Nommer 106

Besoek my Webwerf

19 Februarie 2007

 
 

Eg Afrikaans

Die Knoop

Ons Dorp

Woes

Vuurvlieg

Afriforum

Voortrekker Monument

Steve se Spoegblok

Blanke Ekonomiese Forum

PRAAG

Rieme

 
 
 
 

Vorige Nuusbriewe

Epos

Wees gegroet!

Welkom aan alle nuwe intekenare!

Iemand vra my nou die dag waar kom die naam Peterjasie vandaan. Ongelukkig het ek nie my naam, Peter, gekies nie. Ek het daagliks die probleem dat mense my in Engels begin aanspreek as hulle my naam hoor of sien. Dan moet hulle natuurlik reggehelp word.  Toe ek besluit om 'n Afrikaanse webwerf en nuusbrief saam te slaan het ek gesoek vir 'n Afrikaanse weergawe van Peter, toe kom my vriend Ray Theron met die naam Peterjasie te voorskyn! En van toe af is dit Peterjasie!

Die keer het ek heerlike hoenderresepte, baie dankie aan Anna Eksteen.  Klik hier om na haar resepte eBoeke te gaan kyk. Die hoenderresepte is verder ondertoe.

Ek het verlede keer 'n meningspeiling gehad oor 2010, die resultate was heel voorspelbaar gewees. Ek het dieselfde vrae in my Engelse nuusbrief gevra, klik  hier vir die Afrikaanse resultate en  hier vir die Engelse resultate.

Weereens het ek lekkerlees Afrikaanse artikels deur onder andere Estelle de Bruyn en Annelie Botes, ek is seker julle sal dit geniet! Mara Swanepoel lewer ook weer 'n welkome bydrae.

Peterjasie sê

Daar is 'n oplewing in Afrikaner en Blanke patriotisme. Vir my is dit die liedjie "De la Rey" wat my oë weer oopgemaak het en laat besef het dat ons nou moet wakker word en saamstaan soos nooit vantevore nie.

Iets is verkeerd of alles is nie reg nie, soos 'n vriend van my altyd gesê het. Eers laat vaar ENB hulle advertensieveldtog teen misdaad weens regeringsdruk en nou weier Media 24 om soos hulle dit noem, 'n 'sensitiewe'  advertensie van die Blanke Ekonomiese Forum te plaas, blatante diskriminasie teen blankes. Weer regeringsdruk? Wie weet! Die hoofdoel van die Blanke Ekonomiese Forum is om die finansiële onafhanklikheid van blanke Suid-Afrikaners te bewerkstellig. Kom ons staan saam en maak 'n verskil! Gaan kyk gerus op hulle webwerf en sluit aan!

Afriforum is 'n inisiatief van Solidariteit - met AfriForum-lidmaatskap sal jy direk daartoe bydra dat jou en jou gemeenskap se stem gehoor word in ‘n samelewing waar minderhede - soos Afrikaners en die Afrikaanse gemeenskap - toenemend geïgnoreer word. Besoek gerus Afriforum se webwerf en sluit ook hier aan!

PRAAG (die Pro-Afrikaanse Aksiegroep) is 'n nie-partypolitieke beweging wat veg vir die voortbestaan van Afrikaans en die Afrikaner in Suid-Afrika. Deur taalaksies, publikasies en openbare debat word Afrikaans gehandhaaf en bevorder. PRAAG is reeds drie jaar lank besig met inisiatiewe om bestaande Afrikaanse organisasies in een beweging saam te snoer ten einde gekoördineerd teen geweldsmisdaad, naamsveranderings, taaldiskriminasie en verval in infrastruktuur te kan optree. Besoek gerus hulle webwerf.

ENB se mond is gesnoer, maar jy kan nog steeds aan Mbeki 'n brief stuur oor die misdaadkwessie, vul net die vorm op die bladsy in, dis maklik en vinnig!

Nuwe Resepte eBoek

Ek wil 'n nuwe resepte Eboek saamstel. Die boek moet uniek wees deurdat die name van die resepte name moet bevat van Suid Afrikaanse geskiedkundige persone (bv. President Steyn koek ), Suid Afrikaanse geskiedkundige gebeurtenisse (bv. Depressiepoeding), Suid Afrikaanse sport persoonlikhede (bv. Jan Ellis poeding) en dan wat ek kultuurresepte noem soos Boeretert, Telefoonpoeding, Stormjaers ens.

