Onbeskaamd Afrikaans!

 
 

Nommer 121

Besoek my Webwerf

15 Februarie 2008

 
 

Bloedrivier

Eg Afrikaans

Die Knoop

Ons Dorp

Woes

Vuurvlieg

Afriforum

Voortrekker Monument

Steve se Spoegblok

Blanke Ekonomiese Forum

PRAAG

Rieme

ATKV

 

Teken Besoekersboek

 

Vorige Nuusbriewe

Epos

Wees gegroet!

Welkom aan alle nuwe intekenare!

Ons het vir so 'n paar dae 'n draai gaan maak by Ngwenya Lodge op die oewer van die Krokodilrivier aan die Suidekant van Kruger park. Heel oulike plek, baie mooi chalets, net jammer van die pad van Ngwenya af Krokodibrug hek toe.

Hierdi8e brief gan op Valentynsdag uit, ek hoop jy en jou geliefde beleef 'n heel besonderse dag!

Net om te laat weet dat ek enigiets wat ek in my epos ontvang en wat ek voel hier geplaas kan word, dit plaas ek. As daar dalk kopiereg op is laat weet my, dalk haal ek dit af.

Weereens het ek lekkerlees Afrikaanse artikels deur onder andere Minette Brink, Estelle de Bruyn en Annelie Botes. Ek is seker julle sal dit geniet!  Ook is daar 'n insiggewende artikel deur Dr. S T Potgieter.

En onthou tog om my besoekersboek te teken? Hy was vir 'n hele tydjie aflyn maar is nou weer terug.

Doen met 'n miljoen

Ons het duisende unieke produkteom van te kies, besoek Perkal Gifts Klik hier

Koop jou Lotto kaartjies hier - UK en EuroMillions by Lottery24.com Klik hier

Klippel-Trenaunay-Weber Syndrome

As daar enigieman is met bogenoemde toestand of as jy dalk weet van iemand met die toestand, kontak asseblief vir Zandré Pelser, Sel: 083 376 8185, Epos: zandre.pelser@sita.co.za met die oog om 'n ondersteuningsgroep te begin.

Geskiedenis van Boerekos

Ek soek toe mos nou die dag op die Net rond vir meer oor wonderpeper en kom toe op hierdie baie interessante dokument af. "Die Geskiedenis van Boerekos 1652 - 1806" is die doktorale tesis van ene H W Claassens. Mense vra my al lankal oor die geskiedenis en oorsprong van Boerekos, en hier vind ek dit in een dokument. Dis vryelik beskikbaar op die Net maar as jy vir my epos stuur, stuur ek dit met graagte aan jou. Dis in eBoek formaat (.pdf)  

Die Peterjasie webwerf

Hierdie brief is maar net 'n klein deel van die Peterjasie internet ondervinding. Klik gerus hier en gaan besoek my webwerf, daar is regtig iets van alles, en alles in Afrikaans.

Krag Onderbrekings

Die volgende land in my epos, nogal heel oulik en van toepassing:

My pa het toe besluit genoeg is genoeg. Net voor Krismis het pa besluit lat hy wil oplaas 'n generator koop, oorlat hy moeg was virrie krag onderbrekings.

My Oupa dink 10% is kragonderbrekings, die anner 90% is die Munispaliteit se geld wat my pa innie borrelstoor belê. My pa sê dit maak nie saak nie, of dit nou daai simpel mannetjie vannie cownsil is wat sy krag afsny, of daai simpel mannetjie van eskom, hy worrie nie, hy wil 'n generator hê.

Nou ja, toe gat ons winkels toe om die ding te koop. Oppie kaart want my Pa sê my ma se kaart is baie lekker, jy koop net op Budget se rekening. Jy koop en jy vertel die mense om dit op Budget se rekening te sit. Ek weet nie lekker wie Budget issie, maar ek weet my pa sit alles op Budget se rekening. Ek reken die Budget outjie gat darem lekker moerig wees as hy uitvind wat my pa alles op sy rekening koop. In elk geval, ons gat loop koop toe die generator ding, en dis net mooi daar waar die moeilikheid begin.

Kyk, as julle dink my pa weet niks van kamp af nie, of van karre af nie, of van vroumense af nie, dit is tog goed wat 'n mens kan sien, dan moet julle weet, hy weet bokkerol van krag af. Dis wat my ouma sê, dis so. Maar my pa worrie nie, toe hy eers daai generatortjie gestart kry, toe dink hy lat hy 'n elektriese ingeneer is. Dis glo slim ouens wat krag verstaan. Toe is my pa slim genoeg om te weet, solank daai generatortjie loop, solank maak hy krag, maar as hy stop, dan is hy net 'n stuk blik, met 'n fancy Japanese naam.

So, voor my pa die ding aan die krag loop koppel, toe swiets hy eers die generatortjie af, en hy sê vir my: " Dawie, as 'n ou met krag werk, dan moet jy slim wees, en nugter". Wel, my pa is nie een vannie twee nie, so toe beginne ek worrie. Maar ek het verniet geworrie. Toe my pa daai drade vat, en hy shok nie, toe weet ek hy weet waarvan hy praat. Toe maak hy die drade mooi skoon solat die koper uitsteek en hy is toe reg om die masjien aan die kragpunt te koppel. Nou ja, toe sit ek lekker en kyk hoe my slim pa die kragonderbreking ding onner die knieg kry, en ek worrie niks nie, oorlat ek kan sien my pa weet van.

Toe maak my pa daai swietsbord innie kombuis oop en hy maak reg om sy generatortjie se drade aan die swietsbord se drade te koppel. Dis glo solat as die krag afgaan, dan start my pa net sy generatortjie en die se krag sal die swietsbord maak werk.

Daar is 'n gesegde wat die grootmense gebruik, hulle sê lat as die pôpo die fan tref, dan's daar moeilikheid. Daai ooms wat so sê het nog nie gesien wat gebeur as die swietsbord se krag my pa tref nie. Kyk ooms, toe my pa so oppie leertjie staan en hy konnek daai generatortjie se kragdraad so aan die swietsbord se rooi draad, toe smaak dit vir my my pa is aan die hartaanval kry of hy kry 'n seningwee instorting of 'n eleptiese aanval of 'n stroke offe ding. Die way wat my pa daai swietsbord ruk en pluk dog ek my pa gat die ding uit die muur uit ruk en net 'n gat daar los. Nie syne nie, maar een innie muur daar waar die swietsbordtjie was.

