|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare!
Hierdie is die
laaste Patriot vir 2007. Hy sal weer terug wees in 2008! Ek wil graag
alle intekenare 'n Geseënde Kersfees en voorspoedige 2008 toewens!
Dankie vir die ondersteuning oor die jare, ek waardeer dit regtig.
Ons was toe vir 'n
paar dae Mapungubwe toe gewees. Iets heel anders as Kruger, byvoorbeeld.
Lekker bebos (en warm) en mooi. Maar lees die storie hieronder.
Die resepte die
keer is 'n mengelmoes van persoonlike gunstelinge en ander lekkernye,
gaan kyk gerus hieronder.
Net om te laat
weet dat ek enigiets wat ek in my epos ontvang en wat ek voel hier
geplaas kan word, dit plaas ek. As daar dalk kopiereg op is laat weet
my, dalk haal ek dit af.Tuisgebakte brood so warm uit die oond is darem
maar BAIE lekker, ek het so 'n paar broodrespte wat julle kan gaan
probeer, gaak kyk gerus verder na onder....
Weereens het ek lekkerlees
Afrikaanse artikels deur onder andere Minette Brink,
Estelle de Bruyn en Annelie Botes. Ek is seker julle sal dit geniet! Ook is daar
'n insiggewende artikel deur Dr. S T Potgieter.
En onthou tog om
my besoekersboek te teken? Hy was vir 'n hele tydjie aflyn maar is
nou weer terug.
Net een
miljoen? Komaan, vat 'n kans op die UK Lottery, dis veilig en die geld
is noemenswaardig, baie beter as ons plaaslike Lotto. Jy kan nie wen as
jy nie 'n kaartjie het nie!
Klik hier om jou kaartjie te kry en droom GROOT.
Geloftefees
16 Desember - Bloedrivier-terrein |
Is daar dalk
van julle wat ook die verrigtinge daar gaan bywoon? Indien wel,
kontak
my, dalk kan ons daar ontmoet.
Dit gee my
groot lekkerkry dat Rapport vir Maas gepos het. Dit wys vir my dat die
stem van die massa tog gewig dra. Dink net as ons daardie massastem kan
aanwend om ander omstandighede te verander of te verbeter? Die internet
is inderdaad 'n magtige wapen.
Amptenare van
die landbank steel 'n biljoen, Departement van Gesondheid onderspandeer
R35 miljoen en gesondheidsdienste is haglik. En dis maar 'n druppel in
die emmer! Gee my krag! Gee my die goeie ou dae!
Ek sien die koste van die 2010
sokkerstadions nou al met 20% vermeerder het. Dit gaan ons nou al groot
geld kos om dit aan te bied. Daar is ook dreigende stakings onder die
konstruksiewerkers wat vertragings gaan veroorsaak. As die stakers eers
eenkeer gekry het wat hulle wou gehad het, gaan hulle dit weer en weer
doen, hulle hou die hef in die hand. Ek voorspel groot probleme!
Die beste uitvindsel sedert gesnyde
brood. McCain se Micro Wave Chips. Nie net het dit die hart merk nie,
dit is 95% vetvry, is na net 3 minute in 'm mikrogolfoond reg, en beste
van alles, dit is regte egte SLAP chips! Probeer dit gerus, dis njammies!!
Matt.9:13 Ek het
nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar die
sondaars.
Elke jaar gaan kersfees gepaard met baie besluite. Waar gaan ons wees,
wat gaan ons eet en wie gaan wat kry? Met Jingle Bells in jou ore breek
die frustrasie van nog 'n jaar se kersfeesinkopies aan. Jy en jou vrou
is al klaar kwaad vir mekaar nog voor die eerste geskenk gekoop is.
As jy soos ek sukkel met geskenke, lees hierdie verhaal en gee dit vir
iemand weg voor dit te laat is!
Waarheen is jou skip van drome oppad?
Sy het bekend gestaan as die skip van drome. Sy was agt honderd en
negentig voet lank. Veertien duisend mense het aan haar gebou. Die anker
het vyftien en half ton geweeg en is deur twintig perde van die fabriek
af tot by die skip getrek. Die binnekant van hierdie skip het tien
maande geneem om te voltooi, al te saam 'n paar mijoen ure se werk aan
Louis Quinze, Klassieke Versailles en Victoriaanse versierings, Crown
Berger skilderye, Franse kaffees en Turkse baddens om maar net 'n paar
op te noem.
Sy is ook genoem: Die onsinkbare skip en in 'n koerant van 1912 word
berig dat selfs God haar nie kan sink nie.
Maar op Sondagaand 12 April 1912 sink die Titanic binne twee ure en neem
1500 lewens saam na haar watergraf.
Tydens hierdie twee ure het interessante verhale afgespeel.
Daar was te min reddingsbote. Die rykes en vernames het gesorg dat hulle
eerste plek kry.
Later het die Kaptein oor sy megafoon afgekondig dat net vrouens met
babatjies plek op die reddingsbote mag kry. 'n Man met 'n b abatjie in
sy arms het verby 'n vrou gehardloop wat nie 'n k! ind geha d nie. Vir
haar was die afkondiging 'n doodsvonnis.
Skielik het haar situasie verander toe die man sy kind in haar arms sit
en sê: Dit is joune...hardloop vir jou plek op die reddingsboot!
Wat is jou grootste Kersgeskenk?
Ons is almal daarvan bewus dat ons lewensvaart iewers soos die Titanic
gaan sink. Ons is ook bewus daarvan dat almal nie in hierdie lewe die
reddingsboot van Jesus gaan haal nie.
Met Kersfees kom sit God opnuut weer sy kind in jou arms en sê: Dit is
joune... hardloop na my reddingsboot.
Moenie wag tot dit te laat is nie. Wanneer 'n skip sink word lug
uitgeblaas en water ingesuig. Wag jy tot dit te laat is word jy saam
ingesuig al spring jy. Die meeste mense wat hulle lewe in die Titanic
ramp verloor het, het nie verdrink nie maar verkluim.
Wie wil in koue water ronddobber as Jesus reeds vir jou 'n plek op sy
onsinkbare reddingsboot voorberei het?
Stuur die geskenk aan:
Miskien is daar iemand waar oor jy baie bekommerd is of wonder waar
hulle wel-vaart hulle aan die einde van nog 'n jaar gebring het? Miskien
sukkel jy ook soos ek om geskenke te koop en wonder wat jy vir die of
daai een sal koop hierdie jaar. Ek gee jou toestemming om hierdie
kersfees-reddingsverhaal aan te stuur. Stuur dit aan as 'n geskenk. Sit
Jesus in die arms van mense wat oopoë besig is om te sink.
Dit is na alles waaroor Kersfees gaan.