En dan het ek 'n uitdaging aan al ons verbeeldingryke kook en baksters. Wat van nuwe resepte of disse waar ons mense, gebeurtenissse en sporthelde verewig. Dink maar aan Steve, Naas,  Ernie, rugbyspanne, Rugby en Krieket wêreldbekers ensovoorts. Komaan, slaan vir ons 'n resep aanmekaar of verwerk jou gunsteling resep, toets dit en gee dit 'n naam. Dalk word dit so bekend soos koeksisters en word in toekomstige resepteboeke opgeneem met jou naam daarby! Wat van iets soos Steve se Klapper-ys en maak dan die pienk gedeelte blou :-) Stuur my jou poging, elke persoon wat bydra kry 'n gratis afskrif van die boek sodra dit gereed is.

Pasella

Verskoon asseblief die Engels, maar hierdie is nogal interessant. Regs klik hier en laai die eBoek
Healthy Dating and Relationship Tips af.

Geskenke?

Dis gewoonlik 'n gesukkel om geskenke te koop, ek het 'n paar idees wat jy dalk in sal belangstel, klik gerus hier om te gaan kyk. Daar is bv. 'n CD met 50 resepteboeke op (Engels), jy hoef nooit weer 'n resepteboek te koop nie! Ek het nou ook 'n eBoek oor kruie (in Engels, het nog nie tyd gehad om dit te vertaal nie) vir net R50. Klik hier vir betalingsbesonderhede. Ook ander eBoeke en CD's beskikbaar.

Estelle de Bruyn

Kom ons skop oudergewoonte af met Estelle se bydrae. Sy is verbonde aan die Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië. Kontak haar gerus, sy hoor graag van julle.

BEREA SE FLÊT-DAE

DIT voel soos 'n leeftyd terug en terselfdertyd voel dit soos gister. Die dae toe ons met bravade wat uit onkunde gebore is en 'n onskuld wat byna ondenkbaar is, die wêreld van die joernalistiek betree het en “flêt” opgesit het in Berea, Johannesburg.

Johannesburg was in my verwysingsraamwerk so groot soos New York. Hillbrow, net langs Berea, was daai tyd vol hippies wat gesukkel het om die 60's te ontgroei, boekwinkels en platewinkels wat tot elf uur in die nag oop was en luukse koffiewinkels waar jy koerante van reg oor die wêreld kon lees.

Uit my eenvrouwoonstelletjie op die sewende verdieping het ek afgekyk op 'n park. Die woonstelblok het 'n deurwag in 'n uniform gehad wat vir jou die deur oopgemaak het. My huur was die astronomiese bedrag van R80 'n maand en vir 'n ekstra R20 het ek parkering in die parkeergarage vir my geel Volla gehuur. Vier deure van my af het my universiteitsvriendin, Mariska Spoormaker, gebly wat op dieselfde dag as ek by die Vaderland begin werk het. Perskor se hoofkantoor, waar die Vaderland, Transvaler en Citizen se kantore was, was tien minute se stap van die woonstel af in Doornfontein geleë.

In dieselfde woonstelblok het Annelize gewoon. Sy was in my Engelse klas op universiteit en het by Beeld in die advertensieafdeling gewerk.

Ons was jonk en sterk, slimmer as die houtjie van die galg en sonder 'n bang haar op ons koppe. Ons was onoorwinlik, onstuitbaar en ambisieus. Met ons karige salarisse het ons ons woonstelle mooi gemaak, gebinneversier uit die sislap wat ons vir 'n appel en 'n ei by die Indiese plaza gekoop het. Ons het Earl Grey tee en witwyn gedrink, kaart gespeel en in die boeke- en platewinkels rondgesnuffel. Ons het konserte gekyk by die Chelsea Hotel en agterop die motorfietse van ons “boyfriends” deur die strate gejaag.

Mariska was die misdaadverslaggewer en ek die munisipale verslaggewer. Wanneer die geld in die middel van die maand begin opdroog, het ons seker gemaak dat ons elke moontlike aandfunksie op die nuusdagboek bywoon, want daar was kos.

Mariska se ma het tuisgemaakte muesli gemaak wat sy in 'n groot glasbottel op haar kombuisrak gebêre het. My ma het beskuit en soetkoekies gebak. Ons het saamgeëet en saamgespeel.

En soos die lewe maar gaan, het ons paaie ander rigtings ingeslaan, myne Windhoek toe, Annelize s'n Kaap toe en Mariska s'n SAUK toe en later ook Kaap toe.