Maar die swietsbordtjie moef nie, en my pa hou nie op ruk nie, en hy skreeu ook. Ek dog dis van woede wat my pa so skreeu oorlat hy nou kwaad is virrie swietsbordtjie. Hy dans ok oppie leer en gooi sy dikkerige lyfie rond bo-op daai leer asof hy nou inne jaaif kompetisie deelneem.

Net toe ek vir my pa wil waarsku lat hy vannie leer gaan afval, toe gebeur dit; hy val van daai leer af, maar hy val nie grond toe soos 'n mens moet nie, en toe verstaan ek hoekom party mense sê " hy't daar afgemoer", want daai wassie 'n val nie, daai wasse afmoer. Miskien hoekom Koeberg se moer weg is, lyk my met die krag saam het 'n ou maar probleme met die moere.

In elk geval, kyk my pa val toe lat dit lyk asof hy geskiet is, maar sy lyf gee nog so 'n paar rukke met die wat hy so deur die lig trek, nes daai ouens op TV wat innie swembad induik en dan sulke s draaie innie lug maak. Toe dit vir my lyk dat my pa sy kop gaan misval en op sy alie val, toe skrik ek, want my ma sê my pa het 'n harde kop maar hy is 'n lamgat. Ek wil toe nie hê my arme pa moet sy gat verder lam maak nie. Maar toe is ek te laat, toe val my arme pa plat op sy blaker.

Maar toe my pa so sit en jaaif, toe voel ek darem beter oorlat ek kan sien hy is nie heeltemal 'n lamgat nie, oorlat hy sy boude toe lekker vinnig wikkel. Toe ek in my pa se oge so kyk, toe sien ek hy trek vir my gesigte ok, maar ek het nooit geweet my pa kan sy oge so omdop nie, ek sien net die wit soos hy jaaif. Toe klap ek maar hande vir my pa se trieks oorlat ek nie weet wat anners om te doen nie. Toe kom my oupa ingehardloop om te sien wat gebeur met die geskreeu. Toe vat oupa so aan my pa en toe begin oupa ok jaaif. Toe dog ek dis 'n paartie toe beginne ek ok jaaif solat hulle kan sien ek kan ok jaaif.

Toe gat die ligte skielik af en toe hou oupa en pa op jaaif en toe staan ek ok maar daar rond en kyk wat gat my pa nou met die generatortjie doen.

Toe my pa daar opstaan, toe sien ek hy het oppie plug geland wat aan die draad vas is wat aan die swietsbord vas is, wat toe aan my pa vas is oorlat die plug binne in my pa se boud ingesteek het. Toe gebeur daar 'n vreeslike ding, my pa vat daai genratortjie wat Budget nog moet betaal, en hy gooi daai ding binne innie bure se swembad en hy ruk daai draad uit die swietsbordtjie uit soos 'n sweepslag.

Die outjie vannie cownsil het toe gekom en ons swietsbordtjie weer toegemaak, en ons krag weer by die paal gaan loop aansit en toe is alles weer normaal, behalwe lat ons nou nie weer 'n generatortjie het nie.

Anna se Kombuis

Ek beskou Anna Eksteen as die koningin van Resepte eBoeke in Afrikaans. Sy het nou al 'n hele versameling van resepte eBoeke wat enige kossoort dek, en dit in Afrikaans! eResepteboeke is goedkoop en geen posgeld is betaalbaar nie, die boeke word per epos gestuur en is in 'n japtrap by jou. Klik gerus hier en kyk na haar resepteboeke en bestel gerus een, of sommer 'n paar! As jy besluit om van haar boeke te bestel en jy noem dat jy daarvan hier te hore gekom het, sluit sy my Kampkosresepteboek gratis in!

Groot nuus! Anna het sopas nog drie samestellings die lig laat sien!
(1) n Bordvol peuselhappies
(2) Japtrap etes-Sonder al die sjlep
(3)Souse, doopsouse, smere en botters.
Prys R50 elk.
Indien sy bewys van betaling ontvang, stuur sy n samestelling van 15 verskillende blatjang resepte.

Kontak sommer dadelik vir Anna en plaas jou bestelling:   anna@minimax.cc . of 0822946799

Minette

Ek plaas graag weer en van Minette se artikels, ek verlees my altyd aan haar skryfstyl; soos sy skryf, so is sy. Ek sien ook dat daar nou van Minette se artikels in my gunsteling buitelug tydskrif, Wegbreek verskyn, gaan kyk gerus!

Lekker lees!