"Sonder Jesus is 'n vyftien en 'n half ton anker te lig en 70 000 oorvol
skip te swaar"
Hierdie brief is maar net 'n klein deel van die
Peterjasie internet ondervinding.
Klik gerus hier en gaan besoek my webwerf, daar is regtig iets van
alles, en alles in Afrikaans.
My Kersresepte
eBoek is nou klaar, gaan laai dit gerus af by Pasella hieronder. Geniet
dit!!
Vroegdag, nog
voor die Albertonse mossies ons kom wakker hoes, was ons al oppad
Mapungubwe toe. Glimlaggend sien ons hoe die Pretorianers kruip op die
Ben Schoeman om te gaan werk in Johannesburg. Daar is definitief
voordele aan om op kierieverlof te wees!
Die plan was om die amper 500 kilometer Mapungubwe toe af te draf en so
vroeg moontlik die tent opgeslaan te hê. Dit
was vroeg November en al lekker warm in die Noorde.
Hoe nader ons aan ons bestemming kom hoe warmer word dit en toe ons by
Mapungubwe se hek indraai besluit ons om liewer in een van hulle tente
te gaan bly as ons eie een. Die weerburo het ook reën voorspel en ons
kon aan beter dinge dink as om nat kampeergoed op te pak. Ons kry toe
vir ons een van hulle luukse tente by die Limpopo Forest Tented Camp.
Luuks was die tent inderdaad. Slaapgegeelte met badkamer, stoep en klein
kombuis wat selfs met ‘n mikrogolf oond kon spog.
Tent bly maar tent, en binne meet ons die temperatuur op ‘n lekker warm
40 grade C. Die dakwaaier doen sy bes om ‘n koel luggie te probeer
sirkuleer.Tente 2, 5 en 6 kry die meeste koelte en 5 en 6 is ook by die
watergat, onthou dit as jy dalk wil bespreek. Daar is ook ‘n klein
swembadjie met elektriese draad omhein, glo omdat die olifante dit kom
leegdrink!
Waar ons oorspronklik vir vier dae in die Mazhou kampeerterrein bespreek
het, het ons dit nou verander na twee dae by die Limpopo kamp en twee
dae in die Leokwe hoofkamp in een van hulle chalets. Mapungubwe is in
twee gedeel deur privaatgrond en bestaan uit ‘n Oostelike deel en
Westelike deel. Limpopo kamp is in die Westelike deel en Leokwe in die
Oostelike deel, dit gee nou vir ons twee dae in elke deel van die park.
Paaie in die Park is redelik en daar is ook 4X4 roetes op die kaart
aangedui. Die Maloutswa Voël Skuiling is 3 kilometer van die kamp af en
voëlkykers kan ‘n paar uur daar deurbring en ‘n hele paar voëlspesies
besigtig of afneem. Paaie is meestal twee-spoor in die deel van die
park maar heel rybaar en kronkel tussen bome
en bosse en gee jou ‘n regte weg-van-alles gevoel.
Die Mazhou kampeerterrein is so ‘n kilometer van die Limpopo Tentkamp.
Die staanplekke almal in die koelte en elke staanplek het sy eie krag en
waterkraan. Die ablusies is ook baie netjies en skoon.
Mens moet alles saambring Mapungubwe toe. Hier is niks, behalwe water.
Geen winkel, geen restaurant, geen telefoon, geen selfoonontvangs, net
mooi niks. Al wat ons gesien het wat te koop aangebied word is ‘n pet en
t-hemp en blikkieskoeldrank by ontvangs.
By ontvangs het hulle ons meegedeel dat dit ‘n Groot Vier park is, hier
is nie buffels nie. In die Westelike deel het ons wel groot kat spore in
die pad gesien, maar dis al. Ons het wel heelwat boksoorte en voëls
gesien. Limpopo en Mazhou kampe is wel omhein met geelektrifiseerde
draadheinings wat seker net bedoel is om olifante uit te hou, enigiets
anders kan eenvoudig onder deur loop.
Gedurende ons tweede nag maak die hemelsluise oop en dit sous katte en
honde, of is dit nou blouwildebeeste en vlakvarke? In alle geval, ons
dank ons sterre dat ons in hulle luukse tent slaap en nie in ons eie
tent nie. Die volgende oggend ontwaak ons met voelgesang en die reuk van
nat bosveld, wat ‘n begin tot enige dag.
Ons moet egter verhuis na ‘n bungalow by Leokwe kamp en sommer vroeg
vroeg is ons in die pad na die Oostelike deel van die park. Ons is egter
te vroeg om in te teken en besluit om eers die Tree Top Walk te gaan
beloop en ook om na die samevloei van die Shashi- en Limpoporiviere te
gaan kyk.
Die Tree Top Walk is ‘n goed geboude wandelpad so tien meter bokant die
grond tussen die bome deur met ‘n skuiling wat oor die Limpoporivier
uitkyk as eindbestemming. Die bobbejane hou ook vreeslik van die
wandelpad en jy moet maar mooi trap so tussen die bobbjaanmis deur. Die
magtige Limpopo was droog met net hier en daar poele water.
By die samevloeiing van die Shashi- en Limpoporiviere kan mens van
verskeie uitkykpunte fotos neem en ook Zimbabwe en Botswana besigtig.
Teen die tyd was dit al laat genoeg sodat ons by ons akkommodasie by die
hoofkamp, Leokwe, kon inteken.
Weereens was ons aangenaam verras met die skoon, netjiese rondawels.
Groot slaapkemer, oopplan leefarea, lekker braai area en selfs ‘n opelug
stort! Wel gedaan, Parkeraad! Nou moet julle net die plek in stand hou
ook!
Die kamp is nie omhein nie en jy word gewaarsku om nie sommer net rond
te wandel nie en om jou voertuig te gebruik as jy na die swembad, wat ‘n
baie mooi rotspoel is, wil gaan. Weereens ‘n regte “bos” ervaring.
Ons laaste dag breek toe aan met die wonderlike klank van deurdringende
reën. Ons verwondering word gou gedemp toe ons besef dat ons op die
begeleide uitstappie na Mapungubwe koppie, wat om 7 uur sou begin,
bespreek het. Ons verskuif dadelik ons uitstappie tot die een wat om 10
uur begin en gelukkig klaar dit effens op en ons bestyg die Landy wat
ons na Mapungubwe koppie sou neem.