Na al die jare stuur 'n gemeenskaplike vriendin nou die dag 'n artikel van Mariska wat in die Burger verskyn het, oor haar kind wat 21 jaar oud geword het. Ek sit en lees met 'n knop wat al groter word in my keel. My kind is ook vanjaar 21 jaar oud. Ek verstaan haar emosies so goed, want dis my emosies. En skielik loop my gedagtes terug op die ou paaie, na ons saamjare, ons onverskrokkenheid en hoe onvoorbereid ons was op die draaie en swaaie waarop die lewe ons sou neem.

Ja, dis goed dat 'n mens nie in die toekoms kan sien nie, want dan sou ons te bang gewees het om ons neuse by die beskermende deure van daardie eerste woonstelletjies uit te steek. Ons sou ons koppe toegetrek het onder die verekomberse (dit was voor ons duvets geken het).

Gelukkig het ons nie geweet wat voorlê nie. Gevolglik het ons ons paaie geloop, elk haar eie en met die genade van die Here hier gekom waar ons nou is. Heelhuids, gewond, maar nie oorwin, minder selfversekerd en voortvarend, versigtiger en wyser.

Dankie tog.

Ek wonder wanneer laas was jy in Berea, Estelle? Jy sal die plek nie herken nie! - Peter

Mara Swanepoel

Hierdie stukkie is opgedra aan die Florida meer, daar waar ek ure spandeer het – toe dit nog veilig was.

27 April – VRYHEIDSDAG

Wie is nou vry waarvan? Dis nou al meer as 'n dekade wat ons vryheid vier, en steeds weet ek nie juis waaroor al die bohaai gaan nie. Ons is mos lankal vrygemaak deur Hom wat aan die kruis vir ons gesterf het. Ek vier my vryheidsdag vroeer in April op Goeie Vrydag. Want geen regering en geen mens kan enigeen so vrymaak soos juis Jesus dit gedoen het nie.

Ek wonder soms net wie is vry? Wie het gebaat by hierdie stukkie geskiedenis van ons land? Hoe kon die ou regering geld hê om ALMAL so te sê gratis te laat skoolgaan, om paaie ordentlik in stand te hou, hospitale goed uit te rig, “efficient” personeel het in government-departments gewerk. Wat het van al die geld geword. Want ek kan nie sien dat dit in Reconstruction and development belê is nie. Hoe kan die regering squatter camps toelaat. Waar het hierdie mense voorheen “geplak”? Hoe kan hospitale wat eens gespog het met spogsale nou so verval het, dat sommige omskep is in klinieke en dit terwyl bestaande staatshospitale so oorvol is? Daar is soms nie eens ordentlike medisyne nie. Ek ril as ek dink aan die mense op klein plattelandse dorpies wat van hierdie dienste afhanklik is. Nou wie is dan nou vry? En so kan my lys aangaan en aangaan. Die polisiediens, die paaie, werkloosheid, ens. Ens. Ens.

En op hierdie vakansiedag “ontdek” ons 'n elektriese kabel, ek reken so R6000 werd in scrap-metal pryse. En ons rapporteer Isinyoga, vir wat ook al dit werd is. Ek hoop net ek doen die regte ding, dat die kabel veilig sal wees en dalk net weer terug sal gaan na die oorspronklike eienaar, wie ook al dit mag wees. Of gaan hierdie skelm dit opeis by die polisie en dit dalk terugkry, of gaan dit korrupsie in die polisie aanhelp. Ek sal nooit weet nie, maar my gewete is skoon. Ek het my burgerlike plig gedoen. En dit maak my so vry.

©Mara 2006
Mara se Blog, gaan kyk gerus.

 

Click Here Now!

Click Here Now!

Book tickets

 
  Annelie Botes  
  Nog 'n lekkerlees storie deur Annelie.  
 