AiAiba: wegwyser vir gemoed én siel

“WAT sing jy, Benson?”
Die winterson bak lomerig oor die Erongoberge.
Hier langs die swembad waar die man ʼn paar verdwaalde blare uit die turkooiswater skep, is die enigste geluid dié van die voëls en die sagte geneurie van ʼn oeroue deuntjie.
Benson kom stadig orent en staar lank in die rigting van die Brandberg wat dynserig op die horison rus.
“Dis diep Damara,” sê hy ná ʼn ruk. “Ek kan nie verduidelik nie.”
Ek vra of dit oor die lewe is, oor die liefde, oor hierdie plek genaamd AiAiba waar ʼn mens stil raak, rus vir ʼn soekende gemoed vind.
“Dis oor alles,” sê Benson, “dis uit die Bybel.” En sing-sing stap hy weg.
Sowat 45 kilometer wes van Omaruru op die plaas Anibib, lê die AiAiba-rotskunslodge.
AiAiba, die Damara-woord vir voorloper, padaanwyser, nie net grondlangs nie, maar ook sielsgewys.
Hier in die bewaringsgebied van die Erongoberge, het Hubert Herzog en Fritz Flachberger met die hulp van tagtig werkers uit die Tubusis-gemeenskap ʼn droom laat bewaarheid.
Binne ses maande is dié lodge met sy twintig luukse-eenhede en ‘n restaurant met vyftig sitplekke opgerig en in September 2004 is die eerste besoekers verwelkom.
Begeleide velduitstappies, voëlkykery en die bestudering van rotskuns is maar van die dinge wat hier vir natuurliefhebbers aangebied word.
Teen skemer neem die gasvrou en toergids, Alexandra Sacharow, gaste in die oop viertrekvoertuig tot bo op Skemerkelkberg om ʼn uitsig sonder vergelyke oor dié vallei te bied.
Daar is nie woorde om die sakkende son agter die Brandberg te beskryf nie. Asemrowend, ongelooflik, manjifiek, fantasties, alles in een. Teen donker is dit met ʼn diep ongewilligheid wat jy teen die steilte af klim. Jy wou daar bo bly, gestroop van alle menswees, net een met die skepping en die wonder daarvan.
Met die terugkeer staan sjef Martin Steppe gereed met die allersmaaklikste springbok-consomme, gemsbok in sampioen- en knoffelsous met pasta en soetmielies, afgerond met tuisgemaakte sjokolademousse en wildebessies.
Wanneer die laataand-geselsies onder die lapa begin yl raak, gaan lê ek op een van die dekstoele langs die swembad.
Die sterre skiet klein vonkies silwer deur die Namibiese nag en iewers in die donker vlakte weeklaag ʼn onbekende dier.
En my gedagtes loop deur die rotstekeninge wat ek die dag gesien het.
Ek sien die mensies wat duisende jare terug tussen die rotse gewoon, gejag en gelag het. Sien die skaduwees wat die vuurtjie teen die rotswande in die laatnag gooi. Hoor die stories wat in ʼn onbekende taal vertel word, terwyl die kunstenaars hul kalbassies nader trek om die dag se gebeure op rots te verewig.
Ek word die oggend wakker en verwonder my oor die uitsig deur die oop venster.
In ʼn raam lê die veld, die lug, die rotse.
Agter die lodge is ʼn wandelpaadjie wat deur die rotsformasies kronkel. Daar kan jy op jou eie tyd skeure en spelonke verken en jou verwonder aan nog kunswerke van tóé.
Jolande en Maria staan met wit glimlagte gereed met ʼn stewige ontbyt en ná ʼn oulaaskoffie is dit tyd om te gaan.
Ek neem ʼn foto met my oë.
Dis wat liefde is, besef ek.
Die balans in die natuur. Dis die reusekoedoebul wat jou lank staan en aankyk en dan omdraai en lui-lui wegstap. Dis die rotse met hul vreemde formasies en geheime. Miljoene jare terug deur die magma-skeuring en ‘n vulkaan na die oppervlak gestoot om vandag die mens te oorweldig met die onverstaanbare grootsheid van die lewe.
Ek ken nie die woorde van jou liedjie nie, Benson.
Maar ek weet wat elkeen beteken.

Klik hier om die Brandberg sonsondergang foto te sien wat Minette gestuur het.

Klik hier vir nog Minette artikels

Africana en ander boeke

Maroela Boeke en Tierberg Boeke - Laai gerus hulle nuutste katalogus af en kyk daardeur. Hulle het 'n besonderse versameling boeke. Ek het al self van hulle bestel en hulle diens is uimuntend. Regs klik hier om die katalogus af te laai. Daar is ook 'n groot versameling Africana te kry by www.abebooks.com . Tik net Africana in die soekblokkie

Boeremusiek baanbrekers

Hierdie gaan nou 'n gereelde item word. Ek is bly om te sien dat die Boeremusiek tradisie nog so sterk staan....

Kobus Fourie

'n Man wat sy kant bring by die Boeremusiekgilde en op baie ander plekke. Onder andere help hy oorlede Nic Potgieter se weduwee, Estelle Potgieter, om die dosyne navrae te hanteer van konsertinaspelers wat lesse soek.
Kobus is tans ook lid van die Bredell dansorkes wat gereeld by Gildebyeen-komste optree.


 

Bron: 15 Goue Jare:  1989-2004  Boeremusiekgilde  

Pasella

Regs klik hier en gaan laai sommer 'n hele spul hoender resepte af

Peterjasie se Groot Afrikaanse CD

Ek het my mees populêre eBoeke op een CD saamgevat. Die Tradisionele SA Resepte, die Kampkosresepte, die Wille samies en die Boererate is almal daar. Die CD maak 'n ideale geskenk maar ook 'n besonderse aandenking.

Die CD verkoop vir R100, posgeld ingesluit, stuur vir my 'n epos vir betalingsbesonderhede.

Dan het ek ook 'n resepte CD in Engels. Die CD bevat meer as 50 volledige resepteboeke en maak die ideale geskenk. Dink net, die ontvanger hoef nooit weer 'n respteboek te koop nie. Prys is R100 wat uitwerk op R2 per resepte eBoek, is dit nou 'n winskopie, of wat? Klik hier vir betalingsbesonderhede.

Estelle de Bruyn

Kom ons skop oudergewoonte af met Estelle se bydrae. Sy is verbonde aan die Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië. Kontak haar gerus, sy hoor graag van julle.