Die Mapungubwe omgewing was, volgend geoloë. Tussen 1220 en 1290 bewoon
deur on en by 5000 mense. Die koninklikes en hulle gevolg het bo-op die
koppie gewoon. ‘n Boer met die van Lotriet, (hy is oorlede in 1917), was
glo die eerste blanke wat tot bo-op die koppie geklim het. Hy het ‘n
paar kleipotte saam met hom afgebring en van hulle aan sy swart metgesel
gegee. In 1932 het ‘n ene Van Graan, wat op ‘n jagtog was, water gaan
soek by die ou swartman. Hy is toe water aangebied in een van die
kleipotte. Hy herken dit toe as oudhede en probeer toe uitvind waar die
swartman die potte gekry het, maar dié het geswyg soos die graf. Die man
se neef kon toe met silwer geldstukke omgekoop word en die verklap toe
die geheim van Mapungubwe koppie. Van Graan klim toe tot bo en kry nie
net kleipotte nie maar ook ysterware en ook heelwat goue artifakte. En
die res, soos hulle sê, is geskiedenis! Die artifakte word in die
Mapungubwe museum by die Universiteit Van Pretoria ten toon gestel.
Ons klim toe die 149 trappies na bo waar ons gids die geskiedenis van
die koppie an ons weergee. Bo op die koppie is nog heelwat tekens dat
mense daar woonagtig was, ronde gate in klippes waar graan gemaal was,
‘n gat waar water of graan geberg was en ook ‘n ou bordspel.
Weer by die kamp aangekom begin dit weer reën en ons besluit om die pad
te vat huistoe.
As jy nog nie by Mapungubwe was nie, gaan kyk gerus. Ek stel voor nie
minder as twee dae in elke deel van die park. As hitte jou pla, bly weg
in die somermaande. Die chalets by Leokwe het egter lugversorging as jy
in die somer wil gaan. As jy stilte en rustigheid in ‘n bos atmosfeer
soek is dit die plek vir jou.
Klik hier om my Mapungubwe fotos te besigtig.
Ek beskou Anna
Eksteen as die koningin va Resepte eBoeke in Afrikaans. Sy het nou al 'n
hele versameling van resepte eBoeke wat enige kossoort dek, en dit in
Afrikaans! eResepteboeke is goedkoop en geen posgeld is betaalbaar nie,
die boeke word per epos gestuur en is in 'n japtrap by jou.
Klik gerus hier en kyk
na haar resepteboeke en bestel gerus een, of sommer 'n paar! As jy
besluit om van haar boeke te bestel en jy noem dat jy daarvan hier te
hore gekom het, sluit sy my Kampkosresepteboek gratis in!
Nou en dan kry
ek 'n bevlieging en dan probeer ek oot iets skryf. Ek kan nie sing nie,
so ek probeer maar skryf! Ek hoop nie ek verloor teveel intekenare nie,
laat maar weet wat julle dink!
Ek is meegedeel dat een van my
artikels onder Blaaskans in die Huisgenoot van 6 Desember sal verskyn,
gaan lees dit gerus :-) Kom lewer dan
hier kommentaar as julle wil :-)
Ek sien dat Minette die maand 'n
artikel in Wegbreek het, 'n Kersfeesstorie, kry die tydskri en lees dit
gerus!
Minette het so baie artikels geskryf dat ek elke nou
en dan een op my hardeskyf raakloop. Ek het dit daar gebêre sodat dit
nie moet wegraak as ek 'n rekenaar "crash" sou beleef nie, en toe
vergeet waar ek dit so mooi gebêre het, net om eendag (soos vandag) weer
opgespoor te word! In alle gaval, hier is hy:
Lekker lees!
Malgoed
‘Mense sê dag in, dag uit ‘jy’s mal. Jy dink te veel.’
Dis fine met my. Maar soms, net soms, dan wonder ek, wie’t besluit.
Ek ly aan bipolêre disorder, of so iets.
Daai ding wat die oorsprong aan die sêgoete’ eendag op, ander dag af’ en
‘my gedagtes ry wipplank’ gegee het.
Wil nie pille vir die dieper dors sluk nie. Wil nie langer terapie kry
nie. Wil die antwoord hê.
En waar sou Dawid die wortels begrawe het?
Op my opdae kan ek vlieg, als verstaan, almal liefhê, als vergewe.
Op my afdae voel ek ………………….
in die middel van die godsverlate vlaktes, sonder hoop, sonder liefde,
sonder omgee.
Maar die kinders bly honger en ek wonder, hoe het ons tot hier gekom? Is
dit wat Lewe beteken?
Om op en af op deur wie bepaalde dae te vlieg en te pyn? Om waar uit te
kom? Om wat vir wie ookal te beteken?
Hoekom doen ek hierdie werk van voorgee? Vir wie, vir wat? Om jam op die
tafel te sit, saam met die gee ons ons daaglikse brood?
Vra en vir jou sal gegee word. Rêrig? As ek elke dag van my lewe vra vir
los tog daai ge-oorlog, vir oorvloed en insig vir elk, waarom word dit
nie gegee nie?
Elke dag rondploeter in bokstront en weeskindersnot in geblikte
eidsbesmette skwatterkêmps. Elke dag ‘n bedeltragedie. Wie gee om?
En tussen die laatnag skrywery deur sing jou kind iewers in die
agtergrond terwyl sy haar pop poeier gooi en onbewustelik voorberei vir
die sirkelgang van mawees’ daar kom Koos die groenteman, virre 5 sent ‘n
lemoentjie, virre 10 sent ‘n pampoentjie’ en vaagweg onthou jy iewers
dae van ‘n happy son, vrywees en loskopvry, dae van nikse tien plae nie.
En jy sou kon huil, as daar nog gate vir trane was, maar op hierdie
afdag is daar niks.
Net gedagtes wat maal oor skoolpêlle se dooie kinders, ander pêlle se
daggakop-met-mix lovers wat aand na aand dreig om daai symste koppe weg
te blaas, pêlle wat skeef gedraai het en op 40 skytbang vir ma en pa se
reaksie op dié onheilse sal wees.
Pêlle wat kleintyd so deur nee, pa, sallie werie, pa, eina, pa, gemoer
is dat hulle oë na allie jare nog nie kan sien nie, wil sien nie.
Dieselle ma’s en pa’s wat mekaar gelos het vir jonger, ouer, ryker,
mooier modelle, wat mekaar dik timmer na ‘n papsak, ‘n witsnuif, een
verkeerde kyk. Wat Sondag in die kerk sit, mekaar se hande angsbevange
klem, diktaai trane huil oor die…wat nouweer? Want die koppe maal
alklaar oor v’middag se braaivleis en het die bitch onthou om Blitz te
koop, gaan hy maak soos laas se Sondag se middagslaapseer….
Ek wil nie meer glo in die maak die wêreld ‘n beter plek nie. Die symste
wêreld wat die annerdag nog perfek aanmekaar getimmer is, sonder ‘n
papsak se hulp.
En wie het dit anders gemaak, verdraai soos dit ons-is-die-sterkste pas?