As die bidsaad in goeie grond val

Askies oor laasweek se lugleegte. Met oppaktyd, het ‘n griep my neergevel. Tussen koorswalms, soetkyste en ‘n treurende Granny het ek misgevat.
Maar nou trap my voete weer in my moederskoot. En ondanks ‘n mineurtoon wat oor die Afrika-aarde suis, sing my hart ‘n majeurlied. Binne ‘n halfuur na neerstryk, moes ons doodbriek vir ‘n boerbok in Heughweg. In Buffelsfontein se bloekomlaning het die manne met hul verfrollers gesit. Wiseman Slangveld, good painter, se bordjie was op sy plek. Die rooihaarvrou by die robot, perkamentvel en ingesonke mond, asof sy ‘n kliplyf is, en nooit geslaap het in my wegjaar nie. By die Charlo-afdraai het ek Pretty Nomvula se gesig herroep. Elke wit tand, oogpleit, senuagtige handwring. En gesweer om nooit weer my mond aan blueberry pie te sit nie.
Toe die gryse die Corsa afskakel by ons spitsdakkie in North Riding, kon ek dink hoe Doringrosie moes voel na haar 100 jaar-slaap. Ek was terug by my kasteel, my prins, my kat, my klavier. By alles wat ék is. Dank God alom.
My gemoed is nog traag om te vertel van my akkerbosjaar. Vol heuning, én vrot suurmelk. Maar ek wil wyd draai, by die mens se begeerte om in anderland te wei. Hoe die erwe van die vadere hom altyd terugroep. ‘n Onsigbare geskiedenis, vasgeweef in die diep onderwetes, en tóg laslappe van die lyfjas wat jy dag vir dag dra. Jou voorsate. Jou pa en ma en kinders. Jou grootworddorp. Jou land. Jou God. Jou gode. Jy.
Só wil ek ‘n paar jaar teruggaan, toe ‘n wêreldsimposium oor outisme SA besoek het. Raaiselkind was nog vars, en die outismemense nooi my vir luister by UPE. Dis bibbernat; ek daag op in ‘n sweetpakbroek en koeilap kombersbaadjie. Gedagtig om in die agterry te sit; dan en wan verdwyn vir ‘n trekkie. Jimmele, daar speld hulle ‘n geel ruiker op die koeilap vas en sit my in die voorry tussen die fundi’s. Langs Dr. Rutger Jan van der Gaag, ‘n Hollander.
Om my skaamte te dek, práát ek. Langsaam verstaan ons elkaar. Koffietyd nader hy my met ‘n paar note vir ‘n Raaiselkind. Ek wuif dit weg, skryf my epos-adres voorin. Mens moenie ‘n kans miskyk nie. Dalk is hy my paspoort oorsee. Hoeka is die Hollandse vertaling in wording. Maar logika sê hy speel bloot gentleman; hy’s ‘n intellektueel, g’n Afrikaanse fiksieleser nie. En hy ontmoet duisende, waarom sal hy my nou juis onthou? Boonop het die geruikerde koeilapbaadjie my kanse finaal opgeneuk.
Vyfuur is verdaagtyd. Die koppe, waaronder ek, ontmoet 8.00 by De Kelder vir fyn-eet. Ek dress op en dra my ma se Delft-erfjuwele. Biddend vir iets wat sal maak dat die Hollander my móét onthou. Vanaand is daar net één kans. Ek kan nie die langleer eendag klim sonder “oorsee” agter my naam nie.
Toe die strikdaskelner ons die eetkamer inbegelei, weet ek my bidsaad het in goeie grond geval. Want daar’s ‘n klavier. Tussen die voorwyn en voorkos vat ek die klawers. ‘n Medley uit my milt. Skuinsoog sien ek Dr. Van der Gaag leun terug, vervoerd. Wat meer kan ek doen of sê?
Poedingtyd raak die sandglas leeg. Wat ek nog kan vermag, moet gou en kragtig wees. En van nergens herroep ek die prost waarmee my kinders uit Holland teruggekom het. Vol bravade staan ek op, wynglas omhoog. Kap die mes op die tafel en prost terwyl ek na die Hollander kyk, beduiend met die wynglas om my powere Hollands te illustreer.
Op de hoger... op de lagere. Op de verder ... op de nadere. Op de schytere (boudkant)… op de watere (blaaskant). Op de tietere… op de knatere. Ek ruik hom, hy stink nie. Ek kyk hom, hy blink nie. So, wie de donner sê ek kan hom nie drink nie?
Toe sluk ek die wyn. En wéét ek het common verby gefouteer.
Agtien maande later het die vliegtuig my op Schippol neergesit. Op gulle invitasie van Dr. Van van der Gaag. Uiteindelik oorsee. Met bloeiseltyd in Arnhem sou ek vir die eerste keer die kliewende klaagroep uit die moederskoot van my land beleef. Kom huis toe, kind van Afrika…Jou mama wag vir jou…

Africana

Gaan kyk gerus by hierdie internet boekwinkel, daar is fantastiese ou boeke (in Afrikaans ook!), ek sal my kredietkaart hier lekker kan verniel! Klik hier en gaan kyk rond.

Webwerf Soeklig

Met elke uitgawe fokus ek op 'n Afrikaanse webwerf.