VOORNEMENS

JANUARIE is amper verby en sodoende een twaalfde van die jaar en ek het nog nie eers by nuwejaarsvoornemens uitgekom nie.
Die jaar het goed en rustig begin, behalwe van die bouery waaroor ek reeds my klaagliedere gesing het.
Ek het heelwat oproepe en e-posse gekry van mense wat dieselfde ondervinding as ek gehad het. Dit is nou duidelik dat daar nie net een van daardie boerebouers in die dorp is nie, maar 'n hele swerm. Hulle moet iewers 'n nes hê waar hulle uitbroei, lyk dit vir my. Maar dit daar gelaat.
My voornemens hierdie jaar is om geen voornemens te hê nie, behalwe miskien vir 'n paar lewenswyshede wat ek opnuut van toepassing op my lewe wil maak.
Wees vriendelik en verdraagsaam met almal en gee elke mens wat jou pad kruis 'n kans, tot daai dag wat hulle bewys hulle is dit nie werd nie. OK, miskien darem 'n tweede en selfs 'n derde kans, maar beslis nie 70 maal sewe kanse nie, dit geld net vergewe, nie kanse nie.
Ek gaan my vriendskappe koester en waardeer en my bes doen om 'n goeie vriendin te wees. Ek gaan my nie stres oor die dinge waaraan ek nie kan verander nie en my bes doen om dit wat ek wel iets aan kan doen, aan te spreek (soos om my honde meer gereeld te bad).
Ek gaan tyd maak vir niks doen. Leë en ledige uurtjies steel om net by myself te wees en my eie geselskap te geniet. Dinge doen wat vir my lekker is. Sommer 'n hele Saterdag in my nagklere rondloop en Hallmark-flieks en die History-kanaal op TV kyk.
Ek gaan (probeer om) al my vriende en vriendinne se verjaardae te onthou. Ek gaan my nie opruk vir taxi's nie en ek gaan vir hulle plek maak wanneer die taxibestuurder nonchalant halflyf by sy venster uithang met sy arm wat amper op die teerstraat sleep. Wanneer 'n taxi sommer so skielik voor my stilhou om iemand op te laai, gaan ek mooi rein gedagtes dink en die man die eer gee omdat hy sy naaste wat te voet is, 'n saamrygeleentheid wil gee.
Die stapeljies boeke langs my bed is gesellig en ek gaan ophou om te dink dit is deurmekaar. Dis mos eintlik lekker om tussen sulke torings boeke te slaap en as jy dors raak in die nag die toring om te stamp in jou soeke na die waterglas. Dan is jy wakker en jy kan die heerlike stilte van die nag geniet terwyl jy in jou bedjie lê. Ek gaan beslis nie my studeerkamer regpak nie, want dis vir my lekker om in daardie ordelike wanorde te sit en lees.
Ek gaan my nie laat irriteer deur luidrugtige raasbekke nie en ek gaan geen skuldgevoelens koester nie en ophou wroeg oor dinge wat ek gedoen of versuim het om te doen. As ek iemand benadeel, sal dit wees omdat hy of sy dit verdien het, nie uit gemeenheid of haatdraendheid nie.
Ek gaan komplimente wat ek ontvang, aanvaar en waardeer en miskien sommer agter in my dagboek 'n aantekening maak daarvan sodat as ek die dag minder lekker voel, ek weer die ou komplimente kan gaan oorlees.
Ek gaan my dankbaarheid aan mense wys wat vir my goed is en wat my help.
En laaste maar nie die minste nie: Ek gaan beslis nie 'n skaal koop nie. Myne is al jare stukkend en ek leef baie gelukkiger nou dat ek nie weet wat ek weeg nie. Ek gaan ook minder in die spieël kyk, net wanneer ek my grimering moet aansit om te sien waar om die toesmeer onderlaag aan te wend en waar my lippe sit vir die lipstiffie.
Dis my voornemens vir die jaar. Sela.
 

 

Click Here Now!

Click Here Now!

Dial Direct Insurance

 
  Annelie Botes  
  Nog 'n lekkerlees storie deur Annelie.  
 


Op die rug van Amakeia

A.G. Visser dig in Amakeia oor die swart vrou wat haar sterwende nonna had belowe om die hulpelose kindjie / Tot hy groot was, op te pas. As dogtertjie het ek met my broer se resitasieboek onder die vyeboom gesit en Amakeia geneurie, hartseer, op die wysie van Clementine, en my verbeel dis ek wat in die hartbeeshuisie op die wal van die Kei-rivier op haar skoot slaap. “Stil maar, stil maar, stil, Babani, / Kyk hoe blink die awendster. / Niemand sal vir kindjie slaan nie - / Stil maar, al is Mammie ver.”
Min het ek tóé gewis Amakeia se land sou myne word. Dis al 25 jaar myne, en tog begryp ek min. My geestesoog wil nie stede en tegnologie sien nie. Eerder ongetemdheid. Waaiende grasveld, beeste onder ‘n doringboom, mama’s met houtbondels op die kop, kwêdiens wat bokke aanja. Madalas wat tradisies oorsê by platvure. Takkrale, wasklippe by die rivier. Boervrouens wat brood bak in die buiteoond; eendedons oes vir kussings. Ruwe mans wat karperde inspan vir Nagmaal. Familiebybels met geboortes opgeteken in veerpen. Ek hoor die nagjakkals en ruik doringhout-umlilos waarop die aandkos kook.
Maar iets in dié Oosland is verkeerd; ‘n tokkelossie wat nagloop. Almal, swart-wit-bruin, sit gebosluis op Amakeia se rug. Ongetraak of sy knak onder haar paksel. Sy sleepvoet; gesig vol erosiebarste. Waar eeue lank plate doringbome gegroei het, het min bly staan om die hoogdagson van haar weg te keer.
Soms glo ek Amakeia knoop stadigaan haar bondel vir weggaan. Na die Amatola-berge / Het sy ylings heen gevlug. Van almal wat so respekloos op haar bos-en-grondlyf aas. Ontwikkelaars, aanlegte, fabrieke, padbouers, casino’s, houtstropers, moordenaars, oorbeweiders, perlemoendiewe. Miskien weet Amakeia haar vel is verrek en die melk in haar amabeles het opgedroog by gebrek aan weigras. Of dalk kom haar afgeleefdheid uit ou oorlogsbloed wat onder die grond lê en stink.
Ons gryp en gryp. En Amakeia betáál. Die swart-wit-bruin kloggoed wat sy abba, ongeag klas of stand, druk nie meer hul ore teen haar longkaste om haar asemslag te hoor nie. A.G. Visser se visie draai bykans profeties. Onheilspellend sien sy tekens, / Oorlog kom daar in die land: / Snel die inval, huis en hawe / Uitgemoor en afgebrand.
Amakeia is bang. Dat die slimmes én dommes haar ruggraat só gaan verkrom dat sy nooit weer emmer-op-die-kop kan rivier toe stap om amanzi vir haar kaia te skep nie. Want oral waar haar draaijakkals-oortjies kan hoor, besluit tegnologie- en geldmaakvrate: “Kort proses met haar, / Laat die blink asgaaie reën!”
Daar, in die Amatola-berge, In die skadu van die berge, / Bosbeskut aan alle kant, sit sy met haar ulungile, haar groot hart, en sing vir dié land van verbrokkelde respek ‘n suslied. “Stil maar, stil maar, pikanienie, / Oor die bergtop rys die maan. / Niemand sal vir ons hier sien nie; / Môre sal ons huis toe gaan.”
Ek wil die Oos-Kaap se pronkgoed lys. Maar my hart weier. Omdat ek my by Amakeia skaar. Groothart-vrou wat in haar eie skoot huil, en buk-loop onder ál die vasklouers op haar rug, aangejaag deur die tokkelossie op haar hakskene.
Soms tob ek oor my Oosland se rampe en ellendes. Oorstromings, bosbrande, begraafplase vol vars grafte. Straatkinders, chaos in skole en hospitale, korrupsie, armoede, grumoorde. En ek wonder hoe lank nog voor Amakeia gesig in die stof neerval en vir altyd op haar maag bly lê. Of voor sy doodsveragtend begin terugveg vir haar eens ongetemde Kei-land. Ter wille van die kleurlose, politieklose weeskind op haar rug. Nie ‘n vleeskind nie, maar ‘n kind uit die baarmoeder van die oermama se aardse grondlyf.
Soms, as die ooswind in die nag waai, hoor ek haar treurlied uit die ver berge, op die wysie van Clementine. Ek wis nie of ek haar lament reg verstaan nie, maar ek hóór haar. In die Amatola-klowe / Sing nog net die winterwind / Deur die riete in die maanskyn: / Tula-Tula, stil, my kind …”