Onse kerk se mense. Onse slimme weetals. En soos Amanda Strydom sing, my
lam, kyk hoe lyk ek nou…”
Maizie haal asem en kyk met niksverwagtende oë na haar nuwe kopdokter.
Dié is grond-dom stil. Na ‘n paar ure sê hy tranerig, welkom by die klub,
Maizie, en probeer die medalje van erelidmaatskap aan haar hartseer bors
steek.
Grys en stil, die lug.
“Ek wil dit nie hê nie, sug Maizie en haak haar sak van die vloer af.
‘Ek loop dan liewers alleen. Want na alles verstaan julle nog minder as
my niks…’
Klik hier vir nog Minette
artikels
Maroela
Boeke en Tierberg Boeke - Laai gerus hulle nuutste katalogus af en
kyk daardeur. Hulle het 'n besonderse versameling boeke. Ek het al self
van hulle bestel en hulle diens is uimuntend.
Regs klik hier om
die katalogus af te laai
Blanke
Ekonomiese Forum -
Waar Blankes mekaar ondersteun |
Die BEF het kennis gekry van
verskeie studiebeurse en werksgeleenthede wat beskikbaar is, vir meer besonderhede,
kontaknommers is hieronder.
Regs klik ook hier om
die nuutste nuusbrief af te laai.
Sluit nou aan. Maak 'n verskil.
Klik hier
vir meer inligting
Kontakbesonderhede:
Mnr. Andre Groenewaldt – 082 633 2920 & landlyn: 012 548 6118
Mnr. George Pienaar – 082 338 3295
Faks: 012 548 7242
Hierdie gaan
nou 'n gereelde item word. Ek is bly om te sien dat die Boeremusiek
tradisie nog so sterk staan....
Hendrik Susan

|
Hoewel
Hendrik Susan self nie 'n uitstaande Boeremusikant was nie, was sy
orkes so beroemd dat dit enige Boeremusikant in daardie era se
ideaal was om vir hom te speel. Daar is veral twee redes hiervoor:
Hendrik het streng dissipline in sy orkes gehandhaaf en sy orkes het
net goeie musiek gespeel. Goeie musiek in die sin dat al die
musikale verwerkings teoreties en prakties baie goed verwerk was.
Dit was dan die grondslag vir baie musikante se sukses later. Ook as
gevolg van bogenoemde was sy orkes baie in aanvraag by die
platemaatskappye. As jy vir Hendrik Susan gespeel het dan was jou
musiekloopbaan as't ware gevestig. |
Bron: 15 Goue
Jare: 1989-2004 Boeremusiekgilde
Regs klik hier om die resepte eBoek
met Kersresepte wat ek saamgestel het, af te laai.
Peterjasie se Groot Afrikaanse CD
Ek het my mees populêre eBoeke op
een CD saamgevat. Die Tradisionele SA Resepte, die Kampkosresepte,
die Wille samies en die Boererate is almal daar. Die CD maak 'n ideale
geskenk maar ook 'n besonderse aandenking.
Die CD verkoop vir R100, posgeld
ingesluit,
stuur vir my 'n epos vir betalingsbesonderhede.
Dan het ek ook 'n resepte CD in
Engels. Die CD bevat meer as 50 volledige resepteboeke en maak die
ideale geskenk. Dink net, die ontvanger hoef nooit weer 'n respteboek te
koop nie. Prys is R100 wat uitwerk op R2 per resepte eBoek, is dit nou
'n winskopie, of wat?
Klik hier vir betalingsbesonderhede.
Kom ons skop oudergewoonte af met
Estelle se bydrae. Sy is verbonde aan die
Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië.
Kontak haar gerus, sy hoor graag van julle.
EKSAMEN
VIR baie jare in my lewe kon ek nie verstaan hoekom die geur van
lentebloeisels en die verskyning van die eerste sagte
lemmetjiegroenblaartjies aan die vrugtebome my tot so 'n diep depressie
kon stem nie. Tot eendag.
Skielik het ek besef dat dié tyd van die jaar vasgeanker is in my wese
as eksamentyd, 'n tyd om te leer en nie jou neus by die deur uit te
steek nie: 'n tyd van stres.
Eksamenskryf bly een van die grootste stresfaktore en tot vandag toe is
die nagmêrries wat soms in my drome insluip, dié van in 'n eksamenlokaal
instap om 'n geskiedenisvraestel te skryf en dan te moet agterkom dat ek
eintlik Engelse letterkunde moes geleer het, want dis is wat ons skryf.
Vir die pligsgetroues en die hardwerkendes wat regdeur die jaar hul
studies ernstig opneem, wat die dag se werk sommer nog dieselfde aand
opsom en in die eksamen-voorbereidingslêer liasseer en dit gereeld
deurgaan, is eksamens seker 'n vulletjie. (Ek ken nie sulke mense nie,
maar ek het al van hulle gehoor.) Vir ons gewone sterflinge wat dinge
maar rustig vat en staatmaak op bloktyd en die oop dae op die
eksamenrooster tussen vakke, is dit 'n ander storie.
Boonop was ek nog immer die meester van die uitstel-tegniek gewees.
Eksamentyd was dus die tyd wat ek my kamer geskuif het, my kaste van
hoek tot kant uitgepak, uitgewas en reggepak het, in kleure gekoördineer
en in hopies van maer en vet klere uitgesoek het. Dit was die tyd voor
e-pos en gevolglik het eksamentyd by my 'n diep behoefte laat ontstaan
om lang briewe vir al my penvriende te skryf en hulle op die hoogte te
bring van die verwikkelinge in my lewe sedert ek laas (met die vorige
eksamen) met hulle gekorrespondeer het.
In eksamentye is my hond meer gebad as in enige ander tyd van die jaar
en as my ma net gelyk het of sy sou ja sê, sou ek waarskynlik die “Kook
en Geniet” van hoek tot kant deurgekook en gebak het as verskoning om
nie by die boeke uit te kom nie.
Wat my die heel kwaadste op aarde kon maak, was my pa of ma wat my
subtiel (en soms minder subtiel) aangemoedig het om agter die boeke in
te skuif en asseblief tog net ‘n bietjie te leer. Dis nie dat ek nie
besef het dat ek moet leer nie, dis net dat hul versoeke om my studies
ernstig op te neem, die rebel in my ontketen het en my weer die klere
uit die kas laat pak het, om dit van voor af reg te pak of die hond
geroep het om weer te bad.
Vandag is ek in my ma se bootjie. Ek is die een wat subtiel (en minder
subtiel) die eksamenskrywertjie in my huis tot studie moet aanspoor. En
ek hoor my ma se stem as ek my mond oopmaak.