VERANDERING DEUR EKONOMIESE KRAG
 
Afrikaanse Lied

Iemand wat in Melbourne woonagtig is stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere. Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek

Ek het besluit om hierdie keer nie een van die Blêrkas se liedjies te plaas nie maar liewer die worode van die populêre liedjie van Bok van Blerk, "De la Rey"

De La Rey

Op 'n berg in die nag
lê ons in die donker en wag
in die modder en bloed lê ek koud,
streepsak en reën kleef teen my

en my huis en my plaas tot kole verbrand sodat hulle ons kan vang,
maar daai vlamme en vuur brand nou diep, diep binne my.

De La Rey, De La Rey sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey.

Oor die Kakies wat lag,
'n handjie van ons teen 'n hele groot mag
en die kranse lê hier teen ons rug,
hulle dink dis verby.

Maar die hart van 'n Boer lê dieper en wyer, hulle gaan dit nog sien.
Op 'n perd kom hy aan, die Leeu van die Wes Transvaal.

De La Rey, De La Rey sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey.

Want my vrou en my kind lê in 'n kamp en vergaan,
en die Kakies se murg loop oor 'n nasie wat weer op sal staan.

De La Rey, De La Rey sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey.

Besoek Bok van Blerk se webwerf

 
Boeremusiek ens.

Wat's nuut op Kalie se Boeremusiek webwerf?! Ons het nou 'n eie domein - dis nou vir die wat nie die blad onlangs besoek het nie. Gaan loer gerus by http://kalie.boeremusiek.net

Kalie het ook onlangs begin om DVD's te maak en is tans besig om die destydse Boeremusiek kompetisies wat op TV aangebied was op DVD beskikbaar te stel. Klik op die skakel vir DVD's op die webblad
( http://kalie.boeremusiek.net/dvd.html ) om te sien wat reeds te koop is. Ons het egter reeds meer DVD's omdat Kalie ook privaat DVD's maak en onder andere heelwat van Nico van Rensburg se TV en ander optredes nou op DVD het.

Polkadraai, die nuusbrief van die Pretoria Tak van die Boeremusiekgilde sal van nou af ook op die web bekikbaar wees (Wia is die redakteur van hierdie nuusbrief). Gaan loer by http://polkadraai.boeremusiek.net  as u belangstel om u naam op die poslys vir hierdie nuusbrief te kry. Ouer weergawes van die nuusbriewe sal binnekort geplaas word.
 
Agterpad Reisnotas - versamel deur Braham van Zyl

Ek luister mos een Saterdagoggend na Amoré Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres onderaan die artikel) Hy stuur 'n 'n gereelde nubrief uit.

NOREE VALLEI: Robertson distrik: Wes-Kaap
WESSEL CONRADIE het my gekontak nadat ek en Amore oor die agterpad gesels het waarvoor jy daar by Robertson se Rooiberg Kelder van die R62 afdraai, en dan al teen die berge langs aanhou tot by Worcester se De Wet Kelder, daar langs die N1. Wessel se grootwordwêreld lê in die Noree vallei, digby die Rooiberg Kelder.
Hy vertel, “Ons is toe nou die Saterdag hier weg op die pelgrimstog na Noree. Dis mos so half met gemengde gevoelens wat ‘n ou na agtien jaar na jou geboorteplek teruggaan, want jy weet mos nie hoe dinge daar verander het nie.”
“Daardie doodstil bolope van die Noree rivier is werklik ‘n plek waar jou siel vrede kan kry. Opmerklik hoe vas baie mense aan hulle wortels is, en nog vaster word soos die lewensjare toeneem. “My seun Gert, wat baie belangstel in varswatervisse, het daardie dag, wat vir hom onbekende vissies was, in die rivierloop bokant Naald-se-Oog raakgesien. Dit was toe in werklikheid ‘n bedreigde soort, nl die inheemse Breederivier Rooifin, voorheen bekend as “Burchells Redfin”.
“Die artikel: www.wynboer.co.za/recentarticles/200603bio.php3 beskryf hoe hierdie vissies onlangs in die dieper poele van die Noree rivier in die Vinkrivier area ontdek is, toe Rooiberg kelder se aansoek om lidmaatskap van die Biodiversiteit en Wyn Inisiatief hanteer is.”
• Ek en my vrou het so twee jaar gelede op die Tierhoek Gasteplaas (tel 023 626-1191) daar in die Goree-vallei gekuier, en ek moet sê Wessel oordryf nie as hy sê dat dit ‘n baie besondere wêreld is nie. Ek het ook nou kort gelede Die Kliplapa (tel 023 626-5929) wat in ‘n weggesteekte kloof daar naby is, ontdek. Dis die ideale plek vir iets soos ‘n troue, of waar ‘n geheime bosberaad gehou kan word.