AMAKEIA

In die skadu van die berge,
Bosbeskut aan alle kant,
Staan alleen die hartbeeshuisie
Op die grens van Kafferland

Saggies neurie Amakeia
Op die wal van Keirivier,
Tot hy slaap die tere wiggie
Van die blanke pionier

‘Stil maar, stil maar, stil, Babani,
Kyk hoe blink die awendster,
Niemand sal vir kindjie slaan nie –
Stil maar, al is Mammie ver”

Amakeia had belowe
Toe haar nonna sterwend was,
Om die hulpelose kindjie
Tot hy groot was op te pas.

Liefd’ryk sorg sy vir die wit kind,
Tot vir hom die lewenslig
Straal uit aia Amakeia’s
Vrind’lik-troue swart gesig.

Onheilspellend sien sy tekens,
Oorlog kom daar in die land:
Snel die inval, huis en hawe
Uitgemoor en afgebrand.

Selfvergetend, doodveragtend,
Met die wit kind op haar rug,
Na die Amatola-berge
Het sy ylings heen gevlug.

“Stil maar, stil maar, pikanienie,
Oor die bergtop rys die maan,
Niemand sal vir ons hier sien nie;
Môre sal ons huis toe gaan.”

Ag, dat oë van verspieders
Ook haar skuilplaas moes ontdek!
“Spaar hom, hy’s so klein nog,” smeek sy
Met die hande uitgestrek.

Woedende tier die wilde bende:
“Sterf of gee die wit kind hier!”
“Oor my lewelose liggaam …”
Antwoord Amakeia fier.

“My belofte aan my nonna –
Beste wat daar ooit nog was –
Waar hy gaan, moet Amakeia
Saamgaan om hom op te pas.”

“Is jul lewend nie te skei nie,
Blyf dan in die dood vereen –
Kort proses met haar, Maxosas,
Laat die blink asgaaie reën!”

In die Amatola-klowe
Sing nog net die winterwind
Deur die riete in die maanskyn:
“Tula-tula, stil, my kind!”

A.G. Visser (1878 – 1929)

Webwerf Soeklig

Met elke uitgawe fokus ek op 'n Afrikaanse webwerf.  
 

Die Vryheidsfront +

Afrikaanse Lied

Iemand wat in Melbourne woonagtig is stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere. Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek

DAAR GAAN UIT VERGANGE SE DAE

Woorde: JAN F.E. CELLIERS
Musiek: "Die Loreley", FRIEDRICH SILCHER, 1883; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS

Daar gaan uit vergange se dae 'n beeld voor my oë verby;
my hart is met weemoed geslae, maar voel tog ook rustig en bly.
Die windjie roer sag deur die bome, die weste se glanse verdwyn;
die berge, verlore in drome, staan ver in die aandsonneskyn.

Die mooiste jong nooi'ntjie is myne, vanaand is my hart weer by haar.
Haar oë, die sagste, die reine, is, net soos haar wese, so waar,
eenvoudig en waar soos die velde, van wêreldse modetjies vry.
Nie één is te kry nie, of selde, soos sy, daardie nooi'ntjie van my.

O, kan ek die smart nie meer dra nie van skeiding se lang, lange dag,
dan hoor ek 'n stem: "Moenie kla nie", en sien 'n lief mondjie se lag,
dan lees ek betowerd die tale, in oë so diep en so trou:
"Hier ver oor die berge en dale, is ene wat wag, net vir jou".

Kos stories - Frik Lombaard

Caesar’s Slaai

Hierdie slaai was nie Julius Caesar se gunsteling slaai gewees nie. Die oorsprong van die slaai is nie eers naby aan Rome gewees nie. Die geboorteplek van die slaai is in Tijuana, ‘n klein dorpie in Mexico, gewees. Wanneer mens in die Avenida Revolucion wandel is dit ‘n lelike buurt waar mens nie eintlik gesien wil wees nie.

Caesar’s Sports Bar & Family Grill Restaurant is ‘n half donker plek teen die ou verslete Hotel Caesar. Die restaurant bestaan uit 6-halfmaan tafels en ‘n lang kroeg toonbank. In 1924 is die beroemde slaai die eerste keer in die restaurant gemaak

Die storie van die slaai begin met Alex Cardini ‘n Italiaanse vlieënier wat in Tijuana gewoon het. Hy was die eienaar van die restaurant. Eendag kom daar van sy mede-vlieëniers daar aan wat lus was vir iets om aan te peusel. Daar was nou juis nie baie kos voorraad gewees in daardie tyd nie aangesien Mexico Stad baie ver van Tijuana is.

‘n Tannie van Alex Cardini wat in die kombuis gewerk het, het maar met die voorraad wat sy gehad het die slaai gemaak. Wat is in die slaai wat so beroemd geraak het ?

Bestanddele
8 Anchovy Filets
2 Klein Suurlemoene
1 tot 2 eetlepels Knoffel
2 eetlepels olyf olie
2 eetlepels rooiwyn asyn
1 eetlepel Worcestersous
3 eiers sag gekook
4 teelepels mosterd
5 tot 6 eetlepels gerasperde Parmesaan kaas
1 koppie Croutons
3 Klein Slaaiblare
Vars peper na smaak.