"Moet jy nie bietjie gaan leer nie?" "Hoe ver is jy met jy leerwerk?" "Het
jy nog baie werk oor?" en natuurlik: "My magtig, lig jou agterent van
die bank af en gaan leer nou en sit die blêrrie selfoon af!"
Ek sou so graag die mamma wou wees wat net Milo aandra en die immer
studerende vlytige leerling aanmoedig om 'n breek te vat en bietjie te
rus.
Maar helaas.
Vir al die leerlinge in al die skole in ons land wat nou eksamen skryf,
kan ek innige simpatie en alle sterkte toewens. My hart is met julle en
ek voel vir julle. En vir die ouers van ons eksamenskrywendes kan ek net
ewe veel sterkte toewens. Ons verdien dit.
|
|
|
Met skryf is dit jy en jy alleen
As ek nie vandag se dag by skrywersblok kom nie, kan ek dit los. Maar ek wil
nie lang stories praat nie. Skrywersverstopping is een en dieselfde as
lewensverstopping, en daar is vier onkruidsade waaruit die verstop-bossie
welig groei. Luiheid. Kennisloosheid. Die verkwanseling van ‘n leuen. ‘n
Gedurige rondkykery vir ‘n blameerbare sondebok. Ek gaan nie preekmaak
daaroor nie. Skryf met ‘n koki 4 sleutelwoorde agter die toiletdeur. Elke
keer met sittyd, kan elke man sy eie preek skryf en sy eie teksvers
onderstreep. Om by onderstreep vas te haak, gaan egter te min wees. Dan moet
die werke van die hande inskop. En ek waarborg: Eergister, toe dit oormôre
was, sál die lig deurbreek.
Vandag die laaste kardinale skryfles. En dié wat nie skryfaspirasies het nie,
moet onthou dat skryf en die lewe meesal eenders werk. Wat jy insit, sal jy
uitkry. Las daarby ‘n goedgesindheid teenoor dít wat jy skep, en jy kan
seker wees van saamgestelde rente.
Toe ek so 19 was, sit ek eendag met my flenter tikmasjien in die son op oom
Roelf se huurhuisie se stoep, agter die lawaaierige off sales van die Royal
Hotel op Uniondale. Besig om gedigte te tik wat van my ‘n Elizabeth Eybers
moes maak. Mos daardie armtyd gewees toe ek die sampioen-deeg geknie het.
Die tikmasjien was gehawend en die e-toets oorlede. Ek moes die e’s met ‘n
swart pen invul. Die lint was dof; die vyfgellingdrom waarop my
skryfgereedskap uitgestal was, was wiekelrig en te laag vir my swanger lyf.
“Kom stap saam tot by die Ou Meul.”
Tannie Dalene Matthee wat hoek-om neffens Jozelle bly, staan by die
tuinhekkie. My sielsma. Daardie middag, in die stilte by die Ou Meul, vra ek
haar iets wat ek só graag wil weet. “Tannie, hoe kry mens dit reg om ‘n
genuine skrywer te word? Kan Tannie my nie help nie?”
Hande saamgevat agter die rug, het sy lank loop en dink. “Nee, ek kan jou
nie help nie. Daar’s een goue reël: It’s you and you alone.”
Daardie dag, in my skryfsoeke, het ek gedink sy’s selfsugtig. In ’99 is ek
en die ou gryse een nag deur Uniondale op pad Kaap toe. Ek het hom by die Ou
Meul laat stop. In die piknag het ek my hand op die waterwiel gesit en vir
tannie Dalene dankie gesê.
Maar só is ek terug na my vyfgellindrom en e-lose tikmasjien. Die pakkie
gedigte, vol pikswart e’s, is gepos na Petra Grutter wie se adres ek in ‘n
tydskrif gekry het. Ek het nie geweet mens moet eers vra nie. Of in
dubbelspasiëring tik, en nie op die voor- en agterkant van die papier nie.
Of dat ek veronderstel is om ‘n gefrankeerde koevert te stuur nie. Tog,
maande later het die gediggies teruggekom van Petra af. Geduldig met potlood
gemerk. Iewers in ons trekkerye het die koevert weggeraak, en ek kan geen
kommentaar onthou nie. Maar een ding het vasgesteek, en daaraan het ek
verbete geklou.
Só het sy gesê: Skryf het twee hande. Met die een hand moet jy aanhou en
aanhou skryf, sodat jy nie daardie waardevolle materiaal verpas nie. En met
die ander hand moet jy leer hóé om te skryf.
Die dag in ’94 - bykans 20 jaar later - toe my eerste kortverhaal in
Huisgenoot verskyn het, het ek my in die kerk op Bedford toegesluit en agter
die orrel ingeskuif. Ek het Petra en Dalene se name hardop in die leë kerk
gesê; toe die trompetterstop uitgetrek en gespeel: U het die brood gebreek,
eens by die meer. Huilend, laggend, jubilate.
Wat goed was op daardie dag, was dat ek nie tóé wis watter eensame
worstelpad skryf is nie. Hoeveel hel-ekstase ingeknie moet word voordat ‘n
romanbrood begin rys. Skryf is nie romanties nie; dit het nie ‘n eksentrieke
aura nie; dit maak jou nie geldryk nie. Maar tog, tog bring dit ‘n innerlike
rykdom ver bokant die waarde van korale.
Daarmee dan, voor 1000de getuies: Dankie vir die 2 vroue wat my met die
reëls toegerus het. En vir almal wat wil skryf (of voluit leef, want dis een
en dieselfde ding): Gaan skryf die 4 sleutelwoorde waar jy dit nooit weer
sal miskyk nie.
Van daar af is dit jy en jy alleen.
Dit is amper weer tyd vir ons
volgende Volksdans Kamp vir Graad 5, 6 of 7 by die Voortrekker Monument
Plek vir 40 jeuglede op die kamp.
Wanneer: 11- 13 Januarie 2008.
Kostes: R200 per persoon
Inskrywingsvorms en verdere inligting beskikbaar by Hannetjie du Toit.
Sel: 084 652 8061
hannetjie.dutoit@sanlam4u.co.za
Met elke uitgawe fokus ek op 'n
Afrikaanse webwerf.
Hierdie keer Bravoland en die Bravolandvlag
Iemand wat in Melbourne woonagtig is
stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's
op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere.
Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik
toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle
self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons
Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek KAMMALANDSE TANNIE
Woorde: Tradisioneel
Musiek: S.A. Volkswysie; verwerk: CHRIS LAMPRECHT
Veertien rooibontes die trek voor my wa,
sewe van my en sewe van my pa.
Die hot-op-vier die heet Napier
en die haar-op-vier die drink sy bier.
[REFREIN]
Kammaland se tannie met die vaalkuif haar,
stuur ons die toue van die bamboesblaar;
agter die wa is die ysterbriek,
voor by die tou loop die "swarte kriek".