Skryf vir Braham en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings direk van hom af! e-pos : info@explore-sa.com

Luister elke Saterdagoggend net na die agtuur nuus op die Afrikaanse radiodiens van RSG na Braham van Zyl en Amoré Bekker se agterpad geselsies op die program Brêkvis met Bekker. 

Glimlag!

Twee mans sit 'n Vrydagaand laat by die toonbank in 'n kroeg in Pretoria. "So waar kom jy vandaan?" vra een aan die ander. "Van die Vrystaat," antwoord hy. "Ongelooflik! Ek kom ook van die Vrystaat af! Kom ons drink 'n brandewyn op die Vrystaat en die noodlot wat ons hier saamgebring het! En waar is jy gebore?" "Ek is in Bloemfontein gebore," antwoord die man. "Jy lieg! Ek ook! Ek is ook in Bloemfontein gebore! Kom, drink nog 'n brandewyn daarop. Op Bloemfontein en die noodlot wat ons hier saamgebring het!" So gaan dit aan, brandewyn na brandewyn op alles wat hulle in gemeen het. 'n Man aan die verste punt van die toonbank hou die twee al lank dop, en sy nuuskierigheid raak te erg. "Wat gaan aan met daardie twee?" vra hy aan die kroegman. "Ag, ignoreer dit maar," antwoord hy. "Die Fourie tweeling is alweer gesuip."

DIT KAN NET BINNELANDSE SAKE WEES DIE!!
Ek ontmoet nou die dag 'n Sjinese man met die naam van Sipho Mthethwa, en vanselfsprekend vra ek hom:
"Hoe op dees aarde het jy die naam Sipho Mthetwa gekry, jy is dan van Sjinese afkoms?"
(Ek moes dit in Engels herhaal. dié man verstaan nie Afrikaans nie.)
Hy verduidelik in gebroke Engels aan my: "Many, many years ago when come to this country, was stand in line at Home Affairs Document Centre. Man in front was big black man. Lady at counter look at big black man and ask,
'What your name?'
Black man he say, 'Sipho Mthethwa'
Then she look at me and ask, 'What your name?'
I say, "Sem Ting."

 
   
Laat jou wildste drome waar word, kry 'n kaartjie in die UK Lottery, klik net hier  Die boerpot is gereeld om en by  £11 miljoen, ( R140,000,000), sjoe, dis darem maar baie nulle!! Maar dis nog NIKS! Die Euromillions Lotto staan huidiglik op 181 miljoen Euro, dis om en by R1,719,500,000. Eishhhhhh. Vat 'n kans, wie weet???
     
  Die Danville Hulpgroep  
     
 

Ek is betrokke by hierdie inisiatief van Elsabé, kyk tog asseblief of julle nie ook 'n bydrae kan maak nie, besoek ook hulle webwerf. 

Bankbesonderhede:

Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926

Aflewerings adres:-

286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za

PS Bel asb voor jy ry
 
Vlugkaartjies en hotelle

Vergelyk die rederye, kry die billikste pryse en bespreek dan  hier
.
Resepte

MOSTERD HOENDER:

125ml koekmeel
10ml Aromat
5ml sout
knypie peper
1.5kg hoenderborsies
kookolie
2 middelslag-uie, fyn gekap
60ml halfsoet mosterdsous
30ml blatjang
10ml sagte bruinsuiker
15ml mielieblom
400ml hoenderaftreksel

Stel oond op 160C. Sif koekmeel, Aromat, sout en peper saam. Rol hoenderporsies daarin tot goed bedek. Verhit kookolie en braai vleis tot goudbruin. Skep enkellaag in ‘n oondvaste bak met ‘n deksel. Braai die uie in dieselfde olie tot goudbruin. Giet olie af en hou uie in pan. Meng mosterdsous, blatjang, bruinsuiker en mielieblom saam. Voeg dit by die hoender- aftreksel en roer dan alles by die uie in. Laat sous opkook. Skep die sous oor die hoender- porsies, plaas deksel op en bak vir 1½-2 uur. Sit warm voor.
Lewer 4-6 porsies.

Gebakte aartappels sal heerlik bros wees as hulle halftyd deur die bakproses met meelblom bestrooi word.