Metode
Neem die anchovies, sap van die twee suurlemoene en knoffel en maak tot ‘n pasta met ‘n vurk. ‘n Voedsel verwerker sal hier handig te pas kom.
Meng nou olie, asyn, eiers, mosterd, worchestershiresous en kaas by die pasta.
Meng nou die croutons en gesnyde slaaiblare by.
Hierdie slaai sal met al die verskillende smake ‘n wenner wees by enige ete.

Agterpad Reisnotas - versamel deur Braham van Zyl

Ek luister mos een Saterdagoggend na Amoré Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres onderaan die artikel) Hy stuur 'n 'n gereelde nubrief uit.

SUID-KAAPSE WATERSKADE; Augustus 2006
Almal wat die afgelope ruk koerant gelees of TV nuus gekyk het, sou gesien het dat ons ouens wat hier van Swellendam af, tot anderkant Knysna, teen die Kaapse Suidkus woon, geweldig onder waterskade deurgeloop het. Dié waterskade was die gevolg van buitengewone hoë reënval vir daardie tyd.
Ook my gasteplaas by Swellendam in die Overberg het deurgeloop toe ‘n stuk veldpad deur ‘n rivier weggespoel is, ‘n ander pad op verskeie plekke deur grondstortings toegeval is, ‘n stuk natuurveld in ‘n rivier af verdwyn het en ek vir dae lank net met ‘n 4x4 voertuig van die grasperk waar ek gewoonlik voor my huis parkeer, tot in die openbare pad kon kom.
Dit was ‘n besondere ondervinding om daardie massa reën vir dae lank te sien en hoor neerkom. ‘n Mens staan magteloos voor die grootsheid van die natuur as jy so iets beleef.
Agterpadryers kom natuurlik ook soms slegte weerstoestande teë tydens hulle reise langs ons land se minder bekende paaie. Watervloede en sneeuneerslae is vir seker die gevaarlikste toestande wat hulle kan ervaar.
Op ‘n tyd het een van my voertuie spesiale wielkettings gehad vir modder en sneeutoestande, maar deesdae bly ek liefs tuis as daar swaar sneeuneerslae was. Sneeu word ys en daardie yslagie op die grondoppervlakte laat jou sommer gou-gou van die pad af gly.
Vol riviere en driwwe in vloed is natuurlik ‘n werklikheid wat ons as agterpadryers meermale teëkom. Wees altyd baie katvoet vir watervloede. As ‘n stroom in vloed oor ‘n brug kom en jou voertuig se pens raak die water, is dit klaar te diep om deur te ry. In stilstaande water kan jy veel dieper deurry. As jy deur ‘n stroom moet ry, hou jou oog op die eindpunt aan die anderkant, en nie op die malende water nie, want jou oë word gehipnotiseer en kort voor lank volg jou hande, wat die ryding se stuur vashou, ook die rigting van die stormwater, en ry jy sommer maklik van die brug af, agter die water aan.

Skryf vir Braham en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings direk van hom af! e-pos :
info@explore-sa.com

Glimlag!
 
 


'n Man is op reis en sy kar breek naby 'n monnikeklooster. Hy gaan na die monnikeklooster, klop aan die door, en sê, 'My kar het gebreek. Dink julle ek kan die nag oorbly?' Die monnike nooi hom vriendelik binne, gee hom kos en maak selfs sy kar reg. Toe die man aan die slaap wil raak, hoor hy 'n vreemde geluid. Die volgende oggend vra hy die monnike wat die geluid was, maar hulle sê, 'Ons kan jou nie sê nie. Jy is nie 'n monnik nie.'

Die man is teleurgesteld maar bedank hulle in elk geval en sit sy reis voort. 'n Paar jaar later ry hy weer daar verby en besluit om weer oor te bly want hy het mos nou vriende gemaak. Die monnike nooi hom in, gee hom kos en slaapplek. Daardie nag hoor hy weer dieselfde vreemde geluid wat hy die vorige keer gehoor het. Die
volgende oggend vra hy weer wat dit is, maar die monnike antwoord, 'Ons kan jou nie sê nie. Jy is nie 'n monnik nie.'

Die man sê, 'Als reg, als reg. Maar ek sterf van nuuskierigheid. Al moet ek 'n monnik word om uit te vind sal ek dit doen. Hoe word ek 'n monnik?' Uiteindelik doen die man 'n tienjaar-monnikekursus en word 'n volwaardige monnik. Na sy inlywing se die ander monnikke: 'Veels geluk. Jy is nou 'n monnik. Ons sal jou nou wys wat die bron van die geluid is.'

Die monnike lei die man na 'n houtdeur, waar die hoofmonnik sê, 'Die geluid is reg agter daardie deur.'

Die man probeer die deur oopmaak, maar die deur is gesluit. Hy sê, 'Mag ek die sleutel kry?'

Die monnike gee hom die sleutel, en hy maak die deur oop.

Agter die houtdeur is nog 'n deur gemaak van klip. Die man vra vir die sleutel van die klipdeur. Die monnike gee hom die sleutel, en hy maak oop dit, net om te vind daar is nog 'n staaldeur. Hy kry nog 'n sleutel van die monnike. So maak hy altesaam sewe deure oop. Toe hy die laaste deur oopmaak, is hy totaal verstom toe hy sien
wat eintlik die bron van die geluid is! Maar ek kan jou nie sê wat dit is nie, want jy is nie 'n monnik nie.

Van: http://skoongrappies.com
 

     
  Die Danville Hulpgroep  
     
 

Ek is betrokke by hierdie inisiatief van Elsabé, kyk tog asseblief of julle nie ook 'n bydrae kan maak nie, besoek ook hulle webwerf.   Lees asseblief die nuusbrief en kyk of jy kan help.

Bankbesonderhede:
Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926

Aflewerings adres:-

286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za

PS Bel asb voor jy ry
.