Die hot-op-ses is 'n rooie met 'n bles,
die haar-op-ses die doen sy bes.
Die hot-op-ag die loop met mag
en die haar-op-ag die doen sy krag.
[REFREIN]
Kammaland se tannie met die vaalkuif haar,
stuur ons die toue van die bamboesblaar;
agter die wa is die ysterbriek,
voor by die tou loop die "swarte kriek".
Die hot-op-tien die loop en sien,
die haar-op-tien die trek miskien.
Die hot-op-twaalf is 'n ou koei se kalf
en die haar-op-twaalf het die strop om die hals.
[REFREIN]
Kammaland se tannie met die vaalkuif haar,
stuur ons die toue van die bamboesblaar;
agter die wa is die ysterbriek,
voor by die tou loop die "swarte kriek".
S.A. Volkswysie, soos opgeteken deur Chris Lamprecht by tant Miemie Gouws van Excelsior, O.V.S.
Die teks en melodie uit "Dit kom van ver af" van Chris Lamprecht (Die Staatsdrukkery, Pretoria) en word
gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursvergunning 62 47 van 14-7-1978.
Die Olifant as ete -
deur
Frik Lombaard
In my soeke het ek afgekom op ‘n boek geskryf deur Alexis Soyer (1809
–1859). In hierdie boek beskryf hy nogal in redelike detail die oorsprong
van kos en hy gee ook ‘n paar resepte van hoe om sekere soorte voedsels gaar
te maak. Graag sou ek van die resepte wou weergee maar die kruie en speserye
wat hulle gebruik is onbekend en sal nie eintelik sin maak nie.
Die Amerikaners en veral die van Texas af is geneig om te dink dat alles
groter en beter is by hulle. In die boek van Alexis Soyer word iets beskryf
wat groter en beter is hier in Suid Afrika en dit is die gaarmaak van
olifante. Die volgende beskrywing sal ek probeer vertaal in my beste
Afrikaans.
Sekere nomadiese volke van Asia en Afrika word geglo om versot te wees op
gebraaide olifante. Die Egiptenare het sover gegaan om hierdie delikatesse
in die hande te kry dat Koning Ptolemy Philadelphus hulle verbied het deur
streng wetgewing om olifante te jag. Dit het hulle egter nie afgesit nie. Al
wat die wet veroorsaak het was dat die olifant se vleis nog ‘n groter
aantrekkingskrag vir hulle gehad het.
In sekere barbaarse volke het hierdie smaak ook byval gevind. Le Valliant,
‘n gesoute reisiger vertel die eerste keer toe hy die eerste keer ‘n Olifant
se slurp ge-eet het wat deur die Hottentotte aan hom voorgesit is. Hy het
besluit dat dit nie die laaste keer is wat hy die vleis gaan eet nie
aangesien dit die mees eksotiese smaak is. Sy voorliefde is egter vir die
voet van die Olifant.
Le Valliant skryf soos volg:
Hulle sny die vier voete van die Olifant af. Daarna het hulle ‘n gat in die
grond gemaak van ongeveer 3 vierkante voet. Hierdie gat is gevul met
houtskool en bo die houtskool is droë hout gesit. Die vuur was heelaand aan
die gang gehou. Wanneer die Hottentotte gedink het dat die gat warm genoeg
is gedurende die nag, het hulle die gat leeg gemaak. Binne in die gat is die
vier pote van die Olifant gesit. Die gat is gevul met warm as, houtskool en
droë takke. Die vuur is aan die gang gehou tot die volgende oggend.
Hier skryf Le Valliant dat hy die volgende oggend deur sy bediendes bedien
met vleis. Hy gaan aan om te beskryf dat nadat hy die reuk gekry het hy nie
vinnig genoeg die vleis proe nie. Sy slot opmerking is dat hy nie kon
verstaan dat ‘n dier so groot en lomp, so ‘n delikate en fyn voortbring nie.
Hy noem ook dat die Hottentotte die ander dele van die dier ook gaargemaak
en ge-eet het.
Dit is seker nie baie van ons se wens om gebraaide Olifant voet te eet nie.
Maar dit is seker ‘n ondervinding wat nie baie gou vergeet sal word nie.
Soos op die afgelope ATKV se kongres is daar ‘n krokodil gebraai. Hulle se
nie hoe dit geproe het nie. Miskien sal ek eendag waagmoed kry om Olifant of
Krokodil te eet. Miskien sal daardie moed kom wanneer ek ‘n bietjie baie van
Noag sy wyn in het.
Wat's nuut op
Kalie se Boeremusiek webwerf?! Ons het nou 'n eie domein - dis nou vir
die wat nie die blad onlangs besoek het nie. Gaan loer gerus by
http://kalie.boeremusiek.net
Hierdie webblad is spesifiek daarop toegespits om die: Versameling...Bewaring...en
Uitbouing...van Boeremusiek aan te spreek.
Boeremusiek- Ons Kultuurerfenis
Ek hoor iemand nou die dag sê dat as iemand nog nie ‘n taal of musiek
vorm aangeneem het nie, dan is hy nog nie ‘n mens nie! Ons beskou
Boeremusiek as deel van die “Boerekultuur” omdat dit spontaan onder die
Afrikaner ontstaan het met sy eiesoortige styl en wysies hoofsaaklik
gespeel op die konsertina, traporrel, mondfluitjie en die viool..
Presies wanneer boeremusiek die lig gesien het, is nie so maklik om vas
te stel nie. Daar is egter genoeg bewys dat dit reeds op die Groot Trek
gespeel is. Daar moet in gedagte gehou word dat die plat plaat (78 opm),
eers in 1899 ontwerp is en dat die eerste opnames van Boeremusiek eers
in 1928 op die “Regal” etiket opgeneem is! Daarvandaan is dit maklik om
die spoor van Boeremusiek te volg.
So het ons gedokumenteerde Boeremusiek begin.
Dit was dan ook ‘n uitgemaakte saak dat die onthaal by troues in die
18’e en begin 19’e eeu met Boeremusiek opgevrolik is en waar die mense
sommer 'n week lank partytjie gehou het as gevolg van die lang afstande
wat afgelê moes word! My oupagrootjie se broer – Rooi Albertus de Jager,
was 'n konsertinaspeler wat op die meeste van hierdie troues in die
Verre Noord Transvaal, (Limpopo), gespeel het.
Dit was in hierdie tyd wat die Soutpansberg- settees en -polka die lig
gesien het. Sy broer Rooi Chris was weer deel van die Hooggekraal orkes.
Oom Hannes Buitendach het hulle goed geken!