KLEWERIGE HOENDERVLERKIES:


16 hoendervlerkies
125ml vars suurlemoensap
125ml sojasous
80ml fyn appelkooskonfyt( gesmelt)
80ml blatjang
3 knoffelhuisies ( fyngedruk)
1 groot ui (fyngekap en gesoteer)

Voorverhit die oond tot 160C. Pak die hoendervlerkies in 'n vlak oondvaste bak. Meng die res van die bestanddele goed en giet oor die vlerkies. Marineer ongeveer 1 uur lank. Bak dan sowat 1 uur lank onbedek of tot die hoendervlerkies gaar en goudbruin is.
Genoeg vir 6 mense.

Wit, bruinsuiker of heuning kan mekaar in die meeste geregte vervang.


KASERIGE GEBRAAIDE HOENDER:

4 ontbeende hoenderborsies
4 eetlepels plantolie
1 eetlepel suurlemoensap
1 eetlepel gedroogde tiemie
sout en peper
50g Gruyèrekaas, in dun skywe
4 dun snye ham
2 groot tamaties, in skywe

Verhit die oond tot 190C. Sny 4 stukke foelie, elk omtrent 'n 30cm vierkant. Ontvel die hoender en sny 3 snye in elke bors. Sit 'n hoenderstuk op elke stuk foelie. Meng die olie, suurlemoensap, tiemie, sout en peper. Lig die kante van die foelie om die hoender en gooi die sous oor. Verseël die foelie om pakkies te maak. Bak dit in die oond vir 25-30 minute of tot dit gaar is. Toets vir gaarheid deur die foelie oop te maak en die vleis met 'n skerp voorwerp te steek. As die vleissous kleurloos loop die vleis gaar. Verhit die rooster matiglik. Maak die pakkies oop en sit 'n sny ham en dan 'n sny kaas bo-op elke stuk hoender. Sit tamatieskywe bo-op en 'n bietjie sous. Rooster vir 4-5 minute tot die kaas borrel. Bedien dadelik.

AMERIKAANSE BRAAIHOENDER:

olie
sout en peper
2ml gemengde speserye
2 ml fyn naeltjies
5ml peri-peri
125ml melk
500ml koekmeelblom
15ml hoenderspeserye
2ml tiemie
5ml paprika
16 hoenderporsies

Verhit die olie in ‘n diep kastrol. Meng meel met sout en peper en ander droë speserye. Doop hoender in melk en dan in gegeurde meel. Skud oortollige meel af en braai ‘n paar stukke ‘n keer in die warm olie tot dit goudbruin en gaar is.

EENSKOTTEL HOENDER:

5 hoenderborsies
1 groot ui gesny
1 groen soetrissie
2 koppies rys, gekook
1 pakkie sampioene, opgesny
1 of 2 ``Russians''
2 groot tamaties, 4 repe ontbytspek, opgesny
2 eetlepels blatjang
1 pakkie hoendermacaronisop
sout en peper
olyfolie

Kook hoender gaar en sny in stukkies. Maak sop van 1½ koppie van die aftreksel of water. Braai uie, spek, ``Russians'' en groen rissie tot deurskynend. Voeg sampioene by en roerbraai vir nog 4 minute met ½ koppie olyfolie. Voeg alles saam en prut baie stadig vir 20 tot 30 minute of tot droog.

Ou Boereraat

Fer muise: Strooi frisse wilde kruisement waar di muise plaag

Ou Resep

Soldaat poeding

Neem 'n halfpond niirvet, 'n halfpond broodkrummels, 'n halfpond klam suiker, di skil fan 'n groot suurlimoen. Kap die niirfet fyn, meng dit met di krummels en suiker, kap di suurlimoenskil en giit deur di sop, roer dit by di ander  en meng baing goed. Sit die mixtuur in klyn koppiis, bak fer 20 minute, keer dit op 'n skotel en gé limoensous daarby.

Resepte uit Anna se Kombuis

Al Anna se resepte is in eBoek formaat en maak dus ideale geskenke en word sommer met epos gestuur. Vir meer besonderhede, klik hier

Iemand soek nou die dag by my 'n resep vir Bar One Poeding, ek kry dit toe wraggies in een van Anna se resepte eBoeke

BAR 0NE POEDING

120g roomkaas
3 Bar Ones in stukkies gesny
250ml room, geklop
700ml melk
2 pakkies sjokolade geur kitspoeding
1 pakkie Romany Creams, grof gebreek
50g gerasperde sjokolade

Meng die roomkaas en Bars Ones. Vou die geklopte room in. Klits die melk en kitspoeding saam. Laat 5 minute in die yskas stol. Skep ‘n derde van die kitspoeding in ‘n glaspoedingbak. Sprinkel die helfte van die stukkies beskuitjies daaroor, dan die helfte van die roomkaasmengsel. Herhaal die lae en eindig met die oorblywende derde van die sjokoladepoedingmengsel. Skep die roomkaasmengsel oor me die oorblywende kitspoedingmengsel bo-op. Sprinkel die res van die stukkies Bar One en gerasperde sjokolade oor en dit 4-5 uur in die yskas tot dit gestol het.