Resepte

Hier is resepte van 'n Word dokument wat iemand my lank gelede gestuur het, ek begin sommer heel voor en werk deur die alfabet:

Aarbei-tert

Beskuitjiekors: 1/2 pakkie Tennis beskuitjies + botter.
Vulsel: Verhit een koppie suiker en een koppie water.
Maak twee opgehoopte eetlepels maizena aan met water en voeg by mengsel.
Kook tot gaar en haal van stoof.
Voeg twee groot eetlepels aarbeijellie by en roer tot gesmelt.
Pak 250 gr. ryp aarbeie (afgewas) lekker styf in kors en gooi warm aarbeivla daar oor. Wanneer koud, plaas in yskas.
Versier net voor bediening met 125 ml. geklopte, versoete room.

"Amerikaanse Potting Soil" Tert

4 x bokse Swart Oreo koekies
2 x bakkies maaskaas
4 x koppies melk
2 x pakkies instant pudding (Vanilla)
Rasper met grof kant al die Oreo koekies
Meng Instant pudding met melk en voeg maaskaas by
Vat 'n diep glas bak en pak 'n laag gerasperde koekies dan helfde van die pudding mengsel.
Maak sulke lae en heel laaste gooi van die Oreo koekies op.
"Die hele geheim van dit is die rasper van die koekies en dit moet die swart oreo koekies wees."


Appeltert

(Dit is my ma se resep, so daar word nog in koppies (250 ml), eetlepels (15 ml) en teelepels (5 ml) gemeet.)
Die beslag is genoeg vir 'n normale ronde tertbak. Indien 'n kleinerige vierkantige bak (± 20cm x 15cm) gebruik word, moet resep dubbeld aangemaak word.
1 Koppie Bruismeel
2 eiers
knippie sout
1 blik tertappels (normale grootte)
1 koppie suiker
2 Eetlepels gesmelte botter
¼ koppie melk
Meng suiker, eiers, botter, sout en melk saam.
Sif meel en meng bietjie-bietjie saam in suikermengsel.
Gooi mengsel in bak en skep appels oor mengsel.
Bak in oond 180°C vir ¾ uur. (Na 'n halfuur kan die oondtemperatuur na 150°C verlaag word om te voorkom dat die tert te donker word.)
Maak sous
Sous
1 klein blik Ideal Milk
1 Teelepel Vanielje Essens
1 koppie suiker
Gooi alles saam in pot en bring tot kookpunt
Gooi warm sous oor tert sodra tert uit die oond kom.

Aarbeitert

Beskuitjiekors:
1/2 pakkie Tennis beskuitjies + botter.
Vulsel:
Verhit een koppie suiker en een koppie water.
Maak twee opgehoopte eetlepels maizena aan met water en voeg by mengsel. Kook tot gaar en haal van stoof.
Voeg twee groot eetlepels aarbeijellie by en roer tot gesmelt.
Pak 250 gr. ryp aarbeie (afgewas) lekker styf in kors en gooi warm aarbeivla daar oor. Wanneer koud, plaas in yskas.
Versier net voor bediening met 125 ml. geklopte, versoete room.

Een-skottel Hoender-Noedelgereg

1 Hoender (stukke gesny)
2 blokkies Hoenderekstrak
1 - 1½ kop Noedels
100 ml Mayonnaise
1 groot pak droë Aartappelskyfies (Enige geur) (Fyngemaak)
400 ml Witsous
50 ml gekapte Pietersielie
2 Eiers geklits
Was hoender, plaas in kastrol. voeg ekstrak en bietjie kookwater by en kook tot vleis van bene loskom.
Ontbeen hoender en maak vleis fyn.
Kook noedels tot sag in soutwater en dreineer.
Meng hoender, noedels, mayonnaise en helfte van skyfies en skep in vuurvaste skottel.
Meng witsous met pietersielie en eiers en gooi bo-oor. Strooi res van skyfies oor sous.
Bak 20 - 25 minute by 190ºC of tot sous begin verkleur.

Aartappel Suurdeeg

(2 variasies)
Hier volg my ma (sy was 'n 1910-baba) se aartappelsuurdeeg:
1 middelmatige aartappel (geskil en grof gerasper)
[2 pakkies suurdeeg vir ingeval die aartappel nie genoeg laat rys nie!]
4 koppies kookwater
12,5 ml sout (Dis nou vir 5 kg meel; sy het gewoonlik helfte broodmeel en helfte "Nutty wheat" gebruik)
Aand:
Gooi kookwater, sout en aart. in kastrol met digpassende deksel.
Sit 3 koppies meel bo-op sonder om te roer. Maak gaatjie in middel
Sit doek oor en deksel op Maak dig toe in kartondoos uitgevoer met koerante, kastrol toegedraai in kombers.
Laat staan oornag op 'n lou plek of sit later 'n warmwatersak by! (Mamma
het 'n Aga- stoof gehad wat mos heel nag lekker warm gebly het)
Volgende Oggend oorsuur:
Klits 1 koppie afgekoelde gekookte water in
Laat staan ±i uur in lou oond of warm toegemaak.
As dit nog nie rys nie, roer 1 sakkie suurdeeg in
Die suurdeeg is reg as skuim bo-op vorm.
Knie:
Meng die suurdeeg en meel, 3 E margarien, nog sout indien nodig
1,5 - 2 liter warm water om mee aan te maak en knie deeglik
Laat rys, knie af, dan in panne en laat rys weer, en bak by 180ºC vir 40 - 45 min.
Hoop dit werk! Seënwense!

Aartappel Suurdeegplantjie

Probeer gerus so maak:
Rasper 1 aartappel baie fyn.
Voeg die volgende by:
2 teelepels suiker
1 teelepel sout
1 sakkie kitsgis - sommer hierdie 10g blou, groen of pers pakkies wat so 70 sent kos in supermarkte. Die pers rys baie goed, want dit het Vitamiene C in. Gooi dit dan in 'n glas houer / outydse can fruit bottel.
Maak vol met lou water (seker omtrent so 500 ml ) - te warm water sal die gis doodbrand en dan werk dit nie. Sit sommer 'n piering bo-op om toe te maak, want die aartappels gaan na boontoe styg en moontlik oorkook.
Dit moet die heeltyd by kamer temperatuur wees Dit is die teken dat dit gewerk het. - Jou plantjie is suksesvol.
As jy nou wil afskep om te bak, kan jy dit omroer en twee derdes gebruik om mee te bak. Die een derde wat oorbly, bly in die bottel en jy gooi dan net die suiker, sout, aartappel en water weer by.