Dit is dan ons erfenis. Nou wat doen ons daarmee?! Is dit nie ons plig
om dit te bewaar vir die wat na ons kom? Die feite sê vir ons daar is al
minder musikante wat Boeremusiek speel en die jong mense wat dit wel
speel slaan baie maal oor na ‘n ander musiek genre. So die taak is nie
sò maklik nie maar dit maak ons net meer vasberade.
Agterpad Reisnotas - versamel deur Braham van Zyl |
Ek luister mos
een Saterdagoggend na Amoré Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met
Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een
van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres
onderaan die artikel) Hy stuur 'n 'n gereelde nubrief uit.
KLAARSTROOM tot STEYTLERVILLE,
agterpad langs
Danie Snyman van INCOPHO 4x4 in Kenridge het geskryf, en vertel soos volg:
“Ek het nou onlangs ‘n baie interessante agterpad gery. Dit begin by die R29
pad by Klaarstroom, aan die noordekant van die Meiringspoort, en loop al met
die grondpad wat Willowmore toe gaan, noord van die Groot Swartberge langs.
Draai by Vondeling stasie noord deur Soetendalspoort, verby die ou kerkie
van Strydomsvlei, tot in die Brakfontein / Rietbron pad. Draai daar regs en
ry noord van Blydeberg verby, tot by die N9. Indien die tyd dit toelaat, kan
jy links draai om op die dorpie Rietbron 'n draai te gaan maak. Dis die
enigste dorp in die wêreld met 'n springbok op die kerk se toring.”
“In Soetendalspoort is 'n 4x4 roete en heerlike kampplek. Indien jy nie 'n
4x4 het nie, sal die eienaar jou tot bo-op die berg neem om die groot vlakte
na die noorde te bespied. Bel gerus vir Manie en Stefanie Karsten by 044-923
1872 of 082 561 4260 om te laat weet jy's op pad.”
By die N9 het Danie links gedraai en by die Beervleidam weer regs, en só is
hy al in die loop van die Grootrivier af, deur privaatgrond, tot by die ou
Fullarton stasietjie. Ons ander met gewone motorrygoed kan daar by die N9
regs draai en by Willowmore weer die Steytlerville pad vat om verder die
Oos-Kaap in te ry. Daardie omgewing waar hy gery het, is volgens Danie 'n
deel van ons mooi land wat toerismegewys baie afgeskeep word.
Skryf vir Braham
en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings
direk van hom af!
e-pos : info@explore-sa.com
Kokkerotte???.......en
miere |
Volgende van die
Vrouekeur webwerf:
Hierdie resep, wat kokkerotte uit Habikino City in Osaka uitgeroei het, is
steeds net so doeltreffend en goedkoop, as tóé.
BESTANDDELE
250 g boorsuur-*poeier (boric acid)
200 g vars uie, sonder water verpulp en versap
20 g styselpoeier
25 g (5 t) poeiermelk
20 g koekmeel
30 g suiker
1. Meng alles saam in ’n plastiekbak.
2. Sprei ‘n ou koerant in die motorhuis of op jou stoep oop en gooi die nat
mengsel vroeg in die aand daarop uit. Laat dit deur die nag staan.
3. Maak die volgende oggend vingernaelgrootte balletjies van die pasta wat
jy op die koerant aantref.
4. Plaas die balletjies oral waar jy al kokkerotte gesien het, maar veral by
die skottelgoedwasbak, by rioolopeninge en in jou kruidenierskaste.
5. Drie tot sewe dae later is daar geen kokkerot in jou huis oor nie. Wenk:
Deel hierdie resep met jou bure. Só maak jy ‘n groter area kokkerotvry.
Belangrik om te weet*
Boorsuur (Boric Acid) en Boraks (Borax) is nie dieselfde ding nie. Boraks is
Na2B4O7-10H2O en Boorsuur is H3BO3.
Boraks kan as plaasvervanger vir boorsuur in die resep gebruik word, maar is
nie so 100 % doeltreffend soos boorsuur nie.
NB! Boraks is geheel en al taboe vir menslike gebruik. Daar word beweer dat
die inname van 56 g boraks ’n volwassene se dood kan veroorsaak. Hou die
balletjies wat as kokkerot-dehidreermiddel gestrooi word, buite bereik van
kinders.
|
|
|
Ek is betrokke by
hierdie inisiatief van Elsabé, kyk tog asseblief of julle nie ook 'n bydrae
kan maak nie, besoek ook hulle
webwerf.
Lees asseblief die nuusbrief en kyk of jy kan help.
Bankbesonderhede:
Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926
Aflewerings adres:-
286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za
PS Bel asb voor jy ry.
Kumkwatkonfyt
1kg kumkwatte (2 pond)
1kg suiker (2 pond)
6 x 250 ml water
Maak klein snit in elke kumkwat en verwyder pitte. Plaas in kastrol, bedek
met koue water, bring stadig tot kookpunt en kook tot sag genoeg om ‘n
vuurhoutjie in te druk. Kook stroop van suiker en water en koel af. Dreineer
vrugte en plaas in afgekoekde stroop. Bring weer baie stadig tot kookpunt en
kook tot vrugte helder en stroop dik is. Laat oornag so staan en kook weer
volgende dag voor dit in warm, gesteriliseerde bottles verpak en verseël
word.
Lemoen-Marmelade
3 soet lemoene
1 lemmetjie of suurlemoen (met ‘n gladde skil)
water
wit suiker
Was vrugte en sny alle lelike mercies aan die skille af. Snipper die vrugte
fyn en verwyder die pitte. Meet snippers en voeg 750 ml water by elke 250 ml
snippers. Laat dit oornag staan. Verhit die mengsel die volgende dag en kook
dit sowat 30 min lank tot goed sag. (Dit is sag genoeg wanneer ‘n vurk of
vuurhoutjie maklik deur ‘n stukkie skil gedruk word.)
Meet weer die mengsel (snippers en vloeistof) en voeg 250 ml witsuiker by
elke 250 ml snippers. Verhit dit in ‘n groot konfytkastrol tot kookpunt en
roer net totdat die suiker gesmelt het. Kook die marmelade taamlik vinnig
sonder ‘n deksel totdat die stroop dik is; voeg ‘n klontjie botter by as dit
te veel skuim. Skuim die marmelade gereeld af as dit kook. Om vas te stel of
die stroop dik genoeg is, skep ‘n bietjie in ‘n piering en verkoel dit
vinnig in die vrieskas. Dit is dik genoeg wanneer dit plooitjies vorm as jy
dit met jou vinger stoot. Skep warm in skoon gesteriliseerde flesse en
verseël.