Hmm, dit kan dalk inpas by my nuwe resepteboek as 'n moderne vernoeming :-)

st se pitkos

st se  pitkos

Klik hier om st se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief

“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.

Nog gevleuelde woorde van ST:

Pyn uit die kinderjare

Miskien het jy as kind pyn en seerkry ervaar.

Marthie is as dogter deur haar ouers afgeskeep. Sy was nie slim en mooi soos haar ouer suster nie. Pa en ma het meeste aandag aan sussie gegee. Wanneer kuiermense kom het die ouers altoos met sussie se prestasie gespog. Dit was sussie voor en sussie agter. Marthie was ‘n eenkant swartskaap – in haar suster se skaduwee het sy minderwaardig gevoel.

Tog het sy nie haar ouers hiervoor geblameer nie, maar eerder gedink sy is nie goed genoeg nie. Vandag is sy reeds ‘n volwasse vrou van in die veertig, maar steeds leef sy met die konsep van “ek is nie goed genoeg nie.” Dit lei tot destruktiewe gedrag, sodat sy nie haar ware potensiaal uitleef nie.

Chris weer is meer as eenkeer onnodig deur sy pa afgeransel. Sy pa was streng en het gou die skuld op Chris gepak. Chris onthou vele kere hoe sy pa hom gestraf het al het hy sy beste gegee. Hierdie onregverdige pakslae’s het emosionele letsels gelaat. Eventueel het Chris maar sy mond gehou, en ‘n engel-gesiggie voorgesit. Maar diep binne hom het iets gebroei van “wag maar tot die dag wanneer ek die huis verlaat.” Hy het gou geleer om niks te sê om sy pa kwaad te maak en eerder sy gedagtes vir homself te hou.

Vandag het Chris as volwasse man steeds ‘n swak verhouding met sy pa. Onbewustelik het hy egter ook gedrag aangeleer om in die samelewing ‘n mooi prentjie voor te hou. Agteraf doen wat hy eintlik wat hy wil, want heimlik het hy ‘n vrees dat hy nie die goedkeuring van mense gaan kry nie. Instede daarvan om die skuld op sy pa se opvoedingstyl te plaas, koester hy nog steeds die gedagte van: “Ek is nie goed genoeg nie, daarom moet ek sorg dat ek by ander mense ‘n goeie beeld voorgee.” Hierdeur verloor hy die geleentheid om op spontane en eerlike wyse met mense te kommunikeer.

Beide hierdie mense - Marthie sowel as Chris - is slagoffers van hulle ouers se opvoeding.

Ek wil jou vra om jou eie kinderjare te ontleed. Watter denke en gedrag – bewustelik of onbewustelik – het jy as gevolg van ouers se opvoedingstyl aangeleer? Op watter wyse beïnvloed dit jou as volwassene?

Jy kan egter die gevolge van ‘n negatiewe opvoedingstyl wat op jou afgeforseer, verander. Instede van te sê “ek is nie goed genoeg nie” – verander dit na: “Ek het groot waarde as mens en verdien die liefde en respek van my naaste.”

Instede daarvan om te dink, “ek moet iemand anders voordoen wat ek nie is nie, sodat mense van my sal hou,” kan jy verander na positiewe denke, “mense moet my aanvaar soos ek is met my goeie sowel as minder goeie punte.”

Verander die ou gevestigde geloofsisteme wat in jou siel ingebrand is soos groewe op ‘n plaat. Jy hoef nie langer die dieselfde groef oor en oor te leef nie. Verander van slagoffer na ‘n heel mens in jou eie reg.

Mag jy groot genade kry om jou ouers te vergewe vir onreg teen jou gepleeg. Neem jou regmatige plek in as bevryde mens en oorwinnaar. Jy het een lewe, leef dit voluit.

Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za

Skakels

Soek jy plek om te gaan kampeer? Klik dan hier!

Skooltake?? Klik hier

Vakansieverblyf is altyd 'n probleem, dié mense maak dit makliker om te kry, klik net hier.

Teken in /Teken uit / Kontak

Teken hier in op die poslys en lees ook die argiewe.

Om uit te teken, stuur vir my 'n epos en dui jou naam aan asook die eposadres waaronder jy ingeteken is

Kontak my hier.

Druk jou speld op my besoekerskaart!