Aartappeltert - Warm

4 groot gaar aartappels
1 koppie fyn spinasie
1/2 koppie gakapte sampioene
2 eiers
1/2 koppie melk
1/2 koppie room
vars pietersielie, gekap
Sout en peper na smaak
2 eetlepels parmesaankaas (opsioneel)
1 koppie gerasperde cheddarkaas
Voorverhit oond tot 180caC en smeer oondvaste tertbak
Maak aartappels fyn en ment met die spinasie en sampoiene.
Klits eiers met melk en voeg by aartappelmengsel
Voeg die res van die bestanddele, behalwe die cheddarkaas, by en meng goed.
Skep in tertbak, strooi cheddarkaas oor en bak vir 20 min of tot ligbruin
Skep lepels vol op borde en bedien.
Kan ook as bykos by meer formele etes bedien word. Vir 'n ligte aandete kan die spinasie deur tuna en skywe tamatie vervang word.


Abrahampies

650g (5 x 250ml, ongesif afgemeet) koekmeelblom
15ml kremetart
12,5ml sout
400g (500ml) suiker
250g botter of margarien, by kamertemperatuur
250ml karringmelk
10ml koeksoda
1 eier
Voorverhit oond tot 200C (400F). Smeer 'n rolkoekpan van 45x30x2 cm, of bespuit met kleefweende middel.
Sif die koekmeelblom, kremetart en sout saam. Voeg die suiker by en mengm Vryf die botter of margarien met die vingertoppe in die meelmengsel in totdat dit fyn gekrummel is.
Meng 25ml van die karringmelk met die koeksoda. Voeg dit by die meelmengsel.
Klits die res van die karringmelk en die eier saam. Hou 25ml van die mengsel om oor die beskuit te verf en voeg die res by die meelmengsel. Meng goed tot 'n deeg.
Verdeel die deeg in 8 ewe groot stukke. Fatsoeneer elke stuk op 'n meelbestrooide deegplank in 'n wors van 28cm en druk dit effens plat. Sny elke wors in 4 ewe lang stukke. Plaas die stukke effens uitmekaar in die pan.
Verf die oorblywende 25 ml karringmelk-en-eiermengsel oor die beskuite. Bake hulle sowat 30 minute of tot gaar op die middelste oondrak.
Laat die beskuite effens afkoel, breek hulle oop en droog op die draadrakke in 'n koel oond uit.

Ou Boereraat

Sooi-brand: 1 Mespunt magnesia in 'n half kelki water, 3 maal op 'n dag. Eet 4 of 5 amandels elke dag, dit is oek goed.

st se pitkos

st se  pitkos

Klik hier om st se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief

“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.

Nog gevleuelde woorde van ST:

n Geskenk vir jou kind
Watter geskenk sal jy graag vir jou kind wil gee?
Dink bietjie daaroor na – Kersfees was mos nou nie so lank terug gewees nie. Watter geskenke het jy uitgedeel? En wanneer jou kind een van die dae verjaar, wat sal jy graag vir hom / haar wil gee?
Die wêreld is so oorlaai met negatiewe dinge. Seerkry dinge. Die kinders in hierdie sonnige land van ons word blootgestel en is slagoffers van misdaad, pornografie, geweld, ongeduld, mishandeling, egskeidings en stukkende gesinne, korrupsie, geboelie op skool – noem die negatiewe dinge maar op.

Watter geskenk sal jy graag vir jou kind wil gee?
Hier is vier dinge wat ek graag vir my kind sal wil gee:
· Geloof en vertroue in myself
· Positiewe gesindheid en houding
· Vermoë om regte besluite te maak
· Geloof in die Here

Die lekkerte van die rekenaarspeletjie sal mettertyd vervaag, duur speelgoed se glans verdof en word later vergete items in ‘n katonboks onder in die hangkas. Maar die geskenk van selfvertroue, positiewe houding, vermoë tot besluitneming en geloof neem ‘n kind met hom saam op sy lewenspad. Dit is die rigtingwysers en die instrumente wat bepalend is vir die sukses en mislukkings in jou lewe.

Hoe gee ek aan my kind hierdie geskenk? Die tien gebooie hoe jy dit doen:

· Deur die voorbeeld wat jy stel.
· Deur die tyd wat jy met jou kind spandeer.
· Deur die kommunikasie wat jy met jou kind het.
· Belangstelling en bywoning van jou kind se aktiwiteite
· Die plekke waarheen jy jou kind neem.
· Die beginsels en waardes wat jy jou kind leer.
· Onvoorwaardelike liefde wat jy aan jou kind gee.
· Dissipline met deernis en liefde toegepas.
· Die lewensoptimisme wat jy uitstraal.
· Die vermoë om na jou kind te luister.

Eintlik is dit so eenvoudig. Tog fokus baie ouers eerder op aardse presente en materiële dinge vir hulle kinders, en mis die geleentheid om vir hul kinders die geskenk van lewenshoop, selfvertroue en geloof te gee.

Jou optrede, gesindheid en kommunikasie is ‘n belegging in jou kind se toekoms vir altyd.

‘n Sprankie wysheid vir die dag

“Mense wie se kinderjare gelukkig en vertroetel was, bewaar altyd in hulle harte iets van die lekker warmte van die nes.” A. Theuriet

Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za

Skakels

Soek jy plek om te gaan kampeer? Klik dan hier!
Skooltake??
Klik hier
Vakansieverblyf is altyd 'n probleem, dié mense maak dit makliker om te kry, klik net hier.

Nieltjie se Stories - Kinderstorie CD in Afrikaans - Klik hier

Lees alles oor Bloedrivier: Klik hier
150x90cm ou Suid-Afrikaanse vlae te koop @ R125 elk, posgeld uitgesluit. - Kontak gerus Roelof of Ronel by 012-3332932

Teken in /Teken uit / Kontak

Teken hier in op die poslys en lees ook die argiewe.

Om uit te teken, stuur vir my 'n epos en dui jou naam aan asook die eposadres waaronder jy ingeteken is

Kontak my hier.

Druk jou speld op my besoekerskaart!