Waatlemoenkonfyt
Sny in skywe ongeveer 50mm breed, sny die sagte vleis uit en skil die groen
skilletjie af. Prik elke skyf met ‘n vurk en sny dit in langwerpige of
vierkantige stukke, soos verkies. Weeg. Laat week die waatlemoenskil oornag
en makataanwaatlemoenskille 2 dae lank in die volgende oplossing. 2
eetlepels kalk per 3,5 liter water.
Dreineer, spoel af en laat 2 uur staan
Asyn Poeding (al lank en van my gunstelinge)
3 koppies meel
1 koppie suiker
3 teelepels gemmer
2 teelepels koeksoda
2 eiers
3 E appelkooskonfyt
½ t sout
1 koppie melk
Maak slap deeg aan. Gooi koeksoda laaste in. Bak in stroop.
Stroop:
4 koppies kookwater
1 ½ k suiker
¼ koppie asyn.
Suurlemoentert
2 eiers geskei
1 blik kondensmelk (125ml)
½ koppie suurlemoensap
50g strooisuiker
knippie kremetart
Skei eiers, voeg by kondensmelk en suurlemoensap.
Klop eierwitte, kremetart en strooisuiker styf. Gooi in tertkors.
Sit styfgeklopte eierwitte bo-op. Bak vir 10 min by 180°C. Los dan vir ½ uur
in oond wat afgeskakel is.
Die een ken ek nie, maar klink heel interessant :-)
Tietiekoekies
1 koppie meel
1 teelepel bakpoeier
1 eier
knippie sout
melk om deeg mee aan te maak
Maag slap deeg aan en skep lepelsvol in warm olie. Bullybeef kan ook
bygevoeg word.
Hierdie een kan net lekker wees:
Vleis in ‘n degie
Beslag: 250 ml bruismeel
knippie sout
150 ml koue water
12,5 ml olie
2 eierwitte
500 gram varkboud, in blokkies gesny
sout en peper na smaak
olie om in te braai
Sif die bruismeel en sout saam. Meng die water en olie en voeg by die droë
bestandele. Meng tot ‘n gladde beslag gevorm is. Laat 1 uur staan. Klits die
eierwitte styf net voor bedizening en vou in. Geur die vleisblokkies met
sout en peper en doop in die beslag. Braai in diep olie tot goudbruin.
Dreineer op handdoekpapier. Dien saam met rys op.
Flige gif:
1 ons peper, 1 ons Quassia (by 'n Apotheek te kry), 2 ons suker, maak in fyn
poeier alles te same en strooi
st
se pitkos
Klik hier
om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Leef jy gesond?
Gesondheid is iets waaraan ‘n mens nie baie dink wanneer jy gesond is nie.
Maar die dag as die skete en pyne jou tref besef jy hoe belangrik gesondheid
is en watter bepalende rol dit in jou lewe speel. Een oomblik kan jy nog vol
vreugde wees, op die golf van voorspoed ry en wonderlike toekomsplanne hê.
Die volgende moment kan ‘n uitslag van ‘n mediese toets jou planne en lewe
totaal omkeer.
Ons dink so min aan ons gesondheid. Maar tog moet ons ons gesondheid beter
oppas as geld en goud. Leigh Hunt het gesê: “Die grondslag van alle geluk is
gesondheid.”
Hier is enkele gedagtes oor gesondheid:
1. Eet gereeld en eet gesond. Moenie jouself ooreet nie, maar wees matig in
wat jy eet. Moenie ontbyt oorslaan nie.
2. Oefen gereeld. Om jou liggaam sterk te hou moet jy oefen. Spiere wat nie
oefen nie, verswak.
3. Borsel jou tande gereeld en vervang jou tandeborsel ten minste elke
tweede maand.
4. Vermy slegte gewoontes soos rook en oormatige gebruik van alkohol.
5. Ry versigtig, moenie jaag nie en bly binne die spoedgrens. Moenie onder
die invloed van alkohol bestuur nie.
6. Neem elke jaar vakansie ten minste tien dae aaneen lank.
7. Vermy gevaarlike gebiede en plekke wat bekend is vir misdaad. Beskerm
jouself en jou huis en haard.
8. Kry gereeld goeie ontspanning in en lag genoeg.
9. Spandeer tyd met vriende en familie en geniet die lewe met die mense wat
vir jou saak maak.
10. Gaan vir jou mediese ondersoek, en wanneer jy iets verkeerd vermoed,
moenie bang wees en uitstel om na die dokter te gaan nie.
11. Drink genoeg water en vrugtesappe.
12. Bly jy in ‘n plek waar baie lugbesoedeling is soos naby ‘n
nywerheidsgebied? Wat kan jy daaromtrent doen?
13. Stres, kommer, angs en vrees asook die druk van elke dag is bydraende
faktore vir siektes soos hipertensie en hartaanvalle. Hoe kan jy jou
lewensstyl verander om die skadelike gevolge op jou liggaam te verminder?
14. Kry genoeg slaap in.
15. Beskerm jou vel teen oormatige son.
Wanneer jou gesondheid van jou weggeneem word, maak ander dinge nie meer
soveel saak nie. Iemand het by geleentheid gesê mense offer hulle gesondheid
op om sukses en geld na te jaag. Wanneer hulle die sukses behaal maar hul
gesondheid daardeur agteruit gegaan het, offer hulle weer derduisende rande
op om gesondheid te probeer terugkoop. Richard Baker sê: “Om ryk te word
moet jy nooit met jou gesondheid ‘n risiko neem nie. Die waarheid is dat
gesondheid is die rykdom van rykdom.”
Wanneer jy jou gesondheid verloor, verloor jy – menslik gesproke – alles. Jy
verloor jou vemoë om die lewe voluit te geniet, jy verloor die vemoë om
plekke te besoek, om jou talente uit te leef en eventueel kan jy so siek
raak dat jy die vermoë verloor om geld te verdien.
Wil jy dit nie oorweeg om van vandag af voluit gesond te leef nie? Moenie
uitstel nie, vandag is die dag om gesondheid hoogtste prioriteit te maak.
Die bal is jou in baan, dis jou keuse.
‘n Sprankie gedagte vir die dag
“Pas jou liggaam op. Dit is die enigste plek wat jy het om in te bly” - Jim
Rohn -
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
Soek jy plek om te gaan kampeer?
Klik dan hier!
Skooltake??
Klik hier
Vakansieverblyf is altyd
'n probleem, dié mense maak dit makliker om te kry,
klik net hier.
Nieltjie se Stories - Kinderstorie CD in Afrikaans -
Klik hier
Teken in /Teken uit / Kontak |
Teken hier
in op die poslys en lees ook die argiewe.
Om uit te teken, stuur vir my 'n
epos en dui jou naam aan asook die eposadres waaronder jy ingeteken is
Kontak my
hier.
Druk jou speld op my besoekerskaart!
|
|