoekerskaart!